About the Author(s)


André G. Ungerer Email
Reformed Theological College, Faculty of Theology, University of Pretoria, South Africa

Netherdutch Reformed Church of Africa, South Africa

Citation


Ungerer, A.G., 2017, ‘Hervormde voetspore op die Tukkie-kampus: ’n Kroniek van die eerste 50 jaar’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 73(1), a3835. https://doi.org/10.4102/hts.v73i1.3835

Research Project Registration:

Project Leader: A. Ungerer

Project Number: 82329542

Description: This research is part of the project, ‘Contextualized Reformed Theology in South Africa’, directed by Dr Andre Ungerer of the Reformed Theological College, Faculty of Theology, University of Pretoria.

Original Research

Hervormde voetspore op die Tukkie-kampus: ’n Kroniek van die eerste 50 jaar

André G. Ungerer

Received: 11 Aug. 2016; Accepted: 14 Dec. 2016; Published: 31 July 2017

Copyright: © 2017. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstract

In 2017 the Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) celebrates its centenary of theological education at the University of Pretoria (UP). In this article the focus is on the build-up to setting up the first 50 years 1917– 1967 at UP. From as early as 1909 there was a yearning for our own theological seminary; however, some of the church leaders expressed their desire for theological education at a university. At the dawn of 1916 everything was in place for the NHKA and the Presbyterian Church of South Africa, as the first two partners, to start a faculty of theology at the Transvaal University College (TUC). On 01 April 1917 the Faculty of Theology commenced its work with prof. J.H.J.A. Greyvenstein of the NHKA and prof. E. MacMillan from the Presbyterian Church. The Presbyterian link with the faculty was broken in 1933. From 1938 the Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) joined the NHKA and two independent sections were established: Section A for the NHKA and Section B for the NGK. There was a steady growth in the number of students and professors and on 13 June 1967 the NHKA filled its sixth professorship in the person of prof. I.J. de Wet. This era was also characterised by a lot of political tension in the heyday of the policy of apartheid. The NHKA was known for Article III in its constitution that propagates that church membership was for whites only. The NHKA support of the policy of apartheid was the cause of a dispute between the Church and prof. A.S. Geyser. In the end the matter was settled in favour of Geyser. There was also a dispute between professors A.G. Geyser and A.D. Pont that ended up in court in 1967. Pont was accused of defamation against Geyser. The court ruled against Pont and Geyser was granted the largest amount of compensation up till then.

Inleiding

Gedurende 2017 vier die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) sy honderdste bestaansjaar by die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van Pretoria (UP). Vir die doeleindes van hierdie artikel word daar grootliks gesteun op die werk van prof. J.P. Oberholzer (2010) getiteld: Honderd jaar kerk en teologiese opleiding: ’n Kroniek van die Hervormde Kerk.1

Oberholzer (2010) het die kroniek in tien hoofstukke ingedeel wat tien duidelik aantoonbare eras verteenwoordig. In hierdie artikel word die vooraf gebeure tot die opleiding aan ’n universiteit, asook die eerste vyftig jaar aan die Fakulteit van Teologie gehanteer. Die artikel vertoon trekke van ’n kroniek waarin die belangrikste gebeurtenisse in ’n redelik chronologiese lyn teen die agtergrond van gebeure in die NHKA, aangebied word.

Die aanloop 1909–1916

Van teologiese opleiding aan ’n universiteit was daar aan die begin van die twintigste eeu nie sprake nie. Die enigste voorbeelde van teologiese opleiding was die eerste Teologiese Kweekskool (Seminarium) wat, volgens die amptelike webbladsy van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK 2013:1), in 1859 op Stellenbosch tot stand gekom het. Die Gereformeerde Kerke se Kweekskool was aanvanklik en tot in 1905 op Burgerdorp gesetel waarna dit na Potchefstroom verskuif is (Kuratorium 1919 soos aangehaal in Oberholzer 2010c:17). Dit is teen hierdie agtergrond dat daar by die NHKA aan die begin van die twintigste eeu ’n toenemende versugting na ’n eie kweekskool was.

Die eerste sprake van opleiding aan ’n eie kweekskool was dus ’n logiese uitvloeisel van die bestaande voorbeelde van kweekskole in die land. Tydens die Maart-sitting van die 34ste Algemene Kerkvergadering (AKV) in 1909 (NHKA 1909 soos aangehaal in Oberholzer 2010b:3–4) word die volgende besluit geneem: Dat er worde daargesteld een Theologische kweekschool waar jonge mannen kunnen worden opgeleid tot herder en leeraar voor de Nederduitsch Hervormde Kerk in Zuid-Afrika. Daar is ook ’n Kuratorium op die 34ste AKV van 1909 benoem wat op 19 Julie 1909 die eerste keer vergader het (NHKA 1909 soos aangehaal in Oberholzer 2010b:4).

Vooraf, sonder dat die term kweekskool daaraan gekoppel is, het die eerste opleiding van twee predikante reeds in die studeerkamer van prof. P.J. Muller in Pretoria plaasgevind. Muller was predikant van die gemeente Pretoria van 1904 tot 1907, asook van 1907 tot 1909 voorsitter van die AKV. Op 05 Julie 1906 het hy die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering (voortaan verwys na as Kommissie) meegedeel dat daar ’n paar ‘flinke, degelike’ jongmanne is wat hulle bereid verklaar het tot opleiding as predikante en dat hy aangebied het om dit te doen (NHKA 1906 soos aangehaal in Oberholzer 2010b:5). Die Kommissie het die aanbod van professor Muller aanvaar en dit is op die AKV van April 1907 goedgekeur. ‘So het dit gekom dat daar reeds twee persone gereed was vir die proponentseksamen toe die AKV in Maart 1909 die groot debat oor die kweekskool gehou het’ (NHKA 1909 soos aangehaal in Oberholzer 2010b:5).

Kandidaat J.J. Kuhn is met die voortgesette sitting van die 34ste AKV op 20 Julie 1909 (NHKA 1909 soos aangehaal in Oberholzer 2010b:5) as nuwe predikantslid verwelkom en later die jaar sou J.J. Prinsloo Jsn. volg. Oberholzer (2010b) merk hieroor soos volg op:

Dit vra meteen die aandag vir die de facto bestaan van ’n kweekskool vir etlike jare reeds, want Kuhn was die eerste produk van ’n eie opleiding wat as predikant georden is. (bl. 5)

Oberholzer verwys na heftige teenstand wat uit die 20 Julie-sitting van die 34ste AKV in 1909 (NHKA 1909 soos aangehaal in Oberholzer 2010b:7–9) gekom het. Die beswaardes het dit veral teen die instelling van heffings gehad. Verskeie gemeentes het in gebreke gebly om die gevraagde heffing te betaal. Dit blyk ook dat ds. M.J. Goddefroy die opleiding eerder aan ’n universtiteit wou sien. Hy noem dat opleiding aan ’n universiteit verkieslik is bo die opleiding aan ’n kweekskool ‘opdat zij een ruimer blik geeft en meer omgang met jongmannen van ander vakken’ (NHKA 1909 soos aangehaal in Oberholzer 2010b:6).

Die vestiging van ’n kweekskool het gesloer en in De Hervormer van 15 Desember 1911 skryf dominee Van Belkum in sy rubriek: Brieven van oom Sarel, die volgende: ‘Het wil mij voorkomen, dat de zaak van de Kerklike Kweekskool in zoete rust is geraakt. Wij hooren daarvan niets …’ (De Hervormer 1911:7). Intussen het prof. P.J. Muller op 31 Julie 1909 na Nederland toe teruggekeer nadat sy dienstydperk verstryk het. Die vergadering van die Kuratorium, gehou op 15 Oktober 1912 (Kuratorium 1912 soos aangehaal in Oberholzer 2010b:9), het besluit om die saak van die vestiging van ’n kweekskool na die 36ste AKV te verwys. Oberholzer (2010b:9) skryf soos volg hieroor: ‘Daarmee was die kweekskool van die baan, want die Algemene Kerkvergadering sou terugkeer na die vroeëre model van opleiding aan ’n universiteit.’

’n Verslag van die Kuratorium het tydens die 36ste AKV op 03 Desember 1912 gedien. Die verslag is aanvaar en dit het ’n totale wending ten opsigte van die wenslikheid vir universitêre opleiding teweeggebring. In daardie stadium was die Transvaal University College (TUC) reeds vier jaar met opleiding besig, hoewel daar nog nie ruimte vir ’n teologiese fakulteit was nie (NHKA 1912 soos aangehaal in Oberholzer 2010b:9).

Dit was eers met die 37ste AKV wat op 16 Mei 1916 begin het, waar die realisering van universiteitsopleiding groter stimulus gekry het. In ’n verslag van die Kuratorium word aangevoer dat hulle nog nie die besluit van die vorige vergadering kon uitvoer nie omdat daar nog nie ’n universiteit was nie. Die verslag het verder verwys na die Wet op Hoër Onderwys wat nou aangeneem is. Daar is ook ’n rapport oor universiteitsopleiding deur die AKV aanvaar (NHKA 1916 soos aangehaal in Oberholzer 2010b:12).

Kort daarna op 15 Junie 1916, besluit die Raad van die TUC, op voorstel van doktor E.V. Engelenburg, om die Hervormde Kerk te nader en te verneem of die Kerk sou saamwerk in die stigting van ’n teologiese fakulteit. Die sinode van die Nederduitsch Hervormde of Gereformeerde Kerk (die amptelike naam van die NG Kerk destyds) was egter nog nie te vinde vir deelname nie (Oberholzer 2010b:12). So is die tafel uiteindelik gedek om oor te gaan tot die stigting van ’n teologiese fakulteit aan die TUC – wat ook die einde beteken het van ’n era, gekenmerk deur soeke, onsekerheid en stryd om die vestiging van een of ander vorm van teologiese opleiding (Ad Destinatum [AD] 1960:164–165).

Die klein begin 1916–1933

Die vestiging van ’n teologiese fakulteit aan die TUC kry op 21 Desember 1916 momentum toe die Raad ’n aanbeveling aanvaar dat die Hervormde Kerk en die Presbiteriaanse Kerk elk een dosent benoem in die persone van dr J.H.J.A. Greyvenstein en ds. E. MacMillan, dat hulle saam een lektor se salaris sou deel en dat die kerke vir die res van hulle vergoeding verantwoordelik sou wees (AD 1960:165). Tydens die agtste vergadering van die Kuratorium op 25 Januarie 1917 word besluit om dr J.H.J.A. Greyvenstein te benoem teen ’n vergoeding van £600 per jaar. Dr Greyvenstein het op 01 April 1917 as eerste dosent van die Hervormde Kerk diens aanvaar. Die eerste twee studente wat aangemeld het, was P.J.J. Venter en M.M.J. Basson. Beide het hulle voorstudie op Potchefstroom voltooi. In 1918 het die tweeling, J.G.M. Dreyer en T.F.J. Dreyer, ook vanaf Potchefstroom, vir studie aangemeld (Kuratorium 1917 soos aangehaal in Oberholzer 2010c:13–15).

Op 01 April 2017 het die Departement Teologie met sy werksaamhede begin. Die lesings was vir ’n tweejarige B.D.-kursus. MacMillan is aangestel vir die Ou-Testamentiese vakke en is daarin deur prof. A.C. Paterson bygestaan. Greyvenstein het naas die Nuwe-Testamentiese vakke ook Dogmatiek, Kerk en Dogmengeskiedenis, Kerkreg en ook Christelike Etiek behartig (Oberholzer 2010c:14–15). Oor die jare heen sou die Kuratorium, byna met vaste reëlmaat, nuwe leerplanne goedkeur. Tydens die 40ste Algemene Kerkvergadering van 27 Julie 1922 word die Kuratoriumverslag aanvaar waarin dit blyk dat daar volledig vir ’n sesjarige studie voorsien is (NHKA 1922 soos aangehaal in Oberholzer 2010c:23).

Na sy terugkeer uit Utrecht in Holland in Desember 1920, het dr S.P. Engelbrecht die proponentseksamen afgelê en is hy op 04 Januarie 1921 tot die leraarsamp in die Nederduitsch Hervormde Kerk toegelaat. Die Kommissie besluit op 15 Januarie 1921 (NHKA 1921 soos aangehaal in Oberholzer 2010c:20) om Engelbrecht te orden sodat hy sakramente kan bedien. Die Kuratorium het tydens hul vergadering van 15 April 1921 kennis geneem van Engelbrecht se aanstelling by die Transvaalse Universiteitskollege vanaf 01 April 1921, en hom as professor benoem met ingang 01 Januarie 1922. Sy opdrag was om Kerkgeskiedenis, Kerkreg, Dogmatiek, Geskiedenis en Filosofie van die Godsdiens en Bybelse Teologie te doseer (Kuratorium 1921 soos aangehaal in Oberholzer 2010c:20).

Op 01 Junie 1926 aanvaar prof. B. Gemser diens by die Transvaalse Universiteitskollege (TUK) as derde professor van die Hervormde Kerk. Hy sou die grondlegger van die wetenskaplike studie van Semitiese Tale in Suid-Afrika en van Ou-Testamentiese wetenskap op hoë vlak word (Oberholzer 2010c:29).

Ander gebeurtenisse wat in hierdie era opval, is die volgende:

  • Die Van der Hoff-Teologiese Vereniging is op 24 Maart 1924 aan huis van prof. Greyvenstein in Schoemanstraat 1003 gestig en het begin met tien lede en C.H. Rautenbach as die eerste voorsitter (Oberholzer 2010c:29).
  • Ds. Rautenbach bring dit onder die Kuratorium se aandag op sy vergadering van 05 Desember 1929 dat in ’n koerantberig dit blyk dat teologiestudente by ’n dans teenwoordig was. By die Kuratoriumvergadering van 03 Desember 1930 lewer prof. Greyventein oor hierdie aangeleentheid verslag en meld dat sommige studente dit erken het en belowe het om dit nooit weer te doen nie (Kuratorium 1929/1930 soos aangehaal in Oberholzer 2010c:32).
  • Die Transvaalse Universiteitskollege word op 10 Oktober 1930 die Universiteit van Pretoria (AD 1960:74; Oberholzer 2010c:32).
  • Die taalbeleid word deur die Raad van TUK verander op 13 September 1932 deurdat die vyftig-vyftigtaalbeleid geskrap word. Voortaan sal die dienste van die Universiteit primêr op die behoeftes van die Afrikaanssprekende deel van die bevolking gerig wees en die taal van die Universiteit sal Afrikaans wees (AD 1960:74; Oberholzer 2010c:33).

Twee afdelings van een fakulteit 1934–1940

Hierdie era verloop vreedsaam en enkele sake dien vermeld te word:

  • Tydens die 44ste AKV wat op 15 Mei 1934 ’n aanvang neem, word daar oor die status van die professore besluit, naamlik dat hulle die status van predikant sal hê en dat klagtes oor hulle leer en lewe by die Kuratorium ingedien mag word vir voorlopige ondersoek en verwysing na die Kommissie (NHKA 1934 soos aangehaal in Oberholzer 2010d:35).
  • Die Kuratorium verneem op hul vergadering van 04 Desember 1934 (Kuratorium 1934 soos aangehaal in Opberholzer 2010d:36) dat die Raad van die Universiteit besluit het dat die Hervormde Kerk ’n verteenwoordiger in die Raad kan hê met aanvang 27 Julie 1935 (Universiteitsraad 1935:2). Die Kommissie het ds. J.J. Prinsloo Jsn., visevoorsitter van die Kommissie op 16 Augustus 1935 as die Kerk se verteenwoordiger aangewys wat op laasgenoemde datum sitting geneem het (NHKA 1935 soos aangehaal in Oberholzer 2010d:39).
  • Die Kuratorium verneem ook op 04 Desember 1934 dat die eerste kontrak met die universiteit geteken is. Dié kontrak was die eerste skriftelike ooreenkoms tussen die Kerk en die universiteit. Op 07 Desember 1937 word dit deur ’n tweede kontrak gevolg waarin daar ruimte gemaak word vir twee onafhanklike afdelings naamlik die Afdeling van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika en die Afdeling van die Nederduits-Hervormde of Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika. Beide die afdelings sou uit vier onafhanklike departemente bestaan naamlik: die Departemente Ou-Testamentiese Wetenskap, Nu-Testamentiese Wetenskap, Geskiedenis van die Christendom en Dogmatiek, en dié van Sendingwetenskap. Die dekaan sou op roterende basis vir ’n periode van drie jaar uit ’n afdeling aangewys word, terwyl die adjunkdekaan uit die ander afdeling sou kom (Kuratorium 1934 en 1937 soos aangehaal in Oberholzer 2010d:36– 37, 40).
  • Ds. G.M. Pelissier word na ’n voordrag van die Nederduits Hervormde of Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika, na die bedanking van prof. MacMillan, as dosent in Godsdienswetenskap aangestel. Daar was in daardie stadium reeds studente van dié kerk wat hul opleiding by die Fakulteit Pretoria deurloop het. Op 17 Desember 1937 het Afdeling B momentum begin kry toe doktore J.H. Kritzinger, E.P. Groenewald en D.J. Keet se aanstellings deur die Raad goedgekeur is (AD 1960:170–172; Oberholzer 2010d:39–41).
  • Doktor H.P. Wolmarans se aanstelling word ook op 17 Desember 1937 as vierde professoraat in Afdeling A goedgekeur. Die benoeming van dr A. van Selms in 1938 en dr C.H. Rautenbach in 1939 as lektore in die Fakulteit Teologie sou die akademiese kwaliteit van die afdeling verder verhoog (Oberholzer 2010d:41–42).
  • Die Voortrekkertehuis is op 02 Januarie 1941 voltooi en daar is besluit dat teologiese studente daar moet inwoon (Oberholzer 2010:42).

Interne spanning en stryd 1941–1953

Tydens die 47ste AKV wat op 20 Maart 1942 (NHKA 1942, soos aangehaal in Oberholzer 2010e:43) ’n aanvang geneem het, word daar, onder meer, teleurstelling uitgespreek oor die slegte vordering wat baie van die studente die afgelope twee jaar gemaak het. Met die Kuratoriumvergadering van 10 Desember 1942 word daar weer oor die studente gehandel en kritiek uitgespreek oor hulle gedrag in die algemeen en hul slegte kerkbesoek. Prof. Gemser het syfers voorgelê waaruit blyk dat studente van die NHKA baie ongunstig afsteek, wat die resultate betref, by studente van Afdeling B wat die identiese kursus volg en eksamens aflê. Na ’n lang bespreking en verskillende besluite, is onder meer die direksie van die Voortrekkertehuis versoek om die minder gewenste elemente uit die tehuis te verwyder (Kuratorium 1942 soos aangehaal in Oberholzer 2010e:44).

’n Ligpunt in hierdie era is die eerste uitgawe van die Hervormde Teologiese Studies wat verskyn het. Prof. S.P. Engelbrecht skryf op 06 Desember 1943 aan die Kommissie en vra vir dié uitgawe ’n skenking van £25. Die volledige titel was Hervormde Teologiese Studies vir die bevordering van Bybels-Reformatoriese Teologie in Suid-Afrika. Die tydskrif was onder redaksie van die professore van die NHKA (Oberholzer 2010e:44).

Maar dit is veral die verhaal van die opvolging van prof. J.H. Greyvenstein wat ’n besondere hoofstuk in die geskiedenis van die opleiding vorm. Greyvenstein het 65 jaar oud op 17 Maart 1943 geword en sou volgens sy dienskontrak moes aftree. Op ’n buitengewone vergadering van die Kuratorium, gehou op 23 Junie 1943, is besluit om die Universiteit te versoek om prof. Greyvenstein se dienste te kontinueer (Kuratorium 1943 soos aangehaal in Oberholzer 2010e:44). Die Raad van UP het op 24 Junie 1943 besluit om dié versoek vanweë buitengewone omstandighede toe te staan (Universiteitsraad 1943:3; Oberholzer 2010e:44).

Oberholzer (2010:45) meld dat daar in die aanloop tot die volgende gebeure nie veel uit notules afgelei kan word nie. Op Woensdag 21 Junie 1944 vergader beide die Kuratorium en die Kommissie (NHKA & Kuratorium 1944 soos aangehaal in Oberholzer 2010e:45) tydens die aandure. Die Kommissie vergader in die Residensie Hotel en neem om 22:00 die aanbeveling van die Kuratorium vir die aanstelling van ’n professor in Nuwe Testament onder oë. Die Kuratorium het ’n lys van ses moontlike kandidate vir dié pos aanbeveel en uiteindelik is dominee A.S. Geyser M.A. B.D. van Kaapstad gekies. Geyser was reeds sedert 1943 vir ’n doktorsgraad in Kerkgeskiedenis ingeskryf, maar na sy aanstelling word ’n gewysigde leerplan met Nuwe Testament as hoofvak op 05 September 1944 goedgekeur.

Wat vervolgens gebeur is ’n vervlegting van verwagtinge, vooroordeel, besluitnemingsprosesse en teleurstelling:

  • Prof. H.P. Wolmarans rig ’n skrywe aan ds. A.S. Geyser, gedateer 31 Oktober 1944, waarin hy hom gelukwens met sy aanstelling, maar tog ondertone van kommer oor sy teologiese kennis laat deurskemer. Hy moedig Geyser nogtans aan om veral sy dogmatiese kennis op te knap en so gou moontlik sy doktorsgraad te voltooi (Oberholzer 2010e:45–46).
  • Die 48ste AKV wat op 08 Mei 1945 ’n aanvang neem het die Greyvenstein-vergadering geword. Greyvenstein het ten tye van die vergadering 28 predikante, almal sy oudstudente, ontmoet. Hierdie groep predikante het heelwat besluite geneem wat hulle aan die vergadering ten opsigte van Geyser en Greyvenstein wou voorlê. In wese het dit daarop neergekom dat Geyser ’n studiebeurs moet ontvang om sy doktorsgraad in 1946 te voltooi waarna hy vanaf 01 Januarie 1947 professor in Nuwe Testament kan word. Die Universiteitsraad moet versoek word dat prof. Greyvenstein se dienste tot einde 1946 gekontinueer word en dat hy vanaf 1947 ’n deeltydse, deur die Kerk besoldigde professor sal wees wat Praktiese Teologie en ook Dogmatiek en Christelike etiek doseer. Hierdie voorstel is deur die AKV verwerp met 50 teen 77 stemme. Die volgende dag het prof. Greyvenstein die vergadering meegedeel dat hy emeritaat vir einde Junie sal aanvra. Hy het die vergadering ook meegedeel dat hy nie kans sien om sy werk in ’n atmosfeer van valsheid en onwaarheid voort te sit nie. Hierdie woorde het uiteraard groot beroering op die vergadering veroorsaak en daar is besluit dat die vergadering in sitting sal bly totdat die saak afgehandel is. Terwyl die sekunduslede die vergadering gelei het, het die moderamen aan die Greyvenstein-saak aandag gegee. Kortliks kom dit daarop neer dat prof. Greyvenstein sy voorneme van die vorige dag om emeritaat te aanvaar, sal herroep en benoem word om na sy aftrede [sic] voort te gaan om Praktiese Teologie, Dogmatiek en Christelike Etiek te doseer. In wese het die verloop van die vergadering meegebring dat die voorstel van die 28 predikante tog goedgekeur is. Greyvenstein het per brief laat weet dat hy na ernstige oorweging aan hierdie versoek van die Kerk wil voldoen (NHKA 1945 soos aangehaal in Oberholzer 2010e:46–49).
  • In ’n skrywe van prof. S.P. Engelbrecht aan die Kommissie, gedateer 15 Maart 1946, vermeld hy dat ds. Geyser sy doktorsgraad met lof geslaag het. Hy opper verder sy besware teen die besluit van die Algemene Kerkvergadering waarin prof. Greyvenstein vir ’n leerstoel aanbeveel is wat nie bestaan het nie. Hy noem ook dat twee van die drie vakke wat aan Geyser toevertrou is, aan Greyvenstein opgedra is en dat sy heraanstelling, weens sy ouderdom in stryd met die diensvoorwaardes van die Universiteit sal wees. Die Kommissie het op voorstel van die Regskommissie van die Kerk besluit om ’n gespreksgeleentheid met Geyser en Greyvenstein te reël om Geyser te laat instem dat Greyvenstein sekere vakke sal doseer soos die Algemene Kerkvergadering besluit het. Geyser wou nie bes gee nie en het geargumenteer dat dié betrokke vakke aan hom toegeken is en dat dit op ’n mosie van wantroue sou neerkom as hulle van hom weggeneem sou word (NHKA 1946 soos aangehaal in Oberholzer 2010e:49).
  • Om sake verder te kompliseer het prof. C.H. Rautenbach op 12 Junie 1946 ’n skrywe aan die Kommissie gerig waarin hy gedreig het met ’n hofinterdik teen die Kuratorium as dit vir hom moeilik gemaak sou word om sy twee lesings per week in Christelike Etiek aan te bied. Hy en Greyvenstein het ’n ooreenkoms sedert 1940 gehad dat elkeen ’n lesing per week in Christelike Etiek sou aanbied. Met Greyvenstein se vertrek in 1946 het Rautenbach weer verantwoordelikheid vir al twee lesings aanvaar. Rautenbach het gekla dat prof. Geyser (toe nog ds. Geyser) die studente belet het om die tweede lesing van Rautenbach by te woon (NHKA 1946 soos aangehaal in Oberholzer 2010e:51–52). Uiteindelik het Rautenbach 27 Julie 1946 as dosent in teologie van die Hervormde Kerk bedank (Oberholzer 2010:51–52).
  • Op 12 Desember 1946 behandel die Kommissie ’n brief van die Rektor wat hul meedeel dat prof. Greyvenstein, weens die regulasies van die universiteit, nie toegelaat kan word om verder as dosent benoem te word nie (NHKA 1946 soos aangehaal in Oberholzer 2010:53).
  • Die 49ste AKV wat op 11 Mei 1948 begin het, is veral gekenmerk deur pogings tot versoening teenoor prof. J.H. Greyvenstein. Verskillende sprekers, onder andere proff. Geyser en Gemser het die woord geneem waarna prof. Greyvenstein ’n dankwoord gespreek het oor die manier waarop die vergadering hom terugverwelkom het. Die Kommissie het later opdrag ontvang om ’n gepaste afskeidsfunksie vir prof. Greyvenstein te reël (NHKA 1948 soos aangehaal in Oberholzer 2010e:56–57).
  • Die senaat keur op 17 Mei 1950 die aanstelling van ’n vyfde professoraat in elk van die twee afdelings van die Fakulteit Teologie goed. Hierdie pos is deur prof. B.J. Engelbrecht sedert Januarie 1952 gevul (AD 1960:169; Oberholzer 2010e:60–61).
  • Die 50ste AKV kom op 08 Maart 1951 vir ’n drieweke-sitting om die nuwe Kerkwet goed te keur (NHKA 1951 soos aangehaal in Oberholzer 2010e:60).

Politieke spanning en ekumeniese druk 1954–1960

Die akulteit keur op 23 Februarie 1954 die instelling van die vak Bybelkunde goed met die voorwaarde dat dit ’n tweejarige kursus sal wees wat deur die dosente van die twee afdelings gedoseer sal word en dat die studieplan in oorleg met die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte opgestel sal word. Op 14 September 1954 en 25 Oktober 1956 word hierdie reëling uitgebrei met dien verstande dat dit vanaf 1958 ’n tweejarige graadkursus vir bona fide-onderwysstudente sal wees en dat slegs dosente van die Fakulteit Teologie die doseerwerk sal behartig. Op 06 Augustus 1957 word besluit dat Afdeling A vir Ou Testament en Afdeling B vir Nuwe Testament verantwoordelik sal wees en dat dosente in beide afdelings oor en weer as eksterne eksaminatore sal optree (Oberholzer 2010f.:63, 67 en 69).

Die eerste treë na Voortgesette Teologiese Toerusting word gegee toe die 51ste AKV wat op 09 Maart 1954 begin het, besluit het dat kort vakansiekursusse jaarliks georganiseer word wat deur diensdoenende predikante bygewoon kan word (NHKA 1954 soos aangehaal in Oberholzer 2010f:63). Die praktykvorming van studente kry ook in hierdie era aandag toe die Kommissie op 15 Maart 1955 besluit dat praktiese opleiding van studente onder meer deur inwoning in ’n pastorie en kennismaking met die gemeentelike praktyk in twee tydperke van drie weke, een in die vyfde jaar en in die sesde jaar, een in ’n stedelike en een in ’n plattelandse gemeente sal plaasvind. Die Kuratorium het opdrag gekry om die reëlings te tref (NHKA 1955 soos aangehaal in Oberholzer 2010f.:64).

Intussen het die Kuratorium met algemene stemme op 17 Januarie 1955 besluit om dr E.S. Mulder as opvolger te benoem van prof. B. Gemser wat gedurende 30 June 1955 emeritaat aanvaar het (Kuratorium 1955 soos aangehaal in Oberholzer 2010f.:64). Die Kommissie van die AKV bekragtig Mulder se aanstelling op 15 Maart 1955 (NHKA 1955 soos aangehaal in Oberholzer 2010f.:64–65).

’n Politieke storm dreig op die horison toe die Kuratorium op 26 Mei 1955 handel oor die politieke optrede van proff. S.P. Engelbrecht en A.S. Geyser wat beswaar gemaak het teen ’n wetsontwerp oor die vergroting van die Senaat van die land. Die wetsontwerp was daarop gemik om aan die regering ’n meerderheid te verleen deurdat Kleurlinge van die algemene kieserslys verwyder is. Na die verskyning van ’n petisie in die koerant wat, onder andere, deur bogenoemde professore saam met 11 ander professore onderteken is, het die voorsitter en skriba van die Kommissie, dr A.J.G. Oosthuizen en T.F.J. Dreyer ’n persverklaring uitgereik waarin hulle hul sterk afkeuring uitgespreek het teen die optrede van die twee professore van die Kerk. Die persverklaring het onder meer die volgende woorde bevat: ‘Die Kerk betreur ten seerste die optrede van die twee professore wat hulle daardeur verbind het aan ’n party-politieke agitasie en so die verantwoordelikheid van hul hoë betrekking verontagsaam het’ (NHKA 1955 soos aangehaal in Oberholzer 2010f.:64).

Hierop het Engelbrecht betoog dat hy en Geyser die petisie in privaat hoedanigheid geteken het en nie as professore van die Kerk nie. Hy het regsadvies ingewin by adv. H.P. van Dyk wat hom geadviseer het dat die verklaring van die voorsitter en skriba lasterlik is, hoewel hy nie van plan was om ’n regsaksie in te stel nie. Die kommissie het op 27 Mei 1955 byeengekom en die hele saak is uitvoerig bespreek (NHKA 1955 soos aangehaal in Oberholzer 2010f.:64). Daar is gekyk na briewe en telegramme van beswaarde predikante en lidmate wat die optrede van die twee professore ten sterkste afgekeur het. Hulle het ook ’n brief van prof. Van Selms in behandeling geneem wat wou weet of lede van die Fakulteit nie vry is om hulle standpunt oor staatkundige sake uit te spreek nie. Hy het ’n spoedige antwoord versoek, aangesien dit sou bepaal of hy lid van die Fakulteit sou bly. Die Kommissie wou nie bes gee nie en het op 14 Junie 1955 aan die Kuratorium laat weet dat hulle met die verklaring van die voorsitter en skriba volstaan (NHKA 1955 soos aangehaal in Oberholzer 2010f.:64–65).

Die saak is op ’n vergadering van 06 September 1955 besleg toe die Kommissie, die Kuratorium en die professore byeengekom het. Dit het toe aan die lig gekom dat Engelbrecht reeds ’n eis ten bedrae van £2000 teen Voortrekkerpers ingedien het. Hy het na gesprek onderneem om met Die Transvaler te onderhandel om tot ’n skikking oor die hangende hofsaak te kom. Die Kommissie het Engelbrecht se versekering aanvaar dat hy nooit die bedoeling gehad het om die voorsitter en skriba met hofsake te bedreig nie. Beide die professore het die Kommissie ook verseker dat hulle nooit deelgeneem het of bedoel het om deel te neem aan ’n partypolitieke agitasie nie (NHKA 1955 soos aangehaal in Oberholzer 2010f.:65). Oberholzer merk oor die afloop van gebeure soos volg op:

Daarmee was hierdie storm vereers verby, duidelik tot verleentheid van die Kommissie van die AKV, wie se voorsitter en skriba in die hitte van die politieke situasie van destyds dalk ’n bietjie oorhaastig was met hulle persverklaring, en ook nie versigtig was met die bewoording nie. Die politieke alliansies van hulle albei was bowendien alombekend. (Oberholzer 2010f:65)

Op 24 Julie 1957 was die Kommissie nogeens met prof. A.S. Geyser gemoeid nadat hy in ’n brief aan Die Vaderland standpunt teenoor die sogenaamde kerkklousule ingeneem het. Die naam ‘kerkklousule’ is ontleen aan die Kommissie se steun aan die klousule in die Naturelle-wysigingswetsontwerp op 24 April 1957 met die volgende besluit:

Dat die standpunt van ons kerk is dat die kerk ten volle die beginsel van apartheid ook in die kerke onderskryf en dat die Minister telegrafies so verwittig sal word; verder dat die kerk sy waardering vir die optrede van die Minister in die verband betuig, terwyl die kerk die versekering van die Minister aanvaar dat hy met die artikel nie die reg van vrye spraak aan bande wil lê nie. (NHKA 1957 soos aangehaal in Oberholzer 2010f:68)

Die Kommissie het ook op ’n herderlike skrywe besluit waarin beklemtoon is dat die kerk in die uitvoering van sy taak hom stiptelik moet hou aan Artikel III van die Kerkwet van 1951, wat soos volg gelui het:

Die Kerk, bewus van die gevare wat vermenging van blank en nie-blank vir altwee groepe inhou, wil geen gelykstelling in sy midde toelaat nie, maar be-oog die stigting van eie volkskerke onder die verskillende volksgroepe, in die oortuiging dat aldus die bevel van die Here – Maak dissipels van al die nasies, Mat 28:19, die beste tot sy reg sal kom en dat die eenheid in Christus deur so ‘n werkverdeling nie geskaad sal word nie. Tot die Nederduitsch Hervormde Kerk behoort daarom slegs blanke persone. (NHKA 1951)

Die kerkraad van Plaston het op grond van die brief in Die Vaderland ’n formele klag teen Geyser ingedien. Die klag is deur die Kuratorium op ’n buitengewone byeenkoms op 29 Augustus 1957 ontvang (Kuratorium 1957 soos aangehaal in Oberholzer 2010f.:68) en die Kommissie het die klag op 10 September 1957 behandel. Die Kommissie het bevind dat die saak waaroor die klag handel van veel groter omvang is en dat daar eerder ’n verklaring uitgereik moet word. Aan Geyser is gekommunikeer dat hy onversigtig opgetree het en dringend versoek word om met groter versigtigheid te handel en in ooreenstemming met die verklaring wat deur die Kommissie gemaak is (NHKA 1957 soos aangehaal in Oberholzer 2010f.:69). Daar sou weer oor Geyser op 29 Maart 1960 (NHKA 1960 soos aangehaal in Oberholzer 2010f:71) gesels word, veral oor sy houding ten opsigte van die landsbeleid en Artikel III. Op 13 September 1960 is ’n skrywe aan Geyser goedgekeur met onder meer die volgende bewoording:

Die Kommissie het … ’n paar briewe uit die Kerk voor hom gehad waarin ontevredenheid uitgespreek word teen u optrede op die kansel en op die kateder, wat u dan sou gebruik om propaganda te maak vir u standpunt ten opsigte van Art III … Die Kommissie wens u te verwys na die ondertekeningsformule … Die Kommissie wens u beleefd te vra in belang van die kerk en van uself om tog versigtig te wees om die verdenking teen u nie aan te wakker nie, en sodat so ook ’n end kan kom aan die beroering in die kerk. (NHKA 1960 soos aangehaal in Oberholzer 2010f:72)

Die Kommissie het op 03 Desember 1957 ’n memorandum aan die Sentrale Komitee van die Wêreldraad van Kerke, opgestel deur ds. A.J.G. Oosthuizen, goedgekeur. Dit het gehandel oor die 50 jaar waarin teologiese opleiding bestaan het. In dié tydperk het volgens ’n berekening van destyds 244 persone ingeskryf vir die studie, waarvan 157 (64%) dit voltooi het. Van die 157 het 9 die studie in 5 jaar voltooi, 85 in ses jaar (50% van die ingeskrewe getal), 34 in 7 jaar, 13 in 8 jaar, 5 in 9 jaar, 2 in 10 jaar, terwyl nog twee langer geneem het (NHKA 1957 soos aangehaal in Oberholzer 2010f:69).

Enkele ander gebeure in hierdie era dien vermeld te word:

  • Prof. H.P. Wolmarans sou teen einde 1959 emeriteer en die Kuratorium het op 18 Mei 1959 besluit om dr F.J. van Zyl as sy opvolger te benoem. Hy aanvaar diens op 01 Januarie 1960 (Kuratorium 1959 soos aangehaal in Oberholzer 2010f:70–71).
  • Die Kuratorium het op 08 Februarie 1960 van ’n voorgenome Hervormde Studentevereniging (HSV) en Van der Hoff-konserttoer gedurende die Julievakansie kennis geneem. Hierdie toer was vir baie jare ’n instelling en die opbrengs is ter stywing van die teologiestudiefonds aangewend (Kuratorium 1960 soos aangehaal in Oberholzer 2010f.:71).
  • Die Cottesloe-konferensie het vanaf 07–14 Desember 1960 in Johannesburg plaasgevind en is bygewoon deur tien afgevaardigdes van die Wêreldraad van Kerke, asook afgevaardigdes van elk van die Suid-Afrikaanse ledekerke. Altesaam 10 afgevaardigdes van die NHKA het die konferensie bygewoon. Die Hervormde Kerk het tydens die konferensie ’n verklaring voorgelees en ingehandig waarin onder meer gemeld word dat apartheid of eiesoortige ontwikkeling die enigste regverdige oplossing vir die rasseprobleme van die land is en dat enige vorm of graad van integrasie verwerp word (Oberholzer 2010f.:72).

Ekumeniese isolasie en interne stryd 1961–1970

Hierdie era word deur die Geyser-saak en daarna die Pont-saak gekenmerk. Dié gebeure speel af teen die agtergrond van die NHKA se stryd om lidmaatskap suiwer tot blanke lidmaatskap (Artikel III) te beperk, terwyl die Kerk toenemend van die ekumeniese wêreld vervreem.

Dit is veral proff. Geyser en Van Selms se bydrae in die boek Vertraagde aksie wat onrus in die Kerk veroorsaak. Tydens die 53ste AKV wat op 09 Maart 1961 ’n aanvang geneem het, het hul standpunte in Vertraagde aksie onder skoot gekom. Daar was 225 afgevaardigdes wat deur hul gemeentes afgevaardig is om hul standpunte te stel teen ampsdraers wat teen Artikel III agiteer. Die AKV besluit dat sy apostoliese taak om die evangelie aan alle volke, tale en nasies te verkondig, heelhartig aanvaar word. Daarna word daar puntsgewys voortgegaan om die Kerk se beleid te regverdig soos dit in Artikel III verwoord is. Die volgende bewoording val op waarvan die laaste gedeelte aan Geyser en Van Selms gerig was:

Uit geslagtelange ervaring met die kleursituasie in Afrika weet die kerk dat die vermenging van blank en nie-blank, veral op die terrein van die kerk, onberekenbare skade doen aan die verkondiging van die Evangelie van Gods Koninkryk … Professor doktor A.S. Geyser, professor A. van Selms en diegene wat dieselfde standpunt huldig, onderwerp hulle aan art III van die Kerkwet en die uitsprake van die vergadering (NHKA 1961 soos aangehaal in Oberholzer 2010g:73).

Steeds was die spanning teenoor Geyser aan die oplaai. Op 19 September 1961 verneem die Kommissie van verskillende studenteskrywes waarin ernstige besware teen prof. Geyser blyk. Ook die dekaan het aan die voorsitter te kenne gegee dat daar byna onuithoudbare spanning en ontevredenheid in die Fakulteit heers in verband met professor Geyser. Die uiteinde van die vergadering is dat daar na regsadvies besluit word om Geyser se diens te beëindig met ’n kennisgewing van ses maande vanaf 01 Oktober 1961 (NHKA 1961 soos aangehaal in Oberholzer 2010g:76). Op 03 Oktober 1961 het die kuratorium ook ’n klagskrif ontvang van drie studente oor dwaalleer en volharding in verset deur woord teen die wet, bepalings en besluite van die kerk. Die klaers was die sesdejaarstudente W.C.M. de Beer, E. Engelbrecht en H.G. van der Westhuizen (Kuratorium 1961 soos aangehaal in Oberholzer 2010:76).

Die Kommissie besluit op 14 Oktober 1961 om die klag in behandeling te neem. Die verhoor het uiteindelik 38 sittings van die Kommissie geverg. Die transkripsie van die verloop beslaan sowat 2672 foliobladsye (NHKA 1961 soos aangehaal in Oberholzer 2010:77). Oberholzer skryf oor die bevinding soos volg:

Wat die gedeelte betref oor volharding in verset was die bevinding dat dit nie afdoende bewys is nie en dat die aangeklaagde die voordeel van die twyfel moet geniet. Wat die gedeelte oor dwaalleer betref, is bevind dat die klag in verband met die Christologie gestaaf is (10 stemme teenoor 2), dié oor die ekklesiologie nie gestaaf is nie (9 stemme teenoor 3), en ook nie die klag oor die Pneumatologie nie (met algemene stemme). Die besluit was dat die aangeklaagde in terme van Artikel 10, hoofstuk 15 van die Kerkwet afgesit word as predikant van die kerk en dat die Universiteit van Pretoria kennis gegee word dat die subsidie vir die leerstoel Nuwe Testament vanaf datum 08 Mei 1962 teruggetrek word. (Oberholzer 2010g:77)

Geyser het teruggeveg en die Kommissie het tydens ’n spesiale vergadering, gehou op 31 Julie 1962, verneem dat Geyser regstappe gaan neem as die uitspraak teen hom nie binne drie weke teruggetrek word nie. Die Kommissie het nie aan sy versoek voldoen nie (NHKA 1962 soos aangehaal in Oberholzer 2010g:77). Die Kuratorium het op hul vergadering van 01 Augustus 1962 kennis geneem van die bedankings van Geyser en Van Selms (Kuratorium 1962 soos aangehaal in Oberholzer 2010g:79–80). Die Kommissie vergader op 26 Augustus 1963 om te verneem dat die hofsaak tussen die kerk en professor Geyser geskik is. Die Kommissie se verklaring som die skikking goed op:

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering stel sy bevinding en uitspraak van 08 Mei 1962 tersyde en verklaar dat professor Geyser steeds predikant van die kerk is. In ’n gees uitsluitlik van christelike broederlikheid bied die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering aan om alle regskoste deur die Algemene Kommissie en professor Geyser aangegaan te betaal. Professor Geyser aanvaar hierdie aanbod van die betaling van sy regskoste deur die kerk, net soos die kerk dit aanbied, as ’n daad van broederlikheid van die kant van die kerk, met dank. Beide partye gee die eer aan God vir die beëindiging van die verontrusting van die afgelope jare. (NHKA 1963 soos aangehaal in Oberholzer 2010g:80)

Oberholzer se mening oor hierdie gebeure is betekenisvol:

Ook uit terugskouing vanuit die dokumentasie is dit duidelik dat lidmate en waarnemers ten spyte van uitdruklike bewerings tot die teendeel nie anders kon aflei as dat Geyser sy saak gewen het nie … Die aanbod om Geyser se regskoste te betaal, was na daardie erkenning en tersydestelling van die Kommissie se uitspraak sekerlik vanselfsprekend. (Oberholzer 2010g:80)

’n Buitengewone vergadering van die kommissie op 20 Mei 1965 lui die saak teen prof. A.D. Pont in. Die skrywes van die prokureurs van prof. A.S. Geyser en C.F.B. Naude is behandel waarin daar verwys word na uiters lasterlike aanvalle wat sedert Januarie 1965 op medeteoloë in Die Hervormer gemaak is (NHKA 1965b soos aangehaal in Oberholzer 2010g:84). Dit was veral in die aflewering van Januarie 1965 in Pont se kroniek oor die sogenaamde Mindolo-byeenkoms, wat gelei het tot die eise van Geyser en Naude:

[…] het die Wêreldraad en die mede-teoloë geswig en toe maar lustig saamgehelp en planne beraam hoe SA met militêre geweld vir die swartman verower kan word. Die mede-teoloë sal liewers landverraad pleeg, hulle sal liewer saam met die Wêreldraad en die barbarisme van Afrika oorlogsplanne téén hulle eie land smee. Daarom is dit noodsaaklik dat ons hierdie mede-teoloë, hierdie tipe van mens sal herken en weerstaan; dat ons hulle sal aansê dat hulle hulleself aan die Duiwel self verkoop het en dat hulle alhoewel hulle nog ’n mate van aansien by die liberaliste en kommuniste het, hulle in werklikheid verraaiers is: verraaiers van God en hulle Kerke, verraaiers van hulle land en hulle volk. (NHKA 1966 soos aangehaal in Oberholzer 2010g:86)

Die Kommissie het op 06 September 1966 van die advokate J.J. Trengrove en A.S. Botha verneem dat daar goeie gronde is dat die eisers Geyser en Naude se lastereis sou slaag. Die advokate het verskillende moontlikhede vir verdere optrede genoem en die Kommissie het geoordeel dat indien moontlik, ’n hofsaak liewer vermy moet word (NHKA 1966 soos aangehaal in Oberholzer 2010g:86). Pont was egter selfversekerd en het op 13 September 1966 verklaar dat dit sy mening is dat die hofsaak enduit gevoer moet word. Hy was ook van mening dat die regslui die saak nie mooi begryp nie en dat hy toegelaat moet word om sy eie regslui aan te wys wat die ideologiese stryd sal voer op ’n wyse wat met sy opvattinge ooreenstem (NHKA 1966 soos aangehaal in Oberholzer 2010g:86).

Die saak teen Pont het op 15 Februarie 1967 ’n aanvang geneem en hy was altesaam 23 dae in die getuiebank. Die saak is afgesluit op 21 April, op die 39ste dag nadat dit begin het. Op 13 Junie 1967 neem die Kommissie kennis van die uitspraak op 09 Junie 1967 en dat die saak teen Pont uitgewys is en dat dit die grootste bedrag skadevergoeding tot dan was wat vir ’n lastereis toegestaan is (Oberholzer 2010g:88).

Ander gebeure wat in hierdie era vermelding verdien is die volgende:

  • Die Kerk se uittrede uit die Wêreldraad van Kerke vind met ’n konsepverklaring op 20 Junie 1962 plaas (NHKA 1962 soos aangehaal in Oberholzer 2010g:77).
  • Die kuratorium besluit op 13 September 1962 om vir dr S.P.J.J. van Rensburg as professor in Nuwe Testament te benoem met ingang 01 Februarie 1963 (Kuratorium 1962 soos aangehaal in Oberholzer 2010g:78).
  • Dr J.I. de Wet word op 13 Junie 1967 deur die Kuratorium vir die sesde leerstoel, dié in Praktiese Teologie, aanbeveel (Kuratorium 1967 soos aangehaal in Oberholzer 2010g:89). Iemand wat intens geraak is deur die aanstelling van De Wet, was dr Cas Labuschagne. Van Aarde, De Villiers en Buitendag (2014:1) vermeld die volgende:

Cas Labuschagne was lecturer in the Faculty of Humanities, teaching Semitic Languages during 1959–1962. He was also responsible for the teaching of Biblical Studies in the Faculty of Theology. However, his lectureship was abruptly terminated because of his support of Prof. Geyser. He had to hear from a news bulletin on public radio that he had been replaced in his position by Dr J.I. de Wet.

So kom hierdie era, gekenmerk veral deur die Geyser- en Pont-sake, wat sekerlik van die minder aangename gebeure in die geskiedenis van die NHKA was, tot ’n einde.

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar hiermee dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig of voordelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

Literatuurverwysings

Ad Destinatum, 1960, Gedenkboek van die Universiteit van Pretoria 1910–1960, Voortrekker Printers, Johannesburg. (In teks ‘AD 1960’).

Almanak, 2016, Jaarboek van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, Jaargang 110, Sentik Aosis Publishing, besigtig op 12 Julie 2016, vanaf http://www.hts.org.za/index.php/HTS/issue/view/39

De Hervormer, 15 Desember 1911, 3de Jaargang, no. 32, besigtig op 14 Julie 2016, vanaf https://archive.org/stream/diehervormermaan00unse_30/diehervormermaan00unse_30_djvu.txt

Gedenkalbum, 1986, Gedenkalbum 1886–1986 van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika in woord en beeld, NHW Pers, Pretora.

Kuratorium, 1912, Handelinge van die Kuratorium, 15/10/1912, NHKA Argief, Pretoria.

Kuratorium, 1919, Handelinge van die Kuratorium, 22/07/1919, NHKA Argief, Pretoria.

Kuratorium, 1917, Handelinge van die Kuratorium, 25/01/1917, NHKA Argief, Pretoria.

Kuratorium, 1921, Handelinge van die Kuratorium, 15/04/1921, NHKA Argief, Pretoria.

Kuratorium, 1929, Handelinge van die Kuratorium, 05/12/1929, NHKA Argief, Pretoria.

Kuratorium, 1930, Handelinge van die Kuratorium, 30/12/1930, NHKA Argief, Pretoria.

Kuratorium, 1934, Handelinge van die Kuratorium, 04/12/1934, NHKA Argief, Pretoria.

Kuratorium, 1937, Handelinge van die Kuratorium, 07/12/1937, NHKA Argief, Pretoria.

Kuratorium, 1942, Handelinge van die Kuratorium, 10/12/1942, NHKA Argief, Pretoria.

Kuratorium, 1943, Handelinge van die Kuratorium, 23/06/1943, NHKA Argief, Pretoria.

Kuratorium, 1944, Handelinge van die Kuratorium, 21/06/1944, NHKA Argief, Pretoria.

Kuratorium, 1955, Handelinge van die Kuratorium, 17/01/1955, NHKA Argief, Pretoria.

Kuratorium, 1957, Handelinge van die Kuratorium, 29/08/1957, NHKA Argief, Pretoria.

Kuratorium, 1959, Handelinge van die Kuratorium, 18/05/1959, NHKA Argief, Pretoria.

Kuratorium, 1960, Handelinge van die Kuratorium, 08/02/1960, NHKA Argief, Pretoria.

Kuratorium, 1961, Handelinge van die Kuratorium, 03/10/1961, NHKA Argief, Pretoria.

Kuratorium, 1962, Handelinge van die Kuratorium, 01/08/1961, NHKA Argief, Pretoria.

Kuratorium, 1962, Handelinge van die Kuratorium, 13/09/1962, NHKA Argief, Pretoria.

Kuratorium, 1967, Handelinge van die Kuratorium, 13/06/1967, NHKA Argief, Pretoria.

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 2013, amptelike webbladsy van die NG Kerk, besigtig op 15 Junie 2016, vanaf http://ngkerk.org.za/wp/index.php/teologiese-opleiding/

Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA), 1951, Kerkwet en bepalings, HAUM, Pretoria.

NHKA, 1906, Handelinge van die Algemene Kerkvergadering, 05/07/1906, NHKA Argief, Pretoria.

NHKA, 1909, Handelinge van die Algemene Kerkvergadering, 19/03/1909, NHKA Argief, Pretoria.

NHKA, 1909, Handelinge van die Algemene Kerkvergadering, 20/07/1909, NHKA Argief, Pretoria.

NHKA, 1912, Handelinge van die Algemene Kerkvergadering, 03/12/1912, NHKA Argief, Pretoria.

NHKA, 1916, Handelinge van die Algemene Kerkvergadering, 16/05/1916, NHKA Argief, Pretoria.

NHKA, 1921, Handelinge van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, 15/01/1921, NHKA Argief, Pretoria.

NHKA, 1922, Handelinge van die Algemene Kerkvergadering, 27/07/1922, NHKA Argief, Pretoria.

NHKA, 1934, Handelinge van die Algemene Kerkvergadering, 15/05/1934, NHKA Argief, Pretoria.

NHKA, 1935, Handelinge van die Algemene Kerkvergadering, 16/08/1935, NHKA Argief, Pretoria.

NHKA, 1942, Handelinge van die Algemene Kerkvergadering, 20/03/1942, NHKA Argief, Pretoria.

NHKA, 1944, Handelinge van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, 21/06/1944, NHKA Argief, Pretoria.

NHKA, 1945, Handelinge van die Algemene Kerkvergadering, 08/05/1945, NHKA Argief, Pretoria.

NHKA, 1946, Handelinge van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, 15/03/1946, NHKA Argief, Pretoria.

NHKA, 1946, Handelinge van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, 12/06/1946, NHKA Argief, Pretoria.

NHKA, 1948, Handelinge van die Algemene Kerkvergadering, 11/05/1948, NHKA Argief, Pretoria.

NHKA, 1951, Handelinge van die Algemene Kerkvergadering, 08/03/1951, NHKA Argief, Pretoria.

NHKA, 1954, Handelinge van die Algemene Kerkvergadering, 09/03/1954, NHKA Argief, Pretoria.

NHKA, 1955, Handelinge van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, 15/03/1955, NHKA Argief, Pretoria.

NHKA, 1955, Handelinge van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, 26/05/1955, NHKA Argief, Pretoria.

NHKA, 1955, Handelinge van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, 27/05/1955, NHKA Argief, Pretoria.

NHKA, 1955, Handelinge van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, 14/06/1955, NHKA Argief, Pretoria.

NHKA, 1955, Handelinge van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, 05/09/1955, NHKA Argief, Pretoria.

NHKA, 1957, Handelinge van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, 24/07/1957, NHKA Argief, Pretoria.

NHKA, 1957, Handelinge van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, 10/09/1957, NHKA Argief, Pretoria.

NHKA, 1957, Handelinge van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, 03/12/1957, NHKA Argief, Pretoria.

NHKA, 1960, Handelinge van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, 29/03/1960, NHKA Argief, Pretoria.

NHKA, 1960, Handelinge van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadeirng, 13/09/1960, NHKA Argief, Pretoria.

NHKA, 1961, Handelinge van die Algemene Kerkvergadering, 09/03/1961, NHKA Argief, Pretoria.

NHKA, 1961, Handelinge van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, 19/09/1961, NHKA Argief, Pretoria.

NHKA, 1961, Handelinge van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, 24/10/1961, NHKA Argief, Pretoria.

NHKA, 1962, Handelinge van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, 20/06/1962, NHKA Argief, Pretoria.

NHKA, 1962, Handelinge van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, 31/07/1962, NHKA Argief, Pretoria.

NHKA, 1963, Handelinge van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, 26/08/1963, NHKA Argief, Pretoria.

NHKA, 1965, Handelinge van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, 08/03/1965, NHKA Argief, Pretoria.

NHKA, 1965, Handelinge van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, 20/05/1965, NHKA Argief, Pretoria.

NHKA, 1966, Handelinge van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, 06/09/1966, NHKA Argief, Pretoria.

NHKA, 1966, Handelinge van die Moderamen van die Algemene Kervergadering, 13/09/1966, NHKA Argief, Pretoria.

Oberholzer, J.P., 2010a, ‘Samesteller se voorwoord’, in Honderd jaar kerk en teologiese opleiding: ’n Kroniek van die Hervormde Kerk, HTS Teologiese Studies/Theological Studies, suppl. 9, 66(3), Art. #942, 1 page. https://doi.org/10,4102/HTS.v66i3.942

Oberholzer, J.P., 2010b, ‘Die aanloop 1909–1916’, in Honderd jaar kerk en teologiese opleiding: ’n Kroniek van die Hervormde Kerk’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies, suppl. 9, 66(3), Art. #916, 12 pages. https://doi.org/10.4102/hts.v66i3.916

Oberholzer, J.P., 2010c, ‘Die klein begin 1916−1933’, uit Honderd jaar kerk en teologiese opleiding: ’n Kroniek van die Hervormde Kerk’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies, suppl. 9, 66(3), Art. #922, 22 pages. https://doi.org/10.4102/hts.v66i3.922

Oberholzer, J.P., 2010d, ‘Twee afdelings van een fakulteit 1934−1940’, uit Honderd jaar kerk en teologiese opleiding: ’n Kroniek van die Hervormde Kerk, HTS Teologiese Studies/Theological Studies, suppl. 9, 66(3), Art. #919, 8 pages. https://doi.org/10.4102/hts.v66i3.919

Oberholzer, J.P., 2010e, ‘Interne spanning en stryd 1941−1953’, uit Honderd jaar kerk en teologiese opleiding: ’n Kroniek van die Hervormde Kerk, HTS Teologiese Studies/Theological Studies, suppl. 9, 66(3), Art. #925, 20 pages. https://doi.org/104102/hts.v66i3.925

Oberholzer, J.P., 2010f, ‘Politieke spanning en ekumeniese druk 1954–1960’, uit Honderd jaar kerk en teologiese opleiding: ’n Kroniek van die Hervormde Kerk’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies, suppl. 9, 66(3), Art. #920, 10 pages. https://doi.org/104102/hts.v66i3.920

Oberholzer, J.P., 2010g, ‘Ekumeniese isolasie en interne stryd 1961–1970’, in Honderd jaar kerk en teologiese opleiding: ’n Kroniek van die Hervormde Kerk, HTS Teologiese Studies/Theological Studies, suppl. 9, 66(3), Art. #936, 21 pages. https://doi.org/104102/hts.v66i3.936

Universiteitsraad, 1935, ‘Notule van die vergadering van die Universiteitsraad gehou op 16/08/1935’, 16/viii/35, R.1166, Notule van die Universiteitsraad 1935, Universteit van Pretoria.

Universiteitsraad, 1943, ‘Notule van die vergadering van die Universiteitsraad gehou op 24/06/1943’, 24/6/43, R.2566, Notule van die Universiteitsraad 1940–1944, Universteit van Pretoria.

Van Aarde, A.G., De Villiers, Pieter G.R. & Buitendag, J., 2014, ‘The forgotten struggle of Albert Geyser against racism and apartheid’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 70(1), Art. #2820, 10 pages. https://doi.org/10.4102/hts.v70i1.2820

Footnote

1. Vanweë die omvattendheid van die gebeure word daar in hierdie artikel net op die aanloop en die eerste vyftig jaar naamlik 1917–1967 gekonsentreer. In ’n tweede artikel gaan die gebeure vanaf 1968–2017 aandag geniet.



Crossref Citations

No related citations found.