About the Author(s)


Pieter J. Strauss Email symbol
Faculty of Theology, University of the Free State, Bloemfontein, South Africa

Citation


Strauss, P.J., 2023, ‘Veranderings in die NG Kerk se sosio-politieke omgewing: Refleksie op Kerkordes 1962 en 1998’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 79(2), a8146. https://doi.org/10.4102/hts.v79i2.8146

Original Research

Veranderings in die NG Kerk se sosio-politieke omgewing: Refleksie op Kerkordes 1962 en 1998

Pieter J. Strauss

Received: 23 Sept. 2022; Accepted: 25 Oct. 2022; Published: 26 Jan. 2023

Copyright: © 2023. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstrak

Socio-political changes in the Dutch Reformed Church: Reflected in church orders 1962 and 1998. The Confessio Belgica or Dutch Confession of Faith (1561), article 29 confesses 3 indications regarding the marks of a true church: the scriptural-based preaching of God’s Word, the scriptural service of the sacraments, and the maintaining of church discipline. A reformed church order gives guidelines how this should be achieved practically by the church. In applying itself to the entire life of a church, its church order normally reflects aspects of the present societal surroundings of this church. This is especially true of important socio-political changes of which the church, as part of society, and with its order made in that situation, normally gives indications. In being a visible church, every organised church gives reflections of some of its ties with the state authorities of the country and its politics. These reflections also communicate something of the approach of this church to these issues. The norm for the articles of a reformed church order should be the Word of God, but in guiding the church to fulfil its task, a church order also reflects aspects of the customs and culture in which it finds itself.

Contribution: This article formulates the purpose of a church order and the fact that such an order carries reflections of the societal customs and values in the context of that church. From a church-historical and church-political perspective, a research study of the church orders of the Dutch Reformed Church of 1962 and 1998 is used to determine something of the stance of this church in the days of social unrest in the 1960s and social changes in South Africa in 1994.

Keywords: Dutch Reformed Church; purpose of church order; context reformed church order; viewpoint shown in view of context; church order 1962 and Sharpeville; part of Afrikaner lager; church order 1998 reflects South Africa after 1994.

Inleiding

W.D. Jonker het na ’n lewe in die kerk en teologie1 ’n belydenisgebonde, eenvoudige omskrywing van die doel van ’n kerkorde in gereformeerde kerke gegee. Hierdie is ’n omskrywing hoedat hy aan die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) artikel 29, met sy belydenis (Jonker 1994:6)2 oor die kenmerke van die ware kerk,3 getrou wil bly. Hy gee ’n omskrywing van die doel van ’n kerkorde, wat aandui dat hierdie orde prinsipieel in diens van die Woord, die sakramente en die kerklike tug, as die kenmerke van die ware kerk, moet staan. Hierdie orde moet kanale daarstel vir die gestaltegewing van norme in die kerklike lewe: die Woord van God as norma normans of eerste norm, die belydenisskrifte as die daaruit afgeleide norma normata of tweede norm, plus ander waarhede wat hiermee versoen word.4 ’n Verantwoorde kerkorde is in diens van ’n Woordgetroue kerk as die liggaam van die Here Jesus Christus.5

Volgens Jonker reël ’n gereformeerde kerkorde die bediening van die ‘Woord … die sakramente, die handhawing van die tug en’ – om die tug uit ’n ander hoek te tipeer – ‘die onderlinge sorg van die lede van die liggaam vir mekaar …’ (Jonker 1994:78–79). Daarmee wil hy sê dat ’n kerkorde wat ordelike kanale vir die verwesenliking van die kenmerke van die ware kerk in sy situasie skep, deur Woord en belydenis en dus die suiwer bediening van die Woord, sakrament en tug, bepaal moet word. Die Woord moet as die eerste norm vir die kerkorde in sy opname van eietydse elemente, of ’n weerspieëling van sy omgewing, of Sitz im Leben, bepalend deurkom. Die gereformeerde Sinode van Emden van 1571 bepaal dat kerkordes op die utilitas Ecclesiarum, of behoeftes van die kerke as kerke, gerig moet wees. Vir die Kerkorde van Emden gaan dit om ‘praktiese’ ordemaatreëls vir die betrokke kerk, om ’n Woordgetroue kerk in sy situasie of omgewing (Umwelt) te kan wees (Pont 1981:111).

Op hierdie punt moet die onderskeid tussen ’n belydenis en ’n kerkorde aangedui word. ’n Belydenis handel oor kernwaarhede van die geloof wat in die toekoms ook bely kan word – dus kernwaarhede met ’n duursame karakter (Strauss 2012:75). ’n kerkorde hierteenoor, rig sigself op ordelike kanale vir die heerskappy van die Woord in die kerk in ’n sekere tyd en situasie. ’n Kerkorde se agenda word bepaal deur wat die Woord oor die kerk sê, maar wat in ordemaatreëls vir die kerk verwerk word, sodat die kerk waarlik kerk in die situasie kan wees. Belydenisse is op ‘ewige’ waarhede, of die essensie van die Christelike geloof gerig, terwyl kerkordes ordemaatreëls gee wat eietydse, werkbare kanale verskaf vir die deurvloei van die Woord in die totale kerklike lewe. Gevolglik vereis geloofsbelydenisse in ’n gereformeerde kerk, as die instemming van die kerklike gemeenskap, ’n groter meerderheid as wat sy kerkorde of ander besluite vereis. Belydeniswaarhede moet handel oor kernwaarhede van die geloof, wat vanuit die hart geglo en met vaste oortuiging bely of uitgesê word. Daarby moet belydeniswaarhede so oortuigend Skriftuurlik wees, dat dit bykans eenparig of as vanselfsprekend deur meer kerke en gelowiges as geloofswaarhede aanvaar word.6 Omdat die geloofswaarhede van die Bybel altyd geldig of normatief is, moet kerklike belydenisse as die draers daarvan, in staat wees om hulle ontstaansituasie of formulering, te oorstyg (NGKO 2013:11, 24; Strauss 2010:15).

Wat die gelowiges as kerk aan mekaar bind, is die kernwaarhede van die Bybel aangaande die Here God en ons verlossing: oor God Drie-enig en sy ewige heil vir mense. Daarom is reformatoriese belydenisse oor God se redding en verlossing van die mens ’n akkoord of basis van die gelowiges se gemeenskap met God en met mekaar (Jonker 1994:21–23). Belydenisse handel oor die kern van die lewe, waarin die gelowiges deur die werking van die Woord en Gees, in God Drie-enig glo. Hierdie belydenisse gee aan die lewe sin en rigting. Belydenisse oor die kernwaarhede van die lewe wat die gelowiges saambind, is waarvoor die opsteller van die NGB van 1561, Guido de Brés, op 31 Mei 1567 aan die galg moes boet (Heyns 1992:38).7 Bouwman (1985b:568) wys op die stelling deur Van Lennep, dat die gereformeerdes van destyds ‘van harte’ ingestem het met die ‘eeuwige waarheden’ van die NGB en – soos De Brés – hierdie waarhede met hulle bloed sou verseël indien die situasie dit sou vra.

Kerkordes in die NGB-tradisie is onderworpe aan twee norme: die Woord van God en die belydeniswaarhede wat hieruit voortvloei. Kerkordes is dus ordelike kanale wat daarop staan dat God Drie-enig sy kerk deur sy Woord en Gees regeer. Terselfdertyd moet die kerkordes in diens van die Woord en belydenis staan.

Juis omdat die kerk met sy belydenis in ’n sekere omgewing funksioneer en deel is van die lewe van die gelowiges op aarde, bevat sy kerkorde, as ordelike kanale vir Woord en belydenis, refleksies van sy kontak met die situasie van sy tyd. Juis omdat die kerk as ’n herskepping van God Drie-enig nie bo-aards of onwerklik is nie, toon hy tekens van kontak met sy historiese sosio-politieke omgewing (Strauss 2010:15–20 oor ’n eietydse kerkorde).

Hierdie artikel reflekteer op beduidende sosio-politieke gebeure in die konteks van die kerkordes van die Nederduitse Gereformeerde (NG) Kerk van 1962 (NGKO 1962) en 1998 (NGKO 1998). Sake wat uitgelig word, is die nawerking van die onrus by Sharpeville in 1960 én die koms van die Republiek van Suid-Afrika op 31 Mei 1961 op die NGKO-1962. Verder gaan dit ook om die effek van die koms van die ‘nuwe’ Suid-Afrika in 1994 op die NGKO-1998. Albei hierdie refleksies handel oor ’n weerkaatsing van die verhouding van die NG Kerk met die spesifieke staatsowerheid, die teoretiese blik van beide NGKO’s op die NG Kerk en die samelewing, asook die NG Kerk se opvatting oor die kerk in sy verhouding tot die staat.

Die sestigerjare en NGKO-1962, artikel 67: Die kerk en maatskappy

In Maart 1960 word Suid- en Suidwes-Afrika (tans Namibië), deur ’n vlaag binnelandse onluste getref. Albei was onder die regering van die Nasionale Party, wat in 1948 met die apartheidsbeleid (vgl. Strauss 2022) aan bewind kom. Die Nasionale Party het Suidwes as ’n mandaatgebied by sy voorganger, die Verenigde Party geërf. Die African National Congress (ANC), Pan Africanist Congress (PAC) en Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) word deur die Nasionale Regering as die aanstigters agter die onrus gebrandmerk (Lombard 1981:192).

Uit hierdie gebeure sou ’n swart woongebied naby Vereeniging, Sharpeville, oornag internasionaal bekend word. Omstreeks 13:40 op Maandag 21 Maart vuur ’n groepie polisiemanne vir ongeveer 30 sekondes op ’n onrustige skare van duisende swart mense wat om die polisiestasie in die woongebied saamdrom. Ongeveer 700 skote word geskiet, waartydens 69 swart mense gedood en 180 gewond is. Die onrus brei na ander plekke in Suid-en Suidwes-Afrika uit. Die Nasionale Regering kondig ’n noodtoestand af en smoor die onrus met behulp van die Suid-Afrikaanse Polisie in die kiem. Arrestasies en aanhoudings sonder verhore volg en die ANC, PAC en SAKP word verban (Lombard 1981:192). Hulle moes voortaan uit die buiteland teen apartheid protesteer. Sharpeville word vir die ANC, PAC en simpatiseerders simbolies van die stryd teen apartheid as ’n vryheidstryd (Feit 1971:42).

Met die beëindiging van ’n wêreldwye westerse kolonialisme na die Tweede Wêreldoorlog in 1945, lei die oorname van die regering in Suid-Afrika in 1948 deur die apartheidsgesinde Nasionale Party tot wydverspreide negatiwiteit. Die gebeure in 1960 rondom Sharpeville en omliggende plekke, is olie op die vuur. Suid-Afrika met sy verklaarde rasse-apartheid, wil egter nie aan internasionale politiek-staatkundige en sosiale druk vir die ontvoogding van sy gekleurdes toegee nie. Gevolglik word die apartheidsbeleid en die wyse waarop die Suid-Afrikaanse Regering die onrus hanteer, wyd veroordeel (Strauss 1983:116–124; 1989:147–153).

In die krisisjaar, 1960, skaar talle Afrikaners hulle rondom die Nasionale Party, apartheid en premier H.F. Verwoerd. Die Afrikanerlaer rondom apartheid word ’n skaars-verbloemde realiteit. Daar is ook steun uit Afrikaanse gereformeerde kerke soos die NG Kerk, kultuurorganisasies en ander sogenaamde ‘volksverwante’ instellings. Die kerke benader hulle steun vir afsonderlike – maar uiteindelik gelyke, soos Verwoerd die doel van hierdie ontwikkeling formuleer – ontwikkeling, vanuit ’n kerklike of prinsipiële hoek.8 Hierdie steun wat ook in NGKO-1962 gereflekteer word, loop in 1953 prinsipiële kritiek op die lyf uit internasionale gereformeerde ekumeniese kringe; kringe waarin die NG Kerk voor daardie tyd minder fel kritiek op aspekte van apartheid beleef het (Strauss 2002:187, 189).

Die eenheid onder Afrikaners in die verdediging van ‘ons’ beleid, word in hierdie tyd versterk deur die mislukte sluipmoord op Verwoerd op 09 April 1960 asook die geweld toe die Kongo op 30 Junie 1960 onafhanklik word – dit is sake wat blanke Suid-Afrikaners emosioneel versterk in hulle steun aan afsonderlike ontwikkeling. Daarby kom die referendum van blanke kiesers op 05 Oktober 1960, wat die republikeinse ideaal van Afrikaners na die Anglo-Boereoorlog in 1902, met ’n meerderheid van 74 580 goedkeur (Scher 2012:338). Twee sosio-politieke tendense staan uit in die Afrikanerlaer (Durand 1989:66)9: ’n neo-Calvinistiese begronding van apartheid (Strauss 1994:206–208) én ’n optimisme dat ‘groot’ apartheid, in die vorm van gelyke maar aparte ras-etniese state, in die toekoms kan slaag. Die sukses van afsonderlike ontwikkeling met Verwoerd as die argitekbouer, sou kritici die mond snoer (Strauss 1994:212–213).

Die NGKO-1962 reflekteer sy eties-emosionele band met die Afrikanerlaer, veral onder twee opskrifte: kerk en staat, asook kerk en maatskappy.

Onder kerk en maatskappy gee die NG Kerk deur artikel 67.1 sy steun aan ‘maatskaplike organisasies wat op ’n positief Christelike basis georganiseer is’, die koninkryk van God bevorder, wantoestande in die maatskappy bekamp en opvoedkundige belange bevorder. Eie aan ’n neo-Calvinistiese sosiologie,10 erken en onderskryf die NG Kerk die ‘selfstandigheid in eie bevoegdheid van alle samelewingsverbande, gemeenskapstrukture en vrye maatskaplike verhoudinge, so eie aan die moderne gedifferensieerde samelewing’.

Die NG Kerk handhaaf hierdie houding ook teenoor die skool en universiteit, maar eien homself die reg toe om van beide Christelike onderwys vir sy kinders en jongmense te verwag.

Die NGKO-1962, artikel 67.2 gee ’n unieke, veelseggende bepaling vir ’n Afrikaanse gereformeerde kerkorde in Suid-Afrika van die 1960’s soos volg: die NG Kerk sal hom ‘… beywer om die Protestants-Christelike karakter van ons volk (let wel) te beskerm en te behou en uit te bou’ (NGKO 1962:15).

Die NG Kerk is volgens NGKO-1962 nie net teenwoordig in die Afrikanerlaer of die laer van ‘ons volk’ nie. Hy is ook ’n bouer aan die ‘karakter’ of identifiseerbare trekke van hierdie volk. Ten minste NGKO-1962 se artikel 67.2 bevestig die latere kritiek van Durand dat die NG Kerk ’n bastion van die Afrikaner is én met sy ‘volks- en politieke aspirasies’ identifiseer. NGKO-1962, artikel 67.2 staaf die inisiërende en aktiewe teenwoordigheid van die NG Kerk in die Afrikanerlaer van die 1960’s. ’n Laer waarin talle Afrikanerkultuur-, -onderwys- en -besigheidsinstellings, asook die Nasionale Party as die politieke arm, hulle bevind.11

’n Belangrike dokument wat hierdie waarneming onderstreep, is die Algemene Sinode van die NG Kerk van 1966 se stuk oor Ras, volk en nasie en volkereverhoudinge in die lig van die Skrif. Asof hy bang is vir misverstande, stel die Algemene Sinode diegene wat ’n politieke teologie vrees, gerus. Hierdie gerusstelling is egter vreemd vir ’n geestelik vrye kerk, naamlik dat die NG Kerk vanuit die ‘beginsel van soewereiniteit in eie kring’ (NGKO 1962 se ‘selfstandigheid in eie bevoegdheid’), sy taakbegrensing teenoor die staat aanvaar. Na die krisisjaar van 1960 wil die NG Kerk ‘hoegenaamd nie’ in interne staatsake inmeng of in ’n ‘kritiese negativisme’ verval nie. Sy aanpraat van die owerheid moet deur ’n beïnvloeding van die gewetes van owerheidspersone, ‘liefs deur persoonlike afvaardiging’, geskied (NGK 1966:514, 515, 567). Openbare kritiek uit die Afrikanerlaer op ander figure in die laer, skep ’n openbare verleentheid.

Onder kerk en maatskappy reflekteer NGKO-1962 die eietydse elemente van ’n Afrikanerlaer in die krisisjare van die 1960’s. Dieselfde NGKO-1962 openbaar ook eietydse trekke in sy bepalings oor kerk en staat.

Die sestigerjare en die NGKO-1962, artikel 65: Kerk en staat

’n Medeskrywer en die eindredakteur van NGKO-1962, J.D. (Koot) Vorster (Langner 2007:87), verklaar in 1960 dat NGKO-1962 doelbewus ‘die Dordtse Kerkorde, aangepas by die eise van ons dag’ wou wees. Volgens hom kom NGKO-1962 as die eerste kerkorde van die nuwe Algemene Sinode van die NG Kerk (1962) nie met ’n nuwe stelsel van kerkregering nie, maar ’n eietydse weergawe van die bestaande Dordts-gereformeerde stelsel, wat teruggaan op die Dordtse Kerkorde (DKO) van 1619 (Vorster 1960:13). Die bepalings oor die NG Kerk en die Afrikaner in artikel 67b, is egter vreemd aan gereformeerde kerkordes. Die motief hiervoor lê moontlik in die Afrikanerlaer van die 1960’s waarby die NG Kerk betrek is, terwyl NGKO-1962 se bepalings oor kerk en staat ook van die bepalings van die DKO-1619 verskil. Behalwe vir prinsipiële verskille, toon hierdie verskille ook verskille van ’n eietydse aard oor kerk en staat.

Die DKO-1619 bepaal die verhouding van die Gereformeerde Kerk in Nederland met die State Generaal, of Nederlandse staatsowerheid, vanuit artikel 36 van die NGB en ook Calvyn se opvatting van die samelewing as ’n teokratiese verbondsgemeenskap (Pont 1988:40–41). Vir Calvyn – dit word gereflekteer in die vroeëre weergawes van die NGB – staan kerk en staat as twee kante van dieselfde gemeenskap, albei onder die gebooie van God. Hulle moet mekaar, elk uit sy eie hoek, bystaan (Calvyn s.a.:557, 566, 574). Op sy beurt voeg DKO artikel 28 hieraan toe, naamlik dat die Nederlandse owerheid as ’n Christelike owerheid die ‘heiligen kerkdienst’ op alle moontlike maniere moet bevorder, aan kerklike ampsdraers in nood die hand moet reik en die kerk deur die openbare orde moet beskerm. Kerklike ampsdraers moet by die gemeentes vlytigheid en opregte gehoorsaamheid, liefde en eerbied vir die staatsowerhede of ‘magistraten’ inskerp, en hulle as voorbeeld hierin voorgaan. In die Nederlandse samelewing van 1619 bepaal die DKO dat die kerklike ampsdraers deur respek en korrespondensie die guns van die staatsowerhede ‘tot de kerken zoeken te verwekken en te behouden’. Agterdog en wantroue tussen hierdie instellings moet voorkom word, sodat die welstand van die kerk bevorder word (teks van DKO deur Pont 1981:179). Vir die DKO is dit immers ‘ons’ gereformeerde kerk en ‘ons’ staatsowerheid. Volgens DKO artikel 28, vat NGB artikel 36 uit 1561 soos opnuut aanvaar deur die Dordtse Sinode in 1619,12 die sosio-politieke konteks in Nederland rondom kerk en staat, as twee instellings onder ‘ons’ gereformeerdes, goed raak. Albei word beskou as dienaars van God wat mekaar moet help in die uitvoering van hulle take.

Hoewel NGKO-1962, artikel 65 oor die verhouding kerk-staat, die idee van die kerk in sy verhouding tot ’n Christelike owerheid as ‘ons’ owerheid steun, word die subteks van ’n teokratiese verbondsgemeenskap, waarvan kerk en staat deel uitmaak, en soos weerspieël in NGB artikel 36 en die DKO, vervang met die idee van die laer of Christen-Afrikanervolk. Hierdie laer impliseer dat ‘ons’ samelewing en die ‘volkslewe’ oorvleuel en dat kerk en staat, of die NG Kerk en die regerende Nasionale Party, deel daarvan is.

NGKO-1962 wys op die roeping van ‘ons’ staatsowerheid om die ‘onvervreembare reg’ van ‘ons’ kerk op vryheid van godsdiens in belydenis en byeenkoms, juridies te beveilig. Die NG Kerk beskou dit egter ook as ’n ‘heilige roeping’ om die staatsowerheid en die wêreld waarin hy beweeg, profeties aan te spreek. Die NG Kerk verwoord die taak van die staatsowerheid met ’n omskrywing uit die staatswetenskappe soos hanteer in die Neo-Calvinisme van Kuyper en geesgenote (Fowler 1988:10–12; NGKO 1962:14–15; Strauss 1993:5). Origens gebruik hy die beginsel van selfstandigheid in eie bevoegdheid (volgens die wysgeer H.G. Stoker, maar Kuyper se neo-Calvinistiese soewereiniteit in eie kring word as ’n sinoniem in hakies gegee) vir die kerk as ’n geloofsverband in die samelewing. Die NG Kerk beklemtoon ook sy vryheid van godsdiens en die reg op ’n profetiese stem in die samelewing as ’n selfstandige kerk (NGKO 1962:14–15). Daarby reflekteer NGKO-1962, artikel 65 in sy bepalings oor kerk en staat, ’n duidelike identifisering van die NG Kerk met die houding van die Nasionale Regering en die Afrikanerlaer van die 1960’s. In hierdie bepalings is die NG Kerk uiters sensitief – vir ’n onafhanklike, selfstandige kerk – vir sy Afrikanerkonteks en die onrustige 1960’s in Suid-Afrika (Strauss 2010:127–129).

NGKO-1962 wys op die reg van die NG Kerk op vryheid van godsdiens, met ’n antenna vir vibrasies uit Afrikaner- en Nasionale Partygeledere. Anders as die organisasies verantwoordelik vir die onluste by Sharpeville en verder weg, is die NG Kerk volgens NGKO-1962, artikel 65 nie van voorneme om hierdie vryheid rewolusionêr te misbruik om staatsgesag te ondergrawe of publiekregtelike wanorde te skep nie. Sonder ’n aanduiding van onsekerheid daaroor uit watter oord ook al, onderwerp hy hom aan die wette van die staat in sy deelname aan die ‘regsverkeer en uitoefening van burgerlike regte’, solank dit nie met die Woord van God bots nie. Dit is wel redelik in ’n Christelik-Westerse gemeenskap vir ’n kerk om so praat. Anders as ander gereformeerde kerkordes en met ’n verfkwas om die mond van die owerheid, verklaar die NG Kerk sy dank teenoor sy eie staatsowerheid, of – na Sharpeville – die verguisde Suid-Afrikaanse Regering vir die erkenning van sy godsdiensvryheid (NGKO 1962:14–15). Daarmee word NGKO-1962 ’n platform vir die waardering van die NG Kerk vir sy vanselfsprekende reg op vryheid van godsdiens.

Steeds onder die titel ‘Kerk en Maatskappy’, maar in artikel 66, sonder die refleksies van ’n eietydse konteks, verklaar NGKO-1962 sy steun aan maatskaplike organisasies wat hulle op ’n Christelike basis organiseer, om sekere maatskaplike of opvoedkundige oogmerke te bevorder. NGKO-1962 wys op sy steun vir die ‘selfstandigheid in eie bevoegdheid’ van (hy gebruik wel hierdie neo-Calvinistiese begrippe as sy eie) alle ‘samelewingsverbande’, ‘gemeenskapstrukture’ en ‘maatskaplike verhoudinge’, eie aan ’n ‘moderne gedifferensieerde samelewing’. Hierdie terme is kennelik Kuyper-Dooyeweerdiaans en Stokeriaans. Op NGKO-1962, artikel 67, oor kerk, onderwys en die Afrikanervolk is alreeds gewys (NGKO 1962:15; Strauss 1993:5).

Vanweë die NG Kerk se betrokkenheid by die Afrikanerlaer van die 1960’s, vertoon NGKO-1962, artikel 65 tot 67 in sy bepalings oor kerk en staat vertoon NGKO-1962 artikel 65-67 ’n duidelike betrokkenheid by die Afrikanerlaer van die 1960’s. Daarom reflekteer ’n kerklike dokument soos NGKO-1962 ’n besondere sensitiwiteit vir veronderstelde reaksies uit sosio-politieke kringe.

Hierdie tendens word getemper in NGKO-1998.

Met die koms van ’n nuwe Suid-Afrika en ’n nuwe, lewensbeskoulik-vreemde, sosio-politieke gemeenskap in 1994, moes die NGKO nuwe bepalings onder die temas ‘Kerk en staat’, ‘Kerk, maatskappy en vrye vereniging’ én ‘Kerk en onderwys’ opstel. ’n Veranderde staatsgemeenskap, staatsowerheid, maatskappy en onderwysstelsel onderstreep die noodsaak van die wysigings wat deur die Algemene Sinode van 1998 aan NGKO-1998, artikel 65 tot 67 aangebring word (NGKO 1998:26).

NGKO-1998 en kerk, staat, onderwys en maatskappy

Die nuwe staatsowerheid en nuwe samelewing moes in ’n ander toon met nuwe bepalings benader word. Die sosio-politieke konteks van 1962 het verval (Grobler 2007:196). Daarby het die ruimskootse Kuyper-Dooyeweerd-Stokeriaanse of neo-Calvinistiese terme van NGKO-1962, die reformatoriese bewoordings uit die sestiende eeu, naamlik dat ’n kerkorde deur Woord en belydenis bepaal word, na die agtergrond verdring. Terme soos soewerein of selfstandig in eie bevoegdheid of in eie kring, impliseer ’n onbeholpe akademiese aanpak. ’n Kerkorde moet in gewone kerktaal wees en liefs Skriftuurlik en eenvoudig, eerder as gekompliseerd akademies en Skriftuurlik. In gewone kerktaal word ’n ingewikkelde kerkorde ’n moeilik bruikbare kerklike kultuur.

Hoewel die prinsipiële lyne van die Neo-Calvinisme steeds die raamwerk van artikels 65 tot 67 vorm, vertrek NGKO-1998 in sy bepalings oor kerk en staat, in Afrikaanse kerktaal vanuit Romeine 13 (NGKO 1998:26). Die gereformeerde norme vir ’n kerkorde is immers Woord en belydenis: twee bronne wat sodanig vertaal moet word, dat lidmate dit kan verstaan, gehoorsaam en oordra. ’n Kerkorde vir die gemiddelde kerkmens moet kerktaal wat in die kerklike omgang gebesig word, gebruik. Weens die behoefte aan verstaanbaarheid van hierdie boeke, vereis die Bybel, belydenisskrifte en kerkorde gereelde eietydse vertalings.

In die voortsetting van die Dordtse kerkregeringstelsel, erken NGKO-1998 dat die staatsowerheid in die lig van Romeine 13:1–7 ’n ‘dienaar van God tot ons beswil’ is. Volgens Romeine 13 kom ‘die owerhede’ of ’n de facto-, fisiese staatsowerheid, aan bewind deur die (eenvoudig gesê en nie met argumente gestaaf nie) ‘beskikking’, ‘ordening’ of ‘opdrag’ van God. God in sy voorsienigheid beskik dat ’n owerheid deur sy swaardmag, in beheer van ’n bepaalde gebied kom en as ’n de facto-owerheid, deur ’n verkiesing of andersins, ook die de iure-staatsowerheid is.13 Wat God in sy raad beskik, is reg, wettig of de iure. Vir die uitvoering van sy regeringstaak, bly enige staatsowerheid ’n geroepe dienaar van God. God gee aan die de facto-staatsowerheid – soos die heidense Kores in Daniël 9 en 10 – opdrag om die reg in sy gebied met sy dwingende, beherende swaardmag te handhaaf en kwaaddoeners te straf. Romeine 13:4 bevestig dat ’n nie-Christelike Romeinse owerheid nie verniet die reg – van God – ontvang om te straf nie. Teen hierdie agtergrond bepaal NGKO-1998, artikel 65.2 dat die norm vir die kerk se optrede in die publieke regsverkeer soos gereël en gehandhaaf deur die owerheid, die Woord van God is. Indien die owerheid sy sorg vir ’n ordelike regsverkeer op sy gebied versuim, moet hy hom voor God verantwoord. Anders as NGKO-1962, proklameer NGKO-1998, artikel 65.3 nie alleen die NG Kerk se reg op vryheid van godsdiens as ’n erkende reg nie, maar ook as onvervreembaar, omdat Christus die Hoof van sy kerk is; dit is ’n vryheid van godsdiens of gehoorsaamheid aan Christus, wat die reg van die kerk op ’n profetiese getuienis teenoor die owerheid en die wêreld waarin hy staan, insluit. NGKO-1998, artikel 65.3 verklaar dat die kerk in die uitvoering van sy profetiese taak, die reg het op die ‘regsbepaalde beskerming’ van die owerheid – hierdie byvoeglike naamwoord is veelseggend én ’n produk van die Neo-Calvinisme. As laaste bepaling in artikel 65, reël NGKO-1998, artikel 65.4 dat die NG Kerk die owerheid deur die relevante kerklike arm in die betrokke saak nader (NGKO 1998:26).

NGKO-1998, artikel 66 (oor kerk, maatskappy en vrye vereniging) en 67 (oor kerk en onderwys) se eietydse elemente, dra nie refleksies van ’n spesifieke sosio-politieke gebeurtenis nie, maar gee tog ’n aanduiding dat die NG Kerk in ’n nuwe konteks met nuwe maniere van doen, aangekom het; ’n nuwe tyd waarin daar veranderinge plaasgevind het wat nuwe eise aan die NG Kerk stel en eietydse, verwante sosio-politieke elemente in NGKO-1998 reflekteer.

Volgens artikel 66, verleen die NG Kerk ‘waar moontlik’ steun aan ‘maatskaplike, nie-kerklike organisasies wat op ’n Christelike basis georganiseer is’, om die lewensomvattende koninkryk van God soos dit vergestalt word in die samelewing, te bevorder. Daar is egter ’n kerklike vereiste vir hierdie steun: dit moet vanuit NGKO-1998, artikel 21 se bepaling vanuit ‘kerklike perspektief op ’n kerklike wyse’ geskied. Die NG Kerk wil nie soos in die sestigerjare, sy onafhanklike kerkwees strem deur samewerking met maatskaplike instansies, wat sy kerklike karakter kompromitteer, en sy selfstandigheid as ’n kerk van die Woord beperk nie (NGKO 1998:9, 26).

Ten opsigte van onderwys in die breë, handhaaf die NG Kerk in NGKO-1998 sy kerklike steun as ’n selfstandige geloofsverband teenoor erkende selfstandige onderwysinstellings. Hierdie belangegroepe deel die Bybel as ’n bron van norme vir die kerk en die onderwys. Daarom moet NGKO-1998, artikel 67 in samehang met NGKO-1998, artikel 21 gelees word, naamlik ‘vanuit kerklike perspektief, in die lig van die Woord van God en op kerklike wyse’. Tipies kerklik, verklaar die NG Kerk met NGKO-1998, artikel 67 dat hy in sy kontak met onderwysinstellings, ywer vir Protestants-Christelike norme en waardes in die onderwys. Dieselfde geld vir die kultuuridioom waarin dit plaasvind. Die NGKO-1998 verbind hom nie meer eksplisiet aan ’n bepaalde volk nie, maar wel aan Christelike waardes vir die kultuuridioom waarin die onderwys in elke geval plaasvind. In 1998 val die klem op Protestants-Christelike norme. Anders as by NGKO-1962, eggo Christelike onderwys as ’n moontlikheid vir veral Afrikaners, nie in NGKO-1998 nie. Die ‘ons’ van 1998 glo aan ’n heilige, algemene Christelike kerk wat hom nie net aan ’n Afrikanerlaer met sy onderwyskante verbind nie. In die nuwe Suid-Afrika waarin Westerse standaarde onder verdenking is, erken NGKO-1998, artikel 67.2 die ‘interne bevoegdheid van onderwysinstellings om onderwysaangeleenthede’ soos standaarde en leerinhoude, te finaliseer. In sy ywer vir Christelike opvoeding en onderwys vir sy kinders, streef die NG Kerk na ‘verantwoorde’ standaarde en leerinhoude. Dat NGKO-1998 hom met artikels 65–67 verbind aan ’n, syns insiens verantwoorde Neo-Calvinisme, blyk nie net uit sy bepalings nie, maar ook uit die begrip, ‘interne bevoegdheid’. In NGKO-1998, artikel 67.2 is hierdie bevoegdheid ’n sinoniem vir ‘selfstandigheid in eie bevoegdheid’, of ‘soewerein in eie kring’. Die omstandighede en terminologie van 1962 het verander, maar die konstante vertrekpunte bly. Daarom eindig NGKO-1998, artikel 67.3 met die tradisionele gereformeerde bepaling, dat die NG Kerk hom beywer vir Christelike onderwys en opvoeding vir sy jeug (NGKO 1998:26).

Slot

Juis omdat ’n gereformeerde kerkorde ordelike kanale, of Skrifgebonde ordemaatreëls, vir die kerk skep om in die spesifieke situasie en tyd ’n Woordgetroue kerk te wees, gaan dit ook om eietydse elemente wat in die betrokke kerkorde gereflekteer word. Dit is ondenkbaar dat eietydse sosio-politieke elemente in kerkordes as ordes in ’n sekere tyd, nie in hierdie kerkordes gereflekteer word nie. Sprekende voorbeelde hiervan is NGKO-1962 en NGKO-1998. Die moontlike refleksie van sulke elemente word natuurlik verhoog indien dit belangrike of historiese sosio-politieke gebeure is.

Waar NGKO-1962 spore van ’n sosio-politieke aard in die vroegsestigs van die vorige eeu in die NG Kerk, by Afrikaners én in die Suid-Afrika van daardie jare reflekteer, doen NGKO-1998 dieselfde in die negentigerjare van die vorige eeu. NGKO-1962 vertoon spore van die effek van die onrus by Sharpeville, en weer in 1960, van die Afrikanerlaer wat hierna verdedigend rondom Afrikaners wat hulle toekoms in apartheid gesien het, laer getrek het, asook die invloed van Neo-Calviniste uit Nederland en Suid-Afrika, op die NG Kerk. Op sy beurt toon NGKO-1998 ’n bewussyn van ’n veranderde Suid-Afrika na 1994, maar ook ’n prinsipiële band met die erfenis van die Nederlands-Suid-Afrikaanse Neo-Calvinisme. Daar is ook ’n begeerte om NGKO-1998, artikel 21, met al sy sake vanuit kerklike hoek op kerklike wyse, te gebruik om sy kerklike karakter in sosio-politieke kwessies te bly handhaaf. Dit wil voorkom asof die NG Kerk in die na-apartheidsera sensitief geword vir ’n situasie waarin hy sy kerklike karakter kan kompromitteer.

Hoe dit ook al sy, sosio-politieke refleksies in NGKO-1962 en 1998 reflekteer ook die breë houding van die NG Kerk van destyds oor hierdie kwessies. Hierdeur gee sy kerkordes ’n aanduiding wat van sy uitsprake oor sekere sosio-politieke sake, verwag kan word.

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Outersbydrae

P.J.S. was die enigeste outeur betrokke by die skryf van die artikel.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel voldoen aan alle etiese standaarde vir navorsing sonder direkte kontak met mens of dier.

Befondsing

Hierdie navorsing het geen spesifieke toekenning ontvang van enige befondsingsagentskap in die openbare, kommersiële of nie-winsgewende sektore.

Data beskikbaarheidsverklaring

Data-deling is nie van toepassing op hierdie artikel nie, aangesien geen nuwe data in hierdie studie geskep of ontleed is nie.

Vrywaring

Die sienings en menings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde agentskap van die outeur nie.

Literatuurverwysings

Bouwman, H., 1985a, Gereformeerd Kerkrecht 1, De Groot Goudriaan, Kampen.

Bouwman, H., 1985b, Gereformeerd Kerkrecht 2, De Groot Goudriaan, Kampen.

Calvyn, J., s.a., Institutie IV, vertaal deur A Sizoo, Meinema, Delft.

Degenaar, J., 1996, ‘Red demokrasie in Suid-Afrika van Jakobyne en populiste’, Die Volksblad, 27 Julie, p. 9.

Donner, J.H. & Van Ddn Hoorn, S.A., s.a., Acta Nationale Synode te Dordrecht, Donner, Leiden.

Durand, J.J.F., 1984, ‘’n Belydenis – Was dit werklik nodig?’, in G.D. Cloete & D.J. Smit (reds.), ’n Oomblik van waarheid, pp. 39–48, Tafelberg, Kaapstad.

Durand, J.J.F., 1989, ‘Willie Jonker en die Ned.Geref. Kerk’, in P.F. Theron & J. Kinghorn (reds.), Koninkryk, kerk en kosmos, pp. 64–73, Pro Christo, Bloemfontein.

Federale Sendingraad Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1950, Handelinge, s.n., s.l.

Feit, E., 1971, Urban revolt in South Africa, Northwestern University Press, New York, NY.

Fowler, S., 1988, The state in the light of the Scriptures, PU for CHE, Potchefstroom.

Grobler, J., 2007, Uitdaging en antwoord – ’n vars perspektief op die evolusie van die Afrikaners, Grourie, Brooklyn.

Heyns, J.A., 1977, Die kerk, NG Kerkboekhandel, Pretoria.

Heyns, J.A., 1992, Inleiding tot die dogmatiek, NG Kerkboekhandel, Pretoria.

Jonker, W.D., 1994, Bevrydende waarheid, Hugenote-Uitgewers, Wellington.

Jonker, W.D., 1998, Selfs die kerk kan verander, Tafelberg, Kaapstad.

Langner, D., 2007, Knegte van die Allerhoogste teen die hele wêreld vry: Koot Vorster; segsman of profeet? Griffel, Pretoria.

Lombard, R.T.J., 1981, Die Nederduitse Gereformeerde Kerke en rassepolitiek met spesiale verwysing na die jare 1948–1961, NG Kerkboekhandel, Pretoria.

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), 1964, Kerkorde (1962) van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, NG Kerk-Uitgewers, Kaapstad.

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), 1966, Handelinge van die Algemene Sinode, s.n., s.l.

Ned.Geref. Kerk (NGK), 1998, Die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, Hugenote-Uitgewers, Wellington.

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), 2013, Die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, s.n., s.l.

NG Kerk-Uitgewers, 1982, Ons glo … die drie formuliere van eenheid en ekumeniese belydenisse, NG Kerk-Uitgewers, Kaapstad.

Pelzer, A.N. (red.), 1963, Verwoerd aan die Woord, Afrikaanse Pers-boekhandel, Johannesburg.

Plomp, J., 1992, ‘Kerk en recht’, in W. van’t Spijker & L.C. van Drimmelen (eds.), Inleiding tot de studie van het kerkrecht, pp. 32–42, Kok, Kampen.

Pont, A.D., 1981, Die historiese agtergronde van ons kerklike reg 1, HAUM, Pretoria.

Pont, A.D., 1988, ‘Die Gelofte van 1838 – ’n Poging om die teologiese agtergrond te peil’, in A.D. Pont (red.), Die Gelofte van 1838, pp. 38–53, Kital, Pretoria.

Scher, D.M., 2012, ‘Die vestiging van die apartheidstaat, 1948–1966’, in F. Pretorius (red.), Geskiedenis van Suid-Afrika van voortye tot vandag, pp. 325–345, Tafelberg, Kaapstad.

Smit, C.J., 1984, God se orde vir sy kerk, NG Kerkboekhandel Transvaal, Pretoria.

Strauss, P.J., 1983, Die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die Gereformeerde Kerke in Nederland: betrekkinge rondom die Suid-Afrikaanse rassevraagstuk, Universiteit van Pretoria, Pretoria, ongepubliseer.

Strauss, P.J., 1989, ‘Ekumene gestol?’, in J.S. Kellerman & J.A. Durand (reds.), Diensknegte van die Koning, pp. 146–162, Pro Christo, Bloemfontein.

Strauss, P.J., 1993, Op die tweesprong?, Universiteit van die Oranje-Vrystaat, Bloemfontein.

Strauss, P.J., 1994, ‘Die Algemene Sinode van die Ned.Geref. Kerk van 1966 en apartheid’, Studia Historiae Ecclesiasticae 20(2), 195–214.

Strauss, P.J., 1995, ‘“Nie-Bybelse bronne” vir gereformeerde kerkregering?’, Studia Historiae Ecclesiasticae 21(1), 63–75.

Strauss, P.J., 2002, ‘Die NG Kerk en sy ekumeniese bande’, in P.R. du Toit (red.), Moeisame pad na vernuwing: Die NG Kerk se pad van isolasie en die soeke na ’n nuwe relevansie, pp. 181–241, Barnabas, Bloemfontein.

Strauss, P.J., 2005, ‘Belydenis, kerkverband en Belhar’, Ned.Geref. Teologiese Tydskrif 46(3 & 4), 560–575.

Strauss, P.J., 2010, Kerk en orde vandag – met die klem op die NG Kerk, Sun Media, Bloemfontein.

Strauss, P.J., 2012, ‘Hoe geslaag is die kernwaarhede?’, in P. Theron (red.), Belhar geweeg, pp. 73–80, Kraal Uitgewers, Pretoria.

Strauss, P.J., 2022, Apartheid – ’n verkiesingsvaandel in Suid-Afrika in 1948, ongepubliseer.

Van Niekerk, A., 1987, ‘Staatsgesag en burgerlike ongehoorsaamheid’, in D.A. du Toit (red.), Staatsgesag en burgerlike ongehoorsaamheid, pp. 7–19, Lux Verbi, Kaapstad.

Vorster, J.D., 1960, ‘Die kerkorde van die NG Kerke’, Ned.Geref. Teologiese Tydskrif 1(4), 12–18.

Voetnotas

1. Vir sy se eie verhaal oor sy loopbaan, kyk Jonker (1998).

2. Vir Jonker (1994:6) is die belydenisskrifte daarop gemik om ʼn samevatting van die essensiële inhoud van die Christelike geloof te gee. Heyns (1977:156) oordeel dat ʼn belydenis wat sy eie tyd oorstyg en in meer as een tydvak geldig moet wees, die groot beginsels of hoofsake van die geloof hanteer. Vir ʼn belydenis om sy tyd van ontstaan te oorstyg, moet daardie sake verwoord word wat uit die kern van die ‘Godsopenbaring in Jesus Christus’ kom, aldus Durand (1984:45), en hy beklemtoon ook dat ʼn kerklike belydenis daarom nie oor ‘beuselagtighede’ handel nie. Bouwman (1985a:325; 1985b:568) noem op sy beurt die ewige, hoofwaarhede van die Christelike geloof wat die reformatore met hulle bloed kon verseël of daarvoor sou kon sterf.

3. Volgens NGB artikel 29 (NG Kerk-Uitgewers 1982:29–30).

4. Vir hierdie ‘nie-bybelse bronne’ vir gereformeerde kerkregering, sien Strauss (1995:63–75).

5. Plomp (1992:40) maak ʼn saak daarvoor uit dat kerkreg per definisie, of prinsipieel beskou, ʼn dienende reg moet wees. Kerkreg en ʼn kerkorde as die uitvloeisel daarvan, moet in diens staan van die kerk as ʼn geloofsgemeenskap. Vir die ordening van die kerk moet ʼn kerkorde van bybelse grondlyne gebruikmaak, omdat Christusgesag in die regering van die kerk Woordgesag is. Smit (1984:57) noem kerkreg gebou op Bybelse grondlyne, ʼn dienskneg van die Woordverkondiging.

6. Vir die vereistes vir belydenisskrifte, kyk na Strauss (2005:561–564). Belydenisskrifte in gereformeerde kerke moet Skriftuurlik wees, oor kernwaarhede van die geloof handel, asook ekumeniese inslag vind. Laasgenoemde, omdat die belydenisaard daarvan byna vanselfsprekend algemeen Christelik aanvaarbaar is, en nie bestaande belydenisse dupliseer nie, aangesien dit die erns van die bestaande belydenisse in twyfel sou trek. Elke kerklike kwessie het dus nie ʼn belydenisaard nie, hoewel dit Skriftuurlik mag wees.

7. Heyns (1992) stel dit so: In sy oogmerk om vrede tussen Rooms-Katoliek en Protestant te bewerkstellig, slaag De Brés nie. Duisende het die hoogste prys vir hulle geloof betaal. Self sterf dD Brés op 31 Mei 1567 as martelaar aan die galg. In sy poging om ʼn samevattende uiteensetting te bied van wat Protestante glo (wat hulle as kernwaarhede van die geloof aanvaar. –. PS), slaag (De Brés) wel … (p. 38)

8. ʼn Goeie voorbeeld wat hierby aansluit, is die uitspraak van die Kerklike Kongres oor die Naturellevraagstuk in 1950 van die Gefedereerde NG Kerke, waartydens die gereformeerde Afrikaanse kerke ʼn leidende rol gespeel het. Hierdie kongres het besluit dat permanente verblyf in ʼn bepaalde gebied en politieke medeseggenskap eventueel hand aan hand moet loop (Federale Sendingraad 1950:9–14, 18–20). Insiggewend is ook Verwoerd se opmerkings in hierdie trant in sy bedankingswoord aan die Britse Eerste Minister, Harold Macmillan, vir sy ‘winde van verandering’-toespraak op 3 Februarie 1960 voor die Volksraad en Senaat in Kaapstad (Pelzer (red) 1963:319).

9. Durand (1989) omskryf die situasie in die NG Kerk in die 1960’s soos volg: Die volkskerk! Die bastion van die Afrikaner! Soos selde in die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis het … die implikasies van … ʼn identifikasie van kerk en volksideale hulle só duidelik aangemeld, juis toe Afrikaneraspirasies en politieke doelstellinge … hulle toppunt … bereik – ʼn toewyding aan volksbelange wat stry met toewyding aan Gods koninkryk. (p. 66–67)

10. Begrippe van Abraham Kuyper, Herman Dooyeweerd en Henk Stoker is herkenbaar in hierdie formulerings. Waar soewereiniteit in eie kring na Kuyper en Dooyeweerd terug te voer is, kom selfstandigheid in eie bevoegdheid as ’n sinoniem vir soewereiniteit in eie kring, uit die denkarbeid van H.G. Stoker (Strauss 1993:13–15).

11. Die bundel toesprake onder redaksie van A.N. Pelzer in 1963, ‘Verwoerd aan die Woord’, is ’n verjaardaggeskenk aan die Eerste Minister op 6 September 1963. Die boek word uitgegee deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK), Afrikaanse Pers Bpk en Afrikaanse Handelsinstituut (AHI). ’n Landswye kultuurvereniging, ’n boekuitgewery en ’n instituut van sakemanne, almal medestanders in ’n samelewingsomvattende Afrikanerlaer, druk hiermee hulle sosio-politieke eenheid met die politieke leier van hierdie laer uit. Verwoerd se ‘boodskap’ moes bemark word, stel Pelzer (red. 1963:IV) dit duidelik.

12. Donner en Van den Hoorn (sa:307 vv, 325, 329).

13. Hierteenoor gebruik Van Niekerk (1987:11vv) en Degenaar (1996:9) die humanisties-individualistiese argument onkrities, naamlik dat die wettigheid van ʼn staatsowerheid bepaal word deur die vraag of hy deur die meerderheid van die bevolking – die meerderheid enkelinge – verkies is.



Crossref Citations

No related citations found.