About the Author(s)


Piet J. Strauss Email symbol
Department of Historical and Constructive Theology, Faculty of Theology, University of the Free State, Bloemfontein, South Africa

Citation


Strauss, P.J., 2023, ‘Die Nederlandse Geloofsbelydenis en drie besondere ampte: Artikel 30 ’n verstarring?’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 79(1), a9214. https://doi.org/10.4102/hts.v79i1.9214

Note: Special Collection: Wim Dreyer Dedication, sub-edited by Jaco Beyers (University of Pretoria, South Africa). The editor-in-chief confirms the originality of the research recorded in the article and that it contributed to the production of new knowledge in the field of theology.

Original Research

Die Nederlandse Geloofsbelydenis en drie besondere ampte: Artikel 30 ’n verstarring?

Piet J. Strauss

Received: 06 July 2023; Accepted: 31 Aug. 2023; Published: 29 Sept. 2023

Copyright: © 2023. The Author Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstract

The Confessio Belgica and the three offices: Article 30 inflexible? The Confessio Belgica or Dutch Confession of Faith from 1561, one of the Three Formulas of Unity in the Dutch Reformed tradition, confesses in article 30 that the government of the church, as an institution of the Christian faith, should be spiritual and conducted by chosen consistories. These consistories should consist of ministers, elders and deacons. The norm or constant of three offices was excepted by churches in this tradition, but more recently it’s necessity and efficiency became questioned in some of these circles. Historically the three offices served the Reformed churches well. The acceptance of the three offices is based on the Confessio Belgica as a confession, but also on the biblical principle that Christ is the head of the church and its highest Prophet, eternal King and only Priest. The church grows spiritually out of Christ and his Spirit as their head. In this process, the church also uses the offices of minister, elder and deacon as instruments. These offices correspond with the offices of Christ as their Prophet, King and Priest. A study of the Confessio Belgica article 30 leads to the belief that it does not exclude changes in the task of the three offices nor opposes the addition of extra offices or the help of additional functionaries.

Contribution: This article contributes theologically to the debate in the Dutch [Netherlands] Reformed churches on the offices in church. It tries to clarify all the thinking regarding the impact of the reformed Three Formulas of Unity, and especially the Dutch Confession of Faith article 30 on the work or service of the church and norms or principles to achieve an acceptable functioning of the offices in church. The solution aims at stability and new initiatives on the offices in church.

Keywords: Confessio Belgica/Dutch Confession of Faith; three special offices; spiritual government of church; three offices made history; reformed approach of offices; election of offices; church and state; offices equal in principle; respect for people in office.

Inleiding

Die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) as een van die Drie Formuliere van Eenheid vorm ’n belydenis in gereformeerde kerke wat aan die Nederlands-Gereformeerde tradisie verwant is met ’n fokuspunt, naamlik die Nasionale Sinode van Dordrecht van 1618–1619 en sy besluite oor belydenis en kerkorde. Hierdie is belydenisse wat sommige van hierdie kerke vandag dalk anders benader, maar wat ’n belangrike deel van hulle eie verlede is.1 Die Sinode van Dordrecht aanvaar die NGB of Confessio Belgica (die Latynse naam van die NGB)2 op 30 April 1619 en die Heidelbergse Kategismus (HK) op 01 Mei 1619 (notule in Donner & Van den Hoorn s.a.:307 e.v., 320, 325). Albei word eenparig aanvaar met die steun van die 23 buitelandse teoloë uit Engeland, Switserland en Duitsland – die Franse en sommige Duitse genooides kon nie kom nie – en die 37 predikante en 19 ouderlinge soos deur Nederlandse gemeentes afgevaardig (Kuiper 1995:268). Op die aanvaarding van die NGB en HK sê die notule van 06 Mei 1619 dat ‘de leer in de Belijdenis (NGB) en den Cathechismus (HK) dezer Kerken begrepen’ aanvaar is (Donner & Van den Hoorn s.a.:525). Op 24 Mei 1619 aanvaar hierdie Dordtse Sinode die outentieke Franse en Nederlandse tekste van die NGB. Die vergadering keur ook die Dordtse Leerreëls op 23 April 1619 goed saam met die NGB en HK, en die Drie Formuliere van Eenheid (De Jong 1985: 192; NG Kerk-Uitgewers 1982:5). Die ekumeniese basis van goedkeuring van die Leerreëls word in 1620 verbreed deur die aanvaarding daarvan deur die Frans-Gereformeerde Sinode van Alais (De Jong 1985:196).

Só word die NGB deel van die Drie Formuliere van Eenheid as ’n verwoording van die leer van sekere gereformeerde kerke. Marthinus Gregorii, ’n kommissaris-politiek by die Dordtse Sinode van 1618–1619, het geglo dat dit vir die Sinode in die Drie Formuliere om die essentiae doctrinae [essensie van die leer] van die Christelike geloof gaan en nie die phrasealogie of methode of nie-leerstellige aspekte daarvan nie (Donner & Van den Hoorn s.a.:325). H.H. Kuyper versterk die kerklike profiel van hierdie Dordtse Sinode met sy ‘eerenaam’, naamlik die eerste ekumeniese sinode in die geskiedenis van die gereformeerde kerke (Kuyper s.a.:vi). Dit is ’n naam waarmee die vergadering uit ’n kerkregtelik-konfessionele oogpunt vir die goedkeuring van die Drie Formuliere as belydenisskrifte kwalifiseer omdat dit uit afgevaardigdes vanuit Nederland, Engeland, Duitsland en Switserland bestaan en dus ’n ekumeniese inslag gehad het. Dit beteken dat die Drie Formuliere van Eenheid met hulle essentiae doctrinae die steun van ’n breë groep gereformeerdes met ’n Nederlandse konneksie geniet het omdat hulle dit as gereformeerde kern- of belydeniswaarhede herken het. B.K. Kuiper onderskat die ekumeniese aanvaarding van die Formuliere in ons tyd deur dit te beperk tot kerke in Nederland en Amerika. Kerke met die Nederlands-Gereformeerde konneksie word immers ook in ander wêrelddele aangetref. Vir Kuiper is die aanvaarding van die Dordtse Leerreëls nietemin die eindpunt of ‘high-water mark of the creed making in the reformed churches’ (Kuiper 1995:268).

Die geskiedenis en samestelling van die NGB versterk die rede waarom artikel 30 met sy opdrag van die instelling van die ampte van die predikant, ouderling en diaken – die sogenaamde munus triplex – deur gereformeerdes met ’n Nederlandse konneksie in die kerk eerbiedig word. As ’n geloofsbelydenis wat gereformeerdes bind en hulle gereformeerde eenheid bestendig – deur die Drie Formuliere van Eenheid – moet die NGB die soort kernwaarheid bevat wat as Skrifwaarheid ekumenies of breër aanvaarbaar is en nie dikwels gewysig hoef te word nie. Dit is dus ’n belydenis van kernwaarhede wat die gelowiges betrek en dit nie met beuselagtighede bemoei nie (Durand 1984:45).3

Teen hierdie agtergrond van onsekerheid en verwarring by gereformeerdes met ’n Nederlandse konneksie oor die ampte in die kerk (Böhmer & Spangenberg 2001:6–7; Burger 2004:545; Burger & Wepener 2004:6;4 Du Toit 1998:219; Strauss 2010), ondersoek hierdie artikel die vraag of NGB artikel 30 as ’n bindende belydenis in gereformeerde kerke nie tot verstarring en ’n verwerplike tradisie lei nie?

Die Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 30 verwys na die ‘geestelike bestuurswyse wat ons Here ons in sy Woord geleer het’ waardeur die ware kerk geregeer moet word en sê dan in duidelike, moderne Afrikaans:

[D]aar moet [outeur se kursivering] naamlik dienaars of herders wees om die Woord van God te verkondig en die sakramente te bedien; ook ouderlinge en diakens om saam met die herders die kerkraad te vorm … (NG Kerk-Uitgewers 1982:30)

Die eintlike vraag wat vandag in gereformeerde kerke – ook in die NG Kerk – gevra word, is wat die taak van herder en leraar (of dominee) is5 en of die take van ouderlinge en diakens nie ’n agterhaalde kwessie is nie. Is hierdie ’n kwessie wat deur ’n meer werkbare oplossing vervang moet word? Hoewel skriftelike motiverings en illustrasies van hierdie soort veranderings skraal is, word die tradisionele kerkraad soms deur wyks- en blokleiers of ander tradisionele nie-kerklike figure vervang, en NGB artikel 30 geïgnoreer.6

Daarom dat hierdie artikel opnuut kyk na die regte verstaan van NGB artikel 30 en sy opdrag oor die munus triplex: bybelse voorskrifte hieroor en die relevansie van die drie reformatoriese ampte van dominee, ouderling en diaken vir die huidige kerkpraktyk. ’n Probleem wat volgens Burger (2004:539) ‘groter en groter’ word, is gemeentes wat met gemeente- en leierskapsmodelle uit die ‘sekulêre wêreld’ werk. Hy ag dit gevaarlik wanneer hierdie modelle en hulle gebruikstaal die bybelse taal en modelle van die kerk oorneem. So gaan gereformeerdes hulle ‘unieke identiteit as Christelike geloofsgemeenskappe’ moeilik behou. Hy hoop egter dat die munus triplex die kerk met die probleem kan help.

Teen hierdie agtergrond lei die titel en probleemstelling van hierdie artikel daartoe dat NGB artikel 30 as deel van ’n gereformeerde belydenis na sy inhoud en bedoeling die kern van die betoog uitmaak.

’n Kort geskiedenis van die ontstaan en doel van die Nederlandse Geloofsbelydenis

Die NGB verskyn oorspronklik in 1561 in Frans, maar word in 1562 in Nederlands en Latyn vertaal. Nadat die belydenis deur talle gereformeerdes geweeg is,7 aanvaar die Sinode van Dordrecht op 30 April 1619 ’n Nederlandse teks wat die NGB voorlopig standaardiseer (Donner & Van den Hoorn s.a.:307 e.v., 320–325). ’n Outentieke teks word op 24 Mei 1619 deur dieselfde vergadering aanvaar. Die hoofsamesteller van die Confessio Belgica of NGB is Guido (Guy) de Brés (1522–1567) uit Mons (Bergen in Henegouwen). Hy leer die geloofsoortuigings van Martin Luther en Johannes Calvyn ken en kies as 25-jarige in 1547 vir die Hervorming. Hy ontmoet Calvyn gereeld en word ’n oortuigde, vurige Calvinis. Nadat hy in 1558 by hierdie Hervormer in Genève en Lausanne studeer het, word hy in 1559 predikant in Doornik, België. In 1561 stel hy sy oorspronklike NGB in sy ‘tuinhuisje’ op. Deur ’n Inkwisisie word De Brés oor beweerde kettery ter dood veroordeel. Op 31 Mei 1567 word hy voor ’n groot skare in die openbaar gehang. Sy lyk hang die hele dag voordat hy in ’n vlak graf begrawe word (Heyns 1992:38; Oosthuizen 2008:209–210; Polman I s.a.a:104–105).8

Die NGB of Confessio Belgica toon die kenmerke van sy samesteller, Guido de Brés, maar ook die invloed van die Confessio Gallicana of Franse Geloofsbelydenis van 1559 wat Calvyn se spore dra en die invloed van Calvyn se Institutie of onderwijzing in de Christelijke Godsdienst vertoon (vgl. Sizoo IV s.a.). Deur die NGB as sy verantwoording, gee De Brés ’n samevatting van wat die gereformeerde Protestantisme glo. Heyns (1992:38) reken dat die NGB ‘basiese leerstellinge’ bevat ‘wat die ganse Gereformeerde wêreld vandag nog besig hou’. Volgens hom het De Brés sy ‘geloofsinhoude so verwoord dat miljoene oor die wêreld hulle daarmee kon vereenselwig’. Jonker (1994:49) voer aan dat die Confessio Belgica, deur by die Institutie van Calvyn aan te sluit, meer omvattend kerklik en ‘dogmaties’ is as die HK en Leerreëls. Hy sien die NGB as ’n apologie van die gereformeerde geloof teenoor koning Philips II van Spanje. Dit poog om sistematies rekenskap te gee van die totale inhoud van die gereformeerde geloof. Hiermee versterk Heyns en Jonker die stelling dat die NGB die karakter van ’n belydenis met ekumeniese kante het en oor ’n breë linie aanvaar en gebruik word.

Die ekumeniese aanvaarbaarheid van die NGB blyk nie net uit buitelanders wat deel was van die Sinode van Dordrecht op 30 April 1619 nie, maar ook uit die teks wat aanvaar is. Omdat Guido de Brés die NGB oorspronklik in Frans opgestel het, het die Franse teks eerste aan die bod gekom. Hierdie teks was ’n hersiene teks van die oorspronklike wat, aldus Van Itterzon (1971), as die werk van een persoon ‘terdege bezien [was], voordat er een zekere bredere, kerklijke sanctie aan werd verleend’. Die eerste Nederlandse teks in 1562 is nie gebruik nie, maar die hersiene uitgawe van Arent Cornelissen uit 1583 (Van Itterzon 1971:67, 70). As Latynse teks is die Harmonia Confessionum van die Frankfurtse Konvent van 1577 aanvaar (Strauss 2005:565).

Jonker (1994:51) voer aan dat De Brés die sogenaamde trinitariese orde met temas in die Confessio Belgica volg. S.A. Strauss (2008:789) bestempel die indeling as ‘trinitaries-histories’. Daarom loop die indeling saam met die persoon en werk van die Vader, Seun en Heilige Gees volgens die openbaringsgeskiedenis van skepping, sondeval (in Genesis) en verlossing (in die Evangelies) tot die laaste oordeel (geskets in Openbaring). Die NGB begin met die wyse waarop God Drie-enig hom openbaar en volg dan met die genoegsaamheid van die Skrif as dié Woord vir die volle, omvattende Christelike lewe. Hiermee sluit Jonker en Strauss hulle by Heyns aan.

Faktore wat die Nederlandse Geloofsbelydenis tipeer

Onder die tema kerk en sakramente behandel die NGB in artikel 30–32 die kerkregering, ampsdraers, kerklike orde en tug. By die uitleg hiervan moet ’n paar sake oor die NGB in gedagte gehou word, naamlik sake waarvan sommige in die verduideliking geraak is en bepalend is vir die aard en inhoud van die NGB as ’n belydenis.

In die eerste plek is die Confessio Belgica ’n gereformeerde verantwoording van die geloof van die algemene Christelike kerk wat as ’n belydenis op die kernsake van hierdie geloof of leer afgestem is. Die notule van die Dordtse Sinode met sy blote verwysing na die ‘Belijdenis’, bevestig hiermee die algemene Christelike geloof van die NGB wat in die kerklike omgang net die ‘Belijdenis’ genoem word. In 1561 is die NGB die eerste kerklike belydenis uit gereformeerde Nederland (Jonker 1994:49). In NGB artikel 30 het hierdie belydenis dit oor kerk en kerkregering waarby die ampte en munus triplex ingesluit is (NG Kerk-Uitgewers 1982:9–38). Vanweë sy grondige oortuiging van hierdie verwoording van die kern van die Christelike geloof, was De Brés bereid om as martelaar ’n galgdood te sterf.

Voor sy galgdood verklaar De Brés in ’n verhoor:

Deze leer die u hebt gehoord, is dezelfde die onderwezen is door de apostelen en bewaard in de vroege kerk, vervolgens bezegeld en bekrachtig door het bloed van alle martelaren. En als het God behaagd mij daartoe te brengen, zal ik geen enkel bezwaar maken, haar te verzegeld door mijn eigen bloed. (De Jong 1985:129)

Uit hierdie verklaring van De Brés kom ’n tweede motief vir die NGB. Die NGB skaar hom uitgesproke by die vroeë algemene Christelike kerk: die kerk van die eerste vyf eeue (Jonker 1994:50). Dit blyk nie net uit sy belydenis oor God Drie-enig (die strydvraag in die vroeë kerk) en sy genade (die latere stryd teen die Roomse leer van redding as ’n verdienste van die gelowige) nie. Dit wys ook in sy aanvaarding van drie belydenisse uit die vroeë kerk oor God Drie-enig: die Apostolicum (12 artikels) en die Belydenisse van Nicea en Athanasius (NGB artikel 9) (NG Kerk-Uitgewers 1982:14). Belyers van die Confessio Belgica as ’n samevatting van die bybels-Christelike geloof, soek aansluiting by belyers van die Christelike geloof deur al die eeue. Aanhangers van die NGB is nie sektariese skeurmakers in die kerk nie. Die Reformasie en NGB is nie ’n dwaling en kettery nie, maar ’n voorsetting van die ‘heilige algemene Christelike kerk’ van die Apostolicum. Dit is hierdie geloof wat hulle onder die omstandighede vanuit die hart bely of uitsê in die Confessio Belgica. Daarby wil die NGB, met sy bepalings oor die kerklike ampte, dat die algemene Christelike Kerk van die eerste eeue moet voortgaan. Sy aanvaarding van die ekumeniese belydenisse van die vroeë kerk (NGB artikel 9) bevestig dat hy as kerk, ook met ’n bybelse verstaan van die ampte by die vroeë kerk aansluit as die uitdrukking van ’n Godgehoorsame kerk, en van daar af wil voortgaan (Jonker 1994:60).

Derdens bely die NGB na buite teenoor staatsowerheid en samelewing en na binne teenoor mekaar: die Reformasie is nie ’n anti-owerheids of wederdoperse, irrasionele geesdrywer nie (Jonker 1994:50). Inteendeel, die NGB wil van staatsowerhede medewerkers maak wat die ‘heilige Woordbediening’ met hulle swaardmag beskerm en afgodery en valse godsdiens uitroei. As teenprestasie belowe die kerke om hulle aan die gesag van ’n staatsowerheid te onderwerp, belasting te betaal, eer en onderdanigheid aan die owerhede te toon, vir hulle voorbidding te doen en ‘hulle te gehoorsaam met alles wat nie met God se Woord in stryd is nie’. Die owerhede moet hierdie dinge weet ten einde hulle taak so uit te voer dat ‘ons ’n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en eerbaarheid’ (1 Tm 2:2). Die NGB soek owerhede – in moderne taal verwoord – wat hulle regstaak uitvoer sowel as die ware kerk letterlik bevorder, maar belowe om dieselfde owerhede aan die konsekwensies van die bybelse boodskap bloot te stel. Op hierdie punt kry Calvyn se Genéve gestalte in België met ’n owerheid in een verbondsgemeenskap waarin God in kerk en staat as onderlinge medewerkers deur sy Woord en Gees regeer. By implikasie gee so ’n owerheid voorkeur aan ’n bepaalde kerk en kerkleer as ’n saak wat prinsipieel egter buite die aard en bevoegdheid van die staat in ’n regs- en nie in ’n geloofsverband nie, lê (NG Kerk-Uitgewers 1982:36–37).9 In hierdie bepalings oor die kerk en die staatsowerheid, lê daar ’n opdrag en roeping vir die ampte van bedienaar van die Woord, die ouderling en diaken. Hulle is in die gemeente en kerkverband die kerklike voorvatters of ampsdraers om aan die geloofsbepaalde taak van kerk teenoor die staat gestalte te gee: onderdanigheid en gehoorsaamheid aan die staatsowerheid op alle vlakke van regering, voorbidding vir die ‘owerhede’ en gewilligheid om die owerhede te eer en te volg in alles wat nie met God se Woord stry nie. Oor die punt van ’n owerheid wat nie met die Woord in stryd is nie, vat gereformeerdes en Lutherane hande (De Jong 1987:165).

Met hierdie skets oor die geskiedenis, aard en doel van die Confessio Belgica is NGB artikel 30 in die breër konteks van die belydenis geplaas. Die kleiner konteks van artikel 30–32 kom nou aan die beurt: die konteks van die temas kerkregering (artikel 30), kerklike ampsdraers (artikel 31) en die orde en tug van die kerk (artikel 32). Hierdie konteks bestaan uit faktore in die drie artikels wat die betekenis van NGB artikel 30–32 met sy munus triplex in ’n gereformeerde koers stuur en die raamwerk gee waarbinne die munus triplex as ’n soort natuurlike gevolg van gereformeerde kerkregering aangedui word. Die begrippe word hanteer in die volgorde waarin hulle in artikel 30–32 voorkom. Vir NGB artikel 30 is ’n kerkraad ’n raad wat sonder ongemak in gereformeerde kerke uit ‘dienaars of herders … ouderlinge en diakens … saam’ gevorm word en in hierdie drie artikels hanteer word (NG Kerk-Uitgewers 1982:30). Daarop word later teruggekom.

Die Nederlandse Geloofsbelydenis en die ampte in die regering van die kerk: Die kleiner konteks (1)

Die eerste faktor dui die aard van kerkregering en kerklik-georiënteerde handelinge aan: die geestelike bestuurswyse wat – let wel – die Here ons in sy Woord geleer het (NG Kerk-Uitgewers 1982:30). Heyns meen dat hierdie faktor beteken dat die regering van die kerk by die aard van die kerk as ’n gemeenskap van gelowiges pas: die kerk is ’n bybelse geloofsgemeenskap en kerkregering moet uit Skrifbepaalde geestelike of kerkverwante handelinge bestaan. Vir Heyns beteken dit dat Christus ‘wat sy kerk gestig het’ die Koning daarvan is en ook daarin regeer. Hierdie regering geskied deur sy Woord en Gees, maar ook deur geroepe ampsdraers in die kerkregering. Regering deur die Woord en Gees van God is vir Heyns die ‘waarborg … vir die besondere geestelike karakter van die regering van die kerk’. Hy voeg by: ‘die amp is slegs die orgaan waardeur Christus self in die kerk werk’. Omdat die kerk vanweë sy struktuurfunksie ’n Christelike geloofsgemeenskap is, word lidmate deur die Heilige Gees as gelowiges saamgebind of as ’n eenheid op die Woord as fondament gebou. Hulle vorm gemeentes as belydende lidmate en kerkverband as ’n verband van gemeentes – albei op grond van gemeenskaplike belydenisse soos deur die Gees bewerk (hulle is dit eens oor die kernsake van die Christelike geloof) as hulle akkoord of verwoorde ooreenkoms van kerklike gemeenskap (Nauta 1971:13; Smit 1984:64).

Die Woord verkondig die heil en gee die ‘basiese grondbeginsels’ van hoe die kerk regeer moet word (Heyns 1992:351). Die geestelike bestuurswyse van die kerk blyk uit Woordgebonde voorbeelde soos die volgende: preke oortuig deur die impak van die Woord en egtheid van die boodskapper en nie deur blatante emosionele druk nie; goeie kerkvergaderings werk met oortuiging, vertroue in die verstaan van die Woord en in mekaar en nie deur manipulering nie; kerklike opsig en tug word … op ’n kerklike wyse met geestelike middele beoefen; kerklike tug deur kerkvergaderings is pastoraal-kerkregtelik van aard en moet uit ’n bybels-geestelike oogpunt billik en regverdig toegepas word (Nederduitse Gereformeerde Kerkorde [NGKO]-2017:16); en kategese is ’n Woordbepaalde leerskool wat wil nadertrek en nie ongenaakbaar druip en wegskuif nie. NGB artikel 60 is hierin bepalend vir NGKO artikel 30 en die ampte met die opdrag dat ‘kerklike opsig en tug ’n geestelike karakter dra en pas by die kerk as ’n geloofs-en liefdesgemeenskap’ (NG Kerk-Uitgewers 1982:30).

Ampsdraers wat op ’n geestelike manier regeer en leiding gee, staan ’n beter kans om bybelse geestelike vrugte te pluk as die onverskilliges wat Woordgehoorsaamheid ignoreer.

Die tweede faktor rondom die ampte wat in NGB artikel 30–32 voorkom, is artikel 31 se bepaling dat die ampte van leraar, ouderling en diaken

[V]erkies moet word deur middel van ’n wettige verkiesing deur die kerk, onder aanroeping van die naam van die Here en in goeie orde, soos die Woord van God leer. (NG Kerk-Uitgewers s.a.:31)

Die Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 31 gee nie praktiese reëling vir verkiesings nie – dit was en is ’n saak vir die kerkorde10 (Heyns 1992:363), maar waarsku tog teen hulle wat met ‘onbehoorlike middele …’ en vanuit bedenklike motiewe die ampte probeer indring. ’n Ampsdraer moet volgens die Confessio Belgica wag ‘totdat’ hy deur die Here geroep word en seker maak dat dit van God kom. Vir Polman (s.a.a) vat die NGB met sy veroordeling van ‘onbehoorlike middele’ die Roomse praktyk direk aan. Heyns se verwysing na ’n ‘ongelooflike ontaarding’ by die ampsverkiesings in die Rooms-Katolieke Kerk van destyds lei volgens hom tot steun vir die NGB se ferm afwysing daarvan in 1561. Heyns wys op die verkryging van poste vir familie en vriende of die persoon wat die hoogste aanbod maak. Leke of gemeentelede het nie inspraak in die aanwys van mense in die amp nie. Polman verstaan dit so dat die NGB ’n ‘verkiesing der kerk’ en nie deur alleen die biskop of ampte nie, voorstaan. Die opvatting van die gemeente as ‘een onmondig volk’, van leke soos in die Roomse hiërargiese stelsel, moet syns insiens, en tereg, verwerp word (Heyns 1992:363; Polman I s.a.a:37). ’n Wettige verkiesing vereis dat mondige kiesers buite die voorgestelde persoon wat minder partydig en subjektief as die persoon is, sy geskiktheid beoordeel.

Vir kerkregering moet die ampte of dienste van buite hulleself, onpartydig en op ’n geestelike bestuurswyse aangewys word, en in plaaslike of breër geloofsbelang, deur ’n kerkregtelik erkende proses.

Die Nederlandse Geloofsbelydenis en die ampte in die regering van die kerk: Die kleiner konteks (2)

Die derde faktor rondom die ampte en kerkregering in die NGB, kom ook in artikel 31 voor. Dit is dat die bedienaars van die Woord, afgesien van die gemeente waarin hulle hul bevind, ‘een en dieselfde mag en gesag’ het of amptelik gelyk is omdat hulle almal uitsluitlik dienaars van Christus is. Volgens die NGB kan daar geen hiërargie onder die bedienaars wees nie omdat Christus die enigste Opsiener en Hoof van die kerk is. Hy is die enigste een wat hiërargies hoër as die ander is (NG Kerk-Uitgewers 1982:31). Heyns (1992:264) glo dat die gelowiges in ’n munus triplex gelykwaardig is aan geen hiërargie nie. Daar is nie Skrifgronde vir die apostel Petrus as die ‘opperhoof’ van die kerk nie. Polman stem saam. Hy (Polman s.a.a) haal artikel 1 van die Kerkorde van die Nasionale Sinode van Franse Gereformeerde Kerke in 1559 aan:

Geen kerk zal over een andere primaat of heerskappij vorderen; evenmin de dienaren van een kerk over elkaar noch de ouderlingen noch de diakenen over elkander … (p. 43)

Hierdie stelreël word as ’n canon aureus of goue reël bestempel waarby die Reformasie sou staan of val (Hovius 1972:17). Die reël word nie net in kerkordes opgeneem nie, maar ook in gereformeerde belydenisse (Polman I s.a.a:43–45; Strauss 1989b:2). Hier gaan dit nie oor wat ander mense sê of wie dit sê nie, maar wat die beginsels van die Woord sê. Almal in ’n gereformeerde kerkvergadering het net een stem met die reg op gelyke deelname en moet oortuig word deur die Woord en Gees van God en nie deur ’n mens vanweë sy status, prestasie of sosiale invloed nie. Argumente, motiverings en besluite van kerkvergaderings moet ten diepste vanuit die Bybel of met bybelse gevolgtrekkings onderbou word (Strauss 1989a:79–98). Die belang van hierdie beginsel vir kerkregering deur ampsdraers moet onderstreep word. Kerkvergaderings moet seker maak ‘so sê die Here HERE’ en hulle nie deur menslike inhibisies, onwetendheid of ongeërgheid laat oortuig nie.

Die vierde faktor moet eie wees aan gereformeerdes se hantering van enige ander mens omdat almal na die beeld van God geskape is. NGB artikel 31 wys spesifiek na bedienaars van die Woord en ouderlinge. Ter wille van die werk wat hulle doen, verdien hulle agting. Hierdie stelling bou op die vyfde gebod soos in Eksodus 20:12 en Deuteronomium 5:16: Eer jou vader en jou moeder. Daar moet in vrede met die ampte saamgeleef en gewerk word, sonder twis, murmurering of stryd (NG Kerk-Uitgewers 1982:31). Heyns (1992:363–365) haal gedeeltes uit die Bybel hiervoor aan (1 Tess 5:12, Heb 13:17).

Die vyfde faktor wat die posisie van die ampsdraer in die kerk moet bepaal, is dat hy of sy in sy of haar amp ‘alle menslike uitdinksels en alle wette wat mense sou wil invoer om God te dien … die gewetens daardeur te bind en te dwing’, moet verwerp. Heyns omskryf hierdie opdrag in NGB artikel 32 deur te vra vir ’n goeie orde in die kerk wat ten diepste deur die optrede van die kerkraad en die ampte bepaal word – ’n orde wat op die Woord en die gebooie van die Here bou en nie deur die Afrikaanse uitdrukking van ‘menslike uitdinksels’ en ander kerkvreemde verskynsels bepaal word nie (Heyns 1992:366).

Omdat God Drie-enig een en die kerk die een liggaam van sy Seun, Jesus Christus, is en omdat Christus en sy Vader één is, moet die kerk en sy ampte in woord en daad volgens die sesde faktor rondom die amp en in NGB artikel 32 genoem, één wees. Vanuit die Christelike geloof aanvaar die NGB ‘slegs wat kan dien om [kerklike] eendrag en eenheid te bewaar en te bevorder, en alles in gehoorsaamheid aan God te onderhou’. Dit gaan in kerk en amp om een basiese geloof, een groot strewe en een Here in wie se diens ons almal staan (NG Kerk-Uitgewers 1982:31).

Hierdie ses faktore bepaal die norme en gees waarbinne die drie ampte hulle geloofswerk as geestelike of kerkwerk moet verrig. ’n Goeie geestelike bestuurswyse hou rekening met die leiding van die Woord en Gees van God. ’n Goeie geestelike bestuurswyse, met die klein ‘g’, word deur die Gees met ’n groot ‘G’ bepaal. Sinvolle ampswerk is soos Efesiërs 5:18 oor ’n gehoorsame Christelike lewe: dit is Geesvervuld.

Die kerklike ampte of dienste: Herders en leraars

Kerklike of gemeente-ampte – ampte in gereformeerde kerke setel prinsipieel in gemeentes – is in kerke in gereformeerde Nederland, direk na die Reformasie, dienste genoem. Dit het gegaan om die bediening of diens deur die Woord – direk en indirek – as deel van die werk van die leraar, ouderling en diaken. Die Dordtse Kerkorde van 1619 (DKO-1619) reël vier ‘diensten’ in die Gereformeerde Kerk van Nederland: bedienaars van die Woord, doktore (vir die opleiding van dominees), ouderlinge en diakens (DKO in Pont 1981:176). Soos ‘amp’ in kerke met ’n Nederlands-Gereformeerde konneksie verstaan word, beteken dit ‘diens’ of ‘ampsdiens’. In 1998 praat A.B. du Toit (1998:217) van ’n ‘kreatiewe dialektiek’ in kerklike ampte omdat dit, vanweë roeping, enersyds met Godgegewe gesag beklee is, maar andersyds ’n dienskarakter besit.

Heyns (1992) het dit oor die predikant of bedienaar van die Woord wanneer hy sê:

Geroep deur Christus self, berei hy hom voor om die Woord van die Here nie net deeglik te ken nie, maar ook aan die gemeente uit te lê en die boodskap konkreet en aktueel toe te pas … Om bedienaar van die [Goddelike] Woord (VDM = verbi divini minister) te mag wees, is dan ook die hoogste kwalifikasie wat die predikant kan bereik. (p. 354)

Wat Heyns versoek is dat ’n predikant en enige ander kerklike ampsdraer sy roeping moet aangryp as iets besonders. Om deur Christus vir ’n kerklike amp geroep te wees, is om vanuit die anti-hiërargiese norm wat die omstandighede kleur, vir ’n amp geroep te word deur die Hoof van kerk en sy Gees. So ’n roeping vra ’n positiewe antwoord, opregte dankbaarheid en getroue gehoorsaamheid. Die gelowige in diens moet sy of haar woorde, tipies Heyns, ‘bevestig en versier’ met ’n voorbeeldige lewe (Heyns 1992:354). Du Toit (1998) maak ’n onderskeid tussen ‘blywendgeldige aspekte van die Skrif’ as norme en ’n tyd- en plekgebonde gestaltegewing daarvan wat nie normatief nie, maar die toepassing van die norm is. Daarmee mik hy (Du Toit 1998:217) op konstantes uit die Skrif vir sekere kerklike ampte vir sekere take soos die permanente munus triplex en die permanente en konkrete toepassings daarvan in onderskeiding van tydgebonde kerklike funksionarisse en funksies.

Die titel VDM beskryf die kern van die diens van die predikant of herder en leraar: die bediening van die Woord (Heyns 1992:354; Koffeman 2009:137). Vir Du Toit is die bediening van die Woord ‘ongetwyfeld’ ’n konstante of blywende roeping van die kerk. Wanneer hy hierdie bediening koppel aan spesifieke kerklike ampte deur die Ou en Nuwe Testament tot nou, wys hy op ampte wat nie almal voortbestaan het nie: profete, rigters, priesters, apostels, herders, leraars, evangeliste, voorgangers, boodskappers, ouderlinge, diakens, dienende weduwees, medewerkers en werkers. Omdat hierdie voorbeelde te omvangryk is om elkeen hier te bespreek, wys ons op twee wat hy as beproefde antwoorde op die behoefte aan bediening in en van gemeentes aandui: ouderling en diaken. Hy gee ook teksgronde uit die Nuwe Testament hiervoor soos 1 Timoteus 3:1–2, 8, 12; Titus 1:5-9 en 1 Petrus 5:1. Wanneer Du Toit konstantes vir die kerklike ampte aantoon, wys hy op die diensfunksies van verkondiging, onderrig, vermaning, gemeenskapsbeoefening, dienslewering en ‘’n voorbeeldige syn’ – almal kerklik normatief deur die Woord bepaal. Hieruit spruit daar bedieningsbehoeftes waarvoor die kerk, onder leiding van sy ampte, voorsiening moet maak. Die nodigheid van ampte vir sekere take spruit uit behoeftes wat die pad van die kerk as ’n geloofsverband met ’n geestelike bestuurswyse – self ’n konstante – kruis. Vir gereformeerde kerke gaan dit oor sake wat voldoen aan NGKO-2017 artikel 21: ‘… sake vanuit kerklike perspektief, in die lig van die Woord van God en op kerklike wyse’ (NGKO-2017:7).

Skrywers maak ’n saak uit vir konstante Woordverkondiging as die roeping van die kerk en daarom vir die amp van die bedienaar van die Woord, of soos dit ook omskryf word, herder en leraar. Rigtinggewend hierin is die begrip VDM: bedienaar van die Goddelike Woord. Dit is die amp wat gerig en gestuur word deur Woordverkondiging. In NGKO-2017 artikel 9 en kerkordes in die Nederlands-Gereformeerde tradisie (Engelhard & Hofman 2001:55; PKN-KO 2003:20; Visser 1999:43), gaan dit hier om ’n amp waarvoor teologiese opleiding nodig is en waarvan sy kerkordelik bepaalde take uit Skrifgebonde konstantes wat Du Toit aandui, vloei. Op hierdie punt begin NGKO-2017 met die oorkoepelende bepaling vir die leraar dat die amp van die ‘bedienaar van die Woord fokus [outeur se kursivering] op die bediening van die Woord in al sy gestaltes’ (NGKO-2017:3). Dat die bedienaar op die Woord fokus, moet sy hele bediening en raakvat van alle geleenthede bepaal.

Wat ook rondom die NGB en sy geskiedenis duidelik word, is dat die amp van bedienaar van die Woord of herder en leraar nie permanent en in detail uitgestippel en beperk moet word nie. Dieselfde Dordtse Sinode van 1618-1619 wat die NGB goedkeur, aanvaar in sy DKO, behalwe die munus triplex, ook die doktore-amp waardeur die Woord deur middel van teologiese opleiding hanteer word (Pont 1981:176). Tog bly NGB artikel 30, soos aanvaar deur dieselfde Sinode, by die munus triplex. Du Toit (1998:220) voer tereg aan dat die munus triplex deur bestaande of bykomende ampte, deur medewerkers of helpers ook nuwe bedieningsbehoeftes in oënskou kan neem; die Confessio Belgica versper nie sy pad nie – solank die konstante verkondiging van die Woord nie agterbly en die munus triplex nie geskrap word nie. Die NGB laat ruimte vir die hantering van bykomende bedieningsbehoeftes in diens van die Woord. Dit wil voorkom asof die bewese rekord van die munus triplex daartoe bydra om hulle behoud in NGB artikel 30 te verseker. Du Toit (1998:220) kom tot die slotsom dat ‘die drie ampte vir eeue uitstekend in die bedieningsbehoeftes van die kerk voorsien’ het, maar dat bykomende Skrifgegronde bedieningsbehoeftes invloed op die kerk se inkleding van die kerklike bediening kan hê.

Kerklike ampte of dienste: Ouderlinge en diakens

Wanneer Polman (IV s.a.b:18–22) in sy kommentaar op die NGB die ampsfunksie van die leraar beskryf, werk hy met Titus 1:9: die leraar moet vashou aan die betroubare woord, ’n woord wat leerstellig verantwoord of ‘naar de leer’ is en teenstanders moet vermaan en weerspreek. Die belangrikste aspekte van die leraar se amp beskou hy as ‘het verkondiging van het evangelie en het bedienen van de sacramenten’. Albei funksies is vaste Skriftuurlike opdragte aan die kerk, konstante bedieningsbehoeftes en as ’n voorskrif opgeneem in artikel 30 van die NGB. Vir Polman (IV s.a.b:18–22) is die munus triplex ’n gevestigde standaardreëling.

Du Toit (1998) koppel die amp van die leraar aan die bediening van die Woord en die bedieningsfunksies, wat hierna volg, aan die ouderling en diaken. Vir hom (Du Toit 1998:220) is die munus triplex ’n Skriftuurlike ampsgegewe wat die kerk konstant benodig maar met moontlike interne aanpassings in die gebruik of take van die drie ampte of bykomstig by die drie ampte as ’n geheel. Hy (Du Toit 1998) omskryf die ampstake van die bedienaar, ouderling en diaken soos volg:

Die bedienaar van die Woord word geroep vir:

’n sinvolle ineenvloeiing van sekere funksies in … Nuwe Testamentiese ampte soos die apostelamp, profete-amp en herder en leraar, maar met die fokus veral op die funksie van die Woordbediening. As die beslissende fokuspunte van hierdie drie dienste moet die volgende geld: Die predikantsdiens fokus op die Woordbediening, die ouderlingsdiens … op … geestelike leiding, regering en toesig en die diakensdiens op die meer praktiese dienswerk in die gemeente. Dit is ook duidelik dat daar ’n ruim aantal ampte in die Nuwe Testament gefunksioneer het en dat ons uit die Skrif nie noodwendig aan net drie ampte gebind word nie. (p. 220)

’n Sinvolle ‘in die lig van U Woord’-benadering van die munus triplex kom voor in die antwoord op HK Sondag 12 vraag 31. Vooraf moet ons daarop wys dat Efesiërs 4:15–16 in konteks ’n saak aanvoer wat Jonker (1965:5) elders as ’n belydenis en konstante kerklike norm bestempel: Christus is die Hoof van sy kerk en uit hom groei die hele liggaam. In Efesiërs 4:11–16 het Paulus dit oor ampte met voorbeelde wat wissel – ’n saak waarop Du Toit reeds gewys het. Die groei van die liggaam van Christus waarvan Hy die Hoof is, beteken ook ’n innerlike groei in die ‘gawes’ of ampte wat Hy vir sy kerk gegee het. Hierdie groei is bedoel om ‘uit’ Christus en ‘in alle opsigte … na Christus toe’ te wees.

… ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe … Uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ’n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy [bedienings-] funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde. (Eph 4:15–16)

Die Heidelbergse Kategismus vraag 31 vra: Waarom word Hy Christus, wat Gesalfde beteken, genoem?

Die antwoord weerspieël iets van die roeping en bekwaming van kerklike ampsdraers: omdat Hy deur die Vader bestem en aangestel en met die Heilige Gees gesalf (toegerus is) is, is Hy ons ‘hoogste Profeet en Leraar’, ‘enigste Hoëpriester’ en ‘ewige Koning’. Hy beklee hierdie ampte as God en mens in een persoon of as ’n persoon of die Seun in God Drie-enig.

Wanneer die Vader bestem en aanwys, bekwaam Hy die gestuurde ook vir dit waarvoor Hy hom of haar aanwys. Hy bekwaam Christus as die Hoof van sy kerk wat aan die kerk en wyer as Verlosser bekend gemaak of van wie die boodskap van verlossing bedien word. As Hoof regeer Christus die kerk direk en indirek. Volgens HK antwoord 31 doen Hy dit as die gelowiges se hoogste Profeet en Leraar, enigste Hoëpriester en ewige Koning. Hy is die Profeet wat aan hulle die ‘verborge raad en wil van God’ oor hulle verlossing ‘ten volle’ bekend maak en hulle ‘enigste Hoëpriester’ wat homself vir hulle geoffer het en gedurig deur gebed as ’n offer van Hom vir hulle by die Vader intree. Daarby is Hy hulle ewige Koning wat hulle deur Woord en Gees regeer en hulle ‘by [of in] die verlossing wat verwerf is, beskerm en bewaar’ (NG Kerk-Uitgewers 1982:47).

Christus as die Hoof werk direk in die kerk deur die Woord en Gees en indirek deur – ondermeer – die kerklike ampte as drie permanente of konstante gawes vanuit die drie ampte van Christus. Christus as Hoof en Verlosser van die kerk, profeet, priester en koning, verleen hierdie funksies aan mense (sonder om dit self prys te gee) en word so verteenwoordig in die ampte en ampsfunksies van die kerk (Koffeman 2009:147, 152) – die kerk wat in geloof uit Hom groei. Dat Christus as die konstante Hoof van die kerk tot hierdie drie ampte roep en soortgelyke ampsfunksies aan gelowiges oordra, is ’n bybelse konstante en belydeniswaarheid. Daarom kan kerkordebepalings vir die ampte hierdie opdragte aan die praktiese kant uitspel. ’n Immergroen opdrag vir die kerk is die munus triplex wat op datum en aktueel gehou en, indien nodig, versterk word deur interne aanpassings en hulpkragte sonder om die Christusgefundeerde funksies van die profeet, priester en koning prys te gee (Strauss 2010:29).

Omdat Christus die Hoof van die kerk en in sy bediening Profeet, Priester en Koning is en die kerk uit Hom as die Hoof groei (Ef 4:16), moet die bedieningsfunksies van die munus triplex in die kerk in sy kern voortgesit en normatiefbepaald, volgens die begrip profeet, priester en koning aangepas of uitgebrei word. Woordgesag in die kerk is Christusgesag en Jesus Christus is die Hoof van sy kerk (Jonker 1965:6).

Ten opsigte van ouderlinge en diakens bepaal NGB artikel 30 dat hulle saam met die bedienaars van die Woord die kerkraad vorm en moet sorg dat die ware godsdiens onderhou, die ware leer oral versprei, oortreders op ’n geestelike wyse – kyk genoemde betoog dat die kerklike tug pastoraal-kerkregtelik van aard is en uit ’n bybelse en ‘geestelike’ oogpunt billik en regverdig toegepas moet word (NGKO 2017:16) – vermaan en in toom gehou en die armes en beproefdes volgens hulle nood gehelp en getroos moet word. Die ouderling is hier kerklik-koninklik besig (NG Kerk-Uitgewers 1982:30).

Hoewel die ouderling en diaken in NGB artikel 30 nie afsonderlik getaak word nie, wil dit voorkom asof albei ampte hierdie sake moet hanteer, maar dat die ouderlinge hulle moet toespits op die eerste drie, naamlik ware godsdiens, ware leer en die tug, en die diakens op die armes en beproefdes. Die eerste drie take val waarskynlik onder die koninklike aspek van die ampte en die vierde onder die priesterlike aspek daarvan.

Polman (s.a.b) oordeel dat NGB artikel 30 die opsig en tug oor lidmate aan die ouderlinge saam met die leraars toevertrou. Hy praat van die ‘geestelijke jurisdictie’ van die ouderlinge wat naas die bediening van die Woord lidmate moet help om die gesonde lewe te peil en te handhaaf en as ’n waardige geestelike by die nagmaalstafel aan te sit. Volgens Polman (IV s.a.b:19–21) is die versorging van die armes, die uitdeel van aalmoese en die kerklike omsien na die siekes aan die diakens opgedra. Die diakens moet met die advies van die kerkraad hulle ampsfunksie vervul. Heyns (1992) sonder die ouderlinge uit as lidmate wat met geestelike ervaring en volwassenheid die kerklike koers bepaal. Vir hom moet diakens ’n voorbeeld van ‘dienende liefde’ wees. Die kerk moet onder leiding van die diakens as die draer van ‘geheiligde naasteliefde gesien en beleef word’. Volgens Heyns (1992:354–356) is die mens by die skepping as God se ambassadeur op aarde in die ampte van profeet, priester en koning geplaas om kerk en koninkryk te bevorder.

Slot

Du Toit (1998) bevestig dat die bestaan van die drie ampte of munus triplex soos in die Nuwe Testament vervat en die daaropvolgende verloop van die geskiedenis van die kerk sy sin bewys en ononderhandelbaar is vir, onder meer, kerke met ’n Nederlands-Gereformeerde konneksie. Veranderende vereistes vir die huidige kerklike bediening vra egter aanpassings soos aangetoon. Ook is die byvoeging van addisionele ampte vir die Skriftuurlik-verantwoorde bedieningsbehoeftes van resente gereformeerde kerke nie heeltemal ondenkbaar nie. Syns insiens berus ‘albei hierdie moontlikhede … op ’n gesonde Skriftuurlike basis’ (Du Toit 1998:220).

Wat Du Toit se betoog uit ’n gereformeerde oogpunt versterk, is die HK-belydenis dat Christus as Hoof van sy kerk die kerk se hoogste Profeet en Leraar, enigste Hoëpriester en ewige Koning is. Sy hoofskap en drie ampte is ’n bybelse en belydenismatige konstante en ’n begronding vir die voortsetting van die drie besondere ampte in die kerk – sy hoofskap en ampte waaruit die kerk – volgens Efesiërs 4:13–16 – groei tot ’n volwasse man in die geloof in Christus. Dit is ook duidelik dat ’n beperking van die ampte tot hierdie drie reeds by die aanvaarding van die NGB deur die Dordtse Sinode van 1618–1619 nie as die doel van die NGB beskou is nie. In die tyd wat hierdie Sinode sy vier ampte met die munus triplex en die amp van doktore in die DKO bevestig, aanvaar hy, soos aangetoon, ook die NGB en sy artikel 30.

Teen die agtergrond geskets in hierdie artikel lei NGB artikel 30 nie tot ’n verstarring ten opsigte van die drie besondere ampte in kerke met ’n Nederlands-Gereformeerde konneksie nie. Die teendeel is waar. Gegrond op die konstante drie ampte van Christus en die vereistes vir die aanvaarbaarheid van sekere byvoegings ten opsigte van die ampte, versterk NGB artikel 30 met sy drie ampte die stabiliteit en die toekoms van kerke met ’n Nederlands-Gereformeerde konneksie. Die NGB artikel 30 sluit immers nie noodsaaklike wysigings ten opsigte van die toepassing van die munus triplex uit nie.

Erkenning

Enkelblinde keuringproses

Die identiteit van die outeur was uit die staanspoor uit aan die keurders bekend, en ’n enkelblinde keuringproses is vir hierdie artikel gevolg. Dit is die uitsondering op die reël, aangesien die tydskrif se huidige beleid wat ’n dubbelblinde keuringsproses volg, die redakteur se goedkeuring dra.

Mededingende belange

Reformatoriese benadering erken, maar onafhanklik van oordele. Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Outeursbydrae

P.J.S. was die enigeste outeur betrokke by die skryf van die artikel.

Befondsing

Hierdie navorsing het geen spesifieke toekenning ontvang van enige befondsingsagentskap in die openbare, kommersiële of nie-winsgewende sektore. Subsidie van die Universiteit van die Vrystaat vir koste van bladsye wat gedruk moet word ensovoorts.

Data beskikbaarheidsverklaring

Data-deling is nie van toepassing op hierdie artikel nie, aangesien geen nuwe data in hierdie studie geskep of ontleed is nie.

Vrywaring

Die sienings en menings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die outeurs en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde agentskap van die outeurs nie.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel voldoen aan alle etiese standaarde vir navorsing sonder direkte kontak met mens of dier.

Literatuurverwysings

Böhmer, A.C. & Spangenberg, J.J., 2001, ‘Depressie en angs onder predikante van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Wes- en Suid-Kaap’, Ned Geref Teologiese Tydskrif 42(1 & 2), 6–14.

Bouwman, H., 1985, Gereformeerd Kerkrecht II, Derde onveranderde druk, De Groot Goudriaan, Kampen.

Burger, C.W., 2004, ‘Die predikantsamp. Deel 5: Kan die drie ampteleer ons help om ’n Bybelse fokus aan die predikantsamp te gee?’, Ned Geref Teologiese Tydskrif 45(3 & 4), 538–548.

Burger, C.W. & Wepener, C.J., 2004, ‘Die predikantsamp. Deel 2: Op soek na ’n Bybelse visie vir die amp: Ironieë en verrassings’, Ned Geref Teologiese Tydskrif 45(1 & 2), 15–22.

De Jong, O.J., 1985, Nederlandse Kerkgeskiedenis, 3e aangevulde druk, Callenbach, Nijkerk.

De Jong, O.J., 1987, Geschiedenis der Kerk, 11e bygewerkte druk, Callenbach, Nijkerk.

Donner, J.H. & Van den Hoorn, S.A., s.a., Acta Nationale Synode te Dordrecht, Donner, Leiden.

Du Toit, A.B., 1998, Op soek na ’n Nuwe Testamentiese basis vir die heraanpassing van die bedieningstruktuur in die Nederduitse Gereformeerde Kerk, Agenda Algemene Sinode NG Kerk, s.n., s.l.

Durand, J.J.F., 1984, ‘’n Belydenis – Was dit werklik nodig?’, in G.D. Cloete & D.J. Smit (reds.), ’n Oomblik van waarheid, pp. 39–48, Tafelberg, Kaapstad.

Engelhard, D.H. & Hofman, L., 2001, Manual of Christian Reformed Church government, CRC Publications, Grand Rapids, MI.

Heyns, J.A., 1992, Inleiding tot die dogmatiek, NG Kerkboekhandel 1988, Pretoria.

Hovius, J., 1972, Notities betreffende de Synode te Emden, 1671, en haar artikeln, Kok, Kampen.

Jonker, W.D., 1965, Om die regering van Christus in sy kerk, Unisa, Pretoria.

Jonker, W.D., 1994, Bevrydende waarheid, Hugenote-Uitgewers, Wellington.

Koffeman, L., 2009, Het goed recht van de kerk, Kok, Kampen.

Kuiper, B.K., 1995, The church in history, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Kuyper, H.H., s.a., De Post-acta of na-handelingen van de Nationale Synode van Dordrecht in 1618 en 1619 gehouden, Höveker en Wormser, Amsterdam.

Nauta, D., 1971, Verklaring van de Kerkorde van de Gerefomeerde Kerken in Nederland, Kok, Kampen.

NG Kerk-Uitgewers, 1982, Ons glo… die drie Formuliere van Eenheid en die Ekumeniese Belydenisse, NG Kerk-Uitgewers, Wellington.

NGKO-1962, 1964, Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1962, NG Kerk-Uitgewers, Kaapstad.

NGKO, 2017, Die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk 2017, s.n., s.l.

Oosthuizen, J.L., 2008, Guido de Brés (1522–1567), in F. Gaum (ed.), Christelike Kern - ensiklopedie, pp. 209–210, Lux Verbi, Wellington.

Polman, A.D.R., s.a.a, Onze Nederlandsche Geloofsbelijdenis I, T. Wever, Franeker.

Polman, A.D.R., s.a.b, Onze Nederlandsche Geloofsbelijdenis IV, T. Wever, Franeker.

Pont, A.D., 1981, Die historiese agtergronde van ons kerklike reg, HAUM, Pretoria.

Protestantse Kerk in Nederland, 2003 (PKN-KO 2003), Kerkorde en Ordinanties, Uitgeverij Boeken-centrum, Zoetermeer.

Smit, C.J., 1984, God se orde vir sy kerk, NG Boekhandel Transvaal, Pretoria.

Strauss, P.J., 1989a, ‘Die Bybel: enigste bron vir gereformeerde kerkregtelike beginsels?’, Hervormde Teologiese Studies 45(1), 79–98. https://doi.org/10.4102/hts.v45i1.5753

Strauss, P.J., 1989b, ‘Geen kerk oor ’n ander…’, Acta Theologica 9(1) 1–14.

Strauss, P.J., 2005, ‘Belydenis, kerkverband en Belhar’, Ned Geref Teologiese Tydskrif 46(3 & 4), 560–575.

Strauss, P.J., 2006, ‘Die Dordtse tradisie en binding aan die belydenis’, In die Skriflig 40(4), 649–666. https://doi.org/10.4102/ids.v40i4.363

Strauss, P.J., 2010, Kerk en orde vandag, Sunmedia, Bloemfontein.

Strauss, S.A., 2008, ’Nederlandse Geloofsbelydenis’, in F. Gaum (red.), Christelike Kernensiklo-pedie, p. 789, Lux Verbi, Wellington.

Van Itterzon, G.P., 1974, Het kerkelijk ambt in geding, Kok, Kampen.

Visser, J., 1999, Die Kerkorde in praktyk, EFJS Drukkers, Orkney.

Footnotes

1. Die NG Kerk bepaal in sy Kerkorde (NGKO) artikel 1 sedert die eerste aanvaarde orde van sy eerste Algemene Sinode in 1962: die ‘… leer wat die Kerk in ooreenstemming met Gods Woord bely, staan uitgedruk in die Formuliere van Enigheid soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht in 1618–1619 …’ (NGKO-1962 1964:2; 2017:1). Vir die NG Kerk is hierdie leer in ooreenstemming met God se Woord. Hierteenoor ‘geschiedt … het belijden’ van die Protestantse Kerk in Nederland (PKN) waarin die eertydse Gereformeerde Kerke in Nederland opgeneem is deesdae in gemeenskap met die belydenis van die voorgeslag waardeur hierdie kerk ‘zich verbonden weet met …’ onder meer die Lutherse en die gereformeerde ‘traditie’ (PKN-KO 2003:9). In die PKN gaan dit om ’n belydeniseenheid waarin belydenis- en geloofsverskille verdra word. Dit is ’n verdraagsaamheid wat prinsipieel verskil van dié van die Sinode van Dordrecht van 1619 wat met sy leer ‘begrepen in’ ’n sinoniem bevat vir die NGKO 1962 se ‘staan uitgedruk in’ – ‘’n “begrepen” en “staan uitgedruk in” wat die aanvaarding en ’n gebondenheid aan die inhoud daarvan beteken’ (Strauss 2006:649–666).

2. Omdat die NGB ontstaan het voordat die Nederlandse gebiede onafhanklik geword het, dra die NGB in sy Latynse vorm die naam Confessio Belgica (Jonker 1994:50).

3. Durand glo dat ’n kerklike geloofsbelydenis ‘bo die historiese situasie sal uitstyg en nog van belang sal wees wanneer die wiel van die geskiedenis voortgerol het en nuwe omstandighede geskep is …’ ’n Belydenis moet gemoeid wees met ‘die sake wat ten nouste aansluit by die kern van die Godsopenbaring in Jesus Christus. ’n Belydenis mag hom nie bemoei met beuselagtighede nie’ (Durand 1984:45). Durand word hierin gesteun deur ander gereformeerde teoloë. W.D. Jonker (1994:6) oordeel dat belydenisskrifte moet ‘handel oor ’n samevatting van die essensiële inhoud van die Christelike geloof’ en J.A. Heyns (1992:17) oor kernwaarhede van die Skrif. Vir die Christian Reformed Church of North America gaan dit in sy belydenisse ook om ‘the doctrines which are confessed’. Die ondertekenaar word deur die leer van hierdie geskrifte gebind en nie die verwysings, sinspelings en opmerkings wat ‘incidental’ met die formulering daarvan gepaard gegaan het nie (Engelhard & Hofman 2001:50–51).

4. Hierdie skrywers sê in hulle inleidingsparagraaf: ‘Daar bestaan vandag baie onduidelikheid oor die kernidentiteit van die predikantsamp – ook in die NG Kerkfamilie. By heelwat lidmate en predikante heers daar onsekerheid oor presies wat die taak van die dominee is [teenoor die ander kerklike take] en wat van haar/hom verwag word’ (Burger & Wepener 2004:6).

5. Böhmer en Spangenberg (2001:7) voer vanuit die NG Kerk aan dat die predikant ook ’n groot bestuurs- en administratiewe rol in sy gemeente moet speel, ’n dinamiese leier moet wees wat gemeentelede motiveer en organiseer én in die breër gemeenskap as ’n leier optree. Sׇó word sy profetiese rol en rol as herder en leraar in die gemeente onder druk geplaas).

6. Burger (2004:538–548) kom vanuit die NG Kerk juis met ’n standpunt ten gunste van die munus triplex.

7. Polman (IV s.a.b:108) verwys na ‘belangrijke tekswijzigingen’ wat tot in die twintigste eeu aan die NGB aangebring is.

8. Gaspar van der Heyden, gereformeerde predikant van Middelburg en voorsitter van die Gereformeerde Sinode van Dordrecht van 1674, verwys in ’n brief op 16 November 1674 na ouderlinge en diakens wat weier om die NGB met ink te onderteken – op daardie stadium, saam met die HK, die twee Formuliere en Eenheid van die Gereformeerde Kerk in Nederland genoem – teenoor mense soos Guido de Brés wat die ‘Belijdenis’ met ‘hun eigen bloed’ beseël het (Bouwman II 1985:568).

9. Hierdie punt in die NGB het in die twintigste eeu tot onrus in gereformeerde kerke met ’n Nederlandse konneksie gelei. Sommige kerke het NGB artikel 36 gewysig, maar die NG Kerk met sy Nederlands-Gerefomeerde konneksie en neo-Calvinistiese invloed uit Nederland het ’n oplossing gevind in ’n nuwe Afrikaanse vertaling. Die staatsowerheid word deur die NG Kerk versoek om deur sy regstaak dit vir die kerk moontlik te maak om beskermd – deur die staat – die Woord uit te dra en ‘sodoende’ ook alle valse godsdiens – deur die uitvoering van sy regstaak – teen te gaan. Hierdie bewoording is beter, eerder as om te sê dat die staat die goeie uitdra van die Woord letterlik bevorder (NG Kerk-Uitgewers 1982:36).

10. Vir die verkiesing van ’n amp in die gemeente, vergelyk die eerste Nederlands-Gereformeerde Kerkorde naamlik dié van die Konvent van Wezel in 1568 – op daardie stadium nog in die handelinge van die vergadering vervat: artikel 12–16 (Pont 1981:77) en die Dordtse Kerkorde van 1619 artikel 4 (Pont 1981:177).



Crossref Citations

No related citations found.