About the Author(s)


Barry J. van Wyk Email
Unit for Reformed Theology and the Development of the South African Society, Faculty of Theology, North West University, South Africa

Citation


Van Wyk, B.J., 2017, ‘Die sosiaal-wetenskaplike begrip change agent toegepas op die Efesiërbrief: ’n toepassing tot kerklike welwese’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 73(4), a4640. https://doi.org/10.4102/hts.v73i4.4640

Original Research

Die sosiaal-wetenskaplike begrip change agent toegepas op die Efesiërbrief: ’n toepassing tot kerklike welwese

Barry J. van Wyk

Received: 08 May 2017; Accepted: 16 May 2017; Published: 27 Oct. 2017

Copyright: © 2017. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstract

This article gives a short reflection on the background and origin of the social-scientific model change agent in relation to change agency, a relationship that causes an alternate state of consciousness for the change agent. Arguing from the seven-point explanation of Malina and Pilch of how a change agent operates, this article applies the model to the letter to the Ephesians. The conclusion is that this social-scientific model is helpful for the recent church to realise how narrow the relation is between Jesus Christ and the church, in view of the future of the church as a future in Christ. A choice is made to find alternate words in the Afrikaans language suitable for the theological debate, namely opdraggewer [change agency], meningsvormer [change agent] and alternatiewe staat van bewussyn [alternate state of consciousness].

Inleiding

Meegaande artikel poog om die begrippe change agent en change agency, geskep deur die sosiaal-wetenskaplike benadering tot antieke tekste, toe te pas op die Efesiërbrief. Die mening is dat dié sosiaal-wetenskaplike model bruikbaar is wanneer besin word oor die groei en voortgang van die kerk in die huidige tydsgewrig. Pilch (2011), asook Malina en Pilch (2013) gesamentlik het hierdie model reeds suksesvol op die Corpus Paulinum toegepas (Van Aarde 2016:1). Kennis kan ook geneem word van ’n studie wat in dié verband voltooi is wat die aangeleentheid verder belig (Van Wyk 2016).

Ter wille van die Afrikaanse teologiese debat word die Afrikaanse ekwivalente meningsvormer en opdraggewer vir change agent en change agency voorgestel en verder in meegaande artikel gebruik. Die verwysing na alternate state of consciousness word vertaal met alternatiewe staat van bewussyn.

Hierdie begrippe kom uit die vakgebied van die sosiologie en word in die korporatiewe wêreld soos in die ekonomie en politiek gebruik, veral met betrekking tot die noodsaak van verandering en vernuwing. ‘A change agent relates information from a change agency to a specific group with the aim to mediate change. The change agent facilitates transformation as directed by the agency’ (Van Aarde 2016:1). Hierdie verandering gebeur binne bepaalde gevestigde strukture (structures) wat nie onveranderd is nie maar op ’n bepaalde proses dui wat verandering tot gevolg het. ‘Structure operates in social scientific discourse as a powerful metonymic device, identifying some part of a complex social reality as explaining the whole’. Dit word nie maklik verander nie want ‘structure is so rhetorically powerful and pervasive a term that any attempt to legislate its abolition would be futile’ (Sewell 1992:2, 3). Volgens Giddens (1981:27) is struktuur dubbelvoudig waardeur hy bedoel dat ‘they are ‘both the medium and the outcome of the practices which constitute social systems’ … Structures shape people’s practices, but it is also people’s practices that constitute (and reproduce) structures’. Struktuur word bepaal deur ‘“knowledgeable” human agents (i.e., people who know what they are doing and how to do it), and agents act by putting into practice their necessarily structured knowledge’ (Giddens 1976:161).

Daar is dus ’n verhouding tussen struktuur as die gegewe sosiale patroon wat met verloop van tyd uit gewoonte ontwikkel het en die moontlikheid tot verandering wat deur persone in leiersposisies ontstaan. Vandaar die sosiaal-wetenskaplike model oor die verhouding tussen change agent en change agency waardeur verandering in ’n bepaalde organisasie bewerkstellig word deur die change agent. Caldwell (2003:132) wys daarop dat change agent ‘as an internal or external consultant’ sy oorsprong vind in die werk van Kurt Lewin (1890–1947) ‘and the various traditions of organisational development (OD) research and practice’.

In dié verband volg ’n alternatiewe staat van bewussyn as ’n toestand waarin belewenisse, waarnemings, denke en emosies verander. Hierdie soort toestand word volgens Malina en Pilch (2013) deur kulturele antropoloë soos volg beskryf:

In trance or in any other alternate state of consciousness a person encounters, indeed enters, another level or aspect of reality registered physiologically in the brain in the same way ‘normal’ experiences are. (p. 223)

Pilch (1993) verwys na Kleinman wat van oordeel is dat die koms van die moderne wetenskap sedert die agtiende eeu:

disrupted the bio-psycho-spiritual unity of human consciousness that had existed until then. … Western culture socializes individuals to develop a metaself, a critical observer who monitors and comments on experience. The metaself does not allow the total absorption in lived experience, which is the very essence of highly focused ASCs (= alternate states of consciousness). The metaself stands in the way of unreflected, unmediated experience which now becomes distanced. (p. 233)

Malina en Pilch (2013:235–238) bied in hulle sosiaal-wetenskaplike kommentaar op die deutero-Pauliniese briewe, ’n beskrywing aan van die werkwyse van ’n meningsvormer vanuit ’n sosiaal-wetenskaplike perspektief en hoe hierdie verstaan van ’n meningsvormer eksegeties toegepas kan word (vgl. ook Pilch 2011:84–93).

Van Aarde (2016) wys op die bruikbaarheid van meegaande sosiale model as toepassing op die eksegese:

The application of change agency theory to biblical exegesis provides a fresh view. Historical and literary interpretations can be enhanced by this focus on the sociological dynamics of the transmission of the Sache Jesu (cause of Jesus). (p. 2)

Pilch (2011:81) definieer die sosiaal-wetenskaplike begrip change agent soos volg:In our time and culture, people commissioned to make known something new are called “change agents”. The task of a change agent is to communicate and diffuse some innovation’. Vir Pilch (2011:82) is ’n meningsvormer, dus iemand wat daartoe gemagtig is om ‘innovation-decisions in a direction deemed desirable’ deur ’n opdraggewer te inisieer met die oog op verandering en vernuwing.

In die Nuwe Testament is die twaalf tipiese meningsvormers, ingesluit diegene wat deur hulle gestuur is (Hand 6:1–6), soos onder andere ook die handlangers van die Fariseërs wat Jesus gevange moes neem (Matt 22:15–16; Mark 14:43). Paulus is egter ’n meningsvormer in eie reg vanweë sy verwysing dat hy deur God en Jesus Christus gestuur word. Hy ontvang sy roeping in besondere omstandighede as ’n openbaring wat tipeer kan word as ‘an alternate state of consciousness experience’ (ASC):

According to the New Testament witness, then, the founder or change agency of Jesus-groups and their ideology is God, the God of Israel. God’s directly authorized change agents, such as John the Baptist, Jesus and Paul, all functioned for the same change agency, the God of Israel. (Pilch 2011:83)

Van Aarde (2016:11) wys vervolgens daarop dat die toepassing van meegaande sosiaal-wetenskaplike model op die Pauliniese en post-Pauliniese briewe ’n bydrae lewer tot beklemtoning van die kontinuïteit tussen Jesus en Paulus, ‘specifically with regard to transcending an ingroup mentality and adopting radical inclusivity and love as the distinctive ethical values of the Jesus-group’.

Die Griekse woord wat vir apostel gebruik word ‘refers to someone commissioned by someone else for some commission. Commissioning by a person with authority is what constitutes a person as apostle’ (Pilch 2011:81). Met verwysing na Paulus wys Pilch daarop dat Paulus nie net die evangelie verkondig het nie, maar dit nuut moes sê op ’n wyse waarop dit tot nog toe nie gehoor is nie. Dit is wat Paulus was, waarom hy homself ’n apostel noem, maar terselfdertyd anders was as die ander, want hy is deur God geroep deur middel van die openbaring wat hy ontvang het (Gal 1:1; 1 Kor 9:1). ‘Paul was a Jesus-group change agent of a distinctive sort. He was not sent by any such group. He insists rather that his authorisation and commission came directly from God’ (Pilch 2011:82).

Paulus was afgesonder om as geroepe apostel die evangelie te verkondig wat deur die profete in die heilige Skrifte tevore beloof is (Rom 1:2). Hy sien homself as ’n apostel wat deur die gesag van God die Vader en Jesus Christus optree (Gal 1:1). Die oorsprong van sy gesag en opdrag lê dus anders, aangesien dit nie van mense ontvang is nie, want hy het die Here gesien (1 Kor 9:1) en dit maak alles anders.

Paulus reageer op grond van sy belewenis van die teenwoordigheid en opdrag van die God van Israel en Jesus Christus wat Hy uit die dood opgewek is. Hy moes ook persone aktiveer wat ná hom met die nodige entoesiasme en oortuiging sy taak as meningsvormer sou voortsit, gedryf deur God as opdraggewer tot vernuwing en verandering. ‘Their audience was fellow Jesus-group members, that is, Israelites recruited from Israelite groups in majority non-Israelite cities throughout the north-eastern Mediterranean’ (Malina & Pilch 2013:9). Hierdie Jesus groepe het voor die uitdaging te staan gekom om die vernuwing te implementeer in die vorm van ondersteuningsgroepe, vroeë gemeentes (kerke) as aanduiding van hulle vertroue in die God van Israel wat in die laaste tye op hierdie manier (deur meningsvormers) met hulle gepraat het.

Indien die model van ’n meningsvormer op Paulus, asook op sy medewerkers van toepassing gemaak word, was dit veral die bedoeling van hulle wat sy werk voortgesit het om aan Israeliete wat tussen nie-Israeliete geleef het, die evangelie te verkondig as:

the mystery that the God of Israel was about to bring redemption or restoration of honour to Israel. … Paul was one of those who believed that God’s raising Jesus signalled Israel’s forthcoming redemption. (Malina & Pilch 2013:9)

Sogenaamde Jesus groepe was niemand anders as Israeliete uit Israelitiese groepe wat hulle in Grieks-Romeinse stede bevind het, naas diegene wat uit die nie-Joodse wêreld toegevoeg is. Die fokus in die deutero-Pauliniese briewe is derhalwe nie op ’n ‘Paulus-teologie’ nie, maar op ’n relasie binne ’n groep met die oog op stabiliteit, ’n ‘social interrelationship between the change agent and his clients’ (Malina & Pilch 2013:10).

Paulus bedien homself uit die aard van die saak nie van meegaande sosiale begrippe nie, maar ervaar sy roeping buitengewoon as ’n roeping deur God wat ’n alternatiewe staat van bewussyn in hom tot gevolg het (Gal 1:1, 12). Dit kom ter sprake in sy ‘hemelreis’ (2 Kor 12:1–7), maar word ook gesuggereer deur sy beskrywing van die opstanding van Jesus (1 Kor 15:5–8). In die sinoptiese evangelies word sodanige geleenthede in Jesus se optrede beskryf (Mark 1:9–11; Mark 1:12–13; Mark 6:45–52; Mark 9:2–10; vgl. ook parallelle by Matteus en Lukas). In die Handelinge van die apostels (vgl. Pilch 2004) word eweneens na verskeie voorbeelde van ’n alternatiewe staat van bewussyn verwys (vgl. onder andere Hand 1:1–11, 2:1–4, 5–13, 6:1–8:3, 8:4–40, 9:1–9; Malina & Pilch 2013:224).

’n Meningsvormer kry derhalwe sy opdrag en put motivering uit die verbintenis tussen opdraggewer en meningsvormer wat lei tot ’n ander staat van bewussyn in die uitlewing van ’n roeping, dikwels teen alle verwagting en ervaring in. Dit is van kritieke belang om in gedagte te hou dat in die verhouding tussen ’n meningsvormer en sy opdraggewer, inisiatief volg uit die opdraggewer en sy opdrag. Daarom staan ’n meningsvormer in diens van ’n gróter gesag as die self. Dit geld in die korporatief-sosiale strukture waarin mense (gelowiges) daagliks hulle brood verdien, maar is ook van toepassing op die verhouding tussen die God van Israel en Paulus, Johannes die Doper, en andere.

Toepassing op die brief aan die Efesiërs

Malina en Pilch (2013) gee die volgende meer omvattende uiteensetting van die rol van ’n meningsvormer:

There are seven tasks that a change agent must undertake. These tasks are traceable in what Paul mentions of his activities in his letters. The first and last tasks take place in that sequence; the other five take place variously and may be repeated: (1) develop need to change; (2) develop an information exchange relation; (3) diagnose problems; (4) create intent to change; (5) translate intent into action; (6) stabilize and prevent discontinuance; (7) terminate relationship. (p. 235, vgl. 235–238)

Met Malina en Pilch se uiteensetting van die rol van ’n meningsvormer as vertrekpunt, word vervolgens ’n eie toepassing gemaak op die inhoud van die Efesiërbrief. Daar ontstaan ’n verhouding tussen opdraggewer en meningsvormer wat in die lig van die meningsvormer se belewenis van die teenwoordigheid van die opdraggewer, tot ’n alternatiewe staat van bewussyn lei, dit wil sê tot ’n anders-begin-dink met die oog op anders-begin-doen. Dit het in die sosiale interaksie tussen mense eenvoudige, maar belangrike vrae tot gevolg, soos: wie sê so, waaroor gaan dit en waarom moet ek my daaraan steur en wat sou die moontlike gevolg van die vernuwing of koersaanpassing wees? Persoonlike kontak is van wesenlike belang wat in die kerk steeds, selfs in die huidige tydsgewrig, nie as oorbodig beskou moet word nie. Die nodigheid van persoonlike kontak word daargestel deur die noue verhouding wat sosiaal-wetenskaplik tot stand kom tussen opdraggewer en meningsvormer, gedra deur die noodsaak van verandering wat om vernuwing van gesindheid en handeling vra.

Wie praat met die lesers?

Heel aan die begin van die Efesiërbrief word Paulus se naam genoem, waarmee die indruk geskep word dat hy die outeur is wat ’n brief skryf aan die heiliges, die gelowiges in Christus Jesus wat in Efese woon (Ef 1:1). Hy noem homself ’n apostel waarmee hy aandui dat hy deur Christus geroep en ten volle gemagtig is deur die wil van God om met hulle in gesprek te tree (O’Brien 1999:84). In die debat oor die outeurskap van die brief is dit gemeengoed dat die oorwig van navorsers tans van oordeel is dat Paulus nie vir die brief verantwoordelik was nie (vgl. Collins 1988:133 verv.; Dunn 2009:1106–1109; Gorman 2004:502; Hagner 2012:589–599, 600; O’Brien 1999:20).1

Die skrywer verseker die ontvangers daarom dat hy ’n apostel van Christus Jesus is deur die wil van God (Gal 1:12). Hoe hy ’n apostel geword het (Hand 9:1–18) kan as rede vir sy ander staat van bewussyn (alternate state of consciousness) geïnterpreteer word wat radikale gevolge gehad het, soos blyk uit die mate waarin Paulus se lewe verander het. Die verwysing na Paulus, hetsy as werklike of geïmpliseerde outeur, skep in elk geval die indruk dat iemand met gesag praat en ’n belangrike boodskap het:

Such states are characterized by changes in sensing, perceiving, thinking, and feeling. … the experience modifies the relation of the individual to the self, body, sense of identity, and the environment of time, space, or other people. (Malina & Pilch 2013:223)2

Wie is die opdraggewer?

Die skrywer stel sy opdraggewer aan die lesers bekend in die uitgebreide seën of berakah (Ef 1:3–14) (MacDonald 2008:197; vgl. Carson & Moo 2005:479) gevolg deur ’n gebed (Ef 1:15–23) (vgl. Lincoln 1990:10 verv. 78). Die seënbede is ’n trinitariese lofrede (God 3–6; Christus 7–12; Heilige Gees 13–14) waarmee sy lesers bewus gemaak word van God die Vader, van Jesus Christus as Hoof oor alles en die Heilige Gees as waarborg van gelowiges se erfdeel. Dit is ’n besondere tema van die dankgebed dat Jesus Hoof is van die universele kerk (Dunn 2009:1121), want Hy is Hoof oor alles. (καὶ πάντα ὑπέταξεν ὑπὸ τοὺς πόδας αὐτοῦ, καὶ αὐτὸν ἔδωκεν κεφαλὴν ὑπὲρπάντα τῇ ἐκκλησίᾳ) (Hy het alles onder sy voete gestel en Hy het Hom as Hoof bo alles aan die kerk) (Ef 1:22).3 Daardeur word geïllustreer dat ekklesiologie in Efesiërs die resultaat is van die Christologie wat in die brief ter sprake kom (MacDonald 2008:226; vgl. Collins 1988:147), asook die besondere vermelding van die Heilige Gees wat die waarborg (ἀρραβών) is van die erfdeel van gelowiges. Die boodskap van die seënbede is dat God reeds voor die skepping ’n plan gehad het vir die wêreld, wat nou deur God se gestuurde, Christus geopenbaar is. Gelowiges het die Gees ontvang as waarborg met die oog op hulle verlossing (MacDonald 2008:205, 211). Efesiërs 1:15–23 ‘reflects a prayer that the letter’s recipients might progress to maturity of knowledge and appreciate just how great this salvation is and what is their own place within it’ (Lincoln 1990:78).

Een van die mees direkte voorstellings van God se dade en wie Hy is, word in die berakah aangetref in die stelling dat Hy ons reeds voor die skepping van die wêreld uitverkies het (καθὼς ἐξελέξατο ἡμᾶς ἐν αὐτῷ πρὸ καταβολῆς κόσμου) [So het Hy ons voor die skepping van die wêreld in Hom uitverkies] (Ef 1:4a). Die uitverkiesing was in Hom (ἐν αὐτῷ) wat in die vorige vers gekwalifiseer word as ’n uitverkiesing in Christus (ἐν Χριστῷ) (vgl. Barkhuizen 1990:395). Die uitverkiesing van die volk van God was bekend in die Ou Testament (Deut 7:6–8, 14:2). ‘God had chosen Abraham so that in him the nations of the earth would be blessed, and Israel’s election was not for her own self-indulgence but for the blessing of the nations: … Christian believers also had this consciousness of being chosen to be the people of God’ (Lincoln 1990:23). Die uitverkiesing in Christus dui op sy instrumentele handeling wat beteken dat uitverkiesing deur Christus, of deur middel van Christus plaasgevind het. ‘The key to the whole is given by the tenfold repetition of one of Paul’s distinctive phrases: “in Christ”’ (Dunn 2009:1109). Dit het reeds gebeur voor die grondlegging van die wêreld (Talbert 2007:44–45).

Die betrokke inleidende seënbede in die brief handel enersyds oor God se handelinge voor die skepping (Ef 1:4–6a), gevolg deur God se seëninge in die verloop daarna (Ef 1:6b–10). Inderdaad is God lofwaardig (εὐλογητός) (Ef 1:3) (vgl. Schlier 1971:43) wat as die Vader van ons Here Jesus Christus, dit reeds voor die grondlegging van die wêreld beskik het, waarmee ’n radikale korreksie aangebring word op die Joodse siening dat mense binnekom deur nakoming van die wet met sy eise en reëls (Ef 2:14–15).

God het dit deur Christus gedoen ‘toe Hy Hom uit die dode opgewek en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemel’, (ἣν ἐνήργηκεν ἐν τῷ Χριστῷ ἐγείρας αὐτὸν ἐκ νεκρῶν, καὶ καθίσας ἐν δεξιᾷ αὐτοῦ ἐν τοῖς ἐπουρανίοις) (Ef 1:20). Dit alles het betekenis, nie net vir diegene wat gelowig reageer nie, maar vir almal. Die hoofskap van Christus is nie net oor die kerk nie, maar kosmologies en omvattend van aard, ook oor die ganse wêreld (Ef 1:22): ‘Christ’s saving work is stressed in the opening, a work that has significant implications for Christology … that who Christ is and what he does is at heart of the Christian way’ (Carson & Moo 2005:494). God het Christus as die kosmiese Heer gegee (ἔδωκεν), as Hoof (κεφαλή) van alles en derhalwe ook oor die kerk. ‘The importance of the church in God’s plan of salvation could not be stated more strongly’ (MacDonald 2008:220; vgl. O’Brien 1999:24).

Efesiërs 1:3–14 is ’n opsomming van God se menigvuldige wysheid:

commencing with his predestinating wisdom in choosing Jews and Gentiles in Christ from before the foundation of the world (v. 4) up to the final redemption of those who are his possession (v. 14). (O’Brien 1999:245)

Die fondament waarop dit alles berus is die apostels en profete met Christus Jesus self as hoeksteen. Die nuwe bedeling word op besondere vlak beskryf as ’n heilige tempel vir die Here waarin die lesers ook saam opgebou word tot ’n woonplek van God deur die Gees (Ef 2:19–22).

Wat is die probleem? (Ef 2:1–22)

Die lesers was dood deur hulle oortredinge (καὶ ὄντας ἡμᾶς νεκροὺς τοῖς παραπτώμασιν) (Julle was dood deur die oortredinge …) (Ef 2:1) maar is deur God wat ryk is in barmhartigheid, lewend gemaak in Christus. Die eerste gedeelte (vv. 1–10) verwoord die lesers se verlede as ’n bestaan gekenmerk deur dood, sonde en uitgelewer wees aan bose magte, die gees wat werksaam is onder kinders van die ongehoorsaamheid. Christus se dood en opstanding was ’n omvattende keerpunt van die toestand waarin hulle verkeer het:

If Christ’s resurrection introduced the life of the age to come ahead of time, then one’s state prior to participation in that resurrection life must, comparatively speaking, be viewed as death. (Lincoln 1990:92)

Hulle was geestelik dood (Ef 2:1–3) maar op grond van sy liefde het Hy uit genade hulle nie net opgewek nie, maar verhoog as ’n saam laat sit in die hemel (O’Brien 1999:153). Die skrywer lewer daarom ’n pleidooi aan sy lesers tot ’n kosmiese versoening met Christus in ’n poging tot ’n Christelike identiteit van sy lesers (Carson & Moo 2005:491), en dui hulle nuwe lewe aan ‘in terms of belonging to the new people of God (comprising Jews and Gentiles in the one new humanity) and being reconciled to God’ (Ef 2:11–22) (O’Brien 1999:154).

Oplossing en gevolg van die vernuwing

Uit die staat van doodsheid is hulle gered. Meer nog: nie net lewend gemaak nie, maar opgewek, maar nóg meer, saam laat sit in die hemel (καὶ συνήγειρεν καὶ συνεκάθισεν ἐν τοῖς ἐπουρανίοις ἐν Χριστῷ Ἰησοῦ) [Hy het ons in Christus Jesus saam opgewek en saam laat sit in die hemel] (Ef 2:6). Die nuwe verhouding is ook nie net tussen Jode en nie-Jode nie, maar tussen Christus en gelowiges: ‘A relationship with Christ is in view which effects believers’ future destinies because it involves sharing in Christ’s destiny’ (Lincoln 1990:101). Die omvang van die siening is besonder, aangesien die ontvangers mense is wat steeds aan die duskant van die graf verkeer en in wie se wêreld waarskynlik geen aanduibare verandering ingetree het nie, maar moet hoor dat die vernuwing wat deur die outeur vergestalt word, tog op radikale vernuwing dui wat alles verander het. Hulle is uit genade gered. Dit is ’n gawe nie uit hulleself nie, maar van God (τῇ γὰρ χάριτί ἐστε σεσῳσμένοι διὰ πίστεως καὶ τοῦτο οὐκ ἐξ ὑμῶν, Θεοῦ τὸ δῶρον) [Want uit genade is julle verlos, deur geloof. En dit kom nie uit julle self nie; dit is die gawe van God] (Ef 2:8). Daarsonder was hulle ver, sonder Christus, vervreem van die burgerskap van Israel, vreemdelinge ten opsigte van die verbondsbeloftes (Ef 2:12).

Hulle is nou medeburgers van die heiliges en die huisgesin van God. (ἄρα οὖν οὐκέτι ἐστὲ ξένοι καὶ πάροικοι, ἀλλὰ ἐστὲ συμπολῖται τῶν ἁγίων καὶ οἰκεῖοι τοῦ θεοῦ) [So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar julle is medeburgers van die heiliges, en die huisgesin van God] (Ef 2:19). Dit is tekenend van die nuwe verhouding wat ontstaan het. Nie-Jode het medeburgers geword met die heiliges. Met heiliges word waarskynlik Christene bedoel wat die resultaat is van die skeiding tussen Jode en nie-Jode wat in Christus nie meer bestaan nie (Arnold 2016:4341). Dit alles het gebeur deur die middelmuur van skeiding wat afgebreek en die vyandskap tussen Jood en nie-Jood verwyder en omskep is deur versoening van beide tot een liggaam waardeur toegang tot die Vader deur een Gees moontlik geword het (Ef 2:14–18):

The reliance on tradition is not only an important feature of Ephesians, it also reveals something about the social setting of the community’ want die lesers is waarskynlik ’n derde geslag gemeenskap wat terugkyk op vroeër tye ‘to recall its formative moments. (MacDonald 2008:208)

Verandering is nodig en dui op verlossing uit die vroeëre beperkte bestaan in afsondering van ander wat anders was en wat onder druk was om deur die wet tot lewe te kom (Ef 2:15). In die lig van die gestelde aanloop in hoofstuk 1 word in Efesiërs 2:8–10 beklemtoon dat ‘all is dependent on God’s initiative, was prepared beforehand by God, and takes place through God’s agent, Christ’ (MacDonald 2008:239). Eweneens moet die belangrikheid van Christus en die kerk as sy liggaam, nie misgekyk word as ’n besondere manier hoe God sy doel bereik het (Carson & Moo 2005:496).

Dit is ’n geheimenis (μυστήριον) wat deur openbaring aan die skrywer (meningsvormer) bekend gemaak en aan die ontvangers meegedeel word (Ef 3:3). Die woord kom ses keer in die brief voor en dui op iets wat tevore nog nie bekend was nie maar nou deur openbaring bekend geraak het (Hagner 2012:594):

God has revealed a new and definitive stage in his eternal plan that involves creating a people for himself consisting of Jews and Gentiles united to Christ and joined to one another. All who have faith in Jesus Christ become a part of this new community and have direct and immediate access to the Father. (Arnold 2016:4805)

Geregtigheid is deur geloof en nie deur werke nie en herinner aan die tipies Pauliniese uitgangspunt soos verwoord in die briewe aan die Romeine (1:17) en Galasiërs (3:11) (Hagner 2012:596). Die openbaring word beskryf in Efesiërs 3:1–7, gevolg deur die aard daarvan (Ef 3:8–12) waardeur geloof sekere en vrymoedige toegang tot God bewerk (Ef 3:12).

Waardeur is die probleem veroorsaak?

Die Joodse eksklusivistiese godsdienssiening het in onbruik verval. Bloot uiterlik beskou, het die teken wat met hande verrig word, wesenlike verskil gemaak tussen Jode en nie-Jode, want hulle is heidene genoem, uitgesluit en derhalwe sonder Christus en sonder hoop. (ποτὲ ὑμεῖς τὰ ἔθνη ἐν σαρκί, οἱ λεγόμενοι ἀκροβυστία ὑπὸ τῆς λεγομένης περιτομῆς ἐν σαρκὶ χειροποιήτου) [dat julle destyds volgens julle sondige aard heidene was. Julle word onbesnedenes genoem deur diegene wat besnedenes genoem word, al is dit bloot liggaamlik deur hande verrig] (Ef 2:11).

Die besnydenis was sprekend van ’n Joodse identiteit in die Grieks-Romeinse wêreld en verwoord ook ’n bepaalde spanning tussen sosiale groepe:

The alienation once experienced by Gentiles involved being labelled as outsiders by Jews (or perhaps by Jewish believers who were opposed to Paul’s view on Gentiles and the Jewish Law). (MacDonald 2008:241)

Dit is verder opvallend dat die uitdaging vir nie-Jode nie was om Jode te word en derhalwe ook besny te word nie, maar om deel te word van die kerk waar die onderskeid nie meer saamval met besny al dan nie, met Jood of nie-Jood, nie omdat ‘… this Jewish Christian author needed to describe how Jewish Christians and Gentile Christians were now united into one body, the household of God, the holy temple in the Lord’ (MacDonald 2008:252).

Die noodsaak tot verandering en navolging

Lincoln wys daarop dat die herinnering aan wat hulle in die verlede was as gevolg van die rigiede onderskeiding wat deur die besnydenis teweeggebring is wat met hande verrig is, bedoel om groter dankbaarheid tot gevolg te hê en te beklemtoon wat God vir hulle gedoen het: ‘to change the past and for the present consequences of that reversal’ (Lincoln 1990:135). Hy herinner hulle (Διὸ μνημονεύετε …) (Ef 2:11) aan wat was en hoe dit verander het en ‘also serves as a reminder that they are now called to a lifestyle that sharply differs from the practices of the world around them (cf. 4: 17– 19)’ (Arnold 2016:3843).

Die skrywer roep derhalwe sy lesers op om as geliefde kinders navolgers van God te wees (γίνεσθε οὖν μιμηταὶ τοῦ Θεοῦ, ὡς τέκνα ἀγαπητά,) [As geliefde kinders moet julle navolgers van God wees] (Ef 5:1a):

Therefore, it suggests an imitation of a good role model. Only in this context Paul enjoins the believers to become imitators of God. The genitive is an objective genitive. They are to become imitators of the God who in 4:32 dealt graciously in Christ by likewise acting graciously. (Hoehner 2013:13017)

Verandering is nie net te verwagte nie maar, op grond van die nuwe identiteit in Christus, noodsaaklik (Arnold 2016:8481).

Die verwysing na geliefde kinders is betekenisvol as aanduiding van die verandering van gelowiges wat kinders van God geword het en herinner aan die voorbestemming wat reeds in die eerste hoofstuk gestel is (προορίσας ἡμᾶς εἰς υἱοθεσίαν διὰ Ἰησοῦ Χριστοῦ εἰς αὐτόν) [voorbestem om deur Jesus Christus as kinders vir Hom aangeneem te word] (Ef 1:5). Die oproep tot navolging (γίνεσθε οὖν μιμηταὶ) en die oproep om te wandel (περιπατεῖν) (Ef 5:1) dui op die voor hand liggende implikasie dat kindskap en die uitlewing daarvan in mekaar se verlenging gevind word:

Paul has taken his audience from the futility, darkness, estrangement, ignorance, hard-heartedness, and despair of Gentile life apart from Christ (4:17–19) to a life of kindness, compassion, forgiveness, and love in Christ (4:32–5:2). (Thielman 2013:8495)

Dit is die enigste direkte oproep in die Nuwe Testament om navolgers van Christus te wees, hoewel die suggestie tot navolging reeds in die Ou Testament voorkom (Eks 13:21–22; Num 14:24; Deut 1:30–33; Jes 40:3–5). Gelowiges word in die egte Paulus briewe navolgers van Christus (1 Tes 1:6; 1 Kor 11:1), asook van apostels genoem (2 Tes 3:7, 9; 1 Kor 4:16, 11:1) (MacDonald 2008:310). Lincoln (1990:274 verv.) verdeel die gedeelte in vier perikope (4:17–24, 4:25–5:2, 5:3–14, 5:15–20) en beklemtoon die werkwoord om te loop in elkeen. MacDonald (2008:319) is van mening dat die gedeelte as ’n eenheid beskou moet word en wys ook op die belangrikheid van die werkwoord om te wandel (περιπατεῖν) (Ef 2:2, 10, 4:1, 17, 5:2, 8, 15) as aanduiding van ’n bepaalde lewenswyse wat deur liefde gekenmerk word (Ef 5:2) (vgl. Carson & Moo 2005:479). Die motivering is nie in mense nie maar ‘net soos Christus ons liefgehad het en Homself ter wille van ons oorgegee het as offergawe aan God, as ’n offerande met ’n aangename geur’ (καθὼς καὶ ὁ Χριστὸς ἠγάπησεν ὑμᾶς καὶ παρέδωκεν ἑαυτὸν ὑπὲρ ἡμῶν προσφορὰν καὶ θυσίαν τῷ Θεῷ εἰς ὀσμὴν εὐωδίας) [net soos Christus ons liefgehad het en Homself ter wille van ons oorgegee het as ’n offergawe aan God, as ’n offerande met ’n aangename geur] (Ef 5:2). Die inhoud van wandel in liefde word verder uiteengesit tot by vers 20 en in dié sin is MacDonald se keuse om die gedeelte as ’n geheel te sien, bruikbaar.

Om weerstand te bied en staande te bly (Ef 6:13)

Dit is die uitdaging, naamlik om die nuwe lewenswyse te handhaaf ten spyte van dwaalleraars (vgl. Kol 2:8). Die Jesus-volgelinge word nuwe mense, aangetrek in geregtigheid en ware heiligheid, geskep na die beeld van God (Ef 4:24). Die mate waarin die nuwe lewenswyse in gelowiges se lewe gevestig raak, is direk eweredig aan die vermoë om weerstand te bied teen die listighede van die duiwel as ’n stryd - nie teen vlees en bloed nie – maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geeste in die hemelruim (Ef 6:12).

Gebruikmaking van die metafoor van die militêre uniform veronderstel stryd selfs vir gelowiges wat tot die nuwe lewenswyse oortuig is. Efesiërs 6:10–20 suggereer hoe gelowiges kan oorleef teen bose magte. In Efesiërs word die huidige stand van die nuwe gemeenskap in Christus beskryf as die resultaat van ’n kosmiese stryd (cosmic Christology) wat vir gelowiges ’n nuwe lewe in Christus beteken (O’Brien 1999:21): ‘It must strengthen believers in the face of hostility but it must also reassure them of their strong position and offer comfort in the face of possible suffering’ (MacDonald 2008:350; vgl. Hagner 2012:600).

’n Romeinse soldaat het sy helm van ’n dienskneg ontvang:

who usually placed the helmet on the soldier’s head and handed him his sword (a short weapon used in close combat) … Salvation and the word of God are what God gives and the believer receives.

Die swaard van die Gees herinner aan die ruim verwysing na die Gees in Efesiërs (1:13, 17, 2:2, 18, 22, 3:5, 16, 4:3, 4, 23, 30, 5:18, 6:18) en word as die woord van God beskryf. (τὴν μάχαιραν τοῦ Πνεύματος, ὅ ἐστιν ῥῆμα Θεοῦ) (die swaard van die Gees, dit is die Woord van God) (Ef 6:17b). Die woord hier is ῥῆμα wat (in kontras met λόγος) (Ef 1:13) verwys na die gesproke woord. Dit is van betekenis dat die woord gesien word as ’n manier om teen die vyand weerstand te bied (MacDonald 2008:346).

Oorlewing setel in volharding as ’n weerstand teen bose magte en onbeskaamde vertroue op God, in Jesus Christus wat oorwinnaar is in die stryd, en ruimte aan gelowiges bied om teen alle verwagting in met grasie te oorleef. Dit is nie inherent aan gelowiges nie, maar kom van buite as ’n vertroosting in Christus waaroor niemand hoef te twyfel nie, ook in die getuienis na buite: ‘The closing sequence (Ef 6:10–20) is one of the most vivid portrayals of the Christian life as a spiritual struggle’ (Dunn 2009:1120).

Leef in verlenging van die verlede

Die bedoeling sou dus wees om navolgers te skep wat soos die oorspronklike meningsvormer, selfstandig kan voortgaan. Die brief sluit af met vermelding van Tigikus, die geliefde broer en getroue dienskneg van die Here (Τυχικὸς ὁ ἀγαπητὸς ἀδελφὸς καὶ πιστὸς διάκονος ἐν Κυρίῳ) (Tigikus, die geliefde broer en getroue dienskneg van die Here) (Ef 6:21). Geliefde broeder en getroue dienskneg is omskrywings wat dui op ’n persoon wat aan iemand behoort. Die woord diakonos (διάκονος), wat later gebruik word vir die amp van die diaken in die kerk: ‘should be understood as an important leadership designation but it does not refer to the office of deacon that the term later came to designate(MacDonald 2008:351). Dit is debatteerbaar hoe Tigikus se vermelding verstaan moet word. Die gereelde vermelding van sy naam in deutero-Pauliniese literatuur skep die indruk dat hy bekend was, selfs na Paulus se gevangesetting en dood. Daar word selfs gesuggereer dat Tigikus die outeur van die brief kon wees en lesers word daaraan herinner dat hy ’n besondere verhouding met Paulus gehad het (MacDonald 2008:353). Lincoln meen die vermelding van Tigikus wat sterk ooreenkoms vertoon met Kolossense 4:7, 8 ‘completes the literary device of pseudonymity which frames the letter’ (Lincoln 1990:468). Talbert (2007:171) dink iemand soos Tigikus was meer as bloot net ’n boodskapdraer: ‘He or she supplied an oral communication as well, interpreting the letter and supplementing its information with other, perhaps confidential, …’.

Indien die mening van die oorwig navorsers korrek is dat Efesiërs tot die deutero-Pauliniese briewe gereken kan word, vorm die bestaan van die brief ’n beduidende argument vir die uiteindelike doelwit van ’n meningsvormer soos deur Malina en Pilch in die vooruitsig gestel word. ‘The end goal for any change agent is development of self-renewing behaviour on the part of his clients’ (Malina & Pilch 2013:237). Wanneer die argument vanuit die hede beoordeel word, is dit nog duideliker, aangesien die kerklike verloop, vandat die Efesiërbrief geskryf is tot op hede, ’n aanduiding daarvan is dat die vernuwing wat deur Paulus as die aanvanklike meningsvormer daargestel is, inslag gevind en geslaagd was. ‘Paul was a bridge between the various Israelite stories of his day and the new story of God’s raising Jesus with a view to a forthcoming Israelite theocracy’ (Malina & Pilch 2013:238).

Die meningsvormer se gesindheid en bedoeling teenoor sy ontvangers

Die skrywer is begaan oor sy lesers (Ef 3:13), soos blyk uit sy gebed (Ef 3:14–21), as intrede by die Vader (Τούτου χάριν κάμπτω τὰ γόνατά μου πρὸς τὸν Πατέρα (Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader) (Ef 3:14). Die lesers word onder die indruk gebring dat die skrywer in verdrukking verkeer ter wille van hulle (Ef 3:13). Hy bid egter vir hulle om van God te ontvang na die maat van die rykdom van sy heerlikheid (Ef 3:16–19). Die Jesus-volgelinge aan wie die brief gerig is, word onder die indruk gebring van die gesindheid en bedoeling van die skrywer met die oog op vernuwing en bestendiging van ’n nuwe identiteit van die lesers wat hulle ook onder verpligting plaas om na die norme van hulle nuwe lewe te leef. Die lesers moet weet dat hulle in liefde gewortel en gegrond en in staat is om die omvang van die liefde van Christus te ken (Ef 3:17–19) (Carson & Moo 2005:495; vgl. Thielman 2005:394).

Derhalwe gaan dit oor wat die gevolg is vir die ontvangers van die vernuwende bedeling wat deur die meningsvormer voorgestel word en alles te make het met sy opdraggewer en die boodskap wat sodoende tot die ontvangers gerig word. Die vraag is dus: wat het God gedoen toe Jesus gesterf het en wat beteken hierdie gebeurtenis in die verlede vir die hede, vir die lewe van die ontvangers? (Malina & Pilch 2013:236).

Die appèl tot verandering vir die lesers van die brief geld tydloos en word omvou deur God in Christus, selfs reeds voor die skepping (vgl. Ef 1:4), voortgesit deur sy heerskappy oor alle magte en owerhede, om in die kerk te fokus as die uiterlike verskyning van God se werk as roepende en bemoedigende getuienis vir gelowiges van alle tye (ἵνα γνωρισθῇ νῦν ταῖς ἀρχαῖς καὶ ταῖς ἐξουσίαις ἐν τοῖς ἐπουρανίοις διὰ τῆς ἐκκλησίας ἡ πολυποίκιλος σοφία τοῦ Θεοῦ,) (Gevolglik kan die ryklik geskakeerde wysheid van God nou deur die kerk aan die owerhede en die magte in die hemel bekend gemaak word) (Ef 3:10). In dié uitspraak word die inhoud en bedoeling van die prediking beklemtoon (3:8, 9) ‘which together spell out the content of his missionary task’ (O’Brien 1999:244). Dit kom daarop neer dat God die vyandskap tussen Jood en nie-Jood deur die dood van Christus beëindig het ‘and formed a people, united across ethnic lines, in whom his presence lives’ (Thielman 2013:6015).

Slotsom

Die sosiale model van ’n meningsvormer wat in ’n alternatiewe staat van bewussyn sy opdrag van ’n opdraggewer uitvoer met die oog op vernuwing vind ’n bruikbare toepassing op die Efesiërbrief. Soos daar uit die toepassing van die resultate van die sosiaal-wetenskaplike insigte op die eksegese bruikbare insigte na vore gekom het, so blyk ook hier dat die sosiale agtergronde wat deel van mense se lewe vorm, nie net in die Bybelse verlede nie, maar ook eietyds ’n bydrae lewer. Eenvoudig gestel leef die meeste mense daagliks in ’n werkgewer-werknemer situasie waar laasgenoemde die opdrag het om eersgenoemde tevrede te stel en uiting te gee aan die gesagstruktuur wat sosiaal daardeur verwoord word.

Dieselfde geld vir die verhouding tussen opdraggewer en meningsvormer (change agency en change agent) wat veral deur die alternatiewe staat van bewussyn (alternate state of consciousness) wat deur die opdraggewer veroorsaak word, met entoesiasme en toewyding uiting gee aan sy opdrag: ‘the characteristic feature of the change agent role of apostle is that it entailed being commissioned by the God of Israel through the mediation of the resurrected Jesus’ (Malina & Pilch 2013:235).

Die meningsvormer moet deur sy inspraak en motivering die ontvangers motiveer om die voorneme te ontwikkel om te verander, ‘hence the repeated insistence of what God has done “for us”, that Jesus died “for us”, and descriptions of what forthcoming theocracy holds “for us”’ (Malina & Pilch 2013:236). Dit is belangrik om hier te onderskei tussen selfgesentreerde redes waarom ’n meningsvormer verandering voorstel en redes wat buite homself lê en waarskynlik deur sy ander staat van bewussyn teweeg gebring is en eintlik dit is wat deur sy opdraggewer gevra word.

Die sosiale verskynsel wat as vanselfsprekend aanvaar word dat mense hegte sosiale bande smee en daardeur gebind word – soms ’n lewe lank – plaas die suggestie op die tafel dat as dit horisontaal vanselfsprekend is, dit ook implikasies het vir die vertikale band waarin mense leef. Dié dimensionele siening van die wesenlike verbande waarin mense lewe, het ook ’n Bybelse toepassing wat in die vraag van die wetsgeleerde deur Jesus beantwoord is (Matt 22:35–40). Sosiale konvensie plaas die appèl ter tafel tot bewussyn van die intense verhouding tussen Jesus en gelowiges, tussen kerk en gelowiges; derhalwe tot volvoering en uitlewing van die ruimte geskep deur ‘Opdraggewer’ en meningsvormer.

Die kosmologiese siening van Jesus se heerskappy oor die totale kosmos en derhalwe ook oor die kerk wat in die Efesiërbrief gevind word, is ’n insig van die skrywer (meningsvormer) wat moeilik uitgeput word en sprekend is van kerklike essensie. Dit bring inderdaad die insig mee dat in die einde, die begin lê (Moltmann 2006:45).

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar hiermee dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig of voordelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

Literatuurverwysings

Arnold, C.E., 2016, Ephesians, Kindle edn., Zondervan, Grand Rapids, MI.

Barkhuizen, J.H., 1990, ‘The strophic structure of the eulogy of Ephesians 1:3–14’, HTS 46, 390–413. https://doi.org/10.4102/hts.v46i3.2328

Caldwell, R., 2003, ‘Models of change agency: A fourfold classification’, British Journal of Management 14, 131–142. https://doi.org/10.1111/1467-8551.00270

Carson, D.A. & Moo, D.J., 2005, An introduction to the New Testament, Zondervan, Grand Rapids, MI.

Collins, R.F., 1988, Letters that Paul did not write, Wipf & Stock, OR.

Dunn, J.D.G., 2009, Beginning from Jerusalem, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Giddens, A., 1976, New rules of sociological method: A positive critique of interpretive Sociologies, Hutchinson, London.

Giddens, A., 1981, A contemporary critique of historical materialism, Volume 1: Power, property and the state, Macmillan, London.

Gorman, M.J., 2004, Apostle of the crucified Lord, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Hagner, D.A., 2012, The New Testament. A historical and theological introduction, Baker, Grand Rapids, MI.

Hoehner, H.W., 2013, Ephesians, Kindle edn., Baker Academic, Grand Rapids, MI.

Lincoln, A.T., 1990, Ephesians, Word Books, Dallas, TX.

MacDonald, M.Y., 2008, ‘Colossians and Ephesians’, in D.J. Harrington (ed.), Sacred Pagina Series, vol. 17, pp. 1–394, Liturgical Press, MN.

Malina, B.J., & Pilch, J.J., 2013, Social science commentary on the deutero-Pauline letters, Fortress, Minneapolis, MN.

Moltmann, J., 2006, In het einde ligt het begin. Een kleine leer van de hoop, Boekencentrum, Zoetermeer.

O’Brien, P.T., 1999, The letter to the Ephesians, Kindle edn., Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Pilch, J.J., 1993, ‘Visions in revelation and alternate consciousness: A perspective from cultural anthropology’, Listening: Journal of Religion and Culture 28(3), 231–244.

Pilch, J.J., 2004, Visions and healing in the Acts of the apostles: How the early believers experienced God, Liturgical Press, MN.

Pilch, J.J., 2011, ‘Paul: A change agent: Model for the twenty-first century’, in P. Spitaler (ed.), Celebrating Paul: Festschrift in honor of Jerome Murphy-O’ Conner, O.P., and Joseph A Fitzmeyer, S. J., pp. 81–99, Catholic University Press, Washington DC.

Schlier, H., 1971, Der Brief an die Epheser, Ein Kommentar, Patmos-Verlag, Düsseldorf.

Sewell, W.H., Jr., 1992, ‘A theory of structure: Duality, agency, and transformation’, American Journal of Sociology 98(1), 1–29. https://doi.org/10.1086/229967

Talbert, C.H., 2007, Ephesians and Colossians, Baker Academic, Grand Rapids, MI.

Thielman, F., 2005, Theology of the New Testament, Zondervan, Grand Rapids, MI.

Thielman, F., 2013, Ephesians, Kindle edn., Baker Academic, Grand Rapids, MI.

Van Aarde, A.G., 2016, ‘“By faith alone” in light of change agency theory: Jesus, Paul, and the Jesus-group in Colossae’, Paper presented at the 30th anniversary of the Context Group, Menucha Retreat Center, Portland, 17–20 March 2016.

Van Wyk, B.J., 2016, ‘Jesus Christus as kefalē en die Gees as arrabōn vir die ekklēsia: ‘n eksegeties-hermeneutiese studie’, ongepubliseerde PhD-proefskrif, Noordwes-Universiteit.

Footnotes

1. Die outeursvraagstuk word met rus gelaat aangesien ’n keuse, of nie, vir Paulus geen wesenlike invloed op die onderhawige tema het nie, aangesien iemand aan die woord is wat ’n belangrike saak aan sy lesers stel tot hulle beswil.

2. Naas die outeursvraagstuk word ook nie aandag gegee nie aan die plekaanduiding wat in sommige manuskripte ontbreek en wat die vermoede laat ontstaan het dat die brief waarskynlik as ’n omsendskrywe bedoel was (Collins 1988:140; vgl. Carson & Moo 2005:488).

3. Alle vertalings in meegaande artikel geneem uit die Nuwe Testament en Psalms, ’n direkte vertaling, Bybelgenootskap van Suid-Afrika, 2014.



Crossref Citations

No related citations found.