Abstrak
The ‘confessions of the flesh’ in the central Middle Ages: An expansion of Foucault’s reading in Histoire de la sexualité 1 (La volonté de savoir). This article expands Michel Foucault’s (1926–1984) reading of the ‘confessions of the flesh’ in handbooks of penance written during the central Middle Ages in the first volume La volonté de savoir of his (current) four-volume series Histoire de la sexualité. After the posthumous publication of the fourth volume Les aveux de la chair (2018), in which Foucault takes his analysis of the historical foundations of confessional practices in the late 12th century to the first half of the 14th century even further back, to the ‘confessions of the flesh’ in the patristics of the 3rd to the 5th centuries, it has become sensible to illuminate Foucault’s condensed reading of confessional scripts in La volonté de savoir itself. This exposition pertinently applies to Foucault’s correct conclusion that sex was prioritised above all other ‘sins’, ‘vices’, and ‘transgressions’ in central Medieval confessional scripts; therefore, as he famously noted, becoming a ‘seismograph of subjectivity in Christian cultures’. Against this backdrop, it is considered how thinkers from the central Middle Ages themselves reflected on the sacramentalisation of confession after the Fourth Lateran Council of 1215 – since Foucault himself did not substantially elaborate on it. The reflections of three philosophers from the central Middle Ages on the relation between sex, confession and absolution are subsequently presented as an expansion of Foucault’s reading in La volonté de savoir. Firstly, Alan of Lille’s (d.1203) interpretation of the Summae confessorum in his Liber poenitentialis is revisited, concluding that Lille’s perspective was ‘hermeneutical’, in terms of his insistence that the confessor should adjust his interrogations according to seven Aristotelian topoi or detailed questions, designate the context in which the transgression occurred very thoroughly and ‘actively participate’ in the confessional act, rather than simply recording it. Lille’s ‘hermeneutical’ approach to confession is also reflected in Robert Grosseteste’s (ca.1168–1253) De modo confitendi et paenitentias iniungendi, in which a moderate phronetic approach allows for the full discretion of the confessor, rather than following the rigid prescriptions of the Summae confessorum only. Secondly, William of Auvergne’s (ca.1180–1249) contribution to the interpretation of the Summae confessorum in his Poenitentia is indicated in his utilitarian ethics, in which the interests of the ethical ‘other’ is related to the confessing ‘self’: even though matrimony is for Auvergne the only realm where the other’s interests are not necessarily compromised by sexual contact, several considerations regarding ‘improper sex’, precisely within matrimony, apply according to the relevant penitential guidelines. Thirdly, Paul of Hungary’s (ca.1180–1241) De confessione is considered in terms of his reflections on ‘paying sexual debt’, and on the relation between regulated sexual release and the legitimacy of sexual gratification, again within the context of matrimony.
Contribution: This article contributes to Foucault-scholarship by elucidating and expanding Foucault’s condensed reading of 13th-century confessional scripts in La volonté de savoir, with reference to the relevant texts of Alan of Lille (d.1203), William of Auvergne (ca.1180–1249) and Paul of Hungary (ca.1180–1241).
Keywords: Alan of Lille (d.1203); Peter Damian (1007–1072); Michel Foucault (1926–1984); Histoire de la sexualité 1 (La volonté de savoir); Omnis utriusque sexus; Robert Grosseteste (ca.1168–1253); Paul of Hungary (ca.1180–1241); Pierre Payer (1936-); Summae confessorum; William of Auvergne (ca.1180–1249).
Foucault se lesing van die Sentraal-Middeleeuse ‘bekentenisse van die vlees’ in Histoire de la sexualité 1 (La volonté de savoir)
Hier word aangevoer dat Michel Foucault (1926–1984) se betoog in die eerste volume van sy seksualiteitgeskiedenis, La volonté de savoir, korrek was: seks is inderdaad in 13de-eeuse bieghandleidings bo alle ander moontlike ‘sondes’, ‘ondeugde’ en ‘oortredings’ geprioritiseer. Ter verruiming van Foucault se ontleding word hier egter gevra hoe denkers uit die sentrale Middeleeue sélf oor die sakramentalisering van die bieg, op grond van die tersaaklike besluite van die Vierde Lateraanse Konsilie van 1215, nagedink het. Eerstens word Alanus van Lille (d.1203) se bydrae tot die interpretasie van die Summae confessorum in sy Liber poenitentialis aangedui as ‘hermeneuties’, in terme van sy betoog dat die konfessor geordende vrae aan die hand van sewe Aristoteliese topoi moes stel, die konteks rondom die betrokke oortreding so nougeset moontlik moes vasstel en aktief aan die bieghandeling moes deelneem. Hierdie ‘hermeneutiese’ benadering tot die afneem van die bieg word ook gereflekteer in die middewegsoekende benadering van Robert Grosseteste (ca.1168–1253) in sy De modo confitendi et paenitentias iniungendi, waarin Grosseteste betoog dat die konfessor se oordeel ten opsigte van die toestaan van absolusie buite die rigiede raamwerk van die Summae confessorum vertrou moes word. Tweedens word Willem van Auvergne (ca.1180–1249) se bydrae tot die interpretasie van die Summae confessorum in sy Poenitentia daarin gevind dat hy ’n utilistiese soort etiek, waarvolgens die belange van die etiese ‘ander’ in verhouding tot die etiese ‘self’ gestel word, binne biegkontekste benadruk het. Hoewel die huwelik die enigste ruimte is waarin die ‘ander’ se belange, volgens Auvergne, nié noodwendig deur seksuele kontak ondermyn word nie, geld oorwegings ten opsigte van ‘onbehoorlike’ seks uitdruklik ook binne die huwelik, met tersaaklike biegvoorskrifte daarvoor opgestel. Derdens word Paulus Hungarus (ca.1180–1241) se liberale – vir dié tyd – bieghandleiding, De confessione, oorweeg in terme van sy nadenke oor die ‘vereffening van skuld’, die ‘seksuele gesondheid’ van sowel mans as vrouens en die seksuele gratifikasie van getroude mense, synde ’n legitieme oorweging vir seksuele kontak binne die huwelik. Wanneer hierdie denkers se interpretasies van die Summae confessorum in jukstaposisie gelees word, kan dit dien as toeligting tot en verruiming van Foucault se geldige ontleding ten opsigte van die diskursiewe aanspraak van die Sentraal-Middeleeuse bieg in die Westerse geskiedenis van seksualiteit.
Die oogmerk van die artikel is dus om Foucault se lesing van die ‘bekentenisse van die vlees’ met betrekking tot die sentrale Middeleeue in die eerste volume, La volonté de savoir (vgl. Foucault 1976:19–22; 58–65), van sy viervolume-reeks, Histoire de la sexualité, te verruim. Na die postume publikasie van die vierde volume (alhoewel eerder die ‘tweede’ volume in die ‘terugwaartse’ ontwikkeling van die reeks; vgl. Beukes 2021d:1–2), Les aveux de la chair (Foucault 2018), waarin Foucault sy ontleding van die historiese grondslae van biegpraktyke in die sentrale Middeleeue (laat 12de eeu tot die eerste helfte van die 14de eeu; vgl. Beukes 2020a:I:12–14) verder terugneem na bekentenispraktyke in die patristiek van die 3de tot die 5de eeue (vgl. Beukes 2020c:1–7, 2021c:1–3), is dit verstandig om Foucault se kursoriese lesing van konfessionele praktyke in die sentrale Middeleeue in La volonté de savoir meer omvangryk toe te lig. Dit geld veral ten opsigte van Foucault (1976:19) se korrekte aanduiding dat seks bo alle ander moontlike ‘sondes’, ‘ondeugde’ en ‘oortredings’ binne die Sentraal-Middeleeuse bieg geprioritiseer is en dat seksualiteit sodoende ‘in Christelike kulture die seismograaf van subjektiwiteit geword het’ (Foucault 1999:183). Teen hierdie agtergrond word gevra hoe denkers uit die sentrale Middeleeue sélf oor die sakramentalisering van die bieg op grond van die besluite van die Vierde Lateraanse Konsilie van 1215, nagedink het – aangesien Foucault self nie daarvan rekenskap gegee het nie. Opvallend was vermelde Middeleeue denkers bereid om buite hulle velde van spesialisasie (in die beperkte Middeleeuse sin) te tree en die sakramentalisering van die bieg vanaf die vroeë 13de eeu juis filosofies te heroorweeg. Hierdie denkers uit die sentrale Middeleeue se besinning oor die verhouding tussen seks, die bieg en absolusie word in verruiming van Foucault se lesing gevolglik aan die orde gestel.
Die mees uitstaande argumentatiewe kenmerk van La volonté de savoir was Foucault (1976:1–16) se aanval op die sogenaamde ‘repressie-hipotese’, wat in die 1960’s buitengewoon gewild in psigoanalitiese en Marxistiese kringe was (vgl. Beukes 2019a:1–2). Volgens hierdie hipotese is die 19de-eeuse Westerse samelewing gekenmerk deur die onderdrukking van die seksuele drifte, wat tot allerlei neuroses aanleiding gegee het en eers gedurende die kultuurrevolusie van die 1960’s ‘terapeuties’ behandel sou word, om daarmee selfverwesenliking ten aansien van ‘seksuele bevryding’ te bewerkstellig. Foucault het kenmerkend betoog dat hier geen sprake van ‘bevryding’ was nie – maar juis ’n nuwe vorm van magsuitoefening waarin mense opnuut gedwing is om ‘die waarheid te beken’, en wat geensins verskil het nie van die ‘patologisering van seksualiteit’ wat so dominant in psigiatriese kringe in die laaste dekades van die 19de eeu was – en waarvan die ideëhistoriese wortels juis teruggevind kan word in bieghandleidings in die 13de eeu. Foucault se argument was vervolgens dat die seksuele drifte nie ‘natuurlike’ werklikhede is nie, maar vormprodukte van die verhouding tussen kennis en mag; in daardie sin is die drifte, syns insiens, dus ‘kulturele gegewes’. In dié opsig sit psigoanalise, volgens Foucault, op diskursiewe wyse die minstens jaarlikse Christelike sakramentaflegging van die bieg, gekanoniseerd sedert die Vierde Lateraanse Konsilie van 1215, gekonfigureerd voort.1
Die tweede deel van die tersaaklike redevoering in La volonté de savoir is dat die Westerse samelewing gevolglik vanaf die vroeë 13de eeu (en nie eers vanaf die vroeë moderne periode nie), sistematies dog repressief op seks gefikseer het: die sosiale konvensies vanuit daardie Sentraal-Middeleeuse periode wat seksuele kontak streng gereguleer het, het deur middel van die Middeleeuse biegpraktyk progressiewe openbaarmaking of ’n ‘diskoers’ geproduseer, wat daartoe gelei het dat dié diskoers sedertdien ’n maatskaplike alomteenwoordigheid geword het. Die begrip seksualiteit is uiteraard self die gevolg van die 19de-eeuse diskoers oor ‘seksualiteit’ en die rede waarom ‘seksualiteit’ volgens Foucault (1976:15–16) ’n betreklik onlangse ‘uitvindsel’ is. Die streng regulering van seks in die Middeleeue was, afgesien daarvan dat daarmee ’n selfperpetuerende diskoers tot stand gebring is wat andersins nooit selfstandig sou geword het nie, nogal ironies, uitermate produktief: seksuele identiteite is daardeur geskep en ’n meervoudigheid van seksualiteite is juis op hierdie wyse bevorder. Die Middeleeuse sakramentele bieg was in hierdie sin uiteindelik niks anders as ’n voortgesette ‘wil tot wete’ (volonté de savoir) nie.
Die derde en laaste tersaaklike aspek van Foucault (1976:19–20) se uiteensetting in La volonté de savoir, is dat die ‘waarheid aangaande die vlees’ beken moes word ten einde deur die waarheidbekentenis getransformeer te kon word. Die waarheidbekentenis is selftransformerend in dié sin dat dit gerig is op ’n drieledige selfbevestiging van die individuele subjek, deur die belydenis van geloof, die openbare skuldbekentenis en die uitdruklike blykgewing van persoonlike skuld, byeengebring onder die begrippe bekentenis, selfondersoek en geestelike worsteling, onder begeleiding van ’n pastorale figuur, juis as konfessor. Aan die hart van hierdie selfbevestiging deur waarheidbekentenis lê dialekties selfaflegging of selfopoffering. Hierdie bekentenisse, selfondersoeke en geestelike worstelinge kan volgens Foucault, geag word die voortsetting te wees van parresia, die antieke kuns tot selftransformasie deur (ongeag gevolge) openlik die waarheid te praat. Foucault (1976:32–33) dui op dié parresiaanse spoor aan dat seksuele praktyke vanaf die patristiek deur die sentrale Middeleeue en tot in die 19de eeu deur sodanige bekentenisse ‘gesubjektiveer’ is, bedoelende dat seks per definisie as ’n relasionele aangeleentheid gewysig is, tot ’n selfgerigte ondersoek na die eie of subjektiewe seksuele begeertes. Die selfeksaminering ten opsigte van eie drifte subjektiveer die selfondersoekende subjek ineens as ’n regsubjek, onderhewig aan die een of ander wet. Hierdie temas word grondig uitgewerk in die latere Les aveux de la chair (vgl. Foucault 2018:244).
Foucault se ontleding van die biegpraktyke in die sentrale Middeleeue in La volonté de savoir is tegnies korrek – maar uitermate bondig (dit bestryk effektief nie meer as 10 bladsye nie; sien Foucault 1976:19-22; 58-65). Foucault gee geen aandag aan presies hóé Middeleeuse denkers sélf oor die biegpraktyk na die Vierde Lateraanse Konsilie in 1215 nagedink het nie. Dít is presies wat in hierdie artikel aangeraak word. Anders gestel, die artikel verruim Foucault se niegespesialiseerde lesing oor die gesakramentaliseerde bieg in La volonté de savoir vanuit ’n gespesialiseerde navorsingsdomein in Middeleeuse filosofie.
Foucault vind die primêre openbare ruimte waarin seksualiteit diskoers geword het, dus terug in die ontwikkeling van ’n sakramentele handeling in die sentrale Middeleeue, te wete die bieg. Teen hierdie agtergrond is daar, volgens Foucault (1976:51–74) se lesing, histories wesenlik slegs twee perspektiewe op seks te vinde: in China, Japan, Indië en die Romeinse Ryk is seks beskou as ars erotica, of erotiese kuns, wat uitsonderlike erotiese ervaringe en vaardighede gekonstitueer het en nie geassosieer is met skande wat deur konvensie geban moes word nie. Seks is binne hierdie antieke kulturele kontekste benader as privaat en geheim gehou, op grond van die beskouing dat onnodige openbaarmaking seksuele plesier ondermyn. In die Westerse samelewing, vanaf die 17de eeu, is egter ’n ander verskynsel geskep, wat Foucault scientia sexualis noem. Scientia sexualis is oorspronklik in die vroeë 13de eeu gebaseer op ’n verskynsel wat juis die presiese teenoorgestelde van ars erotica was, naamlik die gesakramentaliseerde bieg. Die biegpraktyk soos gevestig reeds vanaf die laat 11de eeu, en soos geformaliseer in die vroeë 13de eeu, het ’n diepgaande behoefte verraai: dít was naamlik om in Westerse samelewings vanuit die bieg – ‘die waarheid is immers nou reeds in die ope gebring’ – weer of voortgaande oor seks te praat.
Dit gaan vir Foucault dus oor beide die verwoording van en ondervraging oor ’n partikuliere seksuele handeling. So was dit reeds teen die middel van die 11de eeu ’n vereiste dat selfs wanneer getroude mense seks gehad het, daaroor by ’n priester gebieg moes word: want wie sou weet wat die man of vrou nie heimlik tydens seks gedink het wat as sondig aangemerk sou moes word nie? Hierdeur is ’n fiksasie geskep om ‘die waarheid oor seksualiteit te priviligeer’, ’n ‘waarheid wat gebieg’ en ‘toenemend openbaar gemaak moes word’ (Foucault 1976:17). Die rede waarom seks gebieg of openbaar gemaak moes word, word volgens Foucault (en so deurlopend bevestig in Les aveux de la chair [Foucault 2018]), gevind in die vroeë Christendom se beskouing van seks as ’n wilsversteurende geheimenis wat slegs onder beheer gebring sou kon word deur versigtige selfondersoek, waarneming en eksaminering. Juis daarom moes elke seksuele detail geopenbaar word in die bieg: as ’n aanslag teen die ‘integriteit van die wil’ moes elke spoor van seksuele opwelling ondersoek word om die dieper letsels van die sonde van seksuele begeerte - die hoogste uitdaging van die wil – daarin te vind.2
Dekreet 21 (Omnis utriusque sexus) van die Vierde Lateraanse Konsilie (1215) en die Summae confessorum
Reeds teen die 9de eeu was die private bieg tussen ’n konfessor en ’n biegsubjek ’n verpligte jaarlikse onderneming, wat ‘deur die subjek geïnisieer en aangevra moes word’ (Goodich 1979:12; vgl. Oakley 1923:135). Teen die helfte van die 11de eeu was die biegpraktyk volledig geformaliseer sodat die konfessor die bieg in absolute stilte moes afneem en op geen wyse die inhoud van die bieg kon lei of dikteer nie. In hierdie stadium is die bieg in die oop ruimte van die kerkgebou afgeneem en nie in private bieghokkies of agter afskortings in liturgiese ruimtes nie. Dít verander egter ná 1215: van die 71 dekrete opgeneem in die notule van die Vierde Lateraanse Konsilie (1215), het geeneen ’n groter effek op die lewens van sowel kerklike ampsdraers as gewone kerkmense uitgeoefen nie as die 21ste dekreet, getitel Omnis utriusque sexus (sien reds. Alberigo et al. 1973:245; vgl. Payer 1991:126). Nou was die bieg nie meer bloot verpligtend nie – maar inderdaad ’n vorm van deelname aan ’n sakrament. Die bieg sou daarby voortaan ondervragend deur die konfessor gelei word, en slegs met fisieke skeiding tussen die konfessor en biegsubjek in ’n bieghokkie kon plaasvind (vgl. Foucault 1976:18, 58, 116). Die opdrag, soos verwoord in Dekreet 21, was bedrieglik eenvoudig: elke sakramentverpligte lidmaat van die kerk moes voortaan minstens een maal per jaar formeel bieg by ’n konfessor (normaalweg ’n geordende priester), terwyl konfessors aan die hand van tydgenootlike bieghandleidings (in verskeie volumes gepubliseer as die Summae confessorum) behoorlik toegerus moes wees om die bieg korrek af te neem (dit is, met die oog op die moontlik absolusie of kwytskelding van dít wat gebieg is). So oënskynlik eenvoudig hierdie opdrag tot die jaarlikse gesakramentaliseerde biegaflegging was, het die Summae confessorum betreklik vinnig in tegniese tekste ontwikkel wat sowel filosofies oor die bieg gespekuleer het, as praktiese riglyne vir die liturgies korrekte afneem daarvan verskaf het.
Middeleeuse bieghandleidings ná 1215 spesifiseer gevolglik drie duidelike elemente in die private bieghandeling, hetsy teoreties of prakties: die inisiëringsfase van die bieg, die ondervraging as sodanig en die absolusie of kwytskelding, waar die konfessor oortuig is dat die biegsubjek onvoorwaardelik die ‘volle waarheid aangaande die vlees’ beken het. Die inisiëringfase het ten doel gehad om die konfessor se jurisdiksie vir die afneem van die bieg te bevestig en algemene inligting ten opsigte van die biegsubjek te bekom (in terme van geslag, ouderdom, huwelikstatus, kerklike verbintenis, en so meer). Die bieg - dit is, die selfstandige verwoording van die veronderstelde wandaad deur die biegsubjek – moes deur die konfessor se herhaalde ondervragings verskerp word om elke detail aangaande die veronderstelde wandaad te openbaar. Dit sou byvoorbeeld nie genoegsaam kon wees om ’n seksuele ‘oortreding’ te erken nie: alle moontlik detail daaromtrent moes aan die konfessor verskaf word om vas te stel presies watter ‘sonde’ hiermee sou gekorrespondeer het (in die geval van ’n seksuele oortreding met byvoorbeeld ’n getroude persoon ‘owerspel’ of in die geval van selfdegeslagseks ‘sodomie’3) en of absolusie gevolglik verleen sou kon word vir die betrokke oortreding. Selfs die (‘aktiewe’ of andersins ‘passiewe’) seksuele posisie wat ingeneem is tydens die betrokke seksuele ontmoeting, moes verklaar word en ten einde die ‘verhoogde teen-natuurlikheid’, al dan nie, daarvan vas te stel.4 Die bieg word formeel voltrek wanneer die laaste fase afgehandel en absolusie vir of kwytskelding van die betrokke wandaad verleen is – of juis nié.
Na 1215 was daar deurlopende kommer dat die gedetailleerde aard van ondervraging tydens die bieghandeling tot seksuele opwekking by sowel die konfessor as die biegsubjek kon lei: die konfessor dring immers aan op die fynste detail terwyl die biegsubjek die betrokke gebeurtenis as’t ware herleef. Boonop moes sowel die selfstandige verwoording deur die biegsubjek en die ondervraging deur die konfessor onvermydelik geskied in die seksuele vernakulêr.5 Beukes (2019b) meld dat tot in die vroeë 19de eeu slegs die register van woorde wat in die moderne periode mettertyd ‘vulgêre’ status sou verkry, beskikbaar was om oor seks te praat. In die ou volkstale …
[W]as hierdie woorde, wat dus geheel ander woorde is as die woorde in die Latynse scientia sexualis terminologie, slegs in die ou Latynse vernakulêr of in semantiese vertalings daarvan in die volkstale voorhande. Die latere, moderne register van scientia sexualis maak voorsiening vir (eufemistiese, transtalige en transkulturele) neo-Latynse aanwysers soos penis, vagina, anus, clitoris, coitus en so meer, wat dit maklik maak om onverstoord oor daardie sake te praat wat baie meer robuust in die vernakulêr van enige taal figureer - en, soos Foucault (1978:40) korrek aangedui het, daar bestaan nie ’n taal sonder sodanige seksuele vernakulêr nie en die vernakulêr is trouens die outentieke taal, wat grotendeels, hoewel nie uitsluitlik nie, in die private en ars erotiese kontekste van elke taal gebruik is. Natuurlik was daar in die oorspronklike (dus voor die moderne, scientia sexualis neo-Latynse hertoewysing) Latyn self ’n seksuele vernakulêr en dít is wat biegsubjekte en konfessors in die sentrale Middeleeue bykomend moes gebruik: byvoorbeeld, vir orale seks was dit irrumo, fello, lingo mentula, lingo cunnus en lingo culus. (bl. 99; vgl. Adams 1982:125; 130; 134)
Trouens, Adams (1982; vergelyk selfs net die indeks op bl. 257–265) lys met grondige etimologiese verklaring die hele oorspronklike Ou Latynse seksuele vernakulêr, wat letterlik honderde inskrywings bevat. Die vraag is hoe Middeleeuse denkers sélf oor die selfstandige verwoording van en ondervraging oor seks en die aanwysings in die Summae confessorum aan die hand van die seksuele vernakulêr, nagedink het. Enkele denkers uit die sentrale Middeleeue se tersaaklike refleksies oor die verhouding tussen seks, die bieg en absolusie word vervolgens in verruiming van Foucault se lesing in La volonté de savoir aan die orde gestel.
Die bieg as ‘hermeneutiese gebeure’: Alanus van Lille se Liber poenitentialis
Die prioritisering van ‘seks as die hoogste sonde’ in die Summae confessorum word duidelik tot uitdrukking gebring in die volgende drie denkers vanuit die sentrale Middeleeue se refleksies daaroor: alhoewel Alanus van Lille (saamgelees met Robert Grosseteste) en Willem van Auvergne se tersaaklike tekste betreklik bekend is in die gespesialiseerde Middeleeuse skolastieknavorsing, is Paulus Hungarus se De confessione betreklik onbekend. Die Kanadese navorser Pierre Payer (1936–) het reeds drie dekades gelede ’n besondere bydrae gelewer tot die ontleding van die Sentraal-Middeleeuse besinning oor die Summae confessorum, deur Hungarus uit die donker hoeke van die ideëgeskiedenis te gaan haal en langs meer bekende denkers soos Lille, Auvergne en Grosseteste ’n stem te gee (vgl. Payer 1991:134–136). Hierdie denkers was natuurlik nie die enigste skolastici wat vanuit die eerste helfte van die 13de eeu op die Summae confessorum gereageer het nie. Tog verteenwoordig ’n sintese van hierdie paar denkers se unieke interpretasies van die Summae confessorum, byeengebring met behulp van Payer (1991:126–144) se ontleding van Hungarus en sy konteks, die kenmerkende aan die Sentraal-Middeleeuse reaksie op die sakramentalisering van die bieg vanaf 1215, en kan onderstaande uiteensetting as ’n verantwoorde verruiming van Foucault se kriptiese lesing in La volonté de savoir aangebied word.
Alanus van Lille (d.1203, ook Alanus de Insulis, Alain de Lille of Alan van Lille genoem; vgl. Beukes 2020a:I:527–534) was ’n interdissiplinêre denker vanuit die 12de eeu met ’n Boethiaanse en post-Romeinse oriëntasie. Hy het grondige kontak met Gilbertius van Poitiers (1085–1154) se skole in Chartres en Parys gehad en filosofie in Parys gedoseer tussen 1170 en 1180, waar hy beskou is as ’n uitnemende dosent in die trivium, veral ten opsigte van logika (naas grammatika en retoriek), as ’n gerekende eksegeet van Platonisme geag is en bekendheid verwerf het vir sy gesaghebbende kommentaar oor Gilbertius se filosofies teologiese nalatenskap (vgl. red. D’Alverny 1965:1–27; De Libera 1987:437–469; Valente 2008:1–30). In 1191 – dus bykans 25 jaar vóór die sakramentalisering van die bieg in 1215 – begin ’n werk van Van Lille sirkuleer wat duidelik buite sy gevestigde belangstellingsvelde in taalfilosofie geval het: sy Liber poenitentialis bevat uitgebreide afdelings waarin die konfessor se ondervraging van biegsubjekte nougeset ondersoek en gekommentarieer word (vgl. Alanus van Lille [1191] 1913: 4–7; 11–13; 26–31).
Van Lille gebruik sewe gestandaardiseerde6 Aristoteliese retoriese vrae of topoi om konfessors se ondervraging van biegsubjekte met presisie te orden: quis (wie?), quid (wat?), per quos (deur wie?), quotiens (hoe gereeld?), cur (waarom?), quomodo (hoe?) en quando (wanneer?). Hiervolgens sou die konfessor se vrae ten opsigte van die bieg van ’n seksuele oortreding só kon lui: Wie is jy en wie was (die ander persoon of persone) by hierdie ontmoeting betrokke? Presies wat het julle gedoen? Wie het die inisiatief geneem? Het dit een keer of meer as een keer gebeur, en indien wel, presies hoeveel keer? Waarom het jy dit gedoen? Presies hoe het julle dit gedoen? (die ‘soort’ seks was in hierdie deel van die ondervraging dus as wesenlik belangrik geag). Wat was die datum(s) en tyd waarop hierdie ontmoeting(s) plaasgevind het; was dit in die dag of in die nag? Die vrae is op geen ander wyse gerig en kon op geen ander wyse beantwoord word as deur die seksuele vernakulêr nie (vgl. red. Wenzel 1970:220).
Volgens Van Lille is die verrekening van die konteks of omstandighede deurslaggewend belangrik in die bepaling van die erns van die betrokke sonde en of die moontlikheid tot absolusie bestaan. Dit dui volgens Van Lille op die noodsaaklikheid van interpretasie deur die konfessor: in stede daarvan om ‘bloot aan te hoor’, moet die konfessor ‘aktief luister’ deur die ononderbroke vraagstelling en terugkaatsing van die biegsubjek se antwoorde (‘Het ek jou reg verstaan dat…?’; ‘Sou jy saamstem dat…?’, en so meer). Daar vestig vir Van Lille dus – na die moderne begrip – ’n hermeneutiese dimensie in die bieg. Van Lille se bydrae tot die interpretasie van die Summae confessorum sou gevolglik as drieledig opgesom kon word: die konfessor vra gedissiplineerde vrae aan die hand van die sewe topoi en nie eiesinnige vrae nie; die konfessor probeer die konteks of omstandighede rondom die betrokke oortreding so nougeset moontlik vasstel; en die konfessor neem deel aan die bieg en is nie bloot ’n bestekopnemer wat sy afstand handhaaf nie.
Hierdie ‘hermeneutiese’ benadering tot die afneem van die bieg word ook gereflekteer in die middewegsoekende bieghandleiding van Robert Grosseteste. Grosseteste (ca.1168–1253; ook Robertus Lincolniensis genoem) het kanselier van die Universiteit van Oxford in 1221 en biskop van Lincoln in 1235 geword. Aanvanklik was dit sy bydrae as vertaler wat vir sy akademiese opgang verantwoordelik was: omdat hy een van die min denkers uit die Latynse Weste in die vroeë skolastiese periode was wat Grieks kon lees (ondanks ernstige oogprobleme, wat meegebring het dat hy slegs met die grootse inspanning net vir enkele minute op ’n slag kon lees), het hy die bestaande Aristoteles-korpus volledig bestudeer, Aristoteles se etiek nuut in Latyn vertaal en ’n aantal kommentare oor sowel Aristoteles as Pseudo-Dionisius (ca.500) die lig laat sien. Hy kan tereg as die belangrikste verteenwoordiger van Oxoniaanse Aristotelisme in die eerste helfte van die 13de eeu beskou word (vgl. Beukes 2020a:I:567–574). Soos Van Lille en Auvergne (sien infra) tree Grosseteste buite sy onmiddellike spesialisasieveld deur deel te neem aan dié 13de-eeuse diskoers oor bieghandleidings. In Grosseteste se geval word sy bydrae – in De modo confitendi et paenitentias iniungendi – voorspelbaar gestempel deur ’n sin vir Aristoteliese phronesis, ’n aanvoeling vir matigheid en die soeke na die diskursiewe middeweg (vgl. Goering & Mantello 1987:99). Soos vir Van Lille, is die verrekening van die konteks of omstandighede vir Grosseteste belangrik in die bepaling van die erns van die betrokke sonde en die moontlikheid tot absolusie, reeds in sy vroeëre traktaat ‘Deus est’ (sien red. Wenzel 1970:283). Die konteks sou ook die moontlikheid tot ’n diskursiewe middeweg kon bepaal – presies dít wat Grosseteste in De modo probeer naspeur. Grosseteste (in Goering & Mantello 1987:90–99) karteer die middeweg, syns insiens, tussen die ‘innerlike berou’ (contritio cordis), die selfstandige verwoording daarvan in die bieg (confessio oris) en die blykgewing van skuld deur goeie dade (satisfactio operis). Waar die Summae confessorum die ‘soort seks’ en die ‘soort sonde’ eksplisiet met mekaar verbind het sonder om enige betekenisvolle ruimte vir die selfstandige oordeel van die konfessor ten opsigte van absolusie te laat, betoog Grosseteste (vgl. Payer 1984b:340–345) vir die nieletterlike interpretasie van die voorskrifte in die Summae confessorum en die daadwerklike verruiming van die konfessor se oordeel in dié verband. Natuurlik sluit dit aan by Van Lille se ‘hermeneutiese aksent’ op die bieg – maar Grosseteste voer die diskresie van die konfessor veel verder as slegs ‘betrokke deelname aan die bieg’. Wanneer die konfessor se oordeel ten opsigte van die verlening van absolusie vertrou word, kan die Summae confessorum dinamies geïnterpreteer word sónder om die voorskrifte daarin bloot staties te handhaaf.
Die belange van die etiese ‘ander’: Willem van Auvergne se Poenitentia
Willem van Auvergne (ca.1180–1249; ook Guillaume d’Auvergne, William of Auvergne, Wilhelm von Auvergnes en Alvernensis genoem; vgl. Beukes 2020a:I:585–598) was biskop van Parys vanaf 1228 tot 1249 en is filosofies diep beïnvloed deur die Arabiese denker Ibn Sina (Avicenna, 980–1037), veral ten opsigte van Ibn Sina se etiek en die groter invloed daarvan op Sentraal-Middeleeuse seksuele etiek (vgl. Jüssen 1995:20–32; Teske 2006:9–28). Auvergne se etiese vraag is gevolglik op die spoor van Ibn Sina: waarom is die menslike siel spontaan aangetrokke tot ‘volmaaktheid’ en waarom moet die siel teen ondeugde – juis ook seksuele ondeugde – bewapen word? Auvergne definieer deug, kenmerkend Aristotelies, as die ‘gewoontes van ’n geordende verstand’ en bring hierdie definisie in verband met ander aspekte van Aristoteles se etiek (vgl. Jüssen 1995:20). Daaruit postuleer Auvergne dat ’n geordende en eties gedissiplineerde lewe eerstens eer aan God moet betoon, skoonheid moet opsoek en ‘bruikbaar moet wees vir ander’ (Teske 2006:11). Dit is duidelik ’n utilistiese soort etiek, waarvolgens die belange van die etiese ‘ander’ in verhouding tot die etiese ‘self’ geweeg behoort te word.
In sy Poenitentia, geskryf rondom die 1230’s tydens sy dienstermyn as biskop van Parys (vgl. Glorieux 1948:551–565), betoog Auvergne eerstens dat seksuele oortredings, syns insiens korrek gereguleer deur die Summae confessorum, onder die bieg verwoord moet word omdat seks die een sonde is waarby, per definisie, meer as een persoon betrek is of betrek sou moes word – dus sowel die belange van die ‘self’ as die ‘ander’ is op die spel met betrekking tot ’n opregte biegsessie (si dicat peccator, domine vigilans naturam meam pollui; vgl. Glorieux 1948:565).
Die invloed van die sinode van Angers (1217) op Auvergne se interpretasie van die bieg as effektief dubbelsnydend na ‘self’ en ‘ander’ is duidelik: dit is slegs binne die huwelik waar die ‘ander’ se belange nié noodwendig deur seksuele kontak ondermyn word nie. Daarom kan seks slegs binne die huwelik eerbaar onder die bieg verwoord word en behoort dit spontaan in aanmerking te kom vir absolusie. (‘Buite die sakrament van die huwelik moet gestel word dat elke willekeurige storting van semen ’n dodelike sonde vir sowel die man as die vrou daarby betrokke is, tensy die seksuele eenwording wel verantwoord kan word deur ’n wettige huwelik – en tog moet eenwording binne die huwelik self steeds verantwoord kan word as fatsoenlik van aard’; uit die notule van die Sinode van Angers; sien Payer 1984a:52; vgl. Payer 1991:134). ‘Fatsoenlike’ of ‘verantwoordbare’ seks binne die huwelik – dit sou vanuit die vroeë Middeleeue op Augustinus se spoor seks met ’n voortplantingopset moes wees – is dus vir Auvergne binne die gees en stemming van die besluite van die sinode van Angers die voorwaarde vir die verantwoordbaarheid van seksuele kontak in die algemeen – en die verantwoording van seks binne die konteks van die bieg in die besonder.
Die onmiddellike teenvraag vanuit die Summae confessorum is natuurlik wat ‘onbehoorlike’ seks (indebito modo) juis bínne die huwelik sou behels en wat dus wel onder die bieg verwoord sou moes word – maar sónder ’n vanselfsprekende vooruitsig op absolusie? Auvergne (vgl. Glorieux 1948:551–565) neem in sy Poenitentia ook deeglik kennis van hierdie faset van die sinode van Angers se kommentaar oor die Summae confessorum. Die sinode se leitmotif vir ‘onbehoorlike’ seks is naamlik luxuria of ‘wellus’ (oftewel ‘die koestering van seksuele impulse’, soos wat die 12de-eeuse Hildegard von Bingen [1098–1179; vgl. Beukes 2019b:83; 86–87] daarna verwys het), synde een van die sewe kardinale sondes.7 Onder luxuria het na die Summae confessorum se aanwysing getel (1) owerspel, (2) arbitrêre of toevallige seksuele kontak (fornicatio), (3) bloedskande, (4) die deflorering van ’n maagd (stuprum), (5) verkragting (raptus) en (6) die insluitende begrip sodomie (sien weer voetnoot 3). Wanneer seks dus ‘toevallig’, of met verwysing na enige vorm van nievaginale seks (of vaginale seks sonder ’n uitdruklike voortplantingsopset) binne die huwelik plaasgevind het, word geen onderskeid daaromtrent deur die Summae confessorum vis-à-vis buitehuwelikse seks getref nie. Dit was dus betreklik maklik om indebito modo binne die huwelik te hê ‘wat ook juis in die bieg verantwoord moes word’ (Wenzel 1968:13). Daarby moes seks binne die huwelik uitdruklik vermy word vir ’n redelike tydperk na ’n bevalling, tydens menstruasie en tydens sigbare swangerskap, om die liggaamlike integriteit en gesondheid van die getroude vrou te beskerm. Indien enige van hierdie drie stelreëls oortree is, moes dit in ’n afsonderlike bieg hanteer word. Ook op hierdie wyse word Auvergne se etiese interesse in die belange van die ‘ander’ prakties tot uitdrukking gebring.
Vir buitehuwelikse seks as sodanig verswaar die Summae confessorum die biegvoorskrifte en die strafsanksies, voorgestel deur die sinode van Angers, voorspelbaar aansienlik (soos breedvoerig gekommentarieer deur Thomas van Chobham [ca.1160–ca.1236; vgl. red. Broomfield 1968:330–404]). Afgesien van bogenoemde aanwysings ten opsigte van luxuria of ‘onbehoorlike’ seks binne die huwelik, kwalifisieer die sinode van Angers fornicatio sodat dit enige vorm van prostitusie insluit. Prostitusie word deur die sinode as ’n buitengewoon gevaarlike verskynsel aangemerk vanweë die aspek van anonimiteit. Daar is immers altyd die risiko dat die prostituut (onwetend) familie van die kliënt of self (sonder die kliënt se medewete) getroud kon wees. Afgesien van die vanselfsprekende sonde van fornicatio, word bloedskande en owerspel dan by die reeds verswaarde bieglys gevoeg. In sy aksent op die bieg as effektief dubbelsnydend na ‘self’ en ‘ander’, is prostitusie vir Auvergne waarskynlik die hewigste seksuele sonde, omdat dit gelaai is ‘met hierdie anonieme moontlikhede’ (Payer 1991:136). Daarom verwelkom Auvergne die sinode se aandrang dat die bieg ten opsigte van ’n seksuele ontmoeting met ’n prostituut uitermate gedetailleerd moes wees: die biegsubjek moes uitdruklik rekenskap gee of hy bewus was daarvan dat die vrou ’n prostituut is, wat die betaling vir haar dienste behels het, die getal prostitute wat ter sprake sou wees, die kere wat seksuele kontak met ’n bepaalde prostituut voltrek is, die tydsduur van elke sodanige ontmoeting en die plek waar elkeen van die ontmoetings plaasgevind het. Die konfessor kon slegs absolusie verleen indien hy oortuig was dat die biegsubjek alle moontlike verwante inligting onder die bieg gebring het, die ‘geestelike gevare’ ten opsigte van die anonieme aard van prostituele seks erken en die ‘fisieke gevare’ ten opsigte van die oordrag van siektes vir homself en sy eggenote (indien die biegsubjek getroud sou wees) uitdruklik toegegee het.
Naas hierdie aksent op prostitusie, vind Auvergne se Poenitentia die sinode van Angers se prioritisering van die seksuele sonde van die deflorering van ’n maagd (stuprum) betekenisvol. Ook hier gaan dit oor die belang van die ‘ander’: die sinode weerspieël die Summae confessorum se uitsondering van dié sonde nie op sterkte van die sondige kwaliteit van die handeling alleen nie, maar juis ook die toekomstige implikasies daarvan vir die (dus voormalige) maagd. In hierdie opsig skryf sowel die sinode as die Summae confessorum ’n vorm van restitusie voor, wat insluit die biegsubjek se betrokkenheid by reëlings vir ’n moontlike huwelik vir die betrokke vrou, asook ’n vorm van finansiële onderhoud sou sy in enige stadium op grond van haar verlore maagdelikheid materiële gebrek lei. Indien die vrou op grond van die verlies van haar maagdelikheid op die dowwe pad van prostitusie geplaas is, dra die biegsubjek mede-verantwoordelikheid vir haar toekomstige sondes.
Auvergne se Poenitentia vind ’n laaste nadruk vanuit die sinode van Angers se refleksie op die Summae confessorum ryk aan gevolge: ‘nagtelike selfbevlekking’ of masturbasie (mollities; beide manlik en vroulik, wedersyds of alleen) word, in bevestiging van die 10de-eeuse biegregulasie (sien weer voetnoot 4) as ’n besonder ernstige, ‘teen-natuurlike’ sonde bestempel wat in ’n afsonderlike bieg hanteer moes word. Die rede waarom masturbasie wel binne die konteks van Auvergne se nadruk op die belang van die ‘ander’ verreken moes word, is juis omdat die ‘ander’ effektief van die seksuele handeling uitgesluit word (selfs ook in die geval van wedersydse masturbasie), terwyl die biegsubjek ‘sowel agent as ontvanger is, asof tegelyk ’n man en ’n vrou’. In hierdie opsig was daar ‘geen verskil tussen masturbasie en oënskynlik meer dramatiese oortredings soos in die wisselvorme van sodomie nie’ (Payer 1991:137).
Willem van Auvergne se bydrae tot die interpretasie van die Summae confessorum, teen die agtergrond van die kommentaar van die sinode van Angers, sou dus daarin gevind kon word dat hy ’n utilistiese soort etiek, waar die belange van die etiese ‘ander’ in verhouding tot die etiese ‘self’ gestel is, binne biegkontekste benadruk het. Die huwelik was die enigste ruimte waarin die ‘ander’ se belange volgens Auvergne nié noodwendig deur seksuele kontak ondermyn sou kon word nie. Tog geld oorwegings ten opsigte van ‘onbehoorlike’ seks (indebito modo) uitdruklik ook binne die huwelik met die tersaaklike biegvoorskrifte daarvoor opgestel. Ten opsigte van buitehuwelikse seks sonder Auvergne, op die spoor van die sinode, prostitusie, die deflorering van maagde en masturbasie uit as seksuele sondes wat gewigtig onder die bieg na 1215 gebring sou moes word.
’n Liberale 13de-eeuse bieghandleiding: Paulus Hungarus se De confessione
Paulus Hungarus (ca. 1180–1241) was ’n Dominikaanse regsgeleerde wat ’n bygewerkte en vir die tyd besonder liberale handleiding – De confessione – rondom 1221 vir Dominikaanse konfessors opgestel het, juis in die nagloed van die sinode van Angers en die voortgaande ontwikkeling van die Summae confessorum na die Vierde Lateraanse Konsilie van 1215. De confessione is ’n uitermate praktiese handleiding wat uitdruklik nie vir ’n skolastiese adres opgestel is nie, maar vir algemene gebruik deur Dominikaanse skoolmonnike in hulle afneem van die bieg in die gemeenskappe waarin die betrokke skoolorde8 gedien het (vgl. Paulus Hungarus [1221] 1880:191; Payer 1991:139). Hungarus se De confessione verbreed Auvergne se fokus in die Poenitentia op ‘onbehoorlike’ seks (indebito modo) juis binne die huwelik, deur te fokus op verantwoorde seks binne die huwelik (de coitu coniugali) as sodanig. Daar bestaan dus ’n onafwendbare terminologiese oorvleueling tussen Auvergne en Hungarus se handleidings. Uniek aan Hungarus se De confessione is egter dat hy veel omvattender voorsiening maak vir die verantwoordbare uitwoed van die drifte binne die huwelik as wat Auvergne bereid sou wees om te doen: naas Auvergne se primêre Augustynse fokus op die opset tot vrugverwekking – wat Hungarus uiteraard ook onderskryf – maak hy uitdruklik voorsiening vir drie ander, syns insiens geldige, redes vir seks binne die huwelik, naamlik die ‘vereffening van skuld’, (liggaamlike) gesondheid en inderdaad elementêre seksuele gratifikasie.
Die ‘vereffening van skuld’ dui volgens Hungarus (1221:196) op Paulus se uiteensetting in 1 Korintiërs 7:3–5. Paulus self benadruk in geen stadium ‘voortplantingopset’ as voorwaarde vir geldige seksuele kontak binne die huwelik nie en handhaaf trouens in hierdie gedeelte die opvatting van vrye seksuele toegang binne die huwelik (synde ’n objektiewe ‘huweliksplig’):
’n Getroude man moet sy plig teenoor sy vrou nakom, en net so ook ’n getroude vrou haar plig teenoor haar man. ’n Getroude vrou beskik nie oor haar eie liggaam nie, maar haar man beskik daaroor; net so beskik ’n getroude man ook nie oor sy eie liggaam nie, maar sy vrou beskik daaroor. Moenie seks binne die huwelik afwys nie, tensy so ooreengekom […]. (dinamiese vertaling uit Nestle Aland Novum Testamentum Graece [eds. Nestle & Aland 2012])
Wanneer seks binne die huwelik weerhou word, kom dit volgens Hungarus (1221:198) neer op ’n vorm van skuld wat vroeër of later vereffen moes word. Om sodanige ‘skuld te vereffen’, is syns insiens nie alleen ’n sondelose daad nie, maar inderdaad ’n verdienstelike een. Hierdie liberale uitleg – vir dié tyd – van 1 Korintiërs 7:3–5 moet as buitengewoon gekenmerk word (vgl. Payer 1991:139).
Tweedens oorweeg Hungarus (1221:210) – nogeens merkwaardig vir ’n 13de-eeuse bieghandleiding – in sy uiteensetting van die verantwoording van geldige seksuele kontak binne die huwelik, die verhouding tussen seks en die liggaamlike gesondheid van beide partye. Hungarus neem die invloed van die vermelde Ibn Sina op Auvergne verder, deur nie alleen Ibn Sina se (seksuele) etiek nie, maar ook sy geneeskundige perspektief op die verhouding tussen liggaamlike gesondheid en verantwoordbare seksuele aktiwiteit in sy De confessione te verwerk. Volgens Beukes (2021f.) is geneeskunde in die Latynse Weste:
[V]anaf die vroeg 12de eeu diepgaande beïnvloed deur Arabiese geneeskunde, soos ontwikkel vanaf die 9de eeu en waarvan die tekste in Latynse vertaling eers beskikbaar gemaak is vanaf die laat 11de eeu. ’n Beduidende aantal Arabiese filosowe was in die eerste plek geneeskundiges, waarvan Ibn Sina ongetwyfeld die mees wydgelese in die 12de-eeuse Weste was. (bl. 213)
Hoewel Ibn Sina in sy …
… geneeskundige ensiklopledie in vyf volumes, al-Qānūn fī al-Ṭibb (Latyn: Liber canonis totius medicinis cordialibus, et cantica) urologiese probleme in beide geslagte na nier- en blaasfunksies herlei, onderskryf hy die gevestigde (dog androsentries-ideologiese) Arabiese opvatting dat manlike ejakulaat die suiwerste substansie is wat moontlik in die menslike liggaam geproduseer kan word. Daarom herlei Ibn Sina die fisiologiese oorsprong van die manlike orgasme en gevolglike ejakulaat reeds in die eerste volume van Liber canonis na funksies van die lewer as ten diepste ’n suiweringsorgaan’ (Beukes 2021f:214; Borris 2004:121–138; vgl. Siraisi 1987:128;359–376).
Volgens Beukes (2021f.) tref Ibn Sina in die derde volume van Liber canonis ’n verdere onderskeid waarvan Hungarus deeglik kennis sou neem:
[By] die vroulike orgasme en vroulike ejakulaat (urine uitgesluit, vaginale vloeistowwe van welke ander aard ook al ingesluit) speel nie die lewer of die inwendige en uitwendige vroulike geslagsdele enige rol nie, maar slegs enkeldele van die vroulike liggaam wat afsonderlik en samehangend tot orgasme en vroulike ejakulasie sou meewerk, in besonder die hart, hare (insluitende okselhare en skaamhare), die are (en bloed), die gebeente (veral heupbene) en beenmurg. Ibn Sina se bedoeling is duidelik: waar die manlike orgasme en gevolglike ejakulasie na ’n betreklik eenvoudige libidinale vitaliteit op grond van gesonde lewerfunksies sou moes terugkoppel, is die vroulike orgasme fisiologies kompleks en die resultaat van die individuele funksies van en samehang tussen liggaamlike enkeldele. Belangrik daarby is dat ’n orgasme van beide partye as voorwaarde vir geslaagde vrugverwekking verstaan is, indien vrugverwekking wel as opset vir ’n betrokke seksuele kontak gedien het. (bl. 214; vgl. Jacquart & Thomasset 1985:65)
Wanneer die ‘normale’ manifestasie van orgasme deur ’n verbod op seksuele aktiwiteit geblokkeer word, hou dit potensieel nadelige mediese gevolge in vir sowel mans as vroue. Kortom, en vir Hungarus onproblematies so, gesonde seks is gesond. Asof hierdie oorweging, vanuit ’n geneeskundige perspektief, binne ’n 13de-eeuse bieghandleiding nie reeds die omvang van die Summae confessorum oorspan nie, huiwer Hungarus (1221:210) derdens nie om seksuele gratifikasie, as sodanig, as ’n verantwoordbare motief vir seksuele kontak binne die huwelik aan te bied nie. Die enigste voorwaarde wat Hungarus (1221:207) blyk te stel, is die verbod op onanisme of enige vorm van ejakulasie buite die vagina, wat hy steeds as ’n ‘sonde teen die natuur’ en inderdaad as ’n vorm van ‘sodomie’ opstel (vitium sive peccatum contra naturam; vgl. Murray 1981:301–302).9
Treffend in Paulus Hungarus se bieghandleiding, De confessione, van 1221 is dus die buitengewoon liberale aard daarvan in sy oorweging van die ‘vereffening van skuld’, die seksuele gesondheid van beide partye in die huwelik en die seksuele bevrediging van getroude mense, synde ’n legitieme oorweging vir seksuele kontak binne die huwelik. Hungarus was bereid om die algemene ideologisering van seks in die Summae confessorum te onderbreek, deur die spontane en natuurlike aard van seksuele kontak tussen getroude mense nugter en sonder noemenswaardige vooroordeel te oorweeg. Die effek van Hungarus se soepel hantering van binnehuwelikse seks was dat Dominikaanse konfessors minder geneë sou wees om getroude mense in detail te ondervra oor hulle seksuele ervarings, mits binne die bane van ‘natuurlikheid’ vertoef is en onanisme of ander vorme van nievaginale seksuele kontak, nie binne die huwelik self voorgekom het nie.
Samevatting en konklusie
Foucault se betoog in La volonté de savoir was in beginsel heeltemal korrek: seks is inderdaad in 13de-eeuse bieghandleidings bo alle ander moontlike ‘sondes’, ‘ondeugde’ en ‘oortredings’ geprioritiseer. In verruiming van Foucault se kursoriese ontleding is hier aangedui hoe enkele denkers uit die sentrale Middeleeue sélf oor die sakramentalisering van die bieg ná die Vierde Lateraanse Konsilie van 1215 nagedink het. Natuurlik was daar meer en ander deelnemers aan hierdie biegdiskoers in die sentrale Middeleeue: hierdie denkers se standpunte en interpretasies dui egter die mees tersaaklike elemente in tipiese 13de-eeuse bieghandleidings aan. Bostaande uiteensetting kan daarom as verruiming en toeligting van Foucault se ontleding ten opsigte van die diskursiewe aanspraak van die Sentraal-Middeleeuse bieg in die Westerse geskiedenis van seksualiteit gelees word.
Erkennings
Mededingende belange
Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.
Outeursbydrae
J.B. is die enigste outeur betrokke by die skryf van dié artikel.
Etiese oorwegings
Hierdie artikel volg alle etiese standaarde vir navorsing sonder direkte kontak met mens of dier.
Befondsing
Die artikel is befonds deur die Departement Filosofie & Klassieke, Fakulteit Geesteswetenskappe, Universiteit van die Vrystaat.
Data beskikbaarheidsverklaring
Datadeling is nie van toepassing op die artikel nie, aangesien geen nuwe data in hierdie studie geskep of ontleed is nie.
Vrywaring
Die sienings en menings wat in die artikel uitgedruk word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde agentskap van die outeur nie.
Verwysings
Adams, J.N., 1982, The Latin sexual vocabulary, Duckworth, London.
Alanus van Lille, [1191] 1913, Liber poenitentialis. La tradition longue. Texte inédit publié en annoté, J. Longère (ed.), Analecta mediaevalia Namurcensia, Louvain.
Alberigo, G. et al. (eds.), 1973, Conciliorum Oecumenicorum Generalliumque Decreta, 3rd edn., Institute for Religious Sciences, Bologna.
Beukes, J., 2018, ‘Die Arabiese trajek in die Karolingiese periode in Middeleeuse filosofie’, Litnet Akademies 15(3), 502–564, besigtig 31 Oktober 2021, van https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2018/12/LitNet_Akademies_15-3_Beukes_502-564.pdf.
Beukes, J., 2019a, ‘“Foucault se sodomiet”: Damianus se Liber gomorrhianus (1049) heropen’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 75(4), Art. #5216, 1–13. https://doi.org/10.4102/hts.v75i4.5216
Beukes, J., 2019b, ‘Hildegard von Bingen as ’n 12de-eeuse filosoof-teoloog’, Litnet Akademies 16(1), 64–102, besigtig 31 Oktober 2021, van https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2019/06/LitNet_Akademies_16-1_Beukes_64-102.pdf.
Beukes, J., 2020a, Middeleeuse filosofie, Volumes I & II, Akademia, Pretoria.
Beukes, J., 2020b, ‘Intervroulike seksualiteit in die latere Middeleeue: ’n Ideëhistoriese oorsig’, Verbum et Ecclesia 41(1), Art. #2074, 1–13. https://doi.org/10.4102/ve.v41i1.2074
Beukes, J., 2020c, ‘Histoire de la sexualité ‘4’ (Les aveux de la chair): Aantekeninge vanuit die Nederlandse Foucault-navorsing’, Verbum et Ecclesia 41(1), Art. #2074, 1–14. https://doi.org/10.4102/ve.v41i1.2078
Beukes, J., 2021a, ‘Augustinus en vroulike homoërotiek in die vroeë Middeleeue: ’n Foucaultiaanse ideëhistoriese interpretasie’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 77(4), Art. #6880, 1–12. https://doi.org/10.4102/hts.v77i4.6880
Beukes, J., 2021b, ‘Raptus en die “vorm van die wil”: ’n Transgressiewe lesing van Foucault se Augustinus-interpretasie in Les aveux de la chair’, Verbum et Ecclesia 42(1), Art. #2310, 1–13. https://doi.org/10.4102/ve.v42i1.2310
Beukes, J., 2021c, ‘Michel Foucault on Methodius of Olympus (d.ca.311) in Les aveux de la chair: Patrick Vandermeersch’s analysis contextualised’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 77(4), Art. #6912, 1–12. https://doi.org/10.4102/hts.v77i4.6912
Beukes, J., 2021d, ‘Die ontwikkeling en komplekse samehange van die huidige vier bande in Foucault se Histoire de la sexualité’, Tydskrif vir Geesteswetenskappe 61(4/2), 1287–1310. https://doi.org/10.17159/2224-7912/2021/v61n4-2a4
Beukes, J., 2021e, ‘“Skoolordes” in stede van “bedelordes”: ’n Heroorweging van die toepaslikheid van die begrip mendīcāns in die (Afrikaanse) Middeleeuse vakregister’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 77(4), Art. #6837, 1–11. https://doi.org/10.4102/hts.v77i4.6837
Beukes, J., 2021f, ‘Liggaamsfragmentering in sentraal-Middeleeuse vroulike mistiek’, Litnet Akademies 18(2), 200–236, besigtig 31 Oktober 2021, van https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2021/08/LitNet_Akademies_18-2_Beukes_200-236.pdf.
Borris, K., 2004, Same-sex desire in the English Renaissance, Routledge, London.
Boswell, J., 1980, Christianity, social tolerance and homosexuality: Gay people in Western Europe from the beginning of the Christian era to the fourteenth century, Chicago University Press, Chicago, IL.
Broomfield, F. (ed.), 1968, ‘Thomae de Chobham. Summa confessorum’, Analecta Mediaevalia Namurcensia 25(1), 330–404.
D’Alverny, M.T. (ed.), 1965, Alain de Lille. Textes inédits, Vrin, Paris.
De Libera, A., 1987, ‘Logique et théologie dans la Summa Quoniam homines d’Alain de Lille’, in J. Jolivet & A. De Libera (eds.), Gilbert de Poitiers et ses contemporains, pp. 437–469, Bibliopolis, Naples.
Foucault, M., 1976 (English translation 1978), Histoire de la sexualité 1: La volonté de savoir, Gallimard, Paris. (The history of sexuality, Volume 1: The will to knowledge, transl. R. Hurley, Pantheon, New York, NY).
Foucault, M., 1982, ‘Le combat de la chasteté’, Communications 35 (Sexualité occidentales, mai 1982), 15–25. Also in D. Defert & F. Ewald (eds.), 1994, Dits et écrits IV:1980–1988, pp. 295–308, Bibliothèque des Sciences humaines, [Éditions] Gallimard, Paris.
Foucault, M., 1988, ‘The battle for chastity’, in L.D. Kritzman (ed.), Michel Foucault. Politics, Philosophy, Culture: Interviews and other writings, A. Sheridan (transl.), pp. 188–197, Routledge, New York, NY.
Foucault, M., 1999, ‘Sex and solitude’, in J.R. Carrette (ed.), Religion and culture. Michel Foucault, pp. 182–187, Routledge, New York, NY.
Foucault, M., 2018, (English translation 2021), Histoire de la sexualité 4: Les aveux de la chair, Bibliothèque des Histoires, (Éditions) Gallimard, Paris. (The history of sexuality, Volume 4: Confessions of the flesh, R. Hurley, R [transl.], Pantheon, New York, NY).
Glorieux, P., 1948, Le tractatus novus de poenitentia de Guillaume d’Auvergne, Miscellanea moralia in honorem eximii domini Arthur Janssen, pp. 551–565, Bibliotheca Ephemeridum theologicarum Lovaniensium, Louvain.
Goering, J. & Mantello, F.A.C., 1987, ‘The early penitential writings of Robert Grosseteste’, Recherches de théologie ancienne et médiévale 54(1), 80–92. https://doi.org/10.2143/RTPM.54.0.2016346
Goodich, M., 1979, The unmentionable vice. Homosexuality in the later Medieval period, Ross-Erikson, Santa Barbara.
Gründel, J., 1963, Die Lehre von den Umständen der menschlichen Handlung im Mittelalter, Beiträge zur Geschichte der Philosophie un Theologie des Mittelalters 39(5), Aschendorff, Münster.
Hungarus, P., [1221] 1880, De confessione, Bibliotheca casinensis seu codicum manuscriptorum, vol. 4, Typographia Casinensis, Monte Casino.
Jacquart, D. & Thomasset, C., 1985, Sexuality and medicine in the Middle Ages, Princeton University Press, Princeton.
Jüssen, G., 1995, ‘Die Tugend under der gute Wille: Wilhelm von Auvergnes Auseinandersetzung met der aristotelischen Ethik’, Philosophisches Jahrbuch 102(1), 20–32.
Murray, A., 1981, ‘Confession as a historical source in the thirteenth century’, in R.H.C. Davis & J.M. Wallace-Hadrill (eds.), The writing of history in the Middle Ages, pp. 275–322, Oxford University Press, Oxford.
Nestle, E. & Aland, K. (eds.), 2012, Nestle-Aland Novum Testamentum Graece, 28th edn., German Bible Society, Stuttgart.
Oakley, T.P., 1923, English penitential discipline and Anglo-Saxon law in their joint influence, Columbia University Press, New York, NY.
Payer, P.J., 1984a, Sex and the penitentials. The development of a sexual code, 550–1150, University of Toronto Press, Toronto.
Payer, P.J., 1984b, ‘The humanism of the Penitentials and the continuity of the penitential tradition’, Mediaeval Studies 46(1), 340–350. https://doi.org/10.1484/J.MS.2.306319
Payer, P.J., 1991, ‘Sex and confession in the thirteenth century’, in J.E. Salisbury (ed.), Sex in the Middle Ages. A book of essays, pp. 126–144, Routledge, London.
Siraisi, N.G., 1987, Avicenna in Renaissance Italy: The ‘Canon’ and medical teaching in Italian universities after 1500, Princeton University Press, Princeton, NJ.
Teske, R.J., 2006, Studies in the philosophy of William of Auvergne, Marquette University Press, Milwaukee, WI.
Valente, L., 2008, Logique et théologie. Les écoles parisiennes entre 1150 et 1220, Vrin, Paris.
Wenzel, SO., 1968, ‘The seven deadly sins: Some problems of research’, Speculum 43(1), 1–22. https://doi.org/10.2307/2854796
Wenzel, S. (ed.), 1970, ‘Robert Grosseteste’s treatise on confession, “Deus est”’, Franciscan Studies 30(1), 218–293. https://doi.org/10.1353/frc.1970.0005
Voetnotas
1. Foucault interpreteer die sakramentalisering van die bieg kursories só (ter wille van toeganklikheid word ’n aanhaling vanuit die Engelse vertaling verskaf, in Foucault 1976:58): ‘Since the Middle Ages at least, Western societies have established confession as one of the main rituals we rely on for the production of truth: the codification of the sacrament of penance by the Lateran Council in 1215, with the resulting development of confessional techniques […] and methods of interrogation and inquest’. Dié jaarlikse aflegging van die bieg word in die 21ste dekreet (Omnis utriusque sexus) van die notule van die Vierde Lateraanse Konsilie van 1215 só in die moderne Engelse vertaling daarvan weergegee: ‘All the faithful of either sex […] should individually confess all their sins in a faithful manner to their own priest at least once a year […] The priest shall […] be discerning and prudent […]. Let him carefully inquire about the circumstances of both the sinner and the sin […]. Let him take utmost care, however, not to betray the sinner at all by word or sign in any way’ (cf. https://www.papalencyclicals.net/councils/ecum12-2.htm#21). Hoewel die betrokke verwysing sélf seks as sodanig nie uitsonder nie, is Foucault se afleiding korrek dat in die bieg oor geen ander ‘sonde’ op soveel detail aangedring is nie, en dat ‘sondes’ wat met seks saamhang dus bo alle ander moontlike ‘sondes’, ‘ondeugde’ en ‘oortredings’ in die sentrale Middeleeue geprioritiseer is.
2. Die rede waarom seks in die 21ste eeu steeds as van soveel publieke belang geag word in die Westerse samelewing, tot by die punt dat dit via die gedrukte en digitale media ’n grootliks pornografiese en daarom droewige samelewing geword het wat die droefgeestigheid van die Middeleeuse bieg bloot herreflekteer, sou volgens Foucault (1976:39) in hierdie aandag aan juis detail in die Sentraal-Middeleeuse biegpraktyk teruggevind kon word: pornografie, anders as erotika, fokus immers op detail. Die Middeleeuse kerk se historiese interesse in en regulering van seks as iets met ’n uitdruklik sondige kwaliteit, het ‘seksualiteit’ nie getemper nie; trouens net die teenoorgestelde het gebeur: die konsep seksualiteit is hierdeur versterk en seks(ualiteit) het juis oral sigbaar geword (vgl. Beukes 2019b:97-98).
3. ‘Sodomie’ sluit na die kloosterhervormer Petrus Damianus (1007-1072) se hervormingsteks, Liber gomorrhianus (vgl. Beukes 2019a:2-4), intervroulike seksuele kontak in. Die teks is aangebied aan pous Leo IX (1002-1054, pous vanaf 1049 tot 1054) wat aan Damianus in 1049 opdrag gegee het om die ‘verskynsel van toenemende seksuele kontak tussen konfessors en biegsubjekte (manlik en vroulik), tussen priesters en priesters, tussen monnike en nonne, tussen monnike en monnike, en tussen nonne en nonne te ondersoek, in rubrieke te boekstaaf en met ’n kerklike advies rakende die hantering van die probleem van seksuele promiskuïteit in die 11de-eeuse kloosterwese, na vore te kom’ (Beukes 2019a:4). Die uitbreiding van die begrip sodomie in die teks om onder andere ook die ‘vroulike sodomiet’ in te sluit, het ‘nawerking geniet vanaf die Konsilie van Reims in 1049 tot minstens nog by die Vierde Lateraanse Konsilie in 1215’ (Beukes 2019a:4).
4. Die kerklike definisie vir ‘natuurlike’ (of ‘rasionele’) seks was reeds teen die middel van die 11de eeu goed bekend en enige afwyking daarvan moes in die bieg verklaar word (Beukes 2019a:3; vgl. Foucault 1976:18, 58): ‘Natuurlike’ of ‘rasionele’ geslagsgemeenskap kon plaasvind (1) slegs tussen ’n volwasse man en ’n volwasse vrou; (2) slegs binne die huwelik; (3) slegs met die oog op die opsetlike verwekking van ’n vrug; (4) met geen ejakulasie buite die vagina nie (oftewel onanisme [vgl. Foucault 1976:30], op grond van hierdie eksplisiete oogmerk tot voortplanting); (5) met geen gesig- of oogkontak nie (vaginale toegang dus slegs van agter of met die vrou se gesig volledig buite sig); en (6) met slegs genitaal-genitale en geen oraal-genitale of genitaal-anale kontak nie. Daarby is masturbasie, manlik en vroulik, wedersyds of solitêr (mollities), ‘reeds vanaf die 10de eeu gereken as ’n ernstige sonde en dit moes in ’n buitengewone afsonderlike bieg, naas die verpligte jaarlikse konfessie, hanteer word’ (Beukes 2019a:3; vgl. Foucault 1976:28, 42).
5. Die begrip seksuele vernakulêr is in die sentrale Middeleeue gebruik om ‘na die mees gangbare en tegelyk mees private seksuele woorde in ’n betrokke taal te verwys. Die vernakulêr is dus “die seksuele taal van die mense” in ’n bepaalde taalgemeenskap en vertoon juis daarom spontaan “vulgêr”, soos wat mense dikwels woorde in private seksuele kontekste gebruik wat spontaan vulgêr is of kan wees’ (Beukes 2019b:98). Dit is hierdie ‘vulgêre’ woorde wat in die Middeleeuse bieg gebruik moes word - want daar was letterlik geen ander woorde nie (vgl. Foucault 1978:46).
6. Hierdie topoi is verder gesistematiseer in die Spaanse Dominikaan Raymond van Penyafort (ca.1175-1275) se Summa de casibus poenitentiae (ca.1226), wat spesifiek vir Dominikaanse konfessors aangebied is, maar vanaf die vierde dekade in die 13de eeu as die gestandaardiseerde kommentaar oor die Summae confessorum beskou is, ook vir diegene buite die Dominikaanse orde (vgl. Gründel 1963:1-30; Payer 1991:143 [eindnota11]).
7. Die woestynaskeet Johannes Cassianus (ca.360-ca.435) het die ‘sewe groot sondes’, ook die kardinale sondes of die doodsondes genoem – dié sondes wat in effek alle ander sondes sou ondervang het - só geformuleer: ‘[…] superbia (hoogmoed, ydele trots), avaritia (geldsug, materialisme), luxuria (wellus), invidia (jaloesie), ira (wraaksug), gula (vraatsug) en socordia (onvergenoegheid). Daar is volgens hierdie kategoriestelling in die sentrale Middeleeue dus drie soorte sondes aan te dui: die (Augustynse) erfsonde, die sonde van die wet (oortreding van die tien gebooie), maar dan ook hierdie sewe kardinale sondes, wat later self weer, soos hier in die sentrale Middeleeue, onderverdeel en intern gespesifiseer is’ (Beukes 2019b:99). Die enigste onderafdeling van Les aveux de la chair (Foucault 2018:230–245) wat vroeër deur Foucault (1982:15–25) as ’n enkelstaande aanbod gepubliseer is, is juis sy ontleding van Cassianus se woestynaskese (getitel Le combat de la chasteté; etlike jare later in Engels vertaal as The battle for chastity en só herpubliseer in ’n nou beroemde versamelwerk [Foucault 1988:227–241]).
8. Vir verantwoording waarom na ‘skoolmonnike’ en ‘skoolordes’ en nie na ‘bedelmonnike’ en ‘bedelordes’ verwys word nie, sien Beukes (2021e:1-3).
9. Ondanks sy liberale oorwegings in De confessione, laat Hungarus hom in terme van die ‘sonde van onanisme’ steeds lei deur die laat 12de-eeuse Petrus Cantorius (d.1197) se ‘deurgaans homofobiese eksegese van Romeine 1:27-27, asook 11 ander Bybelse tekste wat na sy uitleg op die “radikale sonde van sodomie” dui’ (Beukes 2020b:10; vgl. Boswell 1980:277).
|