About the Author(s)


Gabriël M.J. (Gafie) van Wyk Email
Department of Church History and Polity, Faculty of Theology, University of Pretoria, South Africa

Citation


Van Wyk, G.M.J., 2017, ‘Die lewe en werk van Rudolf Bultmann (1884–1976): ’n Leksikografiese bydrae tot Reformasie 500’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 73(1), a4593. https://doi.org/10.4102/hts.v73i1.4593

Research Project Registration:

Project Leader: W.A. Dreyer symbol

Project Number: 77370920

Description: Dr Gafie van Wyk is participating in the research project, ‘Ecumenical creeds and Confessions’, directed by Dr Wim Dreyer, Department of Church History and Church Polity, Faculty of Theology, University of Pretoria.

Original Research

Die lewe en werk van Rudolf Bultmann (1884–1976): ’n Leksikografiese bydrae tot Reformasie 500

Gabriël M.J. (Gafie) van Wyk

Received: 07 Apr. 2017; Accepted: 05 July 2017; Published: 31 Aug. 2017

Copyright: © 2017. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstract

Rudolf Bultmann was one of the leading thinkers within an influential theological direction that arose in Europe after the First World War, known as dialectical theology. Comprehensive introductions to the life and work of Bultmann in the South African theological journals, written in Afrikaans, either does not exist, or are difficult to trace for the Afrikaans readership. This article on Bultmann aims to fill the gap by offering a lexicographical contribution on the life and work of Bultmann. The focus of this article is on Bultmann as a Lutheran thinker. The theme of the New Testament and systematic theology is essentially the same, namely to explain the concept of Christian self-understanding as an eschatological event in which faith is expressed for the sake of faith in God and only in God. Bultmann explained the same theological concepts with his theology as those that were explained by the church reformers of the 16th century, but under radically new circumstances. The so-called modern and postmodern people of our time not only broke ties with the past, but in the process they also lost their ability for using historical-critical patterns of thought that tries to bridge historical distances, and therefore sacrificed all efforts to think systematically on the altar of relativism. We can learn from Bultmann what systematic reformed theology really is.

Inleiding

Rudolf Bultmann was ‘n leidende denker binne ’n invloedryke teologiese rigting wat in Europa na die Eerste Wêreldoorlog ontstaan het en soms na verwys word as die dialektiese teologie (Pannenberg 1958:168). Ondanks grondige saaklike verskille oor teologiese kwessies1 tussen Bultmann en ’n tydgenoot van hom, Karl Barth, het hulle lewenslank ’n vriendskaplike verhouding met mekaar in stand gehou (Jaspert 1994:xii). Uitvoerige korrespondensie tussen dié twee, wat tussen 1911 en 1966 gevoer is, is sowel ’n belangrike teologiese nalatenskap as ’n getuienis van die vriendskap tussen Barth en Bultmann (Jaspert 1994:1–203). Verskeie oorsigtelike artikels oor die lewe en werk van dié twee teoloë is in Engels, Duits en ander Europese tale op die internet of in druk beskikbaar. Inligting uit die databasis van Sabinet, SA ePublications (https://journals.co.za) dui daarop dat omvattende oorsigtelike inligting oor die lewe en werk van Barth en Bultmann in die Suid-Afrikaanse teologiese tydskrifte, in Afrikaans geskryf, óf nie bestaan nie, óf moeilik opspoorbaar is vir die Afrikaanse leserspubliek. Hierdie artikel oor die lewe en werk van Bultmann, gelees saam met een oor die lewe en werk van Barth, wil dié leemte vul deur in Afrikaans ’n leksikografiese bydrae te lewer oor die twee toonaangewendste teoloë. Die fokus in die artikel is op Bultmann as Lutherse teoloog.

Die lewe van Rudolf Karl Bultmann

Rudolf Bultmann het in God geglo, en hy het besef dat sy geloof ’n genadige geskenk is wat hy dankbaar en gehoorsaam uit God se hand ontvang het, en wat hom deurentyd gerig gehou het op God en die heil wat God vir ons bewerk het deur die kruis en opstanding van Jesus Christus (Van Wyk 2015a:1–9). Hy het nie anders as die kerk geglo nie.2 Bultmann se teologie is een van die vernaamste en mees oortuigende uitdrukkings van die Paulinies-Reformatoriese regverdigingsleer, en ook eg Luthers (Lohse 1974: 49–54). Hy bely saam met die Reformatoriese kerk: solus Christus, sola gratia, solo verbo, en sola fide [Christus alleen, genade alleen, die Woord alleen, en geloof alleen].3 Binne die bestek van sy teologies-aktiewe lewe (tot in die dae toe ander mense vir hom, as verswakte bejaarde, teologie moes voorlees, omdat hy weens swak sig nie meer self kon lees nie) het geloof Bultmann se lewe bepaal (Hammann 2012:491).4

Rudolf Karl Bultmann is op 20 Augustus 1884 in Wiefelstede (Oldenburg) gebore (Hammann 2012:1; Lindemann 2017:1; Schmithals 1967:3). Hy word op 23 September deur sy pa, Arthur Kennedy Bultmann, gedoop (Hammann 2012:1). As pastoriekind het liefde vir die kerk by hom ontwikkel, wat ’n prioriteit sou bly tot sy dood. Bultmann se oupa aan vaderskant was ’n sendeling in Sierra Leone (Wes-Afrika), en sy oupa aan moederskant was predikant in Baden. Hy kom uit predikantefamilies wat baie opgeoffer het ter wille van die evangelie (Hammann 2012:1–6).

Rudolf Bultmann het ’n ortodokse Christelike opvoeding ontvang, maar hy ontvang skoolonderrig aan die humanistiese Gimnasium in Oldenburg, dieselfde skool waar die filosoof Karl Jaspers (enkele jare ouer as Bultmann) ook op die skoolbanke gesit het (Hammann 2012:10; Schmithals 1967:3). Sy vader, Arthur Kennedy Bultmann, was predikant, en tot ongeveer 1900 sou sy teologiese benadering as piëtisties en biblisties getipeer kon word, maar daarna het hy stelselmatig oorbeweeg tot die vrye Protestantisme en sou sy teologiese benadering as liberaal beskryf kon word. Hierdie koerswisseling het tot spanning in die huis gelei. Bultmann se moeder, Helene, het lewenslank getrou gebly aan die herlewingsdenke waarin sy opgevoed is (Hammann 2012:2–3). Tot by die graf het Bultmann se ouers verskil oor die liberale teologie. Op sy vader se grafsteen staan Ek glo in God my Vader, en op sy moeder se grafsteen staan Ek weet dat my Verlosser leef (Hammann 2012:5–6). Sedert sy laaste Gimnasiumjare het Rudolf Bultmann begin om krities te besin oor die ortodokse opvattings aangaande geloof waarin hy opgevoed is en wat hy aanvanklik met oortuiging verdedig het. Hy berig dat dié transformasieproses moeisaam was, maar terugskouend vertel hy in 1914 dat dit vir hom verlossend was om hom te bevry van valse navorsingsmetodes, bedrieglike voorstellings van die hiernamaals en die betowering van die verouderde kerklikheid (Hammann 2012:10–11). Reeds as kind het Bultmann van die onderskeie teologiese denkrigtings kennis geneem en moes hy leer om deurdagte standpunte oor sy geloof in te neem. Die omstandighede in sy ouerhuis kon moontlik al daartoe bydra dat hy besef het dat daar na ’n teologiese weg gesoek moes word wat konsensus5 kon bewerk tussen die piëtisme en liberale teologie.

Bultmann het aan universiteite in Tübingen, Berlyn en Marburg studeer (Hammann 2012:17–34; Schmithals 1967:4). In 1910 promoveer hy op aanbeveling van Johannes Weiss by Wilhelm Heitmüller met ’n proefskrif (Dissertation) onder die titel Der Stil der paulinischen Predigt und die kynisch-stoische Diatribe. Twee jaar later word hy in Marburg met Adolf Jülicher as studieleier tot universiteitsdosent toegelaat met ’n Habilitationsschrift onder die titel Die Exegese des Theodor von Mopsuestia. Sy Dissertation is in 1910 gepubliseer, maar sy Habilitationsschrift is nie dadelik gepubliseer nie (Hammann 2012:44–54; Lindemann 2017:1; Schmithals 1967:4). In 1984 is albei die werke gepubliseer om dit vir ’n nuwe geslag lesers toeganklik te maak (Bultmann 1984a, 1984b; Lindemann 2017:1). In 1916 word Bultmann dosent in teologie in Breslau (Hammann 2012:87–93), in 1920 volg hy Wilhelm Bousset in Gießen op as dosent (Hammann 2012:113–117), maar word reeds weer in 1921 na Marburg beroep as professor (Hammann 2012:127–134). Tot en met 1920 het Bultmann nie baie gepubliseer nie, hoewel hy intensiewe navorsing gedoen het. In hierdie stadium het Bultmann nog nie ’n eie teologiese identiteit gevind nie (Schmithals 1967:3).

’n Mens aanvaar dit as vanselfsprekend dat die Eerste Wêreldoorlog wat van 28 Julie 1914 tot 11 November 1918 geduur het, ’n groot invloed op Bultmann se denke sou hê. Bultmann self ontken dit egter. Hy skryf in 1928 dat die Oorlog nie ’n noemenswaardige invloed op sy teologie gehad het nie. Hy gaan dan verder deur ’n belangrike perspektief te verduidelik, naamlik dat die innerlike konfrontasie met die teologie van ons leermeesters ’n baie groter indruk op ons denke behoort te maak as die indrukke wat ’n oorlog nalaat. Ons behoort altyd saakgebonde aansluiting by ons teologiese leermeesters te soek. Hierdie vertrekpunt van Bultmann bied aan ons ’n sleutel tot die verstaan van sy teologiese werk (Bultmann 1968b:98; Hammann 2012:95; Jüngel 2003:43, voetnota 118; Schmithals 1967:9–10, 1984:74).

Bultmann se vroeë teologie sou as liberaal beskryf kon word (Schmithals 1967:5). Die beskrywing liberale teologie word met verskeie betekenisse gebruik in die teologiese literatuur. Hier verwys dit na die teologie wat in reaksie was teen die spekulatiewe sisteme van veral Ferdinand Bauer en David Strauß en wat in die begin van die 1920’s onttroon is deur die sogenaamde dialektiese teologie (Hammann 2012:134–147; Pannenberg 1958:168; Schmithals 1967:5). Die twee vernaamste karaktertrekke van die liberale teologie was dat dit nie meer onder dwang van die oorgelewerde dogmas gestaan het nie en dat dit die Bybelse tekste histories-krities ondersoek het. Die geskiedenis en die persoon van Jesus word die fokuspunte van die teologiese navorsing. Die liberale teologie verstaan die verwerkliking van God se koninkryk as ’n wêreldlike ontwikkeling wat verband hou met die ontwikkeling van persoonlikhede – en hiervan is Jesus vir ons die modelvoorbeeld. Deur sedelike ontwikkeling moet mense uit ’n natuurlike toestand tot gekultiveerde wesens ontwikkel (Schmithals 1967:6). In hierdie verband word na die teologiese beweging verwys as kultuurprotestantisme (Schmithals 1967:6). In die 1920’s draai Bultmann weg van die liberale teologie af met die argument dat die mens in die liberale teologie vergoddelik word (Bultmann 1980:1–25; Hammann 2012:139–140; Jüngel 2003:42–46; Schmithals 1967:7).

Die wending in Bultmann se denke weg van die liberale teologie af is veral beïnvloed deur sy leermeester, Wilhelm Herrmann, en Friedrich Schleiermacher (Schmithals 1967:11). Teen 1920 verstaan hy die ryk van God nie meer as ’n ryk wat deur mense tot stand gebring word nie, maar as ’n geskenk wat hulle van God ontvang, want God is die geheimenisvolle Gans Andere, wat die lot van die mense en hulle lewens bepaal. Hy vind in hierdie stadium aansluiting by die dialektiese teologie en word saam met Karl Barth en Friedrich Gogarten die vernaamste verteenwoordigers van dié rigting (Hammann 2012:134; Schmithals 1967:7, 12). Bultmann se teologiese rigtingverandering moet nie vertolk word as ’n totale afkering van die liberale teologie nie. Hy het waardering behou vir die legitieme historiese kennis wat deur die liberale teologie ontsluit is deur die gebruik van die histories-kritiese metode (Schmithals 1967:12). Bultmann het hom krities afgegrens teen die kompromisse wat die ortodokse universiteitsteologie aangegaan het tussen die resultate van kritiese historiese ondersoek en die tradisionele kerklike opvattings (Schmithals 1967:14).

’n Volgende invloed op die ontwikkeling van Bultmann se denke kom deur die kontak wat hy tussen 1923 en 1928 met Martin Heidegger, filosoof in Marburg, gehad het. Die latere denke van Heidegger het nie enige invloed op Bultmann gehad nie. Dit was nooit Bultmann se intensie om Heidegger se filosofie op te neem in sy teologie nie. Dit was alleen Heidegger se noukeurige besinning oor die lewe wat deur die geskiedenis bepaal word wat Bultmann geïnteresseer het. Bultmann gebruik alleen maar die eksakte begripsanalise van Heidegger oor die menslike Dasein [daar-wees] in sy teologie (Hammann 2012:192–206; Schmithals 1967:14–19).

Bultmann se teologie is natuurlik meer as net die vermenging van liberale en dialektiese teologie, geklee in die baadjie van Heidegger se filosofie. Dit is selfstandige denke met die intensie om God se Woord en onsself beter te verstaan. Sy teologie het teen die 1930’s ’n vaste, selfstandige vorm aangeneem wat vir die volgende ongeveer 40 jaar sy teologiese bydraes sou kenmerk (Schmithals 1967:19). Natuurlik het hy voortdurend sy gedagtes verduidelik en dit bly verfyn en verdiep. Hy het gelate die kritiek van ander mense op sy teologie verduur, maar is tog intens daardeur geraak, omdat hy deur sy teologie niks anders wou doen nie as om Jesus Christus en sy kerk te dien (Schmithals 1967:20). In 1960 het hy wel in Kerygma und Mythos I geskryf dat dit vir hom ongelooflik is hoeveel mense ’n mening oor sy teologie het, sonder dat hulle ’n enkele woord gelees het wat hy geskryf het (Schmithals 1967:21). In ons eie tyd is dit steeds so dat mense sterk menings oor ander se teologie vorm op grond van hoorsê en skinderpraatjies. Ons sal onsself ’n guns doen deur meer te lees en beter te probeer verstaan waar dit oor Christus en sy kerk gaan.

Bultmann se studente sluit belangrike persone in, soos Hans Jonas, Ernst Käsemann, Günther Bornkamm, Hannah Arendt, Gerhard Ebeling, Walter Schmithals en Helmut Koester.6

Bultmann se lewe het meer as teologiebeoefening behels. Hy trou op 06 Augustus 1917 met Helene Feldmann (Hammann 2012:81–87). Die egpaar het drie dogters gehad, naamlik Antje, Heilke en Gesine (Hammann 2012:247). Die gesin se lewe word gekenmerk deur intense liefde vir mekaar. By Bultmann se huis is baie besoekers ontvang en hegte vriendskappe is gesmee. Daar is musiek gemaak, en die vreugde van die lewe is met mekaar gedeel. Bultmann het saam met sy vrou en gesin gereis en deelgeneem aan die sosiale en kulturele lewe (Hammann 2012:247–253, 330–350, 388–397, 482–493).

Bultmann sterf op 30 Julie 1976 vreedsaam in sy eie huis, by Calvynstraat 14, Marburg, met sy oudste dogter, Antje, wat sy hand vashou. Die hoë ouderdom (amper 92) wat hy bereik het, het meegebring dat hy talle goeie vriende en familielede oorleef het (Hammann 2012:500). Die dood van sy vriende en familielede het hom gedwing om oor die dood en sy eie begrafnis na te dink. Hy is op 04 Augustus 1976 in Marburg begrawe (Hammann 2012:500). Christian Zippert, die plaaslike predikant, het die roudiens gelei. Daar was egter (op sy versoek, in navolging van sy vader) geen preek en huldeblyke nie. Die rede hiervoor was dat hy as mens, volgens sy eie oordeel, nie belangrik was nie. Die Woord het die sentrale plek gekry tydens sy begrafnis. Daar is gelees uit 2 Korintiërs 4:6–10, 5:1–7, Johannes 5:21–25, 11:25–26, en Psalm 103. Naas die evangelielesings is ook na musiek geluister, of dan na die evangelie soos musikaal verwerk deur Bach en Mozart. Sy grafsteen (wat hy met sy vrou deel) is eenvoudig en simplisties. Net hulle name met die datums is daarop gegraveer (Hammann 2012:500–502).

Bultmann het in sy lewe nie net ’n bepaalde teologiese standpunt verdedig oor wat geloof is nie, maar het sy geloofsoortuiging ook konsekwent uitgeleef. Sy geloofsoortuiging kom byvoorbeeld duidelik aan die lig in sy reaksie op die toekenning van die Pruisiese orde van meriete aan hom op 84-jarige ouderdom. Hoewel Bultmann groot waarde aan hierdie toekenning geheg het, het hy in sy private hoedanigheid daarop gewys dat ’n mens in geloof alle werke, prestasies en verdienstes wat tot selfverheerliking kan lei, moet prysgee en jouself vertrouend op God aan die genade van God moet oorgee (Hammann 2012:481; Van Wyk 2015a:8).

Belangrike momente in Bultmann se lewe7
1884 Bultmann is op 20 Augustus in Wiefelstede (Oldenburg) gebore
Gedoop deur sy Vader op 23 September.
1899 Aflegging van geloofbelydenis op 26 Mei in St Lamberti.
1903 Voltooi skoolloopbaan aan die humanistiese Gimnasium in Oldenburg
Studeer vanaf 7 Mei teologie in Tübingen vir drie semesters.
1904 Studeer in Berlyn vir twee semesters.
1905 Studeer in Marburg vir twee semesters.
1906 Aflegging van die teologiese eksamen vanaf April (die eksamen duur ’n driekwart jaar).
1907 Studeer in Marburg.
1910 Promoveer by Wilhelm Heitmüller met ’n proefskrif (Dissertation) onder die titel Der Stil der paulinischen Predigt und die kynisch-stoische Diatribe.
1912 Met Adolf Jülicher as studieleier word Bultmann tot universiteitsdosent toegelaat met ’n Habilitationsschrift onder die titel Die Exegese des Theodor von Mopsuestia.
1916 Dosent in Breslau.
1917 Tree op 6 Augustus in die huwelik met Helene Feldmann.
1918 Antje – gebore 27 Julie.
1920 Gesine – gebore 01 Julie.
1920 Dosent in Gießen.
1921 Professor in Marburg.
1924 Heilke – gebore 21 Februarie.
1944 Vanaf die herfs van 1944 tot aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog huisves Bultmann die familie van Uta Ranke-Heinemann, wat moes vlug vanweë die bombardering en vernietiging van Essen.
1951 Aanvaar emeritaat.
1976 Bultmann sterf op 30 Julie.
Hy is op 04 Augustus in Marburg begrawe.
Bultmann het verskeie vererings ontvang, waaronder die volgende
1920 Eredoktorsgraad van die Fakulteit Teologie van die Universiteit van Marburg.
1935 Eredoktorsgraad van die Universiteit van St Andrews, Skotland.
1959 Eredoktorsgraad van die Universiteit van Syracuse, New York.
Eredoktorsgraad van die Fakulteit Filosofie van die Universiteit van Marburg.
Hy het ook erkenning ontvang, onder andere die volgende
1932 Erelid van die Akademie van Wetenskappe in Oslo, Noorweë.
1950 Erelid van the Society of Biblical Literature and Exegesis.
1968 Erelid van die Academia Nazionale in Lincei, Rome.
1969 Erelid van die Wetenskaplike Vereniging vir Teologie.
1949 Lid van die Academia Goetheana in Sao Paulo.
1958 Lid van die Akademie van Wetenskappe in Heidelberg.
1960 Lid van die Akademie van Wetenskappe in Göttingen.
1954 Orde van verdienste in die kulturele lewe van die landstreek Hesse.
1959 Orde van verdienste van die Bondsrepubliek van Duitsland, in die klas van die groot verdienstekruis.
1964 Ster van verdienste van die Bondsrepubliek van Duitsland.
1974 Skouerband van verdienste van die Bondsrepubliek van Duitsland, wat op sy 90ste verjaardag aan hom oorhandig is.

Bultmann se bydrae tot die Reformatoriese teologie

Oorsig

Die naam Rudolf Bultmann is vir baie mense sinoniem met die eksistensiële interpretasie van die Nuwe Testament of met sy hermeneutiese metode van ontmitologisering. Bultmann se bydrae tot die teologie in die algemeen en die Reformatoriese teologie in die besonder behels egter veel meer as net hierdie twee aangeleenthede. In 1984 het die president van die Heidelbergse Akademie van die Wetenskappe in ’n toespraak voor dié Akademie Bultmann beskryf as die belangrikste navorsingspersoonlikheid van die Protestantse teologie in Duitsland in die 1900’s (Hammann 2012:505–508). Die feit dat Bultmann spesifiek as die belangrikste navorsingspersoonlikheid beskryf word, dui aan dat mense Bultmann ’n onreg aandoen deur sy bydrae tot die teologie te wil fokus op een of twee kontroversiële aangeleenthede. Hy was een van die produktiefste skrywers van sy tyd, en al sy skryfwerk getuig van deeglike saakgebonde navorsing. Die teologiese sake waaroor Bultmann geskryf het, het sy agenda bepaal en nie pogings om sy eie programme te dryf nie. Bultmann was eksegeet en sistematiese denker tegelyk. Sy histories-kritiese arbeid het altyd ’n teologiese karakter gehad omdat hy hom deurgaans met die teologiese saak van die teks bemoei het. Bultmann se skryfstyl was treffend eenvoudig, maar met ’n sistematiese kwaliteit wat getuig van weldeurdagte kritiese denke. Die tema wat soos ’n goue draad deur al sy werk loop, is geloof. Met sy navorsing wou Bultmann geloof in Jesus, die Here, dien – en so wou hy die kerk dien.

’n Seleksie van Bultmann se belangrikste publikasies8
1921 Die Geschichte der synoptischen Tradition (Bultmann 1979).
1926 Jesus (Bultmann 1977).
1933 Glauben und Verstehen, Gesammelte Aufsätze, Bd. I (Bultmann 1980).
1941 Das Evangelium des Johannes, Kritisch-exegetischer Kommentar 2 (Bultmann 1978).
Offenbarung und Heilsgeschehen (Bultmann 1941).
Neues Testament und Mythologie, in H-W Bartsch, (Hg) Kerygma und Mythos, Bd. I: Ein theologisches Gespräch, S. 15–53 (Bultmann 1998).
1948–53 Theologie des Neuen Testaments (Bultmann 1961).
1949 Das Urchristentum im Rahmen der antiken Religionen (Bultmann 2000).
1952 Glauben und Verstehen, Gesammelte Aufsätze, Bd. II (Bultmann 1968a).
1956 Marburger Predigten (Bultmann 1968b).
1957 History and Eschatology (Bultmann 1975a).
1960 Glauben und Verstehen, Gesammelte Aufsätze, Bd. III (Bultmann 1965).
1965 Glauben und Verstehen, Gesammelte Aufsätze, Bd. IV (Bultmann 1975b).
1967 Die drei Johannesbriefe, Kritisch-exegetischer Kommentar 14 (Bultmann 1969).
Exegetica, Aufsätze zur Erforschung des Neuen Testaments (Bultmann 1967).
1976 Der zweite Brief an die Korinther, Kritisch-exegetischer Kommentar Sonderband (Bultmann 1976).
1984 Der Stil der paulinischen Predigt und die kynisch-stoische Diatribe (Bultmann 1984b).
Die Exegese des Theodor von Mopsuestia (hg H. Feld und K. H. Schelkle) (Bultmann 1984a).
Das verkündigte Wort: Predigten – Ansprachen – Andachten 1906–1941 (Bultmann 1984d).
Theologische Enzyklopädie, Vorlesung (hg E. Jüngel und K.W. Müller) (Bultmann 1984c).
2002 Theologie als Kritik, Ausgewählte Rezensionen und Forschungsberichte, (hg Matthias Dreher und Klaus W. Müller) (Bultmann 2002a).
Neues Testament und christliche Existenz. Theologische Aufsätze, (hg Andreas Lindemann) (Bultmann 2002b).

Naas die publikasies wat hierbo gelys is, het Bultmann gereeld artikels in vakwetenskaplike tydskrifte gepubliseer. Verder het hy verskeie bydraes gelewer tot die Theologisches Wörterbuch zum Neuen Testament (Friedrich & Kittel 1990), die Reallexikon für Antike und Christentum (Dassmann, Klauser & Schöllgen 2015), en die tweede sowel as die derde uitgawes van Die Religion in Geschichte und Gegenwart (Gunkel 1927–1931; Galling 1957–1965). Hy het verskeie dagboeke nagelaat, en sommige van sy korrespondensie met kollegas en vriende is as verskeie volumes in boekvorm gepubliseer (Hammann 2012:518–520). Wat hier genoem word, is eintlik net die spits van die ysberg. ’n Chronologiese lys van Bultmann se publikasies wat in 2012 gepubliseer is, beslaan 77 gedrukte bladsye (Landmesser 2012:1–77).

Bultmann se nalatenskap

Bultmann beskryf eksegese as ’n terugwending na die geskiedenis toe met die doel om die verstaan van die Skrif op so ‘n wyse ter sprake te bring dat dit as regulering van die kerklike verkondiging na die maatstaf van die Skrif sal dien. Teologie behoort altyd sonder enige uitsondering historiese teologie te wees (Jüngel 2003:22). Die historiese arbeid van eksegese hang egter nie in die lug nie, maar word gemotiveer deur die oombliklike en konkrete pogings van mense om hulself te verstaan (Jüngel 2003:23). Eksegese is daarom op die eietydse mense gerig. Om hierdie rede is alle teologie ook sistematiese teologie (Jüngel 2003:18). Die tema van Nuwe-Testamentiese en sistematiese teologie is in wese dieselfde, naamlik die begripsverklaring van die Christelike selfverstaan, in die besonder die eskatologiese gebeure wat in geloof ter wille van geloof betuig word. Bultmann worstel in sy teologie met dieselfde probleme as dié waarmee die Kerkhervormers van die 16de eeu geworstel het, maar onder radikaal veranderde omstandighede. Soos die Kerkhervormers van destyds, bly Bultmann by die essensie van die belangrikste teologiese sake. Dit is vanuit hierdie oogpunt dat hy die standpunt huldig dat wanneer teologie onnodig opgesmuk en ingewikkeld raak, dit waarskynlik nie meer met die essensie van die geloof besig is nie. Wie Bultmann eerstehands lees, word sensitief gemaak vir die wesentlike vraagstukke van die geloof en word gemotiveer om histories-krities en sistematies na te dink oor die boodskap van die evangelie. Die sogenaamde moderne en postmoderne mense van ons tyd wat nie alleen bande met die verlede gebreek het nie, maar in die proses ook ’n historiese bewussyn verloor het en so ’n aversie ontwikkel het vir alles wat as ‘dogmaties’ beskryf sou kon word dat alle pogings om sistematies na te dink geoffer word op die altaar van relativisme, kan dalk by Bultmann gaan kers opsteek – ook wat saakgebonde Reformatoriese denke beteken.

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

Literatuurverwysings

Bultmann, R., 1941, Offenbarung und Heilsgeschehen, Verlag Lempp, München.

Bultmann, R., 1961, Theologie des Neuen Testaments, 4. Aufl., J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.

Bultmann, R., 1965, Glauben und Verstehen: Gesammelte Aufsätze, 3. Bd., 3. Aufl., J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.

Bultmann, R., 1967, Exegetica, Aufsätze zur Erforschung des Neuen Testaments, E. Dinkler (Hg.), J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.

Bultmann, R., 1968a, Glauben und Verstehen, Gesammelte Aufsätze, 2. Bd., 5. Aufl., J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.

Bultmann, R., 1968b, Marburger Predigten, 2. Aufl., J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.

Bultmann, R., 1969, Die drei Johannesbriefe, 2. Aufl., Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.

Bultmann, R., 1975a, History and eschatology, 3rd edn., Edinburgh University Press, Edinburgh. (The Gifford Lectures).

Bultmann, R., 1975b, Glauben und Verstehen: Gesammelte Aufsätze, 4. Bd., 3. Aufl., J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.

Bultmann, R., 1976, Der zweite Brief an die Korinther, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.

Bultmann, R., 1977, Jesus, 3. Aufl., Gütersloher Verlagshaus Mohn, Gütersloh.

Bultmann, R., 1978, Das Evangelium des Johannes, 20. Aufl., Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.

Bultmann, R., 1979, Die Geschichte der synoptischen tradition, 5. Aufl., Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.

Bultmann, R., 1980, Glauben und Verstehen: Gesammelte Aufsätze, 1. Bd., 8. Aufl., J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.

Bultmann, R., 1984a, Die Exegese des Theodor von Mopsuestia, H. Feld & K.H. Schelkle (Hg.), Verlag W. Kohlhammer, Stuttgart.

Bultmann, R., 1984b, Der Stil der paulinischen Predigt und die kynisch-stoische Diatribe, Mit einem Geleitwort von Hans Hübner, Nachdruck der 1. Auflage von 1910, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.

Bultmann, R., 1984c, Theologische Enzyklopädie, E. Jüngel & K.W. Müller (Hg.), J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.

Bultmann, R., 1984d, Das verkündigte Wort: Predigten – Andachten – Ansprachen 1906–1941, E. Grässer (Hg.), J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.

Bultmann, R., 1998, Neues Testament und Mythologie. Das Problem der Entmythologisierung der neutestamentlichen Verkündigung, E. Jüngel (Hg.), Nachdruck der 1941 erschienenen Fassung, Kaiser Verlag, München. (Beiträge zur evangelischen Theologie, 96).

Bultmann, R., 2000, Das Urchristentum im Rahmen der antiken Religionen, Patmos, Düsseldorf.

Bultmann, R., 2002a, Theologie als Kritik, Ausgewählte Rezensionen und Forschungsberichte, M. Dreher & K.W. Müller (Hg.), J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.

Bultmann, R., 2002b, Neues Testament und christliche Existenz: Theologische Aufsätze, A. Lindemann (Hg.), J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.

Dassmann, E., Klauser, T. & Schöllgen, G. (Hg.), 2015, Das Reallexikon für Antike und Christentum und das F. J. Dölger-Institut in Bonn, Mit Registern der Stichwörter A bis Pegasus, sowie der Autoren, Bände 1–26, und Supplement-Band 1, Aaron – Biographie II, Anton Hiersemann Verlag, Stuttgart.

Friedrich, G., & Kittel, G. (Hg.), 1990, Theologisches Wörterbuch zum Neuen Testament, 11 Bände, Verlag W. Kohlhammer, Stuttgart.

Galling, K. (Hg.), 1957–1965, Die Religion Geschichte und Gegenwart, Handwörterbuch für Theologie und Religionswissenschaft, Bände 1–6 und Register, 3. Aufl., J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.

Gunkel, H. (Hg.), 1927–1931, Die Religion Geschichte und Gegenwart, Handwörterbuch für Theologie und Religionswissenschaft, Bände 1–6 und Register, 2. Aufl., J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.

Hammann, K., 2012, Rudolf Bultmann. Eine Biographie, 3. Aufl., J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.

Hammann, K., 2016, ‘Barth und Bultmann’, in M. Beintker (Hg.) Barth Handbuch, S. 96–101, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.

Jaspert, B., 1994, Karl Barth – Rudolf Bultmann Briefwechsel 1911–1966, 2. Aufl., Theologischer Verlag, Zürich.

Jüngel, E., 1982, ‘Karl Barth’, in Barth-Studien, S. 15–21, Benziger Verlag, Zürich-Köln.

Jüngel, E., 2003, ‘Glauben und Verstehen. Zum Theologiebegriff Rudolf Bultmanns’, in Wertlose Wahrheit: Zur Identität und Relevanz des christlichen Glaubens: Theologische Erörterungen III, 2. Aufl., S. 16–77, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.

Jüngel, E., 2011, Das Evangelium von der Rechtfertigung des Gottlosen als Zentrum des christlichen Glaubens, 6. Aufl., J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.

Koekemoer, P.J.T., 1965, ‘Rudolph Bultmann: nie saam met die kerk en soos die kerk nie’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 71(3), 17–26.

Landmesser, C. (Hg.), 2012, Bibliographie zu Rudolf Bultmann, Erstellt von Oskar Hackenberg, ergänzt von Matthias Dreher und Bernhard Petri-Hasenöhrl, weitergeführt von Christof Landmesser, Andreas Klein und Roman Michelfelder, Stand 01 Oktober 2012, besigtig op 6 April 2017 by http://www.univie.ac.at/bultmann/bilder/Bibliographie_neu.pdf

Landmesser, C. (Hg.), 2017, Bultmann Handbuch, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen (Publikasiedatum Julie 2017).

Lindemann, A., 2017, ‘Bultmann’, in H.D. Betz, D.S. Browning, B. Janowski & E. Jüngel (Hg.) Religion in Geschichte und Gegenwart, Handwörterbuch für Theologie und Religionswissenschaft, 4. Aufl., besigtig op 07 April 2017 by http://dx.doi.org/10.1163/2405-8262_rgg4_COM_02520 (die skakel bied na registrasie aanlyn toegang tot die artikel).

Lohse, E., 1974, ‘Rudolf Bultmann als lutherischer Theologe. Zum 90. Geburtstag des Marburger Neutestamentlers am 20. August 1974’, Luther 45(1), 49–54.

Pannenberg, W., 1958, ‘Dialektische Theologie’, in K. Galling (Hg.), Die Religion Geschichte und Gegenwart, Handwörterbuch für Theologie und Religionswissenschaft, 3. Aufl., 2. Bd., S. 168–174, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.

Schmithals, W., 1967, Die Theologie Rudolf Bultmanns, 2. Aufl., JCB Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.

Schmithals, W., 1984, ‘Ein Brief Rudolf Bultmanns an Erich Foerster’, in B. Jaspert (Hg.), Rudolf Bultmanns Werk und Wirkung, S. 70–80, Wissenschaftlihe Buchgesellschaft, Darmstadt.

Van Wyk, G.M.J., 2015a, ‘Rudolf Bultmann – Evangelie en geloof’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 71(3), Art. #3039, 1–9. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v71i3.3039

Footnotes

1. In der Beziehung zwischen Karl Barth und Rudolf Bultmann (1884–1976) wechselten Phasen der Nähe und der Distanz, eines partiellen theologischen Einverständnisses und eines schier unüberbrückbaren Nichtverstehens, einander ab (Hammann 2016:96). Nadat Hammann (2016:96–101) ’n kronologiese oorsig oor die raakpunte en verskille in die teologiese ontwikkeling van Barth en Bultmann se denke gegee het, kom hy tot ’n gevolgtrekking oor die wese van die saak: Barth suchte auf Grund der Wirklichkeit der Offenbarung die in der souveränen Freiheit Gottes begründete Möglichkeit der Offenbarung trinitätstheologisch nachzuvollziehen. Deshalb wählte er die Analogie zu der diesem Anliegen adäquaten Denkform. Demgegenüber begriff Bultmann die Offenbarung als das eschatologische Geschehen, das in paradoxer Weise mit einem historischen Ereignis – der Geschichte Jesu – identisch ist. Deshalb gab er als Kriterium der Wahrheit theologischer Aussagen deren anthropologische Relevanz aus (Hammann 2016:101).

2. Koekemoer 1965:17–26 oordeel anders, maar oortuig nie.

3. Bultmann stel die saak onderliggend aan die sogenaamde Reformatoriese ekslusiwiteitspartikels, naamlik die regverdiging van die sondaars, deurlopend aan die orde in sy teologie (kyk Jüngel 2011:126–127).

4. Werner Georg Kümmel het die ruimhartige voorbeeld van sy leermeester Hans von Soden gevolg, wat hom – toe hy nog Von Soden se assistent was – aan emiritus Adolf Jülicher beskikbaar gestel het as hulp, deur een van sy assistente, Otto Merk, sedert 1963 aan Bultmann beskikbaar te stel as hulp (Hammann 2012:491).

5. Konsensus (oor die waarheid) word onderskei van kompromieë (wat gesluit word om verskillende standpunte te akkommodeer). Eine ordentliche Theologie macht keine Kompromisse (Jüngel 1982:18).

6. Die Bultmann Handbuch (Landmesser 2017) wat in Julie 2017 gepubliseer word, sal aandag wy aan die verhoudings van Bultmann met die volgende mense: Martin Rade, Hermann Gunkel, Friedrich Gogarten, Martin Heidegger, Karl Barth, Karl Jaspers, Hans von Soden, Emanuel Hirsch, Rudolf Otto, Bultmann se Marburgse kollegas, Heinrich Schlier, Hans Jonas, Ernst Käsemann, Gerhard Ebeling, Ernst Fuchs, Günther Bornkamm, Herbert Braun, Hans Conzelmann, Walter Schmithals, Hans-Georg Gadamer, Gerhard Krüger, Karl Löwith en Wilhelm Anz. Dit gee ’n aanduiding van Bultmann se uitgebreide kontak met en invloed op sy tydgenote.

7. Die omvattende Bultmann-biografie deur Hammann (2012) bied nie ’n tydtafel aan die leser oor die lewe en werk van Bultmann nie, maar die werk bied wel omvattende registers van instellings, periodika, plekke, persone en sake wat dit maklik maak om inligting oor spesifieke sake in hierdie goudmyn van inligting oor die lewe en werk van Bultmann op te spoor (Hammann 2012:549–584).

8. Hammann (2012:511–541) bevat ‘n omvattende bibliografie wat naas Bultmann se publikasies ook ongedrukte bronne, briewe, dagboeke en bibliografiese hulpmiddels lys. Die Bultmann Handbuch (Landmesser 2017) wat in Julie 2017 gepubliseer word, sal opgedateerde bibliografiese inligting aan die navorsingsgemeenskap bied.


 

Crossref Citations

1. Heaven, hell, and saving souls: Were we always wrong?
Pieter Verster
Pharos Journal of Theology  year: 2021  
doi: 10.46222/pharosjot.102.023