About the Author(s)


Ignatius W.C. (Natie) van Wyk Email
Department of Church History and Polity, Faculty of Theology, University of Pretoria, South Africa

Citation


Van Wyk, I.W.C., 2017, ‘Die lewe en werk van Philipp Melanchthon (1497–1560): ’n Leksikografiese bydrae tot Reformasie 500’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 73(1), a4575. https://doi.org/10.4102/hts.v73i1.4575

Research Project Registration:

Project Leader: W.A. Dreyer symbol

Project Number: 77370920

Description: Prof. Natie van Wyk is participating in the research project, ‘History of the Netherdutch Reformed Church/Geskiedenis van die Nederduitsch Hervormde Kerk’, directed by Dr Wim Dreyer, Department of Church History and Church Polity, Faculty of Theology, University of Pretoria.

Original Research

Die lewe en werk van Philipp Melanchthon (1497–1560): ’n Leksikografiese bydrae tot Reformasie 500

Ignatius W.C. (Natie) van Wyk

Received: 29 Mar. 2017; Accepted: 10 June 2017; Published: 27 Nov. 2017

Copyright: © 2017. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstract

This article is a contribution to a research project of the Department of Church History and Church Polity at the University of Pretoria on the biography and work of the Reformers of the sixteenth century and their followers. The life and work of Philipp Melanchthon receives attention in the article. Melanchthon’s contribution to Reformation theology as well as his contributions to church-life, are described. Melanchthon was the man next to Luther and he therefore has to receive attention in this year of celebration and commemoration.

Agtergrond en Inleiding: Lewe

Lewensloop
1497 Philipp Schwartzerdt word op 16 Februarie in Bretten, naby Heidelberg, gebore.
1508 Philipp se pa en oupa sterf.
1508 November: Latynskool in Pforzheim.
1509 14 Oktober: Studie in Heidelberg.
1509 Op 15 Maart verander Johannes Reuchlin Philipp Schwartzerdt se naam na Philipp Melanchthon.
1511 Hy ontvang op 10 Junie die graad Baccalaureus Artium.
1512 Hy studeer vanaf 17 September met spesiale toestemming as 15-jarige in Tübingen vir ’n Magister.
1514 Hy behaal op 25 Januarie as 17-jarige ’n Magister in Grieks in Tübingen.
1518 Sy Griekse grammatika word op 15 Mei 1518 gepubliseer.
1518 Professor in Grieks in Wittenberg op 21-jarige ouderdom (28 Augustus).
1519 Op 19 September ontvang hy die graad Baccalaureus Biblicus.
1520 Hy trou met Katharina Krapp.
1521 Eerste uitgawe van die Loci Communes.
1522 Sy dogter Anna word gebore.
1528 Hy hervorm die skoolsisteem in Sakse.
1529 Godsdiensgesprekke in Marburg.
1530 Ryksdag in Augsburg en die bekendstelling van die Confessio Augustana op 25 Junie.
1540 Godsdiensgesprekke in Worms begin op 28 Oktober.
1547 Sy dogter Anna sterf.
1551 Julie: Bekendstelling van die Confessio Saxonica.
1553 Die eerste Duitse uitgawe van die Loci.
1557 Sy vrou Katharina sterf.
1560 Philipp sterf op 19 April.1
Sy lewensverhaal

Philipp is in die laat-Middeleeue, op 16 Februarie 1497, in Bretten, Duitsland gebore as seun van die wapensmid Georg Schwartzerdt en sy vrou Barbara. In 1508 gaan woon hy as 11-jarige weeskind by sy oom in Pforzheim wat sy van ‘Schwarzerdt’ (wat letterlik ‘swart aarde’ beteken) in die humanistiese gees op 15 Mei 15092 omvertaal in Grieks tot ‘Melanchthon’. Vanaf 1531 het die lispelende Philipp sy van vereenvoudig na ‘Melanthon’ (die akademiese literatuur het hom egter nie hierin gevolg nie) (Scheible 2014:164).

Melanchthon kom uit ’n welgestelde familie. Sy oupa aan moederskant was ’n vermoënde koopman. Hy kon bekostig om ’n ‘huisonderwyser’ Johannes Unger aan te stel, wat Philipp van jongs af Latyn geleer het. Ná die dood van sy pa en oupa in 1508, het hy die ‘Latyn-skool’ van Georg Simler en Johannes Hiltebrant bygewoon. Hier kon hy, naas Latyn, ook Grieks as vak neem. Hy ontvang slegs een jaar skoolonderrig (Scheible 1992:371; 2016:15–18).

Vanaf 14 Oktober 1509 studeer hy as 12-jarige kind in Heidelberg. In Heidelberg studeer hy grammatika, dialektiek en retoriek met klem op die logika. Melanchthon was nie beïndruk met die via moderna nie (die filosofiese rigting van Willem van Ockham), en hy konsentreer eerder op die via antiqua (die filosofiese rigting van Aristoteles). Só kom hy in aanraking met Pallas Spangel (’n leerling van Johannes Wimpfeling, wat in daardie tyd al op hervormings in die universiteitswese aangedring het). Ná studie van drie jaar behaal hy die BA-graad (Baccalaureus Artium in Via Antiqua) aan Duitsland se oudste universiteit, Heidelberg. Hierdie universiteit weier hom egter toelating tot ’n Magister aangesien hy te jonk was. Dit is egter opgeteken dat die kind, Philipp, in Heidelberg lesings in verskeie vakgebiede uitgewerk het wat dan deur die professore namens hom voorgedra is (Scheible 1992:371; 2016:24).

Danksy die invloed van sy oom, Johannes Reuchlin, word hy op 11 Desember 1512 toegelaat om aan die Universiteit van Tübingen as ’n 15-jarige kind aan ’n Meestersgraad in Grieks te werk. Op 25 Januarie 1514 behaal hy hierdie Graad as ’n 17-jarige. Die Universiteit stel hom aan as voltydse dosent. Gedurende die volgende vier jaar het hy ’n grondige studie gedoen van die Skolastiek sowel as die Griekse filosofie, antieke letterkunde en Hebreeus. Op 15 Mei 1518 word sy Griekse grammatika gepubliseer. Hierdie handboek sou vir bykans 200 jaar in Europa gebruik word. Dit het tientalle herdrukke beleef.

Die dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe wat administratief verantwoordelik was vir sy magisterpromosie, Johannes Kreß, het ’n volgeling van die Reformasie geword. Hy is tydens die boere-opstande in 1525 tereggestel. Volgens Melanchthon was hy die eerste Protestantse martelaar. Hy het hom die humanistiese naam, ‘Croeses’, gegee. Melanchthon se kollegas in Tübingen het hom geloof as die grootste geleerde naas Erasmus van Rotterdam. Hy self het ’n verlangse verbintenis met Erasmus gehad. Hy was bevriend met die veel ouer Johannes Oekolampadius (die latere Switserse reformator) wat in 1515 in Basel ’n graad in die teologie verwerf het, en dáár vir Erasmus gehelp het met die samestelling van die Griekse Nuwe Testament. Hulle het hier en daar van Melanchthon se kennis gebruik gemaak, en vandaar Erasmus se band met Wittenberg (vgl. Kuropka 2010:18–21; Lorenz 2010; Scheible 2016:24–33 vir volledige inligting oor hierdie periode).

Die Universiteit van Wittenberg wou aanvanklik vir die wêreldberoemde Johannes Reuchlin beroep. Hy het egter aanbeveel dat hulle eerder sy begaafde nefie beroep. In 1518 word Melanchthon, as 21-jarige, as professor in Grieks in Wittenberg aangestel. Die Universiteit van Wittenberg is in 1502 gestig met die bedoeling dat studente dáár al die klassieke tekste in letterkunde, filosofie en teologie nie net in Latyn nie, maar ook in Grieks en Hebreeus, moes bestudeer. Op 28 Augustus 1518 het hy sy intreerede (Melanchthon [1518] 2011) gehou oor die hervorming van die universiteitswese onder die titel ‘De corrigendis adulescentiae studiis’ [Die verbetering van die onderrig van die jeug]. Die ‘verbeteringe’ wat moes intree, het te make gehad met die terugkeer na die bronne van die Westerse beskawing, soos die Griekse filosofie en digkuns. Daarbenewens moes die jeug geskiedenis en wiskunde geleer word (Scheible 2014:164–165; 2016:39–40).3 Spoedig het Luther by Melanchthon Grieks begin loop, terwyl hy weer by Luther teologie gaan studeer het.4 Reeds op 19 September 1519 disputeer Melanchthon vir die graad Baccalaureus Biblicus. Sy disputasie het gehandel oor kritiek op die Roomse transsubstansiasieleer en die priesterwyding (dus nog voordat Luther hieraan aandag gegee het (Scheible 1992:372–375, 2014:165).

Luther het gou besef dat Melanchthon ’n vrou in sy lewe nodig gaan hê en het daadwerklik vir hom ’n goeie vrou gesoek. In 1520 trou hy onder druk van Luther met die 23-jarige Katharina Krapp. Deur die loop van die 37-jarige huwelik het hy vir haar baie lief geraak. Die egpaar het vier kinders gehad (vgl. Jung 2010b:27–29).

Melanchthon het aanvanklik in ’n klein, beskeie huisie gewoon. In 1536 het keurvors Johann Friedrich van Sakse vir hom ’n baksteenhuis met 11 kamers laat bou, wat vandag ’n museum is wat jaarliks deur meer as ’n miljoen toeriste besoek word. Naas Luther, was hy die hoogs-betaalde professor in Wittenberg. Op hierdie wyse het die vors verseker dat hulle vir Wittenberg behoue bly. Hy het verder ’n manlike huisbediende gehad wat 34 jaar lank vir hom gewerk het. Dít was nodig aangesien daar talle buitelandse studente en weeskinders by hulle tuis gegaan het. In die Melanchthon-huishouding het daar daagliks tuisonderrig (schola domestica) en Bybelstudies plaasgevind. Hy het ’n klomp mense in Wittenberg geïnspireer om dieselfde te doen (vir insae in die Melanchthon-huishouding, kyk na Treu 2016. Vgl. ook Jung 2010b:30–31; Scheible 2016:311–318).

In 1521 skryf hy die eerste Protestantse dogmatiekhandboek genaamd die Loci Communes. In 1530 skryf hy die Confessio Augustana [die Augsburgse Geloofsbelydenis]. Hierdie twee geskrifte sou van die belangrikste geskrifte van die hele Reformatoriese beweging word. Ten spyte van Melanchthon se aanvanklike statuur en status, moes hy in die jare 1548–1560 baie kritiek verduur uit Lutherse kringe weens sy pogings om Lutherane en Gereformeerdes te verenig.

Hy het 14 jaar langer as Luther gelewe, en het só die ganse Reformasietydperk beleef. Interessant is dat ’n paar Rooms-Katolieke universiteite hom probeer ‘koop’ het. Hy het werkaanbiedinge van oral ontvang, maar getrou gebly aan Wittenberg (Scheible 1992:371–375).

Twee groot lewenskrisisse het sy persoonlike lewe en sy private godsdiensbeoefening radikaal beïnvloed. In die 1540s het hy ’n fatale teologiese oordeelsfout begaan wat hom tot in ’n diep staat van depressie gevoer het. Philipp van Hessen, een van die Protestantse vorste in Duitsland, het soos talle van sy kollegas ’n skelm verhouding met een van sy jong hofdames gehad. Philipp het egter besef dat dit verkeerd was en het van die Nagmaal weggebly. Aangesien die vors werklik lief was vir die 17-jarige Margarete von der Sale, het Melanchthon hom aangeraai om skelm met haar in die huwelik te tree. Op hierdie wyse het hy aan bigamie teologiese legitimasie gegee. Ander teoloë het Melanchthon daarvoor verguis. Vir lang rukke wou hy ophou lewe uit skaamte vir sy oordeelsfout. In 1522 is sy oudste dogter, Anna, gebore. Sy trou as 14-jarige met die véél ouer Georg Sabinus, wat later die rektor in Keulen geword het. Dit was ’n baie ongelukkige huwelik. Georg was ’n karakterlose mens wat groot verdriet vir die gesin veroorsaak het. Sy sterf uiteindelik as 24-jarige in 1547. Melanchthon se smart oor sy geliefde dogter was vernietigend. Nadat hy uit die as van sy skuldgevoelens en hartseer opgestaan het, kon hy bely dat dit net gebed en die wonder van God se genade was wat hom gered het. Wat hy later oor lyding en sonde sou skryf, het dus in ’n groot mate met sy persoonlike belewenisse te make gehad (Jung 2010b:93–98; Scheible 1992:385–386).

Melanchthon sterf op 19 April 1560 en word langs Luther in die ‘Kasteelkerk’ in Wittenberg begrawe. Tot op die heel laaste het hy gewerk: raad gegee, briewe, gebede en ’n geloofsbelydenis geskryf. Sy sterfte en begrafnis was ’n groot openbare aangeleentheid. Die hele Protestantse wêreld het getreur en aan hom hulde gebring. Dit is dalk goed om enkele woorde van Jakob Heerbrand se herdenkingsrede oor Melanchthon ([1560] 2011) hier aan te haal:

Ons wil God dank dat Hy aan sy kerk só ’n werktuig geskenk het, en hom só ’n lang lewe gegun het. Hy leef vandag nog voort in sy leerlinge, wat hy in groot getalle en enorme geleerdheid agtergelaat het, maar ook in sy boeke wat van buitengewone geleerdheid getuig en wat hulle voortdurend aan ons gaan opdring. Ons wil met dankbare harte en met vreugde dink aan sy prestasies en goeie diens wat hy aan die ganse kerk gelewer het. Ons wil hom in ere hou en hom voortdurend vereer en dank betoon, soos wat dit aan ’n ware dienskneg van God verskuldig is. Vir seker sal die ganse studerende nageslag sy arbeid [oor en oor] vereer. Ons wil ons egter met die hoop troos, dat die Seun van God, wat as middelaar aan die regterhand van sy ewige Vader sit, om aan mense sy gawes te skenk, weer leermeesters tot lewe sal wek, wie se werksaamhede heilsaam sal wees vir die kerk. Laat ons Hom met opregte hunkering en diepsinnige gebede bid om die kerk altyd genadig te wees en te bewaar, en die suiwer leer, wat die heer Philipp Melanchthon en die eerwaardige heer doktor Martin Luther vir ons kom herstel het, in hierdie en ander gebiede van die wêreld, onder die nageslagte herhalend versprei mag word. (bl. 40–41, [outeur se eie vertaling])

En onthou! Hy was nie ’n predikant nie – hy was en is die verpersoonliking van die priesterskap van die gelowige.

Sy bydrae tot die Reformasie

Die Reformasie het nie uit die lug geval nie. Die groot kulturele ontwikkelingsprosesse in Europa tydens die laat-Middeleeue het die weg gebaan vir nuwe benaderings tot godsdiens en teologie. Dit was ’n tydperk van gebed en godsdienstige toewyding. Vir diegene wat kon lees, was daar ’n oorvloed vroomheidsliteratuur in Latyn beskikbaar. Hierdie literatuur was egter wêreldvyandig en het geteer op die negatiewe dinge van die lewe. Al het Augustinus die Rooms-Katolieke geleer dat die skepping God se goeie skepping is, het die teoloë van daardie tyd nie waardering gehad vir die goeie van die verlede, die mooiheid van die lewe en die belangrikheid van die wetenskap nie. Vrees, bygeloof en wantroue in alles en almal het die menslike bestaan gekenmerk. Talle mense uit verskillende sfere van die lewe het hierteen in opstand gekom. Die groot kulturele bewegings wat bekend staan as die ‘Renaissance’ en die ‘Humanisme’ het hierdie protes verwoord en begelei. Alreeds teen die 14de eeu het mense begin om die goeie dinge van die Antieke, soos die letterkunde, filosofie en wiskunde, te herontdek. Om diepte aan hierdie proses te gee, moes die klassieke bronne ontsluit word. Hiervoor was kennis van Grieks, Hebreeus en Latyn nodig. Teoloë was in die ideale posisie om in hierdie navorsing die voortou te neem. Teoloë het dus deur hulle historiese navorsing bygedra tot die herontdekking van die mooiheid van die lewe. Mense het weer positief geraak oor die wêreld. Wetenskaplike navorsing is aangemoedig, aangesien dít, só is geglo, sou bydra tot ’n méér menslike samelewing. Mense soos Melanchthon is in hierdie ‘humanistiese tradisie’ opgevoed en het uiteindelik self ’n enorme bydrae gelewer tot die vermensliking van die lewe (Jung 2010b:12–14; Kuropka 2010:13–16).

Hierdie genie was grootliks verantwoordelik vir die simbiose tussen humanisme en Reformasie.5 Hy was die man wat 28 jaar lank aan Luther se sy6 was, en grootliks verantwoordelik was vir die gestaltegewing van die Protestantse Kerk (of méér korrek, die Evangeliese Kerk). Ná Luther se dood het hy vir ’n verdere 14 jaar die Reformatoriese stryd voortgesit. Hy was die rektor van die Universiteit, wat self in verskillende fakulteite en vakke lesings aangebied het. Volgens Luther was hy die enigste geleerde van daardie tyd wat oor res et verba beskik het – met ander woorde, oor die saaklike kennis sowel as die skryf- en redenasievermoë om die saak van die Reformasie te dien (Müller 2010; Jung 2011; Schilling 2013).

Melanchthon se simbiose tussen humanisme en teologie het bygedra tot die identiteit van Reformatoriese spiritualiteit. Hierdie identiteit kan saamgevat word in die woorde ‘gebildeter Glaube’ [ontwikkelde geloof]; om die uitdrukking van Jung (2011) te gebruik. Die Duitse woord ‘Bildung’ is ryk aan betekenis. Dit beteken: geleerd, ontwikkeld, belese en intellektueel-gevormd. Reformatoriese geloof (só het Melanchthon geleer) is denkende geloof, ingeligte geloof, intellektuele geloof, ’n geloof met ’n kultureel-ontwikkelde basis. Geloof wat eg Bybels wil wees, moet gevoed word deur opvoeding, ontwikkeling en denke. Daarvoor is studie in tale, filosofie, wetenskap en geskiedenis nodig. Volgens Melanchthon is dit nie net die geloof wat ‘Bildung’ nodig het nie, maar die ‘Bildung’ het ook geloof nodig. Hy het as rektor die studente van al die fakulteite aangemoedig tot ’n ‘praxis pietatis’ wat hoofsaaklik op daaglikse gebed7 toegespits was (Jung 2011:154–155). Melanchthon het wel die samehang van geloof en intellektuele vorming beklemtoon, maar nooit die twee verwar nie. Geloof is nie intellektuele vorming nie en intellektuele vorming is nie geloof nie. Die universiteit is nie kerk nie en die kansel is nie ’n kateder nie – alhoewel die twee nooit te ver van mekaar moet staan nie. Geloof – denke – gebed; die samehang van hierdie drie onderskeie sake is wat Melanchthon bepleit het.8 Om hierdie rede word hy nie slegs praeceptor Germaniae genoem nie, maar ook praeceptor artium, praeceptor theologiae en praeceptor pietatis – die leermeester van Duitsland, die leermeester van algemene geleerdheid en ontwikkeling, die leermeester van teologie en die leermeester van geloofspraktyk (Jung 2011:162).

Met die hulp van Luther, het Melanchthon die kloosters wat deur die Protestante oorgeneem is, in openbare skole verander. Persoonlike, wêreldvermydende meditasie moes plek maak vir publieke verantwoordelikheidsbesef. Die vrou is in die hele proses herontdek as dié wese waarsonder die samelewing nie goed kan ontwikkel nie. Om hierdie rede het Melanchthon gesorg dat die amp van die diaken oopgestel is vir vrouens (Asche 2010).

Melanchthon was verantwoordelik vir die vestiging van ’n positiewe verhouding tussen Protestantse teologie en die natuurwetenskappe. Hy self het Astronomie, Astrologie, Wiskunde, Geografie en Anatomie gedoseer. Die ontwikkeling van die mediese wetenskap en algemene gesondheidstelsel in Duitsland is aan hierdie Kerkhervormer te danke. Hy het handboeke oor al die wetenskappe van sy tyd geskryf, behalwe die Metafisika. Natuurwetenskaplike ondersoeke het volgens hom ingepas by die nadenke oor God. Wiskunde was vir hom ’n weg tot die ontdekking van die bestaan van God. Hy het ook ’n liefde vir die Geskiedenis gehad. Die talle oorloë en politieke veranderinge het hom laat vra na die verbande tussen historiese gebeure en die handelinge van God. Dit was veral die vraag na die Turkse gevaar9 wat mense geboei het. Hy het die suksesvolle Turkse imperialisme as ‘God se roede’ gesien. Die aantog van hierdie ‘wrede boosdoeners’ moes Christelike Europa tot omkeer aanspoor. Hy het egter ook daagliks gebid dat God Duitsland van die Moslemgevaar sou bewaar. As gevolg van sy humanistiese opvoeding het hy besef dat die klassieke geskiedenis besondere waarde vir die kerk en teologie inhou. Hy het almal aangemoedig om te leer by die ou leermeesters. Die teologiegeskiedenis was dus vir hom van uiterste belang. Om die kerk te help tot ’n historiese bewussyn, het hy ’n uitgebreide liturgiese kalender opgestel. Op hierdie wyse kon predikante nie net aan ’n wye spektrum temas aandag gee nie, maar ook aan die rykdom van teologiese gedagtes wat deur die eeue heen ontwikkel is (Asche 2010; Scheible 2016:105–120).

Soos reeds genoem, staan Melanchthon bekend as die praeceptor Germaniae – die leermeester van Duitsland. Inderwaarheid was hy die leermeester van die ganse Reformatoriese beweging. Hy en Calvyn het ’n besondere vriendskapsverhouding gehad (vgl. Freudenberg 2011:355–368). Hy was Calvyn se vertroueling en raadgewer. Dit was eintlik ’n vanselfsprekendheid dat Calvyn die Augsburgse Belydenis, wat deur Melanchthon opgestel is, sou onderteken as ’n betroubare opsomming van die belangrikste aspekte van die Bybelse boodskap. Melanchthon word vandag gereken as een van die grootste ekumeniese persoonlikhede van alle tye. Die vorige pous (Josef Ratzinger) het byvoorbeeld in 1958–1963 seminare in Bonn oor Melanchthon aangebied en sy doktorale studente aangemoedig om proefskrifte oor sy teologie te skryf (Jung 2010b:67–70, 146–153; Selderhuis 2010:9–28).

Gedurende die laat-Middeleeue is daar na die predikante as die ‘narre’ en die ‘dommes’ verwys. ’n Groot persentasie van hulle het feitlik geen teologiese kennis gehad nie. Hulle het ’n skamele onderrig gehad in ‘sistematiese teologie’ (’n versameling van uitsprake van die kerkvaders deur Petrus Lombardus) en ‘eksegese’ (die verklaring van enkele teksverse met behulp van aanhalings van die kerkvaders – die sogenaamde glossa ordinaria). Soos verwag kan word, het teoloë hulle daarom met onsinnighede besig gehou. Sommige het die vraag gedebatteer wat van ’n muis gaan word wat na afloop van ’n Nagmaalviering aan die brood eet. Ander het weer ’n antwoord bedink op die vraag wat van Jesus se voorhuid geword het na afloop van sy besnydenis. Melanchthon, Luther en ander was gedetermineerd om die predikantsamp in ere te herstel. Die enigste manier hoe dit gedoen kon word, was deur verbeterde onderrig en ’n aanmoediging om teologie te lees. Die plek waar die verbeterde onderrig na vore moes kom, was in die prediking. Dit was nie slegs die stelwyse wat verbeter moes word nie, maar ook die inhoud van die prediking. Trouens – Melanchthon het geoordeel dat die retoriek en stilistiese glans van die prediking van sekondêre belang was. Hy wou eerder sien dat die inhoud verbeter. Om dít reg te kry, het hy op die volgende aangedring: (a) ’n Bybelse teks (lectio) moet die grondslag vorm van ’n preek. (b) Hierdie teks moet binne die groter raamwerk van die Christelike leer (doctrina) verduidelik word. (c) Die boodskap moet uiteindelik dien tot troos en hoop in die lewe (adhortatio). Om te verseker dat studente eendag as predikante die saaklike kennis en begrip van die evangelie sal bevorder, met hart en siel sal meewerk aan die onderrig in die geloof en die morele opvoeding van die bevolking sal dien, het hy Luther oortuig om ’n proponentseksamen in te stel. Om te verseker dat predikante op hierdie weg volhard, het hulle toe ook met ’n proses van jaarlikse visitasie begin. Die visitasiegesprek moes volgens Melanchthon afgestem wees op die motivering van predikante om voortdurend besig te wees met intensiewe studie van die Bybel, die filosofie en die kerkvaders. Dít was volgens hom die voorwaarde vir die stuiting van die godsdienstige verval en die herstel van die kerk (Kuropka 2010:37–55; Scheible 2016:168–175).

Ten slotte iets oor sy teologiese etiek: Melanchthon is in die humanistiese gees opgevoed. Dit beteken dat hy op voetspoor van Cicero (106–43 vC) geleer is dat die taalkundige, sedelike en geestelike opvoeding van mense belangrik is. ‘Humaniste’ heg waarde aan die ontsluiting van antieke tekste vir eietydse gebruik. Met behulp van die kennis en insig van vorige tydperke, moet mense geleer word hoe om ‘mens’ te word, aangesien ons nie as ‘mense’ gebore word nie. Ons word ‘mens’ wanneer ons ’n menslike samelewing en omgewing kan skep. Een van die invloedrykste humaniste, Pico della Mirandola (1463–94), het geleer dat die mens in staat is om sy hele wêreld te omvorm en te herskep op grond van goeie opvoeding. Erasmus van Rotterdam (1465/1469–1536) was versigtiger en het gesê dat ons slegs op ’n beperkte skaal mense en hulle samelewings kan verbeter. Melanchthon het egter geleer dat ons in ’n beperkte mate op grond van opvoeding en die leiding van die Heilige Gees ’n beter wêreld kan skep. Hierdie poging het egter niks met ons saligheid te make nie. Hierdie ‘geregtigheid’ word nie deur God aanvaar nie, aangesien dit altyd deur egosentriese belange gekenmerk word. Die feit dat ons nie die ewige lewe sal beërwe op grond van ons pogings om ’n menslike wêreld te skep nie, beteken egter nie dat ons nie hiermee moet voortgaan nie. Inteendeel! Dit is ons menslike plig (Jung 2010b:112–113; Kuropka 2010:72–82).

Werk

Akademies

Soos reeds vermeld, het Melanchthon as jeugdige reeds akademies naam gemaak met sy Griekse grammatika. Daar is ook vermeld dat hy binne enkele maande ’n BA-graad in Teologie verwerf het. As Baccalaureus Biblicus was hy verplig om lesings uit die Vulgaat (die Latynse Bybel) aan te bied. Om te kwalifiseer vir ’n volgende graad, moes hy die Stellings van Petrus Lombardus (’n versameling uitsprake van die kerkvaders) voordra. Hiervoor het hy nie kans gesien nie, en eerder ’n totaal nuwe literatuursoort geskep. Met gebruikmaking van die humanistiese metodiek, ontwikkel hy op grond van die Romeinebrief, die Loci Communes, die eerste Reformatoriese geloofsleer (of Dogmatiekhandboek). Hierdie Latynse titel word op verskillende maniere vertaal, soos Common Topics [Algemene Onderwerpe] (Melanchthon [1521] 2014) of Grundbegriffe der Theologie [Teologiese Grondbegrippe] of Theologische Skizzen [Teologiese Sketse] (Melanchthon [1521] 1997). Luther en die vors was só beïndruk met hierdie ‘klein mannetjie’, dat hy in 1525 ’n aanstelling in die teologiese fakulteit ontvang.10 Sy Griekse leerstoel is met iemand anders gevul. Toe daar in 1533 vir die eerste keer studente in die teologie in Wittenberg kon promoveer, het hy die reëls en standaarde op skrif gestel (asook in 1545 statute vir universiteite) – wat tot vandag toe wêreldwyd as voorbeelde geld. Toe hy in 1523 rektor word, het hy die volgende vernuwings ingestel: Elke student moes by die rektor aanmeld vir ’n onderhoud, waarna daar vir elke student ’n dosentementor aangestel is. Hy verminder die tradisionele disputasies en koppel dit aan tematiese onderwerpe. Heeltemal nuut was die declamationes – spraakoefeninge wat nie alleen die formeel-logiese denke ontwikkel het nie, maar ook daartoe bygedra het om die tema mooi aan te bied. Hy self het meermale toesprake gelewer oor die kuns van goeie redevoering. Hy het die tradisie gevestig (in verskillende fakulteite) dat dosente se lesings uiteindelik in leerboeke moes eindig. Hy het self die voorbeeld gestel: Naas die Griekse en Latynse grammatikas publiseer hy in 1531 sy Retoriek, 1540 en 1553 De anima (Antropologie / Anatomie vir mediese studente vanuit ’n teologiese perspektief), 1547 sy Dialektiek, 1549 sy Fisika (gesprek met Kopernikus) en 1550 die Moraalfilosofie. Teologies verdien die volgende vermelding: 1527 Kommentaar op Kolossense, 1532, 1540 en 1556 Kommentaar op Romeine, 1543, 1558 en 1560 Kommentaar op Daniël (wat ook ’n geskiedenishandboek was), die Loci herskryf hy tussen 1533 en 1543 telkens nuut, in 1555 (en ook 1559) skryf hy ’n eie Duitse weergawevan die Loci. Hiervan word (in sy leeftyd) Italiaanse, Franse en Kroatiese vertalings gemaak(vgl. Kuropka 2010:42–55; Scheible 2014:165–166; 2016:168–175).

Kerklik

Melanchthon was ’n uitstaande akademikus wat ook ’n reusebydrae gelewer het tot die vestiging en ontwikkeling van die ‘Evangeliese Kerk’ (die name ‘Lutherse Kerk’ en ‘Protestantse Kerk’ dateer uit tye ná Melanchthon se dood). Hy het Luther bygestaan tydens die Disputasie van Leipzig in 1519. Hy het die opdrag gekry om die akademiese geveg met Johannes Eck verder te voer. Tydens Luther se verblyf op die Wartburg (1521–1522) het hy die lesings in teologie waargeneem, en saam met Andreas Karlstadt die reg van priesters om in die huwelik te tree, verdedig. Op 29 September 1521 is die eerste Protestantse (of dan ‘Evangeliese’) Nagmaal in Wittenberg, danksy Melanchthon, gevier. Hy het Luther in September 1521 aangemoedig om die Nuwe Testament in Duits te vertaal, en het hom tot en met die afhandeling van die vertaalwerk aan die Ou Testament in 1545 daarmee gehelp. Sonder Melanchthon, sou Luther nooit die Bybelvertaling suksesvol kon afhandel nie.

Sedert Julie 1527 was Melanchthon as visitator onderweg in Thüringen. Hy ontstel hom oor die gebrekkige kennis van die predikante en die goedkoop genade wat hulle verkondig het. In Maart 1528 word die Duitse weergawe van sy Unterricht der Visitatoren [Onderrig van die Visitatore], met ’n voorwoord van Luther, gepubliseer. Hierdie traktaat sou die fondament vorm waarop die Duitse skoolstelsel hervorm en verpligte universiteitsopleiding vir predikante ingevoer is. Hierdie geskriffie sou ook die basis verskaf vir latere kerkordes wat die lig sou sien. Kom ons sê dit weer: Melanchthon het met sy Onderrig van die Visitatore die skoolsisteem hervorm, toegesien dat teologiestudente aan ’n universiteit opgelei word, en dat Protestantse kerke oor kerkordes sal beskik, waarvan visitasie ’n kernelement sou wees (Scheible 2014:167; 2016:70–104).

Die kern van Reformatoriese teologie het volgens Melanchthon te make met die regte onderskeiding en regte samehang van wet en evangelie. Nadat Luther die regverdigmaking deur die geloof alleen beklemtoon het, kon Melanchthon weer aandag skenk aan die belangrikheid van die wet. Sy verstaan en uitleg van die wet het sy nawerking in die liturgie van die Hervormde Kerk. Melanchthon het ons geleer dat die wet drie funksies of gebruike het, te wete (a) die teologiese gebruik van die wet (usus theologicus), (b) die maatskaplike gebruik van die wet (usus civilis), en (c) die derde gebruik van die wet (tertius usus legis). Die wet van God (die tien gebooie en saamgevat in die dubbele liefdesgebod) oortuig ons van sonde en skuld en laat ons ons toevlug tot God neem. Die wet, en spesifiek die tweede tafel, lê die mees basiese morele bakens neer vir die goeie en ordelike funksionering van die samelewing. Die wet, veral soos dit gestalte kry in die morele onderrig in die Nuwe Testament, funksioneer as die riglyn vir die Christelike lewe (Scheible 2014:168; 2016:170–172).

Melanchthon het ook ’n belangrike bydrae gelewer ten opsigte van die belangrikheid van Sondag Trinitatis in die liturgiese kalender. In die eerste uitgawes van sy Loci het hy glad nie aan die Triniteitsleer aandag gegee nie. Sy gedwonge bemoeienis met die anti-trinitariërs, Johannes Campanus en Michael Servet, het hom genoop om hierdie rigtinggewende uitspraak te maak: Die geheimenisse van God moet ’n mens eerder aanbid as om dit te probeer deurvors. Die implikasie is dat die fees ter ere van die drie-enige God op lofprysing en aanbidding moet konsentreer, eerder as om die geheimenis van die Drie-eenheid te probeer verstaan (vgl. Grosse 2008). Kersfees het hy ook aan ’n nuwe dogmatiese onderbou onderwerp. Die ontologiese verstaan van die tweenatureleer het hy ([1521] 1997:22) na ’n soteriologiese verstaan verander deur te sê: ‘Om Christus te erken, beteken om sy weldade te ken en nie om sy nature te probeer begryp nie’.11 Op grond van hierdie dogmatiese invalshoek is Kersfees bevry van kil, abstrakte denke en verander in ’n fees van dankbaarheid oor wat Christus vir ons gedoen het. In die lig hiervan verbaas dit ook nie dat Melanchthon ’n substansiële bydrae tot Reformatoriese musiek gelewer het nie. As digter het hy talle liedtekste geskryf wat in die eerste Protestantse liedboeke opgeneem is (vgl. Rhein 2011; Spehr 2012).

Melanchthon was ook verantwoordelik vir die ordelike reëling van huwelike. Hy het, as deel van sy etiekhandboek, ’n register van familieverwantskappe opgestel. Tot vandag toe, danksy Melanchthon, trou broers en susters, neefs en niggies nie met mekaar nie. Interessant is dat hy die tugbevoegdheid oor predikante van die kerkleiding weggeneem het, en dit in die hande van die plaaslike kerkraad geplaas het. In 1535 het hy ook die ordening van predikante vanaf die kerkleiding na die teologiese fakulteite verskuif. Só het hy, as dekaan, die proponente self georden en vir hulle getuigskrifte geskryf (Scheible 2014:168).

Melanchthon was ’n prominente deelnemer aan die Ryksdae (vgl. Scheible 2016:128–167, 224–234, 252–304). Op die Ryksdag van Speyer in 1529 het hy nog Luther se verstaan van die Nagmaal verdedig. By die Godsdiensgesprekke van Marburg (1529) het hy probeer om Zwingli te oortuig om ’n buigsamer standpunt in te neem. Tydens die Ryksdag van Augsburg (1530) het hy die Confessio Augustana neergeskryf en in die agtergrond oorredende gesprekke gevoer. Melanchthon was ook die outeur van die Apologie van die Confessio Augustana en die Wittenberger Konkordie (1536).

Soos reeds gemeld, was Melanchthon ’n prominente ekumeniese figuur (vgl. Sattler 2010). Sedert die Vorstedag in Frankfurt (Mei 1539), het hy opgetree as Calvyn se mentor. Calvyn het byvoorbeeld aanbeveel dat Servet gedood moes word, eers nadat hy goedkeuring by Melanchthon12 gekry het. Melanchthon is in sy latere lewe deur sekere Lutherse groeperings verdag gemaak as ’n verskuilde Calvinis. Een rede wat aangevoer is, het te make met sy goedkeuring van die Calvinistiese Nagmaalbeskouing by keurvors Frederik III van die Palts in 1559. Melanchthon se ekumeniese invloed het egter indirek deur sy leerling Zacharias Ursinus gegroei. Deurdat Ursinus primêr vir die skryf van die Heidelbergse Kategismus verantwoordelik was, het Melanchthon se teologie groter invloed op ons denke as wat ons ooit kan besef (vgl. Ehmann 2012; Scheible 2014:171). Dit is ook te verstane dat die Leuenberger Konkordie as sy groot nalatenskap beskou word (Scheible 2002:10–11).

Primêre geskrifte13

Melanchthon, P., [1559] 1856, Loci Praecipui Theologici, Sumtibus Gust, Schlawitz, Berolini, Berlin. (Abdruck der 1559 zu Leipzig erschienenen Ausgabe. Copied and distributed by Amazon.de 2015).

Melanchthon, P., 1834–1860, Philipp Melanchtonis opera quae supersunt omnia. Edidit Carolus Gottlieb Bretschneider 28 voluminibus, Halis Saxonum [Werke deur Philipp Melanchthon wat die toets van die tyd deurstaan het, uitgegee deur Carolus Gottlieb Bretschneider in 28 volumes, Halle, Sakse (1834–60)]. Algemeen bekend as Corpus Reformatorum (CR).

Melanchthon, P., [1521] 1997, Loci Communes, Lateinisch – Deutsch, Übersetzt v H. Pöhlmann, Hrsg von Lutherischen Kirchenamt der VELKD, 2. Aufl., Gütersloher Verlagshaus, Gütersloh.

Melanchthon, P., [1553] 2010, Heubtartikel Christlicher Lere, Melanchthons deutsche Fassung seiner Loci Theologici, nach dem Autograph und dem Originaldruck von 1553 herausgegeben von Ralf Jenett und Johannes Schilling, 2. aktualisierte und ergänzte Ausgabe, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.

Melanchthon, P., [1559] 2011, The chief theological topics, transl. J.A.O. Preus from theoriginal Loci Praecipui Theologici, 2nd English edition, Concordia Publishing House, St. Louis, MO.

Melanchthon, P., 2011–2012, Melanchthon deutsch. 4 Bände, Hrsg von M. Beyer, S. Rhein und G. Wartenberg, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.

Melanchthon, P., [1521] 2014, Commonplaces, translated with Introduction and Notes by C. Preus from the original Loci Communes 1521, Concordia Publishing House, St. Louis, MO.

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat sy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat haar nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

Literatuurverwysings

Asche, M., 2010, ‘Philipp Melanchthon als christlicher Schulhumanist und Bildungsreformer – Wittenberg und der Export des humanistischen Bildingsprogramms’, in F. Schweitzer, S. Lorenz & E. Seidl, (Hrsg.), Philipp Melanchthon: Seine Bedeutung für Kirche und Theologie, Bildung und Wissenschaft, pp. 75–94, Neukirchen-Vluyn: Neukirchener Theologie. (Theologie Interdisziplinär Band 8).

Axt-Piscalar, C., 2013, Was ist Theologie? Klassische Entwürfe von Paulus bis zur Gegenwart, Mohr Siebeck, Tübingen.

Bayer, O., 1994, Theologie, Mohn, Gütersloh

Beyer, M., 2011, ‘Philipp Melanchthon – Humanismus und evangelische Theologie’, Luther 82(3), 163–180.

Ehmann, J., 2012, ‘Von Breslau in die Pfalz – die Wege des Zacharias Ursinus’, in M. Heimbucher, C. Schneider-Harpprecht & A. Siller (Hrsg.), Zugänge zum Heidelberger Katechismus: Geschichte, Themen, Unterricht, pp. 33–42, Neukirchener Theologie, Neukirchen-Vluyn.

Frank, G., 1996, ‘Die theologische Philosophie Melanchthons (1497–1560): Ein Plädoyer zur Rehabilitierung des Humanisten und Reformators’, Kerygma und Dogma 42(1), 22–36.

Freudenberg, M., 2011, Reformierte Theologie: Eine Einführung, Neukirchener Theologie, Neukirchen-Vluyn.

Grosse, S., 2008, ‘Melanchthons Wendung zur Trinitätslehre’, Kerygma und Dogma 54(4), 264–289. https://doi.org/10.13109/kedo.2008.54.4.264

Hahn, U., 2010, Der Mann neben Luther: Philipp Melanchthon, Agentur des Rauhen Hauses, Hamburg.

Hauschild, W.-D., 1999, Lehrbuch der Kirchen- und Dogmengeschichte. Band 2. Reformation und Neuzeit, Gütersloher Verlagshaus, Gütersloh.

Heerbrand, J., [1560] 2011, ‘Oratio funebris in obitum incomparabilis viri domini Philippi Melanchtonis’, in M. von Beyer, S. Rhein & G. Wartenberg (Hrsg.), Melanchthon deutsch. Band1. Schule, und Universität, Philosophie, Geschivhte und Politik, pp. 15–41, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.

Jung, M., (Hrsg.), 2010a, Ich rufe zu dir: Gebete des Reformators Philipp Melanchthon, Hansisches Druck und Verlagshaus, Frankfurt.

Jung, M., 2010b, Philipp Melanchthon und seine Zeit, Vandenhoeck, Göttingen.

Jung, M., 2011, ‘Philipp Melanchthon – Gebildeter Glaube’, Luther 82(3), 150–162.

Kuropka, N., 2010, Melanchthon, Mohr (UTB Profile), Tübingen.

Lorenz, S., 2010, ‘Melanchthon in Tübingen: Zwischen Studia humaniora, Buchdruk en Burse’, in F. Schweitzer, S. Lorenz & E. Seidl, (Hrsg.), Philipp Melanchthon: Seine Bedeutung für Kirche und Theologie, Bildung und Wissenschaft, pp. 27–57, Neukirchener Theologie, Neukirchen-Vluyn. (Theologie Interdisziplinär Band 8).

Melanchthon, P., [1518] 2011, ‘De corrigendis adolescentiae studiis’, in M. von Beyer, S. Rhein & G. Wartenberg (Hrsg.), Melanchthon deutsch. Band1. Schule, und Universität, Philosophie, Geschivhte und Politik, pp. 45–67, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.

Müller, G., 2010, ‘Melanchthon (1497–1560) und Luther (1483–1546): Ein Vergleich’, Kerygma und Dogma 56(3), 166–181.

Plathow, M., 2011, ‘Philipp Melanchthon und religiöse Toleranz’, Luther 82(3), 181–191.

Rhein, S., 1998, Philipp Melanchthon, Drei Kastanien Verlag, Wittenberg. (Biographien zur Reformation).

Rhein, S., 2011, ‘Melanchthon und die Musik’, Luther 82(2), 117–127.

Sattler, D., 2010, ‘Melanchthon und die Ökumene’, in H. Kasparick (Hrsg.), Philipp Melanchthon: ‘Grenzüberschreitungen’. Lebenskreise eines Reformators, pp. 102–120, Drei Kastanien Verlag, Wittenberg. (Wittenberger Sonntagsvorlesungen. Evangelisches Predigerseminar).

Scheible, H., 1992, ‘Melanchthon, Philipp (1497–1560)’, in Theologische Realenzyklopädie, pp. 371–410, Walter de Gruyter, Berlin, Band XXII.

Scheible, H., 2002, ‘Melanchthon, Philipp’, in Religion in Geschichte und Gegenwart4, pp. 1002–1011, Mohr (Paul Siebeck), Tübingen, Band 5.

Scheible, H., 2014, ‘Philipp Melanchthon’, in I. Dingel & V. Leppin (Hrsg.), Reformatorenlexikon, pp. 163–173, Wissenschaftliche Buchgesellschaft, Darmstadt.

Scheible, H., 2016, Melanchthon: Vermittler der Reformation; Eine Biographie, C.H. Beck, München.

Schilling, J., 2013, ‘Nachbar Melanchthon’, Luther 84(3),183–186.

Selderhuis, H., 2010, Praeceptor Europae: Philippus Melanchthon over kerk, recht en universiteit, Apeldoornse Studies (55), Theologische Universiteit Apeldoorn.

Spehr, C. (Bearb.), 2012, ‘Musik – Herzschlag der Seele: Melanchthons Vorrede zu den “Selectae harmoniae” von 1538’, Luther 83(1), 2–7.

Treu, M., 2016, Philipp Melanchthon: Leben – Werk – Wirkung; Ein Rundgang durch die Ausstellung im Melanchthonhaus, Stiftung Luthergedenkstätten in Sachsen-Anhalt, Wittenberg.

Footnotes

1. Die kort biografie van Stefan Rhein (1998) is nog steeds een van die handigste wat in die handel beskikbaar is.

2. Johannes Reuchlin, ’n toonaangewende Hebraïs, het op hierdie datum aan Philipp ’n Griekse grammatika geskenk, met ’n afdruk op die buiteblad van sy familiewapen uit sy Hebreeuse leerboek. Onder die familiewapen het hy na Philipp as ‘Melanchthon’ verwys; die Griekse vertaling van ‘swart aarde’ (afdruk van buiteblad in Scheible 2016:18).

3. Een van Melanchthon se blywende bydraes tot die Westerse samelewing, is sy hervorming van die skoolsisteem. Sy invloed kan vandag nog steeds waargeneem word – onder andere danksy sy leerling Mikael Agricola, in Finland. Die laerskoolonderrig in Finland word as die heel beste ter wêreld gereken (vgl. Scheible 2016:52–69).

4. Al was Luther 14 jaar ouer as Melanchthon was daar ’n lewenslange vriendskap tussen die twee. Luther het op 18 begin om teologie te studeer, terwyl Melanchthon op 18 al ’n dosent was. Melanchthon was die intellektuele reus van die Reformasie, terwyl Luther die vegter was. Vir ’n goeie vergelyking tussen die twee, kyk na Müller (2010).

5. Reformatoriese teologie sonder humanisme is nie moontlik nie. Met ‘humanisme’ word die intellektuele beweging bedoel wat hom beywer het vir die bestudering van klassieke tekste in die oorspronklike tale. Juis dít was Melanchthon se bydrae tot die teologie. Hy was verantwoordelik vir die bestudering van die Bybel in Grieks en Hebreeus. Daarbenewens het hy die belangrikheid van filosofie (breër as die eng Aristoteles-resepsie van die Skolastiek) vir die teologie herbevestig (vgl. Frank 1996; Beyer 2011 vir volledigheid).

6. Melanchthon was nie net kerklik en akademies aan Luther se sy nie (Hahn 2010), maar hy was ook vir die grootste deel van sy lewe Luther se buurman. Die twee gesinne het ten nouste met mekaar saamgelewe. Die jonger Melanchthon moes uiteindelik vir Martin en sy vrou Katharina begrawe – vir hom bittere ervarings (Schilling 2013).

7. Melanchthon kan met reg die teoloog van die gebed genoem word. Melanchthon het duisende gebede geskryf wat in bewaring gebly het – volgens een berekening, meer as vyf duisend. Tien duisend briewe van Melanchthon is bewaar. Die meeste briewe is voorsien van ’n kort gebed – gerig aan die ontvanger van die brief. Sy akademiese skryfwerk is ook besaai met, dikwels langer, gebede. Hoe ouer hy geword het, hoe langer en diepsinniger het sy gebede geword. Óf hy aan ’n lesing, ’n artikel óf ’n kerkorde gewerk het; hy het dit voorsien van ’n gebed. Die rede: Hy het geglo dat akademiese werk onlosmaaklik gekoppel is aan ’n aktiewe en geordende gebedslewe (vgl. Jung 2010a vir ’n seleksie van sy bekendste gebede).

8. Bestudering van Melanchthon kan Reformatoriese kerke (ook in Suid-Afrika) waaksaam maak teen die anti-intellektuele spiritualisme wat die wêreld oorspoel (Scheible 2002:1010).

9. Melanchthon het toleransie jeens die Jode bepleit, maar was totaal intolerant teenoor die Turke of Moslems (vgl. Plathow 2011 vir ’n oorsig oor sy houding jeens ander godsdienste).

10. Vir kort maar goeie oorsigte oor sy teologie, kyk na Bayer (1994:127–155), Hauschild (1999:316–324) en Axt-Piscalar (2013:95–107).

11. ‘Nam ex his proprie Christus cognosticur, siquidem hoc est Christum cognoscere beneficia eius cognoscere, non, quod isti docent, eius naturas, modos incarnationis contueri’. In sy lesing oor Paulus in 1520, het hy ’n meer omvattende formulering gegee: ‘Christum novisse … est … beneficium complecti, quo per ipsum coelestis pater in universum terrarium orbem effudit’ [Om Christus te ken beteken … [om sy] weldaad te omarm wat die hemelse Vader deur Hom op die ganse aarde uitgegiet het]. Melanchthon het hierdie gedagtegoed in Luther se ‘Heidelberg Disputasie’van 1518 gevind: ‘In Christo crucifix est vera theologia et cognition Dei’ [In die gekruisigde Christus is ware teologie en kennis van God te vinde] (vgl. voetnota 27 by Pöhlmann in [1552] 1997:22).

12. Hierdie goedkeuring het Calvyn per brief van Melanchthon op 14 Oktober 1554 ontvang. Hy het sy besluit op 01 Augustus 1555 in ’n akademiese voordrag verduidelik. Die argument kom daarop neer dat die owerhede die verpligting het om kettery te beveg – en wel met behulp van die swaard (vgl. Plathow 2011:181 vir al die verwysings in die CR).

13. Weens die omvang van Melanchthon se werke is dit nie moontlik om dit hier aan te bied nie. Omvangryke inligting is verkrygbaar by Scheible (1992:386–389). Die samestelling van sy Opera Omnia is tans ’n projek van Refo 500 onder leiding van Günter Frank en Herman Selderhuis.



Crossref Citations

No related citations found.