Abstrak
Three Dreyers, two ecclesial issues – a brief chronicle. The three Dreyers to whom this article refers are firstly, Willem Akkerhuys (Wim) Dreyer, church history scholar, to whom this volume of the HTS Theological Studies is dedicated; secondly, his father, Petrus Secundus Dreyer, in his lifetime theologian and professor in philosophy at the University of Pretoria, and myself, Yolanda Dreyer, the first woman to be licensed and ordained in the Netherdutch Reformed Church of Africa (NHKA), and the first female professor in theology at the University of Pretoria. Our histories converged at two theological and ecclesial issues, namely, the ordination of women and the gay issue. In this article these histories are explored from the autobiographical perspective of a participant, with the further aim to document history (herstory) from a female experience. The NHKA passed the resolution to ordain female persons in 1979, and the resolution with regard to the unconditional acceptance of gay persons in all walks of ecclesial life in 2016.
Contribution: This article presents original research in an autobiographical format. The research contributes to the theological discourse on gender justice in the South- African frame work of ecclesial history. It describes the inception of the ordination of women in the Afrikaans-speaking churches and persons belonging to sexual minorities.
Keywords: Dreyer-kroniek, Dreyer theologians, Netherdutch Reformed Church of Africa, women’s ordination, sexual minorities, gender justice.
Drie Dreyers
Die studieveld oor name, onomatologie, identifiseer vier hoofkategorieë waarin die oorsprong van familiename gevind kan word, naamlik afstamming wat te doen het met die naam van ’n ouer; geografiese name wat te doen het met plek; eienskapsname wat te doen het met ’n fisieke kenmerk van die persoon; en beroepsname (Plank 2011:269).
Die familienaam Dreyer is ’n beroepsnaam. Van Duitse oorsprong, verwys Dreyer of Dreier, die Nederlands Draaijer en die Engelse ekwivalent Turner na die beroep wat te doen het met die maak van hout- of beenvoorwerpe met behulp van ’n soort draaibank. ’n Minder algemene verklaring is dat die familienaam te make kan hê met die Duitse getal drei (drie). In Middelhoogduits was ‘drie’ met ‘n ‘-er’ aangelas Dreier of Dreyer, die kort naam vir die munstuk, Dreipfenniggröschlein, wat vanaf 1534 in Sakse gemunt en later algemeen gebruik is (Barber 2015). Die getal drie is op die munt gestempel. Die afleiding is dat die naam van die geldstuk in Duits-Joodse kringe ’n bynaam geword het wat later tot ’n van kon ontwikkel het.
Die drie Dreyers waaroor hierdie artikel ter huldiging van professor Willem Akkerhuys (Wim) Dreyer handel, is afstammelinge van ’n familie wat sedert skuins na die Middeleeue nie meer houtwerkers was nie, maar diep wortels in die teologie het (kyk Dreyer 2017). Die drie Dreyers is Wim Dreyer, hoogleraar in die Departement Historiese en Sistematiese Teologie aan die Fakulteit Teologie, Universiteit van Pretoria (2014 tot hede), sy pa, Petrus Secundus Dreyer wat ’n teoloog was en lektor, hoogleraar en later departementshoof in die Departement Wysbegeerte aan die Universiteit van Pretoria (1953–1985) en ekself, Yolanda Dreyer, die eerste vrou wat as predikant in die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) gelegitimeer (1980) en georden (1981) is en sedert 2000 hoogleraar in Praktiese Teologie aan die Universiteit van Pretoria.
Ons drie Dreyers beskou onsself nie as naby familie nie, maar eerder as verskillende takke van die stamboom wat terugvoer na Johannes Augustus Dreyer (1689–1759) wat hom in 1713 aan die Kaap gevestig het (kyk Dreyer [W.] 2017). Hy was die seun van Johannes, die eerste Protestantse predikant na die Kerkhervorming van Grube, Holstein, in Duitsland. Die verweefdheid van ’n deeltjie van die geskiedenisse van die drie Dreyers waaroor hierdie artikel gaan, het te make met twee groot teologiese kwessies in die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika in die laat twintigste en vroeë een-en-twintigste eeue. Die eerste is die kwessie van vroue as predikante en die tweede is dié betreffende gay persone. In hierdie artikel word die verhale kortliks vertel.
Die kwessie van vroue as predikante
Ek het in die Hervormde Kerk grootgeword. My oupa Theuns (T.F.J.) Dreyer (1898–1975) en sy tweelingbroer, Johannes (J.G.M) Dreyer (1898–1988) was predikante. Hulle is in 1924 georden. Theuns het gedien as skriba van die NHKA (1937–1964) (Oberholzer 2010:103) en Johannes was bykans 40 jaar lank redakteur van Die Hervormer. Hy was ook die voorsitter van die Kuratorium 1951–1954 (Oberholzer 2010:ix tot Hoofstuk 7). Vyf broerskinders Thomas (T.F.), Herbert (H.M.E), André (A.J.G.), Hans (J.G.M.) en Theuns (T.F.J.) was predikante, asook ’n neef en sewe aangetroude en ander familielede (Beeld 13 Mei 1975). Die vyf se suster, Dirkie Naudé, was met ’n predikant van dié Kerk getroud. My pa se suster, Didi van Niekerk, was met ’n predikant van dieselfde Kerk getroud.
Toe ek as vierjarige dogtertjie gevra word wat ek eendag wil word, is die antwoord: ‘Ek wil preek soos my oupa.’ Die volwassenes was geamuseerd, want natuurlik was daar nie in die 1960s vir ’n vrou ruimte om enige van die ampte in die Hervormde Kerk te beklee nie.
As skoolkind het ek begin raaksien hoe die werklikheid lyk. Selfs met die beste punte in die wêreld sou die pad na teologiestudie vir my toe wees, terwyl die seun in die skoolbank langsaan nie alteveel punte sou nodig hê om, nie net toegelaat te word tot die teologiestudie nie, maar ook nog vir die volle ses jaar ’n beurslening van die Hervormde Kerk te kry. Hy sou ook seker kon wees van werk in die Hervormde Kerk nadat hy afgestudeer het.
Daar was egter ook ’n ander kant van die werklikheid, al sou dit eers later in Suid-Afrika op die spits gedryf word. Selfs as kind het ek geweet: die liggaam van Christus en die Reformatoriese tradisie strek verder as die plaaslike verskyningvorm daarvan.
Die pastorie van die Kaapstad-gemeentes was oorkant ons huis in dieselfde straat. Die predikant in die tyd, André (A.J.G.) Dreyer, het sy doktorale studie in Nederland en die VSA voltooi. In Nederland was die predikant van die gemeente waarby hy en sy vrou, Marianne (ook ’n Hervormde predikantsdogter), ingeskakel het, ’n vrou. Tydens my skooljare het ’n groep Duitse teologiedosente en -studente die gemeente Kaapstad besoek. Onder die studente was ’n vrou met die naam Domenika. Dit was vanselfsprekend dat sy ’n predikant in die Duitse kerk sou kon wees nadat sy haar studie voltooi het. In ’n persverklaring op 30 Oktober 2018 kondig die Evangelische Kirche Deutchland (EKD) ’n viering aan: 100 jaar sedert vroue toegelaat is tot teologiestudie en 75 jaar sedert vroue as predikante georden is. Ook in 2018 vier die Reformierte Kirche Kanton Zürich in Switserland 100 jaar van die ordening van vroue (Sommer 2018). Op 27 Oktober 1918 word Rosa Gutknecht (1885–1959) en Elise Pfister (1886–1944) van die Switserse kerk die eerste vroue in Europa wat as predikante georden is. In die VSA is Antoinette Brown (1825–1921) die eerste vrou wat in ’n Protestantse hoofstroomkerk in 1851 gelegitimeer en in 1852 georden is. Sy kry ’n pos as predikant in die gemeente South Butler, New York (kyk [red.] Commire 1999:126–131). Daar was dus ’n ander werklikheid.
Benewens die negatiewe en positiewe eksterne werklikhede, was daar ook nog die interne kwelling: is dit vir my as ’n persoon van die vroulike geslag voor God verkeerd om teologie te wil studeer en ’n predikant te wil word? Ek het besluit om dit te toets oral waar ek maar kon. As dit blyk dat my ambisie verkeerd is en my roeping vals, sou ek dit laat vaar. Maar die antwoorde wat ek gekry het, was verbasend bemoedigend. Oupa se inskatting: ‘Jy sal nou wel nooit ’n predikant kan word nie, maar die Kerk het pastorale werkers in vrouekoshuise en verpleegsterstehuise nodig. Daar sal vir jou werk wees.’
Met die inwyding van die kerkgebou van die Hervormde gemeente Tygerberg in Kaapstad tydens my hoërskooljare in die vroeë 1970s, was die voorsitter van kerk, professor J.P. (Bart) Oberholzer, teenwoordig. Toe ek en my pa ‘oom Bart’ nader om te vra of ek teologie sou kon studeer, was sy antwoord kort en kragtig: ‘Laat sy kom.’ Ek is verseker: niemand kan ’n vrou verhinder om by die Universiteit van Pretoria in te skryf vir ’n BA-graad met Grieks en Hebreeus as vakke nie. In 1975 was ’n BA met vakke, soos voorgeskryf deur die Hervormde Kerk, ’n voorvereiste vir die teologiestudie, die graad BD. In 1976 beveel die Kuratorium aan dat die vereiste vakke sal wees: Grieks en Hebreeus tot op tweedejaarsvlak met een van die twee as hoofvak, Latyn 1 of Latyn 1b, Wysbegeerte en Bybelkunde, waarvan een tot op tweedejaarsvlak (Oberholzer 2010:104).
Die twee Wysbegeerte-dosente was albei Hervormers, meneer Abie de Beer en professor P.S. Dreyer. Professor Dreyer het die geskiedenis van die filosofie en die vak logika gedoseer. Hy het ook soms die erediens in die studentegemeente, Philadelphia, waargeneem. Hy was ’n gunstelingprediker onder die studente – dinamies en altyd met ’n interessante invalshoek.
Hoewel ek ’n Hervormde lidmaat was, het ek dit nie gewaag om te vra of ek as ’n teologiestudent van die Kerk aanvaar sou word nie. My pa se advies was: ‘Wees maar eers net daar.’ Van ’n kerkbeurslening was daar dus nie sprake nie en my pa het self al die koste gedra. Op pad na my eerste jaar aan die Universiteit van Pretoria, ontvang ek ’n brief waarvolgens ‘alle teologie-studente van die Hervormde Kerk outomaties lede van die Van der Hoff Teologiese Vereniging’ is. ‘Alle’ beteken toe: slegs mans, vroue uitgesluit. Twee jaar lank het ek ‘waarnemerstatus’ by die Van der Hoff-vergaderings gehad. Ek kon die eerste helfte van die vergadering bywoon en na die gasspreker luister. Daarna moes ek die lokaal verlaat. Een van die redes wat aangegee is: die mans sou moes ‘let op hulle taal’ as ’n vrou teenwoordig is.
In my derde jaar het ’n senior student Piet Steenkamp my aangemoedig om ‘aansoek te doen’ om lidmaatskap van Van der Hoff. Twee predikantsdogters wat senior lede was van die Hervormde Studentevereniging (HSV) het amptelik beswaar aangeteken teen my lidmaatskap van die Van der Hoff Teologiese Vereniging. Die Vanderhoffers self het dit egter aanvaar en in my derde jaar (1977) het ek volledig lid geword.
En in die vroeë 2000s word Jonanda Groenewald (née Kloppers) wat in 1998 die eerste vrouevoorsitter van die Van der Hoff Teologiese Vereniging geword het, my kollega in die Nederlandssprekende Gemeente in Parktown, Johannesburg.
’n Werklikheid nader aan die huis waarvan ek nie as jongmens geweet het nie, was dat vrouestudente van die susterskerk, die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk), reeds jare tevore aangemeld het vir teologiestudie. Die eerste vrouestudent, Joan Annandale, het reeds in 1962 ’n BD-skripsie met die titel ‘Die vrou in die amp’ voltooi. Nadat sy afgestudeer het, was daar vir haar geen moontlikheid om die predikantsamp in die NG Kerk te beklee nie. Sy het verder gestudeer in Bonn, Duitsland, in die Ou-Testamentiese Wetenskap en het in 1970 dosent geword aan die Universiteit van Suid-Afrika (Botha 1990:42, 62). ’n Ander NG-vrou wat vroeg reeds die teologiestudie voltooi het Jeanne Viljoen is op die ouderdom van 49 oorlede. Sy het, soos Elsje Büchner (2007:143) dit beskryf: ‘nooit die geleentheid gehad om haar diepste roeping uit te leef nie’. Haar dogter, Jeanne Fourie, en Christina Landman was my NG mede-teologiestudente in die 1970s. Ondanks die teenwoordigheid van hierdie en ander vroue, is vroue eers in 1990 by die Algemene Sinode van die NG Kerk in Bloemfontein tot die predikantsamp toegelaat (Nederduitse Gereformeerde Kerk 1990).
Die Hervormde Kerk het egter wel gou op my teenwoordigheid as teologiestudent gereageer. ’n Studie is van stapel gestuur en die persoon aan wie dit opgedra is om die saak te ondersoek, was professor P.S. Dreyer, die voorsitter van die Proponentseksamenkommissie (Oberholzer 2010:103). Ek het in 1975 as eerstejaarstudent begin. Tydens die eersvolgende Algemene Kerkvergadering (die ekwivalent van ’n sinode) in 1976 is die opdrag gegee dat die saak ondersoek word. Die besluit lui soos volg:
Die vergadering gee opdrag aan die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering om ’n studie te maak vir verslag en aanbeveling by die volgende Algemene Kerkvergadering oor die eventuele toelating van vroulike lidmate van die kerk wat aan die akademiese kwalifikasies voldoen, tot sommige of alle kategorieë van die amp van dienaar van die Woord (Oberholzer 2010:106).
Reeds die volgende jaar in 1977 is die resultaat van die ondersoek in boekvorm gepubliseer met die titel Vroue as predikante? Hierdie publikasie het as studiestuk gedien by die Algemene Kerkvergadering van 1979.
Die openingswoorde van die boek is die volgende (Dreyer [P.S.] 1977):
Sover dit die Nederduitsch Hervormde Kerk betref, is op 3 Februarie 1975 geskiedenis gemaak. Op daardie dag het mej. Yolanda Dreyer haar ingeskryf by die Universiteit van Pretoria vir die graad BA met die oog op die BD. (p. 1)
Dan volg ’n verduideliking van die akademiese vereistes van die NHKA vir voornemende predikante. Prof. P. S. Dreyer (1977:2) vervolg:
Toe mej. Dreyer op 03 Februarie 1975 as student ingeskryf het, was sy bloot student van die Universiteit van Pretoria. Almal het geweet dat sy ’n lidmaat van die Hervormde Kerk is, maar sy het nie gevra dat die Kerk haar as een van sy teologiese studente moet erken nie. Nóg sy, nóg enige ander vrou of enige vroue-organisasie het gevra dat vroue as predikante in die Hervormde Kerk toegelaat word. Mej. Dreyer se daad was egter ’n vraag aan die Kerk: Wat gaan die Kerk doen met een van sy vroue-lidmate wat dieselfde akademiese kwalifikasies as mans-lidmate het? … Om die rede was en is dit nodig dat die Hervormde Kerk aan sy vroue-lidmate sê of die Kerk gewillig is om ’n gekwalifiseerde vroue-lidmaat as predikant beroepbaar te stel of nie.
In 1979 is die Algemene Kerkvergadering gehou in die Van der Hoff-saal by die ou kerkkantoor van die Hervormde Kerk in Jacob Maréstraat, Pretoria, wat intussen verkoop is. Die saal het ’n klein galerytjie aan die kant gehad. Vandaar kon joernaliste en besoekers die verloop van sake waarneem. Daar het ek as vyfdejaarstudent gesit en kyk watter koers my toekoms sou inslaan. Die atmosfeer was gemoedelik. Ek skryf dit toe aan Hervormde teologie in die algemeen en meer spesifiek aan die trant van prof. P.S. Dreyer se studiestuk. Die beredenering daarvan is eenvoudig, prakties en menslik. Dit begin met roeping. As dit tot dusver nog net mans was wat hulle roeping kom aanmeld het, beteken dit dat God net mans kan (mág?) roep? Indien vroue hulleself geroepe voel, hoe gaan die Kerk daarop reageer? Kan die Kerk vroue se roeping as geldig beskou, maar dan weier om hulle in diens te neem? Prof. Dreyer (1977:4) beoordeel dit soos volg: ‘So ’n onderskeiding deur die Kerk sal soveel te meer as vooroordeel en willekeurigheid gebrandmerk staan wanneer die enigste grond vir die onderskeiding geslagsverskille is’. Die Kerk sou verder kon oordeel dat ’n vrou se roeping ‘ongeldig’ is op grond van sake soos ’n Bybelse verbod, die Kerk se interpretasie van die Bybel, die vroulikheid van die vrou (of dit haar ongeskik maak vir die amp van predikant), sosiale en kulturele faktore asook praktiese aangeleenthede in die Kerk (Dreyer [P.S.] 1977:4–5). Hierdie sake word vervolgens een vir een as hoofstukke in die boek bespreek.
Met Prof Dreyer se bespreking van die Ou- en Nuwe Testamentiese getuienis word die kulture van die tyd duidelik verdiskonteer. Ook die resepsie van die Bybelse getuienis in die geskiedenis van teologie en kerk word krities beoordeel. ’n Skerp waarneming oor die resepsie verwoord hy soos volg (Dreyer 1977):
Dit is buitengewoon interessant dat die eerste skeppingsverhaal (Gen. 1:26–29) so min aandag geniet. Hierdie Skrifgedeelte maak hoegenaamd geen verskil tussen man en vrou nie: albei, sonder onderskeid, is geskape na die beeld en gelykenis van God … en staan in direkte verhouding tot God. Man en vrou is ook tegelykertyd geskape en daar is geen aanduidings (soos bv. die naamgewings in die tweede skeppingsverhaal) dat die een in enige opsig minder as die ander een is. (p. 12)
Na ’n indringende bespreking van Pauliniese en post-Pauliniese materiaal, ook die saak van ‘die onderdanigheid van die vrou’, sluit die hoofstuk af met Galasiërs 3:28–29:
Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus. En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.
In die afdeling oor hoe die Kerk die Bybel interpreteer, spel Dreyer (1977:33–49) die trajek van die Hervormde Kerk se geskiedenis uit. Nog altyd kon ’n vrou ‘ewegoed as die man’ die doopbelofte aflê. Reeds baie jare lank gee vroue kategese in die kerk. ‘Baie lank terug [1957] het die vrou stemreg en spreekreg in die gemeente gekry, waardeur die sogenaamde “swyggebod” van 1 Kor.14:34 ter syde gestel is’. En, les bes, net ’n paar jaar tevore in 1973 het die Hervormde Kerk vroue tot die diakenamp toegelaat. Vroue mag dus wel in die Hervormde Kerk ’n amp beklee. Dreyer (1977:49) slaan die spyker in: ‘Met die toelating van vroue as diakens het die Kerk reeds prinsipieel die toelating van die vrou tot die amp aanvaar, ook die predikantsamp’.
Die hoofstuk ‘Die vroulikheid van die vrou’ (Dreyer [P.S.] 1977:50–51) wat die vraag aan die orde stel of ’n vrou ‘enige fisiese of psigiese kenmerke het wat haar ongeskik vir die predikantsamp maak’ (Dreyer 1977:50), word in twee bladsye afgehandel. Die ou argumente dat vroue ‘meer emosioneel’ en mans ‘meer intelligent’ sou wees, weerlê Dreyer met insigte uit die sosiale wetenskappe en wys op die kulturele en sistemiese faktore wat tot hierdie diskoers aanleiding gegee het en dit in stand hou. Die idee dat vroue ‘onlogies’ is, weerlê hy vanuit sy persoonlike ervaring ‘dat die beste punte in die logika-eksamen meesal na damesstudente toe gaan’ (Dreyer 1977:50).
Oor die besluit van die 59ste Algemene Kerkvergadering van Mei 1979 rapporteer Oberholzer (2010) soos volg:
Hierdie vergadering het ook die besluit geneem wat die weg van vroue na die amp van dienaar van die Woord oopgemaak het. Dit het gebeur na studie en bespreking wat etlike jare geduur het. Die vergadering het met ’n groot meerderheid die beginsel aanvaar dat vroue tot die amp toegelaat word, het dit aan die Kommissie oorgelaat om binne die raamwerk van die Wet en Bepalings die praktiese besware te hanteer en riglyne vas te lê vir die uitvoering van die besluit … (p. 111)
Twee predikante van die kerk het hulle teenstem uitgebring.
Teen daardie tyd was ons drie vroue teologiestudente. Kotie van der Westhuizen het in 1977 begin teologie studeer en Elsie Wolmarans in 1978. In ’n studiestuk vir die 72ste Algemene Kerkvergadering in 2019, som Tanya Van Wyk (2019) die uitkoms van die saak op die 1979 vergadering soos volg op:
Die meerderheidstandpunt van die vergadering was dat vroue volledig gelowiges, volledig deel van die Kerk is en derhalwe volledig met hulle gawes en talente in God se diens kan werk. Die vergadering het vervolgens in beginsel besluit dat vroue as predikante toegelaat sal word. (p. 270)
So het die Hervormde Kerk die saak van die een Algemene Kerkvergadering na die volgende (1976 na 1979) beredder. In die NG Kerk het dit dekades geduur. In die derde tradisionele ‘susterskerk’, die Gereformeerde Kerke, is die saak steeds op die tafel, maar sonder enige vordering.
Met die besluit van die Algemene Kerkvergadering van 1979, kon ek dus in November 1980 saam met my klasgenote gelegitimeer word. By die geleentheid ontvang ek die akademiese prys, die Nico Prinslooprys (Oberholzer 2010:112). Voorvereistes vir legitimasie was ’n proponentseksamen en ’n proefpreek. Dreyer was die lid van die Proponentseksamenkommissie wat by my proefpreek in die gemeente Krugersdorp teenwoordig was. Na sy bydrae tot en aandeel in die saak van die toelating van vroue tot die predikantsamp, was sy teenwoordigheid die dag daar ’n besondere voorreg. Ek is op 23 Januarie 1981 georden as predikant van die Nederduitsch Hervormde Gemeente Fonteinedal wat die Pretoriase Onderwyskollege bedien het. Ek het Andries van Aarde wat ’n dosentpos in Bybelkunde aan die Universiteit van Pretoria gekry het, in Fonteinedal opgevolg. Hy het later hoogleraar Nuwe-Testamentiese Wetenskap aan die Universiteit van Pretoria geword.
Die kwessie van gay mense
Die tweede Dreyer met wie my kerklike pad gekruis het ten opsigte van ’n kerlike en teologiese kwessie, is professor Wim Dreyer. Die kwessie was die gay saak. In hulle artikel oor die Hervormde Kerk se Besluit 41 (2016), beskryf Antoinette Janse van Rensburg en Wim Dreyer (2021:213) die saak en die toelating van gay mense tot die amp van predikant as ‘een van die [mees] ingrypende, traumatiese en emosiebelaaide kwessies waaroor kerke in die laaste twee dekades besluite geneem het’.
Ek het gedien in die NHKA se Studiekomitee oor Homoseksualiteit wat verslag gelewer het aan die 68ste Algemene Kerkvergadering van 2007 in Wonderboom. Hierdie studiewerk vir die Kerk het ek gekombineer met akademiese navorsing vir my universiteitswerk. Ek het gou besef dat ek my nie wil begeef op die terrein van wat Van Wyk en Buitendag (2010) noem die ‘byna eindelose eksegetiese navorsing oor die interpretasie van Skrifgedeeltes’ nie, ’n diskoers wat, volgens hulle, die debat oor homoseksualiteit by ’n impasse gebring het. Ook die wetenskaplik mediese kant van die saak was buite my veld.
Die term ‘homofobie’ is byna in die verbygaan in die bestaande navorsing genoem. Dit het my belangstelling geprikkel. ‘Fobie’ impliseer vrees. Dit vraag is dan: waarom sou ’n mens ’n ander se seksualiteit ‘vrees’? Watter bedreiging sou dit kon inhou vir mense wie se lewens nie daardeur geraak word nie? Waarom sou baie mense, ook gelowiges, so fel en veroordelend reageer op iets wat in wese niks met hulle te make het nie? Daarop het ek my navorsing toegespits (kyk Dreyer [Y.] 2004, 2005, 2006a, 2006b, 2007) en in my spreekbeurte oor die saak by twee Algemene Kerkvergaderings was die fokus op hoe gelowiges met hulle medemens omgaan en waarom. Die ervaring van die twee spreekbeurte, een in 2010 en een in 2013, was baie verskillend.
Die kerklike Studiekomitee Homoseksualiteit waarvan ek lid was, doen verslag aan die 68ste Algemene Kerkvergadering van 2007 met professor Theuns Dreyer as voorsitter. Beskrywingspunt 25 vloei voort uit die verslag van die komitee (NHKA 2007:89–90). Twee ouderlinglede van die studiekomitee was dit nie eens met die verslag nie en stel ’n mindersheidsverslag op. Daaruit vloei Beskrywingpunt 26 (NHKA 2007:90–91) voort. Beskrywingspunt 27 (NHKA 2007:91–92) van die Ring van Potchefstroom met die titel ‘Beoordeling van homoseksualiteit’ was die derde van drie beskrywingspunte oor die saak.
Die Studiekomitee se beskrywingpunt val uiteen in vier afdelings. Die eerste (NHKA 2007:89) fokus op Bybelse hermeneutiek (die interpretasie van die Bybel as ’n premoderne geskrif), Reformatoriese teologie (waarvan die kern is dat redding berus op ‘geloof alleen’) en die werk van die Gees wat dit vir alle gelowiges moontlik maak ‘om hulle hele lewe (ook die liggaam) in God se diens te stel’. Die tweede afdeling gee erkenning aan die bestaan van minderhede wat seksuele oriëntasie betref, asook hulle gelyke aanspraak in die kerk op ‘pastorale sorg en begeleiding tot ’n Geesgevulde lewe’. Die derde afdeling beklemtoon die evangeliese eis van die eenheid van die kerk as liggaam van Christus. Die implikasie is dat ook mense wat tot minderheidsgroepe behoort, verseker moet wees van ‘die liefde van God en van medegelowiges’. In die vierde afdeling word versoek dat verdere studie gedoen word oor ‘betekenisvolle verhoudingsmoontlikhede vir álle mense’. Tot op daardie tydstip is slegs voorsiening gemaak vir heteroseksuele lewensverbintenisse, by name die huwelik. Die besluit van die vergadering lui: ‘Die beskrywingspunt word nie aanvaar nie’ (NHKA 2007:90).
Beskrywingpunt 26 (NHKA 2007:90–91), wat voortvloei uit die minderheidsverslag van twee ouderlinglede van die studiekomitee, bevestig die volle menswees van alle mense voor God, dat alle gelowiges lede is van die liggaam van Christus, dat homoseksuele persone welkom is in die kerk, dat alle vorme van homofobie en haat teen gay mense teengewerk en pastorale sorg aan almal verleen moet word. Verder word die huwelik beklemtoon as die enigste moontlikheid vir mense om hulle seksualiteit uit te leef. Gay mense moet selibaat lewe. Drie riglyne word voorgestel. Eerstens moet die gelowiges homoseksuele persone laat tuis voel in die kerk. Tweedens moet die kerk riglyne verskaf aan ‘homoseksueel georiënteerde persone wat homoseks beoefen’. Derdens moet die kerk riglyne bied ‘om homofobie/gay-haat uit te skakel’.
In die vergadering word besluit om die beskrywingspunt te amendeer en te kombineer met ’n geamendeerde weergawe van Beskrywingpunt 27 van die Ring van Potchefstroom. Beskrywingspunt 27 (NHKA 2007:91–92) beskryf ‘homoseksuele dade’ as ‘sonde’ en ‘teen die skeppingsorde’, wys alle vorme van homoseksuele gedrag af en vereis dat persone met ’n homoseksuele oriëntasie hulle weerhou van homoseksuele gedrag. Die besluit van die vergadering is dat hierdie beskrywingspunt geïnkorporeer word in Beskrywingspunt 26 van die minderheidsverslag.
Hier tree Wim Dreyer in. Hy maak beswaar op ’n punt van orde. Die twee beskrywingspunte kan nie op hierdie wyse saamgevoeg en geamendeer word nie. Die drie voorstelle moet apart dien. Hy wys op die verwarring wat dit by die vergadering veroorsaak en versoek dat die besluit hersien word (NHKA 2007:92). Die vergadering bepaal dat die besluit nie hersien sal word nie. Dit word so gehandhaaf. Hierteen teken 21 professore, dosente en predikante hulle teenstem aan (NHKA 2007:93).
By die 69ste Algemene Kerkvergadering van 2010 te Wonderboom met dr Daan van Wyk jr as voorsitter is die saak van homoseksualiteit weer op die tafel. Die Ring van Johannesburg se Beskrywingspunt 45 word deur my gestel en gemotiveer. Die hoofpunt is dat alle gelowiges gelyk is en gelyk behandel behoort te word. In die beskrywingspunt word dan bygevoeg: ‘Die kerk word versoek om ruimte in die geloofsgemeenskap te skep vir alle betekenisvolle verhoudingsmoontlikhede wat by die evangelie pas’ (NHKA 2010:298). Die beskrywingspunt word nie aanvaar nie. Die saak word vir verdere studie verwys vir voorlegging by die 70ste Algemene Kerkvergadering in 2013.
By die 70ste Algemene Kerkvergadering van 2013, gehou in die Aula van die Universiteit van Pretoria, word Wim Dreyer tot voorsitter verkies. Die saak van homoseksualiteit is op die agenda. Agendas van ’n Algemene Kerkvergadering word nooit in volgorde behandel nie. Die voorsittendes besluit op grond van verskeie redes watter saak wanneer aan die orde kom. By hierdie vergadering kom die gay saak heel laaste aan die beurt. Dit is Vrydagmiddag. Die afgevaardigdes is moeg na ’n lang week. Hulle wil klaarmaak en huis toe gaan. Nou sal hierdie saak seker afgerammel en ’n haastige besluit geneem word, dink ek heimlik. Dit was egter nie die geval nie.
My ervaring as lid van die vergadering en as spreker was heeltemal anders as by die vorige geleentheid. Gewoonlik kyk mense na die spreker. Toe ek by die vorige vergadering aan die woord was, was die see van gesigte afgewend. Daar was ’n gevroetel in tasse en ’n algemene gekriewel. Ek het eers by die voorsitter navraag gedoen oor iets voordat my spreekbeurt sou begin – of so het ek gedink. Want normaalweg sou so ’n navraag nie tel as deel van die 3 minute spreektyd nie. Hierdie keer wel. Na presies 3 minute vandat ek die eerste woord gesê het, slaan die hamertjie my stil. Gelukkig het ek nie baie tyd nodig gehad om my saak te stel nie. Ek wou my nie begeef in eksegetiese, teologiese of ander debatte nie. Volgens Van Wyk en Buitendag (2010) is daar in hierdie soort debatte ‘twee uiteenlopende denkstrome wat direk teenoor mekaar staan wat albei vanuit die Bybel geregverdig word’, naamlik een wat homoseksualiteit veroordeel op grond van Bybelse getuienis en die ander wat die aanvaarding van die medemens bepleit, ook op grond van Bybelse getuienis. In beide my spreekbeurte van 2010 en 2013 het ek net die aanvaarding van die God-geskape medemens bepleit op grond van die evangelie van Jesus Christus en die beginsel van ‘doen aan ander soos jy aan jouself gedoen sou wou hê’.
Tydens die vergadering in 2013 kom ons dus laat by dié saak uit. Die voorsitter, Wim Dreyer, sit eers ’n hele ruk lank doodstil met toe oë, ’n hand teen die voorkop. Die vergadering is stil. Almal wag. Toe kondig hy die bespreking aan van Beskrywingspunt 66 van die Gemeente Brackenhurst (NHKA 2013:444) wat lui: ‘Die Algemene Kerkvergadering besluit om geen onderskeid in seksuele oriëntasie te maak in besluite wat lidmate of ampdraers raak nie’. Die motivering tot die beskrywingspunt begin met (NHKA 2013):
Die 68ste en 69ste Algemene Kerkvergaderings het besluit dat ’n homoseksuele teologiese student as predikant gelegitimeer kan word op voorwaarde dat hulle nie seks beoefen nie. Dit is met die Rooms-Katolieke teologiese begrip selibaat beskryf. (pp. 444–445)
Die motivering noem dit ‘onbillike diskriminasie’ en vra om regstelling.
My spreekbeurt kom redelik vroeg in die gesprek. Die atmosfeer en lyftaal van die gehoor is opmerklik anders as die vorige keer. Die mense luister rustig. Een vir een gaan die volgende spreekbeurte oor mense se eie verhale en ervarings met regte mense – geliefdes, kinders, familielede, gemeentelede, mense wat onbeskryflik seergekry het, mense wat lief is vir God, maar op grond van wat sommige gelowiges vir hulle voorhou ‘uit die Woord van God’, twyfel of God hulle enigsins kan liefhê. Daar is die aangrypende verhaal van ’n predikant wat sonder haar wete met ’n gay man (ook predikant van die Kerk) getroud is. Sy beskryf die hartverskeurende pogings om te wees en te doen soos ander verwag, in plaas van om ’n outentieke self te kan wees. Ook die getuienis van ’n gay teologiestudent wat hom geroepe gevoel het om ’n predikant te wees, maar nie kans gesien het om ’n leuen te lewe nie. Daar kom verhale van mense wat hulle eie lewe geneem het. Die paar pogings om die ‘saak’ klinies te beredeneer en af te wys, het in hierdie atmosfeer van menslikheid en medemenslikheid redelik halfhartig oorgekom. Teen 19h30 die Vrydagaand kom die gesprek tot ’n einde. Geen haastige besluit word geneem nie. Twee predikante stel voor dat die vergadering nie oor die saak stem nie, maar dit verwys word vir verdere studie.
Die vergadering aanvaar dié voorstel (NHKA 2013:448).
Wat ’n antiklimaks, het ek toe gedink. By verdere nadenke en met die verloop van die geskiedenis het ek begin insien dat juis hierdie geleentheid sonder druk en onder die uitstekende leiding van Wim Dreyer ’n keerpunt verteenwoordig het. Dit het die weg gebaan het vir Besluit 41 van die 71ste Algemene Kerkvergadering in 2016 onder voorsitterskap van dr André Ungerer. Antoinette Janse van Rensburg en Wim Dreyer (2021:214) beskryf dit soos volg: ‘Wat merkwaardig was van hierdie beskrywingspunt, is dat dit onveranderd en met ’n groot meerderheid van die vergadering goedgekeur is’.
Uit die saamgevoegde en geamendeerde Beskrywingspunte 26 en 27 van die 68ste Algemene Kerkvergadering van 2007 is die eerste drie positiewe punte behou, naamlik dat alle mense in hulle volle menswees voor God kan lewe, dat alle gelowiges lede is van die liggaam van Christus en dat die Kerk homofobie en haat teenoor gay persone moet teenwerk. Die volgende punt stel dat wanneer daar ‘konflik van belange’ is, die ‘belange van die gemeente’ swaarder sal weeg as dié van die (gay) ampsdraer. Die implikasie hiervan is dat ’n gemeente versterk sou kon word in die einste homofobiese gedrag en haat wat die Kerk so graag wil beveg. Dan volg ’n punt dat predikante nie regsbevoeg is om ‘huwelike’ tussen gay persone (burgerlike verbintenisse) te bevestig nie.
Die daaropvolgende twee punte gaan oor die huwelik tussen man en vrou. Waarom presies hierdie heteroseksuele aangeleentheid beskou is as relevant tot die saak van homoseksualiteit, is nie duidelik nie. Dit kan sekerlik nie daaroor gaan dat die lewenswyse van meer as 90% van die bevolking deur die Kerk ‘beskerm’ moet word teen die ‘bedreiging’ van die vergunning van lewensruimte aan minder as 10% van die bevolking nie? So iets sou op dieselfde vlak lê as toe enkele vroue begin toetree het tot terreine wat voorheen 100% manlik gedomineer was – soos die Kerk – en daar dan plotseling kommer uitgespreek word oor die ‘genderbalans’.
Die tweedelaaste punt toon insig in die feit dat menslike seksualiteit ’n komplekse aangeleentheid is, dat mense dikwels ernstig daarmee worstel en dat dit selfs traumatiese gevolge kan hê. Die Kerk wil nie ‘finale uitsprake’ daaroor gee nie, maar dat mense in liefde in plaaslike geloofsgemeenskappe versorg word. Die besprekingspunt sluit af met: ‘Daarom behoort die gesprek oor seksualiteit nie op kerkvergaderings plaas te vind nie, maar wel tydens pastorale gesprekke’ (NHKA 2016:20). Die laaste punt roep gelowiges op om Jesus Christus se voorbeeld te volg in hulle lewe. Dit sluit af met Efesiërs 5:1: ‘Lewe in liefde soos Christus ons liefgehad het.’
’n Klein kroniek
Die hoofrede vir hierdie klein kroniek is die huldiging van professor Wim Dreyer, hoogleraar Kerkgeskiedenis, of Historiese Teologie soos dit deesdae bekend staan, van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika wat vanjaar met emeritaat gaan. Hy is tydens die Algemene Kerkvergadering in 2022 weer tot voorsitter verkies en sal sy dienstermyn in die Kerk tot die volgende vergadering in 2025 kan voltooi. Van die raakpunte in die geskiedenis van ons onderskeie loopbane in sowel die NHKA as die akademiese werk by die Universiteit van Pretoria, die instansie waar predikante vir die NHKA opgelei word, is in hierdie huldigingsbydrae bespreek.
’n Verdere rede vir die kort kroniek is om ’n deel van die Hervormde Kerk se geskiedenis te dokumenteer vanuit die perspektief van vroue-ervaring. Hoewel die Engelse woord history niks te make het met die manlike voornaamwoord his nie, verwoord die woordspel op history en herstory wat bedoel is om beide komies en ernstig te wees, iets van wie se stem gehoor word wanneer geskiedenis vertel word en wie se perspektief in die annale vasgevang word (kyk Calder & Goodman 1996). Die idee van ‘die plek van die vrou’ teenoor ‘ruimte vir vroue’ en die vraag wie se stem gehoor word wanneer geskiedenis vertel word in geloofsruimtes, word verwoord in die titel van die hoofstuk deur Georgia Newman (2006:65–76) ‘Woman’s place or women’s spaces: Intertwining history, herstory, and Christianity’ in die boek, Religion and sexuality: Passionate debates.
Teen die einde van die twintigste eeu in 1999 het die bundel, getitel 20ste eeu Hervormde Teologie met Daan van Wyk sr as redakteur, ’n oorsig oor die Kerk se teologie deur die loop van die eeu gebied. As destydse predikant van die NHKA in die Nederlandssprekende Gemeente in Johannesburg, is ek gevra om ’n hoofstuk by te dra oor ‘Vroue in die ampte’ (Dreyer 1999:385–390). Die doel van die bundel was ‘om op teologiese temas, wat gedurende die eeu belangrik was of soms in die brandpunt was te fokus’ (Van Wyk 1999:Voorwoord). Op twee sulke temas, een uit die 20ste en een in die 21ste eeu, het die klein kroniek van hierdie artikel gefokus. Deur die twee temas het die geskiedenis van ons drie Dreyers (eintlik vier as Theuns Dreyer, voorsitter van die 2007 AKV bygereken word) gekonvergeer. Met die woorde van Daan van Wyk (1999) in die ‘Voorwoord’ betuig ek ook my ‘dankbaarheid vir die aangrypende voorreg en gawe om teologie te kon beoefen in en vanuit hierdie Kerk en ten dienste van die evangelie van Jesus Christus in die wêreld.’ Ek wens professor Wim Dreyer alles van die beste toe vir sy verdere dienswerk in die NHKA en vir sy toekoms.
Erkenning
Enkelblinde keuringproses
Die identiteit van die outeur was uit die staanspoor uit aan die keurders bekend, en ’n enkelblinde keuringproses is vir hierdie artikel gevolg. Dit is die uitsondering op die reël, aangesien die tydskrif se huidige beleid wat ’n dubbelblinde keuringsproses volg, die redakteur se goedkeuring dra.
Mededingende belange
Die outeur verklaar dat geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.
Outersbydrae
Y.D., was die enigeste outeur betrokke by die skryf van die artikel.
Etiese oorwegings
Hierdie artikel voldoen aan alle etiese standaarde vir navorsing sonder direkte kontak met mens of dier.
Befondsing
Hierdie navorsing het geen spesifieke toekenning ontvang van enige befondsingsagentskap in die openbare, kommersiële of nie-winsgewende sektore.
Data beskikbaarheidsverklaring
Data-deling is nie van toepassing op hierdie artikel nie, aangesien geen nuwe data in hierdie studie geskep of ontleed is nie.
Vrywaring
Die sienings en menings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die outeur (s) en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde agentskap van die outeurs nie.
Bibliografie
Annandale, J., 1962, ‘Die vrou in die amp’, BD-skripsie, Universiteit van Pretoria.
Barber, K., 2015, 007 ist auf 17: Berühmte Zahlen und ihre Geschichten, Bastei Lübbe, Köln.
Beeld, 1975, ‘Oud-senator van die NP oorlede’, Pretoriase Kantoor, Beeld, 13 Mei 1975.
Botha, C., 1990, The cave of Adullam or Achor, a door of hope: A history of the Faculty of Theology of the University of South Africa, University of South Africa Press, Pretoria.
Büchner, E.P., 2007, ‘“Ek het ’n roeping”: Vrouepredikante se toelating in die Nederduitse Gereformeerde Kerk’, DD-proefskrif, Departement Kerkgeskiedenis, Fakulteit Teologie, Universiteit van Pretoria.
Calder, A. & Goodman, L., 1996, ‘Gender in poetry’, in L. Goodman. (ed.), Literature and gender, pp. 41–70, Routledge, London.
Commire, A. (ed.), 1999, ‘Brown Blackwell, Antoinette’, 1999, in Women in world history: A biographical encyclopaedia, vol. 3, pp. 126–131, Yorkin, Waterford, CT.
Dreyer, P.S., 1977, Vroue as predikante?, HAUM, Pretoria/Kaapstad.
Dreyer, W., 2017, ‘Johannes Dreyer (1500–1544): Die Hervormer van Herford’, HTS Teologiese Studies 73(3), a3211, https://doi.org/10.4102/hts.v73i1.3211
Dreyer, Y., 1999, ‘Vroue in die ampte’, in D.J.C. Van Wyk (red.), 20ste eeu Hervormde teologie, pp. 385–390, SENTIK, Pretoria.
Dreyer, Y., 2004, ‘Homoseksualiteit: Die kerk, die tradisie en die Bybel – Homofobie en sarkofobie en die evangelie’, HTS Teologiese Studies 60(1&2), 175–205, https://doi.org/10.4102/hts.v60i1/2.525
Dreyer, Y., 2005, ‘Sexuality and shifting paradigms – Setting the scene’, HTS Theological Studies 61(3), 729–751, https://doi.org/10.4102/hts.v61i3.471
Dreyer, Y., 2006a, ‘Heteronormatiwiteit, homofobie en homoseksualiteit – ’n Roetekaart vir ’n inklusiewe kerk’, HTS Teologiese Studies 62(2), 445–471, https://doi.org/10.4102/hts.v62i2.375
Dreyer, Y., 2006b, ‘Prejudice, homophobia and the Christian faith community’, Verbum et Ecclesia 27(1), 155–173, https://doi.org/10.4102/ve.v27i1.137
Dreyer, Y., 2007, ‘Hegemony and the internalisation of homophobia caused by heteronormativity’, HTS Theological Studies 63(1), 1–18, https://doi.org/10.4102/hts.v63i1.197
Evangelische Kirche Deutschland (EKD), 2018, 100 Jahre Zulassung zum Studium, 75 Jahre Ordination von Frauen: Festakt und Preisverleihung des Hanna-Jursch-Preises, EKD Archiv, Hannover, Germany.
Janse van Rensburg, A. & Dreyer W.A., 2021, ‘Godsdiens en die reg: Herwaardering van die Hervormde Kerk se Besluit 41 (2016) oor homoseksualiteit’, Tydskrif vir Geesteswetenskappe 61(1), 211–228, https://doi.org/10.17159/2224-7912/2021/v61n1a13
Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1990, Handelinge van die Agste Vergadering van die Algemene Sinode, NG Sendingpers, Bloemfontein.
Newman, G.A., 2006, ‘Woman’s place or women’s spaces: Intertwining history, herstory, and Christianity’, in C.K. Robertson (ed.), Religion and sexuality: Passionate debates, pp. 65–76, Peter Lang, New York, NY.
NHKA, 2007, Notule van die 68ste Algemene Kerkvergadering, Argiefbewaarplek van die NHKA, Pretoria.
NHKA, 2010, Notule van die 69ste Algemene Kerkvergadering, Argiefbewaarplek van die NHKA, Pretoria.
NHKA, 2013, Notule van die 70ste Algemene Kerkvergadering, Argiefbewaarplek van die NHKA, Pretoria.
NHKA, 2016, Besluitebundel van die 71ste Algemene Kerkvergadering, Argiefbewaarplek van die NHKA, Pretoria.
Oberholzer, J.P., 2010, ‘Honderd jaar kerk en teologiese opleiding: ‘’n Kroniek van die Hervormde Kerk’, HTS Teologiese Studies 66(3 Suppl 9), https://doi.org/10.26530/OAPEN_629098
Plank, F., 2011, ‘Differential time stability in categorial change: Family names from nouns and adjectives, illustrated from German’, Journal of Historical Linguistics 1(2), 269–292, https://doi.org/10.1075/jhl.1.2.05pla
Reformierte Kirche Kanton Zürich, 2018, 1918–2018: 100 Jahre Frauenordination, Nau.ch.
Sommer, S., 2018, Rehe vor die Pflüge spannen? Der lange Weg der Frauen ins Pfarramt, Reformierte Kirche Kanton Zürich, Zürich.
Van Wyk, D.J.C., 1999, 20ste eeu Hervormde teologie, SENTIK, Pretoria.
Van Wyk, T., 2019, ‘Vroue in kerk en samelewing in die 21ste eeu’, in Die Agenda van die 72ste Algemene Kerkvergadering, pp. 270–281, Argiefbewaarplek van die NHKA, Pretoria.
Van Wyk, T. & Buitendag, J., 2010, ‘Die eenheid van die kerk in die gedrang’, HTS Teologiese Studies 66(1), a908. https://doi.org/10.4102/hts.v66i1.908
|