Abstrak
‘Skoolordes’ instead of ‘bedelordes’: A reconsideration of the applicability of the term mendīcāns in the (Afrikaans) Medieval register. In this article the applicability of the Latin present participle mendīcāns in the (Afrikaans) Medieval register, with reference to the development of the four mendicant orders in the Medieval Latin West from the early 13th century onward, is reconsidered. The term mendīcāns is customarily translated as mendicant in English and as bedelend in Afrikaans (including the terminological transition to bedelordes and bedelmonnike) and familial languages such as Dutch (bedelorden and bedelmonniken) and German (Bettelorden and Bettelmönche). While the English application is by its Latinised nature subtle and not explicitly value-laden (referring not to begging but to the Latin participle mendīcāns), this is not the case in the latter languages. In the translation and terminological application of mendīcāns as bedelend in these languages, the profoundly condescending and Medievalist-patronising notion of ‘begging’ (which is wholly different from ‘receiving alms’) becomes prevalent. When, however, the idea-historical development of the term mendīcāns is reconsidered (particularly in the context of the Franciscan interpretation of the relation between usus [sustainable use within the milieu of idealised corporate poverty; ordo habeat usum, per Bonaventure]) and dominium [private ownership]), and taking into account that bedel refers not to social reciprocity (as it should in this context) but to a form of static and unilateral economic action, it seems sensible to review the term, at least in the latter languages, by a less value-determined alternative, such as skool (school). The four mendicant orders originating in the first decades of the 13th century (the Augustinians, Carmelites, Dominicans and Franciscans), shared a prominent feature, apart from not allowing themselves to own private property and the fact that they were indeed dependent on local communities for material (explicitly non-financial) support, namely the administration and conservation of a unique educational system of studia or local ‘boarding schools’, which functioned in a Venn-diagrammatical relationship with the young universities of the 12th century onward. The studia contributed in an unparalleled way to the academic formation of undergraduate students throughout the Medieval West. Rather than fixating on a static and arbitrary economic notion such as bedel, the vibrant academic achievements of the mendicant orders should instead be considered as their epitomising common feature – and should accordingly be reflected as such in the term describing them.
Contribution: This re-evaluation of the applicability of the Latin term mendīcāns in the Medieval register contributes to the development and ongoing refinement of the Medieval register in specifically the Afrikaans language, whereby the English translations ‘mendicant friar’ and ‘mendicant orders’, translated and applied from mendīcāns as bedelmonnike and bedelordes in Afrikaans, be henceforth instead referred to as skoolmonnike and skoolordes.
Keywords: Augustinians; beguines; Carmelites; Dominicans; Franciscans; medievalism; Medievalist studies; mendīcāns; mendicant orders; mendicant friars; studia.
Oogmerk: die wysiging van bedelordes en bedelmonnike na skoolordes en skoolmonnike in die Middeleeuse vakregister in Afrikaans
Die diskursiewe oogmerk van hierdie artikel is om die toepaslikheid van ’n gevestigde, maar problematiese begrip in die Afrikaanse vakregister van die Middeleeue te heroorweeg. Met die heroorweging word gepoog om ’n bydrae tot die eietydse ontwikkeling en verfyning van die register in Afrikaans te lewer. Die tradisionele, maar uitgediende toepassing van die Latynse teenwoordige deelwoord mendīcāns (‘bedelend’) wat in die register, onder meer gebruik word om na bedelordes en bedelmonnike te verwys, word naamlik heroorweeg ten gunste van ’n minder waardegelade en histories meer verantwoordbare alternatief, naamlik skoolordes en skoolmonnike. Die begrippe ‘bedelordes’ en ‘bedelmonnike’ word tans nog met weinig uitsondering, gebruik om na die maatskaplike posisie van die vier kloosterongebonde ordes (die Augustyne, Dominikane, Franciskane en Karmeliete) in die Middeleeuse Latynse Weste1 vanaf die vroeë 13de eeu te verwys. Die vertaling van mendīcāns as ‘bedelend’ het gevolglik in Afrikaans, sowel as in familiale tale soos Nederlands en Duits,’n diep pejoratiewe lading. Waar die Engelse toepassing van die begrip op grond van die gelatiniseerde aard daarvan nie uitdruklik waardegelade opval nie (deurdat dit nie verwys na ‘begging’ nie, maar met onderklemtoon terugreik na die Latynse deelwoord mendīcāns), is dit nie die geval in hierdie tale nie. Wanneer die ideëhistoriese oorsprong van die begrip mendīcāns egter in aanmerking geneem word (met verwysing na die Franciskaanse interpretasie van die verhouding tussen usus en dominium, of die verskil tussen vruggebruik en eiendomsreg), en daarby ingereken word dat die vertaalde en toegepaste begrip bedel nie op ’n dinamiese vorm van ekonomiese wederkerigheid dui nie, maar op ’n statiese behoefte en willekeurige aanbod, word dit duidelik dat die bestaande toepassing van mendīcāns minstens in hierdie tale vervang sou kon word deur ’n toepaslike begrip wat nié so uitdruklik gelade is nie. Dít sou, na die onderhawige betoog, die begrip skool kon wees: die vier kloosterongebonde ordes het ’n prominente gedeelde kenmerk gehad, afgesien daarvan dat hulle nie oor private eiendomsreg wou beskik nie en inderdaad op plaaslike gemeenskappe se materiële (uitdruklik niefinansiële) ondersteuning (caritas) aangewese was, te wete die administrasie en instandhouding van ’n unieke opvoedkundige stelsel, met verwysing na plaaslike studia of kosskole. Die studia het in ’n Venn-diagrammatiese verhouding met die opkomende universiteite van die 12de eeu gestaan en ’n ongeëwenaarde bydrae gelewer tot die akademiese opvoeding van voorgraadse studente deur die sentrale en latere Middeleeue heen. Deur in ’n eietydse aanwysing eerder op hierdie stabiele akademiese kenmerk van die tersaaklike ordes as op ’n arbitrêr ekonomiese kategorie soos bedelary te fokus, word die wesenlike in hierdie ordes se sosio-historiese status meer korrek aangedui. Daarom lui die onderstaande betoog dat die tradisioneel vertaalde toepassing van mendīcāns, met verwysing na bedelordes en bedelmonnike, binne die vakgebied van Middeleeuse studies gewysig word om voortaan, minstens in Afrikaans, eerder na skoolordes en skoolmonnike te verwys.
Eksposisie: die voortgaande toepaslikheid van die begrip mendīcāns vanuit ’n mediëvalistieke probleemstelling
Akademici vanuit die Middeleeuse Latynse Weste was oorwegend monnike wat vanuit kloosterskole en katedraalskole in die vroeë2 Middeleeue, die opkomende universiteite vanaf die vroeë 12de eeu en kloosterongebonde studia vanaf die vroeë 13de eeu gewerk het. Die onderskeid tussen kloosterordes en kloosterongebonde ordes is van onmiddellike en wesenlike belang. Tot en met die opkoms van bogenoemde vier kloosterongebonde ordes vanaf die vroeë 13de eeu, was alle monnike op die een of ander wyse aan ’n klooster verbonde, met weinig uitsondering gereguleer deur die 73 Ordereëls van Benedictus van Nursia (ca.480–ca.547). Na die kloosterongebonde ordes word normaalweg in die vakregister van die Middeleeue in Afrikaans en familiale tale as ‘bedelordes’ en na hulle eksponente as ‘bedelmonnike’ verwys. Dit het, na die onderhawige betoog, egter tyd geword om van die diep pejoratiewe en mediëvalistiese3 verwysings na ‘bedelordes’ en ‘bedelmonnike’ in die sentrale en latere Middeleeue afskeid te neem. Die begrip ‘bedel’, só uit die Latynse mendīcāns vertaal en toegepas, word in Afrikaans en familiale tale, waaronder Nederlands en Duits, gebruik om na kloosterongebonde monnike (in Engels normaalweg as friars of soms as mendicant monks aangedui) as ‘bedelmonnike’ en na die kloosterongebonde ordes as ‘bedelordes’ (in Engels mendicant orders) te verwys (in Nederlands bedelorden en bedelmonniken [soms wel ook minderbroers, na die Latynse Ordo Fratrum Minorum vir die Franciskane] en in Duits Bettelorden en Bettelmönche). Die toepaslikheid van die begrip ‘bedel’ kom binne hierdie institusioneel historiese konteks toenemend problematies voor: die monnike en ordes buite die geformaliseerde kloosterwese het nie ‘gebedel’ nie, maar dienswerk kosteloos in die gemeenskap verrig – hoewel hulle wel vir materiële (uitdruklik niefinansiële) onderhoud van die plaaslike gemeenskap se caritas afhanklik was.
Die toepassing van die begrip bedelary om hierdie veelkantige godsdienstige en opvoedkundige institusies in die sentrale en latere Middeleeue te beskryf, kan as ‘n ‘mediëvalisme’ gekenmerk word. Die begrip mediëvalisme dui op post-Middeleeuse, ideologies reduksionistiese en anachronistiese rekonstruksies van die Middeleeue, waarvolgens ’n enkele faset van ’n Middeleeuse gegewe deur die essensialisering van een of meer kontingente (of toevallige) eienskappe daarvan, met gevolglike karikaturisering en foutiewe geheelaanspraak aangebied word. Wanneer een aspek van die kloosterongebonde ordes van die vroeë 13de eeu terugskouend verselfstandig word ten koste van ’n veeltal ander gelyklopende aspekte, met verwysing na die ordes se ekonomiese status (synde oënskynlik ‘bedelaars’), kry dit ’n anachronistiese en misplaaste lading – in hierdie sin ongetwyfeld ’n mediëvalisme – wat eietyds teengegaan behoort te word ter wille van die prioritisering van ander kenmerke van hierdie ordes, wat nié so uitdruklik waardebepaald is nie. Die toepaslikheid van die begrip mendīcāns word vanuit sodanige mediëvalistieke (of kontra-mediëvalistiese) premisse hier heroorweeg.
By sodanige heroorweging van die toepaslikheid van die begrip mendīcāns, moet die verwarring tussen die gelade begrippe bedelmonnike / bedelnonne en die gelyklopende opkoms van die begyne (in Engels normaalweg as beghards en beguines aangedui) in die 13de eeu, in gedagte gehou word. Die begyne was institusioneel onafhanklike godsdienstige groeperinge in die sentrale en latere Middeleeue en het hulleself, volgens Beukes (2019):
… geslagtelik en grotendeels in lyn met die lyngesag in gevestigde kloosterstrukture georganiseer het. Geen lid van ’n begynse orde is verplig om bindende geloftes te moes aflê ten opsigte van ’n lewe in selibaat of om gestroop te word van bestaande of toekomstige individuele eiendom nie – wat juis die bron van inkomste van die meerderheid van kerklik-gesanksioneerde kloosterordes was. Begyne het bewegingsvryheid geniet, maar moes lojaal teenoor die plaaslike orde bly. Hulle was wel vry om die plaaslike orde permanent te verlaat, sonder enige strafsanksie, maar kon normaalweg nie na die spesifieke orde of begynehof terugkeer wanneer dit eenmaal verlaat is nie. Ook die begyne het nie ‘gebedel’ nie, maar was wel vir materiële instandhouding afhanklik van die betrokke gemeenskap se ondersteuning. In ruil het die begyne in die gemeenskap versorgingswerk gedoen, wat ingesluit het die versorging van siekes, gebreklikes, bejaardes en weeskinders. Trouens, teen die middel van die 13de eeu was die meerderheid verpleegsters in Duitsland en Frankryk begyne. (Beukes 2019:2; cf. Bailey 2003:457–459)4
Vanweë die mediëvalistiese en verkleinerende semantiese lading van die vertaalde toepassing van die begrip bedel in Afrikaans en familiale tale, word aangevoer dat hierdie toepassing van die begrip voortaan vermy behoort te word. Om Latinisties na ‘mendikaanse ordes’ en ‘mendikaanse monnike’ te verwys (wat, hoewel met aansienlike onderbeklemtoning, semanties steeds ‘bedelary’ impliseer), is nie ’n volhoubare uitweg nie.5 Die vraag is wat ’n ander uitstaande kenmerk van die kloosterongebonde ordes was – buiten die onbetwisbare feit dat hierdie ordes wel van materiële onderhoud deur die plaaslike gemeenskap waarin hulle ontplooi is, afhanklik was? Minstens een uitstaande en gedeelde kenmerk van dié ordes was naamlik, dat hulle akademiese opleiding vanuit studia of plaaslike skole (in die formaat van wat eietyds ‘kosskole’ genoem sou kon word) in samehang met die ontwikkelende universiteitswese verskaf het. In stede daarvan om verbuigings van die gelade Germaanse begrip bedel te handhaaf, word daarom aan die hand gedoen dat die begrippe skoolordes en skoolmonnike gebruik word om die verwysings na ‘bedelordes’ en ‘bedelmonnike’ te vervang, terwyl die geslagneutrale begrippe begyn en begynse orde (en nogeens nie bedelmonnik, bedelnon of bedelorde nie) gebruik word om na lede van die begynse ordes te verwys.
Studia en die akademiese ontwikkeling van die vier tersaaklike ordes vanaf die vroeë 13de eeu tot die middel van die 14de eeu
Die vroeë 13de eeu was ’n tydperk van intellektuele stroomversnellings, danksy die opkoms van die universiteitswese in die 12de eeu en die tydgenootlike beskikbaarstelling van Aristoteles se volledige korpus (nou met insluiting van sy natuurfilosofie) in Latyn vanuit die Arabiese vertalings van die Griekse tekste, gevolg deur die formele skeiding van teologie en filosofie, asook die opkoms van tegniese Aristotelisme in die skolastiek. Die ervaring van ‘krisis’ was in hierdie tyd in Wes-Europa wydverspreid en het meegewerk tot die opkoms van vier nuwe, kloosterongebonde ordes, wat beskou is as institusioneel onafhanklike toevlugte in ’n snel veranderende wêreld. Dit sou denkers van die mees hoogstaande snit vanuit hierdie ordes verg om die ervaring van hierdie ‘krisis’ te verwoord, sowel as te ontlont.
Die strukturering van onderrig en navorsing is in die vroeë 12de eeu getransformeer deur die verskuiwing vanaf Wes-Europese klooster- en katedraalskole, wat in die agtste en negende eeue opgebloei het, na die eerste institusionele vorm van universiteitswese, die studium generale (‘algemene studiesentrum’). Hiervan was die regsfakulteit in Bologna in Spanje (1088) die eerste, gevolg deur die lettere- en teologiefakulteite in Parys en Oxford, en die mediese fakulteit in Salerno. Salerno, as dié rigtinggewende fakulteit in geneeskunde, sou later moes terugstaan vir die opkomende fakulteit in Montpellier, maar Bologna, Parys en Oxford sou die volgende drie eeue nog, vanuit hulle bepaalde spesialiteitsdissiplines, die mees gerespekteerde fakulteite in die Latynse Weste verteenwoordig. Die aanvanklik stadige ontwikkeling van die universiteitswese in die 12de eeu is van impetus voorsien deur die opkoms van die vier nuwe ordes in die vroeë 13de eeu.6
Die Franciskaanse orde (Ordo Fratrum Minorum, Orde van die Beskeie Broedergemeenskap [afgekort O.F.M.]) is in 1209 gestig deur die Italiaanse mistikus Franciskus van Assisi (1181–1226), terwyl die Dominikaanse orde (Ordo Praedicatorum, Orde van die Predikers [O.P.]) in 1220 byeengebring is deur die Spaanse priester Dominik van Caleruega (ca.1172–1221). Twee dekades later is die Augustynse orde in die lewe geroep (in 1244, Ordo Sancti Augustini [O.S.A.]), asook die tydgenootlike Karmelitiese orde (Ordo Fratrum Beatissimae Virginis Mariae de Monte Carmelo [O.Carm.], waarvan die ontstaan teruggaan na ’n kollektiewe boetedoening by die berg Karmel in Noord-Israel na afloop van die derde kruistog, 1189–1192). Hierdie vier ordes het elkeen ’n eie oorsprong, identeit, oogmerke en stilistiese aanbod gehad. Nietemin was daar gemene delers. Al vier wou in daardie stadium buite die ekonomies vooruitstrewende kloosterstrukture funksioneer en het gevolglik vrywillig van die beginsel van persoonlike eiendomsreg afstand gedoen. Dit het behels dat alle persoonlike eiendom, na afhandeling van die inlywing tot die betrokke orde, aan die pouslike kuratorskap toevertrou is en dat die ordes dus vir strukturele en materiële onderhoud (caritas; dit is niefinansiële ondersteuning) afhanklik was van die gemeenskappe waar hulle gedien het (cf. Buhrer 2012:114).7 Sonder om daarmee opnuut ’n streng ekonomie van belange tot stand te bring, het hierdie ordes barmhartigheids- en opvoedingswerk in daardie gemeenskappe onderneem, veral ten opsigte van verpleging, die versorging van die armes, wese en bejaardes (in besonder deur die Franciskane) en openbare prediking en kategetiese onderrig (veral deur die Dominikane). Die eeueoue sekuriteit van die klooster is sodoende verlaat ter wille van ’n kontemplatiewe en dienende lewe in die wêreld self.
Daarby het hierdie vier ordes, anders as die plek- of hoogstens streeksgebonde kloosterordes, ’n nomadiese en transnasionale profiel gehandhaaf. Die leidinggewende magisters vanuit hierdie ordes het inderdaad beskik oor ’n soort Europese status (in die beperkte Middeleeuse sin), bemoontlik deur hulle intensiewe studiereise tussen die onderskeie studia van die betrokke orde en hulle gewilligheid om opeenvolgend poste by verskillende universiteite te beklee (die Franciskaan Johannes Duns Skotus [ca.1266–1308] het byvoorbeeld by verskeie Franciskaanse studia én die universiteite van Oxford, Cambridge, Parys en Keulen teologie gedoseer, terwyl die Dominikaan Meister Eckhart [1260–1328] vanaf die Dominikaanse studium in Erfurt na Parys vir nagraadse studies gestuur is, waar hy ook later teologie sou doseer, terwyl hy deurlopend diens gedoen het by Dominikaanse studia in Turyn, Sakse, Straatsburg en Keulen). Reeds rondom 1250 was die minderbroers vanuit dié ordes die mees toonaangewende dosente in teologie by die twee belangrikste Middeleeuse teologiefakulteite, naamlik aan die Universiteite van Oxford en Parys.
Hierdie ordes het dus daarin uitgemunt om dosente en studente binne ’n meer uitgebreide Europese netwerk te vestig en – weer anders as die streeksgebonde kloosterordes – aan die indruk van provinsialiteit te ontkom. Dosente en studente vanuit die vier ordes het vryelik tussen studia en universiteite in Engeland, Italië, Frankryk en Duitsland beweeg en ’n hegte kennisnetwerk tot stand gebring. Nietemin was daar gedurende die hoogskolastiek van die 13de en vroeë 14de eeue intense en voortslepende konflik tussen hierdie ordes en die ouer kloosterordes, veral Benediktynse subordes soos die Cistersensiërs, Cluniasensiërs en Kartusiërs8 – en natuurlik ook tussen die twee mees prominente kloosterongebonde ordes self, die Franciskane en die Dominikane. Hoewel die invloed van klooster- en katedraalskole op die ontwikkeling van die akademiese lewe in die sentrale en latere Middeleeue behoue gebly het, kon dit die bestendigende rol wat hulle in veral die agtste en negende eeue gespeel het, nie ewenaar nie. Die vier nuwe ordes het institusioneel op eenvoudig net té veel vlakke uitgemunt.9
Franciskus, die stigter van die eerste van hierdie ordes, het gefokus op ’n spiritualiteit van natuurbetrokke minimalisme en het nie ’n hoë premie op sy orde se intellektuele ontwikkeling geplaas nie. Die Franciskaanse inspeling op die universiteitswese (wat na meer as ’n eeu se talmende ontwikkeling toenemend stabiel begin funksioneer het), was daarom aanvanklik beperk. Die orde het op Franciskus se spoor gevolglik ook besluit om die teologiese opleiding van hulle leerlinge te beperk tot plaaslike skole (studia) onder selfstandige bestuur en onafhanklik van die universiteite. Hierdie afstandname van die universiteitswese het weldra geblyk teenproduktief vir beide partye te wees. Die Franciskane het dus die studia behou om ’n vorm van basiese en hoër onderwys aan te bied, terwyl die mees uitstaande studente vanuit die studia wel met stipendia na teologiese fakulteite vir gevorderde voorgraadse en nagraadse studie gestuur is, oorwegend by die Universiteite van Oxford en Parys. Die drie ander ordes sou die Franciskane in dié opsig volg: die studium word behou, maar die verbintenis met die universiteite word gelyklopend ontwikkel en uitgebou. Hoewel daar dus aanvanklik verset vanuit die Franciskaanse orde teen intellektuele toewyding was, synde onversoenbaar met Franciskus se eenvoudige idealisme, het die orde die volgende 150 jaar uitstaande universiteitskolastici opgelewer.10
Anders as die Franciskane, het die Dominikane van meet af aan hoë priorititeit op die interne ontwikkeling van die orde deur akademiese opleiding geplaas. Die rede daarvoor was die orde se aksent op ‘openbare prediking’, wat niks anders was nie as gratis, maar gesofistikeerde openbare lesings in 13de-eeuse teologie. Elke Dominikaanse studium het gevolglik beskik oor minstens een lector wat reeds ’n minimum van vier jaar studie in teologie by ’n universiteit voltooi het. Anders as die Franciskane wat studia op sowel die platteland as in stede opgerig het, het die Dominikane voorkeur verleen aan die oprig van studia in gevestigde universiteitstede soos Parys, Oxford, Cambridge en Toulouse. In talle stede, waaronder Keulen, Erfurt en Praag, is die bestaande Dominikaanse studium later inderdaad tot ’n volwaardige universiteit uitgebou. Verder is onderrig in teologie by die belangrikste 13de-eeuse universiteite soos Oxford en Parys deur Dominikane oorheers.11 In suidelike stede soos Bologna en Montpellier waar daar geen teologiefakulteite was nie, het beide die Dominikaanse en Franciskaanse studia die teologiese opleiding van plaaslike studente oorgeneem, en trouens ‘n monopolie op teologiese opleiding uitgeoefen (cf. Luscombe 2010:69). Omdat die orde by uitstek in universiteitstede gevestig was, het die Dominikane ’n wesenlike rol gespeel in die ontwikkeling van universiteitsadministrasies en die vooraanstaande leerstoele by teologiefakulteite beset. Die wisselwerking tussen die plaaslike Dominikaanse studium en die plaaslike universiteit was opvallend spontaan: sekulêre of orde-ongebonde studente het Dominikaanse magisters gehad en sekulêre dosente het Dominikaanse studente binne die plaaslike studium onderrig (cf. Beukes 2021d:1–3).
Hierdie spontane en intieme verhouding tussen ’n kloosterongebonde orde en die universiteite – wat veronderstel was om algeheel orde-onverbonde of sekulêre institusies te wees – het tot aansienlike spanning en selfs konflik aanleiding gegee, veral by die Universiteite van Oxford en Parys. Die Dominikane het toenemend vir hulle voorregte by dié universiteite beding, wou selfstandige besluite oor leerplanne neem, studente werf en beurse toeken, en sonder inmenging van universiteitsweë, dosente aanstel. Waar sekulêre dosente dikwels dubbel gepromoveerd was (eers in lettere en daarna in teologie), is monnike vanuit die vier ordes nie toegelaat om eers lettere te studeer en daarna na teologie te beweeg nie. Sekulêre dosente was daarom tereg onder die indruk dat hulle grondige opleiding by die twee fakulteite onderwaardeer is ten gunste van die aanstelling van monnike wat voorgraads by ’n plaaslike studium en slegs nagraads by die betrokke teologiefakulteit afgestudeer het. Hierdie spanning kon die ontwikkeling van die Dominikaanse orde in die intieme samehang daarvan met die Middeleeuse universiteitswese egter nie onderbreek nie.12
Die belangrikste intellektuele ontwikkeling binne Dominikaanse konteks was die toetrede van Albertus Magnus (ca.1200–1280) tot die orde tussen 1223 en 1229. Albertus was in talle opsigte die gelyke van sy mees beroemde leerling, Thomas van Aquinas (1225–1274).13 Aquinas self is sonder twyfel die mees beroemde, mees ontginde en mees gekommentarieerde Dominikaan in die geskiedenis van die orde. Die invloed van sy prestasies setel in sy bydrae tot die ontwikkeling van die skolastiese metode deur die implementering van grondliggende Aristoteliese vertrekpunte binne die raamwerk van die 13de-eeuse Christelike dogmatiek, waaruit ’n oorspronklike Middeleeuse filosofies teologiese stelsel ontstaan het – wat die pouslike sanksionering van die Paryse veroordelings van 1277, die Roomse Inkwisisie en veral die pedantiese vooroordele van die moderne periode oorleef het. Aquinas se Summa Theologiae, wat 61 volumes bestryk, is volumegewys die omvangrykste boek in die Westerse ideëgeskiedenis en kan in alle opsigte as ongeëwenaard beskou word.14
Vanaf die 1320’s was die Dominikane egter in ’n binnegeveg om oorlewing gewikkel – terwyl die Franciskaanse orde gedy het.15 Die interne verswakking van die orde het ’n hoogtepunt bereik in die eerste inkwisisionele vervolging van ’n magister in teologie (hoewel postuum), die Dominikane se 14de-eeuse strydros, vermelde Meister Eckhart.16 In die pouslike bul In agro dominico, gedateer 17 Maart 1329, veroordeel pous Johannes XXII (Jacques Duèze, 1244–1334, pous vanaf 1316 tot 1334), formeel 28 proposisies in Eckhart se tekste en gepubliseerde preke, waarvan 17 as ‘kettery’ en 11 as ‘moontlike kettery’ aangedui is. Die Dominikane het ernstige probleme ervaar om van Eckhart se veroordeling te herstel en die sogenaamde Dominikaanse krisis van die middel-14de eeu (ook genoem die Probleme der nacheckartschen Zeit) het die orde trouens teen die 1340’s lamgelê.17 Selfs nie Berthold van Moosburg (ca.1300–1361) se enigmatiese kommentaar, in nege volumes, op die Neoplatonis Proklus (412–485) se Στοιχείωσις θεολογική (Stoicheiosis Theologikae; Elemente van teologie), getitel Expositio super Elementationem theologicam Procli, sou genoegsame beskerming bied om die voortgaande interne konflik in die orde af te weer nie. Die werk was ’n verfynde taktiese skuif van die Dominikane in die 1350’s om nie Aristoteles nie, maar die Neoplatoniese oorlewering te gebruik om die veroordeling van Eckhart teen te gaan. Hoewel die Expositio aanvanklik veld binne die orde gewen het – al was dit ook net danksy die indrukwekkende omvang en verfynde stilistiese kwaliteit van die werk – het die invloed daarvan betreklik gou na Berthold se dood getaan, nogeens weens teenkanting en voortgaande struwelinge binne Dominikaanse geledere self.18 Die Dominikaanse orde sou eers weer gedurende die Italiaanse Renaissance die indruk van ’n herstelde, eenvormige en eensgesinde orde laat.
Die Augustynse orde het sedert die stigting daarvan in 1244 vanselfsprekend krities gestaan teenoor die sentralisering van Aristoteliese natuurfilosofie binne die 13de-eeuse hoogskolastiek en sou enige poging verwelkom om ewewig in die resepsie van Aristoteles en Augustinus te bewerkstellig. Hendrik van Gent (d.1293) het wel nie tot die orde behoort nie, maar hy sou akademies eers na die Paryse veroordelings van 1277 werklik op dreef kom, nadat sy kritiek teen die Aristoteliane in aanloop tot die veroordelings juis wyd in Augustynse kringe verwelkom is. As ’n ongebonde sekulêre monnik was Gent in staat om sy leerstoel as magister by teologie in Parys tot kort voor sy dood te behou en het hy inderdaad ’n merkwaardige invloed op Augustynse monnike in die tweede helfte van die 13de eeu uitgeoefen. Gilius van Rome (1243–1316) was egter die eerste monnik vanuit die Ordo sancti Augustini wat as magister in teologie in Parys gekwalifiseer het. Opvallend het Gilius in Parys nie juis oordrewe lojaal teenoor die Augustynse trajek gestaan nie, omdat hy bevoorreg genoeg was om vanaf 1269 tot 1272 nagraads onder Aquinas self te studeer. Gilius sou sy lewe lank Aristotelies-Thomisties in sy filosofies teologiese oriëntasie bly.19 In 1292 word hy aangewys as hoofmonnik of prior van die Ordo sancti Augustini en in 1295 as biskop van Bourges deur pous Bonifatius VIII (Benedetto Caetani, 1230–1303, pous vanaf 1294 tot 1303). Hoewel Gilius dus ’n Augustyn was wat veel meer Aristotelies-Thomisties as gangbaar Augustyns in oriëntasie was, het sy ondersteuning van pouslike gesag en tempering van koninklike gesag kenmerkend geword van die Augustynse orde se institusionele posisionering in die oorgang van die 13de na die 14de eeu. Naas Gilius was Jakobus van Viterbo (ca.1258–1307) ’n belangrike hoogskolastikus vanuit die Augustynse orde in die tweede helfte van die 13de eeu.20 Gregorius van Rimini (ca. 1300–1358) was ’n Italiaanse Augustyn wat as magister in teologie by Parys afgestudeer het nadat die orde hom rondom 1322 die eerste keer na Parys gestuur het, waar hy ’n baccalaureus in teologie na ses jaar se studie behaal het as inwoner en student van die orde se studium naby die universiteit.21 Rimini kan beskou word as een van die belangrikste filosofiese brugfigure tussen die universiteite van Oxford en Parys in die 1340’s en 1350’s.22 Die vestiging van diskursiewe oorgange tussen uiteenlopende ordes, skole en bewegings kan ook as een van die belangrikste kenmerke en bydraes van die Augustynse orde in die 14de eeu beskou word. Dit sluit hulle toenadering tot die afsydige Karmelitiese orde in.
Die Karmeliete het oorwegend nader aan die Dominikane as aan die Franciskane gestaan, in die sin dat hulle hermeneutiese sleutel Aristoteles, via Aquinas, en Neoplatonisme, via Pseudo-Dionisius was – eerder as Plato, via Augustinus, soos oorwegend by die Franciskane. Die Dominikane en Franciskane het betreklik streng by die raamwerk van hulle eie studia en magisters gehou, terwyl die Augustyne, met inagneming van die voorrang wat hulle aan Augustinus en die Augustynse ordereëls gegee het, wel gemene grond tussen die skoolordes probeer soek het. Die Karmelitiese orde het die uitsette van sekulêre of ongebonde magisters egter met die grootste erns geneem en was bereid om ver buite die raamwerk van eie orde te beweeg. Die enkele grootste invloed op die Karmeliete was waarskynlik Godfrey Fontibus (ca.1250 – ca.1315), ’n uitdagende sekulêre magister in teologie in Parys vanaf 1285 tot 1304.23 Fontibus se invloed op die Karmeliete blyk duidelik uit sy Karmelitiese student Guido Terrena (d.1342) se vindingryke verdediging van Aristoteles se teoretiese posisies, maar ook vir sy kritiek van bepaalde Aristoteliese en Thomistiese uitgangspunte. Vanaf 1313 tot 1317 dien Terrena as magister regens van die Karmeliete in Parys, waar hy as hoofdosent van opkomende jong Karmeliete soos Johannes Baconthorpe24 (ca. 1290–1345) opgetree het. Nadat hy in 1318 as meestergeneraal van die Karmeliete aangewys is, tree hy op as die teologiese adviseur van Johannes XXII wat, soos hier onder aangedui, in daardie stadium met prominente Franciskane soos Ockham in ’n onverkwiklike geskil betrokke was oor die Franciskaanse interpretasie van die verhouding tussen eiendomsreg en kommunale vruggebruik. Uiteraard het hierdie pouslike adviesstukke Terrena in oneer by die Franciskane gebring en die Karmeliete effektief teen die Franciskane opgestel. Gegewe die vooruitgang van die Franciskane en die agteruitgang van die Dominikane die volgende drie dekades was dit ’n strategiese fout wat die Karmeliete duur te staan gekom het: ’n reeds afstandelike orde is vir die afsienbare toekoms uit die hoofstroom akademiese lewe geweer.
Dit is selfs net teen die beperktheid van bostaande oorsig van hulle akademiese uitsette, ondenkbaar dat na hierdie verfynde akademiese groeperinge steeds as mendīcāns, ‘bedelend’ en daarom as ‘bedelordes’ verwys word. Tog moet die ideëhistoriese oorsprong van die begrip mendīcāns duidelik aangetoon word – ten einde die heroorweging van die toepaslikheid daarvan teen die agtergrond van bogenoemde oorsig te begrond.
Usus óf dominium: die ideëhistoriese oorsprong van die begrip mendīcāns
Wanneer die ideëhistoriese oorsprong van die begrip mendīcāns by bostaande oorsig gevoeg word, en daarby in aanmerking geneem word dat die vertaalde en toegepaste begrip bedel nie op ’n vorm van dinamies ekonomiese wederkerigheid dui nie, maar duidelik op statiese behoefte en willekeurige aanbod, word dit duidelik dat die bestaande vertaalde toepassing van mendīcāns in Afrikaans gewysig behoort te word na ’n toepaslike begrip wat nié so wisselvallig en uitdruklik waardegelade is nie. In die tersaaklike literatuur bestaan daar geen ánder uitdruklike verklaring nie, anders as dat verwysings na die kloosterongebonde ordes, synde mendīcāns, eers vanaf die derde dekade van die 14de eeu ’n neerhalende lading gekry het op grond van ’n dramatiese konfrontasie tussen die oudste van hierdie ordes – die Franciskane – en die hoogste kerklike gesag.25 Hoëprofiel-Franciskane soos Willem van Ockham (ca.1285–1349) en Franciskus van Marchia (ca.1290–ca.1344), ’n magister in teologie in Parys en teenstander van reeds vermelde Johannes XXII, bots vanaf die vroeë 1320’s, saam met ander prominente Franciskane, met die pous oor die orde se verstaan van korporatiewe of ‘heilige’ armoede.26 Hierdie konfrontasie het ontstaan uit ’n aangeleentheid wat vir die Franciskane eenvoudig, maar vir die pous kerkregtelik kompleks was. Wanneer ’n leerling tot die Franciskaanse orde toegetree het, het hy afstand gedoen van sy private boedel en dit in geheel aan die orde toevertrou. Die Franciskane het ’n leerling wat die eerste twee jaar nie in die rigiede studieprogram, minimalistiese lewenswyse en korporatiewe armoedebenadering van die orde kon volhard nie, nie gepenaliseer nie (cf. Beukes 2020e:5[vn.6]; cf. Robinson 2012:197). Trouens, huiwerige leerlinge is formeel geadviseer om nie die gestroopte en eenvoudige ‘Franciskaanse weg’ te volg nie en kon hulle boedels terugkry en na die sekulêre lewe terugkeer. Talle Franciskaanse monnike was uit die Europese adelstand afkomstig en daardie boedels was dikwels indrukwekkend (cf. Bethell 1998:2). Die toetredende leerling se boedel is voorlopig geoormerk vir usus, oftewel vruggebruik deur die orde, en het die orde eers na twee jaar permanent toegeval. Die Franciskane het met hierdie werkswyse privaatregtelike eiendomsreg afgewys, maar wou daarmee juis die saaklike reg van vruggebruik ter wille van die onderhoud en instandhouding van die orde handhaaf. Die orde het saakregtelik dus oor geen eiendom beskik nie, maar moes wel eiendom vir die fasilitering van ’n studium vir verblyf en onderrig per stad per maand huur of (meer dikwels) van ’n gratis aanbod (‘aalmoes’) vir behuising en die fasilitering van onderrig vanuit die betrokke gemeenskap gebruik maak (cf. Beukes 2020e:5[vn.6].
Johannes XXII het per bul Ad conditorem canonum (Desember 1322) egter geoordeel dat daardie individuele boedels van toetredende leerlinge die pouslike begroting onmiddellik moes toeval.27 Ockham en Marchia bots met dringende intensiteit vanaf 1323 tot 1328 konstant oor hierdie aangeleentheid met die pous (cf. Beukes 2020e:5[vn.6]; cf. Wittneben 2003:353–359). Die eerste deel van die vraagstuk het gehandel oor Christus en die apostels se posisie ten opsigte van die privaat besit van eiendom en die tweede deel oor die Franciskane se genuanseerde opvatting van ‘heilige korporatiewe armoede’. Franciskus self het natuurlik ’n ekstreme ideaal van armoede nagestreef: die eerste Franciskaanse monnike van die vroeë 13de eeu mag niks persoonlik besit het nie, letterlik nie aan geld geraak het nie en moes volledig van ‘aalmoese’ (dit is dus ‘niegeldelike ondersteuning’) vanuit die plaaslike gemeenskap afhanklik wees ten opsigte van die voorsiening van voedsel, kleding en basiese huisvesting (cf. Mollat 1986:119–121).28 Bonaventura, vanaf 1257 die befaamde meestergeneraal van die orde in Frankryk, het voor sy dood in 1274 ’n uitdruklike onderskeid tussen dominium en usus getref: Franciskane kon wel (iemand se) eiendom gebruik (usus), maar nie individueel of kollektief as ’n orde besit (dominium) nie.29 Die orde kon (iemand se) eiendom wel ‘in besit hou’ ter wille van ‘verantwoorde en nie-uitbuitende gebruik’ (ordo habeat usum, na Bonaventura se interpretasie van usus; cf. Beukes 2020e:5[vn.6]).30
Reeds in 1279 het pous Nikolaus III (Giovanni Gaetano Orsini, 1225–1280, pous vanaf 1277 tot 1280), teen die bedoeling van Bonaventura se oogmerk om die orde finansieel onafhanklik te hou sonder om die korporatiewe ideaal van armoede te ondergrawe, die orde van alle vorme van besit onthef en die orde se volledige boedel aan die pouslike kuratorskap toevertrou. Aan die einde van 1322 het Johannes XXII Nikolaus III se besluit per bul Ad conditorem canonum bevestig, Bonaventura se posisie nogeens as ‘onwerkbaar’31 en as ’n ‘skynheilige dwaling’ afgemaak, asook die Franciskaanse interpretasie van Jesus en die apostels se posisie ten opsigte van eiendomsreg – waarmee die orde se interpretasie van vruggebruik juis wou ooreenstem – as ’n ‘dwaling’ verklaar (cf. Beukes 2020e:5[vn.6]; Robinson 2012:201). Die meestergeneraal van die Franciskaanse orde in 1323, Michael van Cesena (ca.1270–1342), het Ockham versoek om hierdie twee dwalingsdekrete te ondersoek (cf. Robinson 2012:208–211). Ockham het bevind dat die dekrete van Johannes XXII immoreel, absurd en self ketters32 was en die resultaat van sy ondersoek openbaar gemaak.
’n Pouslike bul vir Ockham en Cesena se arrestasie is uitgereik en saam met Cesena moes Ockham – saam met tientalle ander Franciskane – vanuit Avignon vir hulle lewens vlug. Die voortvlugtende Franciskane het asiel verkry in Duitsland onder keiser Lodewyk van Beiere, wat Johannes XXII as ’n aartsvyand beskou het omdat Johannes Lodewyk se verkiesing as keiser betwis en probeer ondermyn het deur die troon in 1317 per pouslike dekreet ‘vakant’ te verklaar. Lodewyk, wat self geëkskommunikeer is in 1324, het hom sonder sukses tot ’n algemene Roomse konsilie gewend om Johannes XXII self as ketter verklaar te kry. Sonder sukses en enige uitkoms elders, het Lodewyk Rome in 1328 binnegevaar, homself as Roomse keiser aangestel en ’n keiserlike antipous aangewys. Ockham is uiteindelik in 1349 in die omstreke van München aan die Pes oorlede. (Beukes 2020e:5 [vn.6])
In hierdie konflik tussen Johannes XXII en die Franciskane was daar geen wenners nie. Aan die een kant het die Franciskane hulle diepe verbondenheid aan Franciskus se korporatiewe ideaal van armoede met dié konfrontasie bevestig: hulle was in die eerste plek steeds monnike en nie skolastiese akademici nie. Aan die ander kant het die orde die indruk van opstand en verset teen kerklike gesag geskep. Die prys van hierdie verset was hoog: in stede daarvan om die ekonomiese posisie van die orde te onderbeklemtoon ten gunste van die dinamiese akademiese uitsette daarvan, sou die begrip mendīcāns voortaan gebruik word om die Franciskane se maatskaplike status te definieer en het kritiek teen al vier ordes dramaties toegeneem.
Die polemiese inset in die 1330’s van die gerekende dubbel magister in lettere en teologie by Oxford, Richard Fitzralph (ca.1300–1360), in besonder oor die Franciskane en Dominikane (in sy De pauperie salvatoris [1346] in agt volumes met bylae, De mendicitate), waarin hy die Franciskaanse orde se hantering van die vraag na dominium teenoor usus hewig kritiseer, is hiervan sprekend. Fitzralph was die ordes aanvanklik betreklik goedgesind en het hulle, onder meer, daarin ondersteun dat spesifiek die Franciskaanse gemeenskapsboedel nie sonder meer aan die pouslike kuratorskap toevertrou hoef te word nie – dat die Franciskane die boedel dus intern sou kon bestuur en in terme van vruggebruik na eie diskresie sou kon aanwend. Nadat hy as aartsbiskop van Armagh aangewys is, het Fitzralph egter self toenemend in konfrontasies met die Franciskane beland, juis omdat die orde die ideaal van die kloosterongebonde ordes om te beweeg buite die sfeer van formele kerklike toesig (en daarom by uitstek onafhanklik van die Benediktynse ordereëls soos binne die kerklik gesanksioneerde kloosters), na sy mening té ver gevoer het (cf. Walsh 1981:1–46). Hy berei daarom ’n uitgebreide filosofiese en teologiese kritiek voor op, wat hy noem, die ‘geradikaliseerde mendikaanse ideaal’ in De pauperie salvatoris. In hierdie omvangryke werk betoog Fitzralph dat, hoewel hy diepe agting het vir die kloosterongebonde ordes se ideaal van korporatiewe armoede en hulle toewyding aan barmhartigheidsorg, asook hulle pastorale en kategetiese werk in die gemeenskap in die algemeen, hy hulle verset teen die kerklike gesag onverskoonbaar vind – gegewe die feit dat hulle dikwels van kerklike eiendom gebruik gemaak het in die uitvoering van hierdie selfopgelegde verantwoordelikhede. In sy ontleding van die ordes se juridiese posisie en maatskaplike status, kommentarieer Fitzralph die saakregtelike kwessies van privaat en korporatiewe besit van eiendom met behulp van gesaghebbende 14de-eeuse regsadvies (cf. Dipple 1994:237).
Die Franciskane se herhaalde uitdagings van die pousdom het hulle met Fitzralph se omvangryke teenkanting ingehaal. Na De pauperie salvatoris sou die begrip mendīcāns in die 14de eeu toenemend stigmatiserend en uitruilbaar met die begrip pauper gebruik word: nou nie slegs meer ‘bedelend’ nie, maar ‘armlastig’, ‘afhanklik’ en ‘verswak’. Fitzralph se uitdruklike verbinding van mendīcāns aan pauper het dus besonder skadelike gevolge vir die ordes ingehou. Soos aangedui (sien weer voetnoot 25) is die begrip mendīcāns tot in hierdie stadium slegs gebruik om getemperd na die ordes se gedeelde ideaal omtrent armoede te verwys. Na De pauperie salvatoris het die begrip mendīcāns egter uitdruklik ’n pejoratiewe inhoud verkry: nou in verband gestel met die Latynse pau- en die stam vir pario (’n argaïese landboubegrip wat op ‘onvrugbaarheid’ of ‘dorheid’ dui), is ’n veeltal ander negatiewe assosiasies met armoede in die Middeleeue opgeroep, met verwysing na ‘toenemende verarming’ (egens, egenus, indigens, inops, insufficiens, miser), ‘verhongering’ (esuriens, famelicus), ‘naaktheid’ (nudus), ‘liggaamsgebrek’ (caecus, claudus, contractus), ‘verstandelike gebrek’ (isiotus, imbellicis, simplex), ‘vereensaming’ en selfs ‘verdiende ballingskap’ (orphanus, vidua, miserabilis persona); cf. Mäkinen (2011:1067). Hoewel die middel-14de eeuse verband tussen mendīcāns, pauper en hierdie negatiewe semantiese assosiasies mettertyd vervaag het, sou die begrip mendīcāns nie weer gebruik kon word sonder ’n etimologies neerhalende lading nie. Die ordes was nou bedelaars, niks meer en niks minder nie.
Die ander drie ordes, wat nié in alle opsigte die ekstreme ideaal van armoede of die openlike verset teen kerklike gesag van die Franciskane gedeel het nie, is spontaan by hierdie stigmatisering betrek. Dit was dus eers ná die konfrontasie tussen Johannes XXII en die Franciskane dat die verwysing na die Franciskane en die drie ander ordes as mendīcāns of ‘bedelend’ met ’n pejoratiewe strekking in die Westerse ideëgeskiedenis gevestig geraak het. Sedertdien is mendīcāns ’n algemene begrip wat vir eeue reeds onaangetas in die vakregister van die Middeleeue behoue gebly het en sodoende as bedelend in ook die Afrikaanse register opgeneem is.
Gevolgtrekking: skoolordes in stede van bedelordes
In bostaande oorsig is aangevoer dat die gevestigde toepassing van die begrip mendīcāns, wat in die Afrikaanse vakregister gebruik word om na bedelordes en bedelmonnike te verwys, vervang behoort te word met ’n minder waardegelade en histories meer verantwoordbare verwysing na skoolordes en skoolmonnike. Die unieke opvoedkundige stelsel van plaaslike studia en die hoogstaande akademiese uitsette van die kloosterongebonde ordes van die 13de en 14de eeue bied ’n meer korrekte tipering van die sosio-historiese status en intellektuele erflating van hierdie ordes as die arbitrêre ekonomiese kategorie van ‘bedelary’, waarvan die pejoratiewe inhoud na ’n kontingente gebeure, naamlik ’n kerkregtelike konfrontasie tussen die hoogste kerklike gesag en een van hierdie ordes – die Franciskane – herlei kan word. Wanneer die ideëhistoriese oorsprong van die begrip mendīcāns dus in aanmerking geneem word en daarby ingereken word dat die vertaalde en toegepaste begrip bedel nie op ’n vorm van ekonomiese wederkerigheid dui nie, maar op ’n statiese behoefte en willekeurige aanbod, is dit duidelik dat die bestaande toepassing van mendīcāns gewysig behoort te word na ’n toepaslike begrip wat nie sodanig gelade is nie. Daarom kan die voorstel oorweeg word dat die geykte toepassing van die begrip mendīcāns binne die vakgebied van Middeleeuse studies aangepas word om voortaan, minstens in Afrikaans, eerder na skoolordes en skoolmonnike te verwys.
Erkennings
Die skrywer is ook verbonde aan die Sentrum vir die Geskiedenis van Filosofie en Wetenskap (CHPS) aan Radboud Universiteit Nijmegen, Nederland.
Mededingende belange
Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.
Outeursbydrae
J.B. was die enigste outeur betrokke by die skryf van die artikel.
Etiese oorwegings
Hierdie artikel volg alle etiese standaarde vir navorsing sonder direkte kontak met mens of dier.
Befondsing
Hierdie artikel is befonds deur die Departement Filosofie, Fakulteit Geesteswetenskappe, Universiteit van die Vrystaat.
Data beskikbaarheidsverklaring
Datadeling is nie van toepassing op hierdie artikel nie, aangesien geen nuwe data in hierdie studie geskep of ontleed is nie.
Vrywaring
Die sienings en menings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde agentskap van die outeur nie.
Verwysings
Adriaenssen, H.T., 2011, ‘Peter Olivi on perceptual representation’, Vivarium 49(1), 324–352. https://doi.org/10.1163/156853411X606356
Adriaenssen, H.T., 2014, ‘Peter John Olivi and Peter Auriol on conceptual thought’, Oxford studies in Medieval Philosophy 2(1), 67–97. https://doi.org/10.1093/acprof:oso/9780198718468.003.0004
Aertsen, J.A., 1996, ‘Albertus Magnus und die mittelalterliche Philosophie’, Allgemeine Zeitschrift für Philosophie 21(1), 111–128.
Aertsen, J.A., 2013, ‘Albert’s doctrine on the transcendentals’, in I.M. Resnick (ed.), A companion to Albert the Great: Theology, philosophy and the sciences, pp. 611–618, Brill, Leiden.
Anzulewicz, H., 2013, ‘Anthropology: The concept of man in Albert the Great’, in I.M. Resnick (ed.), A companion to Albert the Great: Theology, philosophy and the sciences, pp. 325–346, Brill, Leiden.
Bailey, M., 2003, ‘Religious poverty, mendicancy and reform in the Middle Ages’, Church History 72(1), 457–483. https://doi.org/10.1017/S0009640700100319
Bermon, P., 2002, ‘La Lectura sur les deux premiers livres des Sentences de Grégoire di Rimini, O.E.S.A. (1300–1358)’, in G.R. Evans (ed.), Mediaeval commentaries on the sentences of Peter Lombard, Volume I, pp. 267–285, Leiden, Brill.
Bethell, T., 1998, The noblest triumph: Property and prosperity through the ages, St. Martin’s Press, New York, NY.
Beukes, J., 2018a, ‘Die Arabiese trajek in die Karolingiese periode in Middeleeuse filosofie’, Litnet Akademies 15(3), 502–564, besigtig 13 Mei 2021, vanaf https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2018/12/LitNet_Akademies_15-3_Beukes_502-564.pdf.
Beukes, J., 2018b, ‘Die Arabiese trajek in die post-Karolingiese periode in Middeleeuse filosofie’, Litnet Akademies 15(3), 565–626, besigtig 13 Mei 2021, vanaf https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2018/12/LitNet_Akademies_15-3_Beukes_565-626.pdf.
Beukes, J., 2019, ‘“Maak die wêreld nie tot bespotting nie”: ’n Herwaardering van die filosofiese aspekte in Mechtild von Magdeburg se Das fließende Licht der Gottheit (1250)’, Verbum et Ecclesia 40(1), 1–8. https://doi.org/10.4102/ve.v40i1.1965
Beukes, J., 2020a, Middeleeuse Filosofie, Volumes I & II, Akademia, Pretoria.
Beukes, J., 2020b, ‘The Dominican Robert Kilwardby (ca.1215–1279) as schoolman and ecclesiastical official’, Verbum et Ecclesia 41(1), 1–14. https://doi.org/10.4102/ve.v41i1.2065
Beukes, J., 2020c, ‘Die eliminering van die siel in die filosofiese mistiek en negatiewe teologie van die begyn Marguerite Porete (1250–1310)’, LitNet Akademies 17(2), 200–225, besigtig 13 Mei 2021, vanaf https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2020/09/LitNet_Akademies_17-2_Beukes_204-229.pdf.
Beukes, J., 2020d, ‘The Trinitarian and Christological Minnemystik of the Flemish beguine Hadewijch of Antwerp (fl.1240)’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 76(1), 1–10. https://doi.org/10.4102/hts.v76i1.5865
Beukes, J., 2020e, ‘Die politieke aktivisme van Birgitta Birgersdotter (1302/3–1373)’, Verbum et Ecclesia 41(1), 1–12. https://doi.org/10.4102/ve.v41i1.2134
Beukes, J., 2020f, ‘Die triomf van ’n post-skolastieke mistiek oor skolastieke lojalisme: Gersonius versus Ruusbroec (postuum), 1399’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 76(1), 1–12. https://doi.org/10.4102/hts.v76i1.5672
Beukes, J., 2021a, ‘The case for post-scholasticism as an internal period indicator in Medieval philosophy’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 77(4), 1–12. https://doi.org/10.4102/hts.v77i4.6270
Beukes, J., 2021b, ‘Middeleeuse studies, Mediëvalistiek en Mediëvalisme: Kritiese onderskeide en samehange’, Verbum et Ecclesia 42(1), 1–9. https://doi.org/10.4102/ve.v42i1.2236
Beukes, J., 2021c, ‘Die “vyf trane” as mistieke uitdrukking in die Dialoë van die Dominikaanse non Katharina van Siëna (1347–1380)’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 77(4), 1–9. https://doi.org/10.4102/hts.v77i4.6553
Beukes, J., 2021d, ‘Neoplatonism in the Cologne tradition of the later Middle Ages: Berthold of Moosburg (ca.1300–1361) as a case study’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 77(4), 1–15. https://doi.org/10.4102/hts.v77i4.6281
Beukes, J., 2021e, ‘Hendrik van Harclay (ca.1270–1317) se kritiese Skotisme, afgelei uit sy Quaestiones Ordinaire (1312–1317)’, Tydskrif vir Geesteswetenskappe 61(1), 259–281. https://doi.org/10.17159/2224-7912/2021/v61n1a16
Bonin, T., 2001, Creation as Emanation: The origin of diversity in Albert the Great’s On the Causes and the Procession of the Universe, University of Notre Dame Press, Notre Dame, IN.
Brooke, R.B., 1959, Early Franciscan government: Elias to Bonaventure, Cambridge University Press, Cambridge.
Buhrer, E., 2012, ‘From caritas to charity: How loving God became giving alms’, in C. Kosso & A. Scott (eds.), Poverty and prosperity in the Middle Ages and the Renaissance, pp. 113–128, Brepols, Turnhout.
Catto, J.I., 1984, ‘Theology and theologians 1220–1320’, in J.I. Catto (ed.), The history of the University of Oxford, Volume I: The early Oxford schools, pp. 471–517, Oxford University Press, Oxford.
Courtenay, W.J., 1987, Schools and scholars in fourteenth-century England, Princeton University Press, Princeton, NJ.
Cross, R., 2002, ‘Absolute time: Peter John Olivi and the Bonaventurean tradition’, Medioevo 27(1), 261–300.
Dipple, G., 1994, ‘Uhtred and the friars: Apostolic poverty and clerical dominion between Fitzralph and Wyclif’, Traditio 49(1), 235–258. https://doi.org/10.1017/S0362152900013040
Doyle, J.P., 2006, ‘Hervaeus Natalis O.P. (d.1323) on intentionality: Its direction, context, and some aftermath’, The modern schoolman 83(1), 85–123. https://doi.org/10.5840/schoolman20068326
Dumont, S.D., 2009, ‘Godfrey of Fontaines and the succession theory of forms at Paris in the early fourteenth century’, in S. Brown, T. Dewender & T. Kobusch (eds.), Philosophical debates at Paris in the earlier fourteenth century, pp. 39–125, Brill, Leiden.
Dyson, R.W. (inl., ed. & vert.), 2009, James of Viterbo: De regimine Christiano: A critical edition and translation, Brill, Leiden.
Esser, K. (ed.), 1978, Opuscula sancti patris Francisci Assisiensis, College of St. Bonaventura, Grottaferrata.
Folger-Fonfara, S., 2008, Das Super-Transzendentale und die Spaltung der Metaphysik: Der Entwurf des Franziskus von Marchia, Brill, Leiden.
Friedman, R.L. & Schabel, C., 2001, ‘Francis of Marchia’s commentary on the Sentences: Question list and state of research’, Mediaeval Studies 63(1), 31–106. https://doi.org/10.1484/J.MS.2.306480
Friedman, R.L. & Schabel, C. (eds.), 2006, Francis of Marchia – Theologian and philosopher: A Franciscan at the University of Paris in the early fourteenth century, Brill, Leiden.
Hoffman, F., 1995, ‘Der Wandel in der Scholastischen Argumentation vom 13 zum 14 Jahrhundert, aufgezeigt an zwei Beispielen: Robert Holcot und William Crathorn’, Miscellanea Medievalia 23(1), 301–322.
Iribarren, I., 2002, ‘The Scotist background in Hervaeus Natalis’s interpretation of Thomism’, Thomist 66(1), 607–627. https://doi.org/10.1353/tho.2002.0040
Iribarren, I., 2005, Durandus of St Pourçain. A Dominican Theologian in the shadow of Aquinas, Oxford University Press, Oxford.
Lowe, E., 2003, The contested theological authority of Thomas Aquinas: The controversies between Hervaeus Natalis and Durandus of St Pourçain, Routledge, New York, NY.
Luscombe, D.E., 2010, ‘Monks and friars’, in R. Pasnau & C. Van Dyke (eds.), The Cambridge history of Medieval philosophy, Volume I, pp. 63–75, Cambridge University Press, Cambridge.
Mäkinen, V., 2011, ‘Poverty’, in H. Lagerlund (ed.), Encyclopedia of Medieval philosophy between 500 and 1500, pp. 1066–1073, Springer, London.
Miethke, J., 1969, Ockhams Weg zur Sozialphilosophie, Walter de Gruyter, Berlin.
Mollat, M., 1986, The poor in the middle ages: An essay in social history, Goldhammer, A. (transl.), Yale University Press, New Haven, CT.
Moorman, J., 1968, A history of the Franciscan Order from its origins to 1517, Sandpiper Books Ltd., Oxford.
Mulchahey, M., 1998, ‘First the bow is bent in study …’: Dominican education before 1350, Brepols, Turnhout.
Pasnau, R. & Shields, C., 2004, The philosophy of Aquinas, Westview Press, Boulder, CO.
Resnick, I.M., 2013, ‘Albert the Great: Biographical introduction’, in I.M. Resnick (ed.), A companion to Albert the Great: Theology, philosophy and the sciences, pp. 1–14, Brill, Leiden.
Robinson, J., 2012, ‘Innocent IV, John XXII, and the Michaelists on corporate poverty’, in C. Kosso & A. Scott (eds.), Poverty and prosperity in the Middle Ages and the Renaissance, pp. 197–224, Brepols, Turnhout.
Schabel, C., 2002, ‘Parisian commentaries from Peter Auriol to Gregory of Rimini and the problem of predestination’, in Evans, G.R. (ed.), Mediaeval Commentaries on the Sentences of Peter Lombard, Volume I, pp. 221–266, Brill, Leiden.
Schofield, P.R., 2012, ‘Approaching poverty in the Medieval countryside, in C. Kosso & A. Scott (eds.), Poverty and prosperity in the middle ages and the Renaissance, pp. 95–112, Brepols, Turnhout.
Slotemaker, J.T. & Witt, J.C., 2016, Robert Holcot, Oxford University Press, Oxford.
Sneider, M.T., 2012, ‘The bonds of charity: Charitable and liturgical obligations in Bolognese testaments’, in C. Kosso & A. Scott (eds.), Poverty and prosperity in the Middle Ages and the Renaissance, pp. 129–142, Brepols, Turnhout.
Steer, G., 2005, ‘Meister Eckharts deutsche reden und predigten in seiner Erfurt Zeit’, in A. Speer & L. Wegener (eds.), Meister Eckhart in Erfurt. Miscellanea Mediaevalia 32, pp. 34–55, Walter de Gruyter, Berlin.
Sturlese, L., 2007, ‘Homo divinus: Der Prokloskommentar Bertholds von Moosbrug und die Probleme der nacheckartschen Zeit’, in L. Sturlese (red.), Homo divinus. Philosophische Projekte in Deutschland zwischen Meister Eckhart und Heinrich Seuse, pp. 137–154, Kohlhammer, Stuttgart.
Teske, R.J., 2006, Studies in the philosophy of William of Auvergne, Marquette University Press, Milwaukee.
Toivanen, J., 2007, ‘Peter Olivi on internal senses’, British Journal for the History of Philosophy 15(3), 427–454. https://doi.org/10.1080/09608780701444865
Toivanen, J., 2013, Perception and the internal senses: Peter of John Olivi on the cognitive functions of the sensitive soul, Brill, Leiden.
Toivanen, J., 2016, ‘Peter Olivi on political power, will, and human agency’, Vivarium 54(1), 22–45. https://doi.org/10.1163/15685349-12341311
Walsh, K., 1981, Richard Fitzralph in Oxford, Avignon and Armagh, Clarendon Press, Oxford.
Wippel, J.F., 2000, ‘Godfrey of Fontaines at the University of Paris in the last quarter of the thirteenth century’, in J.A. Aertsen, K. Emery & A. Speer (eds.), Philosophie und Theologie an der Universität von Paris im letzten Viertel des 13. Jahrhunderts, pp. 359–389, Walter De Gruyter, Berlin.
Wittneben, E.L., 2003, Bonagratia von Bergamo: Franziskanerjurist und Wortführer seines Ordens im Streit mit Papst Johannes XII, Brill, Leiden.
Voetnotas
1. Die ‘Middeleeuse Latynse Weste’ is nie ’n toutologie nie: die ‘Middeleeuse Weste’ moet van die ‘Middeleeuse Ooste’ onderskei word (hoewel eietyds uitdruklik nie geskei word nie; sien Beukes 2020b:2–3) terwyl die ‘Latynse Weste’ onderskei moet word van Middeleeuse kontekste waar die volkstale, en nie Latyn nie, die gangbare spreektale was. Binne die Benediktynse kloosterordes en subordes van die sesde eeu af, die opkomende universiteite vanaf die 12de eeu en die ontwikkelende kloosterongebonde ordes vanaf die 13de eeu, was die gangbare spreektaal wel Latyn – vandaar die digte kwalifikasie ‘Middeleeuse Latynse Weste’. Vir ’n oorsig van intellektuele ontwikkelinge in die ‘Middeleeuse Ooste’ tussen die agtste en 11de eeue, sien Beukes (2018a, 2018b).
2. Die tydperk 410 tot 1464, soos breedvoerig elders beredeneer (Beukes 2020a:I:11–14), word hier gehandhaaf as ’n algemene datering van die Middeleeuse ideëgeskiedenis, bestaande uit ses interne periodes: die post-Romeinse periode (vroeë vyfde tot die middel van die agtste eeue), die Karolingiese periode (middel van die agtste tot die laat negende eeue), die post-Karolingiese periode (laat negende tot die laat 11de eeue), die vroegskolastiese periode (laat 11de tot die vroeë 13de eeue), die hoogskolastiese periode (vroeë 13de tot die middel van die 14de eeue) en die postskolastiese periode. Vir ’n uitgebreide verantwoording van die interne periodisering van die postskolastiese periode as sodanig, sien Beukes (2021a:1–11). Ingevolge dié datering en interne periodisering, sou die eerste drie periodes ook as die ‘vroeë Middeleeue’, die twee skolastiese periodes ook as die ‘sentrale Middeleeue’ en die laaste periode (1349–1464) ook as die ‘latere Middeleeue’ bekend kon staan.
3. Vir ’n omvangryker bespreking van aanvegting op mediëvalisme vanuit die kritiese ingrepe van mediëvalistiek, sien Beukes (2021b:1–6). In hierdie opsig reik die betoog terug na mediëvalistiek as ’n betreklik jong ontwikkeling binne Middeleeuse studies, wat gerig is op die genre-onafhanklike ontleding van post-Middeleeuse interpretasies van die Middeleeue. Mediëvalistiek is dus ‘die kritiese ontleding en heroorweging van na-15de eeuse interpretasies van die Middeleeue, ongeag vorm of genre’ (Beukes 2021b:2).
4. Prominente begyne vanuit die 13de eeu sluit in Hadewijch van Antwerpen (fl.1240; cf. Beukes 2020d:–1–10), Mechtild von Magdeburg (ca.1207–ca.1282, met besondere verwysing na haar Das fließende Licht der Gottheit, 1250; cf. Beukes 2019:1–8) en Mechtild se latere Franse medeganger Marguerite Porete (1250–1310, met besondere verwysing na haar Ou Franse Mirouer des simples âmes anienties [in Latyn vertaal as Speculum simplicium animarum, ca.1302], op grond waarvan Marguerite deur die hoofinkwisiteur van Parys aan kettery skuldig bevind en op 1 Junie 1310 op die brandstapel in Parys tereggestel is; cf. Beukes 2020c:200–225). Die begyne was ‘maatskaplik egter blootgestel: juis omdat die begynse ordes nie onder die toesig van die plaaslike klooster en provinsiale biskop gefunksioneer het nie, kon hulle nie op die soort beskerming aanspraak maak wat geordende nonne en monnike binne die kloosters en abdye geniet het nie. Hulle kenmerkende vrygeestigheid het hulle ook oopgestel vir voortdurende aanklagte van dwaalleer (veral ten opsigte van wat beskou is as ’n antroposentriese teologie en ’n humanistiese mensbeskouing), seksuele immoraliteit (wat sporadies plaasgevind het binne selfdegeslagkonteks, maar binne die begynse ordes allermins algemeen was) en openbare bedelary (wat wel voorgekom het, maar slegs wanneer die plaaslike gemeenskap die betrokke groep begyne versaak het). In 1311, ’n jaar na Marguerite se teregstelling, is die begynse beweging by die Konsilie van Vienne onder leiding van Pous Clemens V (ca.1264–1314, Raymond Bertrand de Got, pous vanaf 1305 tot 1314) finaal veroordeel, en die begynse ordes is daarna formeel verban’ (Beukes 2019:2).
5. Hierdie opmerking kan as ’n kritiese selfkorreksie gelees word: In ’n onlangse inleidingswerk tot Middeleeuse filosofie in Afrikaans (Beukes 2020a [Volume] I: 587, 607, 693; [Volume] II: 855, 857, 869, 885, 906, 940, 993, 1525), is die begrippe mendikaanse ordes, kloosterongebonde ordes en mendikaanse monnike gebruik om na die vier kloosterongebonde ordes van die 13de eeu te verwys, terwyl die begrippe bedelordes, bedelmonnike en bedelnonne gebruik is om na die begynse ordes en begyne te verwys (Beukes 2020a:I: 639–640, 649, 725, 727, 728, 857; II: 923, 971, 1011, 1157, 1202, 1271, 1281). Afgesien daarvan dat die begrip mendikaans skerp Latinisties is en semanties in elk geval steeds met ‘bedelary’ koppel, is met hierdie toepassing nie ’n oorspronklike bydrae gelewer om die Afrikaanse vakregister van die Middeleeue te verruim nie. Wanneer die voorstel in hierdie artikel oorweeg word, naamlik om in stede van mendikaanse ordes, kloosterongebonde ordes en mendikaanse monnike eerder na skoolordes en skoolmonnike te verwys, terwyl geslagsonbepaald bloot na begynse ordes en begyne in stede van bedelordes, bedelmonnike en bedelnonne verwys word, word wel ’n opbouende bydrae gelewer tot die eietydse ontwikkeling en verfyning van die Afrikaanse vakregister (en moontlik in ander tale ook).
6. Vir ’n oorsig oor die stadige opkoms van die studium generale en die universteitswese vanaf die vroeë 12de eeu, sien Beukes (2020a:I:393–398).
7. Dit was in die 14de eeu in Italië nie ongewoon dat individuele boedels per testamentêre lating volledig aan een of meer van die vier ordes bemaak is nie. Dit het vaste eiendom en ander onroerende bates ingesluit wat deur die ordes na goeddunke aangewend kon word, terwyl roerende bates verkoop is en die opbrengs regstreeks diakonaal aan armlastiges en ander sorgbehoewendes gegee is – die ordes het uitdruklik geen munte geneem of in bewaring gehou nie (cf. Sneider 2012:134). Vir die wyse waarop caritas (‘versorgende deernis’) as ’n vyfde-eeuse Augustynse deug deur die loop van die 13de eeu uitgebrei is om in te sluit die ‘gee van aalmoese’ (die verskaffing van niefinansiële en strukturele ondersteuning aan hierdie ordes wat vrywillig ‘heilige armoede’ gekies het), sien Buhrer (2012:113–116).
8. Kloosters en kloosteronderrig het in aanloop tot die 12de eeu ’n wesenlike rol gespeel in die ontwikkeling van die (oorwegend Benediktynse) monnikewese in die Latynse Weste. Die mees invloedryke van hierdie ontwikkelende kloosterordes was, naas die Benediktynse orde (afgekort O.S.B.) self, die Cluniasensiërs, gestig in 910 deur Willem I (875–918), hertog van Aquitaine; die Cistersensiërs (Sacer Ordo Cisterciensis [O.Cist.]), gestig rondom 1110; en die Kartusiërs (Ordo Cartusiensis [O.Cart.]), gestig in 1084 deur Bruno van Keulen (1030–1101). Onder die Benediktynse ordereëls moet hierby ook gevoeg word die Kamaldulesiërs (Ordo Camaldulensium [O.Cam.]), gestig rondom 1012 deur die Italiaanse Benediktyn Romualdus (ca.951 – ca.1027), en die Vallumbrosiërs (Ordo Vallisumbrosa [O.S.B. Vall.]), gestig in 1038 deur die Benediktynse ab Johannes Gualbertus (Giovanni Gualberto, ca.985–1073). Die vier kloosterongebonde ordes van die 13de eeu is in die 17de eeu aangevul deur die Trinitariërs, wat reeds in 1198 gestig is, maar eers in 1609 tot ‘bedelorde’ omvorm is, en die Mersedariërs, oorspronklik in 1218 as ’n ridderorde opgerig, maar in 1690 herskep tot ’n ‘bedelorde’.
9. Die Franciskane het in 1212 in ’n tweede- en derdefase-ontwikkeling vir nonne voorsiening begin maak (Ordo sanctae Clarae; O.S.C., waarna op Nederlandse spoor as Clarisnonne verwys kan word). Die Dominikane het ook mettertyd ruimte geskep vir vroue (mantellate genoem) om as lekenonne tot die orde toe te tree (waaronder Katharina van Siëna, 1347–1380; cf. Beukes 2021c:1–9). Nonne in die Augustyne orde het voldoen aan die ordereëls van Augustinus, soos uiteengesit in Augustinus (354–430) se Epistola ccxi, en vroulike Augustynse kloosters is reeds sedert die einde van die vyfde eeu eenvormig in werking gestel. Die 15de-eeuse meestergeneraal van die Karmeliete, Johannes Soreth (ca.1395–1471), het daarin geslaag om in 1452 ’n orde vir Karmelitiese nonne gestig te kry met sanksie van die pouslike bul Cum nulla. Hoewel dit meer as twee eeue geduur het, het al vier ordes teen die einde van die 15de eeu dus subordes of vleuels vir vroue gehad.
10. Dit sluit ondere andere in Alexander van Hales (ca.1185–1245), die eerste Franciskaanse magister in teologie by die Universiteit van Parys, sy leerling Johannes van Rochelle (ca.1190–1245), die eerste Franciskaan wat ’n baccalaureus in teologie aan die Universiteit van Parys verwerf het, Richard Rufus van Cornwall (fl.1231–1256), die vyfde Franciskaanse dosent in teologie by Oxford, Roger Bacon (1214/20–1292), wat in die vroeë 1250’s by die Franciskaanse orde in Oxford aangesluit het nadat hy reeds bekendheid in Parys as dosent in Aristoteliese natuur-filosofie verwerf het, Bonaventura (1217–1274), wat aanvanlik vanaf 1236 lettere in Parys studeer het, in 1242 tot magister in filosofie gepromoveer het en in 1243 by die Franciskaanse orde in Parys aangesluit het, en die latere Johannes Duns Skotus (ca.1266–1308) en Willem van Ockham (ca.1285–1349). Ander prominente Franciskane uit die laat 13de eeu en eerste helfte van die 14de eeu sluit in Arnaldus van Villanova (1238–1311), Richard van Middleton (ca.1249–1302), Vitalis du Four (ca.1260–1327), Petrus Aureolus (1280–1322), Richard Brinkley (fl.1350–1373), Robert van Halifax (ca.1300–ca.1350) en Landulfus Caracciolus (d.1351). Hendrik van Harclay (ca.1270–1317) het teen 1296 gepromoveer tot magister in lettere by Oxford en het vanaf 1312 tot 1317 as kanselier van die universiteit gedien. Hy was aanvanklik’n sekulêre of ongebonde magister, maar is wel, onder invloed van Skotus se interpretasie van die Franciskaanse posisie oor ’n aantal intellektuele kwessies, in 1297 as priester georden (cf. Beukes 2021e:259–281).
11. Sien Mulchahey (1998:1–35). Vir die wesenlike rol wat die Dominikane in die ontwikkeling van spesifiek die Universiteit van Oxford gespeel het, sien Catto (1984:471–517). Vir ’n kriptiese oorsig oor die ontwikkeling van skooldenke binne sowel studia as universiteite in 14de-eeuse Engeland, sien Courtenay (1987:190–193).
12. Waar Alexander van Hales die Franciskane se eerste skolastiese pleitbesorger was, is Roland van Cremona (ca.1178–1259) as die Dominikane se eerste magister regens in teologie by die Universiteit van Parys in 1229 aangewys deur die filosoof-biskop van Parys, Willem van Auvergne (ca.1180–1249). Auvergne het Hales ook toegelaat om sy leerstoel in teologie te behou na sy formele toetrede tot die Franciskaanse orde, wat beteken het dat beide die Franciskane en die Dominikane vanaf die 1230’s onder Auvergne se bestuur, oor leerstoele in teologie in Parys beskik het (cf. Teske 2006:9–28).
13. Albertus se ander uitstaande student Ulrich von Strassburg (ca.1220–1277; cf. Beukes 2021d:1–4) het beweer dat hy ’n ‘wonderwerk vir sy tyd’ was – en ’n inskrywing op sy grafsteen in die Dominikaanse kerk in Keulen, tot vandag toe nog te besigtig, verwys insgelyks en ietwat oordrewe na Albertus as ‘’n prins onder filosowe, groter as Plato, selfs nie ’n mindere van Salomo in al sy wysheid nie’ (cf. Resnick 2013:1). Voor Aquinas se kanonisering in 1323, was Albertus inderdaad geag sonder gelyke in die Middeleeuse intellektuele geskiedenis te wees.
14. Sien Aertsen (1996:111–128, 2013:611–18); Anzulewicz (2013:325–346); Bonin (2001:15–21); Pasnau & Shields (2004:1–20) en Resnick (2013:1–14). Ander prominente 13de en vroeë 14de eeuse Dominikane, naas Albertus en Aquinas, sluit in Richard Fishacre (ca.1205 – ca.1248), die eerste Dominikaanse magister by Oxford wat sy opleiding uitsluitlik in Engeland ondergaan het, Robert Bacon (d.1248, te onderskei van die Franciskaan Roger Bacon), die eerste Dominikaanse magister by Oxford, Johannes van Parys (of Jean Quidort, ca.1255–1306), ’n kontroversiële Paryse Dominikaan rondom die oorgang na die 14de eeu, Meister Dietrich (ca.1250 – ca.1310), Thomas van Sutton (ca.1250 – ca.1315), wat bekendheid verwerf het vir sy verdediging van die mees prominente Thomistiese leerstellinge by Oxford in die 1290’s, en Hervaeus Natalis (ca.1250–1323), wat in 1318 as meestergeneraal van die Dominikane aangewys is en Aquinas verbete verdedig het teen die Franciskaanse aanslag – maar juis ook teen die aanvegting van Aquinas vanuit Dominikaanse geledere sélf (onder andere deur Jakobus van Metz [fl.1300] en Durandus van St Pourçain [ca.1270–1334]). Aquinas se leer is met sy kanonisering in 1323 in ere herstel, maar die interne skade wat die orde deur die kritiek van figure soos Metz en Durandus aangedoen is, sou blyk onomkeerbaar te wees. Sien Beukes (2021d:1–15), Doyle (2006:85–123); Iribarren (2002:607–627, 2005:1–16) en Lowe (2003:3–10; 57–84).
15. Sien Iribarren (2005:1–16, 163–181, 275–284). Die intense konfrontasie tussen die twee Dominikane Willem Crathorn (fl.1330) en Robert Holcot (ca.1290–1349) in die laat 1330’s, wat indirek tot Crathorn se dood en direk tot Holcot se skorsing by Oxford gelei het, is sprekend van juis hóé broos die orde na Aquinas se veroordeling meer as ses dekades vroeër geword het (cf. Hoffmann 1995:301–322; Slotemaker & Witt 2016:1–12). Hierdie tragiese insident tussen Crathorn en Holcot was ongelukkig nie ’n uitsondering binne Dominikaanse geledere nie. Trouens, meer konflik het vanaf die 1330’s tussen Dominikane onderling voorgekom as tussen Dominikane en die drie ander ordes.
16. Met sy terugkeer na die vermelde studiereis na Straatsburg in 1324, aanvaar Eckhart die pos as hoof van die beroemde studium in Keulen wat in die 1240’s deur Albertus en Aquinas self opgerig is – maar word bykans dadelik deur die aartsbiskop van Keulen formeel van kettery aangekla. Eckhart verwerp alle aanklagte teen hom in ’n regverdigingskrif en teken appèl aan by die pous in Avignon. Hy is diep getraumatiseerd dood voordat die verhoor teen hom afgehandel kon word.
17. Sien Sturlese (2007:137–154; cf. Beukes 2021d:1–15) en Steer (2005:34–40).
18. Die besondere bydrae van die Expositio was dat dit ’n laat Middeleeuse weergawe van Neoplatonisme met ’n unieke bestekopname van kenmerkend Duits Dominikaanse teorieë aangebied het. Deur die leerstellinge van sy Duits Dominikaanse voorgangers in die groter ideëhistoriese landskap van antieke en Middeleeuse Neoplatonisme te kontekstualiseer, het Berthold daarin geslaag om ’n bepaalde kulturele identiteit geloofwaardig aan Albertisme te koppel en die konsoliderende vermoë van die Dominikaanse identiteit uit te wys. Die bykomende bonus van hierdie projek was dat daar vir die eerste keer vanuit die Dominikaanse oord daarin geslaag is om ’n volhoubare alternatief vir die robuuste Aristotelies gedrewe skolastiek in Parys en (tot ’n mindere mate) in Oxford daar te stel (cf. Beukes 2021d:1–15).
19. Gilius se akademiese opgang is egter gestuit deur die Paryse veroordelings van 1277, toe hy, juis op grond van sy hegte verbintenis met Aquinas, op die lys van sensurabele skolastici geplaas is en van sy magistergraad in teologie gestroop is. Hy het tydens die ondersoek geweier om enige van die Thomistiese standpunte terug te trek wat hy tot in daardie stadium in verwerkte en oorspronklike formaat laat dien het. Op grond van sy gevolglike gespanne verhouding met die kerk, is Gilius versoek om as onderwyser te dien vir die teenpouslike prins van Frankryk Phillip IV (le Bel of ‘die skone’, 1268–1314), in daardie stadium ’n seun van ongeveer 10 jaar oud. Gedurende die tydperk as onderwyser aan die koninklike hof het Gilius De regimine principum geskryf, waarin hy die monarg se gesag positief teenoor pouslike gesag opgeweeg het. Gedurende 1285 versoek pous Honorius IV (Giacomo Savelli, ca.1210–1287, pous vanaf 1285 tot 1287) egter dat Gilius se standpunte, wat formeel as kettery deur die Paryse veroordelings van 1277 bevind is, herondersoek behoort te word. Daarvoor roep die nuwe biskop van Rome, Ranulph de la Houblonierre,’n teologiese studiekomitee byeen, wat Gilius na ’n deeglike ondersoek as magister in teologie herstel. Met agt moontlik produktiewe akademiese jare daarmee heen, hervat Gilius sy akademiese loopbaan met onverdrote ywer, tot dié mate dat hy aan die einde van daardie jaar as magister regens van Parys aangewys word, ’n eminente pos wat hy met onderskeiding beklee het tot en met sy aanwysing as prior van die Augustyne in 1292 en as biskop van Bourges in 1295. In uitdruklike ondersteuning van Bonifatius VIII, skryf Gilius De ecclesiastica potestate in 1301, waarmee hy sy lojaliteit aan die pous uitgebreid verantwoord. Op grond van hierdie teks was die Augustyne oorwegend lojaal teenoor die pousdom deur die hele 14de eeu.
20. Jakobus tree tot die orde toe in 1270 en begin sy basisstudie by die orde se studium in Viterbo. In 1275 stuur die Augustyne hom met ’n stipendium na Parys sodat hy daar juis onder sy orde se magister Gilius teologie by die beroemde fakulteit kon studeer. Op grond van daardie studenteverbintenis met Gilius sou Jakobus van Viterbo in die skolastiek bekend word as die tweede noemenswaardige hoogskolastikus uit die Augustynse orde. Hy behaal die baccalaureus in teologie in 1288 en promoveer tot magister in teologie in 1293. Sy nalatenskap was, naas een belangrike werk (De regimine Christiano, geskryf in 1302 [sien Dyson 2009:1–584]; vir ’n inleiding, sien Dyson 2009:xv–xxxiv), ’n viervolume-quodlibet (Disputationes de quodlibet) en ’n tweevolume quaestiones (Quaestiones de divinis praedicamentis).
21. Rimini het self daarna vir meer as ’n dekade as dosent van die orde se studium in Bologna opgetree. Uiteindelik skryf die Augustyne hom in 1341 in vir die magister in teologie in Parys, wat hy teen 1345 behaal het nadat sy lesings oor die Lombardiese Sententiae oorweldigend positief ontvang is. Sien Bermon (2002:267–285) en Schabel (2002:221–266). Vir ’n kort toeganklike bespreking van die inhoud van die Sententiae, sien Beukes (2021e:264–265 [vn.3]).
22. By Gilius, Jakobus van Viterbo en Rimini se skolastiese bydraes tot die ontwikkeling van die Augustynse orde, kan ook gevoeg word Jan van Ruusbroec (1293–1381), die sonderlinge Vlaams-Nederlandse mistikus uit die middel- en latere deel van die 14de eeu en sy kloostergemeenskap by Groenendaal wat onder Augustynse Ordereëls gefunksioneer het (sien Beukes 2020f:1–12).
23. Reeds vanaf sy voorgraadse studiejare het Fontibus ’n verrassende belangstelling getoon in die werke van die twee Averroïste, Sigerius van Brabant (ca.1240-ca.1282) en Boethius van Dacia (fl.1270–1280) wat in 1277 veroordeel is, asook in Aquinas se lesing van Aristoteles wat, soos aangedui, gedeeltelik in 1277 veroordeel is. Van vroeg af het Fontibus dus op gladde ys beweeg. Dit het egter nie verhoed nie dat hy reeds in 1285, na sy promovering, as magister regens van Parys aangewys is en ook daarna, as ’n invloedryke sekulêre magister, teologie by Parys kon bly doseer tot in ongeveer 1304, waarna hy in ’n aantal kerklike posisies gedien het in Parys, Keulen en Rome. Sien Dumont (2009:39–125) en Wippel (2000:359–389).
24. Terrena se oorspronklike werke in teologie bestryk ’n konkordansie van die vier Bybelse evangelies (Concordia evangelica), ’n kommentaar op Gratianus se Decretum, ’n relatief kort apologetiese summa (Summa de haerisbus) en – belangrik vir die onderhawige ondersoek – in sy hoedanigheid as Johannes XXII se adviseur, twee werke oor die Franciskaanse eiendomskwessie, De perfectione vitae en Defensiorum de perfectione vitae (sien die bespreking infra). Terrena studeer teologie onder Fontibus in Parys in die vroeë 1300’s en promoveer tot magister in 1312. Hy was slegs die derde Karmeliet wat tot in daardie stadium tot magister kon vorder. Langs Terrena, die vernaamste verteenwoordiger van die vroeë fase van die ontwikkeling van die Karmelitiese orde, en waarskynlik ook verlangs familie van die vermelde Franciskaanse natuurfilosoof Roger Bacon, was Baconthorpe in die vroeë 1320’s ’n magister in teologie en ook magister regens in Parys. Hy het ’n grondige kommentaar oor die Lombardiese Sententiae, asook drie quodlibeta nagelaat, wat onder die Karmeliete sodanige bekendheid verwerf het dat dit tot vroeg in die moderne era ’n paar keer herdruk sou word. Trouens, teen die 17de eeu was Baconthorpe soveel die ‘amptelike’ verteenwoordiger van die Karmeliete, as wat Gilius en Viterbo dit van die Augustyne, Albertus en Aquinas dit van die Dominikane en Skotus en Ockham dit van die Franciskane was. As ’n dosent in Cambridge en Oxford het Baconthorpe nogeens bekendheid verwerf vir (kenmerkend Karmelities) eklektiese lesings van sowel Aquinas en Skotus, wat meegebring het dat hy die Karmeliete op die polemiese middelgrond tussen die Dominikane en Franciskane geplaas het.
25. In die 13de eeu en selfs nog in die eerste twee dekades van die 14de eeu is oorwegend bloot na monnike vanuit hierdie ordes verwys as ‘broeders’ (fratres) of eenvoudig na die betrokke monnik se ordeverbintenis (byvoorbeeld ‘Bonaventura, die Franciskaan’ of ‘Aquinas, die Dominikaan’; cf. Schofield 2012:104). Waar die begrip mendīcāns wel tot in hierdie stadium gebruik is, was dit nie sonder meer afwysend nie en het dit eenvoudig verwys na die ideaal van die ordes – in besonder die Franciskane – van ‘heilige’ armoede en die teologiese aanvaarbaarheid van die gevolglike aanvaarding – al dan nie – van aalmoese.
26. Sien Folger-Fonfara (2008:1–17) en Friedman en Schabel (2001:31–106), asook Friedman en Schabel se uitstaande redaksiewerk (reds. Friedman & Schabel 2006).
27. Met inbegrip van talle tegniese kerkregtelike oorwegings in die pous se standpunt, kan die beeld van ’n ‘kombuisemmer’ gebruik word om Johannes XXII se kerkregtelike uitgangspunt toeganklik te stel (cf. Robinson 2012:201): Ook al gebruik ’n Franciskaan ’n kombuisemmer slegs vir die doel waarvoor dit bestem is, sonder om dit te besit en sonder die opset om dit in die toekoms te besit, behoort daardie emmer, terwyl dit deur die Franciskaan gebruik word, steeds aan ‘iemand’. Daardie ‘iemand’ sou die oorspronklike skenker of aalmoesgewer van die emmer moes wees. Indien daardie skenker nog leef, vestig eiendomsreg van die emmer in sy of haar ius of reg, ingeslote eiendomsreg. Indien hy of sy nie meer leef nie en geen testamentêre bepaling in dié verband gelaat het nie, kan daardie ‘iemand’ slegs die pouslike kuratorskap self wees – aangesien die Franciskane sélf die emmer op grond van hulle eie ordereëls nie as eiendom ‘in besit’ mag neem met enige ander oogmerk as om dit slegs voorlopig te gebruik nie. Mutatis mutandis geld ook vir die boedels van toetredende leerlinge tot die orde: ook al gebruik die Franciskane die leerling se skenking van sy persoonlike boedel (gedurende die twee jaar voor die suksesvolle inlywing tot die orde) slegs voorlopig vir ordo habeat usum, behoort daardie boedel aan ‘iemand’. Daardie ‘iemand’ kan nie die aanvanklike skenker wees nie, aangesien die aanvanklike skenker nou ’n (potensiële) Franciskaan is, wat eiendomsregtelik op grond van sy vrywillige toetrede tot die orde nie langer ‘iemand’ is nie. Indien die skenker voor die verstryking van sy leerlingskap van twee jaar uit die orde sou tree, word die skenking (dus die oorspronklike boedel) aan hom teruggegee vanuit die pouslike kuratorskap. Indien die skenker na die twee jaar van internskap permanent tot die orde toetree, is daar geen ander ‘iemand’ om daardie boedel regtens ‘in besit te neem’ as die pouslike kuratorskap self nie. Die Franciskane se regsposisie was, daarteenoor, dat die saak wat in vruggebruik gehou word, slegs oorgedra kan word na opvolgende vruggebruikers en per definisie nie besit kán word nie – in hierdie geval dus nie deur die orde óf die pous self nie. Daarom moes die boedels van toetredende leerlinge, hetsy tydelik of uiteindelik permanent, binne die orde bly. Die ‘emmer’ word dus vanaf Franciskaan tot Franciskaan aangegee en in geen stadium ‘besit’ nie, totdat daar geen ‘emmer’ – hetsy vanweë verweer, skade of verbruik – meer oor is nie.
28. Die wesenlike van die Franciskane se ideaal van korporatiewe armoede kan gevind word in twee passasies in Franciskus se Regula bullata (6.1–2) en Testamentum (24): ‘Die broeders mag niks besit nie: nie ’n huis of ’n plek nie, kortliks, niks nie – eerder behoort hulle uit te gaan en vir aalmoese te vra as vreemdelinge en gaste in die wêreld, in armoede en nederigheid op die spoor van die Heer’; ‘[Die broeders] mag geen eiendom ontvang met die oogmerk om dit te besit nie, nie van die kerk of van elders nie, tensy die eiendom in diens van heilige armoede staan, en ook dan bly die broeders daar as pelgrims en gaste’ (Franciskus in red. Esser 1978:231, 312).
29. In 1230, kort na Franciskus se dood, het pous Gregorius IX (Ugolino di Conti, ca.1170–1241, pous vanaf 1227 tot 1241) Franciskus se bedoeling in Testamentum (24) bevestig deur per bul Quo elongati te verklaar dat hoewel die Testamentum geen regsgeldige aanspraak kon rig ten opsigte van die orde se posisie rondom individuele of kollektiewe eiendomsreg nie, die orde niks in besit mag hou buiten boeke, skryfbehoeftes en ander roerende bates wat vir akademiese werk gebruik sou kon word nie. Gregorius IX se bul is 15 jaar later deur pous Innocentius IV (ca.1195–1254, Sinibaldo Fleschi, pous vanaf 1243 tot 1254) per bul Ordinem vestrum bevestig. Bonaventura se onderskeid tussen usus en dominium het dus dubbele pouslike sanksie geniet: beide Gregorius IX en Innocentius IV het uitdruklik ruimte geskep vir usus, minstens met die oog op die voortsetting van akademiese werksaamhede. Innocentius IV het wel Gregorius IX se Quo elongati met sy Ordinem vestrum genuanseer deur by te voeg dat wat die orde ook al gebruik deur dit in besit te hou (sonder om dit dus eiendomsregtelik te besit) op geen wyse vervreem mag word nie. Die ius, proprietas, et dominium behoort aan die oorspronklike skenker en indien die skenker geen testamentêre bepaling in dié verband nagelaat het nie, val die ius, proprietas, et dominium die kerk per pouslike kuratorskap toe (cf. Brooke 1959:250–251; Moorman 1968:117; Robinson 2012:199).
30. Die hoogs oorspronklike Franciskaan Petrus Olivius (ca.1248–1298), wat met ’n stipendium vanaf 1267 tot 1272 onder Bonaventura in Parys studeer het, het insgelyks betoog dat die gebruik van lewensmiddele noodsaaklik is sonder om aanspraak op enige saaklike reg, veral eiendomsreg, te hoef maak – maar selfs sonder om formeel terug te reik na die meer soepel juridiese begrip usus. In hierdie opsig skei Olivius weë met Bonaventura se nuansering van usus as ‘verantwoorde en nie-uitbuitende gebruik’. Ockham sou Bonaventura se onderskeid drie dekades later in sy konfrontasie met Johannes XXII wel onverkort handhaaf. Sien Adriaenssen (2011:324–352, 2014:67–97), Cross (2002:261–300) en Toivanen (2007:427–454, 2013:1–38, 2016:22–45).
31. In 1324 publiseer Johannes XXII die bul Quia quorandum mentes waarin hy aanvoer dat die onderskeid wat Franciskane tref tussen usus en dominium nie regsgeldig of prakties uitvoerbaar is nie. Aangesien die Franciskane dit duidelik gemaak het dat die orde geen individuele of kollektiewe eiendomsreg toelaat nie, val enige saaklike reg waarop die orde wel aanspraak maak (insluitende eiendom wat vir vruggebruik geoormerk is en dus slegs ‘in besit gehou word ter wille van verantwoorde gebruik’) die pouslike kuratorskap toe (cf. Miethke 1969:502–516).
32. Ockham se argument was eenvoudig dat beide Nikolaus III en Johannes XXII die pouslike bulle Quo elongati van 1230 en Ordinem vestrum van 1245 verontagsaam het en hulle daarmee in die ongelyk met die kerkregtelike beginsel van die gesag van pouslike presedensie gebring het (dit is, die gesag van voorafgaande uitsprake oor ’n bepaalde aangeleentheid per pouslike bul; in die wêreldse reg rakende die gesag van presedensie staan dit insgelyks as stare decisis bekend).
|