About the Author(s)


Piet J. Strauss Email symbol
Department of Church History and Polity, Faculty of Theology, University of the Free State, Bloemfontein, South Africa

Citation


Strauss, P.J., 2020, ‘Ouderling en Oud-Ouderling Sarel Cilliers’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 76(1), a5922. https://doi.org/10.4102/hts.v76i1.5922

Original Research

Ouderling en Oud-Ouderling Sarel Cilliers

Piet J. Strauss

Received: 13 Dec. 2019; Accepted: 10 Mar. 2020; Published: 30 July 2020

Copyright: © 2020. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstract

Sarel Cilliers as an elder or former elder in church: The well-known Voortrekker Sarel Cilliers was in the first place not recognised as a military or cultural leader, but a spiritual leader and respected elder in church. Apart from his emotional approach to the affairs of the Dutch Reformed Church of which he was a member in a congregation, Cilliers was a reformed member who strifed to obey the Bible, the Reformed confessions of faith and the so-called law of his church. Cilliers was chosen to take the lead when the Voortrekkers made a covenant with God before the Battle of Bloodriver in Natal on 16 December 1838. This covenant was initiated by the then leader of the Trekkers, Andries Pretorius. Cilliers did his work as an elder truthfully and with enthusiasm. He was strict and truthfull in his visits to church members and represented his congregation on major assemblies. In these assemblies fellow church members treated him with respect. Cilliers was an elder in a church which had to be settled in the interior of South Africa, often under abnormal circumstances. He sometimes had to do tasks of the minister of the congregation as well. Sarel Cilliers became known as a special elder in church.

Contribution: This article gives an insight in the view and practice of the office of the elder in the Dutch Reformed Church in pioneer circumstances in the 19th century. It opens an assessment of this office for implementation in recent times. Apart from that the article sheds light on truthful understanding of the vow of Afrikaners at Blood River in 1838. This matter remains a point of discussion in recent times.

Keywords: Cilliers spiritual leader for his people; Cilliers supported Pretorius in idea of a vow; leader in taking the vow of 1838; elder and former elder; committed to Dutch Reformed Church.

Inleidend: Cilliers ‘n geestelike leier onder sy mense?

In sy beskrywing van Sarel Cilliers as die vader van Dingaansdag (die dag word in 1952 deur ‘n Suid-Afrikaanse wet ‘Geloftedag’1 en na 1994 ‘Versoeningsdag’, Strauss 2001:814,828; Bingle & Gaum 2008:369–371), ‘n boek wat in 1919 gepubliseer en in 1925 herdruk word, maak G.B.A. Gerdener die stelling dat Sarel Cilliers die profeet van die Groot Trek was (Gerdener 1925:3-4).

Gerdener tipeer Piet Retief omrede die Dingaangeorkesteerde moord op hom en sy geselskap op 06 Februarie 1838 (Venter 2008:929) as die groot martelaar, Andries Pretorius vanweë die feit dat hy die Boereleier by Bloedrivier op 16 Desember 1838 was as die groot krygsman en Cilliers as die geestelik-godsdienstige profeet van die Groot Trek (Gerdener 1925:11). Natuurlik sou mens met Gerdener kon verskil, maar dat Cilliers se grootste bydrae tot die uittog die geestelike versorging van die mense op trek en in hulle vestiging in die binneland van Suid-Afrika was, kan getoon word. Immers, die Joernaal en gedrukte menings van Cilliers oor kerklike- en geloofskwessies wat as aanhangsels in Gerdener 1919 en 1925 bygevoeg is (Gerdener 1925:112–166), getuig reeds daarvan. Gebaseer op sy verhaal as ‘n ouderling of oud-ouderling, as ‘n aktiewe of ‘rustende’ ampsdraer in Ned. Geref. gemeentes, was Cilliers ‘n geestelike leier. So swaar het hierdie Godsroeping op sy gemoed gelê dat hy briewe – en sy Joernaal rondom 1870 – in sy hoedanigheid as ‘n ouderling of oud-ouderling onderteken het (Joernaal van Cilliers opgeneem in Gerdener 1925:12–132 met onderaan 132 oud-ouderling; ouderling/oud-ouderling ook onderaan briewe op 138, 141, 145, 166).

Twee sake wat genoem is, vereis opheldering: die spel van die naam van Cilliers as ‘Sarel’ en die vraag na die – skynbare – ‘amp’ van oud-ouderling.

Dit is opmerklik dat beide G.B.A. Gerdener en P.S. de Jong as biograwe ‘Sarel’ in die titel van hulle boeke gebruik (De Jongh 1987; Gerdener 1925). Behalwe dat die naam ‘Charl’, wat die Franse spelling is, op sy graf op sy plaas Doornkloof tussen Kroonstad en Lindley in die Vrystaat, aangebring is (De Jongh 1987:270), gebruik die Ned. Geref. Kerk Charl Cillliers oos van Johannesburg, wat in 1917 gestig en na Cilliers vernoem is (Gerdener 1925:15; NGK Jaarboek 2016:231), die naam ‘Charl’. Gerdener voer aan dat nie Sarel of sy vader ooit die naam ‘Charl’ vir hom wat Sarel is, gebruik het nie (Gerdener 1925:15). In die doopregister van Ned. Geref. Kerk Paarl waar Sarel Cilliers op 20 September 1801 gedoop word – hy word op 07 September 1801 gebore (De Jong 1981: 86) – staan sy naam as Sarel Arnoldus Cilliers aangeteken (De Jongh 1987:13).

Tot in die 20e eeu kon oud-ouderlinge op gekombineerde kerkraadsvergaderings in die Ned. Geref. Kerk sitting neem en na meerdere vergaderings soos ringe en sinodes afgevaardig word. Cilliers word as oud-ouderling na die eerste Vrystaatse Ned. Geref.-sinode, die Sinode van 1865, vir die Gemeente Kroonstad afgevaardig. Hier word hy op die Sinodale Regskommissie benoem (Ned. Geref. Kerk OVS 1865:1, 4; De Jongh 1987:262; Strauss sa:15). Vir Sarel Cilliers is die amp van ouderling en die naam oud-ouderling simbole van geloofsbestendigheid en geestelike gesag. Dit dra die boodskap om deur God geroep én gestuur te wees. Sarel Cilliers wou juis as ‘n gestuurde van God hierdie werk doen (De Jongh 1987:144, 189, 197, 213).2 Vir hom was dit waarskynlik die belangrikste ‘poste’ wat hy in die lewe kon beklee. Daarby het hierdie benamings aan die uitdra van die Bybelse verlossingsboodskap en lewensoortuigings – vir Cilliers sy lewenstaak – formele stukrag verleen (Strauss sa:16).

Hierdie artikel vra na die praktiese betekenis van Sarel Cilliers as Ned. Geref. Kerkouderling of oud-ouderling. Hoe het hy daaraan gestalte gegee? Wat het hierdie titels vir Cilliers beteken? Hoe het ander daarop gereageer? Die blote feit dat hy hierdie benamings onderaan stukke geplaas het waarin hy aan die woord is, dui op die belangrikheid daarvan vir Cilliers.

Benewens Sarel Cilliers se Joernaal het gedrukte en geskrewe bronne van sy oortuigings en optredes as gekontroleerde primêre bronne, behoue gebly.

Bronne vir en persoon van Sarel Cilliers

Daar is reeds getoon dat Cilliers se Joernaal rondom 1870 ontstaan het. Die oorspronklike teks van die Joernaal bestaan skynbaar nie meer nie. H.J. Hofstede het egter ‘n gedrukte afskrif daarvan in 1876 in sy Geschiedenis van den Oranje-Vrijstaat opgeneem. Volgens hom is die Joernaal op die sterfbed van Cilliers – rondom 1871 – geskryf. W.S. van Rijneveld plaas sy naam onderaan die gedrukte kopie van die Joernaal in Gerdener as ‘n getuie dat dit ‘Een verbatum Copy’ van die oorspronklike dokument is. Of Cilliers die oorspronklike self geskryf of gedikteer het, is nie bekend nie. Wat wel bekend is, is dat hy dit na sy bereiking van 69 jaar in 1870 aangeteken of laat aanteken het (De Jongh 1987:59). Cilliers word op 07 September 1801 naby Klein Drakenstein gebore en sterf op 04 Oktober 1871 op Doornkloof (De Jongh 1981:86–87; Gerdener 1925:15, 103).

Selfs die omstandighede waarin hy sterf, weerspieël iets van die lewenstaak van Cilliers.

Sarel Cilliers was reeds swak en bedlêend en het versoek dat die wysbiduur wat daardie middag by hom aan huis gehou is, nie bid dat hy gespaar bly nie, maar dat die wil van die Here geskied. Op sy versoek word Gesang 20 verse 8 en 9 gesing. Hy sterf met die laaste twee reëls van vers 9: ‘Hoe moeilik ons de weg ook schijn, het eind zal zeker zalig zijn!’

Hierdie verhaal vind sy oorsprong by Cilliers se familie, spesifiek by sy seun Johannes. Omdat daar gevalle uitgewys word waarin Johannes gebeure rondom sy pa onnodig dramatiseer, kan hierdie ook so ‘n geval wees.

Gerdener en ander aanvaar dit egter omdat hierdie verhaal aansluit by die lyne wat geskiedskrywers oor die persoonlike styl en gedrag van Sarel Cilliers trek. Dramaties-gloeiend en tipies van sy verhaalstyl in 1919–1925 voeg Gerderner hieraan toe ‘By die sing van die laaste reël is die laaste asem uit en die gees terug na God wat dit gegee het’ (Gerdener 1925:103; Strauss sa:27).

Gerdener het die Joernaal van Cilliers in Hofstede as ‘n bylaag in sy publikasie van 1919 soos herdruk in 1925, opgeneem. In dié artikel word daar dankbaar van hierdie weergawe gebruik gemaak. Daarby het Gerdener godsdienstige briewe van Cilliers as aanhangels bygevoeg vir verdere navorsing: gekontroleerde, gedrukte weergawes van die oorspronklike (Gerdener 1925:112–166). ‘n Ander brief van Sarel Cilliers as ‘n gerespekteerde én vrymoedige ouderling word onder datum 18 Maart 1854 in sy eie handskrif aan die Vrystaatse volksverteenwoordigers gerig. Hierdie verteenwoordigers moes ‘n grondwet vir die nuwe Republiek van die Oranje-Vrystaat – die Britse Regering het dié Republiek deur sir George Clark op 23 Februarie 1854 in Bloemfontein erken (Giliomee 2014:15) – goedkeur. In die brief wys Cilliers daarop dat ‘de vrese Gods de vondament van de regeringsvorm’ moet wees (brief in Voortrekkermuseum op Doornkloof, afgedruk in Strauss sa:82).

Maar, wie was Sarel Cilliers as ‘n persoon en geestelike leier?

In sy navorsing oor die Groot Trek kom Venter tot die slotsom dat Sarel Cilliers in die Groot Trek nie ‘n ‘erkende Voortrekkerleier’ was nie, maar tog ‘n prominente rol gespeel het: by die Slag van Vegkop in Oktober 1836; by die aflegging van die Gelofte voor die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838; en in die kerksake van die Voortrekkers. Hy noem Cilliers ‘kort en stewig’, ‘wel ter tale’ en iemand wat ‘geredelik respek afgedwing’ het (Venter 1985:25). De Jong sê dat Cilliers soms by groot Trekkerbyeenkomste voorgegaan het, maar ‘in eie omgewing deurgaans’. Hy haal De Klerk aan as hy Cilliers beskryf as van ‘korte postuur en breed aangeleg, ’n lewendige, aan opwinding onderhewige man, veral op kerkelik disputeerterrein … op sijn manier ‘n welsprekende man … van besonder vrome geaardheid’ wat nooit ‘n verkeerde woord mog hoor nie of hy sou dit teengaan (De Jongh 1987:70,80). Vir Cilliers was die genadeverbond van die God van hemel en aarde, soos hy die Here ook genoem het,3 met die mens lewensomvattend. Cilliers het selfs vir sy perde gebid omdat hy in die Nederlandse Statevertaling wat deur die Trekkers gebruik is, gelees het: ‘De rechtvaardige kent het leven van zijn beest’. In sy gebondenheid aan ‘n Christelike leefwyse was hy emosioneel, wetties en onbuigbaar (Gerdener 1925:106). Gerdener praat van ‘n ‘styfhoofdigheid’ of beterweterige kilheid oor geloofsake wat soms by Cilliers deurgeslaan het (Gerdener 1925:50). So moes hy eenvoudig met Trekkerleier A.H. Potgieter oor sy saligheid praat omdat Potgieter Natal na die vernederende Slag van Italeni in April 1838 verlaat en die gevolge van sy Christelike geloof anders as Cilliers beleef het. Tot op daardie stadium het die Cilliers’s met oortuiging geassosieer met die Dopperse4 Potgietertrek (Kruger 1961:13–14). Hy wou Potgieter egter nie nou volg met sy terugtrek na die Vrystaat en die Wes-Overvaalse nie (De Jongh 1987:144). Die Britse Kommissaris in Natal in die 1840’s, Henry Cloete, word nie deur Cilliers oorgeslaan met huisbesoek nie. Cilliers moes eenvoudig uit sy eie mond hoor waar hierdie kommissaris met die Here staan. Al was die amptenaar ‘n ingeskrewe belydende lidmaat van die Ned. Geref. Kerk Pietermaritzburg (De Jongh 1987:213–214)!

Opsommerderwys oordeel De Jong dat Sarel Cilliers sy geestelike of kerklike werksaamhede met toewyding en liefde verrig het. Hy noem hom ‘n Calvinis en getroue lidmaat van Ned. Geref.-gemeentes wat streng, ordelik en beslissend kon optree. Sy liefde vir geloofswerk het oënskynlik onoorbrugbare klowe by geleentheid oorbrug. Cilliers het dikwels ook die werk van die predikant gedoen en moontlik heimlik gehoop om die dominee van hierdie mense te word (De Jongh 1987:80; vgl Gerdener 1934:9). Spoelstra sluit hierby aan as hy Cilliers een van die bekende ouderlinge van die Groot Trek noem. Die ouderlinge moes, in die afwesigheid van ‘n predikant, die werk van die dominee ook doen. So het hulle op die Groot Trek die ‘groote beteekenis het presbyterambt’ onderstreep (Spoelstra 1915:25).

Volgens Cilliers self het hy in sy 10e jaar bewus geword van ‘n geestelike verandering in hom en sy toekeer (bekering) tot God. ‘Mijn ziel bewilligde met Hem in verbond te gaan’. Ongeveer 2 jaar later het hy voor mense vir die Here begin ‘uit te komen’ (Gerdener 1925:20).

Die vraag wat teen hierdie agtergrond ontstaan, is: watter profiel het die ouderlingskap en die kerklike erkenning as ‘n oud-ouderling aan Cilliers verleen? Die bekende dr. Andrew Murray, destyds predikant van die Ned. Geref. Kerk Bloemfontein, wat Sarel Cilliers goed leer ken het, stel dit so ‘Onder de vele vrome ouderlingen, uitstekende mannen, die ik gekend heb, staat hij bovenaan’ (Gerdener 1925:102).

Die eerste Kerkraad op die trekpad

Die reëlings vir kerk en godsdiens by die Potgieter- en Maritztrekke sou in Februarie 1937, in hulle deurtog deur die sentrale Vrystaat, vaster vorme aanneem. Dit kom deur die instelling van die eerste kerkraad vir die Trekkers. Hierdie reëling kom op 08 Februarie 1837 deur ‘n openbare volksvergadering en in die afwesigheid van Erasmus Smit. Smit is ‘n vroeëre sendeling van Colesberg en die Londonse Sendinggenootskap en nie ‘n ‘geordende’ dominee of – in Ned. Geref. Kerkterme – ‘n erkende, volledig opgeleide predikant nie. As ‘n swaer van trekleier Gerrit Maritz neem hy op daardie stadium leiding in kerklike sake. By die volksvergadering word Stephanus Maritz as ‘n ouderling en Sarel Cilliers en C. Viljoen as diakens verkies (De Jongh 1987:106).

Twee sake met ‘n beslissende impak op die kerk op die trekpad, blyk uit hierdie volksvergadering.

In die eerste plek is daar nie ‘n kerklik-erkende (deur die Ned. Geref. Kerk as die kerk waaraan hulle behoort, vgl.Strauss 2011:264–277) predikant vir die emigrante nie. ‘n Amp waaraan hulle as lewende lidmate afkomstig uit Ned. Geref.-gemeentes in die Kaapkolonie, ‘n duidelike behoefte het. In sy verslag aan die Ring rapporteer die Gemeente Uitenhage in 1839 so oor die emigrante: ‘vele van hun waren onder de trouwste Kerk en Avondmaalgangers te bevinden’ (Van der Watt 1977:15). Reeds in Desember 1836 loop daar ‘n versoekskrif onder die Trekkers om die Wesleyaanse James Archbell wat sending onder die Barolong by Thaba Nchu doen, as predikant te kry. Vanweë sy nie-erkende kerklike bevoegdheid beskou verskeie Trekkers waaronder Sarel Cillers, vir Erasmus Smit en dus waarskynlik vir Archbell, egter as sendelinge en nie ampsgeskikte dominees of proponente nie (De Jongh 1987:106). Hierdie houding toon dat die Trekkers hulle steeds as lidmate van gemeentes van die Ned. Geref. Kerk in Suid-Afrika (Kolonie) beskou – hulle is lidmate van gemeentes wat, soos die trekboere in die Kolonie met hulle vee, slegs in ‘n proses is om van woonplek verander – én hulle aan die gebruike en Kerkwet (die destydse naam vir die Kaapse Kerkorde) van hierdie kerk hou (De Jongh 1987:106; Strauss 2011:270–276).

Op 21 Mei 1837 word Smit, op inisiatief van goewerneur Piet Retief as die Voortrekkerweergawe van ‘n staatsaangewysde kommissaris-politiek, tog as die predikant van die ‘reizende kerk’ – deur Suidoos-Afrika – bevestig. In sy dagboek praat Smit ook van die kerk as die ‘Nederduitse Gereformeerde Kerk’ (Preller 1920:154,159) of ‘Christelike gereformeerde Nederduitse Kerk’ (Preller 1920:107). Daarmee maak hy as ‘n eerstehandse oor- en ooggetuie ‘n saak daarvoor uit dat die kerk waaraan Sarel Cilliers behoort die Ned. Geref. Kerk is. Die begrippe ‘Nederduits’ en ‘gereformeerd’ speel by hom ‘n rol in die naam wat hy aan die kerk heg. Behalwe dat Cilliers deel is van die kommunikasie waarin Smit na hierdie kerk verwys, is hy ‘n ouderling van, so word die gemeente genoem, die Ned. Geref. Kerk Pietermaritzburg wat die Aktuarius van die Kaapse Sinode, dr. Abraham Faure, in 1843 ontvang. Faure praat in sy verslag aan die Kaapse Regering wat die besoek finansier, van die ‘Dutch Reformed Church’ in Natal. ‘n Kerk wat volgens hom bestaan uit wetsgehoorsame emigrante en nie anti-Britse rebelle nie (Dreyer 1929:3, 4, 45, 59–60).

In die tweede plek neem die volksvergadering van 08 Februarie 1937 hierdie besluite oor ‘n gemeente terwyl hulle ‘n volks- en nie ‘n gemeentevergadering is nie. Dit kan omdat die moontlike lidmate van so ‘n gemeente almal uit ‘n Ned. Geref.-gemeente in die Kolonie kom en onder die Kaapse Kerkwet oor lidmaatskap en gemeentevorming, ‘n nuwe gemeente maar ook die burgerlike of staatskant van die Voortrekkermaatskappy vorm. Omdat hierdie vergadering in die situasie twee hoede dra. Met sy een hoed is hy ‘n kerk of gemeente en met die ander ‘n burgerlike maatskappy wat sy reëlings in Junie 1937 net suid van die latere Winburg, op De Houtplaas,5 tref. ‘n Maatskappy wat ook ‘n nuwe Ned. Geref.-gemeente vorm en oor kerk én staat besluit. By hierdie geleentheid word die ‘Vetrivierse’ grondwet van 9 artikels vir die Trekkers op 17 April 1837 aanvaar en elemente van kerk en staat in artikel 1 vermeng. Hierin noem die burgers van die staat hulself ‘Wij de gerefformeerde Ledematen …’ (Preller 1920:300). Hoewel in ‘n buitengewone situasie as ‘n ‘rondreizende’ kerk en sonder die sanksie van ‘n Ned. Geref. Kerk-ring, lê hier spore van ‘n Ned. Geref.-gemeente as ‘n nuwe of bykomende gemeente in die sinodale verband van die Kaapse Ned. Geref. Kerk. Netso noem die gemeentes in die latere Vrystaat en Natal wat enkele jare daarna hieruit kom, hulleself ook Ned. Geref.en skakel hulle in kerkverband ook by die Kaapse Sinode in (Strauss 2011:269–270). Onder hierdie gereformeerdes is die Nederlandse Statevertaling van die Bybel, die Drie Formuliere en Eenheid en die Kaapse Ned. Geref. ‘Kerkwet’, elkeen normatief in sy eie kerklike konteks, die werksdokumente vir die gemeentes.

As ‘n ledevergadering van die Trekkermaatskappy plaas hulle hulself egter ook onder ‘n burger- of volksraad met ‘n goewerneur (Smit 1897:26).

Binne hierdie kerklike reëlings as die konteks waarin Cilliers vir die eerste keer in sy lewe – dit gebeur sedert 08 Februarie 1837 – ‘n amp in ‘n gemeente beklee, sou hy as ‘n ampsdraer voortgaan om in die kerk op die Trekpad (1837–1840, De Jongh 1987:106), die Ned. Geref. Kerk Pietermaritzburg (1840–1847, De Jongh 1987:197, 213), die Ned. Geref. Kerk Winburg (vanaf 1848, De Jongh 1987:227; Gerdener 1925:96) en die Ned. Geref. Kerk Kroonstad (1860–1871, De Jongh 1987:253) as ‘n diaken of ‘n ouderling te dien. Met die stigting van die Ned. Geref. Kerk Kroonstad in 1860, word Sarel Cilliers die leierouderling. By die hoeksteenlegging van die eerste kerk van hierdie gemeente op 23 September 1861, kry hy ‘n spreekbeurt. Sy boodskap is dat die gemeente moet ywer vir ‘liefde en eendragt’ en die vestiging van ‘God geheiligd werk’. In die laaste 30 jaar van sy lewe is Cilliers vir 25 jaar ‘n ouderling. Vanaf 1860 tot 1866 moet Cilliers, by gebrek aan ‘n predikant, preek en katkiseer in die Ned. Geref. Kerk Kroonstad. ‘n Opdrag wat klop met sy lewensideaal.

Benewens genoemde gemeentes is hy as ‘n gesant van die Gemeente Winburg by geleenthede met ‘n adviserende stem by die Kerkraad van Harrismith (De Jongh 1987:253). In sy waardering vir Cilliers as profeet van die Groot Trek, koppel Gerdener hierdie ampswerk aan Cilliers se innerlike gehegtheid ‘aan sy kerk’, sy innige vroomheid en sy roepings- en pligsbesef (Gerdener 1925:94).

Ouderling, geestelike werker en noodpredikant

In sy biografie oor Sarel Cilliers gee Gerdener die motivering van Cilliers waarom hy aan die Groot Trek deelgeneem het. Sonder om sy bron aan te dui, haal Gerdener vir Cilliers direk aan as hy sy trekredes opper (Gerdener 1925:26). Cilliers se redes kom ooreen met die van ander trekkers.

Sarel Cilliers se eerste rede gaan oor ‘n verlies aan grond. Volgens hom het hy en sy mense grond van die Boesmans wettig deur onderhandeling verkry. Van die Griekwas het dit egter op hulle geneem om die Boesmans dood te skiet en ‘bezit van ons eigendom’ te neem. Dit laat Cilliers en sy mense met ‘n verlies. In die tweede plek wys Cilliers op ‘n verkenningskommissie van 10 lede wat die latere Vrystaat tot aan die Vet-, Sand- en Valsrivier verken en geen inwoners daar gevind het nie. ‘n Memorie van 72 Boere wat nie grond besit nie, kon die Kaapse goewerneur egter nie beweeg om hulle besetting en verwerking van hierdie grond moontlik te maak nie. Derdens is Cilliers ontevrede oor die wyse waarop sy slawe vrygestel is. Twee amptelike waardeerders het sy slawe op 2888 riksdaalders getakseer, maar aan hom is slegs 500 riksdaalders uitbetaal (vgl. De Jongh 1987:60–61).6 In sy kommentaar hierop wys Gerdener daarop dat die poging om onbewoonde grond buite die Kolonie te mag besit, langs ‘n konstitusionele weg geloop het, maar deur die Britse goewerneur afgeskiet is (Gerdener 1925:26).

Gerdener self som die redes vir die verhuising van die Boere-emigrante waaronder Cilliers, met twee begrippe op: vryheid en veiligheid. Hierdie mense was op soek na ‘n land waar hulle hulself kon regeer en – beter as tans – kon beveilig. Die situasie in die Noordoos-Kaapkolonie maak dié sake onmoontlik. Soos vir Sarel Cilliers gaan dit vir hulle nie om ‘n anti-Britse of anti-Griekwa of anti-Xhosagevoel nie, maar leefvoorwaardes vir mense wat die vermoë het om hulself demokraties te vestig, te beveilig en te kontinueer. Dit gaan nie om mense wat grond wil verower nie, maar om onbewoonde gebied in die Suid-Afrikaanse binneland deur onderhandeling en erkenning te beset en te besit (Gerdener 1925:16). De Jongh kom tot die gevolgtrekking dat Sarel Cilliers en sy familie by die Potgietertrek aangesluit het omdat Cilliers onder die omstandighede – na ‘n sieleworsteling – tot die oortuiging gekom het dat hy daarmee binne die wil van God handel. Om die ongetemde wildernis in te trek en jou eie sowel as die lewe van jou dierbares op die spel te plaas, vra immers om buitengewone en goeie redes. Te midde van kritiek uit die omliggende Nuwe Hantam het ‘n ontnugterde, ontredderde Sarel Cilliers sy ore en oë vir die negatiwiteit van medekoloniste gesluit en onwrikbaar besluit om die Kolonie permanent te verlaat (De Jongh 1987:67).

In hierdie pioniersomstandighede sou Cilliers – by die afwesigheid van ‘n predikant – dikwels ook die werk van die dominee of die geestelike versorging van sy mense op hom neem. In die Potgieterlaer waarby Cilliers aanvanklik ingeskakel het, het hy op Sondae ‘n hoofstuk uit die Bybel gelees, ‘n preek uit ‘n preekbundel en ‘n gebed uit ‘n gebedeboek. Getuienis van emigrante wil dit hê dat hy ‘n gewilde voorganger by godsdienstige byeemkomste was. Cilliers het ook godsdiens in die laers gehou en sy verstaan van die Skrif aan sy toehoorders oorgedra. De Jongh wys daarop dat Cilliers op Sondae by die Wenkommando op pad na Dingaanstad om Dingaan se mag te breek, voorgegaan het in wat hulle eenvoudig godsdiens genoem het. By hierdie geleenthede het hy egter ook ‘gepreek’ of informele Woordverkondiging gedoen omdat dit nie ‘n formele erediens was nie. Volgens getuienis het almal met ‘ootmoed en toewyding’ aan die byeenkoms deelgeneem.

Cilliers het in hierdie tyd, spesifiek op Sondag 02 en 09 Desember 1838, hoofsaaklik uit die Ou Testament gepreek. Hy het parrallelle tussen Israel en die omringende heidense volke en die Boere-emigrante en die Zoeloes getrek. Die deel van Natal soos deur Retief per traktaat verkry van die Zoeloekoning Dingaan, was vir Cilliers en mede-emigrante die beloofde land. Cilliers se preke uit die Ou Testament en verwysings na geloftes aan die Here, het Andries Pretorius, die leier van die Wenkommando, op die gedagte gebring van ‘n gelofte aan die Here – ‘n belofte wat mense aan God aflê en daarom ‘n gelofte genoem word. Hy sou Cilliers en ander leiers na oorreding van die noodsaaklikheid daarvan oortuig. Die feit dat Sarel Cilliers oor die vraag na ‘n gelofte aan die Here met die oog op ‘n geveg teen die Zoeloes betrek is en later voorgevat het by die aflegging van die Gelofte van 1838, dui op die respek wat hy as ouderling en godsdiensleier by Pretorius en die Wenkommando geniet het (De Jongh 1987:79, 115, 131, 155–164). Boonop het Cilliers tot met sy dood in 1871 nie een jaar oorgeslaan om die Gelofte te herdenk nie. Vir hom was die Gelofte ‘n hoogtepunt in sy lewe en as die kerklik-godsdienstige leier van die Wenkommando (Strauss 2001:822).

Cilliers was aanvanklik nie geesdriftig oor Pretorius se plan nie. Oor die nakoming van hulle beloftes aan die Here deur sy eie mense indien hulle Dingaan verslaan, was hy ‘diep bezwaard’. Die mens bly feilbaar en breek maklik ‘n gelofte. So ‘n houding sal die toorn van God teen die Boere of Afrikanders – soos hulle destyds genoem is (Muller 1969:81) – opwek en Hom tot ‘n groter oordeel oor hulle bring (De Jongh 1987:157).

Tog stem Cilliers eventueel in. Op die aflegging en inhoud van die Gelofte word teruggekom.

Na die Slag van Bloedrivier sou Cilliers in Pietermaritzburg en Winburg-Kroonstad voortgaan met sy herderlike versorging as ouderling of oud-ouderling. Hierdie werk sou die hou van talle godsdienstige byeenkomste, kategese en werk in kerkverband soos in die ring en die sinode, insluit. In feite het Cilliers tot ‘n groot mate – die bediening van die sakramente van die doop en die nagmaal was hiervan uitgesluit – opgetree soos ‘n Dordtse Kerkorde artikel 8-predikant (vir die Dordtse Kerkorde van 1619 kyk Pont 1981:177). ‘n Artikel 8-predikant is ‘n lidmaat wat vanweë sy ‘singuliere’ of buitengewone gawes, sonder opleiding, as ‘n predikant in ‘n Gereformeerde Kerk erken word en die werk van ‘n dominee doen. Paul Kruger was so ‘n predikant in die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika (Pretorius et al., 1937:15–16; Spoelstra 1963:72–77).

Daar is egter geen aanduiding dat Cilliers dieselfde pad in die Ned Geref Kerk geloop het nie. Omdat Cilliers vir Erasmus Smit wat nie ten volle opgelei is nie, nie as dominee van die ‘rondreizende’ gemeente aanvaar het en self nie die pos kon vul nie, is dit ds. A.A. Louw van Fauresmith wat op Cilliers se Doornkloof op 08 Desember 1855 in die teenwoordigheid van die Vrystaatse president Boshof 63 kinders doop omdat hulle en hulle ouers selde deur ‘n predikant – met Sarel Cilliers nie ‘n predikant nie – bedien is (Strauss sa:19)!

As ouderling sou Sarel Cilliers ‘n betekenisvolle rol in die bou van die beloofte Geloftekerk speel. Hyself verskaf die bouplan (Gerdener 1925:73). Die voorbereiding hou die insameling van materiaal en fondse dwarsoor Suid-Afrika in. In 1839 word fondse en materiaal in Kaapstad, Pietermaritzburg, talle distrikte in die Kaapkolonie en ook aan die Rietrivier in die Suid-Vrystaat, ingesamel. Uit sy voormalige woongebied, die Nuwe Hantam by Colesberg, kry Cilliers 1108 riksdaalders. In April 1840 word met die bouwerk aan die kerk in Langmarkstraat, Pietermaritzburg begin. Sarel Cilliers word ook op die boukommissie gekoöpteer. ‘n Jaar later word die kerkie voltooi en in gebruik geneem. Die plankdak wat gedurende reënbuie lek, moet met ‘n grasdak vervang word. ‘n Galery word ook ingebou om in die aanvraag na sitplek te voorsien. Cilliers neem die inisiatief met die uitstuur van ‘n kollektelys. Tot 1843 word daar met tussenposes aan die kerkgebou gewerk (De Jong 1987:193–195).

Cilliers geheg aan sy kerk

Intussen sou die Cilliers’s teen Maart 1839 die Nuwe Hantam besoek om hulle jongste, Dirk Petrus, te laat doop. Hierdie plegtigheid vind op 17 Maart 1839 op Colesberg plaas. Volgens ‘n brief van Cilliers op 08 Augustus 1839 vanaf die Rietrivier (in die Vrystaat vgl Gerdener 1925:73), is hierdie seuntjie op 24 Januarie 1838 aan die voet van die Drakensberge gebore. Sy geboorte was ‘n week voor goewerneur Piet Retief met 72 Trekkers en 30 agterryers op hulle noodlottige tog na Dingaan vertrek. Dit was ook drie weke voor die wrede Zoeloemoorde op meer as 400 niksvermoedende Trekkers en hulle werkers op 16–17 Februarie 1838 by Moordspruit, die Bloukrans- en Boesmansriviere en Weenen (De Jong 1987:132–138; Gerdener 1925:136).

Die feit dat Sarel Cilliers Dirk Petrus meer as ‘n jaar na sy geboorte eers op Colesberg laat doop, dui daarop dat hy die bediening van die sakramente deur die ongeordende Erasmus Smit omseil (De Jongh 1977:171).

So sterk het hy daaroor gevoel dat hy Dirk Petrus die voorreg van die sakrament vir ‘n abnormale lang tyd – in gereformeerd terme – ontsê het.7 Cilliers se Elisabeth Catharina wat op 03 November 1839 gebore word, word direk na Smit se emeritaat ook eers op 13 Februarie 1841 deur die kerklik-erkende opvolger van Smit, ds. Daniel Lindley (De Jongh 1977:170), gedoop (De Jongh 1987:202). Op aandrang van Sarel Cilliers kry Smit nooit die geleentheid om in die Geloftekerk te preek of as ouderling van die gemeente na sy aftrede verkies te word nie (De Jongh 1987:201). Hiernaas sien Cilliers en Smit oor hulle onderlinge verskille oor godsdienstige sake soos die betekenis van die gereformeerde belydenisskrifte en kerklike vereistes vir ‘n predikant, nie oog om oog nie. In die laaste fase van sy lewe is Smit ‘n patetiese, byna vergete figuur wat sy dae in Pietermaritzburg in eensaamheid slyt. Boonop word hy van die misbruik van drank verdink omdat hy soms onder die invloed voorkom (De Jongh 1977:183). Al is hy en Sarel Cilliers die enigstes wat direk na Bloedrivier met die herdenking van Gelofte volhard, is hy met sy botsende, negatiewe geaardheid nie geliefd by mense nie. Boonop benader Cilliers vir Smit met ‘n nydigheid wat versoening tussen hulle onmoontlik maak. Smit en Cilliers herdenk die Gelofte jaarliks, elk met sy eie fees en handjievol feesgangers, op twee plekke in Pietermaritzburg. Verbind aan die geaardheid van Smit én sy omstrede bevestiging by die Vetrivier in Mei 1837 as die ‘wettige’ predikant van die Voortrekkerlaers, sou die weerstand teen hom toeneem (De Jongh 1987:113, 131, 201, 215).

Naas sy amp as diaken en ouderling, sou Sarel Cilliers as ‘n oud-ouderling of geestelike versorger in die ‘reizende’ gemeente 1839 en in die gemeentes van Pietermaritzburg, Winburg en Kroonstad tot met sy dood in 1871, as ‘n lojale lidmaat ook op meerdere vergaderings soos ringe en sinodes dien. Vergaderings wat sy waarde besef en hom daarvolgens in die werk steek. In hierdie proses sou sy benadering van ‘n gehegtheid aan Skrif en belydenis én kerklike standpunte en reëlings, duidelik blyk. Kennis van die Kaapse Kerkwet en kerklike ervaring besorg aan Cilliers ekstra verantwoordelikhede by die eerste Vrystaatse Sinode van die Ned. Geref. Kerk in 1865. Hier word hy saam met 3 predikante en 2 ander ouderlinge op die Sinodale Regskommissie van die vergadering benoem (NGK in die OVS 1865–1912:4).

Cilliers verteenwoordig sy gemeentes ook op ringe. Daarby neem hy namens Kroonstad by die Kaapse Ned. Geref. Sinode van 1862 en die eerste Vrystaatse Ned. Geref. Sinode van 1865, sitting.

Die Kaapse Sinode van 1862 word vir Cilliers ‘n intense ervaring. Die ouderling van Kroonstad sou saam met ‘n aantal dominees en ouderlinge via Durban per skip langs die Suid-Afrikanse kus afvaar om by die Sinode in Kaapstad te kom. Op die dag waarop die Sinode begin, 14 Oktober 1862, word die nuus egter rugbaar: die Waldensian het omstreeks 23:00 die vorige aand naby Struisbaai in die omgewing van Kaap Agulhas op ‘n rif geloop en teen 06:00 in twee gebreek. Alle passasiers en bemanningslede kon met die twee beskikbare bootjies aan land gebring word. Sarel Cilliers en ds. Gilles van de Wall van Bloemfontein het tot ‘byna’ die laaste gewag, want het Cilliers gesê, ‘laat ons, wat bereid is om te sterwe, tog wag tot die laaste, sodat diegene wat nie bereid is nie, gered kan word.’ Met ander woorde, soos Cilliers dit op sy manier ook kon uitdruk, ‘ons saak met die Here is reg, ons kan maar verdrink …’ Soos na die Slag van Bloedrivier, bedank Cilliers en sy geesgenote die Here na die breuk ‘vuriglik’ op die strand vir redding. Die skipbreuk volg op ‘n droom van Cilliers waarin hy die skipbreuk sien – ‘n verskynsel wat Sarel Cilliers dikwels beleef (De Jongh 1987:256–258; Gerdener 1925:97–99).

As ‘n emosionele gelowige het Cilliers aanvanklik nie deelgeneem aan die debatte op die Sinode van 1862 nie. Die ‘opwekking’ van mense om te glo – ‘n emosionele aanpak – laat hom wel op die 8e dag van die sitting vertel van soortgelyke gevalle in Kroonstad. Voorvalle wat by hom aanklank gevind het (Gerdener 1925:99). Intussen verkry die liberale ds. J.J. Kotze van Darling ‘n bevel by die Kaapse Hooggeregshof dat die afgevaardigdes van gemeentes buite die Kolonie, volgens Ordonansie 07 van 1843, nie sittingsreg op die sinode het nie. Ook Sarel Cilliers wat deur ‘n skipbreuk is en die eerste 6 dae van die sinode gemis het, moet die vergadering verlaat. Die afgevaardigdes van buite die Kolonie word deur die liberales – op dié punt nie sonder grond nie – daarvan verdink dat hulle anti-liberaal is en die stemkrag van die regsinniges op die sinode versterk. Die liberales is so gedrewe ten opsigte van hulle standpunt dat hulle die Hooggeregshof beweeg om hulle opponente in hierdie kerklike saak te knou (De Jongh 1987:260; Gerdener 1925:99–100; Van der Watt 1973:104).

Sarel Cilliers sou as ‘n gereformeerde ouderling op sy tipies persoonlike manier skerp reageer. Vroeër, in Februarie 1859, toon hy in ‘n brief dieselfde soort kritiek teen die afskeiding van die Gereformeerde Kerk of Doppers vanaf die Ned Hervormde Kerk in Transvaal. Hy noem hierdie skuif ‘n slinkse set van die duiwel en die wat daaraan meedoen, vals en ongered.

Cilliers plaas die Doppergelowiges dus in dieselfde kraal as die Kaapse liberales. Hy gebruik ook die taal wat hy besig teenoor mense wat oor kerklik-godsdienstige sake van hom verskil (De Jongh 1987:256).

Vir Cilliers is die liberales in 1862 ‘n openbaring van ‘de ware antichrist’: volgens hom ontken hulle (1) die godheid van Christus en sy wonders, (2) sy opstanding, (3) die krag van die Heilige Gees (4) en die moontlikheid dat engele met profete praat. Hulle verwerp (5) God-Drieënig, maar erken die bestaan van een goddellike persoon. Hulle beweer (6) dat God te besig is om ons te help sodat mense mekaar moet help. Hulle glo (7) sonde was noodsaaklik, (8) dat die Bybel nie die Woord van God is nie, maar dat sy Woord in die Bybel is en (9) dat wedergeboorte en vernuwing deur die Gees nie bestaan nie. Cilliers noem die liberales ‘een pest in de Synode’. Vir hom is hierdie stryd – omdat naakte ongeloof sy kop uitsteek – ‘n botsing tussen ‘rectzinnige’ en ‘valse leden’. Die hof wys die gebruik van die Kaapse Sinode om afgevaardigdes van buite die Kolonie te aanvaar af, maar vroeër verwerp die Sinode ‘n voorstel van ouderling H.H. Loedolff van die Gemeente Swartland wat in dieselfde rigting as die hof loop. Die uitspraak van die hof bind egter die Sinode en die Ned. Geref. Kerk.

Cilliers reageer dus afwysend styfhoofdig – à la Gerdener – op die liberales met geen onsekerheid oor sy Skrifgegronde geloofsbelydenis nie.

Die optrede van die liberales waaronder drie predikante, is ‘n skok vir die ouderling van Kroonstad. Tog toon hy as ‘n nie-teoloog ‘n skerp insig in die problematiek voor die Sinode. As gemeentelid word hy ontnugter deur die inhoud en aanpak van die saak deur liberale kerkmense. Sover dit hom aangaan, is geloof in God-Drieënig hiermee op die spel. Boonop vermaan die Skrif die gelowiges om mekaar nie voor die burgerlike hof te daag nie (De Jongh 1987:259–260).

Vir die terugtog vanaf die Sinode van 1862 kan Sarel Cilliers en ‘n mede-afgevaardigde saam net een perd bekostig. Hulle maak beurte om die meer as 1200 kilometer na Kroonstad te voet of te perd af te lê. Iewers in die Karoo herdenk hulle die Gelofte van 1838 … (Strauss sa:17–18).

Cilliers is betrokke by voorafreëlings om die eerste Vrystaatse Sinode van die Ned. Geref. Kerk in Mei 1865 in Bloemfontein te hou. Hy woon hierdie vergadering as ‘n oud-ouderling van Kroonstad by. By die vierde sitting word Cilliers versoek om die Kaapse Sendingsekretaris, ds. C. Murray, met sy reis na die Soutpansberg tot op Kroonstad te vergesél. Die versoek kom as gevolg van ‘n besorgdheid oor ds. Murray se veiligheid en sy bekendheid met oud-ouderling Cilliers (NGK in die OVS 1865–1912:2, 10).

Geestelike en volksleier

Sarel Cilliers ag hom as ‘n ouderling of oud-ouderling van hart uit gebonde aan die Woord van God, die Drie Formuliere van Eenheid en die besluite en gebruike van Ned. Geref. Kerkvergaderings. Dit blyk uit sy aanpak van ampswerk in gemeentes en sy insette in kerkverband: in rings- en sinodale verband. Naas sy bydraes in ringe, handhaaf hy op beide die Kaapse Sinode van 1862 en die Vrystaatse Sinode van 1865 op die agtergrond ‘n voelbare en gerespekteerde teenwoordigheid.

In die woorde van C. Spoelstra is Sarel Cilliers met sy amps- of geestelike werk in gemeentes en breër, ‘n persoon wat die ‘groote beteekenis het presbyterambt’ [ouderlingsamp] onderstreep (Spoelstra 1915:25). Tog opereer Cilliers die geestelike leier ook as ‘n volksleier in sy gemeenskap. Sy leierskap blyk uit sy insette by aksies waarby Christen-Afrikaners betrokke is. Hy word ‘n veelsydige leier in sy omgewing. Alle Trekkers is erkende gelowiges en lidmate van die Ned. Geref. Kerk en word as geskik beskou om die Gelofte van 1838 teenoor die ‘God van hemel en aarde’ (Cilliers in Gerdener 1925:67–68) af te lê. Maar alle Trekkers is ook burgers van die Gemenebest aan Port Natal of Republiek Natalia wat in Mei-Junie 1838 – daardie donker jaar – ontstaan en deur ‘n verkose Volksraad van 24 Representanten van het Volk regeer word (Van Schoor & Van Rooyen 1960:59). ‘n Raad aan wie Andries Pretorius op 23 Desember 1838 per brief oor die gebeure rondom Bloedrivier rapporteer (Strauss 2001:821). Ten diepste is die Trekkers ‘n teokratiese eenheidsgemeenskap met kerk en staat wat onder God se gesag staan en twee kante van dieselfde munt uitmaak (Strauss 1994:32).

Dit is in hierdie gemeenskap wat Cilliers as een van die leiers erken word. In 1843 dien hy vir een jaar in die Volksraad. Hy onttrek hom egter met die Britse bewindsoorname van Natal (De Jongh 1987:211).

Dit is onseker wie by Vegkop op 16 Oktober 1836 (die datum is ook onseker) bevel oor die Trekkers voer.

Die aanval van ongeveer 3000 Ndebele of Matabeles op die Trekkerlaer word tussen 12:00 en 13:00 geloods en duur nie langer as ‘n halfuur nie. Twee Trekkers word gedood, terwyl tussen 400 en 500 Matabeles rondom die laer sneuwel. Laasgenoemde neem in die proses ook ongeveer 100 perde, tussen 4000 en 7000 beeste en tussen 40 000 en 50 000 skape sodat die verliese aan Voortrekkerkant hoog is. Veertig weerbares waaronder 33 volwasse mans, verdedig die Trekkerlaer (Venter 1985:43–44).

Sarel Cilliers neem ‘n belangrike aandeel aan die geveg. ‘n Nag of twee voor die slag droom Cilliers, eie aan sy aard, van die aanval. Vir hom is dit ‘n waarskuwing van die Here. Die volgende oggend staan hy voor dagbreek op en lei hy ‘n godsdiensoefening. Later spreek hy die laer toe met ‘n ‘aanspraak’ waarin hy weereens op die teenwoordigheid van die God van hemel en aarde wys. Cilliers is dus ‘n geestelike én militêre leier by Vegkop (De Jongh 1987:91–92). Hy gee ook militêre hulp en leiding met die verdediging van die laers en die redding van mense tydens die Zoeloemoorde in Natal op 16–17 Februarie 1838 (De Jongh 1987:134, 137).

Sarel Cilliers vergesel die Wenkommando in Desember 1838 op pad na Bloedrivier. Op 05 Desember staan die Kommando by Danskraal. Andries Pretorius spoor hulle aan om op God te vertrou. Op sy beurt benadruk Sarel Cilliers dat hulle hulle plig moet doen en maak hy die plan van ‘n gelofte aan die Here bekend. In later jare word Danskraal dalk omrede hierdie bekendmaking verkeerdelik beskou as die plek waar die Gelofte die eerste keer afgelê is en Sarel Cilliers verkeerdelik aangesien as die vader van die Gelofte van 1838 (De Jongh 1987:158).

Intussen word Cilliers bekend as die een wat die Wenkommando sal voorgaan by die aflê van die Gelofte van 1838. ‘n Gelofte wat vir die eerste keer op Sondagoggend 09 Desember 1838 na godsdiens by Wasbank deur die hele kommando afgelê word en daarna elke aand op drie plekke deur die drie ‘gemeentes’ in die laer. ‘n Gelofte wat na die Slag van Bloedrivier op Sondagaand 16 Desember 1838, opnuut deur die kommando afgelê word. In die aanloop tot die eerste aflegging van die Gelofte, preek Cilliers op 09 Desember paslik uit Rigters 6:1–24 en 11:30–40 (De Jongh 1987:161; Gerdener 1925:123).

Bronne vir die Gelofte laat ons met ‘n leemte. In die eerste plek is die woorde van die Gelofte nie met een geskrewe of gedrukte weergawe bewaar nie. Ons het dus nie ‘n gesagvolle, primêre bron vir die inhoud daarvan nie. ‘n Bron wat ons deur middel van die teks ook kon gehelp het om meer van die aflê daarvan te wete te kom (Strauss 1994:8).

Uit ‘n historiese oogpunt staan drie bronne oor die saak uit.

Cilliers voorganger by, nie vader van Gelofte

Die eerste is die brief of verslag van Andries Pretorius oor die Bloedriviergebeure op 23 Desember 1838 aan die Volksraad van Natal. ‘n Brief wat op 16 Februarie 1839 in De Zuid-Afrikaan gepubliseer word. Pretorius wys daarop dat die idee van ‘n gelofte by hom ontstaan het na aanleiding van Sarel Cilliers se preke uit die Ou Testament. Pretorius as die inisieerder daarvan moes dus ten nouste by die formulering en aflê van die Gelofte van 1838 – by die besonderhede daarvan – betrokke gewees het. Daarby skryf hy ‘n week na die slag sodat die gebeure nog vars in sy geheue is (Spies 1988:52; Pretorius 1839). Boonop staan hy aan die leiding van die Wenkommando sodat die hy die oorhoofse bewegings van die Kommando waarskynlik meer intens as die meeste ander lede van die Kommando beleef (Strauss 1994:10).

Die tweede is die Joernaal of verhaal agterna opgeteken van Jan Bantjes. Bantjes is op hierdie stadium die sekretaris van Natalse Volksraad en van Pretorius op die Wenkommando. Sy weergawe van die gebeure soos vervat in sy Joernaal word op 14 Junie 1838 in De Zuid-Afrikaan gepubliseer. Hoewel bewese foute in die verhaal van Bantjes voorkom, skryf hy kort na alles en moes hy die bewegings van die Wenkommando as geheel saam met Andries Pretorius intens beleef het (Bantjes 1839; De Jongh 1987:156; Spies 1988:52).

Die derde bron is Sarel Cilliers se weergawe van die gebeure. Hy skryf dit meer as 30 jaar later of laat dit opteken in sy Joernaal (afgedruk in Gerdener 1925:112–132). Sy geheue is op hierdie stadium dus onder druk.

Tog was hy bekend vir ‘n goeie geheue en is die Gelofte waarskynlik ‘n hoogtepunt in sy lewe. Ds. Andrew Murray merk in 1879 op dat Cilliers na 1838 tot met sy dood in 1871 nie een jaar die herdenking van die Gelofte oorgeslaan het nie. Die gebeure kon deur herhaling dus vaster in sy geheue gaan lê as ander sake (De Jongh 1987:163).

Voordat Cilliers se weergawe geweeg word, word ‘n opsomming van die behoeftes en beloftes in die Gelofte van 1838 – soos weergegee in hierdie drie bronne – gegee (vgl. Strauss 1994:17–20; 2001:821–831).

Die kernbehoefte is die Trekkers se nood in hierdie moordjaar in Natal. Hulle bid vir die hulp van die Here om hulle hieruit te verlos. Hulle vra vir sy ingryping en ‘n oorwinning oor ‘onze vijand’. In die lig van 1838 se Zoeloe-aanvalle is die sukses van die Uittog en die behoud van die Trekgeselskappe in Natal tans op ‘n mespunt.

Nie Pretorius, Bantjes of Cilliers gee ‘n vasgestelde, goedgekeurde teks van die Gelofte nie. Hoewel hulle formulerings verskil, stem die drie – by ‘n behoorlike studie van hulle woorde – in hoofsaak saam oor die sake waaroor dit hier gaan. Wat uit die teks van al drie blyk, is dat die Gelofte in ‘n gebed aan God afgelê is.

Pretorius en Bantjes maak gewag van ‘n gebed deur die Wenkommando in sy geheel – op Sondag 09 Desember na godsdiens by Wasbank – as die manier waarop die Gelofte die afgelê is. By herhalings daarna is dit ook in ‘n gebed gedoen. ‘n Gelofte aan God impliseer ‘n gesprek met God en wat die mens betref, kan jy alleen deur gebed met die Here of die God van hemel en aarde praat … (Strauss 2001:822).

Cilliers toon op hierdie punt ‘n ander aanpak. Volgens sy Joernaal het hy as die voorganger by die eerste aflegging van die Gelofte op ‘n kanonwa geklim met die Wenkommando rondom hom. Hy het hulle ingelig oor wat nou gaan gebeur: ‘Mijne broeders en mede-landgenoten …’ of my landgenote van die Republiek Natalia. ‘Hier staan wij tans, op eene Ogenblik voor een Heilige God van hemel en aarde …’ Kritici van Cilliers oordeel dat hy hiermee te kenne gee dat die Gelofte buite of na ‘n gebed afgelê is. Jy spreek die Here tog nie aan as ‘n broer of landgenoot nie (Strauss 1994:22)!

‘n Behoorlike lees van Cilliers toon egter dat hy wel van die Gelofte in gebed praat. Voor hierdie gebed wil hy die Kommando inlig oor wat nou gaan gebeur. Hy sal hulle na sy verduideliking voorgaan in die aflê van die Gelofte in ‘n gebed aan die Heer ‘in de naam van allen …’ Almal moet die Gelofte aflê as oortuigdes – daarvan is vooraf seker gemaak – en niemand moet afwesig wees nie. Cilliers gee hulle egter ‘n laaste kans.

As iemand hier teenwoordig oor die aflegging van die Gelofte ‘bezwaard’ is, moet hy nou van hierdie plek ‘weg’ gaan. Niemand kan teen sy wil verplig word om ‘n belofte aan die Here – dus ‘n gelofte – af te lê nie.

‘n Gelofte aan die Here moet uit innerlike oortuiging spruit:

Ik zeide ook verder dat wij in de gebed zamen moeten delen, die tot den troon van Zijne gemade zal worden opgezonden, en zoovoor en ik bereijde mijne handen na den hemel uit (en bid) in naam van ons (Cilliers 1879:121–122).

Met sy hande opgehef na die hemel gaan Cilliers voor in die gelofte-gebed.

In sy Joernaal rondom 1870 bevestig Cilliers dat die aflegging van die Gelofte van 1838 elke aand op 3 plekke in die Kommando herhaal is. Hierdie aflê van die Gelofte het dwarsdeur die week van 9–16 Desember 1838 ‘in onze gebeden’ plaasgevind (Gerdener 1925:122).

Behalwe dat hy die aflê van die gelofte-gebed aan die Wenkommando verduidelik, dui hy in sy Joernaal aan dat ‘n gelofte aan die Here impliseer dat hulle wat dit aflê van die meriete van die saak voor die Here oortuig moet wees en die gelofte op morele gronde onderskryf. Jy kan altyd tot die Here bid om jou in ‘n saak met Bybelse meriete suksesvol te maak. Maar, netso kan jy jou alleen van ‘n saak met meriete verskoon as jy goeie, waterdigte redes daarvoor het. Dit gaan om ‘n oortuiging by die binding aan die Gelofte van 1838 wat later ook voor die Algemene Sinode van 1990 van die Ned. Geref. Kerk dien (NGK 1990:115–116, 560).

Die verloop van die Slag van Bloedrivier is bekend. Meer as 3000 uit meer as 10 000 Zoeloes verloor hulle lewens op die slagveld en slegs 3 uit meer as 464 Voortrekkers en helpers word lig gewond. Die Slag begin vroegoggend op Sondag 16 Desember 1838, maar teen 11:00 is alles verby. Die mag van Dingaan en sy Zoeloe-impi’s is gebreek. Die Here, so glo die Wenkommando en almal wat met hulle assosieer, het hulle gebede verhoor (Venter 1985:52).

Die beloftes aan die Here in die Gelofte van 1838 word in die jare wat kom, dikwels ontleed.

Beloftes aan die Here

Uit die brief van Pretorius van 23 Desember 1838 en die Joernale van Bantjes van 1839 en Cilliers rondom 1871 blyk dit dat die Trekkers 3 dinge beloof indien die Here aan hulle die oorwinning oor die Zoeloes gee: hulle sal hierdie dag elke jaar herdenk en aan die Here wy; hulle sal vir die Here ‘n huis of kerk bou op ‘n plek wat Hy aanwys; en hulle sal die herdenking aan hulle nageslag oordra om met hulle daarin te deel (Bantjes 1839; Gerdener 1925:112–132; Pretorius 1839).

Pretorius (1839) praat van ‘n dag wat aan die Here gewy en met danksegging gevier word.

Bantjes (1839) noem dit ‘n dag wat tot eer van God herdenk word. In sy Joernaal gebruik Sarel Cilliers die begrippe van ‘n verjaardag en dankdag ‘zoo als een Sabbath’ (Gerdener 1925:121). Vroeër, in ‘n brief aan ds. Van Broekhuizen van Kroonstad in 1866, gebruik Cilliers egter nie die ‘sabbatskousule’ nie, maar die sinsnede ‘een bid en gedenk en dankdag’ (Cilliers 1866).

Die feit dat Pretorius en Bantjes nie gewag maak van ‘n sabbatsklousule nie én ander foute in die Joernaal van Cilliers, lei kritici tot die gevolgtrekking dat die sabbatsklousule nie in die Gelofte voorkom nie. Dat Cilliers se weergawe onbetroubaar is (Snyman & Barnard 1992:118).

By nadere ontleding weerspreek Cilliers, Pretorius en Bantjes egter nie mekaar nie. Cilliers se ‘zoo als een Sabbath’ skep nie ‘n ekstra mensgemaakte Sondag – teenoor die 52 van die Here – in ‘n jaar nie, maar dui op die gees waarin die dag herdenk moet word. Cilliers praat ook nie van ‘n Sabbat nie, maar ‘soos ‘n sabbat’.

En ‘soos ‘n sabbat’ gaan oor die wyse waarop Christen-Afrikaners mensgeskepte kerklike feesdae soos Goeie Vrydag en Kersdag deurbring, nie oor ‘n bykomstige mensgemaakte Sondag nie. Hoewel Cilliers se bid-, gedenk – en dankdag in 1866 van die van Pretorius en Bantjes verskil, verwoord dit die begrippe wat hulle gebruik. Pretorius en Bantjes verskil ook onderling in hul bewoording, maar word nie van begripsverskille verdink nie. Alles kom op ‘n godsdienstige feesdag neer. Erasmus Smit het die aanduidings ook so verstaan dat hy nie ‘n 53e Sondag elke jaar probeer skep het nie, maar 16 Desember op die Sondag naaste aan hierdie dag, gevier het (De Natalier 1844).

Oor die bou van ‘n huis vir die Here is daar – tereg – ‘n konsensus onder onder Christen-Afrikaners dat die Geloftekerkie in Pietermaritzburg hieraan voldoen. Hierdie feit is aanvaar deur Voortrekkers soos Cilliers, Pretorius en ander. Daarop is reeds gewys.

Die kwessie van die nageslag van die Wenkommando wat met hulle in die Gelofte van 1838 moet deel, die vraag na wie deur hierdie Gelofte gebind word, is reeds beantwoord. Die gevolgtrekking is nie dat dit om ‘n nageslag van vlees en bloed gaan nie, ‘n nageslag wat daarom daaraan gebonde is nie, maar om ‘n binding van almal op wie die Gelofte of die meriete van die saak ‘n morele appél maak.

‘n Ander deel van die lewe van die Afrikaners in Afrika, soos by Bloedrivier met die Zoeloes, is hulle verhouding met swart en gekleurde volke. In 1864 vertel Sarel Cilliers van sy voorstel onder Retief as goewerneur by ‘n ontmoeting van Voortrekkerleiers, om vredesverdrae met gewillige swart stamme te sluit.

‘n Versoek waaraan gevolg gegee is (De Jongh 1987:115). Cilliers self het ‘n streng, soms eiegeregtige verhouding met sy werkers gehandhaaf, maar tog Bakakinders na 1840 in sy sorg geneem (De Jongh 1987:212). ‘n Baka-agterryer, Izak, kom in 1847 saam met Cilliers Vrystaat toe. Izak bly op Doornkloof waar hy ‘n stukkie grond by Cilliers kry om as sy eie te bewerk (Strauss sa:25–26). In hierdie opsig blyk Cilliers ook ‘n tipiese Afrikaner-ouderling te wees.

Slot

Vir die vrome, kerkvaste Sarel Cilliers was die amp van ouderling ‘n roeping en dienswerk vir die Here uit dankbaarheid vir sy verlossing. Dienswerk wat vanuit sekere vertrekpunte spruit. Cilliers het nie teruggedeins vir die eise van die amp nie. Inteendeel, as ‘n ouderling of oud-ouderling was hy ‘n sterk geestelike leier met duidelike oortuigings. Oortuigings wat hom sou bybly as hy met predikantswerk in ‘n noodsituasie besig is, huisbesoek in moeilike gevalle doen en die – syns insiens – gereformeerde saak voor politieke leiers, liberale teoloë en weerbarstige volksgenote verdedig. Daarvoor is Cilliers wyd gerespekteer. Al was hy soms bytend skerp in sy uitlatings teenoor mense wat op kerklike gebied van hom verskil en al het hy soms oorreageer oor verskille oor randsake. Cilliers was ‘n emosionele mens wat hierdie dienswerk intens beleef het.

Sarel Cilliers was by uitstek ‘n geestelike en nie ‘n militêre of volksleier nie. Hierdie leiding het hy gegee in die Groot Trek en daarna. Hy het dit gedoen in die gemeentes waar hy was, in verhouding met sy mense op ‘n kerklike vlak en wanneer hy onder sy volksgenote beweeg. Hoewel G.B.A. Gerdener Sarel Cilliers die vader van Dingaansdag noem, was hy dit nie. Sarel het as ‘n ouderling of kerklike ampsdraer en gerespekteerde geestelike leier voorgegaan by die aflê van die Gelofte van 1838, maar die inisiatief daartoe het van Andries Pretorius gekom.

Cilliers was ‘n goeie, getroue ouderling en oud-ouderling wat oor die algemeen beginselvas geleef en opgetree het, maar dit ontbreek hom aan die profetiese insig wat nodig is as Gerdener na hom as die profeet van die Groot Trek verwys. Miskien sou die profetiese etiket hom beter gepas het as hy vry was om as ‘n erkende predikant en kerklike profeet te ontwikkel.

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Outeursbydrae

P.J.S. was die enigste outeur betrokke by die skryf van die artikel.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel volg alle etiese standaarde vir navorsing.

Befondsing

Hierdie navorsing het geen spesifieke toekenning ontvang van enige befondsingsagentskap in die openbare, kommersiële of nie-winsgewende sektore.

Data beskikbaarheidsverklaring

Data-deling is nie van toepassing op hierdie artikel nie, aangesien geen nuwe data in hierdie studie geskep of ontleed is nie.

Vrywaring

Die sienings en menings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die outeur (s) en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde agentskap van die outeurs nie.

Literatuurverwysings

Bantjes, J., 1839, De uitgeweken Boeren te Port Natal, De Zuid-Afrikaan (12:06:1839).

Bingle, P.W. & Gaum, F.M., 2008, Geloftedag, Gaum F. (hoofredakteur), Christelike Kernensiklopedie, Lux Verbi.BM, Wellington.

Cilliers, S.A., 1866, Brief aan ds Van Broekhuizen (14:02:1866), Lêer A 121, Argiefbewaarplek, Bloemfontein.

De Jongh, P.S., 1977, Die lewe van Erasmus Smit, HAUM, Pretoria.

De Jongh, P.S., 1987, Sarel Cilliers, Perskor, Johannesburg.

Dreyer, A., 1929, Die Kaapse Kerk en die Groot Trek. Amptelike en ander stukke versamel en uitgegee, Van de Sandt De Villiers, Kaapstad.

Gerdener, G.B.A., 1925, Sarel Cilliers. Die vader van Dingaansdag, 2e druk, Van Schaik, Pretoria.

Gerdener, G.B.A., 1934, Ons kerk in die Transgariep, Nasionale Pers, Kaapstad.

Giliomee, H., 2014, “’n Ideale gemenebes in Afrika-omstandighede”: Die Vrystaatse Republiek 1854-1900, FAK, Pretoria.

Kruger, D.W., 1961, Paul Kruger I (1825-1883), Dagbreek, Johannesburg.

Kruger, L.S., Du Plessis, H.L.M., Spoelstra, B. & Spoelstra, T.T., 1966, Handleiding by die Kerkorde, Pro Rege, Potchefstroom.

Muller, C.F.J., 1969, Die Britse owerheid en die Groot Trek, Academia, Pretoria.

Ned. Geref. Kerk, 1990, Handelinge van die Algemene Sinode, sn., Bloemfontein.

Ned. Geref. Kerk, 2016, Jaarboek, Tydskriftemaatskappy van die NG Kerk, Wellington.

NG Kerk in die OVS, 1865-1912, Handelinge van die eerste tot die vier en twintigste vergadering, Sl:sn.

Pienaar, S.W., 1964, Glo in u volk. D.F. Malan as redenaar 1908-1954I, Tafelberg, Kaapstad.

Pont, A.D., 1981, Die historiese agtergronde van ons kerklike reg I, HAUM, Pretoria.

Preller, G.S., 1920, Voortrekkermense I, Nasionale Pers, Kaapstad.

Pretorius, A.W.J., 1839, Brief aan die Volksraad, De Zuid-Afrikaan (16:02:1839).

Pretorius, H.S., Kruger, D.W. & Beyers, C., 1937, Voortrekker-Argiefstukke 1829-1949, Staatsdrukkery, Pretoria.

Smit, E., 1897, Dagboek (geredigeer deur H.F. Schoon), Townshend, Taylor en Snashall, Kaapstad.

Snyman, S.D. & Barnard, S.L., 1992, ‘Gedagtes oor Geloftedag’, Acta Theologica 12(2), 113–119.

Spies, F.J.T., 1988, ‘Onsekerheid in verband met die Gelofte van 1838’, Historia 33(2), 51–62.

Spoelstra, B., 1963, Die ‘Doppers’ in Suid-Afrika 1760-1899, Nasionale Boekhandel, Kaapstad.

Spoelstra, C., 1915, Kerkelijk en godsdienstig leven der Boeren na den Grooten Trek, Kok, Kampen.

Strauss, P.J., 1994, Geloftedag in die ‘nuwe’ Suid-Afrika, Drufoma, Bloemfontein.

Strauss, P.J., 2001, ‘Nogeens: Die agtergrond, inhoud en implikasies van die Gelofte van 1838’, Hervormde Teologiese Studies 57(3 & 4), 814–834. https://doi.org/10.4102/hts.v57i3/4.1849

Strauss, P.J., 2011, ‘Nogeens: Watter kerk vergesél die Groot Trek?’, Acta Theologica 31(2), 264–277. https://doi.org/10.4314/actat.v31i2.13

Strauss, P.J., sa., Die bome roep, die klowe roep, 2e hersiene druk, sn, sl.

Van der Watt, P.B., 1973, Die Loedolffsaak en die Ned. Geref. Kerk 1862-1962, Tafelberg, Kaapstad.

Van Schoor, M.C.E. & Van Rooyen, J.J., 1960, Republieke en Republikeine, Nasionale Boekhandel, Kaapstad.

Venter, C., 1985, Die Groot Trek, Don Nielson, Kaapstad.

Venter, C., 2008, Retief, Pieter (Piet), Gaum, F. (hoofredakteur), Christelike Kernensiklopedie, Lux Verbi.BM, Wellington, 929.

Footnotes

1. In hierdie artikel wat op Sarel Cilliers fokus, word die naam ‘Geloftedag’ vir hierdie dag gebruik.

2. Cilliers het as ouderling van die Ned. Geref. Kerk Pietermaritzburg by geleentheid ook by ‘n lidmaat en die Britse Kommissaris in Natal, Henry Cloete, huisbesoek gedoen en na sy verhouding met die Here gevra (De Jongh 1987:213–214).

3. ‘n Frase wat Cilliers graag gebruik het en in sy eie weergawe van die Gelofte van 1838 opgeneem is, soos afgedruk in Gerdener 1925:12. Maar ‘n frase wat hy by ‘n ander – syns insiens – belangrike geleentheid ook gebruik het. In sy ‘aanspraak’ op die 33 Trekkers of emigrante voor die Slag van Vegkop in Oktober 1836, praat hy van God se almag ‘in hemel en op aarde’, Strauss 2001:824.

4. Dopper was die bynaam wat Koloniste in die Noordoos- Kaapkolonie gekry het vanweë hulle gebondenheid aan die Nederlandse Statevertaling van die Bybel, aanvaarding van die gereformeerde belydenisskrifte die Drie Formuliere van Eenheid en ‘n sobere lewenstyl. Hulle was afkerig aan nuwighede omdat hulle tevrede was met hulle leefwyse, Spoelstra 1963:18.

5. Teen die rant op De Houtplaas is die datum 1837 met afgewitte klippe uitgepak. Hierdie datum staan tussen die huidige N1 en Bellspas net suid van Winburg. Erasmus Smit word hier as die predikant en Piet Retief as die goewerneur van die Trekkermaatskappy in Mei-Junie 1837 bevestig of ingehuldig. Die Vetriviergrondwet met sy 9 artikels word ook hier aanvaar (vgl. Pretorius, Kruger & Beyers 1937:15–16). Hier het dr D.F. Malan, met die herdenking van die gebeure van 1837 in 1937, ook die eerste keer sy gevleuelde woorde ‘Glo in God, glo in u volk en glo in uself!’, gebruik (Pienaar 1964:234–238).

6. De Jongh toon aan dat Cilliers se geheue hom met die waarde van sy slawe waarskynlik in die steek gelaat het omdat amptelike Regeringsverslae van Cilliers verskil (De Jongh 1987:63).

7. Sarel Cilliers self is op 07 September 1801 gebore en na 13 dae op 20 September 1801 gedoop: ‘n gereformeerde gebruik onder Nederlandse gereformeerdes. Word die Cilliersvoorbeeld rondom Dirk Petrus in die Ned. Geref. Kerk van vandag ‘n voorbeeld van die sondes van die vaders wat besoek word aan die kinders?



Crossref Citations

No related citations found.