About the Author(s)


Nienke Kemm symbol
Department of Practical Theology and Mission Studies, Faculty of Theology and Religion, University of Pretoria, Pretoria, South Africa

Malan Nel Email symbol
Department of Practical Theology and Mission Studies, Faculty of Theology and Religion, University of Pretoria, Pretoria, South Africa

Citation


Kemm, N. & Nel, M., 2024, ‘Die bedieningbehoeftes van Afrikaanssprekende universiteitstudente in Suid-Afrika’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 80(1), a9102. https://doi.org/10.4102/hts.v80i1.9102

Research Project Registration:

Project Leader: Malan Nel

Project Number: 2331810

Description: This research is part of the research project, ‘Congregational Studies’ directed by Prof. Malan Nel, Practical Theology and Mission Studies, Faculty of Theology and Religion, University of Pretoria.

Original Research

Die bedieningbehoeftes van Afrikaanssprekende universiteitstudente in Suid-Afrika

Nienke Kemm, Malan Nel

Received: 08 June 2023; Accepted: 26 Oct. 2023; Published: 26 Mar. 2024

Copyright: © 2024. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstract

The ministerial needs of Afrikaans-speaking university students in South Africa. This article is the result of an empirical study conducted in the student congregations of the Dutch Reformed Church, the Netherdutch Reformed Church of Africa and the Reformed Church in South Africa. The study has been done to answer the question: What are the miniserial needs of Afrikaans-speaking university students in South Africa? The research problem that necessitates this study is a lack of knowledge and understanding of the ministerial needs of Afrikaans-speaking university student members of the Reformed student congregations in South Africa. Recent research on student ministry to support student ministers and congregations in the South African context is scant. The research question is formulated to determine the ministerial needs of university students and the implications those needs have for ministry to university students. The goal of the research is to identify the ministerial needs of university students in South Africa and to empower the student congregations to minister to these students more effectively. From the research, three primary ministry needs have been identified: (1) the need for faith formation; (2) the need for mentoring; and (3) the need for a faith community.

Contribution: The contribution of this article is original empirical research on the ministerial needs of Afrikaans-speaking university students in South Africa. The research contributes to the current void in South African research on student ministry.

Keywords: Afrikaans-speaking university students; faith communities; faith formation; mentoring; student ministry; youth ministry.

Inleiding

Die studentebediening van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika word deur die onderskeie denominasies as ’n belangrike bediening geag. Sodanige studentebediening kom egter voor groot uitdagings te staan in die veranderende konteks van universiteitkampusse en diverse studentegemeenskappe in Suid-Afrika. Die navorsing vir hierdie artikel het ’n uitgebreide empiriese studie oor die bedieningbehoeftes van Afrikaanssprekende universiteitstudente in Suid-Afrika behels. In die artikel word die bedieningbehoeftes van die studente, soos wat dit vanuit die navorsing voortgespruit het, weergegee. Die doel van die navorsing is om studenteleraars in hul bediening te ondersteun sodat hulle meer effektief in die behoeftes van Afrikaanssprekende universiteitstudente kan voorsien in en deur hul onderskeie bedieninge.

Insameling van empiriese data

Tydens die navorsing is drie stelle empiriese data ingesamel. Etiese klaring is vir elk van die stelle empiriese navorsing verkry van die etiese komitee van die Fakulteit Teologie en Religie aan die Universiteit van Pretoria. Elke deelnemer aan die studie het ook ʼn toestemmingbrief onderteken.

Die eerste fase van die empiriese navorsing het gestruktureerde onderhoude met 17 studenteleraars behels. Hierdie studenteleraars bedien studentegemeentes van onderskeidelik die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Die studentegemeentes bedien studente van die volgende universiteite:

  • Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus)
  • Universiteit van die Vrystaat (Bloemfontein)
  • Universiteit van Johannesburg
  • Universiteit van Pretoria
  • Universiteit Stellenbosch

Die onderhoude is getranskribeer en verwerk met behulp van ATLAS.ti.

Die tweede fase van die empiriese navorsing het ’n vraelys behels wat aan die tweedejaarstudente van die gekose gemeentes gestuur is. Die navorsing is beperk tot tweedejaarstudente tussen die ouderdomme van 19 en 21 jaar. Die vraelys is aan 617 studente gestuur en 111 studente (ongeveer 18%) het die vraelys voltooi. Die data wat verkry is, is met behulp van ’n professionele statistikus Tanita Cronje verwerk.

Die derde stel empiriese navorsing het gestruktureerde onderhoude behels wat gevoer is met 11 van die tweedejaarstudente wat die vraelys voltooi het. Die doel van die onderhoude was om insig te verkry in die studente se antwoorde op van die vrae in die vraelys. Die onderhoude is getranskribeer en ook met behulp van ATLAS.ti verwerk.

Navorsingvraag

Die oorkoepelende tweeledige navorsingvraag van die studie lees soos volg: Wat is die bedieningbehoeftes van Afrikaanssprekende universiteitstudente in Suid-Afrika, en wat is die implikasies van hierdie behoeftes vir studentebediening?

Bedieningbehoeftes van die studente

Vanuit die empiriese data is drie bedieningbehoeftes geïdentifiseer, naamlik: (1) die behoefte aan geloofvorming, (2) die behoefte aan mentorskap en (3) die behoefte aan ’n geloofgemeenskap.

In bestaande literatuur oor jeugbediening en studentebediening word daar geskryf oor elkeen van hierdie drie behoeftes. Aanvullend tot die bespreking van die studente en die leraars se begrip van die behoeftes word relevante literatuur ook oorweeg ten einde die behoeftes beter te verstaan en die implikasies vir studentebediening te bepaal.

Behoefte aan geloofvorming

Vanuit die empiriese data wat ingesamel is onder die studente, is bevind dat Afrikaanssprekende universiteitstudente die behoefte het om in gemeenskap met medegelowiges te groei in hul geloof en in hul verhouding met God. Die behoefte aan geloofvorming geskied hoofsaaklik by wyse van lering in ’n veilige ruimte waar hulle hul geloof kan uitleef.

Vanuit die empiriese data wat ingesamel is onder die studenteleraars is bevind dat hulle die studente se behoefte aan geloofvorming verstaan as om te groei in hul verhouding met God by wyse van lering met die doel om hul roeping te gaan uitleef.

Daar is voorts bevind dat die behoefte aan geloofvorming die studente se grootste en belangrikste behoefte is. Daarteenoor is ook vasgestel dat die leraars hierdie behoefte as die studente se kleinste behoefte beskou. Dit is die grootste verskil wat na vore gekom het wat die belang van die bedieningbehoeftes betref.

Die leraars het die behoefte aan ’n geloofgemeenskap geïdentifiseer as die studente se grootste behoefte. In die studente se beskrywing van hul behoefte aan geloofvorming tree die behoefte aan ’n geloofgemeenskap wel sterk na vore. Die verskil lê egter in die manier waarop die doel van ’n geloofgemeenskap verstaan word. Die leraars beskou die hoofdoel van ’n geloofgemeenskap as ’n tuiste waar ’n mens voel jy behoort. Daarteenoor beskou die studente die hoofdoel van ’n geloofgemeenskap as ’n veilige ruimte waar hulle saam met medegelowiges geestelik kan groei. Vir die leraars is die doel van ’n geloofgemeenskap om te behoort en vir die studente is die doel om geestelik te groei.

Die leraars verstaan ook die behoefte aan geloofvorming as groei in verhouding met God by wyse van lering. Hierdie siening word weerspieël in die studente se verwoording van die behoefte. Die studente verstaan hul primêre lewensdoel as om God te verheerlik en te leef tot eer van sy naam. Hulle motivering vir die behoefte aan geloofvorming by wyse van lering is dus om as lewensdoel na te streef om God te ken.

Geloofvorming in studentebediening

Soos gesien in die beskrywing van hierdie behoefte, lê beide die studente en die leraars sterk klem op lering en onderrig in geloofvorming. In die literatuur word onderrig ook as deel van geloofvorming beskou (Nel 2018:174) en meer spesifiek deur programme en materiaal wat saamgestel is vanuit die perspektief van menslike en geloofsontwikkeling (Fowler 1981; Osmer 1990:219, 2012:36). Geloofvorming vra egter veel meer as net lering, en daarom is dit van belang om die volgende drie aspekte van en benaderinge tot geloofvorming te bespreek, naamlik: (1) geloofvorming en dissipelskap; (2) ’n holistiese benadering tot geloofvorming; en (3) geloofvorming as pastorale sorg.

Geloofvorming en dissipelskap: Vanuit die data wat ingesamel is, blyk dit dat die term dissipelskap nie deur die studente of die leraars gebruik word nie. ’n Begrip van dissipelskap is klaarblyklik nie deel van die studente se geloof of hul selfbegrip as Christengelowiges nie. Die leraars verwys ook nie na dissipelskap as deel van húl begrip van geloofvorming nie. Vanuit die literatuur word dit duidelik dat dissipelskap en geloofvorming nie van mekaar geskei kan word nie (Bonhoeffer 2001:59; Firet 1986:67; Nel 2018:36; Rengstorf 1967:447).

Bonhoeffer (2001:59) verstaan dissipelskap as die oproep om Jesus te volg, asook ’n proses van transformasie. Hy skryf dat wanneer Jesus ’n persoon roep, Hy hom of haar roep om te kom en te sterf. Die kruis staan aan die begin van gemeenskap met Jesus Christus. Jesus roep ons na die kruis om ons eie kruis te dra en dan roep Hy ons ook om ons naaste lief te hê in en deur hul lyding weens hul eie kruis (Bonhoeffer 2001:90). Hy roep ons om te kom en te sterf in dieselfde ruimte as ons naaste sodat die Gees ons in ons gemeenskap van die dood die nuwe lewe in kan lei.

Geloofvorming in studentebediening is dus niks meer as om die oproep van Jesus te volg nie (Root 2014a:190). Die teoloog Robert Mulholland (1993:12) se begrip van geloofvorming bied ’n samevattende definisie van geloofvorming as ‘a process of being conformed to the image of Christ for the sake of others’.

Holistiese geloofvorming: Geloofvorming moet ook holisties van aard wees. In die lig van nuwe ontwikkelings in die teologie en menslike wetenskappe skryf Douglass en Mikoski (2018) hoe ons konsep van die Triniteit en imago Dei ook geloofvorming moet beïnvloed:

Effective faith formation is holistic and grounded in the recognition of the image of God (imago Dei) in each person. This means that the spiritual, bodily, and social reality of an individual and the community within which they are embedded are taken into account as part of faith formation. (p. 21)

Gevolglik moet emosies, liggame, verhoudings en die kulturele dimensies van lering voldoende aandag geniet. Geloofvorming behels meer as net die oordrag van tradisionele idees; dit behels die transformasie van die hele persoon (Douglass & Mikoski 2018:28).

Geloofvorming as pastorale sorg: Die belang van toegeneentheid in die onderrig en ontwikkeling van mense vereis dat die kerk erns moet maak met die pastorale dimensie van lering (Nel 2018:170–171).

Die kruks van Firet (1986:246) se argument is die beskrywing van agogiek as ’n pastorale situasie. Die wyse waarop die opvoeder pastoraal betrokke is as ’n ‘evenmens’ in die onderrig van ander, bepaal grotendeels tot watter mate die leerling betrokke sal raak in sy of haar eie proses van verandering. Slegs in pastorale betrokkenheid kan ontwikkeling, groei en verandering plaasvind.

Die teorie van praxis in geloofvorming vereis ’n gesonde pastorale verhouding tussen die mense wat in die plaaslike gemeente onderrig en diegene wat geleer word. Hierdie verhouding is die primêre fasiliteerder vir die oordrag van kennis. Die ontwikkeling van ’n persoon word versterk deur die menslikheid en die pastorale ‘evenmenselijkheid’ (Firet 1986:160) van die opvoeder.

Die bevindinge rakende die behoefte aan geloofvorming dui op die belangrikheid van ernstige nadenke oor en ondersoeke na leraars en gemeentes se begrip van geloof, en gevolglik geloofvorming. Studentebediening benodig ’n dieper begrip van geloofvorming. Nel (2018:176) se woorde bied leiding vir sodanige nadenke en ondersoeke: Geloofvorming is om aan die gemeente en hul selfbegrip te werk. Vorming is dus nie iets wat die gemeente met studente doen nie. Dit is iets wat eers in die gemeente self moet gebeur. In die konteks van dissipelskap kan slegs leerlinge, soos hulle Jesus volg, nuwe leerlinge ‘maak’ wat Jesus volg. Stoppels (2013) gebruik die metafoor van ’n oefenruimte. Die gemeente moet die oefenruimte wees waarin studente geleer word en leer deur hul dissipelskap in te oefen (vgl. Nel 2009, 2015).

Die implikasies is egter nie beperk tot net studentebediening nie. Bevindinge vanuit die empiriese navorsing en die literatuur beklemtoon die onvermydelike belang van die ouerhuis (Avenant, Nel & Jordaan 2021:7; Dean 2010:18; Nelson 2014:61–62; 72; Smith & Denton 2005:261) en die tuisgemeente in die vorming van die studente se geloof (Smith 2009:286). Studentebediening bou voort op die geloofvorming wat in die ouerhuis en tuisgemeente plaasgevind het. Die bevindinge kan dus beskou word as ’n beroep op elke leraar, elke gemeente en die breër kerkverbande in die land om ernstig te besin oor die manier waarop die kerk ouers toerus en help met die vorming van hul kinders se geloof. Voorts moet ook besin word oor die doel en uitvoering van die bediening aan die jeug in elke gemeente.

Behoefte aan mentorskap

Vanuit die empiriese data wat ingesamel is onder die studente is bevind dat Afrikaanssprekende universiteitstudente ’n behoefte het aan geestelike mentors wat geestelike leiding bied en hulle meer kan leer sodat hulle geestelik kan groei. Daar is ook bevind dat hulle ’n behoefte het aan persoonlike kontak ten einde ’n goeie verhouding(s) met (’n) mentor(s) in die gemeente te vestig.

Vanuit die empiriese data wat ingesamel is onder die studenteleraars is bevind hul begrip van die behoefte aan mentorskap is om die studente toe te rus en geestelike begeleiding te bied met die doel om hulle die wêreld in te stuur ten einde hul roeping te gaan uitleef.

Beide die studente en die leraars het die behoefte aan mentorskap as die tweede belangrikste behoefte beskou.

Dit blyk dat die fokus van die studente en leraars se verstaanswyses van die behoefte aan mentorskap verskillend is. Die studente se behoefte aan mentorskap is hoofsaaklik gefokus op die hede. Hierdie behoefte word gekenmerk deur vrae en gesprekke oor die kwessies en ervaringe waarmee hulle as studente gekonfronteer word sowel as om, by wyse van mentorskap, geestelik te groei en hul lewensdoel na te streef, naamlik om God te vereer.

Die leraars se beskrywing van hul begrip van die behoefte aan mentorskap is meer toekomsgerig, naamlik om die studente toe te rus om hulle die wêreld in te stuur. Hul fokus val meer op die student se lewe ná sy of haar studie as op die studentejare. Die vervulling van die behoefte vra ʼn fyn balans om in beide hul behoefte aan mentorskap as studente te voorsien en hulle vir die toekoms toe te rus. Wanneer studente deur hul studentejare bedien en begelei word, word hulle ook indirek voorberei vir die toekoms en word die grondslag vir hul volwasse lewe gelê.

Die leraars se begrip van mentorskap en antwoorde op die ander vrae wat in die onderhoude gevra is, eggo die doel van studentebediening soos verwoord in die verslag van die N.G. Kerk se Algemene Sinodesitting in 1966. Die doel van studentebediening lees soos volg:

Omdat studente met reg die leiers van die toekoms genoem kan word, moet hulle geestelik vir Christus gewen en vir die kerk behou word, sodat hulle sterk en gesonde leiding kan gee na die voltooiing van hulle studieloopbane. Studentebearbeiding is dus uiters strategiese arbeid, met verreikende resultate en die kerk moet studentelidmate op hierdie besondere stadium van hulle lewe so goed en deeglik as moontlik bereik en bearbei. (Algemene Sinode van die N.G. Kerk 1966:86)

In die lig van nadenke oor geloof en geloofvorming is dit nodig dat die doel van studentebediening ook weer bedink moet word. Nel (2018:19, 22) skryf dat die doel van jeugbediening bepaal moet word deur die teologiese begronding daarvan (vgl. Bonhoeffer 2009:515–517; Root 2014a:xix). Die navorsing dui dus aan dat daar weer besin moet word oor die teologiese begronding van studentebediening ten einde die doel daarvan te herformuleer.

Juis om hierdie rede is dit belangrik om Root (2014b:xx) se siening van bediening uit te lig as ’n beginpunt vir nadenke oor die doel van studentebediening. Hy skryf dat hy nie met die woord bediening verwys na geestelike of institusionele funksies nie, maar eerder:

… a relational, personal, and embodied (even emotive) encounter of love and care, a willingness to share in the other, to join in the concrete experience of homelessness, imprisonment and hunger, to enter the experience of suffering for the sake of participating in the transformation towards new life. In these acts of ministry that join concrete humanity, Jesus is present through the ministerial action of the Spirit. (Root 2014b:xx)

Mentorskap en die leefwêreld van die student

Die studente se omskrywing van hul behoefte aan mentorskap en die leraars se beskrywing van hul begrip van mentorskap, hou albei direk verband met die omgewing waarin die studente leef. Daarom is dit nodig om die invloed van die omgewing te verstaan ten einde die behoefte aan mentorskap en die vervulling van daardie behoefte te verstaan.

Die invloed van die studente se leefwêreld op hul geloof: Die mees prominente geloofsuitdaging waarmee studente gekonfronteer word, is om hul leefwêreld as Christene te navigeer. Hulle word gekonfronteer met ander lewensbeskouings, geloofoortuigings en waardes waarmee hulle nog nie vantevore gekonfronteer is nie, en bowenal het hulle ongekende vryheid. Die meerderheid van die studente beleef dat hul ervaringe op universiteit ’n negatiewe impak op hul geloof het.

Die konfrontasies, gevolglike vrae en soeke na antwoorde lei na ’n herontdekking van hul identiteit. Die vrae wat die studente vra, sluit in vrae oor identiteit, byvoorbeeld: Hoe verstaan ek myself in dié konteks? Vrae oor identiteit word beskou as deel van Arnett se sogenaamde ontwikkelingtaak van ontluikende volwassenheid, wat die lewensfase is waarin die studente hulself bevind (Arnett 2015:8–10, 2016:410). Die herevaluering van geloofoortuigings en identiteit loop parallel met ontwikkelingveranderinge wat voorkom tydens ontluikende volwassenheid. Om hul geloof hul eie te maak, is ’n kritiese aspek van identiteitontwikkeling en differensiasie (Parks 2011:8; Setran & Kiesling 2013:1–2; vgl. Erikson 1959; Marcia 1966:551–558).

Geloof is ’n kerndeel van die studente se identiteit. In die spirituele stryd (Bryant & Astin 2008:2; Parks 2000:28; Schundler 2015:49) wat hulle tydens hul studentejare ervaar, lê die belofte en broosheid van ontluikende volwassenheid. Hiermee saam die geboorte van ’n kritiese bewussyn, en in die moontlike ontnugtering lê die potensiaal vir die herformulering van die betekenis van die self, die ander, die wêreld en geloof (Parks 2000:29).

Die invloed van die konteks van die universiteitkampus op studentebediening: Die konteks van die universiteitkampus waarin die gemeente studente moet bedien, het ’n direkte invloed op die gemeente en die bediening. Die meerderheid van die uitdagings waarvoor studentegemeentes te staan kom, hou direk verband met die konteks van die universiteitkampus.

Na aanleiding van die bevindinge van die onderhoude met die studenteleraars is een van die grootste en belangrikste uitdagings van studentebediening om die diverse studentegemeenskappe in Suid-Afrika te weerspieël. Die uitdaging is dus om multikulturele bedieninge te kweek.

Vanuit die leraars se antwoorde kan die afleiding gemaak word dat beide die leraars en die studente dit moeilik vind om aan te pas in ’n verengelsde, multikulturele en voortdurend veranderende konteks. Sommige van die leraars en studente is geneig om meer behoudend te wees en poog om die status quo van oorwegend wit Afrikaanse Protestantse gemeentes te preserveer en te handhaaf.

In die navorsing is egter bevind dat die meerderheid van die studente ten gunste is van ’n multikulturele bediening. Die data toon dat die studente bewus is van die uitdagings van sodanige bediening, maar nietemin ten gunste is daarvan. Dit is vir hulle uiters belangrik dat hul geloofgemeenskap bestaan uit medegelowiges wat hul geloofoortuigings deel, maar buiten hierdie aspek, maak taal en kultuur nie vir hulle soveel saak nie.

Vanuit die literatuur is dit belangrik om die werk van drie akademici uit te lig as bydrae tot die gesprek oor multikulturele bediening en studente se behoefte aan mentorskap.

Die eerste is die werk van Seibel en Nel (2010) ten opsigte van die vereistes vir intergenerasionele bediening. Hulle skryf dat daar minstens twee vereistes is waaraan ’n gemeente moet voldoen indien dit die oorgangsproses na ’n intergenerasionele bediening suksesvol en effektief wil navigeer (Seibel & Nel 2010:1). Intergenerasionele bediening word in meer besonderhede later in die artikel bespreek, maar dit is belangrik om te noem dat die twee vereistes ook van toepassing kan wees op die gemeentes se nadenke oor die uitdaging van multikulturele bediening.

Die eerste vereiste is dat die relevansie van die kerk se missie en boodskap herontdek en weer toepaslik gemaak moet word in kulturele vorme wat tot die lidmate van elke nuwe generasie spreek (Seibel & Nel 2010:1). Die tweede vereiste is dat die gemeente bereid moet wees om elke nuwe generasie te bemagtig met die vryheid om hul kenmerke op die tradisie af te druk (Seibel & Nel 2010:1). Dit vra van gemeentes om die studente te bemagtig om die kerk te help om die missie en boodskap te herontdek en te vertaal vir hul generasie, asook om húl stempel op die tradisie af te druk. Sodoende kan nuwe geleenthede vir bediening geskep word.

Die tweede relevante werk is Parks (2011:270) se beskrywing van gemeentes as menteringgemeenskappe (‘mentoring communities’). Een van die eienskappe van sogenaamde menteringgemeenskappe is die herkenning van die polariteite van religieuse tradisies (Parks 2011:272–274). Dié en ander eienskappe van sodanige gemeenskappe kan studente begelei en bemagtig om die kerk te help in die soeke na en vestiging van multikulturele gemeentes.

Die doel van mentorskap is gevolglik om studente te begelei en by te staan deur die herformulering van die betekenis van lewe en identiteit. Parks (2011:166–173) se beskrywing van die eienskappe van ’n mentor, en Nel (2018:270–282) se beskrywing van die leraar as leier, bied ’n etos vir mentorskap in studentebediening. Mentorskap is dus ’n onlosmaaklike deel van geloofvorming.

Behoefte aan ʼn geloofgemeenskap

Vanuit die empiriese data wat ingesamel is onder die studente is bevind dat Afrikaanssprekende universiteitstudente ’n behoefte het aan ’n geloofgemeenskap wat aan hulle ’n veilige ruimte bied waar hulle tuis voel en geestelik saam met ander gelowiges kan groei.

Die empiriese data wat onder die studenteleraars ingesamel is, toon dat studenteleraars die behoefte aan ’n geloofgemeenskap verstaan as studente se behoefte aan ’n plek waar hulle tuis kan voel en waar hulle deel kan wees van ’n gemeenskap en diepgaande verhoudings kan vestig.

Die studente het die behoefte aan ’n geloofgemeenskap as hul kleinste behoefte beskou. Daarenteen het die studenteleraars ’n geloofgemeenskap beklemtoon en dit beskou as die studente se grootste en belangrikste behoefte.

Die studente se behoefte aan ’n geloofgemeenskap beskik oor twee belangrike elemente. Eerstens ’n veilige ruimte waar die individu aanvaar word en tweedens om in gemeenskap met ander in geloof te groei. Om te groei in geloof is vir die studente die kern van wat dit beteken om deel te wees van ’n geloofgemeenskap.

Die studenteleraars sluit nie ‘om te groei in geloof’ in as deel van hul begrip van die studente se behoefte aan ’n geloofgemeenskap nie. Dit is dus duidelik dat die doel van ’n geloofgemeenskap verskillend verstaan word.

Begrip van die doel van ’n geloofgemeenskap beïnvloed beide die leraars en gemeentes se konsep en uitvoering van die bediening. Dit is daarom nodig om leraars en gemeentes aan te moedig om weer te besin oor wat dit beteken om ’n geloofgemeenskap te wees as beide ’n plek waar studente kan tuis voel en ’n ruimte waar hulle geestelik saam met ander gelowiges kan groei.

Intergenerasionele bediening

In aansluiting by die navorsing van Seibel en Nel (2010), is dit duidelik dat studentebediening ’n soort intergenerasionele bediening behoort te wees omdat beide geloofvorming en mentorskap doeltreffend in ’n intergenerasionele geloofgemeenskap aangepak kan word. Vervolgens word hierdie konsep in meer besonderhede bespreek.

Intergenerasionele studentebediening is veral noodsaaklik om die volgende twee redes:

Eerstens is die jeug, insluitend studente, ’n integrale deel van God se verbondsvolk en gevolglik mag hulle nooit verwyderd wees of geskei word van die res van die geloofsgemeenskap nie. Studente is nie ’n afsonderlike groep in die gemeente nie – hulle is die verantwoordelikheid van die hele geloofsgemeenskap. (Nel 2018:215–217)

Tweedens is die lewensfase waarin die meeste studente is, ’n kritieke fase vir identiteit- en geloofvorming. Een van die probleme tydens hierdie lewensfase is dat die meeste ontluikende volwassenes verkies om te sosialiseer met mense soortgelyk aan hulle en van hul eie ouderdom (Herrmann 2015:20–21). Gevolglik word hulle gevorm deur mense wat in dieselfde lewensfase as hulle is en soortgelyke sieninge en oortuigings deel. ’n Intergenerasionele bediening bied aan studente ’n gesonder omgewing wat bestaan uit verskeie generasies, lewenservarings en oortuigings waarin hul vorming gefasiliteer kan word (Allen 2015:88–89; Kinnaman 2011:203; Smith 2009:285).

Intergenerasionele studentebediening lyk dalk soos ’n onoorkombare uitdaging, maar juis daarom moet die belangrikheid van tuisgemeentes beklemtoon word. Indien jeugbediening in gemeentes waarlik as intergenerasionele bediening funksioneer, kan dit die weg vir studentebediening baan.

Implikasies vir studentebediening: Dienende, transformerende leierskap

Youth ministry stands and falls with good leaders’, Nel (2000:116).

Studentebediening in Suid-Afrika benodig dienende, transformerende leierskap en Osmer (2008:176) se bespreking van dienende, transformerende leierskap dien daarom as ’n noodsaaklike beginpunt om die uitdagings van studentebediening die hoof te bied.

Osmer (2008:176) skryf dat leraars nie net die eksterne uitdaging van ’n veranderende sosiale konteks moet trotseer nie, maar ook die interne uitdagings om hul gemeente te help om oor hul identiteit en missie te herbesin.

Transformerende leierskap beteken diepgaande verandering (Quinn 1996). Dit behels die leiding van ’n organisasie, in hierdie geval ’n gemeente, deur ’n proses waartydens die identiteit, missie, kultuur en operasionele prosesse van die organisasie fundamenteel verander word (Osmer 2008:177). Om aan die stuur van diepgaande verandering te wees, is egter duur en riskant. Leiers moet daarom self ondersoek instel na hul eie kernwaardes, asook die ‘innerlike stem’ van die gemeente wat hulle lei (Quinn 1996:201).

Diepgaande verandering is nie ’n liniêre proses wat uitspeel volgens ’n rasionele plan nie. Wanneer die organisasie deur ’n periode beweeg waarin ou patrone nie meer werk nie en nuwe patrone gevorm moet word, voel dit dikwels chaoties. Gedurende hierdie periodes moet transformerende leiers getrou bly aan hul interne visie terwyl hulle ander bemagtig om ook húl visie te hervorm (Osmer 2008:178).

Osmer (2008:183–184) vra tereg wat die doel is van die verandering wat leraars moet lei. Hy vind sy antwoord in Paulus se begrip van ’n gemeente as ’n kontragemeenskap en ’n katalisator vir sosiale transformasie (Osmer 2008:185–192).

Gemeentes se vermoë om die rigting te beïnvloed waarin hul plaaslike gemeenskap beweeg, sal nie kom van hul sosiale status of hulpbronne nie, maar vanuit hul vermoë om alternatiewe moontlikhede te bied. Dit kan moontlik die effek van ’n katalisator op sosiale verandering hê. Die verandering vra ook dienende leierskap. Dienende leierskap kan die gemeente so beïnvloed dat dit al meer die diensbaarheid van Christus sal beliggaam (Osmer 2008:192). Leiers wat hulself verbind tot transformerende leierskap kom die naaste aan die dienende leierskap wat Jesus ten toon gestel het. Soos Christus sal hulle die swaarkry moet verduur wat gepaard gaan met die leiding van ’n gemeente om die gemeenskap te word wat God wil hê hulle moet wees.

Samevatting

Vanuit die navorsing is dit duidelik dat studentebediening in Suid-Afrika voor heelwat groot uitdagings te staan kom. Hierdie uitdagings lê egter nie soseer in die konteks van studentebediening nie, maar eerder in die begrip en uitvoering van die bediening van Afrikaanssprekende studente.

Navorsing het bevind dat Afrikaanssprekende universiteitstudente wat aan die studie deelgeneem het toegewyde, meelewende lidmate is. Hul oorhoofse doel in die lewe is om God te eer in alles wat hulle doen. Die studente se geloof, hul verhouding met God en die uitleef van hul geloof is vir hulle ’n saak van groot erns. Daarom vertrou hulle hul geloofgemeenskap en hul leraars om hulle te help, te bedien en te begelei in die strewe na hul doel. Dit is vanuit hierdie strewe wat hulle bedieningbehoeftes voortvloei.

Soos ook bevind in die navorsing, verstaan studenteleraars die bedieningbehoeftes van studente inhoudelik anders en so ook die belang daarvan. Daarom daag die resultate van die navorsing studenteleraars en studentegemeentes uit om oor die doel van hul studentebediening te herbesin. Studentebediening vereis dat dienende, transformerende leiers selfondersoek instel na hul begrip van God Drie-enig, hul geloof, dissipelskap, die geloofgemeenskap en gelowiges se taak om die koninkryk van God sigbaar te maak. Dit is voorts belangrik dat leraars hul rol as studenteleraars moet herdefinieer en hulself verder in die kuns van pastoraat en mentorskap moet bekwaam.

Studentebediening is egter nie alleenlik die verantwoordelikheid van studentegemeentes nie. Dit bou voort op die jeugbediening van die student se tuisgemeente en daarom moet die breër kerkverband effektiewe, sinvolle studentebediening vestig. Dit beteken dat elke gemeente en leraar erns moet maak met hul jeugbediening, geloofvorming, die toerusting van ouers en in die besonder intergenerasionele jeugbediening.

Erkenning

Mededingende belange

Die skrywers verklaar dat hulle geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hulle nadelig in die skryf van hierdie artikel kon beïnvloed het nie.

Outersbydrae

N. Kemm was verantwoordelik vir die konseptualisering en skryf van die artikel. M. Nel was die kritiese leser en promotor van die doktorale studie waarop die artikel gebaseer is.

Etiese oorwegings

Hierdie studie is uitgevoer met die toestemming van die navorsingkomitee van Fakulteit Teologie en Religie aan die Universiteit van Pretoria.

Befondsing

Hierdie projek is gedeeltelik befonds deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging.

Data beskikbaarheidsverklaring

Geskrewe toestemming is verkry van die deelnemers aan die studie, en afskrifte van die toestemmingbriewe is beskikbaar. Die data wat gebruik is vir die skryf van die artikel, soos die transkripsies van die onderhoude en statistieke vanuit die vraelys verkry, is ook beskikbaar.

Vrywaring

Die sienings en menings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die skrywers en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde agentskap van die skrywers nie.

Literatuurverwysings

Algemene Sinode van die N.G. Kerk, 1966, Verslag van die Jeug-Studiekommissie van die Ned. Geref. Kerk vir behandeling deur die Algemene Sinode in sitting 13 Oktober 1966 e.v.d. asook die besluite van die Algemene Sinode besigtig 13 Junie 2022, van www.kerkargief.co.za/acta/.

Allen, H.C., 2015, ‘Walking with emerging adults on the spiritual journey’, in T.W. Herrmann, K.D. Tenhaken, H.M. Adderley & M.K. Morris (eds.), A faith for the generations: How collegiate experience impacts faith, 71–95, Abilene Christian University Press, Abilene, TX.

Arnett, J.J., 2015, Emerging adulthood: The winding road from the late teens through the twenties, 2nd edn., Oxford University Press, New York, NY.

Arnett, J.J., 2016, Human development: A cultural approach, 2nd edn., Pearson, Boston, MA.

Avenant, J.C., Nel, M. & Jordaan, J.C., 2021, ‘Die rol van die ouerhuis in die intergenerasionele geloofsvorming van die jeug in belang van ʼn geïntegreerde jeugbediening’, Verbum et Ecclesia 42(1), a2250, https://doi.org/10.4102/ve.v42i1.2250.

Bonhoeffer, D., 2001, Discipleship, Fortress Press, Minneapolis, MN.

Bonhoeffer, D., 2009, Berlin: 1932–1933, Dietrich Bonhoeffer Works, Vol 12, Fortress, Minneapolis, MN.

Bryant, A.N. & Astin, H.S., 2008, ‘The correlates of spiritual struggle during the college years’, The Journal of Higher Education 79(1), 1–27. https://doi.org/10.1353/jhe.2008.0000

Dean, K.C., 2010, Almost Christian: What the faith of our teenagers is telling the American Church, Oxford University Press, New York, NY.

Douglass, K.M. & Mikoski, G.S., 2018, ‘Learning in the image of God, encountering God in body, mind, spirit, and relationship’, in R.R. Osmer & K.M. Douglass (eds.), Cultivating teen faith insights from the conformation project, pp. 29–44, William B. Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Erikson, E.H., 1959, Identity and the life cycle, W.W. Norton & Company, New York, NY.

Firet, J., 1986, Dynamics in pastoring, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Fowler, J.W., 1981, Stages of faith, Harper, San Francisco, CA.

Herrmann, T.W., 2015, ‘Emerging adulthood and religious faith, a conversation with Christian Smith’, in T.W. Herrmann, KD. Tenhaken, H.M. Adderley & M.K. Morris (eds.), A faith for the generations: How collegiate experience impacts faith, pp. 17–27, Abilene Christian University Press, Abilene, TX.

Kinnaman, D., 2011, You lost me: Why young Christians are leaving church and rethinking faith, Baker Books, Grand Rapids, MI.

Marcia, J.E., 1966, ‘Development and validation of ego-identity status’, Journal of Personality and Social Psychology 3(5), 551–558. https://doi.org/10.1037/h0023281

Mulholland, M.R., 1993, Invitation to a journey, InterVarsity Press, Downers Grove, IL.

Nel, M., 2000, Youth ministry: An inclusive congregational approach, Design Books, Pretoria.

Nel, M., 2009, ‘Inviting and initiating youth into a life of discipleship’, Verbum et Ecclesia 30(2), 344. https://doi.org/10.4102/ve.v30i2.344

Nel, M., 2015, ‘Imagine-making disciples in youth ministry … that will make disciples’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 71(3), a2940. https://doi.org/10.4102/hts.v71i3.2940

Nel, M., 2018, Youth ministry: An inclusive missional approach, rev. edn., AOSIS, Cape Town.

Nelson, L.J., 2014, ‘The role of parents in the religious and spiritual development of emerging adults’, in C. McNamara Barry & M.M. Abo-Zena (eds.), Emerging adults’ religiousness and spirituality, pp. 59–76, Oxford University Press, New York, NY.

Osmer, R.R., 1990, A teachable spirit: Recovering the teaching office in the church, Westminster John Knox, Louisville, KY.

Osmer, R.R., 2008, Practical theology: An introduction, William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids, MI.

Osmer, R.R., 2012, ‘Formation in the missional church: Building deep connections between ministries of upbuilding and sending’, in D.J. Zscheile (ed.), Cultivating send communities: Missional spiritual formation, pp. 29–55, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Parks, S., 2000, Big questions, worthy dreams: Mentoring emerging adults in their search for meaning, purpose, and faith, Jossey-Bass, San Francisco, CA.

Parks, S., 2011, Big questions, worthy dreams: Mentoring emerging adults in their search for meaning, purpose, and faith, 10th edn., Jossey-Bass, San Francisco, CA.

Quinn, R.E., 1996, Deep change: Discovering the leader within, Jossey-Bass, San Francisco, CA.

Rengstorf, K.H., 1967, s.v. ‘Mantanou’, in G. Kittel (ed.), transl. G.W. Bromiley, Theological dictionary on the NT Vol 4, pp. 390–461, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Root, A., 2014a, Bonhoeffer as youth worker: A theological vision for discipleship and life together, Baker Academic, Grand Rapids, MI.

Root, A., 2014b, Christopraxis: A practical theology of the cross, Fortress Press, Minneapolis, MN.

Schundler, H., 2015, ‘Spiritual struggle within a faith-based institution’, in T.W. Herrmann, K.D. Tenhaken, H.M. Adderley & M.K. Morris (eds.), A faith for the generations, how collegiate experience impacts faith, Abilene Christian University Press, Abilene, TX.

Seibel, C.L & Nel, M., 2010, ‘Generation X, intergenerational justice and the renewal of the traditioning process’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 66(2), a876, https://doi.org/10.4102/hts.v66i2.876

Setran, D.P. & Kiesling, C.A., 2013, Spiritual formation in emerging adulthood: A practical theology for college and young adult ministry, Baker Academic, Grand Rapids, MI.

Smith, C., 2009, Souls in transition: The religious and spiritual lives of emerging adults, Oxford University Press, New York, NY.

Smith, C. & Denton, M.L., 2005, Soul searching: The religious and spiritual lives of American teenagers, Oxford University Press, Grand Rapids, MI.

Stoppels, S., 2013, Oefenruimte. Gemeente en parochie als gemeenschap van leerlingen, Boekencentrum, Zoetermeer.



Crossref Citations

No related citations found.