HTS Book: Chapter Information

Author:
J.P. Oberholzer

How to cite this Chapter:
Oberholzer, J.P., 2010, 'Rasionalisasie en Optimalisering 1988–1997', in 'Honderd Jaar Kerk en Teologiese Opleiding: 'n Kroniek van die Hervormde Kerk', HTS Teologiese Studies/Theological Studies, suppl. 9, 66(3), Art. #934, 35 pages. DOI: 104102/hts.v66i3.934

Copyright Notice:
© 2010. The Authors. Licensee: OpenJournals Publishing. This work is licensed under the Creative Commons Attribution License.

ISSN: 0259-9422 (print)
ISSN: 2072-8050 (online)

Hoofstuk 9: Rasionalisasie en Optimalisering 1988–1997
In This Original Research...
Open Access
1988
1989
1990
1991
1992
1993
1994
1995
1996
1997
Rasionalisasie en Optimalisering 1988–1997

Ontwikkelings op onderwysgebied en finansiële druk bring streng eise en lei tot ‘n intensiewe herstruktureing oor die hele spektrum. Personeelvermindering, hervorming van onderrigmetodes en die eis van uitnemendheid intensifiseer die akademiese bedryf.

1988

01 Januarie 1988

Professor G.M.M. Pelser gaan op studieverlof tot 30 Junie.

06 Februarie 1988

Die Dosentevergadering ontvang ‘n verslag van sy voorsitter, J.P. Oberholzer, oor die dekaneberaad wat die vorige week by Loskopdam gehou is. Hy meld onder andere:

Die Fakulteit Teologie was die afgelope jaar of meer herhaaldelik ter sprake wanneer oor universitêre konsolidasie en rasionalisasie gehandel is. Daar is aanvanklik deur die rektoraat voelers uitgestoot oor die moontlikheid van gesamentlike aanbieding van minstens die ‘basiese vakke’ deur die twee fakulteitsafdelings, maar met die afgelope beraad is bekend gemaak dat die rektoraat die beginsel van twee fakulteitsafdelings in hulle strategiebeplanning aanvaar. Die twee afdelings word egter tot interne konsolidasie en onderlinge rasionalisasie opgeroep. Verder sal die Universiteit weer met die twee kerke samesprekings moet voer oor ‘n verhoogde bydrae tot die kostevereffening van die Fakulteit.

Die vergadering het op die volgende besluit:

  1. Die departemente moet hulle onderrig ondersoek met die oog op modulering as grondslag vir enige toekomstige rasionalisasie. Modulering moet einde Maart 1988 afgehandel wees.
  2. Die Dekaan en departementshoofde vorm ‘n komitee wat indringend moet kyk na die moontlikhede van interne rasionalisering en konsolidasie van departemente.
  3. n Kamp sal gereël word waartydens die hele oefening deurloop kan word.
  4. Rasionalisasie in onderrig moet uiteindelik ook met Afdeling B. bespreek word. Vir dié doel moet daar reeds nou ook na ‘n geïntegreerde teologiese kursus gekyk word.

Die vergadering het ‘n beleidstuk oor gasdosente, soos opgestel deur A.D. Pont, sonder wysiging aanvaar. Die voorsitter van die Kurrikulumkomitee, P.J. van der Merwe, het aangekondig dat die dokument in sy laaste fase is, maar met die sprake van rasionalisasie en konsolidasie nou in die lug, sal baie van die werk nutteloos word. Die instelling van ‘n module in Praktiese Afrikaans is na die komitee terugverwys. Na die verslag oor die BD Oriënteringskursus, is daar ingestem tot die besluit van die Departement Nuwe Testamentiese Wetenskap om verpligte grammatikale oefeningsessies in Grieks in al drie BD jare aan te bied, en is besluit dat daar weer indringend gekyk moet word na die moontlikheid van Hebreeus en Grieks as verpligte hoofvakke.

Die konsep handleiding vir nagraadse studie is aanvaar. Met die oog op die moontlike vulling van die pos medeprofessor in Praktiese Teologie is M.J. du P. Beukes as eerste keuse en J.A. van Biljon as tweede keuse genomineer. Daar is bevind dat navorsing in die Fakulteit meer beplan en gekoördineer aangepak moet word. ‘n Navorsingskomitee is benoem bestaande uit die departementshoofde onder voorsitterskap van die dekaan.

17 Februarie 1988

Die Kuratorium verwelkom vir J.P. Oberholzer as nuwe dekaan. Hy het die huidige situasie rondom die Fakulteit Teologie (Afdeling A) toegelig, en die vergadering het besluit om die aanbevelings vir mede-professor in die Departement Praktiese Teologie terug te hou in afwagting van die afhandeling van die rasionalisasie by die Universiteit. Kennis is geneem van die studieverlof van professor A.P.B. Breytenbach van 01 April tot 30 September 1988. Dit het geblyk dat 12 studente aan ander universiteite met die BA studie besig is. Na aanleiding van taalvaardigheidstoetse wat op 05 Februarie 1988 afgeneem is deur professore A.P.B. Breytenbach en A.G. van Aarde, het die Kuratorium besluit dat ‘n memorandum deur die Fakulteit voorberei moet word rondom ‘n meer doelgerigte paket vereiste kursusse en rondom die kwessie van studente aan ander universiteite.

15 Maart 1988

‘n Gesamentlike vergadering van die twee afdelings van die Fakulteit keur gewysigde regulasies vir Bybelkunde goed. Afdeling A keur die stigting van ‘n Navorsingskomitee goed, keur die vakkeuse van E.J. Vledder vir DD goed, en die volgende proefskrifonderwerpe: J.P. Labuscahagne (gewysig) Die historiese konteks van die 20ste eeuse samelewingsteologieë, B.J. van Wyk Die kerkbegrip van die Kerkwet van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, G.J. Malan Rudolf Bultmann se ontmitologiseringsprogram, ‘n kritiese evaluering, P.J. van Staden (gewysig) Die struktuur van die eerste Johannesbrief, J.M. Delport Die ontwikkeling van ‘n pastorale model vir die begeleiding van mense tot lewensvernuwing.

16 Maart 1988

Die Fakulteit Teologie (Afdeling B) herdenk sy 50-jarige bestaan in die kerkgebou en saal van die NG Gemeente Pretoria-Oos. Die dekaan van Afdeling A. het saam met die vise-rektor, professor P. Smit, en die dekane van die Kweekskool op Stellenbosch en die Fakulteit Teologie op Bloemfontein groeteboodskappe gebring.

18 Mei 1988

Die Senaat kies J.P. Oberholzer op die Appèlkomitee van die Senaat vir ‘n termyn van drie jaar en verwelkom hom as deeltydse dekaan van die Fakulteit Teologie Afdeling A. Professor G.C. Velthuysen neem sitting as hoof van die Departement Dogmatiek en Christelike Etiek. Die Senaat wens J.P. Oberholzer geluk met die ontvangs van die Orde vir Voortreflike Diens, Klas 1: Goud.

26–27 Mei 1988

Die fakulteitsberaad vind plaas te Espada Ranch.

08 Julie 1988

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering neem kennis dat professor G.C.Velthuysen bedank het as mede-professor en dat hy van voorneme is om tot ‘n ander lewenstaat oor te gaan. Hy het naamlik ‘n aanbod aanvaar om as koöperatiewe hoofredakteur in diens te tree van die Perskorgroep.

29 Julie 1988

Die Kuratorium neem kennis van die verslag van ‘n Fakulteitsberaad wat op 26–27 Mei 1988 gehou is te Espada Ranch. Hierdie beraad is gehou om aandag te gee aan die nuwe ontwikkelinge op universiteitsvlak. Na aanleiding van die verslag het die Kuratorium besluit dat die mede-professoraat in Praktiese Teologie verval. ‘n Memorandum van professor A.D. Pont namens die Dosentevergadering oor gasdosente is as amptelike beleidstuk aanvaar na enkele wysigings. Die vergadering het met leedwese verneem van die bedanking van professor G.C. Velthuysen en het besluit dat die medeprofessoraat in Dogmatiek en Christelike Etiek verval. ‘n Pos van Tweede Direkteur vir die SVTT is goedgekeur, en daar is besluit dat die dekaanskap nie ‘n voltydse pos sal word nie. Hierdie vergadering het ook besluit dat jaarliks net soveel beurse aan nuwe studente toegeken sal word as wat hy nodig ag, tot ‘n maksimum van tien. Die Kuratoriumdag is vasgestel vir 30 Julie 1988. Na aanleiding van nuwe reëlings op universitêre vlak is besluit om die minimumvereistes vir toelating tot die BD studie soos volg vas te stel: Grieks en Hebreeus as hoofvakke, Tweede en derdejaarkursusse in Wysbegeerte, Eerstejaarkursusse in Latyn en Duits (indien nie op matriekvlak geneem), Eerste en tweedejaarkursusse in Bybelkunde. Daar is ook besluit om die Algemene Kerkvergadering te versoek om die BA voorstudie aan ander universiteite te stop omdat alle universiteite nie op dieselfde standaard is nie, toesig oor studente bemoeilik word en subsidie na ander universiteite gaan en sodoende die koste vir opleiding aan die Universiteit van Pretoria verhoog.

02 Augustus 1988

Die Fakulteit wens professor A.D. Pont geluk met sy verkiesing as voorsitter van die Suid-Afrikaanse Kongres vir Calvynnavorsing, en vir J.P. Oberholzer met die ontvangs van die Orde vir Voortrefklike Diens. Professor B.J. Engelbrecht word terugverwelkom na sy studieverlof en kennis word geneem dat professor G.C. Velthuysen die diens van die Universiteit verlaat op 31 Augustus 1988.

Daar is kennis geneem van die verslag oor die Fakulteitsberaad te Espada Ranch op 26–27 Mei 1988 en die besluite wat daar geneem is, is bekragtig. Dit sluit in dat die ses departemente behou word maar dat ‘n herorganisasie van vakke behoort plaas te vind, dat die onderrigprogram gereorganiseer word met sillabustemas, vermindering van lesings, vermeerdering van seminare en bespreking en selfwerksaamheid, dat daar ‘n voltydse kernpersoneel behoort te wees bestaande uit die dekaan en adminstratiewe personeel na behoefte, tien professore, twee elk vir Ou Testament en Nuwe Testament en Bybelkunde en een elk vir die ander departemente, en ‘n korps buitengewone dosente wat benoem word op grond van spesialistekennis en wat op verskillende wyse aangewend kan word.

Die Nico Prinslooprys is toegeken aan G.S. de Bruyn.

Die Dosentevergadering beveel J.H. Koekemoer aan as hoof van die Departement Dogmatiek en Christelike Etiek en M.J. du P. Beukes as tweede direkteur van SVTT

12 Augustus 1988

Op ‘n buitengewone vergadering benoem die Kuratorium op aanbeveling van die Dosentevergadering vir professor J.H. Koekemoer as hoogleraar en hoof van die Departement Dogmatiek en Christelike Etiek As Tweede Direkteur van SVTT is benoem doktor M.J. du P. Beukes.

Mattheus Johannes du Plessis Beukes is gebore op 13 Junie 1941 te Lichtenburg as seun van Johannes Andries Beukes en Maria Johanna van der Schijff. Hy gaan skool in die plaasskool op Vlakpan en matrikuleer aan die Hoërskool Lichtenburg in 1959 in die eersteklas met onderskeidings in Wiskunde en Natuurwetenskap. Hy was lid van die eerste rugbyspan wat in 1959 die Administrateursbeker verower het en was ook ‘n goeie atleet. Hy voltooi die BA, BD studie in 1965. Op 24 April 1965 tree hy in die huwelik met Monica Lindford. Hy word georden op 08 Januarie 1966 en bedien agtereenvolgens die gemeentes Vanderbylpark, Sannieshof, Newlands en Zuurfontein. In 1974 promoveer hy in die Praktiese Teologie met ‘n proefskrif Kategese as opdrag aan die kerk onder leiding van professor J.I. de Wet. In 1982 word hy benoem as direkteur van Kital waar hy voluit deel in die opstel en aanbieding van kursusse op wye vlak, veral kategese. In die beplanning, ontwerp en skrywe van nuwe kategesehandboeke het hy ‘n leidende aandeel gehad. Hy was vanaf 1978 betrokke by deeltydse dosering in die Departement Praktiese teologie waar hy verantwoordelik was vir Kategetiek, Liturgiek en Jeugwerk. Oor die tydperk 1982–1989 was hy ook pastorale hulp in Parkrand.

17 Augustus 1988

Professor C.H. Rautenbach is oorlede. Die begrafnisdiens in die kerkgebou van Pretoria-Oos op 20 Augustus 1988 is gelei deur J.P. Oberholzer, wat ook namens die Kerk die woord gevoer het. Professor J. Howell, voorsitter van die Raad van die Universiteit van Pretoria, het namens die Universiteit gepraat. Die ter aarde bestelling is waargeneem deur doktor L.M. le Roux. Rautenbach se boekery is na sy dood geskenk aan die Fakulteit Teologie, wat dit geplaas het in die Van Selms Leeskamer.

01 September 1988

Professor B.J. Engelbrecht gaan op studieverlof tot 17 Oktober 1988.

14 September 1988

Die Kuratorium het in ooreenstemming met sy nuwe beleid ten opsigte van die toekenning van beurse na keuring beurslenings toegeken aan tien nuwe voornemende teologiese studente, wat almal in die evaluering meer as 72% behaal het. Nog 15 studente is toegelaat sonder beurslenings. Nege kandidate is nie tot die opleiding toegelaat nie.

23 September 1988

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering verkies professor T.F.J. Dreyer as vise-skriba in die plek van G.C. Velthuysen.

25 November 1988

Die Kommissie het vir doktor L.J.S. Steenkamp benoem as direkteur by Kital met ingang 01 Januarie 1989. Die Kommissie neem kennis dat ‘n jeugkamp te Schoemansdal gereël is as deel van die vyf herdenkingsfeeste van die kerk waarin die Groot Trek herdenk is. Feeste is beplan te Potchefstroom, Rustenburg, Pretoria, Heidelberg en Schoemansdal. ‘n Fees gereël deur die Kerk, het op Rustenburg plaasgevind op 19 en 20 Maart. J.P. Oberholzer het die feesrede gelewer en A.D. Pont het die Sondag die erediens gelei. Op Saterdag 17 September was daar by die Willem Prinsloo Museum ‘n herdenkingsfees, ook deur die Kerk gereël, wat om 14:00 begin het met boeresport, boeremusiek, en daarna ‘n huldeblyk aan A.W.J. Pretorius. Die aand was daar voordrag deur Anna Neethling-Pohl en ‘n aanbieding deur die Kultuurraad van Pretoria van Die Dieper Reg van Van Wyk Louw. Die volgende dag, Sondag 18 September, het doktor D.J.C. van Wyk ‘n erediens gelei in die Amfiteater van die Universiteit van Pretoria. Op 22 Oktober het J.P. Oberholzer die feesrede gelewer by die herdenkingsfees op Bethal. Op die sentrale fees by die Voortrekkermonument het J.P. Oberholzer op 11 Desember die preek gelewer, en op 16 Desember het hy die Skriflesing gedoen.

Die koms van die Hugenote in 1688 is eweneens feestelik herdenk. Gemeentes is versoek om op 17 of 24 April in die eredienste daaraan aandag te gee. Doktor en mevrou D.J.C. van Wyk het die kerk verteenwoordig op die hooffees in Franshoek, en J.P. Oberholzer het as voorsitter van die Transvaalse Hugenotefeeskomitee die leiding geneem op die fees by die Willem Prinsloo Museum.

31 Desember 1988

Professor B.J. Engelbrecht aanvaar emeritaat na 37 jaar as hoogleraar, dekaan vanaf 1970 tot 1987, senaatsverteenwoordiger in die Raad van die Universiteit vanaf 1972 tot 1987 en lid van verskillende komitees van die Raad, waaronder die Boukomitee, die Finansies- en Eeiendomskomitee, die Studente Dissiplinêre Komitee en die Senior Aanstellingskomitee. Hervormde Teologiese Studies, Jaargang 44, aflewering 2, Junie 1988 was ‘n huldigingsbundel met bydraes van kollegas, ook uit ander kerke, en promovendi. Die rektor van die Universiteit van Pretoria, professor D.M. Joubert, het onder andere geskryf:

Ben Engelbrecht sal allereers onthou word vir sy onderskeidende menseienskappe: wellewendheid, in elke opsig, gekombineer met buitengewone gawes van intellek en veelsydigheid. Dit het hom trouens ‘n geliefde persoonlikheid gemaak, en ook iemand wie se mening oor ‘n saak dikwels ingewin en met vrug gebruik is.

J.P. Oberholzer het in die huldigingswoord onder andere geskryf:

Dit spreek van ‘n besondere teologiese wydte dat hy vanweë besondere omstandighede in die Fakulteit op ‘n tyd doktorale leiding kon gee nie alleen in die Sistematiese Teologie nie, maar ook in Praktiese Teologie, Nuwe Testamentiese Wetenskap en Godsdiens- en Sendingwetenskap. Op‘n stadium het drie van sy kollegas in die Fakulteit onder sy promovendi getel. Belangriker as die hoeveelheid is die kwaliteit van die werk wat gelewer is, Elke wetenskaplike en populêr-wetenskaplike geskrif, elke voordrag en advies, elke gesprek was ‘n toonbeeld van sistematiese denke, analities en sinteties, en van ‘n vermoë om te kommunikeer. Dit is die rede waarom ook sy stokperdjies wetenskaplike prestasies geword het. Ek herinner my goed sy optrede voor die Van der Hoff reünie in 1950 oor die onderwerp Eksistensiefilosofie en Teologie. Pas bevestig as predikant was die jong geleerde besield met die Reformatoriese erfenis soos dit verwoord is deur Karl Barth en Emil Brunner. Sy kennismaking in Groningen met Van der Leeuw, Haitjema en Van Oyen het hom geprikkel tot intense studie van die geskrifte van die Reformatore self, en hy het Calvynkenner by uitnemendheid geword; maar voorop het steeds gebly die studie van die Heilige Skrif self. Engelbrecht is ‘n selfstasndige verwoorder van die Bybels-Reformatoriese Teologie, en het op unieke wyse die denkwêreld van die Nederduitsch Hervormde Kerk, en ook van Suid-Afrika, bevrug en verryk.Oor die jare 1964 tot 1983 het hy as lid en later vise-skriba van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering ‘n groot aandeel gehad in die besluitneming en regering van die Nederduitsch Hervormde Kerk, maar ook daarvoor en daarna het hy deur middel van grondige adviese oor ‘n wye verskeidenheid van sake die kerk gedien. As lid en soms as voorsitter van verskillende kerklike liggame het hy leiding geneem en deel gehad aan belangrike projekte. Hy was vir agtien jaar ‘n gewaardeerde deelnemer aan die gesprekke op die Interkerklike Kommissie. Sy deelname aan die radioprogram Wat sê die Bybel oor ‘n tydperk van meer as veertien jaar het by ‘n groot luisteraarspubliek byval gevind. Hier is ‘n man wat sy gawes vrylik beskikbaar gestel het oor ‘n wye veld, en wat in nederige diens, teologiese diepte en eenvoud ‘n warme en egte mens gebly het.

‘n Onvolledige lys van Engelbrecht se publikasies volg daarop. Die huldigingsbundel is oorhandig deur die voorsitter van die Algemene Kerkvergadering by geleentheid van ‘n ‘n afskeidsete op 22 November 1988, waar die rektor en die voorsitter van die Kuratorium ook die woord gevoer en oorhandigings gedoen het. J.H. Koekemoer het in ‘n artikel ‘Dogmatiek en Christelike Etiek aan die Universiteit van Pretoria’ in 1992 in die Feesbundel ter herdenking van die 75 jarige bestaan van die Fakulteit Teologie Afdeling A. aan die Universiteit van Pretoria ‘n oorsig gegee van die denke en betekenis van Engelbrecht as vestiger en uitbouer van die Departement Dogmatiek en Christelike Etiek.

1989

07 Februarie 1989

Die Dosentevergadering besluit op ‘n spesiale byeenkoms:

  1. Die vergadering neem met leedwese kennis van die egskeidingsgeding waarin die egpaar Pelser betrokke geraak het asook van professor Pelser se bedanking uit die amp van herder en leraar van die Nederduitsch Hervormde Kerk wat tot gevolg sal hê dat hy sy pos as hoogleraar en as hoof van die Departement Nuwe Testamentiese Wetenskap sal moet neerlê.
  2. Die vergadering konstateer weereens sy waardering vir die kollegiale en teologies-wetenskaplike hoedanighede van professor Pelser.
  3. Die dekaan word opdrag gegee om met die Kuratorium te onderhandel dat die pos wat met professor Pelser se bedanking vakant gaan word, voorlopig nie gevul word nie.

14 Maart 1989

Die Fakulteit neem uit die jaarverslag kennis dat daar 53 studente ingeskryf was vir BD, 49 vir MDiv en 38 vir DD. Kernaantekeninge en die beweging na selfwerksaamheid het die tradisionele onderrigpatroon reeds aanmerklik verander. Melding is gemaak van die navorsingsaktiwiteite van personeel, hulle betrokkenheid by die regering en arbeid in die Kerk, die deelname van G.C .Velthuysen en na sy bedanking van J.H. Koekemoer aan die radioprogram Wat sê die Bybel, die betrokkenheid in vakverenigings, en die besoeke van buitelandse akademici.

Die volgende proefskrifonderwerpe is goedgekeur: M.A. Bothma ‘n Krities-realistiese ondersoek in die Sistematiee Teologie na die pluraliteit-eenheid van die kerk, P. van Staden The essence of life: Power and order or meekness and servitude? Structural and social relations propagated by the banquet parables in the Travel Narrative of the gospel of Luke.

Die Dosentevergadering neem kennis dat ‘n rekenaarprosedure opgestel is waarvolgens artikels en referate aangeteken kan word en dat die curriculum vitae van elke dosent op datum gehou sal word. ‘n Reëling vir die aanbieding van Praktiese Afrikaans saam met Afdeling B is getref.

16 Maart 1989

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering verleen toestemming dat doktor J.A. van Biljon, dominees J. Coetzee en C.J.A. Simpson spesialistehulp verleen in die SVTT.

Hierdie vergadering het ook kennis geneem dat professor G.M.M. Pelser bedank het as hoogleraar vanweë sy egskeiding. Kennis is ook geneem van skrywes van die Ringsraad vir Predikante van die Ring van Klerksdorp en die Kommissie van die Ring van Klerksdorp waarin hulle vra dat die Kommissie ‘n weg moet vind om professor Pelser in sy pos te laat aanbly. Die Kommissie was egter gebind deur die bepaling in die Kerkwet wat bepaal het dat egskeiding en die amp van predikant onverenigbaar is. Die Kommissie het derhalwe besluit dat die bedanking van professor G.M.M. Pelser aanvaar word met ingang 16 Maart 1989, hy op genoemde datum onthef word met verlies van status, sy pligte as hoogleraar vanaf genoemde datum dienooreenkomstig beëindig word, hy vanaf 16 Maart 1989 vir ‘n periode van 3 maande getrakteer sal word, en dat die versoek van die Kuratorium dat die pos voorlopig nie gevul word nie, ondersteun word.

12 Junie 1989

Die Dosentevergadering besluit dat vanjaar reeds in ooreenstemming met universiteitsbeleid eksterne eksaminatore aangewys sal word vir die BD III eksamen sowel as vir die skripsie. Vanaf 1990 sal skripsieseminare aangebied word. Verdienstelike skripsies kan onder die gesamentlike outeurskap van die studieleier en die kandidaat in die Hervormde Teologiese Studies gepubliseer word.

16 Junie 1989

Die Kommissie benoem doktor L.J.S. Steenkamp as hoofdirekteur van Kital. Professor Pelser bedank as dosent by die Universiteit. [Hy het na sy uittrede ‘n dosentepos aanvaar by die Didache Instituut naby Hammanskraal, waar hy betrokke was by die opleiding van leraars vir die groot aantal onafhanklike kerke.]

25 Junie 1989

Die 62ste Algemene Kerkvergadering neem sitting in die Aula van die Universiteit van Pretoria. Hierdie vergadering is voorafgegaan deur ‘n tydperk van intense organsisasie en stemmingwekking deur ‘n bepaalde politieke groepering in die kerk, meer bepaald die ondersteuners en lede van die H.C.M. Fourie Fonds wat om A.D. Pont geskaar was. Die openingsrede na aanleiding van Esegiël 33:30-33 en 2 Timotheus 4:1-5 het blyke gegee van groot kommer oor die gesindhede in die kerk, maar die betrokkenes het dit nie gehoor nie, want hulle het daardie aand elders vergader, waarskynlik om saam voor te berei vir die vergadering. Die uittredende voorsitter het onder andere gesê:

[E]k meen dit is vir u duidelik waarom dit vanaand oor hierdie nugterheid gaan by die opening van ons Algemene Kerkvergadering. Ek wil u vra om hierdie twee skrifgedeeltes te oorweeg in die lig van die omstandighede wat ons tans beleef, en spesifiek die omstandighede binne die kerk. In die eerste plek die woord aan Esegiël ‘hulle hoor wat jy sê maar hulle doen nie wat jy sê nie’. ‘n Mens moet telkens tot jou angswekkende ontsteltenis ontdek dat die verkondiging van die evangelie in Suid-Afrika en binne ons kerk in die eeue wat verby is nog bloedmin effektiwiteit getoon het in dié opsig dat dit werklik verandering bewerk. Inteendeel, as ‘n mens soms luister na uitsprake, ernstig en ligsinnig, wonder jy of daar ooit iets van die evangelie onder ons tereg gekom het. Getroue Bybels-Reformatoriese verkondiging het nie altyd gelei tot lewens wat daarmee ooreenstem nie. Hierdie saak wil ek spesifiek aan u stel, spesifiek binne die Nederduitsch Hervormde Kerk, en vir u vra om ernstig te dink daaroor. As prediking oproep tot bekering is, kom daar by ons iets van tereg?

En dan die ander saak. Het ons werklik sover gekom dat ook ons die gesonde leer nie meer kan verdra nie en dat ons leermeesters soek wat sê wat ons graag wil hoor? Iets wat streel, ‘n evangelie wat aangepas is by ons begeertes, ons volksheid, ons kultuur, ons vooroordele, ons haat. Nugterheid vereis ‘n keuse teen bedwelming en verdigsel, maar sekerlik ook die keuse om nie verdra te word nie saam met die gesonde leer… Sonder nugterheid is daar bedwelming en valsheid, toekomsloosheid en ondergang. Wee die dienaar van die Woord wat willens en wetens die krag en die suiwerheid van die evangelie verminder ter wille van populariteit, of met allerlei mooiklinkende argumente die evangelie aanpas by wat hy weet mense wil hoor. Hy is die herder wat sy kudde na die dood toe lei.

Ek kan in hierdie verband nie help om te dink aan die openingsrede wat by die Algemene Kerkvergadering van 1961 deur ‘n voorganger uitgespreek is nie. Sy teks was: ‘Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees’. En hy het dit gebruik om die uitsprake van die Cottesloeberaad te bevraagteken en te verwerp as ‘n ongeoorloofde politieke poging om die evangelie te verwring. Byna drie dekades na Cottesloe moet ons, geoordeel aan die optrede van bepaalde persone binne die kerk, die vraag stel of hierdie selfde teks nie nou van toepassing gemaak moet word op ons situasie nie. Daar is persone wat die politiek van die dag ten alle koste wil insleep in die kerk en in die evangelieverkondiging. Waar dit gebeur , word klippe aangebied in plaas van brood en word die bestaan en die waarheid van die kerk self onder ‘n wolk geplaas.

Die H.C.M. Fourie Erepenning is toegeken aan meneer Willem Mathlener, direkteur van die Konservatorium vir Musiek. Die toekenning het geskied op grond van meneer Willem Mathlener se besondere persoonlike bydrae wat hy oor ‘n tydperk van 40 jaar gelewer het tot die groei en vooruitgang van kerkmusiek in die Nederduitsch Hervormde Kerk. Groeteboodskappe van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, die Gereformeerde Kerk en die Hervormde Kerk in Suidelike Afrika is oorgedra. Gelukwense is uitgespreek teenoor professor J.A. Loader met die ontvangs van die Teyler prys vir Teologie. Hy was die eerste Suid-Afrikaner wat die prys ontvang het.

Nadat J.P. Oberholzer versoek het dat hy nie weer verkies moet word nie, is doktor D.J.C. van Wyk as voorsitter verkies. Dominee J.C. de Lange is verkies as skriba, professor A.D. Pont as vise-voorsitter, professor T.F.J. Dreyer as vise-skriba. As predikantlede van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering is verkies dominee G.C. van Staden en doktor J.H. Koekemoer. Die volgende ordemosie wat aanvaar is, spreek vir homself:

Die vergadering verwerp met misnoeë die klaarblyklike pogings van ‘n bepaalde groep afgevaardigdes om die verkiesing van kommissies en rade van die Algemene Kerkvergadering te beïnvloed deur die sirkulasie van naamlyste.

Hierdie vergadering het weereens gehandel oor Artikel III van die Kerkwet. Daar was beskrywingspunte van die Ringe van Heidelberg en Noord-Kaapland en die Kerkraad van Ermelo wat versoek het dat die artikel onveranderd bly. Die Nederlandssprekende Gemeente het versoek dat indien Artikel III, wat ‘n aantasting is van art 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis, ‘n negatiewe effek het op die gesamentlike sendingtaak in samewerking met die Hervormde Kerk in Suidelike Afrika, en ‘n struikelblok is vir die ekumene, behou word, afsonderlike gemeentes nie verplig sal word om hulle te hou aan die artikel nie. Die Ring van Noordelike Pretoria het versoek dat ‘n uitspraak gemaak word oor die interpretasie van die artikel.

Die studiekommissie wat saamgestel is ná die vorige Algemene Kerkvergadering, met professor A.P.B. Breytenbach as voorsitter en professor P.J. van der Merwe as sekretaris, het voorgestel dat die motiveringsgedeelte van die artikel verval en dat ‘n voetnoot geplaas word na Blanke persone wat lui: ‘Lidmaatskap van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika moet verstaan word in die lig daarvan dat dié kerk ‘n Christusbelydende volkskerk is in die geledere van die Afrikanervolk.’ Die studiekommissie het ook voorgestel dat begin moet word met ‘n grondige hersiening van die kerkwet. By so ‘n hersiening sal volgens die Studiekommissie die volgende sake in ag geneem moet word:

i. Die kerk se denke oor homself en die volkskerkgedagte: Die Studiekommissie onderskryf die gedagte dat die Nederduitsch Hervormde Kerk ‘n bepaalde gerigtheid het en kerk vir die Afrikaner(maw volkskerk) wil wees. Daar bestaan egter die volgende probleemvelde wat in die kerk se denke oor die volkskerk aandag moet kry:

  • Misverstande en onduidelikhede by sommige lidmate en ampsdraers oor wat die Nederduitsch Hervormde Kerk onder volkskerk verstaan en gevare wat uit sulke misverstande kan voortvloei (soos byvoorbeeld burgerlike godsdiens);
  • Die karikatuurbeeld van die volkskerk binne die groter kerklike veld;
  • Die omlyning van die volk vir wie die Nederduitsch Hervormde Kerk volkskerk wil wees, kan in ‘n toekomstige bedeling probleme oplewer;
  • Die effek van die juridies-sosiaal-politieke omgewing waarin die kerk wat homself as ‘n universitas sien, deur die landsreg as ‘n societas behandel word.

ii. Lidmaatskap, lidmate en lede: […] In die verlede is daar nie onderskeid getref tussen die begrippe ‘lidmaatskap’ (van die Kerk van Christus) en ‘lidmate’ (dws van die Nederduitsch Hervormde Kerk) nie. Die ordereëling waarvan in Artikel III sprake is, funksioneer meer op die kerkgenootskaplike vlak as enige ander. […] Die huidige Artikel III laat dit egter lyk of die ordereëling primer op die vlak van die een, algemene kerk lê;

iii. Kerklike eenheid, gemeenskap en die bywoning van ere-dienste: Die kerk is een in Jesus Christus. Dit is nie alleen ‘n werklikheid nie maar ook ‘n imperatief. Die kerk mag nie so leef dat hierdie werklikheid geloënstraf word nie. Daar bestaan egter die volgende probleemveldewat in die kerk se denke oor kerklike eenheid en gemeenskap aandag moet kry:

  • Die misverstand dat kerklike eenheid ‘n indifferente saak is en dat die Nederduitsch Hervormde Kerk hom gevolglik in ‘n soort ghetto kan terugtrek.
  • Die feit dat nieteenstaande amptelike besluite en uitsprake art III steeds gebruik word om anderskleuriges , in bona fide gevalle, toegang tot besondere kerklike geleenthede te weier.

iv. Die aanduiding ‘Blanke persone’: Die studiekommissie is oortuig daarvan dat dat daar (tans in elk geval) nie van ‘Afrikaner’ gepraat kan word sonder om sy afsonderlikheidsin in aanmerking te neem nie. Dit maak dit vir die huidige onvermydelik dat die woord ‘blank’ in ‘n ordereëling met betrekking tot lidmate opgeneem word. Die probleme wat hieruit kan voortspruit, mag in elk geval ook nie misgekyk word nie. Die volgende dien as voorbeelde:

  • Die beskuldiging van rassisme teen die Nederduitsch Hervormde Kerk sal bly voorbestaan.
  • Lidmate mag hierdeur verlei word om te dink dat die Nederduitsch Hervormde Kerk rassisme inderdaad kondoneer.

Die vergadering het besluit dat die artikel in sy huidige vorm behou word, die studiekommissie se voorstelle oor wysiging nie aanvaar nie, en die voorstel oor die hersiening van die kerkwet as geheel aanvaar. Die Nederlandssprekende gemeente is geantwoord dat hulle versoek buite orde is in die lig van Artikel II. Verder het die vergadering bevestig dat Artikel III oor lidmaatskap handel, en in soverre as wat die artikel implikasies het vir die bywoning van eredienste, die riglyne bevestig wat die Algemene Kerkvergadering in 1979 neergelê het. Verder het die Kommissie opdrag ontvang om so gou moontlik in gesprek te tree met die moderamen van die HKSA en die kerkraad van die Nederlandssperekende Gemeente na aanleiding van die groeteboodskap wat deur dominee Z.J. Banda oorgedra is en die besware wat deur doktor Lensink ter vergadering uitgespreek is.

Teenstemme teen die handhawing van die artikel is aangeteken deur doktor L.C. Bezuidenhout, professor J.A. Loader, ouderling J. van den Eijkel, dominee J.M. Lensink, dominee G.M.J. van Wyk, dominee P. Grobler en J.L.P. Wolmarans. Die motivering was:

Artikel III spruit nie voort uit die eise van die Skrif nie, maar gee na ons mening uitdrukking aan ‘n bepaalde model van rasse-ordening. Die handhawing van art III lei daartoe dat die belange van ‘n bepaalde bevolkingsgroep gestel word bo die belange van die Koninkryk van God.

Die vergadering het kennis geneem van die huidige samestelling van die Fakulteit Teologie (Afdeling A) met nege voltydse, sewe deeltydse dosente en twee gasdosente (dominee P.L. Steenkamp en meneer B.D. Bierman). J.P. Oberholzer het op 09 Oktober 1987 vir B.J. Engelbrecht opgevolg as dekaan. Nege doktorsgrade is oor die tydperk 1986-1988 deur die Fakulteit toegeken, terwyl nog drie predikante doktorsgrade elders ontvang het. In 1988 was daar 108 studente besig met die BA studie, 54 met BD, 20 met MDiv en 27 met DD. Die vergadering het besluit om ‘n besluit van die vorige Algemene Kerkvergadering oor die benoeming van mede-professore te herroep in die lig van die rasionalisasie van die Fakulteit en om die Sentrum vir Voortgesette Teologiese Toerusting uit te brei om voorsiening te maak vir praktiese opleiding aan BD studente sowel as voortgesette teologiese opleiding op wyer vlak. Daar is besluit dat,

[D]iensdoende predikante op onkoste van hulle onderskeie opsigliggame opgeroep word om jaarliks gedurende die laaste twee weke van Januarie by die Fakulteit Teologie (Afdeling A) aan die Universiteit van Pretoria aan te meld vir ‘n voortgesette teologiese toerustingskursus wat praktykgerig is. As deel van voortgesette praktiese toerusting word predikante van sekere geïdentifiseerde profiel-groepe van tyd tot tyd deur Kital opgeroep om kursusse by te woon wat spesifiek vir bepaalde praktykgerigte behoeftes ontwerp word. Praktiese opleiding en voortgesette teologiese opleiding moet op paslike wys erken word.

Die minimum vereistes vir toelating tot die BD studie soos voorgestel deur die Kuratorium is goedgekeur. Bepalings oor die toelating tot die proponentseksamen is gewysig om voorsiening te maak vir hospitering aan die Fakulteit Teologie Afdeling A in die geval van studente wat die teologiese studie elders voltooi het. Die Kuratorium is verkies uit ‘n groslys van 19 persone wat deur die moderamen voorgelê is en ter vergadering aangevul is. Verkies is professor S.J. Botha, dominee W.C.M. de Beer, doktore A.J.G. Dreyer, P.J. de Beer, E.C.B. Kotze, T.F.J. Dreyer en G.C. Velthuysen.

Na aanleiding van beskrywingspunte van die kerkraad van Bergsig en die Ring van Bronkhorstspruit het die vergadering besluit om nie ‘n ondersoek na geheime organisasies te onderneem nie en ampsdraers dringend versoek om hulle onvoorwaardelik los te maak van vertroulike kulturele-politieke organisasies waarvan hulle lede mag wees. In die besonder word jonger broeders vermaan om nie lidmaatskap van sodanige organisasies te aanvaar nie. Ook die volgende besluit is geneem:

Die volgende besluite sal by wyse van afkondiging in eredienste, deur bespreking op kerkraads- en gemeentevergaderings en tydens huisbesoek aan lidmate bekend gemaak word in ‘n gesindheid van gehoorsaamheid aan die Woord van God en die Heer van die Kerk:

  1. Die vergadering spreek sy afkeur uit oor enige drukgroep binne of buite die kerk wat ter wille van persoonlike of politieke gewin op enige wyse die werk van die kerk op enige terrein probeer beïnvloed.
  2. Die vergadering doen ‘n ernstige beroep op al die ampsdraers van die Kerk om toe te sien dat geen verdagmakery of etikettering van ampsdraers en medegelowiges sal plaasvind nie.
  3. Die vergadering roep elke lidmaat van die Kerk op om deur woord en daad daartoe mee te werk
  4. Die eenheid in Jesus Christus binne die Nederduitsch Hervormde Kerk ongeskonde gehandhaaf word.
  5. Die Nederduitsch Hervormde Kerk onder alle omstandighede Kerk van Jesus Christus sal bly.

Hierdie vergadering het ook ‘n besluit geneem wat sou lei tot drastiese inkorting van sinodale werksaamhede deur middel van buitengewone standplase. ‘n Voorstel van die Ring van Zoutpansberg is aanvaar dat ‘n rasionalisasiekomitee van sewe kundige persone benoem moet word met die doel dat heffings verminder sal word en dat die omvang en standaard van die betrokke dienste behou sal word. Insinuasies in die motivering is nie ‘in alle opsigte’ aanvaar nie.

27 Julie 1989

Die Kuratorium verkies professor S.J. Botha as voorsitter en doktor E.C.B. Kotze as vise-voorsitter. Doktor P.J. de Beer en dominee W.C.M. de Beer is verkies om saam met die voorsitter en vise-voorsitter op die dagbestuur te dien. Twaalf predikante is genomineer om as lede en sekunduslede van die eksamenkommissie op te tree.

01 Augustus 1989

Die Fakulteit keur die vakkeuses vir DD goed van I.M. Lombard, vir MDiv van E.J. Vledder, A.J. Pienaar, R.T.I. Pienaar en P.H. Viljoen.

Die missie van die Fakulteit is goedgekeur soos voorgelê deur professor P.J. van der Merwe. As adjunkdekaan is genomineer T.F.J. Dreyer, J.H. Koekemooer en P.J. van der Merwe. In ooreenstemming met die besluit van die Algemene Kerkvergadering is ‘n regulasiewysiging goedgekeur vir die BD leerplan.

03 Augustus 1989

Die Verklarende Bybel, uitgegee deur Lux Verbi met professor A.H. van Zyl as hoofredakteur en J.P. Oberholzer en J.L. Helberg as mede-redakteurs word in Kaapstad bekendgestel. Medewerkers van Hervormde kant was A.P.B. Breytenbach, W.C. van Wyk, J.A. Loader, J.P. Oberholzer, P.M. Venter, A.J.G. Dreyer, B.J. Engelbrecht, G.M.M. Pelser en A.G. van Aarde.

23 Augustus 1989

Die Kuratorium neem kennis dat plaasvervangende hulp gereël is om lesings in Nuwe Testamentiese Wetenskap waar te neem in die plek van professor Pelser. Ag studente is toegelaat tot die studie en ontvang beurslenings, en ses is toegelaat sonder finansiële bystand. Die Evaluerings/Begeleidingskomitee is opnuut saamgestel met sy Akademiese, Sielkundige, Mediese, Maatskaplike en Kerklike subkomitees.

06 September 1989

A.G. van Aarde neem sitting op die Senaat as departementshoof Nuwe Testamentiese Wetenskap. Die Senaat wens professor T.F.J. Dreyer geluk met sy verkiesing as vise-skriba, professor J.H. Koekemoer met sy verkiesing as lid, en professor A.D. Pont met sy verkiesing as vise-voorsitter van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering

22 September 1989

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering vergader. Die Administrateur en die skriba het opdrag gekry om ‘n afskeidsfunksie vir J.P. Oberholzer te reël. Die ampstermyn van ouderling J.C. Oelofse as lid van die Raad van die Universiteit van Pretoria het verstryk, en die Kommissie het sy voorsitter, doktor D.J.C. van Wyk, in sy plek benoem. Kennis is geneem van die herstrukturering van Kital in drie departemente, naamlik Senior Direkteur, Toerusting en Navorsing. Doktor S.P. Pretorius is benoem as direkteur van Kital, toestemming is verleen dat die Senior Direkteur, doktor L.J.S. Steenkamp, pastorale hulp verleen in Oos-Moot, en doktor P.J. de Beer is benoem as redakteur van die beplande gesinstydskrif wat die naam Konteks sou kry. Die rasionalisasiekomitee wat benoem is in opdrag van die Algemene Kerkvergadering, was J.P. Oberholzer (sameroeper), en ouderlinge R. Buitendag en M.F. van der Merwe, met reg van koöptering.

16 Oktober 1989

Doktor D.J.C. van Wyk neem sitting op die Raad van die Universiteit van Pretoria as verteenwoordiger van die Nederduitsch Hervormde Kerk.

24 November 1989

‘n Afskeidsete vir J.P. Oberholzer word aangebied in die kerksaal van die gemeente Noordelike Pretoria deur die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering.

1990

13 Februarie 1990

Die Kuratorium besluit om ‘n vorige besluit soos volg te wysig: die Kuratorium versoek die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering dat daar na aanstelling van die Proponentseksamenkommissie ‘n gesprek plaasvind tussen die Moderamen, Proponentseksamenkommissie, Dosentevergadering en Dagbestuur van die Kuratorium, dat die voorsitter van die Algemene Kerkvergadering die leiding in die gesprek sal neem, dat die dekaan, die sekretaris van die eksamenkommissie en die voorsitter van die Kuratorium, of hulle verteenwoordigers, ‘n memorandum vir die gesprek voorberei, en dat vorige lede van die eksamenkommissie betrek word.

Kennis is geneem dat professor P.M. Venter van 01 Februarie tot 30 Mei met navorsingsverlof sal wees en dat sy lesings waargeneem sal word deur dominees G.C. Lindeque en W.C. van Wyk junior. Die vorderingsverslae vir die tweede semester 1988 is behandel en beurse toegeken. Kennis is geneem dat professore W.S. Vorster en J.H. Robberts gedurende die jaar elkeen een seminaar-sessie as gasdosente sal waarneem in Nuwe Testamentiese Wetenskap. Kennis is ook geneem dat professor J.H. Elliott van San Francisco as gasdosent sal optree. Besluit is dat die vergadering geen beswaar het teen die hertoelating van professor G.M.M. Pelser as dienaar van die Woord nie. Gelukwense is uitgespreek teenoor studente Marius Venter en Heloise Lizemore wat albei by hulle onderskeie BA gradeplegtighede genoem is as beste presteerders in die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte. Gelukwense is ook uitgespreek teenoor student Kathleen Smith met die ontvangs van die VSR Diensmedalje. Verslag is ontvang oor die Oriënteringskursus vir BD I studente, wat teen hierdie tyd goed gestruktureer was en gestrek het van Sondagaand 28 Januarie tot Vrydagaand 02 Februarie. Na aanleiding van die taalvaardigheidstoetse is besluit dat daar ‘n gesprek moet plaasvind tussen lede van die Fakulteit Teologie Afdeling A. en die Fakulteit Letttere en Wysbegeerte. Die naam van die Evaluerings/Begeleidingskomitee is verander na Begeleidingskomitee.

Die Kuratorium het kennis geneem van ‘n gesprek tussen sy voorsitter en die dekaan waar die gedagtes uitgespreek is dat daar groter aandrang moet kom dat fakulteitslede moet publiseer, doktorale studente aangemoedig moet word om in die buiteland te studeer, gasdosente genooi moet word en die voordeel wat Unisa het deur die verskeidenheid gasdosente uit die buiteland, ondersoek moet word vir benutting. Die dekaan het die Kuratorium meegedeel dat hy die indruk het dat die Fakulteit wel nog deeglik vergelyk kan word met ander fakulteite veral in Suid-Afrika, maar dat vanweë ons isolasie, klein getalle en allerlei ander faktore ons nie meer in die voorste ry is nie. Hy het verduidelik dat ons ons in ‘n posisie bevind waar daar kommer bestaan of ons kan byhou op die voorpunt van die wetenskaplike beoefening van die teologie, soos wat vir ‘n lang tyd die geval was. Die Kuratorium het die saak na die Dosentevergadering verwys vir aandag en rapport.

13 Maart 1990

Die Fakulteit verwelkom professor L.J.S. Steenkamp wat as direkteur van die SVTT die vergadering bywoon, wens professor J.H. Koekemoer geluk met sy benoeming as adjunkdekaan, neem kennis dat die simposium Bybelwetenskappe-Sistematiese Wetenskappe goed geslaag het, en spreek ook waardering uit vir die kwaliteit van die eerste twee supplementa van die Hervormde Teologiese Studies. Die jaarverslag meld dat drie navorsingsassistente in die Fakulteit werksaam was, dat die studentegetalle vir BD 59, vir MDiv 23 en vir DD 20 was, dat daar 47 gekeurde artikels van personeel verskyn het en dat twee simposia met sukses plaasgevind het, naamlik Bybelwetenskappe-Sistematiese Teologie en Filosofie-Teologie. ‘n Nuwe rooster is in gebruik geneem met uur-lange periodes. Gewysigde leerplanne is goedgekeur vir,

Christelike Etiek

  • 1ste jaar: DET400 Fundamentele Etiek, Konkretisering van die Etiek.

Dogmatiek

  • 1ste jaar: DET 400 Prolegomena, Godsleer, Skeppingsleer, Voorsienigheidsleer, Die Mens.
  • 2de jaar: DET500 Christologie, Soteriologie, Pisteologie.
  • 3de jaar: DET600 Pneumatologie, Werklikheidsverstaan, Ekklesiologie, Eskatologie.

Ensiklopedie

  • 2de jaar: ENS500 Inleiding tot die Ensiklopedie, Teologie as wetenskap, Die Teologiese Fakulteit en die Kerk, Die simbole van die Kerk binne die Teologiese Fakulteit.

Godsdiens- en Sendingwetenskap

  • 1ste jaar: GSW400 Inleiding in die Godsdienswetenskap, Godsdiensgeskiedenis, Godsdiensfenomenologie, Inleiding in die Sendingwetenskap, Teologie van die Sending.
  • 2de jaar: GSW500 Theologia religionum, Teologie en ideologie, Inleiding in die Evangelistiek, Sendingeskiedenis.
  • 3de jaar: GSW600 Godsdiensfilosofie, Fundamentele Godsdienswetenskap, Theologia religionis, Oorsig van filosofiese en lewensbeskoulike temas wat kerk en teologie raak, Prinsipiële en praktiese vraagstellings in die Evangelistiek, Kerk en sending.

Kerkgeskiedenis en Kerkreg

  • 1ste jaar: KGS400 Die geskiedenis en dogmengeskiedenis van die algemene Christelike kerk tot einde 14e eeu, Suid-Afrikaanse Kerkgeskiedenis: Die geskiedenis van die Afrikaanse Kerke tot 1865.
  • 2de jaar: KGS500 Die geskiedenis en dogmengeskiedenis van die kerke van die hervorming en die contra-reformasie in die 15e tot 17e eeu, Die geskiedenis van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika van 1865 tot 1920 met verwysing ook na die geskiedenis van die ander twee Afrikaanse kerke, Die historiese agtergronde van die kerkreg van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika 1542–1619, Die algemene beginsels van die reformatoriese kerklike reg.
  • 3de jaar: KGS600 Die geskiedenis van die Nederlandse kerklike wêreld 1400–1950 met verwysing na kerklike ontwikkelinge in die res van Europa, ‘n Inleiding tot die geskiedenis van die moderne ekumeniese beweging met ‘n inleiding tot die moderne samelewingsteologieë, Die historiese agtergronde van die kerkreg van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika 1652–1950, ‘n Inleiding tot die kerkbegrip van die kerkwet van die NHKA.

Nuwe Testamentiese Wetenskap

  • 1ste jaar: NTW400 Eksegetiese metodologie en Bybelse hermeneutiek I, Inleiding tot die Nuwe Testament: Algemene inleiding, Prinsipiële kanoniek, kanongeskiedenis en –kritiek, Teksgeskiedenis en –kritiek, Inleidng tot die Sinoptiese Evangelies en Handelinge, Eksegese en teologie van die Markusevangelie.
  • 2de jaar: NTW500 Eksegetiese metodologie en Bybelse hermeneutiek II, Sosiologie van die Nuwe Testament, Inleiding tot die Corpus Paulinum, Eksegese en teologie van geskrifte uit die Corpus Paulinum, Teologiese temas: Christologie, gelykenis- en wonderwerkinterpretasie, Teologie van die Nuwe Testament.
  • 3de jaar: NTW600 Eksegetiese metodologie en Bybelse hermeneutiek III, Inleiding tot die Johannese literatuur, Algemene Briewe en Openbaring, Eksegese en teologie van gekrifte in hierdie groep, Eksegese en teologie van die Matteusevangelie en die Lukaanse korpus, Teologiese temas: Pneumatologie, ekklesiologie, etiek en sakramente, Bybelse Teologie.

Ou Testamentiese Wetenskap

  • 1ste jaar: OTW400 Die agtergrond van die Ou Testament, Die geskiedenis van Israel en Juda, Die bronne vir die kennis van die agtergrond van die Ou Testament, Argeologie van die Ou Testament, Inleiding tot die Ou Testament: Inleiding tot die vak, Die geskiedenis van die teks van die Ou Testament, Die kanon van die Ou Testament, Die boeke Josua tot Konings, Die boeke Kronieke, Esra, Nehemia; Eksegese van die Ou Testament: Inleiding tot die vak, Eksegese van verhalende literatuur; Ou Testamentiese Teologie: Inleiding tot die vak.
  • 2de jaar: OTW500 Inleiding tot die Ou Testament: die professoreteboeke, die Psalms; Eksegese van die Ou Testament: Eksegese van liedere-lteratuur, Eksegese van profete-literatuur, Evaluering van eksegetiese resultate; Ou Testamentiese Teologie: Geskiedenis van die vak, Metodiek van die vak, Eksegese en Teologie; Hermeneutiek van die Ou Testament: Inleidng tot die vak, Skrifbeskouing: Die Ou Testament.
  • 3de jaar: OTW600 Inleiding tot die Ou Testament, Die boeke Job, Spr, Pred, Hoogl, Rut. Kl, Dan, Est, Die boeke Gen tot Deut, Eksegese van die Ou Testamentiese Wysheidsliteratuur, Pentateugliteratuur, Apokalitiese Literatuur, is evaluering van eksegetiese resultate; Ou Testamentiese Teologie: Temas in die Bybelse Teologie; Hermeneutiek van die Ou Testament: Skrifbeskouing, Hermeneutiek in praktyk.

Kennis is verder geneem dat die dekaan goedkeuring verleen het vir die BA Hons studie deur H. Lizemore, J.C. Marnewick, D. Botha, F.H. Ras, J.F. van der Merwe en A. Brits.

Die Dosentevergadering het reëlings gefinaliseer vir die V.T.T. kursus in die lokale van die Fakulteit.

Daar is besluit dat die inisiatief vir die reëling van ‘n Rautenbach-gedenklesing by die Fakulteit, Afdeling A, sal bly en dat die eerste lesing georganiseer sal word deur die Departement Dogmatiek en Christelike Etiek. As temas vir die 75 jarige fees van die Fakulteit is gekies: ‘n Historiese terugblik op die Fakulteit en sy lede en ‘n teologiese getuienis ten opsigte van die tyd en omstandighede wat hierdie Fakulteit tegemoet gaan. Die eerste simposium Bybelwetenskap-Sistematiese Teologie sal plaasvind op 09 Maart 1990. Die dekaan het gerapporteer dat ‘n nuwe reëling getref is vir Praktiese Afrikaans en dat professor J.P. Botha van Unisa reeds daarmee begin het.

23 Maart 1990

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering keur‘n kanselboodskap, opgestel deur professor A.D. Pont op vesoek van die Moderamen, goed. Daarin kom onder andere die volgende voor:

Vir ons kerk, ons volk, ons land en al sy mense het ‘n uiters ernstige, beslissende moment in die geskiedenis aangebreek. Van alle kante kom die aandrang: Wat sê die kerk? Verdeeldheid en verbittering sny diep en seer. Aan weerskante is soms teleurstelling oor wat vanuit of namens die kerk gesê word of nie gesê word nie. […] Daar moet nie van die Nederduitsch Hervormde Kerk of die kerklike leiding verwag word om, hoe verbloem of openlik ookal, partypolitieke keuses te maak nie. Die kerk glo steeds dat as hy sy taak van evangelieverkondiging reg vervul, lidmate op grond van dié prediking tot eie, volwasse politieke keuses sal kom. Die kerk mag nie verlaag word tot net nog ‘n politieke party of drukgroep nie. Die kerk moet ‘n reserwe teenoor elke politieke beleid of stelsel behou. Anders kan hy sy roeping as kerk nie meer vervul nie. As die kerk hom resloos met ‘n politieke rigting vereenselwig, is wat ons hoor nie meer die stem van die kerk in die wêreld nie maar die stem van die wêreld in die kerk. Wat in dié tyd wel van die kerk verwag kan word, is om kerk te bly en te volhard in prediking en voorbidding; oproep tot daaglikse bekering en verootmoediging voor God; vertroosting in alle benoudheid en angs. […] Laat ons alle selfsug afsterf, in ons werk, die kerklike en gesinslewe. So ook die partyskap, geskinder en twis.

[Hierdie Kanselboodskap, gelees binne sy konteks, het as agtergrond en ondertoon blykbaar die gedagte weerspieël dat die vorige bedeling in die kerk hom ‘resloos met ‘n politieke rigting vereenselwig het,’ en nou, nadat ‘n groep met bepaalde politieke oortuigings en met ‘n goed georganiseerde veldtog vóór die Algemene Kerkvergadering suksesvol in die kerkleiding gevestig geraak het, nou ‘moet die kerk ‘n reserwe teen elke politieke beleid of stelsel behou.’ Dat dit inderdaad so verstaan is, minstens by sommige, blyk uit die skrywes van die kerkraad van Port Elizabeth en die Ring van Bloemfontein, waarskynlik geïnstigeer deur dieselfde persoon, wat die Kommissie bedank het vir die boodskap wat ‘n ‘duidelike en eerlike standpuntinname is ten opsigte van die nie-deelname van ons kerk in die mengelmoes van interkerklike indaba wat dan kwansuis sal lei tot ‘n beter Suid-Afrika,’ of volgens die Ring ‘die globale interkerklike staatkundige gespreksindaba.’ Die kerkrade van Kaapstad en Stellenbosch aan die ander kant, het dele van die boodskap gesien as partypolitieke uitsprake en nie as ‘n herderlike skrywe nie.

Die volgende Algemene Kerkvergadering het kennis geneem dat daar kerkrade is wat nie die kanselboodskap en herderlike skrywe laat voorlees het aan die gemeentes nie omdat daar nie met alle standpunte saamgestem word nie, en het besluit dat dit wel gedoen moet word tydens altwee eredienste op ‘n bepaalde Sondag en dat besware daarna met die Kommissie opgeneem moet word.]

Die Kommissie het, nadat kommentaar ontvang is van ‘n aantal Ringskommissies en die Kerkraad van Meyerspark, vir professor G.M.M. Pelser hertoegelaat as predikant en die proponentseksamenkommissie opdrag gee om volgens die bepalings te handel. Kennis is met instemming geneem dat predikante spesialistehulp kan verleen in die Fakulteit. Volgens ‘n opgawe van die dekaan het dominee J.C. van die Merwe voorligting gegee oor jeugwerk, meneer B.D. Bierman oor kerksang, dominee P.L. Steenkamp oor media, dominee W.J. Coetzer oor bejaardesorg, dominee J. Coetzee oor siekepastoraat, doktor J.G.M. Dreyer oor geloofsbou, doktor S.P. Pretorius oor huisbesoek, meneer M. Dreyer oor chemiese afhanklikheid, dominee C.J.A. Simpson oor pastorale beraad, mejuffrou A.Venter oor gemeentelike finansies, meneer L. de Munnik oor kerklike administrasie, dominee P.A. Geyser oor Kital, dominee R.J. Coertze oor diakonale diensgroepe.

15 Junie 1990

In die vergadering van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering is professor Pelser gelegitimeer en beroepbaar gestel. Die Kommissie het die Kuratorium versoek om die tweede pos in Nuwe Testamentiese Wetenskap opnuut te evalueer en te motiveer. Die vergadering het verslag ontvang van die gesprek van die Moderamen met lede van die Dosentevergadering, die Kuratorium en die proponentseksamenkommissie en ‘n reëling vasgestel waarvolgens die senior direkteur van Kital, wat ook direkteur van die SVTT is, benoem moet word. Die vergadering het ook kennis geneem van die eerste verslag van die rasionalisasiekomitee. Hierdie vergadering het ook ‘n konsep herderlike skrywe goedgekeur met die titel Kerk en Politiek. Daarvan is 60 000 eksemplare gedruk en aan gemeentes en die pers versprei. [Die stuk het in sy gedrukte vorm 26 bladsye beslaan en is in wese ‘n samevatting van kerklike uitsprake oor die onderwerp oor ‘n lang tydperk maar duidelik met die nuanse van die ‘ander’ benadering van die kant van die Kommissie in vergelyking met sy voorganger.]

23 Julie 1990

Die Dosentevergadering bespreek ‘n skrywe van die Kuratorium wat versoek dat antwoord verskaf word op vrae van die Rasionalisasiekommissie oor die proses van rasionalisering in die Fakulteit en die missie van die Fakulteit. Die vergadering versoek dat begin word met die ontvriesing en vulling van die tweede pos in Nuwe Testamentiese Wetenskap en neem kennis dat ‘n tweede Fakulteitsberaad beplan word in die Nasionale Krugerwildtuin vir 12–15 September 1990.

31 Julie 1990

Die Fakulteit ken die Nico Prinslooprys toe aan E.C. Kloppers en J.F. van der Merwe gesamentlik, nomineer professore T.F.J. Dreyer en J.H. Koekemoer as plaasvervangende dekaan, en vir T.F.J. Dreyer, J.H. Koekemoer en J.P. Oberholzer as dekaan, keur die gewysigde proefskrif-onderwerp van P. van Staden goed, naamlik Compassion–the essence of life: A social-scientific study of the religious symbolical universe in the ideology/theology of Luke, keur die vak-keuse van P.J.E. Botha vir DD goed, en ook die gewysigde reglement vir die SVTT.

22 Augustus 1990

Die Kuratorium besluit om aan te beveel dat die tweede pos in Nuwe Testamentiese Wetenskap so gou moontlik ontvries en gevul word. Kennis is geneem van ‘n verslag van die dekaan oor rasionalisasie in die Fakulteit en van die missie van die Fakulteit. Kennis is geneem dat professor T.F.J. Dreyer vanaf 01 Mei 1991 tot 30 September 1991 op studieverlof sal wees. Volgens ‘n verslag van die dekaan oor die akademiese jaar 1989 was daar 22 persone as hulpdosente betrokke en het die personeel altesame 57 wetenskaplike publikasies gelewer. Kurrikulering vir die BD studie en die SVTT program is afgehandel en studiehandleidings is in al die departemente in gebruik. Daar was 59 BD studente, 23 MDiv studente en 20 doktorale studente. Op aanbeveling van die Begeleidingskomitee is ag studente toegelaat en beurslenings aan hulle toegeken, en ses is toegelaat sonder beurslenings.

05 September 1990

Die Senaat herbenoem doktor W.C. van Wyk as verteenwoordiger van die Senaat op die Raad en as lid van die Dissiplinêre Komitte (Studente).

14 September 1990

Die Kurrikulumkomitee vergader in die Oswald Pirow kamp, by die Nasionale Kruger Wildtuin. Beleidsuitgangspunte vir voortgesette onderwys soos aanvaar deur die Senaat is bespreek. Daar is besluit om ‘n kursus in navorsing en navorsingsontwerp vir alle M en D studente in te stel en om dit verpligtend te maak. J.H. Koekemoer, T.F.J. Dreyer en P.J. van der Merwe is as komitee aangewys om ‘n beleidsdokument ‘Riglyne vir Nagraadse Studie’ te skryf. Nog ‘n komitee is benoem om ondersoek in te stel na die finansiering van nagraadse studie. Oor MDiv skripsies en DD proefskrifte is besluit dat ‘n kandidaat die finale konsep van sy skripsie of proefskrif-gebaseerde artikel aan die redaksie van Hervormde Teologiese Studies moet voorlê vir oorweging en evaluering en dat die evaluering aan die studieleier beskikbaar gestel moet word vir voorlegging aan die eksamenpaneel. Besluit is ook dat alle vaste dosente die BD skripsieseminare moet bywoon. ‘n Nuwe rooster is deur die dekaan voorgelê waarvolgens die onderskeie departemente se kursusse in blokke afgehandel word. Dit is na uitgebreide bespreking aanvaar om vanaf 1991 te inplementeer.

21 September 1990

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering besluit dat die tweede pos in die Departement Nuwe Testamentiese Wetenskap ontvries word en dat die Kuratorium so gou moontlik moet vergader om ‘n benoeming te maak. [In sy Novembervergadering het die Kommissie egter weer besluit dat die pos gevries moet bly.]

In ‘n buitengewone vergadering saam met die Raad van Finansies het die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering op aanbeveling van die Rasionalisasiekomitee besluit om ses sinodale standplase op te hef sodra daar vakatures ontstaan.

22 Oktober 1990

Die rektor, professor D.M. Joubert, besoek die Dosentevergadering en voer ‘n lang gespek oor die opleiding, belangstellings en navorsingsrigtings in die Fakulteit.

30 November 1990

Die vaste dosente sluit die werksaamhede van die jaar gesellig af op Rietbokhoek, Vaalwater as gaste van die dekaan en mevrou Oberholzer.

1991

06 Februarie 1991

Die Dosentevergadering ontvang verslag van die Feessimposiakomitee en besluit dat die Fakulteit ook ‘n eie simposium moet reël met die tema kerklik-teologiese opleiding in Suid-Afrika ná 2000. Kennis is geneem dat mevrou Van Selms ‘n foto van professor Van Selms beskikbaar gestel het vir die Van Selms Leeskamer en ook R 2000 daarvoor bygedra het.

Kennis is geneem dat die VTT kursus in November 1990 goed verloop het. Die vergadering het verder gewerk aan ‘n memorandum oor die keuring, voortgesette evaluering en begeleiding van teologiese studente vir voorlegging aan die Kuratorium.

06 Maart 1991

Die Kuratorium neem kennis dat die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering besluit het dat die tweede pos in Nuwe Testamentiese Wetenskap vir eers nog bevries moet bly. Kennis is ook geneem van die verslag van A.D. Pont en J.J. Steenkamp oor hulle bywoning van die vyfde vergadering van die Internasionale Kongres vir Calvyn-navorsing in Grand Rapids en voorafgaande navorsing in Münster, en van A.G. van Aarde oor sy bywoning van die konferensie van die Society of Biblical Literature in Wenen, waar hy ‘n referaat gelewer het.

Die dekaan het verslag gedoen oor die akademiese program vir 1991:

  1. Rasionalisasie: Die Fakulteit het uit eie beweging en met inagneming van die omstandighede en vooruitskouings ten opsigte van die ekonomie, die kerklike demografie en die neigings in die tersiêre onderwyssektor, reeds vanaf 1987 maatreëls getref om met ‘n beperkte personeelstaat nogtans te beweeg in die rigting van optimalisering van beskikbare hulpbronne. Dit het ingesluit:

1.1 Kurrikulering met as uitgangspunt die profiel van die predikant van die Nederduitsch Hervormde Kerk.

1.2 Studiehandleidings en kernaantekeninge met die oog op groter selfwerksaamheid deur studente onder leiding van dosente.

1.3 Verminderde lesingtye en invoering van meer seminare en besprekingsklasse.

1.4 Vermindering van die personeelstaat.

1.5 Gebruik van hulpdosente op groter skaal.

1.6 Organisasie van die praktiese opleiding van studente.

1.7 Vestiging van die Sentrum vir Voortgesette Teologiese Toerusting.

1.8 Organisasie en groter klem op navorsing en wetenskaplike publikasies.

1.9 Uitbouing van die Hervormde Teologiese Studies tot ‘n hoogstaande teologiese tyskrif, met supplemente.

1.10 Verhoging van die nagraadse komponent van studente-inskrywing.

1.11 Die instelling van simposia en studiegroepe.

1.12 Groter deelname aan binnelandse en buitelandse vakbyeenkomste.

2. Herindeling van akademiese jaar: Waar in die verlede feitlik die hele Junie, Oktober en November deur tentamens en eksamens in beslag geneem is, en die praktiese opleiding ook nog elke Vrydag in beslag geneem het, word vanaf 1991 ‘n nuwe rooster gevolg wat die akademiese jaar verleng tot 36 weke teenoor die ongeveer 24 van vroeër, terwyl eksamens net 12 dae in beslag neem.

3. Werklading van dosente: Sowel die rasionaliseringsprogram as die nuwe onderrigprogram stel besonder hoë eise aan die voltydse dosente. Die klem op selfwerksaamheid van studente eis meer tyd van dosente ten opsigte van voorbereiding van handleidings, kurrikulering en begeleiding. Die hoë nagraadse studentetal en die voortgesette opleiding van predikante het bykomende laste gebring wat in sommige departemente tot ‘n maksimum gevoer is. Die publikasie-uitset van ons Fakulteit vergelyk goed met ander, terwyl die gehalte van Hervormde Teologiese Studies wye erkenning geniet. Die hulp wat deeltydse dosente bied op die vlak van onderrig-aanbieding, is van groot waarde maar moet steeds beskou word as noodhulp, by gebrek aan meer voltydse dosente.

4. Samevatting: Ek meen dat met die maatreëls wat getref is, die Fakulteit op ‘n hoë vlak van werkverrigting en produksie funksioneer.

Die onderrigprogram wat by die verslag aangeheg is, het laat blyk dat ‘n blokstelsel ingevoer is waarvolgens ‘n vak aan ‘n jaargroep volledig aangebied is oor ‘n tydperk van een maand, gevolg deur vier dae voorbereiding en daarna twee dae eksamen. Verder was daar op die rooster voorsiening vir godsdiensoefening een maal per week, ‘n tweeweeklikse dekaansperiode, tweeweeklikse Bybelstudie, weeklikse seminare, skripsieseminare en klaspreke, en vier tydperke van praktiese opleiding in Januarie, Junie, Julie en November.

12 Maart 1991

Die jaarverslag van die Fakulteit gee ‘n uitvoerige oorsig van werksaamhede. Naas die nege voltydse dosente was as deeltydse dosente betrokke in Dogmatiek en Christelike Etiek J. Buitendag, R.M. Naude en D.J. Smith, in Godsdiens- en Sendingwetenskap E. Engelbrecht, J.D. Gericke, H.G. van der Westhuizen en D.J.C. van Wyk, in Kerkgeskiedenis en Kerkreg J.J. Steenkamp, J.P. Labuschagne, J.M.G. Storm, S.P. Pretorius en B.J. van Wyk, in Nuwe Testamentiese Wetenskap E. van Eck, P.A. Geyser, P. van Staden en P.B. Boshoff, in Ou Testamentiese Wetenskap W.C. van Wyk, A.A. da Silva, L.C. Bezuidenhoiut en P.M. Venter, in Praktiese Teologie M.J. du P. Beukes en J.A. van Biljon. Daar was 25 wetenskaplike publikasies, en die proefskrifte van P. van Staden, G.J.J. Labuschagne, H.J. Botes en B.J. van Wyk is aanvaar. Naas plaaslike simposia en kongresse het A.D. Pont en J.J. Steenkamp die Vyfde Internasionale Calvynkongres in Grand Rapids bygewoon en A.G. van Aarde die SBL in Wenen. Daar was ses besoekende dosente. A.G. van Aarde en P.J. van der Merwe het as gasdosente elders opgetree en A.G. van Aarde het drie toekenningsvan die R.G.N. ontvang. Die studentegetalle het gestaan op 69 vir BD, 23 vir MDiv en 24 vir DD. Die vak-keuse van D.M. van Zyl vir MDiv is goedgekeur.

Die Dosentevergadering besluit om ‘n jaarlikse kursus in navorsing en navorsingsontwerp in te stel en gee aan A. van Aarde en A.D. Pont opdrag om so ‘n kursus voor die einde van 1991 te skryf en te implementeer. Komitees is aangewys om ‘n beleidsdokument Riglyne vir Nagraadse Studie te skryf en om ondersoek in te stel na die finansiering van nagraadse onderrig en studie. Die vergadering het ook ‘n verslag van professor P.J. van der Merwe bespreek oor die uitslag van ’n onvoorbereide algemene begripstoets afgeneem op 23 April 1990 in die sesdejaarklas. Studente is versoek om bepaalde teologiese terme te beskryf. Die uitslag was teleurstellend en is deur die Dosentevergadering aanvaar as ‘n vingerwysing vir die opleiding.

22 Maart 1991

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering besluit dat Dominee J.C. de Lange se aansoek om emeritaat vanaf 10 April 1991 goedgekeur word en dat professor T.F.J. Dreyer hom opvolg as skriba, en dat doktor S.P. Pretorius lid word van die Kommissie. Doktor Pretorius is verkies as vise-skriba. Die Kommissie het ook kennis geneem dat professor Van Aarde uitgenooi is om in die VSA aan ‘n studieprojek deel te neem en as gasdosent op te tree by die Instituut vir Ekumeniese en Kulturele Navorsing in Collegeville, Minnesota. Die Kommissie het hom gelukgewens en die Administrateur gevra om vas te stel of daar fondse beskikbaar is om Van Aarde finansieel te steun vir die besoek. Die Kommissie het verder ‘n besluit van die Moderamen goedgekeur wat beteken het dat voortaan slegs 50% van die studiegelde deur ‘n beurslening befonds sal word. Die Kommissie het ook kennis geneem van die beplanning met die oog op die viering van die 75ste bestaansjaar van die Fakulteit. Daar is voorts besluit dat onderhandelinge met die Universiteit van Pretoria aangeknoop moet word met die oog op die moontlike akkredtitering van HTO by die Universiteit. ‘n Kommissie is benoem om voorlopige onderhandelinge aan te knoop.

25 April 1991</p>

Die Dosentevergadering bespreek ‘n verslag van die Proponentseksamenkommissie en kom tot die gevolgtrekking dat daar aandag gegee moet word aan die vraag wat ‘n preek veronderstel is om te wees, aan die verskillende teologiese en vroomheidrigtings in die kerk en die probleem om enigsins verandering te bring in die reeds vasgelegde vroomheid van studente wat inskryf. Die vergadering het ook die knelpunte en voordele van die nuwe onderrigstruktuur bespreek.

01–02 Mei 1991

Die Dosentevergadering hou ‘n kurrikulêre werksvergadering en voer diskussie oor selfevaluering, die toekoms van ons teologie, opleidingsmodelle en strategie. Die vise-rektor en aangewese rektor, professor Flip Smit, het op uitnodiging die vergadering besoek en ‘n oorsig gegee van knelpunte en moontlikhede in die universiteitswese. Oor teologie het hy onder andere gesê:

Wat hom betref, hou die blote konsep van die universiteit in dat daar ‘n teologiese fakulteit sal wees. Hy sien dit egter essensieel as nie-kerklike opleiding. Die kerke is welkom om naas die teologiese opleiding hulle eie afrondingskursusse aan te bied en toelatingseksamens te vereis.

Professor Smit het daarna geantwoord op vrae, en ná sy vertrek het die vergadering sy mededelings bespreek. Daar is genoem dat rasionalisasie ‘n prioriteit sal bly en dat onderrig in hoë mate met Afdeling B. gedeel kan word, dat deeltydse opleiding naas die voltydse opleiding oorweeg moet word, die beginsel van breë gemeenskapsdiens aanvaar moet word, en dat modulering dringend nodig is. Wat teikengehoor betref, is gestel dat naas kandidate vir bediening in die Nederduitsch Hervormde Kerk vir enige buitepersoon voorsiening gemaak moet word. As minimum vereistes vir die profiel van die afgestudeerde is gestel akademies iemand wat met sy kwalifikasie gelykstaan aan enige vergelykbare persoon in die wêreld, kerklik iemand wat op die intreevlak van predikantskap in die Nederduitsch Hervormde Kerk kan toetree. Wat vorming betref, is genoem ‘n gekonsentreerde vormende kursus na afloop van die basiese teologiese kursus. Akkreditering en akkomodering van die HTO is ook op die agenda geplaas.

08 Mei 1991

Die dagbestuur van die Kuratorium vergader saam met professore Oberholzer en Van der Merwe om ‘n memorandum van die Dosentevergadering te bespreek oor die toesigverantwoordelikhede van die twee liggame, die aanvanklike en voortgesette evaluering van studente en die toesig oor die student.

15 Mei 1991

Die Senaat verwelkom professor J.J. Engelbrecht as hoof van die Departement Bybelkunde vanaf 01 Januarie 1991 en wens professor A.D. Pont geluk met die uitnodiging om ‘n referaat te lewer op die Internasionale Calvynkongrees in Michigan, VSA.

16 Mei 1991

Die Dosentevergadering neem kennis van ‘n memorandum oor konsepbeleid in verband met die navorsingsmissie van die Fakulteit. Onder die hoof ‘Noodsaaklikheid en aktualiteit van navorsing’ word gestel:

Die kerk is ‘n organisme in die wêreld. Die eiesoortigheid en die selfstandigheid van die kerk in onderskeid met ander organismes het vanweë onbeheerde sekularisasie vervaag. Predikantswerk, bv, het in ‘n groot mate naïewe maatskaplike werk geword. Die verwagtings wat lidmate aan die predikant stel, veroorsaak ‘n diskrepansie tussen akademiese opleiding en praktiese rolvervulling. Teologiese praxis het verskuif na bestuurskundigheid met die gevolg dat ‘n akademiese opleiding van predikante sonder die aanleer van toerustingsvaardigheid ontoereikend is. Heelwat predikante wat veronderstel is om gesaghebbende draers van die evangelie van die Gestuurde van die Gans-Andere te wees, is terselfdertyd kultuur-, volks- en nasionaal-ideologiese propagandiste en is dikwels selfs net soos die politici wat eerder in die verkryging en handhawing van mag geïnteresseerd is as in diensknegskap. Baie buitekerklikes en ook kerkmense vertrou derhalwe nie meer die kerk nie. Die verkondiging van die evangelie word met byklanke gehoor en verloor baie aan egtheid. Die kerk beleef ‘n geloofwaardigheidskrisis. Die onsekerheidsbeginsel in hedendaagse wetenskapsbeoefening is vir die teologie ‘n verleentheid, terwyl die geleenthede wat relatiwiteit, relasionaliteit, pluraliteit en ambiguïteit in Bybelinterpretasie en in kerklike praxis oor die algemeen bevat, nie geëksploiteer en benut word nie. Dié verleentheid mond onder andere uit in ‘n godsdienssin wat opgaan in intellektualistiese dogmatisme, pragmatistiese metodisme of emosionele evaringsgodsdiens. Daar is groot onduidelikheid oor hoe God in sy skepping teenwoordig is, hoe geloof ervaar word, watter rol die erediens in die geloofsgemeenskap vervul, die roeping en taakvervulling van die onderskeie ampte, die inhoud van die priesterskap van die gelowiges, die taak en relevansie van die kerk ten opsigte van die sosio- en eko-politiek, die plek van die teologie aan die universiteit en oor vele sake meer.

Die vergadering het terugvoering ontvang vanaf die studente oor die blok-onderrigstruktuur en het besluit om ‘n dag tussen die twee dae van die eksamens in te voeg.

21 Junie 1991

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering neem kennis dat drie studente in die 1990 eindksamen nie in al die vakke geslaag het nie en keur die besluit van die Kuratorium goed dat hulle die vakke moet herhaal asook hulle proefpreke.

30 Julie 1991

Die Dosentevergadering neem kennis dat die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing ook die plek van die geesteswetenskappe aan die universiteit as kongrestema gekies het en besluit om na afloop van daardie kongres weer oor die saak te handel. Die inleweringsdatum vir die Hervormde Teologiese Studies feesartikels word vasgestel. As gesamentlike navorsingsprojek vir 1992 is gekies ‘Die geskiedenis, stand en toekoms van teologiebeoefening in die onderskeie departemente van die fakulteit.’

15 Augustus 1991

Die Dosentevergadering bespreek ‘n uitvoerige memorandum van professor L.J.S. Steenkamp oor die vormingstaak van die Dosentevergadering ten opsigte van toesig, begeleiding en voortgesette evaluering van teologiese studente. Die vergadering keur ook ‘n konsep beskrywingspunt oor die toekoms van die opleiding, opgestel deur J.P. Oberholzer, goed vir deursending na die Kuratorium. ‘n Beskrywingspunt oor wysiging van Bepaling 63(a), opgestel deur A.G. van Aarde, is ook goedgekeur vir deursending.

03 September 1991

Die Kuratorium besluit na oorweging van ‘n voorlegging deur die dagbestuur om by die Algemene Kerkvergadering aan te beveel dat net hoofde van departemente of hulle verteenwoordigers sitting op die Kuratorium sal hê en dat die Kuratorium ná ‘n vergadering waarop adviserende lede advies uitgebring het, kan besluit om afsonderlik te vergader. Kennis is geneem dat die Raad van Finansies R4000 bewillig het uit ‘n erflating vir aanwending by die toekenning van pryse in die fakulteit, dat die voltydse dosente op 03 Mei deur die Kuratorium onthaal is in die kerksaal van Philadelphia, dat J.P. Oberholzer vakansie- en studieverlof neem van 04 Julie tot 08 November 1991, dat die Beurskomitee vorderingsverslae behandel en beurse toegeken het, Die Begeleidingskomitee het aanbeveel dat ag studente toegelaat word met beurslenings en vyf sonder beurslening. Die vergadering het ook gehandel oor ‘n beskrywingspunt van die Dosentevergadering vir die Algemene Kerkvergadering oor die toekoms van die Fakulteit. ‘n Bandopname van die bespreking is gemaak en by die Agenda van die vergadering van 22 Januarie 1992 gevoeg.

14 Oktober 1991

Die Raad besluit om die eregraad DD aan professor B.J. Engelbrecht toe te ken.

02 November 1991

Op die Inligtings- en Besprekingsvergadering het ouderling Riekert van Randburg gesê dat onder lidmate van die kerk daar ook ander belewenisse van die huidige situasie bestaan as dié wat in die herderlike skrywe weerspieël word.

Die kerk leef en werk in ‘n heterogene gemeenskap. Tog gaan die kerk in sy bediening selektief te werk. Die apostolaat word die voorliefde van ‘n klein groepie mense in die kerk , maar is nog nie deel van die kerk oor sy hele lewe nie. Artikel III en die volkskerkgedagte skep die indruk dat dit gebruik kan word om bepaalde doelwitte te bereik. Die kerk beweeg baie naby aan die grens om homself diensbaar te stel aan die propagering van Afrikaner nasionalisme.

Die voorsitter het daarop gerageer deur te sê dat hy dit beskou as ‘n mededeling namens andersdenkendes, en hulle moet aantoon in watter opsigte daar afgewyk is van die standpunte van die kerk.

29 November 1991

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het goedgekeur dat professorf A.D. Pont en J.P. Oberholzer met vervroegde emeritaat mag gaan op 31 Januarie 1992 en as voltyds-tydelike dosente sal optree tot einde 1992. Beoogde wetgewing het die moontlikheid geskep dat hulle gratifikasie andersins in gedrang sou kon kom.

1992

22 Januarie 1992

Op ‘n buitengewone vergadering besluit die Kuratorium om die beskrywingspunt van die Dosentevergadering oor die toekoms van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria as voorstel te inkorporeer by sy verslag aan die Algemene Kerkvergadering.

05 Februarie 1992

Die Dosentevergadering neem kennis van ‘n erflating wat vir dié doel aangewend kan word en besluit oor pryse vir toekenning tydens gradeplegtighede:

  • Beste BD student oor al drie jare, gekoppel aan die naam van die erflater
  • Beste student oor drie jaar in Nuwe Testamentiese Wetenskap: Die Greyvenstein-prys
  • Beste student oor drie jaar in Praktiese Teologie: Die J.I. deWetprys
  • Beste student oor drie jaar in Godsdiens- en Sendingwetenskap: Die HPWolmaransprys
  • Beste student oor drie jaar in Dogmatiek en Christelike Etiek: Die P.J. Mullerprys
  • Beste student oor drie jaar in Ou Testamentiese Wetenskap: Die B. Gemserprys
  • Beste student oor drie jaar in Kerkgeskiedenis – die Kerkhistoriese Genootskap moet geraadpleeg word

Die eerste stap is ook geneem in die rigting van instelling van ‘n MDiv graad. Professor T.F.J. Dreyer is versoek om ‘n memorandum voor te lê. Kennis is geneem dat die BD Oriënteringskursus goed verloop het en dat die voorstel oor aanbieding van Godsdienswetenskap in die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte reeds ‘n pad geloop het . Daar is besluit dat Studentesake voortaan ‘n vaste punt op die agenda sal wees en dat die praeses van Vanderhoff en ‘n verteenwoordiger uit elke BD jaar die betrokke deel van die vergadering moet bywoon.

25 Februarie 1992

Die Kuratorium neem kennis dat professor T.F.J. Dreyer met studieverlof sal weesvan 24 Augustus tot 27 November 1992 en dat sy lesings en praktika waargeneem sal word deur professor M.J. du P. Beukes en dominee J. Coetzee. Daar is besluit om die H.C.M. Fourie Erepenning toe te ken aan professore F.J. van Zyl en H.G. van der Westhuizen.

06 Maart 1992

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering besluit dat die tweede professoraat in Ou Testamentiese Wetenskap nie gevul word nie na die emeritaat van J.P. Oberholzer.

10 Maart 1992

Die Fakulteit nomineer professore T.F.J. Dreyer en J.H. Koekemoer as dekaan in die vakature wat gelaat is deur die aftrede van J.P. Oberholzer op 31 Januarie 1992. Daar is kennis geneem dat die reglemente vir die volgende pryse deur die dekaan goedgekeur is: Nico Prinlooprys vir Ou Testamentiese studies, Greyvensteinprys vir Nuwe Testamentiese Wetenskap, J.I. deWetprys vir Praktiese Teologie, H.P. Wolmaransprys vir Godsdiens- en Sendingwetenskap, P.J. Mullerprys vir Dogmatiek en Christelike Etiek, B. Gemserprys vir Ou Testamentiese Wetenskap, Dekaansprys vir die beste BD skripsie, A.D. Pont prys vir Kerkgeskiedenis.

Die jaarverslag meld dat naas die elf voltyse dosente (wat SVTT en Bybelkunde insluit), die volgende deeltydse dosente werksaam was: in Dogmatiek en Christelike Etiek J. Buitendag, I.W.C. van Wyk, M.D. Robbertse, in Godsdiens- en Sendingwetenskap E. Engelbrecht, J.D. Gericke, H.G. van der Westhuizen, D.J.C. van Wyk, in Kerkgeskiedenis J.J. Steenkamp, J.P. Labuschagne, J.M.G. Storm, S.P. Pretorius, B.J. van Wyk, in Nuwe Testamentiese Wetenskap E. van Eck, P.A. Geyser, P. van Staden, P.B. Boshoff, G.M.M. Pelser, in Ou Testamentiese Wetenskap W.C. van Wyk, A.A. da Silva, P.M. Venter, in Praktiese Teologie M.J. du P. Beukes, J.A. van Biljon. Die proefskrifte van P.B. Boshoff, W.H. Oliver, J.H. Breytenbach en F.J. Boshoff is aanvaar. Naas bywoning van plaaslike simposia en kongresse deur dosente het A.G. van Aarde deelgeneem aan die Context Group Project on the Bible in its Cultural Environment in Portland, VSA Daar was 36 MDiv en 20 DD studente.

Die Dosentevergadering bespreek reëlings vir die ingebruikneming van die Van Selms Leeskamer op 30 April 1992 en die Hermeneutiese Studiegroep se beraad op Rietbokhoek 7–9 Mei 1992.

30 April 1992

Die Van Selms Leeskamer word in gebruik geneem in die Teologiegebou by die Universiteit van Pretoria. Die boekery daarin het ontstaan uit die skenking van Van Selms se volledige boekery aan die Merensky Biblioteek, maar wat nie alles daar opgeneem kon word nie. Dié wat nie daar opgeneem is nie, is toe geplaas in die Leeskamer, en aangevul deur professor C.H. Rautenbach se boekversameling en dié van die Van Der Hoff Teologiese Vereniging. Die Predikantevergadering het geld geskenk vir die inrigting van die lokaal en die bind van tydskrifte en oordrukke, en mevrou Van Selms het haar man se tikmasjien en woordeboek geskenk asook ‘n ruim kontantbedrag. Die rektor, professor P. Smit, het by die ingebruikneming onder andere gesê: ‘Ons het hier gekom by ‘n konsep waarin die inspirasie tot akademiese voortreflikheid, studieruimte, lees- en seminaarkamer en blywende herinneringe aan ‘n uitnemende akademikus tot een verbind is.’ Die kinders van professor Van Selms was teenwoordig by die geleentheid. Mevrou Van Selms is oorlede enkele dae voor die ingebruikneming. Die boekery in die Leeskamer, wat later grotendeels gevestig is in die Barton Keep gebou langs die Dirk van der Hoffgebou in Jacob Marestraat, is steeds aangevul deur skenkings van uitgetrede dosente.

Die Dosentevergadering besluit om die beraad van 7–9 Mei te verskuif na die kerkgebou van Wapadrant. ‘n Mosie van roubeklag is aanvaar met die afsterwe van mevrou Van Selms. Professore Koekemoer en Breytenbach is benoem om ‘n plan voor te lê vir die gebruik van die leeskamer en die kontrole oor die boekery. Bespreking is gevoer oor die swak bywoning van die godsdiensperiode deur studente. Professor S.J. Botha is aanbeveel as opvolger van professor A.D. Pont.

08 Mei 1992

Die Fakulteitsberaad besluit dat ‘n gesamentlike vergadering met Afdeling B. se dosente gereël moet word oor die vooruitsigte van rasionalisasie, dat modulering aandag moet kry, dat die akkreditering van HTO as ‘n gemeenskapskollege ondersoek moet word, dat SVTT daadwerklik betrek moet word by die Fakulteit se missie van gemeenskapsdiens, dat ‘n nuwe navorsingsprojek geïdentifiseer moet word en dat die Hermeneutiese Studiegroep in 1993 sal handel oor ‘n basisteorie vir teologiese opleiding.

15 Mei 1992

Die redakteur van Die Hervormer skryf in ‘n hoofartikel oor die dryfkragte agter ons teologiese opleiding en toon aan dat die verset teen die Kaapse gees nie net polities was nie, maar ook teologies.

26 Mei 1992

Op ‘n buitengewone vergadering het die Kuratorium op aanbeveling van die evalueringskomitee ag nuwe studente toegelaat met beurslenings en vier sonder beurslening. Professor S.J. Botha is eenparig benoem as hoogleraar in Kerkgeskiedenis.

Schalk Jacobus Botha is gebore op 10 Februarie 1936 te Ventersdorp. Hy was die oudste seun van Johannes George en Johanna Sophia Botha. Hy gaan skool in die Laerskool Sannieshof, die Westdene Afrikaansmedium Laerskool en die Helpmekaar Hoërskool waar hy in 1954 in die eersteklas matrikuleer met onderskeiding in Geskiedenis. Hy handel die teologiese studie af in 1960 en ontvang die BD graad met lof. Hy word georden op 29 Julie 1961 en bedien agtereenvolgens die gemeentes Primrose, Randpoort, Koedoesrand, Boksburg en Philadelphia. In 1975 word hy weermagkapelaan verbonde aan Voortrekkerhoogte, en in 1980 word hy benoem as hoogleraar in die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van die Noorde, waar hy werk totdat die opleiding van predikante van die Hervormde Kerk in Suidelike Afrika verskuif na die HTO op Klipdrif, waar hy hoof en dosent in Kerkgeskiedenis word. Hy het in 1979 gepromoveer met die proefskrif Marie Joseph Goddefroy 1848-1920: Sy lewe en betekenis onder leiding van professor A.D. Pont. Teen die tyd van sy aanstelling by die Universiteit van Pretoria was hy reeds ‘n deurwinterde kerkhistorikus met talle publikasies van hoogstaande gehalte. Hy was gasdosent aan die Evangeliese Teologiese Fakulteit in Leuven van November 1991 tot Februarie 1992.

Die 75-jarige bestaan van die Fakulteit Teologie is gedurende 1992 op verskillende maniere gevier. ‘n Redaksionele artikel op bladsy 1 van Die Hervormer, 15 Januarie 1992 het dit ingelei. Die opskrif was ‘Liefde vir Kerk weerspieël deur liefde vir opleiding’, en is vergesel van ‘n foto van professore, studente en oudstudente in 1927, toe die Fakulteit tien jaar oud was. Dat daar op dieselfde bladsy ‘n lys van 21 predikante en proponente gepubliseer is wat nog op beroepe wag, vertel op eie wyse ‘n geskiedenis. In die Februarie-uitgawe is op die voorblad weereens ‘n redaksionele artikel, met opskrif ‘Teologiese opleiding ‘n hoë prioriteit vir die kerk.’ Daar word ook saam met foto’s van J.P. Oberholzer en A.D. Pont, wat uit die voltydse diens van die Universiteit tree, enkele hoogtepunte van die feesvierings aangedui: 20–21 Februarie Simposium Bybelwetenskappe en Sistematiese Teologie oor 75 jaar Bybelwetenskap aan die Fakulteit, 24 April Simposium Teologie-Filosofie oor Ekonomie en Kontekstuele Teologie, 18–19 Junie Kongres oor kerklik-teologiese opleiding aan die Universiteit, 30 Junie Oorhandiging van J.P. Oberholzer feesbundel, 02 Julie Oorhandiging van A.D. Pont feesbundel, 23 Oktober Kongres Hervormde Teologiese Vereniging. In die 01 Maart uitgawe van Die Hervormer verskyn weer op die voorblad ‘n artikel van professor H.G. van der Westhuizen met opskrif ‘Die Kerk waardeer sy teologiese opleiding.’ ‘n Redaksionele artikel op bladsay 4 dra die opskrif ‘Kerk en Fakulteit – kreatiewe wisselwerking.’ In die uitgawe van 15 Maart maak emeritusprofessor F.J. van Zyl opmerkings oor ‘Die identiteit van ons teologiese fakulteit.’ Hy stel onder andere dat die kombinasie ‘wetenskaplike Bybelsreformatoriese teologie’ op besondere wyse die identiteit van die Fakulteit tipeer in sy gebondenheid en sy vryheid.

Hierdie oopheid vir wetenskaplike ondersoek word nog verder gestimuleer deur die Bybelsreformatoriese opvatting van teologie. […] Volgens die reformatore is daar net mensewoorde in die Bybel, maar God laat ons deur sy Gees in en deur die mensewoorde verneem wat Hy vir ons wil sê. Omdat hierdie eenheid van mensewoord en God se Woord teen alle denke ingaan, word dit ‘n paradokse eenheid genoem. […] Dit het eindelik tot die kerk deurgedring dat die wetenskap nie ‘n gevaar nie maar ‘n hulp vir die geloof kan wees. Langsamerhand het die kerk geleer dat die Gees ‘n mens juis dan lei om die Skrif te verstaan as jy jou verstand tot die uiterste inspan. As voorstander van ‘n wetenskaplike Bybelsreformatoriese teologie was ons Fakulteit dan ook van die begin af oop vir die ontwikkeling en resultate van die moderne Bybelwetenskap, doen ook ywerig daaraan mee tot groot voordeel, nie net van studente nie, maar van die hele Kerk.

Op dieselfde bladsy verskyn ook ‘n artikel van professor P.S. Dreyer onder die opskrif ‘Ook skadukante rondom ons opleiding’ waarin hy interessante brokkies gee oor die agtergronde van spanninge in die kerk. Hy noem die verskil in teologiese oriëntering waar dominees S. Vermooten en D.F. Erasmus tydens hulle studie in Utrecht sterk beïnvloed is deur professor Visscher, ‘n stigter van die Gereformeerde Bond, terwyl professor S.P. Engelbrecht aansluiting gevind het by die etiese rigting. Hy noem ook dat mevrouens Engelbrecht en Greyvenstein vir mevrou Vermooten as van laer stand beskou het en nie met haar omgegaan het nie (al drie was Hollanders), en dat hulle albei deur die spiritisme beïnvloed was en in ‘n mate aktief daarin was, terwyl mevrou Greyvenstein ook nog ‘n sterk mistiese inslag gehad het soos blyk uit haar jarelange rubriek in Die Christelike Vrou onder die opskrif ‘Gedachten naar boven.’ Dominees Vermooten en Erasmus het albei na die Hervormde Kerk oorgekom, en professor Engelbrecht het op die Algemene Kerkvergadering van 1922 gepraat van predikante van ‘niet Hervormd origine’, iets wat dominee Vermooten nooit vergeet het nie. In ‘n opvolgende artikel in Die Hervormer van 01 April skryf professor Dreyer oor doktor H.C.M. Fourie en moontlike redes waarom hy nie professor geword het nie. Hy noem egter ook die vyandige houding van mevrou Greyvestein teenoor doktor Fourie, wat te doen gehad het daarmee dat doktor Fourie bewus was daarvan dat mevrou Greyvenstein se broer, dominee Ruysch van Dugteren, die leerstellige kwessie as rede vir sy afskeid van die predikantsamp voorgehou het terwyl die regte rede ‘n buite-egtelike liefdesverhouding was.

Die Hervormer van 15 April 1992 het op die voorblad ‘n berig oor die toekenning van ‘n eregraad aan professor B.J. Engelbrecht, ‘n ‘veelsydige geleerde, asook ‘n wellewende, geliefde en gerespekteerde mens,’ met aanhaling van die motivering daarvoor soos in die program van die gradeplegtigheid op 03 April 1992.

Professor B.J. Engelbrecht het in Die Hervormer van Mei en Junie 1992 ‘n belangwekkende reeks artikels geskryf met opskrif ‘Die Teologie van ons Fakulteit ná 1950,’ later ‘Aksente in ons Teologiese opleiding ná 1950.’ Hy sluit die reeks af met hierdie woorde:

As ek op die huidige tydstip na ons Fakulteit kyk, dan is ek gerus. Ek is oortuig daarvan dat dit nou beter toegerus is om Hervormde predikante op te lei vir hulle taak in die huidige tyd, as ooit tevore.

03 Junie 1992

Die Vaste Komitee van die Raad keur die aanstelling van professor J.H. Koekemoer as tydelik-deeltydse dekaan goed.

17 Junie 1992

Die Dosentevergadering hou ‘n samespreking met dosente van die HTO oor die moontlikhede van samewerking en nouer koppeling. ‘n Komitee is benoem om aanbevelings te maak.

28 Junie 1992

Die 63ste Algemene Kerkvergadering kom byeen in die Aula van die Universiteit van Pretoria. Die uittredende voorsitter, doktor D.J.C. van Wyk, het sy openingsrede na aanleiding van Fillipense 1:27 – 2:18 soos volg begin:

Dit is nóg uit verwaandheid, nóg uit moedswilligheid dat op hierdie Skrifgedeelte vir hierdie openingsrede besluit is. Fil 2:6–11 is immers die gedeelte waarom dit gegaan het in die één dwaalleersaak teen ‘n hoogleraar van die Kerk wat in die 75 jaar van die Telogiese Fakulteit se bestaan voorgekom het. Vir dié keuse is daar grondige motivering. Dit bied geleentheid om ‘n greep terug in die geskiedenis van die Teologiese Fakulteit te maak en om die Kerk se erns met die beoefening van die teologie as wetenskap aan ‘n universiteit te beklemtoon en die kerk se verset teen enige vorm van leerdwaling in te skerp. Dit bied egter ook geleentheid om na aanleiding van wat Paulus vir die gemeente in Filippi skryf, die Woord te verkondig in ons eie situasie van verdeeldheid en twis, neerslagtigheid oor die toekoms, hooghartigheid en eiebelang wat ‘n aaklige wig tussen gelowiges indryf. ons eersugtigheid wat die eer van God aantas, ons selfsug wat die eer van ons naaste aantas.

Ná die openingsrede is die H.C.M. Fourie Erepenning toegeken aan professor F.J. van Zyl en professor H.G. van der Westhuizen. Die voorsitter van die Kuratorium, professor S.J. Botha het onder andere van professor Van Zyl gesê:

Professor van Zyl is ‘n uitstaande akademikus soos veral blyk uit sy proefskrif. Dáár aan die woord is ‘n deurwinterde en deurdagte teoloog in die Barthiaanse tradisie. Tipies Barthiaans sien hy die teologie geheel en al in diens van die kerk en die kerk se roeping. Daarom wend hy al sy teologiese vaardigheid in diens van die Nederduitsch Hervormde Kerk aan.

Oor professor Van Der Westhuizen het professor Botha onder andere gesê:

Op alle terreine van die Bybels-Reformatoriese Teologie het sy studie en navorsing groot indruk gemaak. Op die vakgebied van die Sendingwetenskap is sy bydrae van onberekenbare waarde en staan hy met reg as dié sendingwetenskaplike van die Nederduitsch Hervormde Kerk bekend. Binne hierdie verband het hy daarin geslaag om aan die volkskerkgedagte so gestalte te gee dat die Kuyperiaanse en piëtistiese karikature daarvan teëgewerk word. […] H.G. van der Westhuizen is ‘n kerkmens vir wie die herkoms, wese en toekoms van sy Kerk na aan die hart lê.

Nadat groeteboodskappe oorgedra is van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, Gereformeerde Kerk en die Hervormde Kerk in Suidelike Afrika, is ook gelukwense aan die Fakulteit Teologie (Afdeling A) uitgespreek deur die rektor, professor P. Smit, die dekaan van Afdeling B, professor W.S. Prinsloo, en die uittredende voorsitter van die Algemene Kerkvergadering, doktor D.J.C. van Wyk.

Na konstituering is doktor D.J.C. van Wyk verkies as voorsitter en doktor S.P. Pretorius as skriba. Professor T.F.J. Dreyer is as vise-voorsitter en doktor J.M.G. Storm as vise-skriba verkies. As predikantlede van die Kommissie is verkies dominee G.C. van Staden en professor H.G. van der Westhuizen.

Omdat daar ‘n beroep op die Algemene Kerkvergadering teen ‘n uitspraak van die Kommissie was, is vir die behandeling van die beroep ‘n ander Moderamen verkies, naamlik professor S.J. Botha as voorsitter, professor A.P.B. Breytenbach as skriba, professor H.G. van der Westhuizen as vise-voorsitter, en dominee J.P.J. Wagenaar as vise-skriba.

Lidmatestatistiek het getoon dat daar nog wel ‘n toename was in belydende lede, maar ‘n afname in totale lidmate, naamlik 193 561 in 1992. Die hoogtepunt vir die lidmatetal was in 1987 toe dit op 196 323 gestaan het. Die predikantetal in 1992 was 332 voltyds en 31 deeltyds in gemeentes, wat ‘n gemiddeld gee van ongeveer 363 belydende lede per predikant. Daarbenewens was daar 13 dosente, 18 dienspligkapelane, 15 predikante met besondere opdrag, 12 sonder standplaas en 8 wat verder studeer.

Die feesbundel van die Fakulteit Teologie (Afdeling A) wat tegelyk ook diens moes dien as huldigingsbundel vir J.P. Oberholzer, is in die Algemene Kerkvergadering op 30 Junie aan hom oorhandig deur die dekaan, professor J.H. Koekemoer, wat onder andere gesê het: ‘Bart Oberholzer, kerklike teoloog, is solidêr met sy kerk maar nie onkrities nie. Miskien moet die Nederduitsch Hervormde Kerk sy woorde meer ernstig neem. Die Hervormde Kerk het sedert die sestigerjare in ‘n hoek gaan staan waar hy teologies nie tuis hoort nie, ‘n staanplek in die teologie wat baie naby aan burgerlike godsdiens kom. Die etiese aspek van Christenwees is verwaarloos. Dit blyk nie net uit ‘n slordige lewenswandel nie maar ook uit die houding van ampsdraers en lidmate teenoor politieke opponente. ‘Ek voel my steeds solidêr met die Ou Voortrekkers se ideale,’ sê hy. ‘Maar daar het vandag iets fanaties bygekom en ‘n stuk menslikheid het verdwyn. Dit bemoeilik die verdediging van ons integriteit.’ As akademikus lewer hy uitstekende werk, as dekaan ‘n bydrae van onskatbare waarde tot die uitbouing van die fakulteit en die verbeterde aanbiedieng van die teologiese kurrikulum. Onder sy leiding verdiep teologiebeoefening, kry dosering ‘n nuwe dimensie, en word teologiese navorsing ‘n dimensie spel. Dit hinder hom dat die feesbundel, jaargang 48, aflewering 1–2 van Hervormde Teologiese Studies, is die resultaat van ‘n navorsingsprojek van voltydse sowel as deeltydse lede van die Fakulteit. Daarin is omvattend gehandel met die geskiedenis van elke departement en is gepoog om die bydrae van elke dosent te peil en te waardeer. J.P. Oberholzer het ‘n oorsig gegee van die dosering van Ou Testamentiese Wetenskap, en die figure Van Selms en Gemser behandel. A.P.B. Breytenbach het oor Mulder en P.M. Venter het oor Oberholzer gehandel. A.G. van Aarde het wat Nuwe Testamentiese Wetenskap betref, oor die figure Greyvenstein en Geyser gehandel, J.J. Engelbrecht oor Van Rensburg, P.B. Boshoff oor Pelser, en E. van Eck oor Van Aarde. A.D. Pont het die dosering van Kerkgeskiedenis behandel, J.J. Steenkamp het oor die teologiese gerigtheid van die Departement Kerkgeskiedenis gehandel, en B.J. van Wyk oor Kerkreg. J.H. Koekemoer het ‘n oorsig gegee van die dosering van Dogmatiek en Christelike Etiek, P.J. van der Merwe en D. Crafford (van Afdeling B) het die dosering in Godsdiens- en Sendingwetenskap behandel, F.J. van Zyl het geskryf oor Wolmarans, P.J. van der Merwe en D.J.C. van Wyk oor Van Zyl, en P.J. van der Merwe het ook oor die resente geskiedenis en ontwikkeling in die departement geskryf. T.F.J. Dreyer het ten opsigte van Praktiese Teologie oor die De Wet era en daarna gehandel, J.J. Engelbrecht en P.M. Venter oor Bybelkunde, L.J.S. Steenkamp en M.J. du P. Beukes oor die Sentrum vir Voortgesette Teologiese Toerusting. J.P. Oberholzer het afgesluit met ‘n artikel ‘Die Fakulteit Teologie (Afdeling A) aan die Universiteit van Pretoria: Vrae oor sy identiteit en problematiek’. Aan die einde noem hy sake wat hulleself aan die orde stel:

  1. ‘n Volledige, indringende verkenning van die kontoere aan die hand van die relevante kerklike en teologiese literatuur.
  2. ‘n Eerlike selfondersoek ten opsigte van die politieke en sosio-ekonomiese konteks wat in ons houdings en oortuigings meespeel.
  3. ‘n Pastorale bewoënheid wat die menslike nood van tyd en situasie nie sal verbygaan nie.
  4. ‘n Gehoorsaamheid wat ons sal leer om nie by die ekumeniese aard van die kerk verby te kyk nie.
  5. ’n Etiese verantwoordelikheid wat die praktykgebondenheid van ons geloof toenemend sal beklemtoon.
  6. ‘n Wetenskaplike verantwoordelikheid wat ons sal dwing tot vogehoue, intensiewe ondersoek en denke in gesprek met vakgenote oor die wye akademiese spektrum.

Dat die feesbundel opgedra is aan J.P. Oberholzer by aanvaarding van emeritaat, het gelei tot ‘n Deel I wat ‘n Huldigingswoord van die rektor en ‘n Waardering deur die voorsitter van die Algemene Kerkvergadering bevat. Die rektor, professor P. Smit, het sy bydrae afgesluit met die woorde:

Dit is ‘n voorreg om in ‘n voorwoord hulde te bring aan ‘n vriend, ‘n man met ‘n onkreukbare karakter wat onvoorwaardelik bereid is om te dien en wat oor baie jare uitnemend diens aan sy kerk, sy land, sy alma mater en die breë gemeenskap gelewer het.

Die voorsitter van die Algemene Kerkvergadering, doktor D.J.C. van Wyk, het gehandel oor die jubilaris as kerk- en gemeenskapsleier.

In dié unieke tydperk in die Hervormde Kerk se geskiedenis kon hy as uitsonderlik begaafde ‘n ewe unieke rol speel. Hy het dié geleentheid benut en ‘n bydrae gelewer wat die eer van God en die heil van die kerk gedien het. Daar is nie ‘n leiersposisie in die Hervormde Kerk wat hy nie beklee het nie. […] Daarby kon hy ‘n prominente rol speel as medewerker aan die tweede vertaling van die Bybel in Afrikaans. As daar soms gevoel is dat sy invloed as mens in die Nederduitsch Hervormde Kerk vanweë al dié posisies groter is as wat vir die kerk gesond is, dan is dit eenvoudig omdat hy die bekwaamheid daartoe gehad het en in intellek, ewewig, werkkrag en teologiese insig ver bokant dié rondom hom uitgestyg het.

Die Vergadering het besluit om die bepaling oor die sitting van dosente op die Kuratorium (60.3) soos volg te wysig:

  1. Die hoofde van departemente van die Teologiese Fakulteit Afeling A of hulle verteenwoordigers, het sitting met adviserende stem op die Kuratorium.
  2. Die Kuratorium kan, nadat ‘n vergadering plaasgevind het waarop adviserende lede hulle advies gelewer het, besluit om sonder die adviserende lede te vergader.

Oor die toekoms van die Fakulteit het die vergadering besluit:

  1. Die Algemene Kerkvergadering gee aan die Kuratorium opdrag om noukeurig kennis te neem van veranderings en ontwikkelings op die gebied van die universiteitswese (en) in die lig van die te verwagte situasie, die opleiding en vorming van predikante en die teologiese arbeid van die Kerk te reël, indien en wanneer nodig.
  2. Die Algemene Kerkvergadering magtig die Kuratorium en die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering om die nodige maatreëls te tref ter uitvoering van die opdrag.

Die studente statistiek het getoon dat daar ‘n drastiese afname was. In 1992 was daar 42 BA studente en 58 BD studente. As lede van die Kuratorium is verkies doktore T.F.J. Dreyer (Magaliesburg), A.J.G. Dreyer, dominee W.C.M. de Beer, doktore E.C.B. Kotze, J.H. Breytenbach, dominee J.P.J. Wagenaar en professor S.J.L. Gouws.

Die A.D. Pont Huldigingsbundel van die Hervormde Teologiese Studies (Jaargang 48, aflewering 3–4) is aan hom oorhandig deur die voorsitter van die Algemene Kerkvergadering, doktor D.J.C. van Wyk, op 03 Julie 1992. Doktor van Wyk het onder andere melding gemaak van die vol, ryk en geskakeerde lewe van Pont en hom bedank vir sy integriteit en lojaliteit as visevoorsitter van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering die afgelope drie jaar.

Die opregtheid waarmee hy bereid was om as visevoorsitter hom te skik onder die leiding van ‘n veel jonger man as voorsitter sal altyd onthou word. […] Sy adviese as kenner van die Kerkreg was vir die Kommissie goud werd en sal gemis word. As hoogleraar in die Kerkgeskiedenis en Kerkreg het hy sy teologie beoefen vanuit die bodem van die Bybels-Reformatoriese Teologie. […] In sy prediking was daar net een tema: God, sy dade en heil vir mense. Die verhouding tussen God en mens rus net op een basis: die verbond. Dat, te midde van soveel moderner, subjektiewe strominge in die teologie, die Nederduitsch Hervormde Kerk die krag van dié eensydigheid in die Fakulteit Teologie (Afdeling A.) sal moet ontbeer, stem tot kommer. […] Hy is in die volle sin van die woord ’n reformatoriese teoloog, kerkman en volksman. Sy onbuigsaamheid op al dié terreine het daartoe gelei dat hy nie altyd by almal populêr was nie. […] Professor Pont is veral as skrywer geneig om aggressief, selfs moedswillig te wees. Hy het altyd met homself moeite as hy die liberales, wat hy sien as bedreiging vir kerk en volk, aanvat. Maar belangriker as dit is die feit dat hy besef en erken dat hy ook foute gemaak het. Hy het hoogte- en laagtepunte geken. Rondom sy persoon het soms ernstige konflik en onmin gewoed. Hy maak melding van seer wat hy aangedoen is. Maar baie belangriker as dié verwyt , is dat hy raakgesien het dat die Hervormde Kerk ook teenoor hom met groot liefde en geduld opgetree het. Daarom is daar by hom by emeritaat-aanvaarding geen verbittering nie. Daarvoor is ons dankbaar.

In die bundel self het doktor van Wyk ‘n uitvoerige waardering van die lewe en werk van Pont bygedra. Daarin het hy ruim gebruik gemaak van herinneringe wat Pont self neergeskryf het en kry ‘n mens ook insig in Pont se interpretasie van gebeure. Daarop volg ‘n lys van Pont se veelvuldige publikasies, wat meer as 34 bladsye in beslag neem.

Die dekaan, professor J.H. Koekemoer het in ‘n voorwoord geskryf:

Professor A.D. Pont het diep spore in die Nederduitsch Hervormde Kerk en aan die Universiteit van Pretoria getrap. Sy teologiese paradigma het aangetrek en omstredenheid gewek. Die ywer en deeglikheid waarmee hy sy teologie beoefen, het bewondering by student en kollega, volgeling en kritikus afgedwing. Hy maak skerp skeiding tussen openbaringsteologie en antroposentriese teologie, tussen objektiewe teologie en subjektiewe teologie. So bring sy teenwoordigheid en werk hierdie krisis in die teologie opnuut na vore. […] Ons dank aan professor Pont wat in lewe en werk hierdie krisis vir dié wat dit wou raaksien, nogeens opgeroep het.

Die ander bydraes in die bundel is gelewer deur kollegas in die Fakulteit, vakgenote aan ander universiteite in Suid-Afrika, en ‘n beduidende aantal uit die buiteland, en deur ‘n aantal promovendi van Pont. Oor Pont self is daar ook nog die bydrae van H.J. Botes oor ‘Die verbondsmatige kerkbeskouing van A.D. Pont’ waarin sy opvattinge oor die kerk as volkskerk belig word.

Die Algemene Kerkvergadering het ‘n totale begroting van R10 367 292 aanvaar. Daarvan was 8.6% vir teologiese opleiding.

01 Julie 1992

In Die Hervormer het professor P.J. van der Merwe ‘n verslag geskryf oor die feessimposium op 18 en 19 Junie, die hoogtepunt van die feesvieringe. Voordragte is gelewer deur doktor H.R. Balzer van die Vrye Lutherse Seminarie oor teologiese opleiding soos dit gestalte gevind het tydens die reformasie, professor A.D. Pont oor die historiese ontwikkeling van ons eie opleiding, professor E. Brown van die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch oor die ervaring van die Nederduitse Gereformeerde Kerk met die ontwikkeling van die kweekskool na ‘n fakulteit, professor F. Deist van Unisa oor die vraag of teologiese opleiding kerklik-konfessioneel moet wees, en professor J.P. Oberholzer oor tendense in teologiese opleiding – die pad vorentoe.

21 Julie 1992

Die Fakulteit neem kennis dat J.H. Koekemoer as dekaan aangestel is, en benoem is as lid van die keurkomitee vir die Pieter van Drimmelenmedalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en dat A.G. van Aarde vir een jaar as gasdosent aan die St John’s Universiteit in Minnesota, VSA, sal optree. As plaasvervangende dekaan is A.P.B. Breytenbach en P.J. van der Merwe genomineer. Die inskrywing van J. Otto, B.J. Erasmus, G.J. Volschenk, C.A.P. van Tonder, en C.M. van den Berg vir MDiv is goedgekeur, en die volgende onderwerpe vir proefskrifte is goedgekeur: W.A. Dreyer Kerk en owerheid in die ZAR met besondere verwysing na die 1858 grondwet, D.M. van Zyl Die tug in die Nederduitsch Hervormde Kerk en die toepassing daarvan – empiries en teologies nagegaan.

Die Dosentevergadering voer ‘n gesprek met die studenteverteenwoordigers oor die feesblad van Vanderhoff en oor die praktiese opleiding. Die vergadering het professor Pont afgevaardig om in Potchefstroom deel te neem aan ‘n eendaagse simposium oor Kuyper in die kerklike lewe van die vorige eeu.

27 Julie 1992

Die Kuratorium verkies doktor E.C.B. Kotze as voorsitter en doktor T.F.J. Dreyer (Magaliesburg) as vise-voorsitter. Op die dagbestuur is verkies dominee W.C.M. de Beer en professor S.J.L. Gouws om saam met die voorsitter, vise-voorsitter en skriba te dien. Die Beurskomitee en Evaluerings komitee is opnuut saamgestel. Die vraag oor tweede professorate in Ou en Nuwe Testamentiese Wetenskap is na die Dosentevergadering verwys vir ‘n omvattende memorandum. Lede van die Proponentseksamenkommissie is genomineer.

20 Augustus 1992

Die Dosentevergadering verneem van die dekaan dat vir elke jaargroep ‘n dosente- en studentevoog aangestel sal word. Professor P.M. Venter is aanbeveel vir die tweede pos in Ou Testament en professor G.M.M. Pelser vir Nuwe Testament. Doktor L.C. Bezuidenhout is aanbeveel vir die Bybelkundepos wat vakant sal raak deur die benoeming van professor Venter. As navorsingstema vir 1992 is gekies: Basisteorie vir teologiese opleiding. Die Hermeneutiese studiegroep sal handel oor ‘Wat is teologie?’.

25 Augustus 1992

Die Kuratorium neem kennis dat professor A.G. van Aarde deur die Universiteit benoem is as ‘n uitnemende/presteerder, en wens hom in sy afwesigheid geluk. Kennis is ook geneem dat professor A.P.B. Breytenbach as plaasvervangende dekaan benoem is. ‘n Memorandum van die Dosentevergadering is behandel waarin gestel word dat die vulling van die tweede professoraatposte in Ou en Nuwe Testamentiese Wetenskap van wesenlike belang is. Die Kuratorium het besluit dat benoeming nog nie gedoen word nie en dat die Kuratorium, die Dosentevergadering, en die HTO ‘n werkswinkel moet hou met dominee P.A. Geyser as fasiliteerder, en dat die Kuratorium, die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering en die Raad van Finansies saam oor die saak moet besluit. Reglemente is aanvaar vir die toekennings aan studente by gradeplegtighede. Die verslag van die dekaan oor die fakulteitsberaad op 07–08 Mei en die feessimposium op 18–19 Junie is behandel en die Fakulteit gelukgewens met die afloop van die geleenthede. Die verslag het onder andere gemeld dat groot erns gemaak sal moet word met die sake genoem deur J.P. Oberholzer in sy afsluitende artikel in die Fakulteitsfeesbundel. Die vergadering het ook besluit om Kuratoriumdag af te skaf.

08 September 1992

Die Predikantevergadering van dié datum was een van die laaste funksies ter viering van die Fakulteit se 75-jarige bestaan. A.D. Pont en J.P. Oberholzer het voordragte gehou.

Die Hervormer het op 15 Oktober 1992 berig dat A.D. Pont op die Internasionale Calvynkongres op 18–19 Augustus in Budapest as lid van die presidium gekies is.

07–08 Oktober 1992

‘n Strategiese oefening oor toekomstige teologiese opeliding vind plaas in die Gemeentesentrum van Villieria. Teenwoordig was die lede van die Kuratorium, Moderamen, Raad van Finansies, die dosente van die Fakulteit, Afdeling A, en van die HTO, en die Superintendent van Sending.

12 Oktober 1992

Die Raad wens doktor D.J.C. van Wyk geluk met sy herkiesing as voorsitter van die Algemene Kerkvergadering.

04 November 1992

Die Kuratorium handel oor die aanbevelings van die Dosentevergaering oor die medeprofessorate in Ou en Nuwe Testamentiese Wetenskap en besluit om G.M.M. Pelser vir Nuwe Testamentiese Wetenskap en P.M. Venter vir Ou Testamentiese Wetenskap te benoem. Dit is deur die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering bekragtig op 27 November 1992.

15 November 1992

Die redakteur van Die Hervormer, ook voorsitter van die Algemene Kerkvergadering, gee blyke van sy onrus rondom kerk en teologie. Hy sluit ‘n voorbladartikel oor Hervormingsfees af met hierdie woorde:

Gedurende die feesjaar van die Teologiese Fakulteit het ook die verwagtings wat in die Kerk van die predikant en sy opleiding gekoester word, ter sprake gekom. En ook baie van dié verwagtings sal hervorm moet word! Baie lidmate verwag dat die Kerk verstokte, outydse prediking en liturgiese vorme ten alle koste moet handhaaf. Alle pogings tot vernuwing word as onhervormd ervaar en veroordeel. Ander se totale verwagting van die Kerk is vervul as die Kerk ‘n bolwerk vir konserwatisme en ‘n bastion vir die volk is. Ander is baie tevrede en in hulle skik as die Kerk instrument is in die hande van liberale magte wat alle bestaande ordes wil omverwerp. Sommige verhef Artikel III van die Kerkwet tot dié norm waaraan die Kerk se standvastigheid getoets word. Nog ander beskou die charismatiese as norm vir ware geloof en kerkwees.

Ook op die voorblad skryf hy oor kwaadpratery teen die Kerk in die media en sluit af met hierdie woorde:

Dat daar venyn en kwaadwilligheid teen die Hervormde Kerk bestaan, is waar. Ons het in ons geskiedenis daaraan gewoon geraak. Maar ons ampsdraers en lidmate moet ook leer om krities na onsself te kyk in die lig van die uitsprake hierbo. Waarom word daar van ons kwaadgepraat? Is dit omdat ons goed doen? Kan ons dit opreg voor God en mens verklaar? Of is dit dalk omdat ons kwaad doen? Soos byvoorbeeld die hartelose optrede van sommiges teen ander mense in en rondom Hervormde kerkgeboue?

In die hoofartikel verwys hy na die gesprek oor ons teologiese idioom en kerklike etos. Nadat hy beklemtoon het dat daar wesenlik net een eis en kenmerk is wat aan die Kerk gestel en van die Kerk geverg kan word, naamlik om draer van die Evangelie van Jesus Christus te wees, skryf hy verder:

Tydens die Teologiese Fakulteit se driekwarteeufeesvieringe die afgelope jaar het die kwessie van ‘n eie Hervormde teologiese idioom en kerklike etos meermale na vore gekom. Is dit, in die lig van wat hierbo gesê is, verkeerd? Telkens wanneer dit ter sprake gekom het, is deur teoloë van die Kerk ernstig gewaarsku teen sisteemvorming of die neiging om die eie kerklike idioom en kenmerke tot ‘n soort onaantasbare belydenis te verhef. Dié waarskuwings is nodig, want die gevaar bly wesenlik dat ons alles oor óns Kerk mooi in begrippe geformuleer en vasgelê kan hê, maar dat die Heer se oordeel kan wees dat dit nie meer sy lewende liggaam is wat in die wêreld dien en leef nie, maar ‘n geraamte. Maar as ons al die wesenlike gevare uitgespel het, lyk dit tog nie oorbodig en verkeerd dat die Kerk na 75 jaar se teologiese opleiding ‘n keer deeglik voorraad opneem van wat die Teologiese Fakulteit se bydrae tot onder andere die vorming van ‘n eie teologiese idioom en kerklike etos was nie. Want dat die Nederduitsch Hervormde Kerk ‘n eie teologiese idioom en kerklike gedragswyses het, is onmiskenbaar so. As dit nie so is nie, waarom wil ons so graag as Kerk voortbestaan? Waarom dan nie môre toegee aan die verbete eis om met die ander Afrikaanse kerke te verenig of sommer in hulle op te gaan nie? Ons moet waarsku teen die verafgoding van ons Hervormdwees. Ons moet met krag protesteer teen elke poging om die lewende liggaam van Christus te verstar tot ‘n sisteem van menslike denke en formulerings. Dit is ook goed en wel om te sê ‘n eie Hervormde teologiese idioom en keklike etos bestaan, maar dit moet nie in dooie begrippe vasgevang word nie. Die vraag is: Dra ons dit hoegenaamd nog op ons studente oor? Hoe word dit gedoen? Die Fakulteit se opdrag is om nie net teoloë nie maar ook predikante vir die Nederduitsch Hervormde Kerk op te lei, hier en nou in Suid-Afrika vanaf 1993 en verder. Die Kerk bestaan en preek nie in ‘n leë ruimte nie. Ons hoef vir die volgende 75 jaar nie weer oor teologiese idioom en kerklike etos te praat nie. Maar kom ons maak seker dat ons predikante oplei wat vanuit hierdie deel van die Kerk van die Here hulle werk goed en reg sal doen. Wie net voortdurend wil ontken en negeer dat daar op dié terrein ernstige en toenemende probleme na vore tree, handel ook nie verantwoordelik genoeg nie.

19 November 1992

A.P.B. Breytenbach hou sy intreerede as hoof van die Departement Ou Testamentiese Wetenskap in die kerkgebou van Pretoria. Die dekaan, professor J.H. Koekemoer, het in Die Hervormer van 15 Desember ‘n kort verslag gegee. Hy skryf onder andere:

In sy intreerede slaag professor Breytenbach daarin om kerkmens en akademikus aan te spreek. Hy verwoord iets van ons bestaan voor God en ons worsteling met die spreke van God in die Ou Testament. Sy taalgebruik vertoon iets van sy meesterlikheid, sy argumente iets van sy akademiese bekwaamheid en sy erns iets van sy geloof in die lewende God. Teologie is vir hom nie net ‘n kliniese saak nie, dit is ‘n lewenswyse. Hy verwoord die onsêbare, hy kan nie anders as om te verwoord waartoe hy geroep is nie.

25 November 1992

Die Kuratorium en die Fakulteit neem afskeid van A.D. Pont en J.P. Oberholzer. By dié geleentheid het volgens A.P.B. Breytenbach in Die Hervormer van 15 Desember, die voorsitter van die Algemene Kerkvergadering, doktor D.J.C. van Wyk, met waardering verwys na die hoë standaard en stiptelikheid wat professor Pont as kerkhistorikus en kenner van die kerkreg bly handhaaf het in sy doseerwerk en in rapporte en memoranda vir kerklike rade en kommissies en as lid van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering. Hy het ook daarna verwys dat Pont as teoloog deurgaans die objektiewe heil in Jesus Christus beklemtoon het. Die dekaan, professor J.H. Koekemoer, het oor die teologiese werk van Pont gesê dat dit ‘n mens altyd tot nadenke en keuse gedwing het. Daarby het Pont tot aan die einde van sy loopbaan bly presteer en steeds nuwe dinge onder die aandag van kollegas en studente gebring.

Teenoor Oberholzer het doktor van Wyk waardering betoon vir die hoë standaard wat hy gestel het as voorsitter van die Algemene Kerkvergadering, en die integriteit en harde werk in die byna onoorsienbare hoeveelheid take wat hy op hoë vlak moes verrig.

Doktor van Wyk het verwys na professor Oberholzer se kommer oor die teologiese rigting wat by sommige ampsdraers en lidmate na vore kom en gevra of die Kerk werklik professor Oberholzer se oproep tot bekering in dié verband gehoor het.

Die dekaan het Oberholzer se liefde vir en kennis van die Afrikanerkultuur vermeld.

As teoloog was hy nederige dienskneg van die Here by wie ‘n mens kon leer hoe om teologie te bedryf. Hy het aan die Fakulteit Teologie ‘n vernuwing gebring en ‘n navorsingskultuur gevestig wat baie belofte inhou vir die toekoms.

Die rektor, professor P. Smit, het daarop gewys dat Pont diep spore getrap het in die akademiese wêreld en dat Oberholzer as dekaan ‘n voorbeeld was van uitnemendheid en dat hy almal beïndruk het met sy opregte geloof, diepe insig, gebalanseerde kritiese gees, ongelooflike werkvermoë en bereidheid tot diens.

01 Desember 1992

P.M. Venter het in Die Hervormer ‘n uitstekende terugblik op die feesvieringe en die gedagtes wat daarin tevoorskyn gekom het, gegee. Hy skryf daar onder andere:

Die saak wat by herhaling by al die verrigtinge en in al die publikasies voorgekom het, is die vraag na die aard en wese van die Fakulteit en sy teologie. [...] Hierdie tendens van kritiese selfondersoek is tekenend van ‘n tyd in die geskiedenis waarin daar in die wetenskaplike kenteorie na die verantwoording van jou denkparadigma gevra word. Dit is ook kenmerkend van ‘n tyd van sosio-politieke verandering waarin elke rolspeler sy identiteit en die waardes waarvoor hy staan, moet verklaar om sy posisie en sy eie voortbestaan in die gemeenskap te verseker. […] Reeds op die fakulteitsberaad van 7–8 Mei het dit duidelik geword dat die Bybels-Reformatoriese Teologie wat in die Fakulteit beoefen is, ook weer ‘n eiesoortige stempel dra. Die kerklik-verantwoordelike teologiebeoefening van die Fakulteit het uit die aard van die saak ‘n konfessionele karakter gedra en wel een met ‘n baie sterk Calvinistiese inslag. ‘n Dialektiese benadering waarin Woordopenbaring baie sterk beklemtoon word, het in die vyftigerjare in die Fakulteit in ‘n dialektiese teologie met Barthiaanse stempel begin uitkristalliseer. Dit is moontlik hierdie konfessioneel-dialektiese kombinasie en veral die beklemtoning van fakulteitslede van een van die twee pole in hulle teologiebeoefening, wat dit makliker maak om vandag te sê wat die teologie van die Hervormde Kerk nie is nie, as om presies te sê wat dit wel is. Die beklemtoning in die dialektiese teologie van die voorlopige aard van alle teologiese uitsprake, dra grootliks daartoe by dat die skyn gewek word en dat daar by meer as een geleentheid gedurende die jaar gesê is dat die Kerk nie ‘n identifiseerbare teologie het nie. Die mening is egter by meer as een geleentheid gedurende die jaar uitgespreek dat die benadering van die dialektiese teologie die beste model is waarmee die Fakulteit die eise van die tyd en die toekoms tegemoet sal kan gaan. Die huidige omstandighede in die land het ‘n besliste rol in die jaar se feesvieringe gespeel. Die vraag na die toekoms van die Fakulteit het in die lig van rasionalisasie, stilstand en selfs agteruitgang in lidmaat- en studentetal, veranderings in die universiteitswese en die opkoms van ‘n pluralistiese gemeenskap, telkens maar weer opgeduik. Die totstandkoming van ‘n Teologiese Fakulteit 75 jaar gelede ten spyte van haglike na-oorlogse omstandighede, die noodsaak van ‘n teologiese opleiding vir die Kerk en die waardering vir die lewe en werk van die professore van die Kerk, het telkens die somberheid oor die toekoms van die Fakulteit getemper. Die aftrede van twee lede van die Fakulteit in die feesjaar, die oorhandiging van die fakulteitsbundel aan professor J.P. Oberholzer op 30 Junie en ‘n huldigingbundel aan professor A.D. Pont op 03 Julie, was nie sonder betekenis nie. Die dank en waardering vir die enorme werk wat hierdie twee manne in die Kerk en die Fakulteit oor baie jare gedoen het, het baie bygedra tot die gees van dankbaarheid wat die feesjaar gekenmerk het. Aan die ander kant is hulle afskeidsgeselligheid op 25 November ook die afsluiting van ‘n era in die geskiedenis van die Fakulteit. ‘n Tydperk begin daarna wat, na analogie van die artikels in die Almanak van 1992, as die tyd van die vyfde fakulteit beskryf kan word.

1993

02 Februarie 1993

Die Dosentevergadering neem kennis dat ‘n Voogdekomitee aangewys is met die oog op studentebegeleiding en dat ‘n ooreenkoms tussen die Universiteit en die Kerk oor HTO byna gereed is vir ondertekening.

23 Februarie 1993

Die Kuratorium verwelkom professor S.J. Botha en professor G.M.M. Pelser. Benoeming van die volgende hulpdosente is goedgekeur: J. Buitendag, I.W.C. van Wyk en M. Robbertze in Dogmatiek en Christelike Etiek, J.A. van Biljon in Praktiese Teologie, J.D. Gericke, H.G. van der Westhuizen, D.J.C. van Wyk en E. Engelbrecht in Godsdiens- en Sendingwetenskap, P.B. Boshoff, P.A. Geyser, E. van Eck, P. van Staden en P.J. van Staden in Nuwe Testamentiese Wetenskap, W.C. van Wyk en A.A. da Silva in Ou Testamentiese Wetenskap , J.J. Steenkamp, J.P. Labuschagne en J.M.G. Storm in Kerkgeskiedenis. Vorderingsverslae soos deur die Beurskomitee behandel is kennis van geneem.

16 Maart 1993

Die Fakulteit wens professor P.M. Venter geluk met die uitnodiging om die S.B.L. kongres in Duitsland toe te spreek, en keur die instelling van ‘n PhD graad goed, asook die samewerkingsooreenkoms tussen die HTO en die Universiteit.

26 Maart 1993

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het in ‘n buitengewone vergadering vir dominee G.C. van Staden verkies as vise-skriba nadat doktor S.P. Pretorius benoem is as sekretaris in die kantoor van die Kommissie en sy plek as skriba deur doktor J.M.G. Storm ingeneem is wat vise-skriba was. Professor A.P.B. Breytenbach, as sekundus vir doktor Pretorius, het sitting op die Kommissie geneem. Kennis is geneem dat die Universiteit van Pretoria in die proses van rasionalisasie nie meer verteenwoordigers van die Nederduitse Gereformeerd sowel as Hervormde Kerke op sy Raad kan hê nie, maar net een namens altwee kerke.

25 Mei 1993

Die Kuratorium verleen toestemming vir die studieverlof van professor T.F.J. Dreyer van 16 Augustus tot 16 November 1993. Die aanbeveling van die Evalueringskomitee oor die toelating van tien nuwe studente met beurslenings en een sonder beurslening is goedgekeur. Die dekaansverslag oor die jaar 1992 het vermeld dat daar 62 BD studente was, 26 MDiv studente en 23 DD studente. Daarby het die Fakulteit saam met Afdeling B. dosering voorsien aan 141 BA studente in Bybelkunde, 2 BA Hons, 8 MA en 4 DPil. Professor Van Aarde is verkies as volle lid van die Societas Novi Testamenti Studiorum en is weer deur die Universiteit van Pretoria vereer as uitnemende presteerder. Talle vakkongresse is deur personeellede bygewoon. Die Fakulteit het ses besoekende dosente ontvang en fakulteitslede het as gasdosente elders opgetree. Aan professor B.J. Engelbrecht is ‘n eredoktoraat toegeken.

16 Junie 1993

Die Kuratorium het in ‘n buitengewone vergadering op aanbeveling van die Dosentevergadering vir doktor L.C. Bezuidenhout benoem as dosent in Bybelkunde. Doktor J.H. Breytenbach het hom gedistansieer van die besluit.

Louis Christiaan Bezuidenhout is gebore op 09 Julie as middelste van die drie kinders van dominee en mevrou W.J. Bezuidenhout. Hy gaan skool in die laerskole Eloffsdal, Hermanstad, Simon Bekker, Naboomspruit en die hoërskole Brits en Hartswater, matrikuleer in 1972 in die eersteklas met onderskeidings in vyf vakke. Hy behaal die grade BA, BA Hons, BD en MA (Semitiese Tale) almal met lof en promoveer in 1989 in Ou Testamentiese Wetenskap met die proefskrif Struktuur en Strekking van die Boek Job. Tydens sy studiejare speel hy ‘n leiersrol in studentesake en is hy ook lid van die VSR In 1977 ontvang hy Dux erekleure en in 1978 die Abe Bailey studiebeurs. Hy word georden as dienspligkapelaan in 1978 en bedien ná sy dienspligtydperk die gemeentes Suid-Oos Witbank en Kensington deeltyds en word in 1990 voltydse predikant van Stellenbosch. Hy was junior dosent in die Departement Semitiese Tale in 1977–1978, lektor in 1980 en senior lektor van 1984 tot 1990. In die Departement Ou Testamentiese Wetenskap was hy in 1989 en 1990 deeltydse dosent. Na sy verhuising na Stellenbosch in 1990 tree hy by verskillende geleenthede op as plaasvervangende dosent in die Departement Ou Testamentiese Wetenskap in Stellenbosch en as deeltydse dosent aan die Baptist Theological College.

[Die aanstelling het ‘n nadraai gehad. Op 01 Julie skryf die sekretaris van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering namens die skriba aan die Dosentevergadering en noem dat ‘n minderheidsverslag van doktor J.H. Breytenbach ook ontvang en behandel is:

Die Kerk aanvaar geen verskuilde, geïmpliseerde , nuwe of enige ander finansiële verantwoordelikheid vanweë moontlike verwikkelinge van enige aard ten opsigte van die Departement Bybelkunde nie. Die Kommissie spreek sy misnoeë uit oor die wyse waarop die saak hanteer is. Die Dosentevergadering word versoek om skriftelik te verantwoord waarom daar op so ‘n onaaanvaarbare wyse te werk gegaan is.

Daarop reageer die sekretaris van die Dosentevergadering op 13 Julie soos volg:

Ten einde my in staat te stel om die tweede saak wat in u brief aan die orde is, sinvol op die agenda van die Dosentevergadering te plaas, versoek ek die volgende inligting: Ek lei af dat die Kommissie uiters ongelukkig is maar dit is nie vir my duidelik waaroor en teenoor wie nie. Die Dosentevergadering moet iets daarmee te doen hê anders sou u nie bogenoemde brief aan hierdie vergadering gerig en van dieselfde vergadering ‘n skriftelike antwoord vereis nie. Die Dosentevergadering het egter wat die vulling van die vakature in Bybelkunde betref, streng volgens die letter en gees van die voorgeskrewe prosedure opgetree. U verwys na ‘n minderheidsverslag van doktor J.H. Breytenbach wat voor die Kommissie gedien het. Ongelukkig is nóg ek nóg die vergadering op die hoogte van die inhoud van die verslag. Indien die Dosentevergadering in die verslag aangekla word, versoek ek vriendelik dat ‘n afskrif daarvan aan ons beskikbaar gestel word. Ek aanvaar dat die ‘misnoeë’ van die Kommissie nie daarop neerkom dat die Dosentevergadering by voorbaat en sonder nakoming van die beginsel ‘audi alterem partem’ skuldig bevind is nie. U moet egter asb vir my verduidelik wat die betrokke besluit van die Kommissie beteken.

‘n Gesprek met die Moderamen is aangevra, en dit het plaasgevind op 04 Augustus. Die Dosentevergadering het daarna nogtans insae gevra in die minderheidsverslag van doktor Breytenbach. Die ag-bladsye lang verslag is aan die Dosentevergadering besorg, wat die sekretaris opdrag gegee het om ‘n antwoord daarop op te stel. [Dit val op dat die Kommissie wat die aanbeveling van die Kuratorium ontvang het en waar Breytenbach sy teenstem laat aanteken het, by die Kuratorium verbygegaan het met sy misnoeë en die Dosentevergadering direk aangespreek het.]

21 Junie 1993

Die Raad besluit op ‘n samestelling van sy lede wat nie meer voorsiening maak vir kerklike verteenwoordigers nie.

25 Junie 1993

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering neem kennis dat ouderling Klasie van Rensburg van Bethal R50 000 geskenk het vir nagraadse teologiese studie. Besluit is om die fonds te noem die Emmie van Rensburgfonds en om die rente vir nagraadse studie aan te wend. Die vergadering het ook kennis geneem dat daar in die toekoms geen kerklike verteenwoordiging op die Raad van die Universiteit van Pretoria sal wees nie.

27 Julie 1993

Die Fakulteit neem kennis dat A.G. van Aarde en P.M. Venter by die S.B.L. kongres is en G.M.M. Pelser by die Nuwe Testament Kongres in Nederland. J.H. Koekemoer is eenparig genomineer as dekaan en A.P.B. Breyenbach as adjunkdekaan. Die Dosentevergadering wens A.G. van Aarde in sy afwesigheid geluk met sy benoeming as toppresteerder. Onbevredigende klasbywoning deur sommge studente en afwesigheid by die godsdiens- en dekaansperiodes het aandag geniet.

04 Augustus 1993

In ‘n buitengewone vergadering saam met die rasionalisasiekommissie het die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering besluit om die SVTT uit te faseer, gesprek te voer met die Dosentevergadering oor deeltydse dosente, en die Fakulteit te versoek om self indringend aandag aan rasionalisasie te gee. Daar is ook besluit om in te gaan op die moontlikheid dat Kital en die Tydskrifafdeling saamsmelt. Die Dosentevergadering bespreek ‘n konsep memorandum oor die gebede by Kodesa (die onderhandelinge oor ‘n nuwe grondwet vir die land) na aanleiding van ‘n versoek van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering en finaliseer dit vir deursending aan die Kommissie. Kennis is geneem van die aanbieding van die VTT vir predikante in die Wes-Kaap, en die voorgenome aanbieding van VTT kursusse die res van die jaar.

31 Augustus 1993

Die Kuratorium neem kennis dat student Sanri Smith die MA graad in Grieks met lof verwerf het binne een jaar na haar honneursstudie, en wens haar daarmee geluk. Vorderingsverslae is behandel, kennis geneem van staking van studie deur ‘n aantal studente, en beurse toegeken. Die vergadering het ook kennis geneem van die notule van die vergadering van Studentevoogde en van die begeleiding van teologiese studente deur die dosente.

11 Oktober 1993

Die Raad stel professor J.H. Koekemoer aan as adjunk-dekaan van die Fakulteit Teologie.

09 November 1993

Die Kuratorium het in samesitting met lede van die Dosentevergadering ‘n aantal voorstelle geformuleer. Instemming is betuig met besparingsmaatreëls wat deur die Rasionalisasiekommissie voorgestel is en wat onder andere beperking van vergoeding aan hulpdosente in die Fakulteit en staking van vergoeding aan hulpdosente by die SVTT ingesluit het. Verder is voorstelle geformuleer vir ‘n herstrukturering van die teologiese opleiding:

1. Die teologiese opleiding bly aan die Universiteit van Pretoria gehuisves.

2. Die Kerk bevestig sy bereidheid dat die twee fakulteitsafdelings saamwerk op voorwaarde dat die essensie van die selfstandigheid van die opleiding en die teologiese tradisie van die Nederduitsch Hervormde Kerk nie verlore gaan nie.

3. Die Fakulteit beplan om die volgende graad aan te bied:

  • In die plek van die huidige BA kom n’n BA(Endossement Teologie) wat ‘n reeds bestaande graadkursus aan die Universiteit van Pretoria is. Wat studente van die Nederduitsch Hervormde Kerk betref wat predikante wil word, kan die samestelling van ‘n BA(ET) graad soos volg daar uitsien: Eerste studiejaar Grieks 110,120, Hebreeus 110,120, Ou en Nuwe Testament 110,120, Teologie 110,120,’n Vak van vrye keuse in oorleg met die dekaan. Tweede studiejaar: Grieks 210,220, Hebreeus 210,220, Ou en Nuwe Testament 210,220, Teologie 210,220. Derde studiejaar: Ou en Nuwe Testament 310,320, Teologie 310,320, Antieke tale 300 (Grieks en Hebreeus gekombineerd). Na voltooiing van BA(ET) kan die student verder beweeg in een van twee bane, naamlik BD wat kan uitloop op MDiv en DD, of BA Hons(ET), MA(ET) en PhD, wat dan die moontlikheid skep dat persone of instansies wat nie gesteld is op die taalvereiastes nie, geakkomodeer kan word.

26 November 1993

Die voorsitter van die Algemene Kerkvergadering, doktor D.J.C. van Wyk, het sy prediking by die toelating van teologiese kandidate tot die evangeliebediening ingelei met die volgende woorde:

Wanneer ons op die punt staan om aan die einde van 1993 weer ‘n hele groep teologiese kandidate te legitimeer en beroepbaar te stel, doen ons dit onder ietwat somber omstandighede. Afgesien van die somber landsomstandighede, sit ons nou vir die eerste keer met die realiteit van ‘n hele groot groep jong predikante vir wie daar menslik gesproke eintlik nie kans op ‘n beroep na ‘n gemeente is nie. Na vanaand sal daar ‘n paar in die vyftig beroepafwagtende predikante wees, terwyl daar skaars meer as vier of vyf gemeentes is wat beroep. ‘n Ander faktor wat ietwat van ‘n somberheid oor ons bring, is die groeiende en sorgwekkende erosie onder ons predikante. Die lang lys predikante wat die bediening verlaat en wat in die ‘Almanak’ weerspieël word, skets ‘n droewige verhaal. Die grootste oorsaak daarvan is huweliksverbrokkeling.

27 November 1993

Die Kommissie besluit om die voorstelle van die Kuratorium oor die herstrukturering van die teologiese opleiding te aanvaar en steun in beginsel die gedagte dat praktiese opleiding na afloop van die BD studie moet plaasvind, en wel onder toesig van die Kommissie self.

1994

14 Januarie 1994

Die samewerkingsooreenkoms tussne die Kerk en die Universiteit ten opsigte van die HTO word formeel onderteken op ‘n gesellige byeenkoms wat deur die rektor aangebied is.

18 Januarie 1994

Die Dosentevergadering formuleer voorstelle vir die wysiging van regulasies om voorsiening te maak vir die grade BA, BA Hons, BD, MA, MDiv, PhD en DD.

01 Februarie 1994

Die Dosentevergadering oorhandig die Nico Prinslooprys aan Jaco Beyers, neem kennis dat die Akademiese Bestuurskomitee prys stel op kantoorteenwoordigheid van dosente, dat eksterne eksaminering vir MDiv moet plaasvind, dat P.J. van der Merwe in die tweede semester op verlof sal wees en M.J. du P. Beukes van 07 Maart tot 07 Junie.

02 Februarie 1994

Die Kuratorium het ‘n indringende en lang bespreking gevoer oor die uitfasering van die SVTT en het besluit dat die SVTT gerasionaliseer word om te dien as struktuur waarbinne die Fakulteit gemeenskapsdiens verrig, en dat die pos van direkteur van SVTT afgeskaf word.

22 Februarie 1994

Die Kuratorium neem kennis dat professor S.J.L. Gouw as lid bedank het en beveel by die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering aan dat sy plek gevul word. Die Kommissie het doktor J.H. Robbertse benoem. Uit die dekaansverslag het geblyk dat daar 52 BD studente was in 1993, 49 MDiv en 23 DD studente. Vir Bybelkunde was ingeskryf 680 BA studente, 7 vir BA Hons, 8 virMA en 4 vir DPhil. Gedurende die eeste semester is die Bybelkundelesings van die kant van die Nederduitsch Hervormde Kerk waargeneem deur professor P.M. Venter, doktor J.H. Breytenbach, en dominees G.C. Lindeque en C. van Tonder. Vanaf die tweede semester het doktor L.C. Bezuidenhout as voltydse dosent gedien. Fakulteitslede het weereens talle kongresse bygewoon, voordragte gehou en publikasies gelewer. Die Kuratorium het sy hoë waardering daarvoor betuig. Studieverlof is toegestaan aan professor Beukes. Kennis is geneem dat die volgende hulpdosente vir 1994 benoem is, sommige sonder vergoeding: J. Buitendag, I.W.C. van Wyk en M.D. Robbertze in Dogmatiek en Christelike Etiek, Kobus van Biljon en J.A. Beukes in Praktiese Teologie, J. Buitendag, H.G. van der Westhuizen, D.J.C. van Wyk en J.D. Gericke in Godsdiens en Sendingwetenskap, P.B. Boshoff, P.A. Geyser, E. van Eck en P. van Staden in Nuwe Testamentiese Wetenskap, W.C. van Wyk, A.A. da Silva, L.C. Bezuidenhout in Ou Testamentiese Wetenskap, en J.J. Steenkamp en A.D. Pont in Kerkgeskiedenis. Vir die SVTT is as hulpdosente benoem, almal sonder vergoeding: Mevrou M. Dreyer, doktor J.A. Beukes, dominee W. Coetzer, meneer I. Dreyer, B. Bierman, dominees C.J.A. Simpson, J.C. van der Merwe, J. Coetzee. E.C. Kloppers. meneer P. Viviers, dominees P.A. Geyser, R.J. Coertze, meneer L. de Munnik, doktor H.T. van Deventer, mevrou G. Grobler en mejuffrou A.C. Venter.

15 Maart 1994

Die Fakulteit keur regulasiewysigings goed met die oog op die aanbieding van BA(Teologie) vanaf 1995, toelatingsvereistes vir die bestaande BD graad en vakkeusebeperkings in die bestaande MDiv graad. Die leergang vir BA(Teol) is soos volg:

Eerste studiejaar:

  1. Ou en Nuwe Testament 130, 140 of Bybelkunde 110, 120
  2. Teologie 130, 140
  3. Drie van die volgende vakke: Afrikaans 100,Antropologie 110, 120, Duits 110, 120 of 112,122, Grieks 110, 120, Hebreeus 110, 1230, Kriminologie 110, 120, Latyn 111, 121 of 101, Noord-Sotho 100, Sielkunde 102, Sosiologie 110, 120, Tswana 100, Filosofie 110, 120, Zoeloe 100

Tweede studiejaar:

  1. Ou en Nuwe Testament 230, 240 of Bybelkunde 210, 2320
  2. Teologie 230, 240
  3. Twee van die drie vakke vroeër gekies

Derde studiejaar:

  1. Ou en Nuwe Testament 330, 340, of Bybelkunde 310, 320
  2. Teologie 330, 340
  3. Een van die vakke vroeër gekies

Die toelatings vereistes vir BD word dan die graad BA(Teol) wat die volgende vakke insluit: Ou en Nuwe Testament 330, 340, Teologie 330, 340, Grieks of Hebreeus op 300 vlak en ‘n leeskennis van Duits. Die toelatingsvereistes vir MDiv is die BD graad of ‘n ander graad wat deur die Fakulteit as gelykstaande beskou word. Die leerplanne vir BA(Teol) is soos volg:

Ou en Nuwe Testament:

ONM 130 Inleiding tot die leefwêreld van die Bybel

ONM 140 Die aard en ontstaan van die Bybel

ONM 230 Die verstaan van die Bybel: Geskiedenis en prin siepes, Ontleding van die vertelmateriaal

ONM 240 Evangelies en Handelinge: Inleiding en teologie; Deuteronomistiese Geskiedenis, Inleiding en teologie

ONM 330 Apokaliptiek; Pauliniese korpus: Inleiding en teologie; Wysheidsliteratuur: Inleiding; Professoretiese literatuur: Inleiding

Teologie TEO 130 Inleiding in die kerkgeskiedenis; die kerkgeskiedenis van die eerste vyf eeue

TEO 140 Kerklike diakonaat en presbiteraat

TEO 230 Inleiding in die Sistematiese Teologie; die ekumeniese simbole

TEO 240 Inleiding in die Godsdienswetenskap, Godsdiensfenomenologie en primale godsdienste

TEO 330 Inleiding in die Etiek; seleksie van belangrike hedendaagse vraagstellings

TEO 340 Inleiding in die godsdienswêreld van Indië met spesiale verwysing na die Boedhisme en Hindoeïsme.

Verder is regulasies goedgekeur vir die nuwe grade BA Hons(Teol) en MA (Teol).

Die Fakulteit het ook aanbeveel dat die voorsitter van die Van der Hoff Teologiese Huis volle lidmaatskap van die Fakulteitsraad verkry.

15 Maart 1994

Die Dosentevergadering besluit om J.P. Oberholzer as kandidaat vir die eregraad DD te benoem en besluit om hom te beywer vir ‘n toekenning tydens Teologie se gradeplegtigheid waarmee erkenning verleen kan word aan persone wat ‘n belangrike bydrae gelewer het tot die ontwikkeling van teologie in die Nederduitsch Hervormde Kerk. Professor F.J. van Zyl word genoem as eerste ontvanger. ‘n Interdissiplinêre Simposium is beplan vir 21–22 April. Kennis is geneem dat die feesnommer van Hervormde Teologiese Studies byna gereed is.

28–29 April 1994

Die Dosentevergadering besluit om die SVTT te herstruktureer en sy naam te verander na Sentrum vir Teologiese Navorsing en Toerusting (S.T.N.T). Gesprek word gevoer met verteenwoordigers van die Proponentseksamenkommissie. Die probleme rondom Hervormde Teologiese Studies is bespreek. Die rektor, professor P. Smit, en vise-rektor J.J. Stadler het die vergadering besoek en inligting gegee oor universitêre doelstellings en veranderings in beleid. Hy het in vooruitsig gestel dat die Universiteit nog lank meer as 80% Afrikaans sal wees. Hy het onder andere gesê: ‘UP was egter nog nooit ‘n ‘Voortrekkeruniversiteit’ nie en wil dit nou ook nie wees nie.’ [Die rektor het miskien nie kennis gedra daarvan nie dat die Universiteit homself wel op ‘n stadium geadverteer het as die volk se universiteit en besonderlik as die Voortrekkeruniversiteit, soos byvoorbeeld in die Gedenkuitgawe van Die Huisgenoot, Desember 1938.]

17 Mei 1994

Die Dosentevergadering wens Jaco Beyers en Sanri Smith geluk met hulle aanwysing as toppresteerders in die geheel van die Fakulteit Teologie. Celia Nel is aangewys as toppresteerder in die Geesteswetenskappe op grond van haar BA Hons in Grieks. Kennis is geneem dat die SVTT se Bybelskool suksesvol begin het. Besluit is om jaarliks ‘n eie kursus in navorsingsmetodologie aan te bied.

24 Mei 1994

Die Kuratorium laat op aanbeveling van die Evalueringskomitee vyf nuwe studente toe met en twee sonder beurslening.

20 Junie 1994

Die Raad benoem professor J.H. Koekemoer op die Appélkomitee van die Senaat.

21 Julie 1994

Die Fakulteit neem kennis dat professorf W.C. van Wyk en P.M. Venter in Israel met opgrawings besig is en verwelkom professor L.J.S. Steenkamp wat nou in die Fakulteit gehuisves is. Hy sal administratief die navorsing in die Fakulteit koördineer, die administratiewe werk van Hervormde Teologiese Studies behartig en die SVTT programme in stand hou.

Lourens Johannes Stephanus Steenkamp is gebore 07 September 1946. Sy ouers was Pieter Johannes Lodewyk Steenkamp en Anna Elizabeth Potgieter. Hy besoek die Laerskool Marble Hall en matrikuleer met drie onderskeidings aan die Hoërskool Ben Viljoen op Groblersdal waar hy ook hoofseun was. Hy ontvang ‘n beurs van die destydse departement Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens en skryf in aan die Universiteit van Stellenbosch vir die graad BCom in Vervoerekonomie. Na twee jaar suksesvolle studie besluit hy egter om Teologie te studeer en skryf in 1966 in aan die Universiteit van Pretoria. Om sy beursgeld terug te betaal, aanvaar hy diens by die firma Agricura. Hy voltooi die teologiese studie in 1972, ontvang die Nico Prinslooprys vir Ou Testamentiese Wetenskap, en word georden op 27 Januarie 1973, bedien die gemeentes Ogies en Villieria, en word in 1989 aangestel as direkteur van Kital. In dieselfde jaar word hy hoofdirekteur. In 1990 word hy betrek by die werksaamhede van die SVTT en vanaf 1994 word hy voluit gehuisves in die Fakulteit en betrek by die werksaamhede van die S.T.N.T.. Vanaf 1995 was hy ook hulpdosent in die Departement Godsdiens- en Sendingwetenskap.

04 Oktober 1994

Die Dosentevergadering neem kennis dat professor L.C. Bezuienhout verkies is as voog van die Van der Hoffstudentehuis.

22 November 1994

Die Kuratorium neem kennis van die volgende benoemings van hulpdosente vir die jaar 1995: J. Buitendag, I.W.C. van Wyk en M.D. Robbertze in Dogmatiek en Christelike Etiek, J.A. van Biljon in Praktiese Teologie, H.G. van der Westhuizen, D.J.C. van Wyk, L.J.S. Steenkamp, E. Engelbrecht in Gosdiens en Sendingwetenskap, P.B. Boshoff, P.A. Geyser, E. van Eck en P. van Staden in Nuwe Testamentiese Wetenskap, W.C. van Wyk, A.A. da Silva en L.C. Bezuidenhout in Ou Testamentiese Wetenskap, H.J. Botes en A.D. Pont in Kerkgeskiedenis. Die hulpdosente vir SVTT is behou soos in 1994. Die reglement vir die Sentrum vir Teologiese Navorsing en Toerusting wat die SVTT sou vervang, is goedgekeur.

1995

Januarie 1995

Die leerplanne vir die nuwe kursusse in die Fakulteit verskyn soos volg in die Jaarboek van die Universiteit:

BA(Teologie)

(ONM 130) Ou en Nuwe Testament 130: Inleiding tot die leefwêreld van die Bybel

(ONM 140) Ou en Nuwe Testament 140: Die aard en ontstaan van die Bybel

(ONM 230) Ou en Nuwe Testament 230: Die verstaan van die Bybel: Geskiedenis en prinsipes; ontleding van vertelmateriaal

(ONM 240) Ou en Nuwe Testament 240: Evangelies en Handelinge: Inleiding en teologie; Deuteronomistiese geskiedenis: Inleiding en teologie

(ONM 330) Ou en Nuwe Testament 300: Apokaliptiek; Pauliniese korpus: Inleiding en teologie; Eksegese van capita selecta uit die Nuwe Testament

(ONM 340) Ou en Nuwe Testament 340: Eksegese van poëtiese literatuur; Pentateug: Samestelling en teologie; Wysheidsliteratuur: Inleiding; Professoretiese literatuur: Inleiding

(TEO 130) Teologie 130: Inleiding in die Kerkgeskiedenis; die kerkgeskiedenis van die eerst vyf eeue

(TEO 140) Teologie 140: Kerklike diakonaat en presbiteraat

(TEO 230) Teologie 230: Inleiding in die Sistematiese Teologie; die ekumeniese simbole

(TEO 240) Teologie 240: Inleiding in die Godsdienswetenskap, Godsdiensfenomenologie en primale godsdienste

(TEO 330) Teologie 330: Inleiding in die Etiek; seleksie van belangrike hedendaagse vraagstellings

(TEO 340) Teologie 340: Inleiding in die godsdienswêreld van Indië, met spesiale verwysing na die Boeddhisme en Hindoeïsme

Vakkursusse aangebied deur die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte: Antropologie, Afrikaans, Bybelkunde, Duits, Filosofie, Grieks, Hebreeus, Kriminologie, Latyn, Sepedi, Sielkunde, Sosiologie, Setswana, isiZulu

Baccalaureus Divinitatis

I. Christelike Etiek

  • Eerste jaar: CHE 400 (i) Fundamentele Etiek (ii) Konkretisering van die Etiek.

II. Dogmatiek

  • Eerste Jaar: DOG 400 (i) Prolegomena (ii) Godsleer (iii) Skeppingsleer (iv) Die Mens.
  • Tweede Jaar: DOG 500 (i) Christologie (ii) Soteriologie (iii) Geloofsleer.
  • Derde Jaar: DOG 600 (i) Pneumatologie (ii) Ekklesiologie (iii) Eskatologie.

III. Ensiklopedie van die Teologie

  • Tweede Jaar: ENS 500 (i) Die Teologiese Wetenskap (ii) Die simbole van die kerk binne die Teologiese Fakulteit.

IV. Godsdiens- en Sendingwetenskap

  • Eerste Jaar: Godsdiens- en Sendingwetenskap 400, (i) Inleiding in die Godsdienswetenskap. (ii) Godsdiensgeskiedenis. (iii) Godsdiensfenomenologie. (iv) Inleiding in die Sendingwetenskap. (v) Teologie van die Sending.
  • Tweede Jaar: Godsdiens- en Sendingwetenskap 500, (i) Theologia religionum, (ii) Teologie en ideologie, (iii)Inleiding in die Evangelistiek , (iv) Sendingeskiedenis
  • Derde Jaar: Godsdiens- en Sendingwetenskap 600, (a) Godsdiensfilosofie, (i) Fundamentele, Godsdienswetenskap, (ii) Theologia religionis, (iii) Oorsig van filosofiese en lewensbeskoulike temas wat kerk en teologie raak, (b) Prinsipiële en praktiese vraagstellings in die Evangelistiek, (c) Kerk en sending.

V. Kerkgeskiedenis en Kerkreg

  • Eerste Jaar: KGS 400, (i) Die geskiedenis en die dogmengeskiedenis van die algemene Christelike kerk tot die einde van die 14de eeu, (ii) Suid-Afrikaandse Kerkgeskiedenis – Die geskiedenis van die Afrikaanse kerke tot 1865.
  • Tweede Jaar: KGS 500, (a) (i) Die geskiedenis en die dogmengeskiedenis van die kerke van die hervorming en die contra-reformasie in die 15de tot die 17de eeu, (ii) Suid-Afrikaanse Kerkgeskiedenis: die geskiedenis van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika 1865-1920 met verwysing ook na die geskiedenis van die ander twee Afrikaanse kerke (b) Kerkreg (i) Die historiese agtergronde van die kerkreg van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika 1652-1950 (ii) ‘n Inleiding tot die kerkbegrip van die kerkwet van die NHKA.

VI. Nuwe Testamentiese Wetenskap

  • Eerste Jaar: NTW 400, (i) Eksegetiese metodologie en Bybelse hermeneutiek, (ii) Inleiding tot die Nuwe Testament, (iii) Algemene inleiding, (iv) Prinsipiële kanoniek, kanongeskiedenis en –kritiek, (v) Teksgeskiedenis en –kritiek , (vi) Inleiding tot die sinoptiese Evangelies en Handelinge, (vii) Eksegese en teologie van die Markusevangelie.
  • Tweede Jaar: NTW 500, (i) Eksegetiese metodologie en Bybelse hermeneutiek, (ii) Sosiologie van die Nuwe Testament, (iii) Inleiding tot die Corpus Paulinum, (iv) Eksegese en teologie van geskrifte uit die Corpus Paulinum, (v)Teologiese temas: Christologie, gelykenis- en wonderwerkinterpretasie, (vi) Teologie van die Nuwe Testament.
  • Derde Jaar: NTW 600, (i) Eksegetiese metodologie en Bybelse hermeneutiek, (ii) Inleiding tot die Johannese Literatuur, Algemene Briewe en Openbaring, (iii) Eksegese en teologie van geskrifte in (ii) genoem, (iv) Eksegese en teologie van die Matteusevangelie en die Lukaanse korpus, (v) Teologiese temas: Pneumatologie, ekklesiologe, etiek en sakramente , (vi) Bybelse Teologie.

VII. Ou Testamentiese Wetenskap

  • Eerste Jaar: OTW 400, (i) Agtergrond van die Ou Testament, (ii) Geskiedenis van Israel en Juda, (iii) Bronne vir die kennis van die agtergrond, (iv) Argeologie van die Ou Testament, (v) Inleiding tot die Ou Testament, (vi) Inleiding tot die vak, (vii) Geskiedenis van die teks van die Ou Testament, (viii) Kanon van die Ou Testament (ix) Die boeke Jos tot Kon (x) Die Boeke Kron, Esra, Neh (xi) Eksegese van die Ou Testament (xii) Inleiding tot die vak (xiii) Eksegese van die verhalende literatuur (xiv) Ou Testamentiese Teologie (xv) Inleiding tot die vak.
  • Tweede Jaar: OTW 500, (i) Inleiding tot die Ou Testament, (ii) Die professoreteboeke, (iii) Die psalms, (iv) Eksegese van die Ou Testament, (v) Eksegese van liedereliteratuur, (vi) Eksegese van professoreteliteratuur, (vii)Evaluering van eksegetiese resultate, (viii) Ou Testamentiese Teologie (ix) Geskiedenis van die vak (x) Metodiek van die vak (xi) Eksegese en Teologie (xii) Hermeneutiek van die Ou Testament (xiii) Inleiding tot die vak (xiv) Skrifbeskouing: Die Ou Testament.
  • Derde Jaar: OTW 600, (i) Inleiding tot die Ou Testament, (ii) Die boeke Job, Spr, Pred, Hgl, Rut, Kl, Dan, Est, (iii) Die boeke Gen tot Deut, (iv) Eksegese van die Ou Testament, (v) Eksegse van Wysheidsliteratuur, (vi) Eksegese van Pentateugliteratuur, (vii) Eksegese van Apokaliptiese literatuur, (viii) Evaluering van eksegetiese resultate (ix) Ou Testamentiese Teologie (x) Temas in die Bybelse Teologie (xi) Hermeneutiek van die Ou Testament (xii) Skrifbeskouing (xiii) Hermeneutiek in praktyk.

VIII. Praktiese Teologie

  • Eerste Jaar: PRT 400 Inleiding tot die Praktiese Teologie, (i) Prinsipiële fundering van die objek en metode van die Praktiese Teologie, (ii) Die Ensiklopedie van die Praktiese Teologie (iii) Die geskiedenis van die Praktiese Teologie in die algemeen.
  • Tweede Jaar: PRT 500, (a) Homiletiek , (i) Prinsipiële gedeelte, (ii) Formele gedeelte, (iii) Historiese gedeelte, (b) Kategetiek (i) Prinsipiële gedeelte, (ii) Formele gedeelte, (iii) Historiese gedeelte (c) Liturgiek.
  • Derde Jaar: PRT 600, (a) Homiletiek, (b) Kategetiek, (c) Poimeniek.

30 Januarie 1995

Die Dosentevergadering benoem die volgende studente- en dosentevoogde: BA(Teol) I Chris Liebenberg, Janine Bevolo en professor S.J. Botha, B.A.I.I. Corlien Viviers en professor T.F.J. Dreyer, BA III Annerie Conradie en professor A.A. da Silva, BD I Riaan Botha en doktor L.C. Bezuidenhout, BD II Erik Oosthuizen en professor A.P.B. Breytenbach, BD III Sanri van Zyl en professor M.J. du P. Beukes. Kennis is geneem dat die departemente Godsdiens- en Sendingwetenskap van albei afdelings ingestem het om Godsdienskunde as komponent van Bybelkunde aan te bied

07 Februarie 1995

‘n Gesprek vind plaas tussen die Kuratorium, die Dosentevergadering en die Proponentseksamenkommissie oor teologiese opleiding en vorming, opleiding en navorsing, kritiek en normatiwiteit in die Fakulteit, en oor die laaste proponentseksamen.

28 Februarie 1995

Die Kuratorium besluit om die H.C.M. Fourie Erepenning aan dominee P.M. Smith toe te ken. Kennis is geneem dat professor P.J. van der Merwe in ‘n ernstige motorongeluk betrokke was.

14 Maart 1995

Die Fakulteit keur goed dat P.M. Mosoeu vir BA Hons(Teol) inskryf op grond van sy Hoër Diploma in Teologie aan die Universiteit van die Noorde en die samewerkingsooreenkoms met HTO. Hierdie vergadering is die eerste keer bygewoon deur twee studenteverteenwoordigers.

22 Junie 1995

Op ‘n spesiale Dosentevergadering word besluit om ‘n advies aan die Algemene Kerkvergadering voor te lê oor kerk en kerklike lidmaatskap, met die voorstel dat by die bepaling van lidmaatskap en ander kerkordende reëlings nie gebruik gemaak sal word van formulerings wat strydig is met die wese van die kerk nie. Die advies is onderteken deur al die voltydse dosente behawe professor S.J. Botha wat geoordeel het dat hy as voorsitter van die Kerkwetherskrywingskommissie tegnies verhinder word om die advies te onderteken. Die vergadering het verder ‘n werkwinkel gehou oor die posisie van die afdeling, onderrig vorentoe en verwante aangeleenthede.

26 Junie 1995

Die 64ste Algemene Kerkvergadering kom byeen in die Aula van die Universiteit van Pretoria. Die Agenda is vergesel van ‘n Studiebundel waarin organe van bystand en individue oor ‘n wye verskeidenheid van onderwerpe advies gegee het.Die openingsrede deur die uittredende voorsitter, doktor D.J.C. van Wyk, op Maandagaand 26 Junie het Kolosense. 1 as tema gehad en het blyke gegee van ‘n teologiese onrus.

Christus ons hoof – dié tema, so glo ons, is in die branding van die jaar 1995 in Suid-Afrika ‘n weergawe van die volledige inhoud van die kerk se prediking. En dit ongekwalifiseerd, onvoorwaardelik, of die kerk het Hom reeds verloën. Hy is van die kerk die hoof en die oorsprong. Hy, wat uit die dood opgestaan het, is van skepping en herskepping die Eerste. .. Dit is nie net die enigste inhoud van die kerk se prediking nie. Dit is ook die enigste hoop van die wêreld en van ons eie land wat deur moderne heidendom verbyster en ineengeslaan is[…]. Hier ontmoet ons nie ‘n aardse historiese Jesus nie, maar ‘n gekruisigde, opgestane, verheerlikte Christus. Dit is aan hierdie objektiewe werklikheid van heil en vryspraak, versoening en sekerheid dat die sestiende eeuse Kerkreformasie en die belydenisskrifte en die liedere wat daaruit voortgevloei het, uitdrukking gee. En dit is hierdie Christusgeloof wat die huidige vernuwingsteologie resloos laat opgaan in antropologie en intermenslike verhoudinge. Derdewêreld-teologieë, soos die Afrika-teologie, Asië-teologie, bevrydingsteologie, kontekstuele teologie sê hierdie teologie is Westerse teologie, spekulatief en irrelevant. Maar dis nie Westerse teologie nie. Dis Bybelse Teologie. […] Ken en verstaan ons hierdie prediking? Leef ons daaruiit? Getuig ons daarvan? Of is ons betower deur en verkneg aan tydgees, moderne kultuur en konteks? Uitgelewer aan en gehipnotiseer deur magte, ideologieë en strukture? Word ons gemanipuleer, verslaaf tot blinde produkte van sorge, spanning, vrees en depressie? […] Is ons Kerk en teologie bereid en in staat tot hierdie verwondering en waagstuk? Of is ons so verlam en geïntimideer dat ons geen moed en raad meer het met hierdie tyd en sy uitdagings nie? En dan verbloem ons dit onder mooiklinkende maar vals vroomheid en beskeidenheid van: Ons kan eintlik nie oor God en sy Woord en sy waarheid met enige sekerheid enigiets sê nie. Om met huiwering, heilige ontsag, verwondering en stameling oor God te praat, is een ding. Maar ons moet dit nie verwar met moderne skeptisisme en uiteindelike ongeloof nie. […] Dit bly die wonder van die kerk. Dat ons kerk is ondanks onsself. Maar dit is ook huiweringwekkende verantwoordelikheid! Baie minder ons kerk word, baie meer God se kerk word. Ons Hervormers praat te graag en te trots oor ons kerk. En dan laat blyk ons dade en woorde inderdaad dat ons maar gedink het dis ons kerk. […] Hierdie vergadering, sy besprekings en besluite, sal heenwys na Christus - of dit sal die uitsig op Christus verder verdonker. […] Dis smartlik om te sê: Maar ons Kerk se lewe vertoon nie altyd ‘n mooi beeld nie; die bose agterdog teen mekaar en geskinder van mekaar, die politiekery van alle kante, die liefdeloosheid, die weerloosheid in versoeking; die afwesigheid van diep, egte, deurleefde godsvrug, vroomheid, die wêreldgelykvormigheid.

Die H.C.M. Fourie Erepenning is oorhandig aan dominee P.M. Smith. Die voorsitter van die Kuratorium, doktor E.C.B. Kotze, het onder andere gesê: die erepenning word toegeken vir dominee Smith se besonderde dienswerk in die kerk.

Gedurende sy ampstermyn as predikant het hy deur geskrif, persoonlike leiding en optrede ‘n beduidende bydrae gelewer tot die groei en vooruitgang van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika. Deur sy eerlike en standvastige arbeid het hy ook gesorg vir die bestendiging en uitbouing van die standpunt en houding van die kerk.

Na herstemming tussen doktor D.J.C. van Wyk en professor T.F.J. Dreyer, is doktor van Wyk as voorsitter verkies. Doktor J.M.G. Storm is verkies as skriba, professor T.F.J. Dreyer as vise-voorsitter en professor A.P.B. Breytenbach as vise-skriba. As predikantlede van die Kommissie is verkies dominees J.P.J. Wagenaar en G.C. van Staden.

Statistiek wat voor die vergadering gelê is, het laat blyk dat die lidmatetal sinds die vorige vergadering ook aan die afneem is en dat die getal belydende lede verder gedaal het. Ook die getal dopelinge het dramaties gedaal. Betekenisvol is ‘n opmerking by die gegewens: ‘Die Kerk sal beslis baie meer erns met sy evangelisasiewerk moet doen om te voorkom dat hy verder kwyn.’

Na bespreking van die studiestuk Selfstandigheid van landskerke van professor H.G. van der Westhuizen waarin hy ‘n wysiging van Artikel III voorgestel het, en van voorstelle van die kant van die Komitee vir die Herskrywing van die Kerkwet en die Dosentevergadering het die Algemene Kerkvergadering besluit om ‘n verklaring te maak vir die inligting van lidmate. Daarin is onder andere gestel

  • Die Algemene Kerkvergadering bevestig sy standpunt dat
  • Art III van die huidige Kerkwet nie ‘n filosofiese beginsel verwoord nie, maar praktiese maatreëls oor lidmaatskap tref,
  • Art III van die huidige Kerkwet ‘n reëling ivm lidmaatskap van gemeentes van die Kerk is, en dat die Artikel nie bywoning van eredienste reël nie,
  • ‘n volkskerk, alhoewel nie die enigste nie, tog die vanselfsprekende gestalte van kerkwees is, en dat die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika volkskerk in die midde van die Afrikanervolk is.
  • Die vergadering roep alle ampsdraers op om in gehoorsaamheid aan Jesus Christus die Hoof van die Kerk
  • toe te sien dat alleen die evangelie van Jesus Christus deurslaggewend sal wees in al die optredes van die Kerk
  • hulle verantwoordelikheid te aanvaar om die wesenlike eenheid van die kerk van Jesus Christus só te handhaaf dat dit in ooreenstemming met die Woord van God en tot sy eer sal wees.
  • Die vergadering besluit in beginsel om geen rasmatige verwysings in ‘n toekomstige kerkorde op te neem nie en gee opdrag aan die Komitee vir Herskrywing van die Kerkwet om die saak van die volkskerk waaroor dit in Art III van die huidige Kerkwet gaan, só in ‘n nuwe Kerkorde te verwoord dat die allesoorheersende verbondenheid van die Nederduitsch Hervormde Kerk aan Jesus Christus en sy versoeningswerk, duidelik sal blyk.
  • By die bepaling van lidmaatskap en ander kerkordende reëlings maak die Nederduitsch Hervormde Kerk nie gebruik van formulerings wat strydig is met die wese van die kerk nie.

Die ouderlinge F.H. Conradie (Sasolburg), L. Bekker (Bloemfontein-Wes), J.P.G. Els (Makwassie), W.J. Engelbrecht (Carolina), F.H. van der Merwe (Chrissiesmeer), L. Stemmet (Jeffreysbaai), A.L.G. Strauss (Vredefort), C.C. Viljoen (Pierneef) en M.M.J. Basson (Silverton) en dominee J.J. Claassen (Carolina) het hulle teenstemme teen hierdie besluit laat aanteken. Later in die vergadering het doktor J.J. Steenkamp, dominees G.P. Visser, N.C.J. Brayshaw, L.J. Strauss, P.D. Rautenbach, J.P.J. Fourie, ouderlinge P.J.A. van Niekerk (Sannieshof), J. Kamffer (Stella), P.J.P. van Zyl (Krugersdorp-Noord) en diaken C.J.S. Kotze (Schweizer Reneke) teenstemme laat aanteken.

Vanaf Maandag 03 Julie is die vergadering voortgesit in die kerkgebou van Pretoria-Oos. In die debat rondom die Belydenisskrifte het professor G.M.M. Pelser iets oor die Belydenisskrifte gesê wat gelei het tot ‘n besluit dat die Kommissie met hom onder die opsig daaroor ‘n gesprek moet voer. [Ouderling J.G. Koekemoer het later daarop gewys dat daar wel so ‘n voorstel was maar dat die vergadering nie daaroor gestem het nie. Hy het persoonlik daarop aangedring dat die voorsitter die voorstel tot stemming bring maar dit het nie gebeur nie. Hy het versoek dat die saak in die notule reggestel word en dat dit nie in die Besluitebundel verskyn nie. Die Kommissie het egter besluit dat hy die saak as afgehandel beskou.]

‘n Beskrywingspunt van die Ring van Johannesburg is aanvaar wat soos volg lui:

Die vergadering besluit dat die Kerk nie voorskriftelik sal wees oor wie sy eredienste bywoon nie. Daarom spreek hy hom nie hieroor uit nie en verval alle besluite en maatreëls wat vantevore daaroor getref is.

Daarteen is 39 teenstemme aangeteken, van dominee P.J. van der Merwe (Pietersburg), doktor J.H. Breytenbach, dominees H.G.S. Kotze, C.V. van der Merwe, J.J.C. du Plooy, L.J. Meyer senior, J.H. Barkhuizen, F.J.C. Oosthuizen, J.H.H. Jacobs, H.N. Kloppers, F.G.J. Loots, P.S. Oberholzer, Z.C. Robberts,W.H. Steyn, J.Z. Brits, doktor J.J. Steenkamp, dominee L.C. Alberts, en van ouderlinge L. Bekker (Bloemfontein-Wes), C.J. Swart (Belfast), C.J. Campher (Odendaalsrus), A.D. Knoetze (Allanridge), F. Buys (Barberton), J.L.O. Esterhuysen (Zwartruggens), M.F. Pretorius (Noordrand), C.C. Viljoen (Pierneef), J.D. Marais (Vryburg), J.P.G. Els (Makwassie), H.N. Kriek (Potchefstroom), L.J. Meyer junior (Heilbron), R.J. de Beer (Vliegepoort), P.J. Schroeder (Eikenhof).

Die volgende mosie gee blyke van die reaksie op die besluit in verband met professor Pelser:

Die teologiese studente van die teologiese fakulteit aan die Universiteit van Pretoria wat teenwoordig is by die 64ste Algemene Kerkvergadering, spreek namens al die teologiese studente dank en waardering uit teenoor al die dosente en deeltydse dosente en in die besonder aan professor G.M.M. Pelser vir

  • kwaliteit onderrig,
  • voorbeeld van kerklike lojaliteit,
  • die vorming van die teologiese studente om reggeaarde predikante van die Kerk te wees.

[Geskrewe getuienis oor die roeringe agter die skerms tydens hierdie vergadering sou eers aan die lig kom toe doktor J.H. Breytenbach op 18 Januarie 1996 op uitnodiging die Predikantevergadering toegespreek het. Dit was ná die bekendstelling van ‘n ‘Eietydse Getuienis’ deur ‘n groep wat die voorneme uitgespreek het om ‘n konfessionele verbond te stig in reaksie op die besluite van die Algemene Kerkvergadering en debatte wat daar gevoer is. Die loodskomitee was A.D. Pont, H.G. van der Westhuizen, G.C. van Staden, S. Gregan, J.J. Steenkamp, H.J. Botes en J.H. Breytenbach. Breytenbach het die Predikantevergadering meegedeel dat hulle ‘getuienis’ voortkom uit tendense wat geruime tyd al waargeneem is en wat op die Algemene Kerkvergadering van 1995 op die spits gedryf is deur besluite na aanleiding van ‘n ‘propagandaverklaring deur die Dosentevergadering’, die plek en funksie van die Belydenisskrifte in die kerk, die uitlating van professor Pelser dat daar baie dinge in die Belydenisskrifte is wat hy nie kan aanvaar nie, die bespreking en aanvaarding van die beskrywingspunt van die Ring van Johannesburg, ens. Hulle het tydens die vergadering ‘n byeenkoms gereël vir 14 Augustus 1995, bygewoon deur ‘’n baie groot groep predikante en ouderlinge.’ Op voordrag van professor van der Westhuizen is besluit om ‘n Konfessionele Verbond op te rig binne die Kerk.

Daar is ook besluit om deur middel van ‘n getuienis die skeiding in teologiese paaie wat besig is om in die kerk plaas te vind, aan te dui. Die skeiding spruit voort uit die verskille in waardering van die belydenis en belydenisskrifte en mond uit in die onvermoë om klinkklaar te getuig […] ‘n Loodskomitee […], is benoem om die konsep van ‘n grondslag en inrigting vir die te stigte Konfessionele Verbond en ‘n konsep van die getuienis wat gelewer sou word, op te stel. Die konsepte is op ‘n byeenkoms van 13 September bespreek. […] Die konsepdokumente is nie aanvaar nie maar na die Loodskomtee terugverwys. […] By die vergadering van 10 Oktober is die dokumente opnuut onder oë geneem. Daar is verskillende wysigings aan die getuienis aangebring, terwyl afgesien is van die hele gedagte om‘n Konfessionele Verbond, wat toe al klaar ‘n ander naam gekry het, te wete ‘Die Verbond vir die handhawing van die belydenis in die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika,’ op te rig. Uitnodigings om die Hervormingsdagbyeenkoms op 04 November by te woon en ‘n ekemplaar van die Eietydse Getuienis is op 21 Oktober aan die skriba van elke gemeente en aan al die geordende dienaars van die Woord in die Kerk gepos. Op 04 November is die Getuienis gelewer in die Goddefroysaal onder voorsitterskap van ouderling Esterhuizen. Dit is toegelig deur myself; Professor Pont het die getuienis voorgehou; professor van der Westhuizen het die pad vorentoe uitgestippel en Doktor Botes het ‘n samevatting van die verrigtinge gegee. [Die bewoording van die ‘Eietydse Getuienis’ gee blyke van persepsies wat vir hulleself spreek en laat die gebalanseerde leser met talle vrae oor die teologie waaraan dit uiting wil gee. So word daar byvoorbeeld naïef verklaar ‘Ons verstaan die Bybel as die openbaring van die Drie-enige God. Die Bybel bestaan uit die Ou Testament en die Nuwe Testament, soos dit as kanoniek deur ons belydenis aangedui word.’ En dan volg daar:

Ons verwerp die opvatting wat die Woord van God afhanklik maak van die menings van mense. Ons verwerp die opvatting dat die Ou Testament niks oor Jesus Christus, die ewige Seun van God, te sê het nie. Ons aanvaar nie teorieë dat die Nuwe Testament ‘n versameling van botsende, onbetroubare of oningeligte getuienisse oor Jesus van Nasaret sou wees nie. Ons verwerp die opvatting dat die Bybel slegs die optekening van menslike ervarings sou wees en daarom nie as Woord van God beskou kan word nie.

Die bewoording skep karikature en polemiseer dan teen die karikature. Verder moet in gedagte gehou word dat die groep volgens die getuienis van doktor J.H. Breytenbach veral aangespoor is deur die besluite van die Algemene Kerkvergadering oor lidmaatskap van die kerk en dus ‘n sterk rasse-vooroordeel as grondslag het.]

Uit die verslag van die dekaan soos opgeneem in die verslag van die Kuratorium aan die Algemene Kerkvergadering van 1995, het geblyk dat evaluering van departemente volgens die beleid van die Universiteit plaasvind en dat vanaf 1995 daar eksterne evaluering plaasvind ter wille van internasionale erkenning. Dosente word gereeld deur studente geëvalueer deur middel van gestruktureerde vraelyste. Die Fakulteit stel hom ten doel om aan die einde van die studie ‘n persoon te lewer wat wetenskaplik gevorm is, wat in staat is om krities-analities waar te neem, te interpreteer, sinteties te dink, kontak met die wetenskap te behou en voortdurend daarheen terug te keer en self sy normatief-evaluerende denke en konklusies terug te koppel aan sy wetenskaplike vorming. Met dit in gedagte is die Fakulteit tegelyk besig om reggeaarde dienaars van die Woord vir die Kerk te vorm. Om dié doel te bereik, is die Fakulteit voortdurend besig om sy onderrigmodel te evalueer en by veranderde omstandighede aan te pas. Navorsingsuitsette in die vorm van wetenskaplike publikasies is deur al die departemente gelewer.

Verslag is gedoen van die instelling van die nuwe teologiese graad BA(Endossement Teologie) vanaf 1995:

Hierdie graad is ingestel met die doel om meer studente, ook dié van ander kerke, te werf vir teologiese studie en om die Kerk se studente vroeër met die teologie kennis te laat maak.

  • Die graadstruktuur vir die BA(ET)graad word so ingerig dat dit ter wille van nie-kerklike studente taamlik vry is. Dit impliseer dat ‘n persoon selfs sonder Grieks en Hebreeus ‘n BA(ET) graad kan behaal.
  • Om die standaard van die BD graad te behou, word die toelatingsvereistes vir BD duidelik omskryf. Dit impliseer dat ‘n persoon minstens Grieks II en Hebreeus II benodig om vir BD te registreer. Die Kerk se studente moet verkieslik een van die twee tale tot op derdejaarsvlak aanbied. Goedkeuring vir die grade BA Hons (Teologie) en MA (Teologie) asook die aanbieding van die PhD graad naas die DD graad is reeds ontvang. Die grade word vanaf 1995 aangebied. […]Vir studente wat predikante in die Nederduitsch Hervormde Kerk wil word, kan die BA (ET) graad soos volg saamgestel word:

Eerste studiejaar: Grieks,Hebreeus, Ou en Nuwe Testament, Teologie (Kerkgeskiedenis en Praktiese Teologie) en ‘n vak van vrye keuse in oorleg met die dekaan.

Tweede studiejaar: Grieks, Hebreeus, Ou en Nuwe Testament, Teologie (Dogmatiek en Godsdiens- en Sendingwetenskap)

Derde studiejaar: Ou en Nuwe Testament, Teologie (Christelike Etiek en Godsdiens-en Sendingwetenskap), Hebreeus of Grieks[…]

Kandidate wat met BD studie begin, moet oor ‘n leeskennis van Duits beskik […]. Die kursus word ook na-uurs vanaf 17:00 by die Universiteit van Pretoria aangebied. Die nuwe graadkursus bring mee dat studente van die Nederduitsch Hervormde Kerk met ingang 1995 vanaf hulle eerste studiejaar aan die Universiteit van Pretoria moet studeer.

Ingevolge ‘n samewerkingsooreenkoms tussen die Kerk en die Universiteit waarvolgens die diplomas van die HTO deur die Universiteit van Pretoria geëndosseer word, is oor en weer lesings aangebied.

Die Kuratorium het verder verslag gedoen oor die herstrukturering van die SVTT, wat herbenaam is tot Sentrum vir Teologiese Navorsing en Toerusting (S.T.N.T).

Professor L.J.S. Steenkamp wat direkteur van Kital en ook direkteur by die SVTT is, word voltys geakkomodeer by die Universiteit van Pretoria met opdrag om die STNT. maksimaal uit te bou. Dit beteken dat hy betrokke raak by die aanbieding van alle toerustingsgeleenthede wat by die teologie aansny en onder die vaandel van gemeenskapsdiens by die teologiese fakulteit aangebied word. Die STNT is dan ook verantwoordelik vir die aanbieding van Bybelskole en die koördinering van die navorsingsprogram van die Fakulteit. Dié besluite is reeds in 1994 in werking gestel. ‘n Verdere verwikkeling was die oorplasing van die Hervormde Teologiese Studies na die teologiese fakulteit. Met die oorplasing van professor Steenkamp na die Fakulteit in voltydse hoedanigheid, is die pos van direkteur by Kital nie weer gevul nie en het sy funksies ten opsigte van publikasies onder doktor P. de Beer, direkteur van die Tydskrifafdeling, ingeskuif. Die afdelings Kital en Tydskrifte is saamgevoeg onder een afdeling met die naam S.E.N.T.I.K. (Sentrum vir Toerusting, Inligting en Kommunikasie). As verdere opdrag aan professor L.J.S. Steenkamp kom die opdrag om professor A.G. van Aarde (redakteur van Hervormde Teologiese Studies) by te staan.

Die verslag oor die Hervormde Teologiese Studies meld onder andere:

Buitelandse bibliografiese indekse in Italië, Duitsland, Kanada en die VSA publiseer opsommings van die artikels in Hervormde Teologiese Studies in Engels. Hierbenewens is talle universiteitsbiblioteke oor die hele Europa, Noord-Amerika en Suid-Afrika op die Hervormde Teologiese Studies ingeteken en bestaan daar ook uitruilooreenkomste met ander vaktydskrifte in Frankryk, Nederland, Kenia, Hong Kong en met ‘n groot aantal in Suid-Afrika. Die feit dat universiteite in Suid-Afrika sedert die tagtigerjare subsidie van die Departement van Nasionale Opvoeding op grond van die publikasie van universiteitspersoneellede se navorsingsinsette in geakkredditeerde nasionale en internasionale vaktydskrifte ontvang, het sterk daartoe bygedra dat Hervormde Teologiese Studies volumegewys uitgebrei het. Die teologiese fakulteit het deur middel van publikasies die bedrag van R444 815 in 1990 verdien, in 1991 R350 000 en in 1992 R435 468. Hierdie verdienste het regstreeks daartoe bygedra dat die navorsingsfonds van die teologiese fakulteit die bedrag van R81 163 vir 1992 ontvang het, vir 1993 R73 763 en vir 1994 R106 509. Hervormde Teologiese Studies is ‘n tydskrif waarin medewerkers van verskillende kerke, universiteite en lande wil publiseer. Bladgelde en subsidies wat van buite die kring van die Nederduitsch Hervormde Kerk in 1993 ontvang is, het R45 255 beloop.

Die vergadering het sy dank betuig aan professor A.G. van Aarde vir sy besondere moeite om Hervormde Teologiese Studies een van die beste vaktydskrifte in die land te maak.

Die vergadering het ‘n vorige besluit herbevestig naamlik:

Die Kuratorium kry opdrag om noukeurig kennis te neem van veranderings en ontwikkelings op die gebied van die universiteitswese in die veranderende situasie in die land en om in die lig daarvan die opleiding en vorming van predikante en die teologiese arbeid van die Kerk te reël. Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering en die Kuratorium word gemagtig om die nodige maatreëls te tref om die uitvoering van die opdrag aan die Kuratorium moontlik te maak.

Die studentestatistiek het getoon dat daar in 1994 44 BD studente, 22 MDiv studente en 20 DD studente ingeskryf was. Oor die drie jaar 1991–1994 is 61 kandidate vir die BA studie geëvalueer, waarvan 15 nie aanvaar is nie, 13 sonder beurslening en 33 met beurslening aanvaar is.

As lede van die Kuratorium is verkies doktor P.J. de Beer, dominees A.P.J. Beukes, P.A. Geyser, doktore A.J.G. Dreyer, H.J. Botes, E.C.B. Kotze en professor J.A. Loader.

Die vergadering het ook besluit dat daar ‘n Raad vir Kerk en Teologie moet bestaan.

20 Julie 1995

Die Fakulteit neem kennis dat professor S.J. Botha as gasdosent opgetree het in die Evangeliese Teologiese Fakulteit in Leuven, dat professor J.H. Koekemoer verskillende fakulteite in Europa as gas besoek het en dat hy verkies is as lid van die International Reformed Theological Institute, dat professorf G.M.M. Pelser en A.G. van Aarde die Jesus Seminar in Santa Rosa, VSA bygewoon het en daarna verskillende universiteite besoek het, dat professor T.F.J. Dreyer universiteite in Europa besoek het as deel van ‘n navorsingsprogram oor teologiese opleiding en dat doktor L.C. Bezuidenhout die S.B.L. Kongres in Budapest bywoon.

20 Julie 1995

Vise-rektor C.R. de Beer woon die Dosentevergadering by, gee inligting en beantwoord vrae oor die taalbeleid, transformasieforum en multikulturaliteit en oor teologiese opleiding. Hy onderneem om die twee fakulteitsafdelings bymekaar te bring en ‘n gesprek te fasiliteer.

04 Augustus 1995

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering voer die gesprek onder die opsig met professor Pelser. Op ‘n vraag van die voorsitter of Pelser onomwonde en sonder voorbehoud kan sê hy glo soos die Kerk en saam met die Kerk, het Pelser bevestigend geantwoord. Hy het onderneem om in die toekoms sy woorde versigtiger te meet.

17 Augustus 1995

Die rektor, professor P. Smit, besoek die Dosentevergadering, gee inligting en luister na menings.

29 Augustus 1995

Reeds tydens die Algemene Kerkvergadering was daar ‘n byeenkoms van die verkose lede van die Kuratorium waarop ‘n voorsitter en visevoorsitter gekies is, en dominee P.A. Geyser het hierdie vergadering as voorsitter geopen en gelei. As lede van die Dagbestuur saam met die voorsitter en vise-voorsitter (dominee A.P.J. Beukes) is professor J.A. Loader en doktor P.J. de Beer verkies. Die onderskeie komitees is benoem en ‘n skedule is opgestel vir gesprekke met die teologiese dosente. Kennis is geneem dat doktor E.C.B. Kotze bedank het as lid om gesondheidsredes. Doktor J.H. Breytenbach is deur die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering in sy plek benoem, maar het nie die benoeming aanvaar nie. Doktor W.A. Dreyer is toe deur die Kommissie as lid van die Kuratorium benoem. Daar is besluit dat professor J.A. Loader en doktor P.J. de Beer die Kuratorium sal verteenwoordig op ‘n werkwinkel op 20–21 Oktober met die oog op scenariobeplanning vir teologiese opleiding. Kennis is geneem van die akademiese prestasies van mevrou Sanri van Zyl en Jaco Beyers en hulle is gelukgewens.

06 September 1995

Die Dosentevergadering neem kennis van talle opdragte vanuit die Algemene Kerkvergadering. oor die Ebenhaezer Gemeente as modaliteitsgemeente, oor die belydenis en die Proponentsondertekeningsformule, oor die kultuurtaak van die kerk en oor ‘n kommentaar op die Heidelbergse Kategismus. Die vergadering is as geheel lid van die nuutgestigte Raad vir Kerk en teologie.

15 September 1995

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het die voorstel van die Kuratorium aanvaar oor die werkwinkwel op 20–21 Oktober en het vir doktor D.J.C. van Wyk en doktor J.M.G. Storm opdrag gegee om die reëlings en agenda saam met die Dosentevergadering en die Kuratorium te finaliseer. Besluit is ook dat ouderlinge J.L.O. Esterhuizen, G.J.S. Nel en G.J. de Beer die werkwinkel moet bywoon. Die vergadering het ook kennis geneem van die gesprek tussen die Kuratorium en die Dosentevergadering op 24 November 1994 oor die opleiding.

16 September 1995

Die Dosentevergadering voer met die Dagbestuur van die Kuratorium ‘n gesprek oor die Konfessionele Verbond en besluit om aan die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering te skrywe en sy kommer uit te spreek oor die stigting en te versoek dat dit gestuit word.

Die dosente versoek individuele gesprekke met die Kommissie (waartydens die Kuratorium as opsighouers oor die teologiese opleiding teenwoordig sal wees) sodat die Kommissie hom van die leerstellige regsinnigheid van elkeen kan vergewis. Die dosente beskou hulleself egter nie as aangeklaagdes nie en wil ook nie graag as sodanig behandel word nie. Die Dosentevergadering wil graag via die Kommissie ‘n uitnodiging rig aan almal wat betrokke is by die loodsing van die ‘konfessionele verbond’ om met die Dosentevergadering in gesprek te tree oor hulle kommer vir sover die Fakulteit daardeur geraak word.

03 Oktober 1995

Die Dosentevergadering vergader saam met dosente van HTO en werk aan ‘n scenariobeplanning oor die toekomstige verhouding tussen die kerk en teologiese opleidings.

09 Oktober 1995

Die Raad keur die toekenning van die eregraad DD aan J.P. Oberholzer goed. Die motivering vir die toekenning, opgestel deur A.P.B. Breytenbach, is opgeneem as Bylae S1122/95 by die Agenda van die Senaat 27 Julie 1995.

18 Oktober 1995

In ‘n buitengewone vergadering het die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering gesprek gevoer met die Loodskomitee van die ‘belydenisgroep,’ verteenwoordig deur professor A.D. Pont, professor H.G. van der Westhuizen, doktore J.J. Steenkamp en J.H. Breytenbach. Die gesprek is woordeliks genotuleer en beslaan 22 bladsye. Die Kommissie het ook kennis geneem van ‘n skrywe van die Dosentevergadering waarin versoek word dat die Kommissie die stigting van ‘n ‘Konfessionele Verbond’ sal stuit en dat die Kommissie individuele gesprekke met die dosente sal voer, en waarin verder via die Kommissie ‘n uitnodoging gerig word aan die persone wat die stigting van die verbond wil loods, om met die Dosentevergadering in gesprek te tree oor hulle kommer vir sover die Fakulteit daardeur geraak word. Opmerklik in hierdie gesprek was dat ‘n deel van die Kommissie betrokke was by die getuienisgroep en dat die voorsitter sterk geluide laat hoor het teen dosente, en dat die twee dosente wat lede van die Kommissie was, professor T.F.J. Dreyer en A.P.B. Breytenbach, ook nie eenders gedink het nie. Die Kommissie het besluit: die Dosentevergadering word in kennis gestel dat die Kommissie op versoek van individuele dosente met hulle gesprek sal voer.

Die Kommissie voer op 03 November 1995 met al die dosente van die Teologiese Fakulteit Afdeling A by die Universiteit van Pretoria gesprek oor die belydenis en die Belydenisskrifte en die binding daaraan. Die Kuratorium word genooi om die gesprek by te woon.

Die Moderamen finaliseer die skrywe wat gerig word aan al die predikante en skribas van die Kerk waarin die volgende duidelik gestel word:

  • Die Kommissie het met kommer en onrus kennis geneem van die konsep getuienis van die te stigte Verbond vir die handhawing van die belydenis in die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika.
  • Op Woensdag 18 Oktober 1995 het die Kommissie op ‘n dringende buitengewone vergadering oor die aangeleentheid gehandel en met die Loodskomitee van die te stigte Verbond in gesprek getree.
  • Die Loodskomitee het die Kommissie verseker dat die konsepdokument waarin die getuienis vervat is, verwerp is en daarom irrelevant is.
  • ‘n Nuwe getuienis wat as Hervormingsdag getuienis sal dien, opgestel is en op Saterdag 4 Nov 1995 gelewer sal word.
  • Daar sal geen formele stigting van die Verbond sal plaasvind nie.

20–21 Oktober 1995

‘n Werkwinkel oor Teologiese Opleiding vind plaas op die Universiteit van Pretoria kampus, Hammanskraal. Teenwoordig was sewe lede van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, al die lede van die Kuratorium, al die dosente, twee lede van die Proponentseksamenkommissie, twee van HTO en twee van die Raad van Finansies en die Administrasie. Die dekaan het opgetree as voorsitter en dominee P.A. Geyser as fasiliteerder. Kennis is geneem van die problematiek rondom die universiteitswese en die posisie van die Fakulteit. Die elemente van ‘n missie vir teologiese opleiding van die Kerk is oorweeg. Daarna is aandag gegee aan die verskillende moontlike scenarios. Die volgende besluite is geneem:

  • Die Dosentevergadering word versoek om met behulp van sy subkomitees studie te doen van die verskillende aspekte van die blommodel en ‘n verslag daaroor op te stel met die oog op die Kuratorium se vergadering in Maart 1996.
  • Die Kuratorium word versoek om die volle omvang en implikasies van die seminaarmodel te bestudeer en ‘n verslag daaroor op te stel met die oog op die Kuratorium se vergadering in Masart 1996.
  • Die Kuratorium en die HTO se Raad vir Toesig word versoek om die rasionalisasie van die Kerk se totale teologiese opleiding te ondersoek.
  • Die Dosentevergadering word versoek om die huidige predikantsopleiding van die Fakulteit te heroorweeg in terme van sy doelmatigheid. Elemente wat besondere aandag verdien, is die blokstelsel, verskillende gewigte in kontakure vir verskillende vakke, die kerklike gerigtheid van die onderskeie vakke en herkurrikulering.

02 November 1995

Die Dosentevergadering en die dosente van HTO vergader saam en handel oor die Proponentsondertekeningsformule, die binding aan die Belydenisskrifte, die Ebenhaezer Gemeente, en die kultuurtaak van die kerk.

03 November 1995

In die gesprek met die dosente en Kuratorium was teenwoordig al die dosente en vyf lede van die Kuratorium, naamlik doktor P.J. de Beer, dominee A.P.J. Beukes, professor J.A. Loader, doktor W.A. Dreyer en dominee P.A. Geyser. In hierdie gesprek het professor P.S. Dreyer opgemerk dat die wetenskaplike nooit selfstandig kan funksioneer van die gemeenskap waaruit hy kom en wat hy dien nie. Teoloë moet die Kerk voortdurend in aanmerking neem, anders is daar later geen Fakulteit meer nie. Hy het vroeg reeds onder die indruk gekom van die trotse geskiedenis van die Fakulteit. Nuwe Testamentiese Wetenskap was altyd ‘n blink ster. Selfs van professor Geyser het hy baie geleer. Hy kan egter nie sê dat Dogmatiek ooit dieselfde hoogtes bereik het nie. Dit was daarom ook nie in staat om die res van die teologie goed uit te balanseer nie. [Hierdie opmerking het iets verwoord van die eintlike probleem vir sover dit eg oor die belydenis gaan, die probleem naamlik dat die ontwikkeling in die Bybelwetenskappe die ander teologiese dissiplines verbygesteek het. So het professor A.D. Pont byvoorbeeld oor die 1983 Bybelvertaling die standpunt ingeneem dat die vertaling daarvan uitgaan dat die Bybel mensewoord is en nie meer Godswoord nie (as sou die 1933 vertaling dan Godswoord wees), en is daar in Leer- en Lewenskwessies onomwonde gekies vir terugkeer na die Textus Receptus]. Professor A.P.B. Breytenbach het in hierdie gesprek ook uitgewys dat Pont in die T.K.K. saamgestem het met die Nederduitsch Hervormde Kerk se standpunt dat Jesus nie in die Ou Testament ingelees kan word nie en dat J.H. Breytenbach in sy proefskrif self Bybelwetenskaplike metodes toegepas het. Op grond daarvan het professor Breytenbach die motivering vir die ‘getuienis’ eerder aan politieke motiewe toegeskryf. Opmerklik het die voorsitter vir professor Breytenbach tereggewys omdat hy met sy opmerkings leiersfigure in die Loodskomtee geëtiketteer het. Na die gesprek is besluit dat die sekretarisse van die Kommissie en die Dosentevergadering ‘n agenda moet saamstel uit die verslag van hierdie vergadering, dat ‘n vergadering vroeg in die nuwe jaar gereël word vir ‘n voortsetting van die gesprek, dat alle lede van die Raad vir Kerk en Teologie, die Kuratorium en die Komitee vir Eietydse getuienis na die gesprek genooi word, en dat die verslag oor die samesprekings deurgegee word na die Kuratorium. Verder is besluit dat die hele aangeleentheid rondom die aktiwiteite van die Komitee vir Eietydse Getuienis, die gesprek met die komitee en die gesprek met die Dosentevergadering sal dien as agtergrond vir die Inligtings- en Besprekingsvergadering op 23 November 1995.

23 November 1995

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het ‘n gesprek gevoer met professor A.G. van Aarde op sy versoek. Die voorsitter van die Kuratorium, dominee P.A. Geyser, was teenwoordig.

28 November 1995

Die Kuratorium verwelkom doktor W.A. Dreyer as lid. Kennis is geneem dat die volgende hulpdosente in 1996 in die Fakulteit sal optree: J. Buitendag, I.W.C. van Wyk, M.D. Robbertze en R.M. Naude in Dogmatiek en Christelike Etiek, J.A. van Biljon in Praktiese Teologie, H.G. van der Westhuizen, D.J.C. van Wyk, J.J. Kritzinger en P.G.J. Meiring (albei uit Afdeling B.) in Godsdiens en Sendingwetenskap, P.B. Boshoff, P.A. Geyser, E. van Eck en P. van Staden in Nuwe Testamentiese Wetenskap, W.C. van Wyk, A.A. da Silva en L.C. Bezuidenhout in Ou Testamentiese Wetenskap, H.J. Botes, A.D. Pont en J.P. Labuschagne in Kerkgeskiedenis. Kennis is geneem dat professor M.J. Borg van Oregon State University die departement Nuwe Testamentiese Wetenskap besoek het as S.W.O.-navorsingsgenoot van professor van Aarde. Hy het in sy verslag onder andere geskryf:

Among the faculty I was especially impressed with professor van Aarde, whom I have known for several years. A world-class scholar, he is certainly the best known South African historical Jesus scholar in North America.

Kennis is geneem dat doktor L.C. Bezuidenhout vanaf 01 Januarie 1996 bevorder is tot professor in Bybelkunde. Die vergadering het verder kennis geneem van ‘n verslag oor ‘n samespreking tussen die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering en lede van die Dosentevergadering en die Kuratorium op 03 November 1995 oor die ‘Konfessionele Verbond’ en die aktiwiteite van die Loodskomitee. Die vergadering het besluit dat met die dosente afsonderlik en met die Dosentevergadering as geheel ‘n gesprek gevoer moet word.

1996

17 en 29 Januarie 1996

Die Dosentevergadering handel verder oor die opdragte vanuit die Algemene Kerkvergadering. Memoranda oor die Proponentsondertekeningsformule, die aard en binding van ampsdraers en lidmate aan die Belydenisskrifte en die Kultuurtaak van die kerk is reeds gelewer. Kennis is geneem van ‘n skrywe van die Proponentseksamenkommissie waarin waardering uitgespreek word vir die hoë gehalte werk wat deur die Fakulteit gelewer word. Ook die skriba van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het algemene waardering uitgespreek vir die hardwerkendheid en opoffering van die teologiese dosente asook die hoop dat die onstuimigheid rondom die Belydenisskrifte weldra sal bedaar en dat die Fakulteit weer kalm en bestendig met sy normale werk sal kan voortgaan.

01 Februarie 1996

Die Kuratorium voer ‘n gesprek met die dosente ter voorbereiding van die volgende dag se gesprek met die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering. Die volgende besluite is daar geneem:

  1. Die gesamentlike verklaring van die dosente en die dosente van die HTO oor die proponentsondertekeningsformule moet so spoedig moontlik aan die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering besorg word asook in die wyer verband van die kerk bekendgemaak word.
  2. Die dosente moet so gou as moontlik aan die gesamentlike verklaring oor die belydenis en enkele ander knelpunte begin werk en probeer om dit teen einde Februarie gereed te hê.
  3. Die studiehandleidings moet by die dekaan gekry word en so spoedig moontlik deur die Kuratorium deurgewerk word. Dit kan ook moontlik vorentoe die agenda vir hierdie gesamentlike gesprek bepaal.
  4. Die resultate van die werkwinkel wat in 1995 gehou is, moet konkreet opgevolg word. Die opleiding moet dringend aandag kry. ‘n Komitee wat uit die dosente saamgestel is, sal hieraan aandag gee.
  5. Dit moet aan ampsdraers en lidmate bekend gemaak word hoekom ons wetenskaplike teologie beoefen. Die dinge wat reeds gesê is asook die nuwe dinge moet bekendgestel word, eerstens in Die Hervormer maar moonlik ook in brosjures. Doktor W.A. Dreyer is die persoon hiervoor verantwoordelik.

02 Februarie 1996

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het in ‘n buitengewone vergadering ‘n gesprek gevoer met die Kuratorium na aanleiding van die ‘Eietydse Getuienis’ wat gelewer is en gesprekke wat voorheen met die Loodskomitee en Dosentevergadering plaas gevind het. Teenwoordig van die kant van die Kuratorium was dominees P.A. Geyser, A.P.J. Beukes, doktore W.A. Dreyer, A.J.G. Dreyer, J.A. Loader en P.J. de Beer. Van die dosente was teenwoordig professore P.J. van der Merwe, G.M.M. Pelser en J.H. Koekemoer. [Die Dosentevergadering het op 12 Maart 1996 verslag ontvang wat gemeld het dat die konsultasie oorheers is deur ‘n striemende aanval van die voorsitter, doktor D.J.C. van Wyk, op professor Pelser oor wat hy beskou as onsensiwiteit en moedswilligheid ten opsigte van die belydeniskwessie, asook professor Pelser se heftige reaksie op die aanval.] Die gesprek het daarop uitgeloop dat ‘n suggestie van professor Loader aanvaar is dat die gesprek aan die gang moet kom sodat vrae in die gemoedere van die dosente en lede van die Kommissie uit die weg geruim kan word. Die voorsitter het gereël dat die Kuratorium op 15 Februarie ‘n voorlegging moet maak.

21 Februarie 1996

‘n Spesiale Dosentevergadering bespreek ‘n memorandum van professor A.G. van Aarde wat ‘n konsepverklaring oor die kerklike belydenis aanbied. Van Aarde is versoek om ná sy terugkeer uit die VSA die memorandum oor te skryf om die konsensus van die vergadering te weerspieël.

12 Maart 1996

Die Fakulteit keur die Reglement vir die toekenning van die Fakulteitsmedalje van die Fakulteit Teologie (Afdeling A) goed. Die toekenning bestaan uit die medalje tesame met ‘n kontantbedrag soos jaarliks bepaal, en word toegeken aan enige persoon wat na die oordeel van die Fakulteit uitnemende prestasie op die terrein van die teologiese wetenskap en/of ‘n besondere bydrae tot die uitbou van die teologie gelewer het.

Die volgende onderwerpe vir proefskrifte is goedgekeur: G.S. Botha ‘Die optimale betrokkenheid van die laerskoolkind in die erediens’ en W.A. Dreyer: ‘Kerk, Volk en Owerheid. ‘n Hervormde Perspektief”. M.J. Manala is toegelaat tot die studie vir die graad BA(Hons) Teologie.

19 Maart 1996

Die Kuratorium neem kennis van die Dekaansverslag oor die jaar 1995.Daar was ses studente ingeskryf vir BA(Teol) en 23 vir BD, drie vir BA Hons(Teol), een vir MA (Teol), 25 vir MDiv, twee vir PhD en 22 vir DD. Paragraaf 7 van die verslag, Besinning oor Teologiese Opleiding, is na die Dosentevergadering terugv erwys om dit in so ‘n toeganklike taal as moontlik vir die Kerk te vertaal. Die verklaring met instemming van al die dosente moet gereed wees om voor die Kuratoriumvergadering van 21 Mei 1996 te dien, en moet in Die Hervormer gepubliseer word. Die vergadering het verder besluit om die MA (Teol) graad as ‘n teologiegraad te erken en dit in aanmerking te neem vir beurse vir nagraadse studie, en het kennis geneem dat de moontlikheid van befondsing van nagraadse studie vir studente van HTO ondersoek word.

27 Maart 1996

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het kennis geneem van ‘n skrywe van die Kerkraad van Volksrust (predikant P. Buitendag) waarin aangevoer is dat die teologiese dosente op die Algemene Kerkvergadering die besluitneming beïnvloed het , dat professor Pelser en ander teoloë die kerk se Belydenisskrifte verdag gemaak het, dat die verklaring oor lidmaatskap tot onrus stem, dat daar ingrypende besluite geneem is wat die predikantstatus losmaak van ‘n standplaas, en dat die besluiit oor multikulturele bediening ‘n ondermyning is van die volkskerkgedagte. In die bespreking oor hierdie skrywe het ouderling M.F. Pretorius die mening uitgespreek dat die dosente met hulle optrede verantwoordelik is dat daar kritiek van dié aard uitgespreek word, en die voorsitter, doktor D.J.C. van Wyk, het daarby aangesluit en beweer dat die dosente verantwoordelik is vir die opvatting wat tans in die Kerk bestaan dat die dosente die Algemene Kerkvergadering in ‘n mate gemanipuleer het.

Die dosente moet selfondersoek toepas en krities teenoor hulle optrede gaan staan. Hulle moet sorg dra dat daar nie weer in die toekoms so opgetree word dat daar agterdog teenoor hulle ontstaan nie.

Dat professor A.P.B. Breytenbach vir ouderling Pretorius weerspreek het, het die voorsitter nie daarvan weerhou om hierdie uitspraak te maak nie. Inderdaad het die Kommissie besluit dat die Kerkraad bedank word vir hulle skrywe en dat die lid van die Kommissie wat die Ringsvergadering van Noord-Natal bywoon, gesprek moet voer met die Kerkraad. Bowendien is die redakteur van Die Hervormer versoek om aan die optrede van die dosente as adviseurs by die Algemene Kerkvergadering in ‘n artikel aandag te gee. [!!!]

Die Kommissie het in hierdie vergadering ook kennis geneem van die onderwerpe wat deur die Raad vir Kerk en Teologie geïdentifiseer is vir studie en bespreking en het die versoek toegestaan dat ‘n verkleinde raad saamgestel word. As lede is benoem professor S.J. Botha (sameroeper), J.H. Koekemoer, H.G. van der Westhuizen, A.G. van Aarde, doktor J.H. Breytenbach, dominees W.C.M. de Beer, A.T. McDonald, en ouderlinge J.L.O. Esterhuizen en M.F. Pretorius.

Kennis is geneem van ‘n verslag van die Dosentevergadering oor die binding van ampsdraers en lidmate aan die Belydenisskrifte wat soos volg lui:

  • Die vergadering vereenselwig hom met die standpunte uitgespreek in die Nederduitsch Hervormde Kerk se memorandum oor Skrif en Belydenis aan die Tussenkerklike Kommissie, soos aanvaar deur die 62ste Algemene Kerkvergadering en herbevestig deur die 64ste Algemene Kerkvergadering.
  • Die vergadering meen dat die saak van openbaarmaking, soos in dieselfde memorandum bespreek, en die verband daarvan met akademiese vryheid ‘n toekomstige studietema kan wees.

Na aanleiding van ‘n skrywe van dominee S. Visser en doktor J.H. Breytenbach oor stellings van doktor P.B. Boshoff en professor A.G. van Aarde in die studiemateriaal van die afgelope V.T.T. kursus, het die Kommissie besluit:

  1. Professor Koekemoer word versoek om ernstig aandag te gee dat die aanbieders van die V.T.T. kursus nie die kursus gebruik om persoonlike, afwykende standpunte te stel nie.
  2. Ernstige vermaning in die verband moet aan die aanbieders van die V.T.T. kursus gerig word.

Die Kommissie het kennis geneem van ‘n verslag van die werkwinkel oor teologiese opleiding wat op 20–21 Oktober 1995 plaasgevind het.

16 en 22 April 1996

Die Dosentevergadering verneem dat die HSV-Van der Hoff-konserttoer baie suksesvol verloop het. Die vergadering het ‘n verslag oor die Ebenhaezer–Kerk gefinaliseer.

21 Mei 1996

Die Kuratorium het op aanbeveling van die Evaluasiekomitee nege studente as studente van die kerk erken en aan hulle beurslenings toegeken. Die Verklaring van die Dosentevergadering is met dank aanvaar en daar is besluit om dit deur te stuur na die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering. Dit lui soos volg:

Sedert die bekendmaking van die Hervormingsdaggetuienis het die teologiese debat binne die kerk in felheid toegeneem. Omdat die teologiebeoefening in die Fakulteit ook hierdeur aangespreek word, het die dosente nie alleen aan die debat deelgeneem nie, maar ook binne die Fakulteit indringende debat gevoer. Daar bestaan by die dosente eenstemmigheid oor hulle onderskrywing van die kerklike belydenis en hulle identifisering met die kerk se belydenistradisie. Teologie is vir die dosente kerklike teologie. Hoewel dit wetenskaplike denkarbeid veronderstel, staan dit vir ons nooit los van die Heilge Skrif en die kerklike belydenisskrifte nie. Dit word ook nie in ‘n vakuum beoefen nie, maar is ten dienste van die verkondiging van die evangelie deur die Kerk in die wêreld. Dit is waar dat ons in die Fakulteit ons afgegrens het teen fundamentalistiese en liberalistiese denksrukture. In ‘n keuse van ‘n teologiese idioom voel die lede van die Fakulteit hulle tuis binne ‘n teologie waar dit om die verwoording van die onmoeting tussen God en mens gaan. Ons wil dit duidelik stel dat hier nie van subjektiewe willekeur sprake is nie. Ons leef binne ‘n bepaalde geloofs- en belydenistradisie. Daarom is teologie vir ons denkarbeid ten dienste van die kerklike verkondiging wat die Kerk se belydenistradisie ernstig neem. Immers, die belydenis funksioneer vir ons primer in die Kerk as norm en reël van die prediking. Die kerklike leer is dus vir ons belangrik, omdat dit geplaas word binne die onmoetingsgebeure met God ten dienste van ‘n nuwe ontmoeting.

Vir ons vorm die reformatoriese belydenisskrifte, waarin die ekumeniese simbole opgeneem is, die bakermat van die Nederduitsch Hervormde Kerk. Daarom behoort hierdie geskrifte nie in die vergetelheid te verdwyn nie. Sedert die Kerkhervorming is hierdie dokumente immers die getuienis van ‘n kerklike tradisie waarvan ons onlosmaaklik deel is.

Die Dosentevergadering wil die Kerk opnuut van die volgende verseker:

  • Die dosente staan nog steeds by hulle ondertekening van die Proponents-ondertekeningsformule
  • Die geloofsoortuiging wat in die artikels oor die maagdelike geboorte en die opstanding van Christus in die belydenisskrifte verwoord word, is vir alle dosente ‘n saak van erns wat ons in die onderrig van studente en in die prediking met vrymoedigheid verkondig
  • In ons kritiese teologiebeoefening poog ons steeds om die geloofsoortuiging van die belydenisskrifte vir ons eie tyd te verwoord.

18 en 21 Junie 1996

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering neem kennis dat die Raad vir Kerk en Teologie gekonstitueer het met professor S.J. Botha as voorsitter, ouderling M.F. Pretorius as visevoorsitter en professor A.G. van Aarde as sekretaris. Die Raad het in ‘n skrywe die Kommissie geadviseer om met die formele inhoud van ‘n skrywe van professor S.J. Botha saam te stem en het sy mening onderskryf dat ‘n predikant tegnies sy binding aan die Proponentsondertekeningsformule opskort indien hy openlik verklaar dat die leer soos uitgedruk in die Belydenisskrifte nie meer aanvaar word nie. Die Kommissie het ook bespreking gevoer oor die verklaring van die dosente en oor die aktwiteite van die Loodskomitee van die ‘Verbond.’ ‘n Verslag van die Dosentevergadering oor die Eben Haëzerkerk en die beginsel van modaliteite in die kerk is bespreek. Die Eben Haëzerkerk het by die 64ste Algemene Kerkvergadering aansoek gedoen om as ‘n Gereformeerde Bondsgemeente binne die Kerk opgeneem te word. Die Dosentevergadering het aanbeveel dat die gemeente nie as ‘n modaliteitsgemeente nie maar as ‘n buitengewone gemeente in die Kerk geakkomodeer moet word met die duidelike verstandhouding dat assimilasie as doel nagestreef word, en die Kommissie het dit so aanvaar. Die Kommissie het egter nie die aanbeveling aanvaar dat die modaliteisverskynsel sterk teengestaan moet word nie. Kennis is ook geneem van ‘n uitvoerige studie van professor S.J. Botha oor die historiese agtergrond van die modaliteitsverskynsel.

18 Julie 1996

Doktor V.E. Hesse, voorsitter van die Raad, woon die Fakulteitsvergadering by en oorhandig die langdienstoekenning aan professor A.P.B. Breytenbach. Die dekaan het melding gemaak van Breytenbach se intellektuele vermoëns en sy leierseienskappe, sy formuleringsvermoë en deurdagte teologie. Doktor Hesse het gemeld dat Breytenbach ook baie vir die studentegemeenskap beteken het. Die Fakulteit het J.H. Koekemoer genomineer as dekaan en A.P.B. Breytenbach as plaasvervangende dekaan. J.M.M. Motlaba is toegelaat tot die studie vir die BA(Hons) Teologie.

23 Julie 1996

In ‘n buitengewone vergadering van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering is bespreking gevoer oor die finansiële krisis in die Kerk en is besluit om nie die heffingsbedrag te verhoog nie. Wat die Fakulteit Teologie (Afdeling A) betref, is bevind dat die personeelstaat met vier poste verminder behoort te word.

13 Augustus 1996

Die Dosentevergadering besluit dat indringende herkurrikulering onverwyld aandag moet kry, dat van die blokstelsel wegbeweeg moet word en dat ‘n fakulteitsberaad belê moet word vir 17–19 Oktober 1996 waar gehandel sal word oor die belydenis en oor ‘n nuwe kurrikulum.

21 Augustus 1996

Die Dosentevergadering hou ‘n spesiale byeenkoms met die voorsitter van die Kuratorium, dominee P.A. Geyser, en die Administrateur, mnr L. de Munnik, ook teenwoordig. Eenstemmigheid word bereik oor ‘n besparing in 1997 van R278 000. Verslag is ontvang van ‘n samespreking met ‘n verteenwoordiger van Nasionale Kolleges oor ‘n projek om korrespondensiekursusse in teologie daar te stel en die dekaan en waarnemende dekaan word benoem op ‘n komitee om saam met Afdeling B. in te gaan op die moontlikheid van akademiese en gemeenskapskursusse. Die instelling van ‘n nuwe rooster is uitgestel tot 1998.

27 Augustus 1996

Die Kuratorium het ‘n voorgestelde rasionalisasieprogram van die Dosentevergadering goedgekeur. Dit het onder andere behels dat met professor J.J. Engelbrecht onderhandel word oor vervroegde aftrede, dat professor G.M.M. Pelser oorgeplaas word na Bybelkunde en dat professor L.J.S. Steenkamp as hulpdosent betrek word vir Godsdiensfilosofie. ‘n Begroting van R1174 834 is goedgekeur vir voorlegging aan die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering. Kennis is geneem van die notule van ‘n gesamentlike vergadering van die Dosentevergadering en die Kuratorium op 01 Februarie 1996. ‘n Memorandum van professor Loader oor teologiese onderrig is aanvaar om deel te word van die deurlopende gesprek oor die herkurrikuleringsprogram.

11 September 1996

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering en die Raad van Finansies het in ‘n gesamentlike sitting besluit om die besparingsvoorstelle van die Kuratorium te aanvaar, naamlik dat professor J.J. Engelbrecht met volle pensioen vervroegde emeritaat aanvaar, dat professor G.M.M. Pelser oorgeplaas word na Bybelkunde, dat dominee P.A. Geyser as tydelik-deeltydse dosent met die dosering van Bybelkunde sal help en dat die vergoeding van die redakteur van Hervormde Teologiese Studies verminder word.

19–20 September 1996

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering besluit om nie die bedanking van professor G.M.M. Pelser van die Raad vir Belydenis- en Liturgiese Geskrifte te aanvaar nie en om met hom in gesprek te tree. Op ‘n navraag van die kerkraad van Makwassie oor Pelser se uitlatings op die vorige Algemene Kerkvergadering, het die Kommissie geantwoord dat hy herhaaldelik onder opsig met professor Pelser gehandel het en hom vermaan het, die Kuratorium en Dosentevergadering het ook met hom gesprek gevoer oor die aangeleentheid. Die Kommissie is tevrede dat professor Pelser hom aan die Kerk se belydenis onderwerp en die Belydenisskrifte aanvaar. Die Kommissie beskou die saak as afgehandel.

07 Oktober 1996

Die Raad keur goed dat in elk van die twee afdelings van die Fakulteit Teologie ‘n dekaan aangestel word, dat dit soortgelyk aan die aanstelling van ander dekane gehanteer sal word, en dat professor J.H. Koekemoer as dekaan en professor A.P.B. Breytenbach as adjunk-dekaan van Afdeling A aangestel word.

Die Raad benoem professor W.C. van Wyk as lid van die Vaste Komitee van die Raad.

08 Oktober 1996

Die Dosentevergadering wens professor Johan van Zyl geluk met sy aanwysing as rektor en verwelkom professore Beukes en Steenkamp terug na ‘n studiereis in Europa. ‘n Finale verslag oor die kultuuropdrag van die kerk is aanvaar. Kennis is geneem dat ‘n dekanekomitee tussen die twee Fakulteitsafdelings gevorm is en dat dié ‘n komitee benoem het bestaan uit professore Van der Merwe, Van Aarde, Muller en De Villiers. Kennis is ook geneem van ‘n skrywe van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering wat meld dat die verklaring van die Dosentevergadering oor sy binding aan die Belydenisskrifte met instemming behandel is.

17–18 Oktober 1996

‘n Fakulteitsberaad word gehou in die Aventura Konferensiesentrum, Warmbad. Onder die belangrikste besluite is die volgende:

  1. Die Missie vir kerklike teologiese opleiding moet behoorlik geformuleer word en daarnaas ook ‘n Visie.
  2. Die opleiding behoort in die medium termyn by Universiteit van Pretoria te bly.
  3. Die kurrikulum word herevalueer aan die hand van die nuwe situasie, nuwe behoeftes en eise.
  4. Die profiel beskrywing van die predikant moet aangepas en vir vroulike sowel as manlike predikante geld.
  5. BA (Teol) moet in samewerking met Afdeling B herkurrikuleer en moduleer word, met die oog op gemeenskaplike leerplanne en teologiese korresondensiekursusse.
  6. Praktiese Opleiding moet behoorlik kurrikuleer word.
  7. Die Kuratorium en die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering moet oor alles ingelig word.

07 November 1996

Die Dosentevergadering neem kennis dat professor J.J. Engelbrecht einde Februarie 1997 sal aftree. Professor P.J. van der Merwe is aangewys as waarnemende dekaan in 1997 wanneer professor A.P.B. Breytenbach met lang- en studieverlof sal wees.

21–22 November 1996

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering besluit op aanbeveling van die dekaan dat professor Pelser in die Departement Nuwe Testamentiese Wetenskap aanbly en dat die pos in Bybelkunde gevul word deur die aanstelling van ‘n senior lektor. Professor P.S. Dreyer wat sedert Mei 1954 onafgebroke ouderlinglid van die Kommissie was, het as sodanig bedank vanweë sy doofheid.

25 November 1996

Die Dosentevergadering bespreek die derde konsep van die voorgestelde nuwe kerkorde en maak voorstelle vir wysiging.

1997

27 Januarie 1997

Die Dosentevergadering verwelkom professor L.C. Bezuidenhout terug na sy rugoperasie en siekteverlof in 1996. Kennis is geneem dat professor C.R. de Beer aangewys is as vise-rektor vir Teologie. Dominee P.A. Geyser is aanbeveel vir benoeming in die Bybelkunde-pos wat vakant geraak het. Rasionalisering by H.T.O. het daartoe gelei dat net professor I.W.C. van Wyk oorgebly het van die voltydse dosente, wat beteken dat die grootste deel van die onderrig daar ook deur hierdie Fakulteit onderneem moet word. Kennis is geneem van die verslag van professore Beukes en Steenkamp oor hulle studiereis, waartydens hulle sentra in Nederland, Duitsland, Skotland en Switserland besoek het wat te doen het met die praktiese opleiding van predikante. Kennis is geneem dat rekenaar-apparaat gesteel is en dat diefwering voor die vensters geïnstalleer sal word.

11 Maart 1997

Die Fakulteit aanvaar die hersiene reglement van die SVTT, nou die Sentrum vir Teologiese Navorsing en Toerusting (STNT) met as personeel ‘n Direkteur Navorsing en Voortgesette Teologiese Toerusting en ‘n Direkteur Praktiese Toerusting. Kennis is geneem dat professore Van Aarde en Venter in die hospitaal is, en dat die S.P. Engelbrecht –Erepenning toegeken is aan W.A. Dreyer en in brons aan J. de Bruin. L.B. Madikizela is toegelaat tot die studie vir BA (Hons) Teologie.

Die Dosentevergadering neem kennis dat professor Van Aarde opgeneem is in die hospitaal en dat ‘n benoemde komitee bestaande uit professore Beukes en Dreyer en twee BD studente ‘n nuwe onderrigrooster voorgestel het.

18 Maart 1997

Die Kuratorium verwelkom die nuwe Administrateur, meneer J.F. Viljoen, en so ook professor L.C. Bezuidenhout wat departementshoof geword het na die uittrede van professor J.J. Engelbrecht. Op aanbeveling van die Dosentevergadering is dominee P.A. Geyser as senior lektor benoem in die vakante Bybelkunde-pos.

Petrus Albertus Geyser is gebore op 14 Januarie 1944. Sy ouers was Gabriel Jacobus Geyser en Petronella Jacoba Steyn. Hy besoek die Laerskool Auckland Park en matrikuleer in 1961 aan die Hoër Seunskool Helpmekaar in Johannesburg, behaal die BA-graad met lof in 1965, BD in 1968, BA Hons in Grieks met lof in 1970. Hy word georden op 18 Februarie 1968 en bedien agtereenvolgens die gemeentes Pretoria-Suid, Delareyville, Pollakpark-Springs en Noordelike Pretoria. In 1980 word hy benoem as direkteur van Kital waar hy sewentien jaar lank besondere diens lewer as kursusaanbieder en fasiliteerder. Hy dien op verskillende kerklike rade, onder andere die Kuratorium, waarvan hy voorsitter was in 1995–1997. Vanaf 1975 tot 1978 is hy deeltydse dosent in Bybelkunde, en vanaf 1979 tot 1996 deeltydse dosent in Nuwe Testamentiese Wetenskap. Hy lei twee buitelandse argeologiese toere, en is lid van die Nuwe Testamentiese Werkgemeenskap van Suid-Afrika. Teen die tyd van hierdie benoeming was hy ‘n ervare teoloog wat reeds etlike wetenskaplike artikels in Hervormde Teologiese Studies en talle populêr-wetenskaplike bydraes in Die Hervormer gelewer het.

Die visevoorsitter van die Kuratorium, dominee A.P.J. Beukes, het die voorsitterstoel ingeneem ná die benoeming van dominee P.A. Geyser as dosent. Die Kuratorium het verder kennis geneem van die verslag van die Dekaan oor die jaar 1996 waarby ingesluit was ‘n verslag oor die fakulteitsberaad op Warmbad, en het onder andere besluit dat die Administrateur moet vasstel wat dit die Kerk sal kos om die hele opleiding vir sy rekening te neem. Kennis is ook geneem van ‘n verslag oor die navorsingsreis van professor Beukes en Steenkamp.

Vorderingsverslae is behandel en beurse toegeken op aanbeveling van die Beurskomitee.

20 Maart 1997

Die Kommissie het kennis geneem van ‘n gesprek tussen die Moderamen en professor A.G. van Aarde na aanleiding van opmerkings wat hy gemaak het tydens ‘n vergadering van die Raad vir Kerk en Teologie. ‘n Geredigeerde bandopname van die gesprek in 21 bladsye, wat op 30 Januarie 1997 plaasgevind het, is as bylae by die agenda van die Kommissie-vergadering opgeneem. Daarvolgens het Van Aarde sy verduidelikings ingelui met wat hy genoem het ‘n paar sterk stellings:

Ek glo nie in die opstanding van die ‘vlees’ nie. Ek meen nie dat Maria geboorte gegee het sonder seksuele gemeenskap nie. Ek beskou nie die kanon as die ‘eerste’ outoriteit van die kerk nie.

Daardie gesprek het geëindig met opdragte aan doktor J.H. Breytenbach om vir die volgende vergadering ‘n memorandum voor te berei oor die vraag na moontlike strominge in die Kerk met betrekking tot die verhouding kerk-kultuur, en aan professor van Aarde om ‘n memorandum na aanleiding van sy mondelinge redevoering op te stel.

In die gesprek tussen Van Aarde en die Moderamen het professor T.F.J. Dreyer gesê dat die betrokke opmerkings van Van Aarde die indruk wek dat hy reeds buite die belydenis staan en dat die Kommissie daaraan aandag moet gee. Van Aarde het verklaar dat hy homself nie buite die belydenis van die Kerk ag nie, hom neerlê by die ondertekening van die Proponentsondertekeningsformule en saam met die Kerk en soos die Kerk bely. Hy het verder gesê dat hy saam met die belydenis van die opstanding van die vlees as apologie aan die Gnostiek stem en wat betref die maagdelike geboorte vanuit die eksegese moet kyk of die belydenis nagesê kan word. Die Nuwe Testament bely nie die maagdelike geboorte nie. Die belydenis het eers in die tweede eeu gekom. Hy het in dié verband verwys na sy artikel in Hervormde Teologiese Studies Jaargang 56/4 ‘Besinning oor die interpretasie van die geloof wat in die belydenis van die maagdelike verwekking van Jesus geleer word.’ Die Kommissie het besluit dat die memorandum van Van Aarde afgewag word, en die Raad vir Kerk en Teologie is versoek om verslag te lewer oor die memorandum en advies aan die Kommissie te gee.

Die Kommissie het ook aandag gegee aan ‘n finale verslag van die Dosentevergadering oor Kerk en Kultuur, met paragrawe oor Die begrip kultuur en aanverwante begrippe, Kultuur dieper betrag, Kerk as kultuurverskynsel en as liggaam van Christus, Kultuur, identiteit, volk en volkskerk, Burgerlike godsdiens en burgerlike teologie. Die verslag sluit af met ‘n Ten Slotte:

Die kerk is op ‘n intieme wyse met kultuur verweef en kan hom net so min daaraan ontstrengel as wat ‘n mens van sy eie skaduwee kan ontsnap. Saam met Barth moet die goddelike aard van die kerk se roeping bely word, ten spyte daarvan dat die kerk wel as religie en kultuurverskynsel onderken word. Die roeping van die kerk teenoor volk en kultuur is apostolêr en profeties, hoe moeilik dit ook mag wees.

Die Kommissie het besluit dat die gesprek oor Kerk en Kultuur voortgesit word en dat hy hom vereenselwig met die samevatting aan die einde van die verslag. Die benoeming van dominee P.A. Geyser in die Bybelkunde-pos is goedgekeur, en toestemming is verleen dat doktor J.A. van Biljon en dominee J. Coetzee spesialistehulp in die Fakulteit kan verleen.

Die Kommissie het in hierdie vergadering ‘n herderlike skrywe, opgestel dur die voorsitter, doktor D.J.C. van Wyk, goedgekeur wat hoofsaaklik oor Skrifbeskouing handel. Daarin word die fundamentalistiese standpunt en die modernisme (Modernisties-kritiese metode?) afgewys en word as positiewe formulering van wat die Kerk oor die Bybel as die Woord van God verstaan en bely, aangehaal uit die notule van die 61ste Algemene Kerkvergadering (1986) waar die Tussenkerklike Kommissie se uitspraak oor die Bybel as Woord van God met instemming opgeneem is.

13 Mei 1997

Die Dosentevergadering verwelkom professor van Aarde terug na sy enrstige en lang siekte. ‘n Nuwe onderrigrooster is aanvaar waarvolgens Ou Testamentiese Wetenskap en Nuwe Testamentiese Wetenskap deur die jaar plek sal hê en die ander vakke steeds bloksgewys aangebied sal word. Besluit is dat professor Steenkamp vir professor van Aarde sal vervang op die Gesamentlike Onderrigkomitee, as voorsitter van die Hermeneutiese Studiegroep en as organiseerder van simposia

14 Mei 1997

Die Senaat keur die Reglement vir die Sentrum vir Teologiese Navorsing en Toerusting in die Fakulteit Teologie Nederduitsch Hervormde Kerk (STNT) goed.

15 Mei 1997

Professor L.C. Bezuidenhout hou sy intreerede.

27 Mei 1997

Die Fakulteit keur ‘n stuk oor die bestuur van veeltaligheid aan die Universiteit goed vir deursending aan die Senaat en ondersteun voorstelle oor herstrukturering van die Akademiese Beplanningskomitee en die Senaat.

29 Mei 1997

‘n Samespreking tussen lede van die Dosentevergadering, Sendingraad, Kuratorium en Raad van Finansies vind plaas met die doel om die dekaan van inligting en standpunte te voorsien met die oog op die samestelling van ‘n strategiese dokument wat hy moet opstel oor die Fakulteit se visie en beplanning vir die volgende 5–6 jaar.

19–20 Junie 1997

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering benoem dominee W.S. Prinsloo as lid van die Kuratorium in die plek van dominee P.A. Geyser.

30 Junie - 04 Julie 1997

Die 64ste Algemene Kerkvergadering het ‘n buitengewone sitting gehou vir behandeling van ‘n konsep Kerkorde wat vanaf 1989 sy ontstaan gehad het. Professor S.J. Botha, voorsitter van die Komitee vir Herskrywing van die Kerkwet, kon om gesondheidsredes nie teenwoordig wees nie en het ‘n skrywe aan die vergadering gerig waarin hy onder andere die volgende gestel het:

Hierdie is ‘n eerlike en opregte poging om aan die Nederduitsch Hervormde Kerk ‘n Kerkorde voor te lê wat in die eerste plek Skriftuurlik verantwoord, tweedens belydenisgebonde en derdens in lyn met die verlede is. […] Die Konsep Kerkorde is verder ‘n poging om aan ons kerkbegrip gestalte, organisasie of struktuur te gee. […] Die Konsep wat aan u voorgelê word, is die produk van indringende en langdurige besinning en debat wat op ‘n verantwoordelike en eerbare wyse gevoer is.

Onder die groeteboodskappe wat ontvang is, was daar ook een van die ‘Vrye Republikeinse Beweging.’ In vergelyking met die Wet en Bepalings van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika wat sinds 1951 telkens met wysigings gedien het, verteenwoordig hierdie Kerkorde ‘n drastiese verandering in die kerklike selfbeskouing. Opvallend is eerstens die terminologie. Waar daar vroeër sprake was van ‘n kerkwet met artikels en bepalings, het dit nou geword ‘n kerkorde met ordereëls en ordinansies. Wat betref die opleiding en vorming van dienaars van die Woord, lees Ordinansie 2 (Ampte) soos volg:

Dienaars van die Woord: Opleiding en vorming van dienaars van die Woord

Voornemende predikante van die Kerk word aan die Fakulteit Teologie (Afdeling A.) aan die Universiteit van Pretoria opgelei.

2.1.1.1Kuratorium

(a) Die Algemene Kerkvergadering benoem ‘n Kuratorium en sekundi.

(b) Die Kuratorium hou toesig oor die teologiese opleiding van die Kerk

(c) ‘n Tussentydse vakature word deur die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering gevul

i.Samestelling

Die Kuratorium bestaan uit

(a) sewe lede waarvan ten minste vyf predikante moet wees

(b) die volgende adviserende lede:

  • die hoofde van die departemente van die Fakulteit Teologie (Afdeling A.) of hulle verteenwoordigers
  • ’n voltydse dosent van die Kerk by HTO.
  • dosente, deeltydse dosente in teologie, studentepredikante en die Administrateur op uitnodiging

ii. Werkopdrag

Die Kuratorium

(a) benoem, in opdrag van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, dosente in die teologie soos bepaal deur die Kerkorde

(b) sien toe dat studente van die Kerk wat tot die opleiding toegelaat word aan die vereistes voldoen

(c) hou opsig oor die onderrig deur teologiese dosente en oor die vordering en gedrag van teologiese studente van die Kerk

(d) adviseer die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering oor die vergoeding van teologiese dosente

(e) adviseer die Raad van Finansies oor finansiële hulp aan studente van die Kerk

(f) lewer na afloop van die akademiese jaar verslag aan die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering oor sy werksaamhede

(g) lewer verslag aan die gewone Algemene Kerkvergadering oor sy werksaamhede

(h) adviseer die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering oor die benoeming van lede vir die Proponentseksamenkommissie

(i) dien ‘n naamlys van kandidate wat aan die vereistes vir die proponentseksamen van die Kerk voldoen by die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering in

iii. Werkwyse

Die Kuratorium

(a) benoem by sy eerste sitting ‘n voorsitter en visevoorsitter uit die verkose lede

(b) benoem ‘n dagbestuur bestaande uit die voorsitter, visevoorsitter en twee lede

(c) bepaal die orde waarvolgens hy werk, en vergader minstens twee keer per jaar

(d) kan sonder die adviserende lede vergader indien omstandighede dit vereis

(e) se sekretariaat word behartig deur die kantoor van die Administrateur

2.1.1.2 Prosedure by toelating tot die opleiding

(1) ‘n Aansoek om toelating word skriftelik by die Administrateur gedoen

(ii) Die volgende stukke word saam met die aansoek ingedien:

(a) bewys van lidmaatskap

(b) getuigskrif van die kerkraad onder wie se sorg die aansoeker die voorafgaande twee jaar gestaan het

(c) bewys dat aan die toelatingsvereistes van die Universiteit voldoen is

(d) mediese sertifikaat

(e) aansoek om keuring deur die Kuratorium

2.1.1.3 Toelating as dienaar van die Woord

(i) Proponentseksamen

(a) ‘n Proponentseksamen word afgelê deur elke kandidaat wat toegelaat wil word as dienaar van die Woord

(b) Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering maak gebruik van ‘n Proponentseksamenkommissie

(c) Die proponentseksamen bestaan uit ‘n proefpreek en mondelinge eksaminering

(ii) Proefpreek

(a) Die dekaan van die Fakulteit teologie gee die name van die kandidate wat proefpreke hou aan die Kuratorium deur

(b) Die skriba van die Kuratorium stuur die name aan die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering

(c) Die voorsitter en sekretaris van die Proponentseksamenkommissie bepaal die datum, tyd en plek van proefpreke en stel die skriba van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering minstens ‘n maand voor die tyd daarvan in kennis

(d) ‘n Teologiese student lewer minstens twee maande voor die datum waarop die proefpreek gehou word, veertien kopieë van die proefpreek by die sekretaris van die Proponentseksamenkommissie in, en lewer een maand voor die datum waarop die proefpreek gehou word, kopieë van die proefpreek soos ooreengekom met die skriba, by die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering in

(e) ‘n Proefpreek word in ‘n erediens gehou en minstens twee lede van die Proponentseksamenkommissie , sowel as ‘n predikant en ‘n ouderling benoem deur die Ringskommissie waar die proefpreek gehou word, woon dit by

(f) Na die proefpreek word die proefpreek volledig met die kandidaat bespreek

(iii) Mondelinge eksaminering

(a) Voor die mondelinge eksaminering word die volgende stukke by die skriba van die Kuratorium ingedien:

  • bewys van lidmaatskap
  • bewys dat aan al die vereistes vir die BD graad aan die Fakulteit Teologie (Afdeling A.) voldoen is, of ‘n bewys dat die vereiste hospitering aan dieselfde fakulteit voltooi is
  • getuigskrif van die dekaan van die Fakulteit Teologie
  • getuigskrif van die opsighouende kerkraad van die kandidaat oor kerklike betrokkenheid
  • sertifikaat van praktiese opleiding

(b) Die Kuratorium gaan hierdie stukke na en lê ‘n verslag wat die volgende bevat aan die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering voor

  • die name van die kandidate vir eksaminering
  • ‘n verklaring dat die vereiste stukke in orde is en dat die kandidate bevoeg is om ondervra te word

(c) Die datum van die mondelinge eksamen word bepaal deur die voorsitter en sekretaris van die proponentseksamenkommissie in oorleg met die skriba van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering

(d) In die mondelinge eksamen word ‘n gesprek met elke kandidaat afsonderlik gevoer oor die dienswerk van die predikant. In die gesprek word onder meer

  • bepaal of die kandidaat voldoende kennis van die Bybel, die belydenisskrifte en die Kerkorde het om predikant te word
  • vasgestel of die kandidaat se gesindheid en lewenswandel gedurende die opleiding so gevorm is dat die kandidaat vir die predikantsamp geskik is

(iv) Afwysing van kandidate

(a) Indien die dosente na gesprek met ‘n student van oordeel is dat die betrokke student nie geskik is om predikant te word nie, stel die dekaan die Kuratorium skriftelik daarvan in kennis met opgaaf van redes. Indien die Kuratorium na so ‘n gesprek tot dieselfde bevinding kom, of op eie inisiatief tot ‘n negatiewe bevinding kom, stel hy die student skriftelik daarvan in kennis.

(b) ‘n Student kan ‘n beroep doen op die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering en versoek dat die beslissing van die Kuratorium heroorweeg word. Indien die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering die beslissing handhaaf en die student dan nog nie tevrede is nie, kan ‘n beroep op die Algemene Kerkvergadering gedoen word, soos bepaal deur die Kerkorde.

Daar is verder ook nog voorskrifte vir teologiese studente uit ander kerke, vir proponente en predikante uit ander kerke, en oor die voorrregte van ‘n proponent

Wat die teologiese dosente betref, bepaal ordinansie 2.1.17.1 die volgende:

Predikante wat teologie doseer

(i) Teologiese dosente wat teologie doseer, word deur die Kuratorium vir ‘n bepaalde vakoprag en opleidingsentrum benoem uit predikante van die Kerk wat reeds in die teologie gepromoveer het

(ii) Die benoeming(s) word aan die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering voorgelê vir bekragtiging, en waar van toepasssing, vir voorlegging aan die Universiteit van Pretoria

(iii) Indien die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering die benoeming(s) nie goedkeur nie, word die saak na die Kuratorium terugverwys

(iv) Indien ooreenstemming nog nie bereik word nie, vergader die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering en die Kuratorium saam onder leiding van die voorsitter van die Kuratorium, en maak dan ‘n benoeming

(v) Die Kuratorium kan in oorleg met alle betrokkenes en met bekragtiging van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering die vakopdrag en opleidingsentrum waaraan ‘n teologiese dosent verbonde is, verander.

Ander voorskrifte in die nuwe Kerkorde wat opval, is

1.1 Die leer van die kerk soos verwoord in die belydenisskrifte geld vir ons as

1.1.4 maatstaf vir teologiese onderrig en uitsprake

2.1.3 (vi) ‘n Predikant of proponent wat ‘n vakature laat ontstaan deur ‘n beroep te aanvaar, of wat ‘n vakature laat voortduur deur ‘n beroep te bedank, is nie weer na daardie vakante standplaas beroepbaar nie

2.1.9 (i) Emeritaat kan op versoek verleen word na (a) 25 jaar diens, of (b) bereiking van die ouderdom van 55 jaar

3.10.1 (ii) met die oog op rotasie dien geen ampsdraer vir langer

as twee termyne op die Kommissie nie.

Hierdie Kerkorde het ook voorsiening gemaak vir afsonderlike ouderling- en diakenvergaderings naas die kerkraadsvergadering, vir Ringsdiakensvergaderings en vir ‘n Algemene Diakenvergadering. Ringsvergaderings word saamgestel uit predikante en twee ouderlinge uit elke gemeente, die Algemene Kerkvergadering uit predikante en een ouderling uit elke gemeente.

In Ordereël 4word ter inleiding oor die gemeente gestel:

‘n Gemeente is:

‘n Gemeenskap van gelowiges wat selfstandig georganiseer is en deur die eenheid in geloof en belydenis saam met al die ander gemeentes die Kerk is,

die wyse waarop die Kerk op ‘n bepaalde plek bestaan.

Die Kerk is:

‘n volkskerk met sy eie kerklike kultuur, geskiedenis, taal en tradisie wat geroepe is tot die verkondiging van die evangelie van Jesus Christus aan die Afrikanervolk en tegelyk aan alle mense.

[Gelees saam met die inleidende bewoording vooraan die Kerkorde, roep hierdie bewoording ernstige vrae op. Daar word gestel: Die roeping van die kerk is om die blye boodskap van Jesus Christus, die gekruisigde en opgestane Heer, as die enigste Verlosser te bely en in die wêreld te verkondig. Die ‘in die wêreld’ word in Ordereël 4 ingeperk tot ‘aan die Afrikanervolk en tegelyk aan alle mense’ sonder dat die ‘tegelyk’ verklaar word.]

‘n Teenstem teen aanvaarding van die genoemde inleiding tot Ordereël 4 is aangeteken deur professor L.C. Bezuidenhout. Teen die aanvaarding van ordinansie 4.2 oor andersoortige gemeentes is teenstemme aangeteken deur doktor J.J.Steenkamp, dominee G.J.M. Wolmarans, doktor J.H. Breytenbach, dominee S. Visser, ouderling P.J.A. van Niekerk (Sannieshof), dominee R.L. van der Westhuizen en ouderling J.P. du Plessis (Lichtenburg-Oos).

17 Julie 1997

Die Fakulteit neem kennis dat professor A.P.B. Breytenbach met studieverlof is, dat professor A.G. van Aarde oorsee is en dat professor S.J. Botha siek is. Die onderwerp vir die proefskrif van J. Otto is goedgekeur, naamlik ‘Chalcedon op pad na die 21e eeu. ‘n Soeke na ‘n eietydse formulering van die twee nature leer.’

Die Dosentevergadering neem kennis dat student Thomas Dreyer nasionale kleure in lewensredding verwerf het en lid is van ‘n nasionale span wat in Augustus in Finland gaan kompeteer. Die Dosentevergadering neem verder kennis van ‘n gesprek van die dekaan en die sekretaris met die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering waar besluit is dat die Moderamen in die toekoms liewer persoonlik met die sekretaris en moontlik die dekaan gesprek sal voer ter wille van goeie kommunikasie oor sensitiewe sake. Die gevoel van die Dosentevergadering is ook oorgedra dat in die gees van Bepaling 81 die herderlike skrywe aan die Dosentevergadering voorgelê moes gewees het vir pre-advies, en dat hulle bepaalde probleme met die skrywe het. Besluit is dat ‘n afvaardiging van die Dosentevergadering genooi sal word om met die Kommissie oor Skrifbeskouing gesprek te voer in September.

Die Dosentevergadering het verder ‘n uitvoerige memorandum van die Gesamentlike Onderrigkomitee behandel. Die komitee het verkennende gesprekke gevoer met Lutherse kerke en die Presbiteriaanse Kerk en het na verdere beraadslaging en konsultasie bevind dat die volgende aan kerke aangebied kan word:

  • n Driejarige graad- en diplomakursus in Teologie wat residensieel sowel as oor afstand aangebied kan word,
  • ‘n Hele program van nagraadse studie in Teologie: honneurs, magister en doktoraal
  • Kundige en ervare dosente in al die teologiese dissiplines
  • Dialogies kerklike opleiding wat aan die opleidingsbehoeftes van deelnemende kerke voldoen, maar ook aan die studente ekumeniese blootstelling bied.
  • Die moontlikheid dat voltydse of deeltydse dosente uit eie kerklike geledere aan die Fakulteit aangestel word, gedeeltelik deur die kerke self vergoed
  • Die geleentheid om verteenwoordigers op ‘n advieskomitee of –raad van die ekumeniese afdeling van die Fakulteit te benoem.

Die komitee het ook ‘n konsep kurrikulum vir ‘n Diploma in Teologie en BA(Teol) voorgelê. Die Dosentevergadering het besluit om sy globale ondersteuning vir die dokument uit te spreek, vir professor L.C. Bezuidenhout benoem as verdere lid van die komitee en aanbeveel dat ‘n gesamentlike vergadering of werkswinkel met Afdeling B. gehou word oor die voorstelle.

12 Augustus 1997

Die Hervormde Teologiese Studies-supplementum Immanuel Kant: Fundering vir die Metafisika van die Sedelikheid deur professor P.S. Dreyer word aan hom oorhandig by ‘n funksie in die Van Selms-Leeskamer.

Die Dosentevergadering het besluit dat die dekaan en sekretaris die vergadering se misnoeë met die tussentydse taalbeleid van die Universiteit aan die rektor moet oordra. Dit is gedoen in die volgende bewoording:

1. Daar word met teleurstelling kennis geneem van die feit dat in die taalbeleid afstand gedoen word van die kulturele agtergrond van die Universiteit. Dat taal net as kommuniksiemedium gesien word en niks weerspieël van dit wat hierdie universiteit gemaak het wat hy is nie, is moeilik aanvaarbaar. Dat ‘n universiteit nie ’n bydrae tot kulturele vorming het waarvan taal ‘n uitdrukkingsvorm is nie, is vir ons teleursellend.

2. Die interim taalbeleid, sonder die erkenning van Universiteit van Pretoria se kulturele tradisie kan op niks anders uitloop as die uiteindelike verdwyning van Afrikaans nie.

3. Ons sou ‘n meer positiewe houding oor UP se verantwoordelikeheid tot die uitbouing van Afrikaans as wetenskapstaal wou sien, sonder om eksklusief Afrikaans te wees.

4. Om Engels as onderrig- en wetenskapstaal te erken en inklusief te hanteer, beteken vir ons nie om jou eie agtergrond te ontken nie. Net vanuit eie tradisie kan die toekoms tegemoet getree word.

5. Die dosente verklaar graag hulle lojaliteit teenoor hulle alma mater in diens van die wetenskap. Ons kan egter net vir ander iets beteken as onsself nie in die proses op die altaar tot niet gaan nie.

14 Augustus 1997

Die Kuratorium neem kennis dat professor J.A. Loader ‘n aanstelling ontvang het in die Protestantse Teologiese Fakulteit in Wenen, Oostenryk, en wens hom geluk. Kennis is geneem dat die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering vir dominee W.P. Prinsloo benoem het as lid van die Kuratorium in die plek van dominee P.A. Geyser. Die Kuratorium het verder aanbeveel dat dominee Yolanda Dreyer in die plek van professor Loader as lid benoem word.

11 September 1997

Die rektor, professor J. van Zyl, besoek die Dosentevergadering en voer gesprek oor die interim-taalbeleid en die begroting vir 1998. Op ‘n vraag oor die toekoms van teologie aan Universiteit van Pretoria het hy geantwoord dat dit onwaarskynlik lyk dat die staat vir teologie se toekoms omgee. Topbestuur beskou teologie se posisie aan Universiteit van Pretoria egter as belangrik en wil dit graag in die stelsel verskans. Die feit dat kerke as vennote betrokke is, versterk ons posisie. Unisa se Fakulteit Teologie wou al die jare onafhanklik bly, maar dit beteken nou dat hulle alleen staan. Aan die ander kant is dit egter belangrik dat die huidige kerklike vennote nie eksklusiewe posisies probeer handhaaf nie. Dit sal die situasie juis vererger. Hy het ook aangekondig dat hy professor T.F.J. Dreyer se aansoek om ongeskiktheidspensioen goedgekeur het. Die dekaan het gereël dat die pos voorlopig nie gevul sal word nie en dat hyself as hoof van die Departement Praktiese Teologie sal optree.

19 September 1997

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering benoem doktor J.P. Labuschagne as lid van die Kuratorium in die plek van professor J.A. Loader. Daar is verder kennis geneem van ‘n skrywe van die Raad vir Kerk en Teologie met bylaes bestaande uit ‘Konform die Belydenis van die Opstanding en die Maagdelike geboorte’ deur A.G. van Aarde, ‘Teologiese strominge binne die NHKA’ deur T.F.J. Dreyer, ‘Kultuurimperialisme as ‘n hermeneutiese dilemma’ deur A.G. van Aarde en ‘Die aard en gewig van die verskille in die NHKA’ deur A.G. van Aarde. Die Kommissie se probleem was dat Van Aarde nie op die man af antwoord op vrae wat aan hom gestel is nie, dat hy vaag en ontwykend is, en het besluit om hom te nooi vir ‘n gesprek sodra hy terug is in die land. In hierdie vergadering het die Kommissie ook van die Raad vir Prediking en Erediens die nuwe Diensboek in ontvangs geneem. Nadat dominee A.P.J. Beukes lid van die Kommissie geword het en sy lidmaatskap van die Kuratorium verval het, is ouderling Gert Myburg van Louis Trichardt in sy plek op die Kuratorium benoem.

Die Dekanekomitee het op dieselfde dag sy eerste byeenkoms gehad. Die komitee is saamgestel uit die dekane van die twee fakulteitsafdelings en twee verteenwoordigers uit elk van die afdelings. Teenwoordig was van Afdeling A professore J.H. Koekemoer, P.J. van der Merwe en A.G. van Aarde, van Afdeling B. professore C.J. Wethmar, C.J.A. Vos en W.S. Prinsloo. Die konklusie soos saamgevat deur die voorsitter, professor Wethmar, was:

  • Die twee afdelings is bereid om saam te werk.
  • Hierdie Fakulteit rig hom primêr op opleidingsprogramme vir die kerklike bediening en daarmee saam op programme wat die wyer gemeenskap dien.
  • Die rektoraat moet versoek word om inligting te verskaf wat vir hierdie ondersoek en samesprekings relevant is en ons ook die nodige tyd gee om die proses af te handel.

Die Dekanekomitee het weer vergader op 19 September, 22 September, 29 September en 06 Oktober 1997 en gekom tot ‘n verklaring van voorneme.

14 Oktober 1997

Die Dosentevergadering neem kennis van die Verklaring van Voorneme soos gefinaliseer deur die Dekanekomitee:

  1. Die Fakulteit rig hom primêr op programme vir die kerklike bediening en ook op programme wat die Universiteit en die gemeenskap dien
  2. Die programme wat met die oog op kerklike bediening aangebied word, word sowel gerig op die besondere behoeftes van die deelnemende kerke as op behoeftes wat oor die grense van kerke strek
  3. ‘n Programgerige benadering sal strukturele en institusionele implikasies hê. Die Fakulteit ondersoek tans hierdie implikasies en is bereid om hulle, indien verantwoordbaar, te implementeer
  4. By die bepaling van nuwe institusionele strukture moet twee uitgangspunte met mekaar in ewewig gebring word: bestaande ooreenkomste met kerke, personeel en studente én proporsionaliteit wat tussen die deelnmende kerke bestaan ten opsigte van dosent-student-verhouding, finansiële posisie en aandele aan programme. Die konkrete implikasies hiervan word in onderhandelinge bepaal
  5. In die nuwe model word kerklike identiteit beskerm en paslike strukture en meganismes word gevind om dit te verseker
  6. Die Fakulteit is bereid om ander godsdienste se aansprake te akkomodeer in toepaslike programme
  7. Die omvangryke herstrukturering wat voorsien word, sal ‘n billike en realistiese oorgangstyd verg, veral teen die agtergrond van gevestigde belange. ‘n Tydskaal wat vir kort, medium- en langtermyndoelwitte voorsiening maak, sal opgestel word.

Die vise-rektor, professor de Beer, was gunstig beïndruk met die verklaring en het versoek dat ‘n uitgewerkte model aanstaande jaar op tafel moet wees vir implementering in 1999.

17 Oktober 1997

‘n Gesamentlike vergadering van die Kuratorium, die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering en die dosente het die situasie rondom die opleiding bespreek in die lig van die ontwikkelings op die gebied van die hoër onderwys.

November 1997

Die November-uitgawe van Konteks is gewy aan die 80-jarige bestaan van die Fakulteit.

Die redakteur, doktor P.J. de Beer, skryf onder die opskrif ‘n Goue tagtig onder andere:

Miskien is dit ‘n baie oppervlakkige waarneming, maar dit wil voorkom asof vorige verjaardae van ons Fakulteit met baie groter geesdrif gevier is as die huidige verjaardag wat getuig van tagtig goue jare wat agter die rug lê. Die atmosfeer is egter beslis meer somber en neerslagtig […] Die vrae van vyf jaar gelede soek nou dringend na antwoorde en oplossings. Dit wat toe reeds vermoed en aangevoel is, het nou ‘n koue saaklike werklikheid geword. Die byl lê aan die wortel.

Na bespreking van die universitêre en kerklike situasie noem hy dan twee voordelige, gerusstellende sake, naamlik dat die kerk in sy ganse geskiedenis nie so goed toegerus was om die huidige netelige situasie aan te pak nie, en dat die Fakulteit in sy teologiese arbeid ‘n besondere standaard van uitnemendheid bereik het.

Ons kan hierdie manne vertrou om vir die Kerk in die toekoms ‘n bedeling te skep wat aan die hoë eise wat die Heilige skrif, die Kerk en tyd vra, te voldoen.

Daar volg dan artikels oor die onderskeie vakgebiede en werksaamhede van die Fakulteit en die studentebedrywighede met foto’s. In die Christelike Vrou wat by dieselfde Konteks ingebind is, volg dan Vroue in die Fakulteit Teologie, waaronder die eerste vrouestudent sowel as eerste vrouedosent, Yolanda Dreyer, die eerste vroue-praeses van Van der Hoff, Jonanda Klopper, die twee sekretaresses, Hannie Pretorius en Adri Goosen, die vrou agter die dekaan, Issie Koekemoer, en foto’s van ‘n aantal vrouepredikante by die jongste Predikantevergadering.

06 November 1997

Die Dosentevergadering neem kennis dat Jonanda Klopper verkies is as eerste vroulike praeses van Van der Hoff.

25 November 1997

Die Kuratorium het kennis geneem dat die Universiteit van die Fakulteit Teologie (Afdeling A) verwag dat sy begroting vir 1998 met R200 000 besnoei moet word. Daar is besluit dat ‘n buitengewone vergadering belê moet word om ‘n besluit te neem. Kennis is geneem dat doktor J.P. Labuschagne as lid van die Kuratorium benoem is ipv professor Loader. Goedkeuring is verleen vir die benoeming van die volgende deeltydse dosente vir 1998: I.W.C. van Wyk, J. Otto en J. Buitendag vir Dogmatiek en Christelike Etiek, D.J.C. van Wyk vir Godsdiens- en Sendingwetenskap, J.A. van Biljon, J. Coetzee en Y. Dreyer vir Praktiese Teologie, W.A. Dreyer en H.J. Botes vir Kerkgeskiedenis, W.C. van Wyk en A.A. da Silva vir Ou Testamentiese Wetenskap, dominee D.J.C. van Wyk, professor J.J. Engelbrecht, P.B. Boshoff, J. Strydom, G. Nel en E. van Eck vir Nuwe Testamentiese Wetenskap, en J.C. van der Merwe, J. Coetzee, R.J. Coertze, M. Dreyer, mevrou M. Dreyer, B. Bierman, professor T.F.J. Dreyer en dominee P.A. Geyser vir Praktiese Opleiding.

Na die uittrede van dominee A.P.J. Beukes is doktor P.J. de Beer as voorsitter en doktor A.J.G. Dreyer as visevoorsitter van die Kuratorium verkies.

28 November 1997

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering bespreek verwikkelinge by die Fakulteit en besluit:

1. Die ideaal om aan ‘n universiteit verbonde te bly, word steeds gehandhaaf.

2. Die Dosentevergadering gaan onverwyld voort met die ondersoek na die blommodel sonder om die Kerk enigsins met die onderhandelinge te kompromitteer. Die Kerk wil steeds die reg voorbehou om sy eie weg te loop.

3. Die Kommissie besluit finaal oor die deelname aan die blommodel ná die voorlegging van die Kuratorium wat voortspruit uit die aanbevelings van die Dosentevergadering.

4. Die Administrateur, dekaan en voorsitter van die Kuratorium werk saam aan ‘n wetenskaplike berekening van die koste van ‘n private opleidingsmodel en lê die resultaat aan die Kommissie voor.

5. Die Kommissie het verder die Fakulteit versoek om teen Junie 1998 minstens een dosentepos uit te faseer met die oog op die begrotingstekort.

04 Desember 1997

Op die legitimasieplegtigheid is aangekondig dat P.J. Roets al die toekennings ontvang het as beste student in elk van die vakke en ook nog vir die beste BD skripsie.



Crossref Citations

No related citations found.