About the Author(s)


Ignatius W.C. van Wyk Email
Department Church History and Church Polity, Faculty of Theology, University of Pretoria, South Africa

Citation


Van Wyk, I.W.C., 2016, ‘Die funksie en doel van die Apostoliese Geloofbelydenis’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 72(4), a3497. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v72i4.3497

Project leader: W.A. Dreyer

Project number: 77370920

Description: This research is part of the project, ‘History of the Netherdutch Reformed Church/Geskiedenis van die Nederduitsch Hervormde Kerk’, directed by Dr Wim Dreyer, Department of Church History and Church Polity, Faculty of Theology, University of Pretoria.

Original Research

Die funksie en doel van die Apostoliese Geloofbelydenis

Ignatius W.C. van Wyk

Received: 18 May 2016; Accepted: 07 Aug. 2016; Published: 17 Nov. 2016

Copyright: © 2016. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstract

The article deals with the function and aim of the Apostles’ Creed in the Netherdutch Reformed Church of Africa – and for that matter, all other Reformed churches. The history of the Credo is carefully described. By so doing the earliest uses of the Creed are established. This information is necessary to determine the present-day function and aim of our confession.

The relationship between faith, confession and the catechisms also provides important perspectives on the role of the Creed in the life of the church. The ecumenical nature of the church and the unity amongst Christians are emphasised. Unity with previous generations also receives attention as one of the main functions of the Credo.

In the article, attention is further given to a variety of misunderstandings about the Creed. Due to the fact that the confessional documents interpret the Credo, these documents tend to receive a status beyond the original intention. The Reformed understanding of the doctrinal standards is therefore explained.

Kerk en belydenis

Die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) is soos ander kerke wat in die Hervormde of Gereformeerde tradisie1 staan, ‘n ‘belydende kerk’.2 Hiermee word bedoel dat die Kerk sy geloof in belydenisse en belydenisskrifte verwoord (vgl. Plasger & Freudenberg 2005:7). Geloof is nie net ‘n saak van die hart, die emosie en die gevoel nie, maar is ook iets wat beskryf, daargestel en in woorde verduidelik kan word. Hiermee word nie gesê dat die gemeentes ‘n belydenis het nie, maar net dat die gemeentes geloof bely. Die belydenis van die gemeentes is nie ‘n selfstandige woord nie, maar ‘n antwoord op God se openbaring. Die belydenis van die gemeentes maak Jesus nie die Heer nie, maar is die antwoord op die feit dat Hy die Heer is (Weber [1955] 1972:39). Hierdie verwoorde geloof bied aan die K(k)erk oriëntasie op talle gebiede. Indien iemand vandag navraag sou doen oor die funksie en doel van die belydenis in die kerk (waarvan die Credo3 ‘n baie belangrike aspek is), sou die volgende voorlopige antwoord gegee kon word, naamlik: Die belydenis is:

  • samevatting van die kern van die Christelike geloof
  • norm vir die verkondiging
  • basis van die kategese
  • maatstaf vir teologiese onderrig
  • rigsnoer vir kerklik-teologiese uitsprake
  • afgrensing teen teologiese dwaling
  • rigtingwyser vir die gebruik en ontwikkeling van kerklik-teologiese taal
  • uitdrukking van ons onderlinge verbondenheid en eenheid
  • hoeksteen van ons sosiale identiteit
  • die band met die kerk van die verlede
  • ‘n aspek van die liturgie wat aanleiding gee tot gebed, sang en deelname aan die sakramente.

Hierdie lys word nie uit ‘n handboek afgeskryf nie, aangesien só ‘n lys telkens nuut vasgestel moet word. Sekere punte op hierdie lys kan in die toekoms verwyder word terwyl ander weer bygevoeg kan word.4 Omstandighede, nuwe vraagstukke en kerklike krisisse kan meebring dat daar nuut gedink sal moet word oor die funksie en die doel van die belydenis. ‘n Verandering aan die lys sal ook nie vreemd wees nie, aangesien die doel en funksie van die belydenis deur die loop van die eeue aangepas is. Daar moet onthou word dat die finale teks van die Credo ‘n produk van die 8ste eeu is. Die eerste skriftelike weergawe is afkomstig uit die 4de eeu, terwyl daar met goeie redes vermoed word dat mondelingse variante alreeds vroeg in die 2de eeu in omloop was.5 Bloot aan die hand van die ontwikkelingsgeskiedenis van die teks, leer ons van die verskeidenheid funksies wat die Credo in verskillende epogge gehad het. Die heel belangrikste funksies tydens die eerste eeue (soos blyk uit die inligting verskaf in die voetnotas) was:

  • antwoord op die doopvrae
  • handleiding vir doopkategese
  • afgrensing teen leerdwalings
  • konsensus oor en bedoeling van die apostoliese boodskap
  • ‘n kort samevatting van die Christelike geloof vir gebruik in die apologetiese en missionêre uitdagings van die kerk.

Die Apostolicum en geloof

In die poging om die funksie en doel van die belydenis uit te spel, is dit waardevol om na die samehang tussen die Apostolicum en die Christelike geloof te kyk. ‘n Mens kry ‘n klassieke voorbeeld van hierdie samehang by Martin Luther. Hy het die Apostolicum in sy Klein en Groot Kategismusse (1529; opgeneem in Concordia 2005) uitgelê. Hy sluit aan by die volkstaal van daardie tyd en praat gewoon van ‘die geloof’. Die gewoonte om ‘geloofbelydenis’ en ‘geloof’ as wisselterme te gebruik, gaan terug op Tertullianus en Cyprianus6 (vroeg 3de eeu). Luther het vir sy Duitse geskrifte die woorde ‘gelaupa, gelauba en gelouba’ en vir sy Latynse geskrifte die woord ‘credo’ gebruik. Wanneer hy na die Apostolicum verwys het, het hy by implikasie na óf alle aspekte óf na sekere aspekte van die geloof verwys. Wanneer Luther oor geloof wil praat, praat hy soms ook gewoon van die geloofbelydenis, en wanneer hy oor aspekte van die geloofbelydenis praat, praat hy oor die Christelike geloof. Hierdie mag na ‘n onbelangrike sakie lyk, maar dit is nie ‘n nietigheid nie. Luther, op grond van die vroeg-kerklike tradisie, het geweet dat aktiewe geloof (fides qua) nie van die inhoud van die geloof (fides quae) losgemaak kan word nie. Geloof beteken om bepaalde dinge aangaande die drie-enige God te glo, maar dit beteken nie om abstrakte leerstellings te glo nie. Geloof word geglo, maar geloof het ook inhoud. Geloof in God is ook slegs moontlik op grond van kennis van sy liefde vir ons in Christus – en hierdie hele kompleks kom byeen in die verskynsel van die Credo. Die funksie van die Apostolicum hou dus verband met die noodsaaklikheid dat die kerk oor ‘n samevatting van die hoofpunte van die geloof moet beskik.7 Gelowiges moet weet wat hulle glo, aangesien geloof nie blote gelowigheid is nie. Die hoofstroom-kerke was nog altyd oortuig dat geloof inhoud het en dat hierdie inhoud kortliks, in die vorm van ‘n belydenis, met mense gedeel kan word. Met die handhawing van die belydenis en die gebruik van die Credo in die erediens gee ons te kenne dat die Christelike geloof nie uitgelewer is aan die subjektiewe willekeur van die individuele lede nie – en dít skep eenheid en harmonie.

Eenheid van belydenis en geloof moet kerklik gestalte kry. Ons kan by Martin Luther ‘n belangrike les leer. Luther het die Apostolicum in sy Groot Kategismus uitgelê, maar nie volgens die legendariese tradisie van die Middeleeue nie, maar wel volgens die sisteem van die vroeë dooppraktyk, om naamlik op die drie persone van die Godheid te konsentreer. Verder het hy sy uitleg aangepas volgens die ‘riglyne vir visitasie’, soos opgestel deur Philipp Melanchthon. Hy (en Melanchthon) het ingesien dat die kerk geleenthede moet skep (soos visitasie) waar ampsdraers met mekaar oor die inhoud van die geloof kan praat (vgl. Peters 1991:13). In die NHKA bestaan die reëling ook dat daar tydens visitasie oor die ‘Bybels-Reformatoriese teologie’ (wat begin by die Apostolicum) gesprek gevoer sal word. Dít vind egter by hoë uitsondering plaas. Indien visitasie tot ‘n blote administratiewe funksie verlaag word, is dit ‘n aanduiding dat die Kerk alreeds (teologies) dood is. Predikante en kerkraadslede moet minstens met mekaar oor die kern van die belydenis gesprek voer, en die visitasieprogram moet tyd hiervoor inruim. Sonder onderlinge gesprek oor die Apostolicum tydens visitasie, sal die eenheid van die Kerk nie op die lang termyn gehandhaaf kan word nie.

By Johannes Calvyn kry ons dieselfde noue band tussen geloof en belydenis. Volgens Calvyn is die belydenis ‘compendium et quasi epitome quaedam fidei’ [‘samevatting en voorbeeld van die geloof’] (vgl. Hoffmann 1957:513 vir verwysings). Die belydenis is vir hom nie ‘n herhaling van Bybelse tekste nie, maar is gebaseer op die tekste van die Bybel. Net soos Luther, het Calvyn aanvanklik die Christelike geloof verduidelik deur die Apostoliese Geloofbelydenis uit te lê in sy kategismusse.8 Calvyn was oortuig dat die Christelike geloof oorgelewer en geleer moet word. Sonder kennis van die inhoud van die geloof, kan die kerk nie ontwikkel en groei nie. Hy was oortuig dat die beste manier om kennis aan te leer en oor te dra kategetiese onderrig is. Kategetiese onderrig (kennis van God) moet oorgaan in ‘n erediens9 (verering van God). Op hierdie wyse kry die verskillende aspekte van geloof10 (soos kennis, vertroue, lofprysing, hoop en aanbidding) die nodige aandag (Freudenberg 2008:208).

Nog ‘n belangrike aspek van Calvyn se kategismusse (wat reg deur hierdie artikel beklemtoon word) het met die ekumeniese aard van die Christelike geloof te make. Die Latynse weergawes was saam met die begeleidende briewe bedoel om Protestante in die ander lande in die geloof saam te snoer. Die Christelike geloof is ekumenies van aard, en ekumene het met die eenheid in geloof te make, en om één te wees in die geloof moet daar ‘n gedeelde belydenis wees wat op grond van gemeenskaplike geloofsoortuigings binne dieselfde kontoere uitgelê word.

Is die binding aan eeue-oue formulerings nog waardevol?

Een van die eerste kritiese vrae wat tydgenote sal vra, is hoekom die kerk nog steeds aan eeue-oue oortuigings en formulerings vasklou. Hiervoor is daar baie goeie redes. Die feit dat ons op formulerings steun wat eeue oud is, maak nie saak nie, aangesien hierdie woorde die woorde is ‘van ons wat nóú hier leef en belydenis doen’ (Barth 1990:616). Die feit dat ‘ons belydenis’ eeue gelede geformuleer is, beteken nie dat ons nie vir onsself kan dink nie, maar dat ons aan ons voorgeslagte verbonde is en bly. Ons deel nie in hulle geloof nie, maar ons deel saam met hulle in die Christelike geloof.

Die hernude terugkeer na en aanvaarding van die drie klasieke ekumeniese belydenisse is van besondere belang vir die Hervormde (reformierte) tradisie. Aangesien ons nie (soos die Lutherane11) oor ‘n eenvormige en afgeslote versameling van belydenisskrifte beskik nie, is die drie belydenisse ons ‘onderlinge band van eenheid’12, sowel as ons band van eenheid met die res van die Christendom. Die Credo kan daarom nooit ons las word nie, aangesien ons aan die hand van hierdie woorde, saam met die kerk van die verlede en saam met die kerk oor die hele aarde, telkens opnuut ons geloof in Jesus Christus kan bely. Hierdie funksie van die Credo (en die ander twee belydenisse) is vir die hele Reformatoriese tradisie van uiterste belang. Philipp Melanchthon13 het dit beklemtoon dat die ‘evangeliese leer’ (of die ‘Protestantse teologie’) in ooreenstemming is met die ‘konsensus van die algemene kerk’ – met ander woorde, in ooreenstemming is met die vroeë konsiliebesluite rakende die twee-nature-leer en die leer oor die drie-eenheid. Katolisiteit is gegrond in apostolisiteit: die leer van die apostels, wat saamgevat word in die symbola of belydenisse van die kerk. En die apostolisiteit is nie te verstaan sonder die bede van Jesus dat sy volgelinge één sal wees nie (Joh 17). Die feit dat kerke in die Hervormde tradisie aan die Apostolicum verbonde bly, is dus nie ‘n intellektuele verleentheid nie, maar is ‘n teken dat Christen-wees ‘n saak is wat oor die grense van tyd en ruimte strek. Ons glo, aan die hand van die Apostoliese Geloofbelydenis, saam met mense in die verlede en mense reg oor die wêreld aan die één waarheid oor Jesus Christus. Deur die handhawing van hierdie ‘simbool’ herhaal ons die waarheid wat aan ons oorgelewer is (Weber [1955] 1972:41). Dít is ons hernude keuse en het niks met ‘n gebrek aan denke te make nie.

Die handhawing van die Credo het ook niks met die gebrek aan vryheid te make nie. Om gesamentlik, in die erediens, geloof te bely is ‘n daad van vryheid. Ons deel daarom nie die klag van Alexander Schweitzer nie, wat gemor het: ‘Ons vadere het hulle geloof bely, en nou moet ons poog om hulle belydenisse te glo’ (vgl. Busch 2003:10). Ons glo nie die geloof van ons voorgeslagte nie, maar ons glo in dieselfde wat hulle geglo het. Ons voorgeslagte moes die vraag beantwoord: ‘Wie sê julle is Ek?’ (Matt 16:16). Ons moet ook hierdie vraag beantwoord. Ons doen dit net met gebruikmaking van hulle woorde. Dit is nie net ons wat hierdie woorde gebruik nie; Christene oor die ganse aarde en reg deur die geskiedenis doen dit. Niemand dwing ons om hierdie woorde te gebruik nie; ons kies telkens in vryheid om dit te gebruik.

Die implikasie van die pas gestelde argument is dat nuwe belydenisse ‘n rariteit is. Daar sal altyd ruimte wees vir ‘n nuwe belydenis, maar daar moet baie goeie redes daarvoor bestaan. ‘n Nuwe belydenis is slegs nodig wanneer wesenlike sake wat die kerk raak nie deur die ou belydenisse aangespreek word nie. ‘n Nuwe belydenis moet die bestaan en voortbestaan van die kerk raak, moet aan die Heilige Skrif gemeet word, moet trouheid teenoor vorige belydenisse bewys, moet nie uit ‘n geleerde of konfessionele stokperdjie voortspruit nie en moet werklik gaan oor die staan en die val van die kerk. Die vraag sal ook altyd gevra moet word of die saak nie dalk beter deur ‘n belydenisskrif aangespreek kan word nie (vgl. Busch 2003:17–18).

‘n Tweede rede hoekom daar voortgegaan moet word om die Apostolicum te gebruik, het met kohesie en identiteit te make. Die vroeë gebruik van die belydenis was Christologies van aard. Aan hand van Christologiese formules soos ‘Jesus is die Here’, kon die gemeentes hulle geloofskonsensus tot uitdrukking bring. Hulle kon hulle eenheid in Christus formule-agtig uitspel wat bygedra het tot die sosiale kohesie in die Vroeë Kerk. Die kohesie het bygedra tot hulle unieke identiteit as ‘heilige kerk’: ‘n geloofsgemeenskap anders en gedistansieer van die samelewing.14 Om as ‘n ‘alternatiewe gemeenskap’15 lewensvatbaar te bly, is ‘n sterk gevoel van eenheid nodig. Die gebruik van ‘n gemeenskaplike belydenis (veral wanneer dit in ‘n geskrewe teks opgeneem is) deur alle gemeentes van die kerk, help baie om ‘n eenheidsgevoel onder die lidmate te vestig en te handhaaf. Die belydenis in geskrewe vorm, is een van die min sigbare tekens van kerklike eenheid, en behoort daarom soos ‘n kosbare skat bewaar te word. Die toenemende neiging in sekere gemeentes om nie tydens die erediens hulle geloof aan die hand van een van die drie geloofbelydenisse te bely nie, is ‘n teken van die verval van die kerk (behalwe as geargumenteer word dat die erediens as sodanig ‘n daad van belydenis is; Schröer 1998:1263). In die Charismatiese kerke word die geloofbelydenisse nie gebruik nie, op grond van ‘n radikaal ander verstaan van geloof. Die nuwe neigings om afstand te neem van die geloofbelydenis, bedreig die eenheid, kohesie en identiteit van die kerk.

‘n Derde rede hoekom die belydenis gehandhaaf moet word, het te make met afgrensing van dwaalleer. Aangesien die Christologie die kern van die belydenis in die Vroeë Kerk uitgemaak het, het die belydenis ‘n belangrike funksie vervul in die identifisering van en afgrensing teen dwaalleer. Die kritiese vraag kan tereg gevra word of hierdie funksie vandag nog steeds in ons pluralistiese samelewing gehandhaaf kan word. Ek is daarvan oortuig dat grense vandag nog steeds getrek moet word. Die kontroverse het egter totaal verander. Die ‘welvaartsgodsdiens’ is een tema waar kerke (selfs in samewerking met die staat) vandag grense sal móét trek. Perverse selfverryking en oneerlike finansiële praktyke deur ‘biskoppe’, ‘pastore’ en ‘leiers’ skaad die integriteit van die Christelike godsdiens, en dít kan nie sonder teenspraak maar net geduld word nie. Die vaste punt waar hierdie openbare kritiek begin, is by die Apostolicum. Die afgrensende funksie van die belydenis is ook gerig teen willekeur wat steurend inwerk op die voortgang van die kerklike lewe en werk. Die teruggryp op die belydenis as ‘n vaste vertrekpunt word gedoen wanneer sekere persone nie slegs kritiese vrae oor sekere standpunte vra nie, maar die kerk as sodanig in vraag wil stel. Wanneer bepaalde persone dus byvoorbeeld beweer dat die Hervormde Kerk nie meer bestaansreg het nie op grond van die betwyfeling van kernelemente van die kerklike belydenis, dan val die Kerk terug op die belydenis wat honderde jare lank deur die breë kerklike gemeenskap gehandhaaf is, en grens hom teen hierdie persone af (Busch 2003:17).

In ‘n positiewe sin het die belydenis in die Vroeë Kerk gefunksioneer as riglyn vir die prediking, onderrig, missionêre werk16 en teologiese nadenke. Die Christologiese inhoud van die aanvanklike belydenis het die lofuitinge van die gemeentes (homologie) bepaal. Die sang, gebede en kuns van die gemeentes was gevul met dít wat ten diepste geglo is. Aangesien al hierdie dinge vandag nog steeds belangrik is vir gemeentes, is dit vierdens ondenkbaar dat die gebruik van die Credo afgeskaal kan word.

Die belydenis, veral in sy trinitariese gestalte, het in die Vroeë Kerk ‘n sakramentele funksie gehad. Mense is gedoop en hulle is tot die Nagmaal toegelaat nadat hulle in die openbaar hulle geloof bely het. Ná deelname aan die Nagmaal was dit ook vanpas om belydenis van geloof te doen. Nadat lidmate by die altaar, of aan tafel, die goedheid van die Heer beleef het, kon hulle nie anders as om hulle geloof te bely nie. Die belydenis was dus funksioneel by opname in die kerk (inisiasie-ritueel) en by die danksegging van die gemeente (eucharistie). Aangesien kerkwees nie sonder hierdie twee aktiwiteite voorgestel kan word nie, kan die Geloofbelydenis ook nie onnadenkend (as die vyfde rede) uit die gemeentelike lewe verdwyn nie.

Die sesde argument: In die vyandige Romeinse Ryk het die belydenis ook ‘n apologetiese17 funksie gehad. Die gemeentes kon met behulp van die belydenisuitsprake sê wat hulle glo en wat hulle nie glo nie. Hulle kon die onwaarhede wat oor Jesus versprei is, beveg, en hulle kon redes gee hoekom mense hulle vertroue en hoop op Christus kon plaas. Vandag besef ons dat ons terug is by ‘n ‘Hellenistiese werklikheidsbelewenis’. Ons lewe in ‘n vyandige wêreld waar die Christelike geloof nie meer waardeer word nie. Om hierdie rede het ons ‘n belangrike apologetiese taak, en sonder kennis van die hoofpunte van die geloof sal hierdie taak nie uitgevoer kan word nie.

‘n Sewende argument wat geopper kan word oor hoekom die geloofbelydenis gehandhaaf moet word, het met die feit te make dat die belydenis van geloof met feitlik elke ander aspek van kerkwees verbandhou. Anders gestel: Sou lidmate nie meer hulle geloof ten aanhore van ander wil bely nie, is dit ‘n teken dat die ander aktiwiteite in en van die kerk ook nie meer met erns gedoen word nie. Geloofbelydenis het nie nét te make met die uitspreek van die Credo nie, maar het ook te make met ons gebede, getuienisse, leer, lof en selfs sinodesittings. Ons belydenis kan ook in die vorm van ‘n kerkgebou of beeldhouwerk voorkom (die simbool-estetiese dimensie van belydenis). Luther en Melanchthon was korrek toe hulle geargumenteer het dat alles in die kerk eintlik belydenis18 is. Ons kan op hierdie punt weer ‘n lysie (in aansluiting by Schwartz 1984:437–441) aanbied van belydenisfunksies om hierdeur aan te dui dat dit uiters kortsigtig is wanneer ‘n gemeente besluit om nie meer tydens die erediens belydenis van geloof te doen nie. Die belydenis van geloof het te make met:

  • Christene se selfdefinisie
  • die gemeenskapsfunksie van die gemeente en kerk
  • die afgrensingsfunksie teen die verkeerde leer
  • die kerugmatiese funksie van die gemeente (vandag die ‘missionale’ funksie genoem)
  • die doksologiese funksie wat tot uiting kom in sang en gebede
  • die kategetiese funksie wat uitloop op die aflegging van geloofbelydenis.

Opklaring van misverstande

Daar bestaan talle misverstande oor die Geloofbelydenis. Dit is nodig dat ‘n paar van hierdie misverstande uit die weg geruim word. Die eerste het met die verband tussen belydenis en geloof te make. Ons het reeds in paragraaf twee oor hierdie tema gehandel, maar dit is nodig om nog ‘n paar opmerkings te maak. Ons glo nie die belydenis nie, maar in God en sy genade. Die belydenis is geen leerwet nie, maar is ‘n uitnodiging om saam met die hele kerk te glo. Die belydenis wil ‘n algemene relativisme in die geloof teëwerk sonder om wetties voor te kom. Die funksie van die belydenis lê tussen dit wat ek móét glo en dit wat ek kán glo. Die belydenis sê nie wat jy móét glo nie, maar nooi jou uit om saam met en soos die kerk te glo. Die belydenis is iets tussen dwang en willekeur, met die bedoeling om saam met die kerk iets bindend te kan sê. Die belydenis is die ‘geestelik-bindende konsensus’ van die kerk (Weber [1955] 1972:38). Om nie in geloofsdwang te verval nie, word die belydenis telkens nuut vertaal en uitgelê. Hiermee wil ‘n mens nie ‘n nuwe belydenis skep nie, maar die ou waarheid ophelder vir die mens van vandag (vgl. Busch 2003:20–21).

Dieselfde argument kan ook uit ‘n ander hoek benader word. Die funksie en gebruik van die belydenis kan nooit van geloof losgekoppel word nie. Die Credo word in die kerk gebruik omdat die lidmate van die kerk besluit het en telkens opnuut besluit om die evangelie te glo. Hierdie besluit word egter telkens moontlik gemaak deur die selfopenbaring van die drie-enige God wat ons oproep om hierop te reageer. Wanneer ons ‘besluit’ om te glo, glo ons die wil van God om Hom aan ons bekend te maak. Geloof is nie die wilsprestasie van die mens om God tot lewe te wek nie, maar om te antwoord op die roepstem van God wat sê: ‘hier is Ek!’ (vgl. Barth [1935] 1964:2–3). Geloof is nie net ‘n vae gevoel dat daar ‘n ‘Goddelike wese’ bestaan nie, maar geloof in die Vader, Seun en Heilige Gees. Hierdie geloof word tot uitdrukking gebring in die na-sê van die Apostolicum. Dit gaan ook nooit om die blote na-praat van die voorgeslagte nie, maar om steun op ‘n raamwerk, waaroor daar ‘n eeue lange konsensus bestaan. Hierdie raamwerk, of hoofpunte van die geloof, moet egter altyd opnuut uitgelê word aangesien daar voortdurend getrag word na insig in dít wat geglo word (credo, ut intelligam; vgl. Barth [1935] 1964:4).

Dit is noodsaaklik om die Geloofbelydenis nuut uit te lê. Een van die basiese kenmerke van die Hervormde of Gereformeerde tradisie is dat daar nooit verstarring kan wees nie. Ons leef met die spreuk saam dat ‘n Hervormde kerk (veronderstel is om) homself voortdurend te hervorm (ecclesiae reformata, semper reformanda est).19 Die vraag is egter wat hierdie spreuk beteken. Voortdurende ‘hervorming’ beteken nie voortdurende ‘verandering’ nie (soos dikwels verkeerd gemeen word), maar eerder ‘n herontdekking van vergete perspektiewe op Christen-wees. Dit is veral die Tsjeggiese Reformasie wat ons met hierdie insig kan help. Volgens Matthias von Janov († 1393), die vader van die Tsjeggiese hervormingsbeweging, beteken ‘hervorming’ ‘n terugkeer na die elementêre oorspronge van die Christelike godsdiens, en dít is die Skrif en belydenis. Die belydenis bevat die kern van die evangelie, en die evangelie moet aktueel uitgelê word. In die Boheemse Reformasie word teologie beskou as aktuele nadenke oor die geloof, maar dan nadenke in ‘n oop maar (eskatologies) verkorte horison. Teologie, ‘n hernude nadenke oor die kernsake van die geloof, kan egter nie tydloos aanhou nie, aangesien teologie die ‘teologie van die pelgrims’ is (theologia viatorum). Volgens hierdie tradisie, beteken ‘hervorming’ dus hernude uitleg van die eeue-oue belydenis, maar met die wete dat ons ‘swerwersbestaan’ ‘n bestemming het waar die aanhoudende soeke tot ‘n einde gaan kom. Die band tussen hermeneutiek en eskatologie is ‘n belangrike bydrae vanuit hierdie tradisie (vgl. Lochman 1982:9–10). Prakties beteken dit dat ‘hervorming’ die herontdekking van die geloofskatte van die verlede beteken, maar met die wete dat die proses van herontdekking, herinterpretasie en aktualisering nie ‘n ewigdurende proses is nie, aangesien die Here in aankoms is. Die (weder)koms van die Here bevry ons van ‘n nimmer-eindigende innovasielas.

Daar moet verder onthou word dat ons poging om die Apostolicum nuut uit te lê nie net op eietydse vraagstukke kan konsentreer nie. Die dogmatiese raamwerk van die Vroeë Kerk moet die hele tyd in spel bly. Die belydenis kan nie verstaan word sonder kennis van hierdie debatte nie. Aktuele uitleg impliseer ook dialoog met die oorlewering, en die oorlewering behels nie net die ou teks nie, maar die ‘riglyn van die geloof’ (regula fidei) wat agter die teks verskuil lê. Dit is hierdie dimensie van die geloof waarsonder ons nie kan voortgaan nie. Hierdie ‘riglyn vir die geloof’ is dít wat in die verlede in die erediens tot uiting gekom het, en hierdie ‘riglyn’ moet vandag weer in die erediens na vore tree. Dit is die lewendige geskiedenis van die verlede wat vandag (in die erediens) lewend gehou moet word. ‘n Uitleg van die Apostolicum wat nie hieraan meewerk nie, het geen waarde nie. In ons uitleg vandag moet ons ook luister na die stemme van die vaders, maar hulle stemme kan nie ons stemme verdring nie. Aktuele uitleg beteken ten diepste handhawing van die kontinuïteit met die boodskap van die apostels. Buite die apostoliese boodskap om kan ons nie die geloofbelydenis vandag nuut uitlê nie (vgl. Lochman 1982:15–17).

Die verskille en samehang tussen belydenis en belydenisskrif

Hierdie bydrae handel oor die funksie en betekenis van die belydenis, en dan spesifiek die Credo. Die geloofbelydenis (creed) is nie dieselfde as ‘n belydenisskrif (confessional document of doctrinal standard) nie. Daar is verskille in ouderdom, omvang en ekumeniese reikwydte. Nogtans is die Apostolicum in talle Protestantse belydenisskrifte, veral in die gestalte van kategismusse, opgeneem. Naas die teks van die Twaalf Artikels wat in ‘n kategismus opgeneem is, word dit ook voorsien van ‘n uitleg. Dit is juis die uitleg wat ooglopend voorlopig en tyd- en plekgebonde is. In die lig hiervan moet daar noukeurig onderskei word tussen belydenis en belydenisskrif. Terwyl die belydenis (die tekste van die drie klassieke belydenisse) nie (vandag maklik) verander word nie, is die uitleg wat in die belydenisskrifte (o.a. die Heidelbergse Kategismus) gevind word, ‘n saak van relatiewe waarde. In die lig hiervan is dit tóg nodig om die Hervormde of Gereformeerde verstaan van belydenisskrifte te verduidelik:

  1. Hervormde belydenisskrifte is aan die Woord ondergeskik. Ons aanvaar die beginsel van ‘die Woord alleen’ (sola Scriptura). Wat ons met behulp van die belydenisskrifte bely, het niks met selfgemaakte stellings te make nie, maar met dít wat uit die Bybel kom. Die belydenisskrifte vervang nie die Skrif nie, maar is ‘n hulpmiddel om die Skrif reg te verstaan – dit Christologies te verstaan. Só word die kerk teen pluralisme sonder ‘n kern beskerm.

  2. Die Hervormde belydenistradisie is nie eng konfessionalisties nie. Op voetspoor van ons voorgangers soos Calvyn, Johannes à Lasco en Zacharias Ursinus, is daar ‘n openheid en ruimgeestigheid jeens ander leertradisies. Die Hervormde (reformierte) tradisie wil slegs kerk van Christus wees. Indien insigte uit ander tradisies ons nader aan Christus kan bring, leer ons graag van hulle.

  3. Hervormde belydenisskrifte is hulpmiddels in gehoorsaamheid aan en navolging van Christus. Belydenisskrifte het nie die bedoeling om ons nader aan mense soos Calvyn of Ursinus te bring nie, maar wil die geloof in Jesus Christus bevorder.

  4. Die belydenisskrifte is prinsipieel korrigeerbaar – korrigeerbaar om in ooreenstemming te kom met die vroegkerklike leerbeslissings soos vervat in die belydenisse. Die belydenisse is daarom die toetssteen vir ouer en nuwe belydenisskrifte en kan daarom nie prysgegee word nie.

  5. Hervormde belydenisskrifte word nie saamgebundel in ‘n afgeslote korpus nie, aangesien daar ruimte gelaat word vir nuwe insigte, kreatiwiteit en eie inisiatief. Die belydenisse perk die kreatiwiteit egter in, aangesien sekere grense en perke (die vroeë kerklike leerbeslissings) nie oorskry kan word nie. Ten spyte hiervan, toon die Hervormde leertradisie openheid vir die werking van die Heilige Gees vandag.

  6. Hervormde belydenisskrifte is gerig op die verwoording van geloof in die aktuele situasie. Om hierdie rede is daar altyd ruimte vir ‘n nuwe belydenisskrif.20 Hierdie houding jeens belydenisskrifte hou verband met die Hervormde kerkbegrip. Die kerk van Christus is die ‘wandelende volk van God’ wat onderweg is. Hy het nie gearriveer nie en is daarom nie vasgevang in bindinge nie. Hierdie kerk het ook nie hoofstede nie, en lewe vandag en nie in die verlede nie.

  7. Die plek waar die belydenisskrifte primêr tot hulle reg kom, is in die erediens en nie in die kerklike ‘leertug’ nie. Die rede hoekom die belydenisskrifte (veral in die gestalte van ‘n kategismus) in die erediens aandag moet geniet, het met Calvyn se insig te make dat die erediens twee sake moet dien, naamlik die ‘eer aan God’ (Laus Deo) en ‘aan God alleen die eer’ (Soli Deo gloria). Onderrig oor die kernsake van die geloof, sal beide hierdie perspektiewe bevorder (vgl. Van Niftrik [1944] 1961:20–31; Weber [1955] 1972:41–42; Schlink 1983:646–652; Härle 1998:1261; Plasger & Freudenberg 2005:12–13; Busch 2007:11–41; Freudenberg 2011:120–135).

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

Literatuurverwysings

Allan, M., 2016, ‘Confessions’, in P. Nimmo & D. Fergusson (eds.), 2016, The Cambridge companion to Reformed theology, pp. 28–43, Cambridge University Press, Cambridge.

Axt-Piscalar, C., 2013, Was ist Theologie? Klassische Entwürfe von Paulus bis zur Gegenwart. Mohr Siebeck, Tübingen.

Bakker, H., [2005] 2006, ‘Ze hebben lief, maar worden vervolgd’: Radicaal christendom in de tweede eeuw en nu, 2e druk, Boekencentrum, Zoetermeer.

Barth, K., [1935] 1964, Credo: A presentation of the chief problems of dogmatics with reference to the Apostles’ Creed, transl. J. McNab, Hodder & Stoughton, London.

Barth, K., 1990, ‘Wünschbarkeit und Möglichkeit eines allgemeinen reformierten Glaubensbekenntnisses’, in H. Finze (Hrsg.), Vorträge und kleinere Arbeiten 1922–1925, Karl Barth-Gesamtausgabe: Abteilung III, Theologischer Verlag, Zürich.

Barth, K., [1923] 2005, Theology of the Reformed Confessions, transl. and annotated by D. Guder and J. Guder, Westminster John Knox Press, Louisville; London. (Columbia Series in Reformed Theology).

Beintker, M., 2010, ‘Calvins theologisches Denken als ökumenische Herausforderung’, in M. Weinrich & U. Möller [2009] 2010, Calvin heute: Impulse der reformierten Theologie für die Zukunft der Kirche, 2. Aufl., pp. 151–167, Neukirchener Verlag, Neukirchen-Vluyn.

Busch, E., 2003, Credo: Das Apostolische Glaubensbekenntnis, Vandenhoeck, Göttingen.

Busch, E., 2007, Reformiert: Profil einer Konfession, Theologischer Verlag, Zürich.

Calvyn, J., [1559] 1988, Institusie van die Christelike godsdiens, Boek 3, vertaal deur H.W. Simpson met medewerking van C.M.M. Brink, Calvyn Jubileum Boekefonds (CJBF), Potchefstroom.

Concordia 2005, The Lutheran confessions: A reader’s edition of the Book of Concord, based on the translation by W. Herrmann, T. Dau & G. Bente, revised, updated and annotated by McCain et al. Concordia Publishing House, Saint Louis.

Denzinger, H., [2010] 2012, Enchiridion symbolorum definitionum et declarationum de rebus fidei et morum / Compendium of creeds, definitions, and declarations on matters of faith and morals, revised, enlarged, and in collaboration with Helmut Hoping, edited by Peter Hünermann for the original bilingual edition and edited by Robert Fastiggi and Anne Englund Nash for the English edition, 43th edn., Ignatius Press, San Francisco. (Original German edition: Kompendium der Glaubensbekenntnisse und kirchlichen Lehrentscheidungen, Herder Verlag, Freiburg).

Dulles, A., [1971] 2005, A history of apologetics, 2nd edn., Ignatius Press, San Francisco.

Freudenberg, M., 2008, ‘Katechismen’, in H. Selderhuis (Hrsg.), Calvin Handbuch, pp. 204–212, Mohr, Tübingen.

Freudenberg, M., 2011, Reformierte Theologie: Eine Einführung, Neukirchener Theologie, Neukirchen-Vluyn.

Guyot, P. & Klein, R. (Hrsg.), [1997] 2006, Das frühe Christentum bis zum Ende der Verfolgungen: Eine Dokumentation, 2 Bände in einem Band, Band 2, Die Christen in der heidnischen Gesellschaft, 3. unveränderte Auflage, Wissenschaftliche Buchgesellschaft, Darmstadt.

Härle, W., 1998, s.v. ‘Bekenntnis: Systematisch’, in Religion in Geschichte und Gegenwart4 (RGG4), Band 1, pp. 1257–1262, Mohr Siebeck, Tübingen.

Hauschild, W-D., 1995, Lehrbuch der Kirchen- und Dogmengeschichte, Band 1: Alte Kirche und Mittelalter, Gütersloher Verlagshaus, Gütersloh.

Hoffmann, G., 1957, s.v. ‘Apostolikum: Protestantismus’, in Die Religion in Geschichte und Gegenwart3 (RGG3), Band 1, pp. 513–516, Walter de Gruyter, Berlin.

Körtner, U., 2010, Reformatorische Theologie im 21. Jahrhundert, Theologischer Verlag, Zürich. (Theologische Studien, Neue Folge, Bd 1).

Lochman, J.M., 1982, Das Glaubensbekenntnis: Grundriß der Dogmatik im Anschluß an das Credo, Mohn, Gütersloh.

Luther, M., 1883vv., Weimarer Ausgabe (WA), D. Martin Luthers Werke: Kritische Gesamtausgabe, 65 Bände, H Böhlaus und Nachfolger, Weimar.

Luther, M., [1514] 1883, ‘Sermone Lutheri aus den Jahren 1514–1517, Die S. Johannis Sermone, Predigt über Joh 1:1 vom 25/12/1514’, WA 1, 24, 37–43.

Luther, M., [1516–1518] 1957, ‘Römerbriefvorlesungen (Nachschriften) 1515/16, Galaterbriefvorlesunge 1516, Hebräerbriefvorlesungen 1517/18’, WA 57.

Markschies, C., 1998, s.v. ‘Apostolicum’, in Religion in Geschichte und Gegenwart4 (RGG4), Band 1, pp. 648–649, Mohr Siebeck, Tübingen.

Melanchthon, P., [1531] 1818, Apologia Augustanae Confessionis, Latine et Germanica, aus dem Latein übersetzt durch Justum Jonam, hrsg. von Fridericus Lücke, Berolini, Berlin.

Melanchthon, P., [1559] 1856, Loci Praecipui Theologici, Sumtibus Gust. Schlawitz, Berolini / Berlin. (Abdruck der 1559 zu Leipzig erschienenen Ausgabe, copied and distributed by Amazon.de 2015).

Melanchthon, P., [1559] 2011, The chief theological topics, transl. J.A.O. Preus from the original Loci Praecipui Theologici, second English edn., Concordia Publishing House, St. Louis, MO.

Nimmo, P. & Fergusson, D. (eds.), 2016, The Cambridge companion to Reformed theology, Cambridge University Press, Cambridge.

Peters, A., 1991, Kommentar zu Luthers Katechismen, Band 2: Der Glaube – Das Apostolikum, hrsg. von G. Seebaß, Vandenhoeck, Göttingen.

Plasger, G. & Freudenberg, M. (Hrsg.), 2005, Reformierte Bekenntnisschriften: Eine Auswahl von den Anfängen bis zur Gegenwart, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.

Ritter, A.M., 1984, s.v. ‘Glaubensbekenntnis: Alte Kirche’, in Theologische Realenzyklopädie Band 13, pp. 399–412, Walter de Gruyter, Berlin.

Schlink, E., 1983, Ökumenische Dogmatik: Grundzüge, Vandenhoeck, Göttingen.

Schröer, H., 1998, s.v. ‘Bekenntnis: Praktisch-theologisch’, in Religion in Geschichte und Gegenwart4 (RGG4), Band 1, pp. 1262–1264, Mohr Siebeck, Tübingen.

Schwartz, H., 1984, s.v. ‘Glaubensbekenntnis: Dogmatisch’, in Theologische Realenzyklopädie Band 13, pp. 437–441, Walter de Gruyter, Berlin.

Staats, R., 1998, s.v. ‘Bekenntnis: Kirchengeschichtlich – Alte Kirche’, in Religion in Geschichte und Gegenwart4 (RGG4), Band 1, pp. 1249–1251, Mohr Siebeck, Tübingen.

Theißen, G., 2000, Die Religion der ersten Christen: Eine Theorie des Urchristentums, Gütersloher Verlagshaus, Gütersloh.

Van de Beek, A., [2005] 2006, Hier beneden is het niet: Christelijke toekomsverwachting, Meinema, Zoetermeer.

Van Niftrik, G.C., [1944] 1961, Kleine Dogmatiek, 5e Druk, Callenbach, Nijkerk.

Van Selms, A., [c. 1956] 2016, ‘Die belydenis van die Hervormers: ‘n Katkisasieboek oor die Christelike geloofsleer’, Tydskrif vir Hervormde Teologie 4(1), 10–44.

Vokes, F.E., 1978, s.v. ‘Apostolisches Glaubensbekenntnis I, Alte Kirche und Mittelalter’, in Theologische Realenzyklopädie (TRE), Band III, pp. 528–554, Walter de Gruyter, Berlin.

Weber, O., [1955] 1972, Grundlagen der Dogmatik, Band 1., 4. Auflage, Neukirchener Verlag, Neukirchen-Vluyn.

Footnotes

1. Ek gaan verder merendeels slegs verwys na die ‘Hervormde’ tradisie. Persone uit die ‘Gereformeerde’ tradisie moet nie uitgesluit voel nie. In die NHKA word ‘Hervormd’ en ‘Gereformeerd’ as wisselterme gebruik. Volgens Van Selms ([c. 1956] 2016:37) is ‘Hervormd’ die Nederlandse en Afrikaanse woordgebruik, terwyl ‘Gereformeerd’ aan Latyn ontleen word. In hierdie artikel kan daar nie na die ‘Reformatoriese’ tradisie verwys word nie, aangesien hierdie benaming die ‘Lutherse’ tradisie insluit. Alhoewel daar in hierdie artikel na Luther en Melanchthon verwys word, word die Lutherse verstaan van belydenis nie verreken nie. Sou hierdie artikel in Duits geskryf wees, sou daar na die ‘reformierte Tradition’ verwys word. Sou dit in Engels geskryf wees, sou daar na ‘Reformed’ verwys word (vgl. Nimmo & Fergusson 2016 vir ʼn nuwe oorsig oor Reformed theology). ‘Reformiert’ of ‘Reformed’ is in Afrikaans Gereformeerd of Hervormd. Ek verkies die woord ‘Hervormd’. Ek vertrou dat hierdie begrip inklusief verstaan sal word, aangesien hier beslis nie slegs na die Hervormde Kerk verwys word nie.

2. In hierdie tradisie is ware kerkwees nie te verstane buite die belydenis om nie (vgl. die resente herbevestiging van hierdie mening deur Allen 2016). Anders gestel: ʼn Ware kerk is ʼn belydende kerk (Schröer 1998:1262).

3. In hierdie bydrae word daar van verskillende woorde gebruikgemaak wat almal min of meer op die dieselfde neerkom. In Afrikaans word daar gewoon na die ‘Geloofbelydenis’ verwys wanneer ons die Credo in gedagte het. Ons sou ook na die Apostolicum kon verwys as die Latynse weergawe van die Twaalf Artikels. Wanneer daar vandag na die Apostolicum verwys word, word daar na die Symbolum Apostolicum, gebaseer op die textus receptus, verwys (Vokes 1978:528–537; Markschies 1998:649).

4. In die eerste eeu is eksorsisme aan Christologiese belydenisse gekoppel (vgl. o.a. Hand 3:6; 4:10; Van Niftrik [1944] 1961:25–26). Die belydenis as beskutting teen die duiwel geniet later prominensie by Ambrosius in die 4de eeu (vgl. Vokes 1978:544–545). Hierdie saak geniet in ons kultuur min aandag. Dit kan egter nie uitgesluit word dat die uitdrywing van demone en bose geeste in die toekoms weer belydeniskarakter kan kry nie.

5. ʼn Betroubare weergawe van die ontwikkelingsgeskiedenis van die Credo word by Hauschild (1995:78–80); Vokes (1978:528–554) en Ritter (1984) gevind. Mondelingse en skriftelike weergawes van die apostoliese boodskap was vanaf die einde van die eerste eeu in omloop. Belydenisagtige formules was vanaf die 2de eeu in gebruik. Die eerste skriftelike bewyse dat gemeentes (op regionale vlak) van geskrewe doopbelydenisse gebruik gemaak het, kom uit die 4de eeu. Die Apostolicum het uit een of meer van hierdie doopbelydenisse ontwikkel.

Die eerste belydenisse uit die 1ste tot 3de eeue was nie deklaratoriese doopbelydenisse nie, maar toegespits op die persoon van Jesus as die ware Seun van God. Hierdie belydenisse was homologie – lofprysing van die Messias, die Een wat uit die dood opgewek is. Die oorspronklike doopvrae was wel drieledig van aard (oor God, Seun en Heilige Gees). Uit hierdie doopvrae het die skriftelike belydenisse (waarvan die Romanum die belangrikste was) van die 3de/4de eeue ontwikkel. Op grond van skriftelike bewyse het die doop nog nie teen 220 n.C. (Hippolitus se Traditio Apostolica) aan die hand van ʼn geskrewe belydenis (ʼn deklaratoriese formule) plaasgevind nie. Hier was wel sprake van ʼn ‘interrogatoriese doopbelydenis’ – vrae of die doopkandidaat aan sekere dinge glo, waarop daar dan bevestigend geantwoord is. Die sogenaamde ‘Romanum’, die onbekende oerteks wat as basis gesien word van die Apostolicum, wat alreeds in die 3de eeu bekend was in Italië, Spanje en Noord-Afrika, is nie op die Griekse belydenis van Marcellus van Ankera in Rome 340 n.C. (soos dikwels beweer word) gebaseer nie. Hierdie belydenis hou eerder verband met dié van Hippolitus. Verder moet daarop gewys word dat Latyn nog nie op daardie stadium kerktaal was nie. Die Romanum het dus sy eie ontwikkeling gehad (wat vir ons onbekend is). Tussen 318–341 n.C. het daar talle private belydenisse ontstaan wat ‘leerbelydenisse’ genoem kan word. Hierdie belydenisse is nie net vir die doopgeleentheid gebruik nie, maar ook vir die doopkategese. Teen 350 n.C. het Cyrillus van Jerusalem dít skriftelik bevestig. Sedert die 3de eeu word die begrip Symbolum Apostolicum gebruik vir triadiese doopformules. Sedert die 4de eeu word daar met die simbool die doopbelydenis bedoel. Skriftelike bevestiging word verkry by Rufinus van Aquileia (404 n.C.) in sy Commentarius in symbolum apostolorum. Die implikasie is dat daar aanvaar moet word dat daar ʼn redelike eenvormige oerteks van die Apostolicum teen hierdie tyd moes bestaan het. Teen die 6de/7de eeu kry ons dan in die suidweste van die huidige Frankryk ʼn algemeen aanvaarde teks, bekend as die textus receptus. Hierdie teks verskil egter hier en daar van die Romanum (al hierdie tekste is te vinde in Denzinger [2010] 2012:19–26).

Die kerk het nie van die begin af die mondelingse of skriftelike weergawes van die ‘Bybel’ as enigste norm vir die teologie aanvaar nie. Naas die apostoliese oorlewering (soos opgeneem in die Skrif), het die regula fidei sedert 180 n.C. as riglyn vir die geloof gegeld – hoofsaaklik as afgrensing teen valse leerstellings oor Jesus Christus. Die problematiese verhouding tussen Skrif en tradisie gaan dus terug tot aan die begin van teologiese nadenke. Navorsing bewys dat die konteks van die skriftelik-gefikseerde belydenisse naas die dooppraktyk ook met die kerklike kategese en sendingwerk verbind moet word. Wat egter nie waar is nie, is dat die regula fidei skriftelike dokumente was. Dit was individuele, vrye formulerings wat gedien het as samevattings van die apostoliese boodskap. Hulle het die mondelingse konsensus uitgedruk van diegene wat teen die ketterye (soos die gebrekkige eenheid tussen skepping en verlossing) in opstand gekom het. By Irenaeus beteken hierdie uitdrukking ‘hermeneutiese norm’ in teenstand teen die Gnostiek. Dit het dus gehandel om ʼn breë kerklike aanvoeling oor regte en verkeerde Skrifuitleg (vgl. ook Barth [1935] 1964:1; Markschies 1998; Staats 1998:1–50).

6. Vgl. Peters (1991:14–18) vir inligting oor Tertullianus en Cyprianus.

7. Luther praat van die Credo as ‘verbum abbreviatum et consummatum’ [verkorte en saamgevatte Woord]; vgl. WA 1, 24, 37 in ʼn preek oor Johannes 1:1 op 25 Desember 1514.

8. Calvyn se eerste kategismus, Die Geneefse Kategismus is oorspronklik in Frans (Januarie 1537) onder die titel Instruction et confession de foy, dont on use en l’Eglise de Genève en kort daarna (Maart 1538) in Latyn as Catechismus seu christianae religionis institutio ecclesiae Genevensis gepubliseer. Sy tweede, meer bekende kategismus, met min of meer dieselfde titel, is in Frans (1542) en Latyn (1545) gepubliseer (vgl. Freudenberg 2008 vir volledige inligting).

9. Hierdie aspek is nie uniek Calvinisties nie. Calvyn het slegs teruggegryp op die vroeg-kerklike tradisie (vgl. Härle 1998:1259–1261).

10. In hoofstuk 2 van boek 3 van sy Institusie van 1559 is daar ʼn lang uiteensetting van die verskillende aspekte van geloof. Kyk Calvyn ([1559] 1988:707–767).

11. Die Lutherse Konkordieboek van 1580 bevat ʼn afgeslote kanon van belydenisskrifte. In die Hervormde tradisie was daar ʼn paar onsuksesvolle pogings om iets soortgelyks saam te stel. In 1577 het Graaf Johann Casimir van die Palts in Frankfurt probeer om by ʼn Europese konvent ʼn eenheidsbelydenis saam te stel, maar die poging het misluk. Kort daarna, in 1581, het Jean-Francois Salvardus ʼn leerharmonie (Harmonia Confessionum Fidei orthodoxarum et reformatorum ecclesiarum) saamgestel waarin hy die onderlinge ooreenkomste tussen die verskillende Hervormde belydenisskrifte aangetoon het. Hierdie boek is in 1887 deur August Ebrard verwerk en weer uitgegee. Hierdie ‘Harmonie’ is deur die Palts, die Switsers en die Hugenote Sinode van Vitré in 1583 aanvaar, maar daar was baie kritiek op hierdie poging. In 1612 het Gaspar Laurentius in Genève ʼn nuwe poging voorgelê onder die titel Corpus et Syntagma Confessionum Fidei. In 1827 het die Lutheraner(!) Johann C.W. Augusti ʼn volgende versameling aangebied onder die titel Corpus liborum symbolicorum. In die 20ste eeu was daar dan ʼn paar kolleksies van Hervormde belydenisskrifte onder redaksie van F.K. Müller (1903), W. Niesel (1938) en P. Jacobs (1949) (vgl. vir volledigheid Plasger & Freudenberg 2005:13–15; Freudenberg 2011:118–120). Die feit dat daar soms na ons drie bekende belydenisskrifte verwys word as die ‘drie formuliere van eenheid’, verander nog weinig aan die ekumeniese penarie, aangesien hierdie seleksie ʼn Nederlandse toevalligheid was. In teenstelling tot die Lutherse tradisie word die Hervormde belydenistradisie gekenmerk deur (1) partikulariteit en pluraliteit, (2) prinsipiële hersienbaarheid en (3) ʼn aanspraak op universaliteit (vgl. Plasger & Freudenberg 2005:9–12). Hierdie aanspraak op ‘universaliteit’ hou verband met die oortuiging dat Hervormde belydenisskrifte in ooreenstemming is met die drie klasieke belydenisse of ‘simbole’ – en dít is ʼn genoegsame bewys van die eenheid, katolisiteit en apostolisiteit van die Hervormde konfessie.

12. Dit is bekend dat die drie belydenisskrifte soms bekendstaan as ‘die drie formuliere van enigheid’ en soms as ‘die drie formuliere van eenheid’. Daar was in die verlede goeie redes vir hierdie omskrywings. Wanneer daar oor ‘uniekheid’ of ‘eenheid’ gepraat word, bly die vertrekpunte altyd dít wat verwoord is in die belydenisse. Die belydenisse (creeds) en nie die belydenisskrifte (confessions) nie, verseker ʼn breë ekumeniese konsensus onder mense uit die Hervormde/Gereformeerde tradisie.

13. ‘Consensus Ecclesiae catholicae Christi’ [die konsensus van die algemene kerk]. Vgl. Loci praecipui theologici [1559] 1856:1 = 2011:4 en Axt-Piscalar (2013:106–107).

14. Vgl. Theißen (2000:101–167) ten opsigte van die sosiale kohesie en eenheid in die Oerchristendom op grond van hulle eenheid in belydenis en sosiale etiek.

15. Vgl. Van de Beek ([2005] 2006:44–63) vir die gedagtes van ‘vreemdelingskap’ en ‘alternatiewe gemeenskap’ in die kerklike tradisie.

16. Die eerste algemeen-aanvaarde geloofbelydenis, die Niceense Geloofbelydenis, was nie primêr ʼn missionêre tekste nie, maar eerder ʼn teks waarin die binne-kerklike konsensus verwoord is. Die bedoeling was om sekerheid te skep oor die kern van die geloof. Die geloofbelydenis is daarom ook ‘simbool’ genoem – die geloofsreël van die kerk (Staats 1998:1251). In ʼn sekondêre sin was Nicea (en die Apostolicum) wel ook ʼn missionêre teks – en wel in die gestalte van ‘apologie’. Met ʼn kernteks in die hand kon gelowiges apologeties intree vir die waarheid oor en van die evangelie. ʼn Mens moet ook nie net aan disputasies op die markplein of klaskamer dink nie, aangesien elke erediens waar openbare geloof bely word, ook ʼn missionêre bedoeling het. Die belydenis van geloof is nie nét op diegene binne die erediens gerig nie, maar ook op diegene daarbuite en diegene wat nie meer die geloof kan of wil omarm nie, en in hierdie sin vervul hierdie ritueel vandag nog ʼn apologetiese funksie (vgl. Barth [1935] 1964:8).

17. Vir die apologetiese funksie van die belydenis, kyk na Dulles ([1971] 2005), Bakker ([2005] 2006) en Guyot en Klein ([1997] 2006:140–189) oor die aanklagte oor ateïsme en vyandigheid jeens die tradisie.

18. Luther: Tota nostra operatio confessio est (WA 57, 137, 5) en Melanchthon ([1531] 1818:238): Non est firma fides, quae non ostendit se in confessione (Apologia IV).

19. Niemand weet waar die spreuk vandaan kom nie. Körtner (2010:79) meen die uitspraak kan dalk na Jodocus van Lodenstein (1620–1677) teruggevoer word. Dit is ook nie seker hoe die spreuk oorspronklik gelui het nie. Beintker (2010:156) vermoed die volgende formulering: ‘die [volgens God se Woord] Hervormde kerk is veronderstel om altyd weer te hervorm’.

20. Selfs gerespekteerde Lutherse teoloë soos Edmund Schlink voer aan dat belydenisvorming nooit afgesluit kan wees nie. Hy (1983:652) stel die saak soos volg: ‘Zwar sind bereits in den neutestamentlichen Schriften früheste Bekenntnisse enthalten. Aber für das Bekennen der Kirche ist es wesentlich, daß sie sich nicht auf die Rezitierung biblischer Bekenntnisse beschränkt, sondern daß sie im Bekennen fortfährt und daß in veränderten geschichtlichen Konfrontationen nicht nur biblische Begriffe verwendet, sondern Begriffe ihrer Zeit in den Dienst des Bekenntnisses stellt … Während der Kanon der Heiligen Schrift abgeschlossen ist, geht die Bekenntnisgeschichte weiter’.



Crossref Citations

No related citations found.