About the Author(s)


Ignatius (Natie) W.C. van Wyk Email symbol
Department of Systematic and Historical Theology, Faculty of Theology and Religion, University of Pretoria, Pretoria, South Africa

Citation


Van Wyk, I.W.C., 2019, ‘Augustinus: ’n Studie oor die etiek van die kerkvader uit Afrika deur J.H. van Wyk’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 75(4), a5560. https://doi.org/10.4102/hts.v75i4.5560

Research Project Registration:

Project Leader: W.A. Dreyer symbol

Project Number: 77370920

Description: Prof I.W.C. van Wyk is participating in the research project, ‘Ecumenical creeds and Confessions’, directed by Prof Wim Dreyer, Department of Church History and Church Polity, Faculty of Theology and Religion, University of Pretoria.

Note: HTS 75th Anniversary Maake Masango Dedication.

Original Research

Augustinus: ’n Studie oor die etiek van die kerkvader uit Afrika deur J.H. van Wyk

Ignatius (Natie) W.C. van Wyk

Received: 17 May 2019; Accepted: 01 Aug. 2019; Published: 29 Nov. 2019

Copyright: © 2019. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstract

In this review article, the book by J.H. (Amie) van Wyk, Augustine: A study on the ethics of the church father from Africa is presented and discussed. Short overviews of the content of the six chapters are given. They are: (1) Introduction – the necessity for a book on Augustine’s ethics in Afrikaans, (2) Orientation – an overview of his life and works, (3) Grounding – the relationship between dogmatics and ethics, (4) Typology – the character of his ethics, (5) Themes – marriage and sexual ethics, political ethics and animal ethics, (6) Findings – evaluation of Augustine’s ethics. Support is given to the argument that Augustine is an important forerunner to the Reformation. Information is provided on Augustine and the early years of the Reformation in Wittenberg. Critical remarks are made about the author’s understanding of the relationship between faith and works, dogmatics and ethics. The Lutheran understanding of this topic is presented as an important alternative to the Reformed version that is defended in this book. Finally, attention is given to Augustine’s ‘theory of the two cities’. Also in this regard advice is given from one of Luther’s publication. His exposition of Mary’s Song (‘Magnificat’) in Luke 1:46–55 is used as an example of how a witness to the government could look like.

Keywords: Augustine; Luther; ethics; social ethics; political ethics; two-cities theory.

Amie van Wyk het einde 2018 ’n populêr-wetenskaplike boek oor die kerkvader Augustinus, by African Sun MeDIA (Sun Press as druknaam), Bloemfontein (ISBN 978-1-928357-66-7) gepubliseer. Die teks beslaan 203 bladsye met ’n bronnelys wat ’n verdere 25 bladsye inneem. ’n Kort chronologie van 2 bladsye is ook in die boek opgeneem. ‘Populêr-wetenskaplik’ beteken dat die teks toeganklik is vir die publiek, maar dat die inhoud op omvattende en deeglike wetenskaplike navorsing berus. Van Wyk was sedert sy kinderjare geïnteresseerd in die kerkvader van Afrika. Hy het in sy lang akademiese loopbaan tientalle artikels en traktate oor Augustinus geskryf. Hy het ook talle studiereise onderneem en aan verskeie internasionale Augustinus-navorsingskongresse deelgeneem. Van Wyk is dus ’n ervare Augustinus-navorser. Hy is méér as enige ander Suid-Afrikaanse teoloog op hoogte met die internasionale navorsing oor Augustinus. As meester van sy onderwerp, kon hy ’n maklik-leesbare boek skrywe. Die argumentvoering is helder en duidelik.

Hoofstukke en paragrawe volg logies op mekaar en dit is ’n plesier om die boek te lees. Verwysings is meestal in voetnotas aangebring sodat die teks makliker gelees kan word. Dit is tog jammer dat by belangrike aanhalings die oorspronklike Latynse weergawe nie in die voetnotas weergegee word nie. Dít sou ’n voortgaande Afrikaanse Augustinus-resepsie baie kon help. Die boek is in keurige Afrikaans geskryf.

Beide die outeur en die taalversorgers verdien ’n pluimpie. In geheel beskou het ons met ’n uitstekende produk te make. Ek oordeel dat hierdie een van die heel beste teologiese boeke is wat nog in Afrikaans geskryf is. Dit verdien ’n wye leserspubliek.

Die boek bestaan uit ses hoofstukke. Hoofstuk 1 handel oor die vraag: ‘Waarom nog ’n boek oor Augustinus?’ Die antwoord is eintlik vanselfsprekend. Augustinus is een van die grootste teoloë wat die kerk opgelewer het. Aangesien daar nie ’n boek oor Augustinus in Afrikaans bestaan nie, was daar ’n leemte in die mark wat nou gevul is. Van Wyk (2018:3) merk verder op dat Augustinus invloed op talle teoloë en filosowe uitgeoefen het en nog steeds die belangstelling prikkel. Hy bly ’n belangrike voorloper van die Gereformeerde teologie, en om hierdie rede sal hy altyd weer en weer deur teoloë uit hierdie tradisie bestudeer word. Ter ondersteuning van hierdie argument kan ek ’n brokkie inligting aangaande die Wittenbergse Reformasie hier byvoeg. Augustinus het nie net invloed op Calvyn uitgeoefen nie, maar ook op Martin Luther en sy kollegas in Wittenberg. Dit is egter nie seker nie wanneer, waar en deur wie se toedoen Luther Augustinus begin lees het nie. Daar is ook ’n verskil van mening in die navorsing oor die uiteindelike invloed wat Augustinus op Luther uitgeoefen het. Die feit bly egter dat Luther sedert 1509 talle geskrifte van Augustinus deurgewerk het en van kantnotas voorsien het. Augustinus se invloed blyk duidelik uit sy eerste Psalmvoorlesings (1515–1516) en die Romeinebrief-voorlesing (1515–1516). Wat Luther by Augustinus oorgeneem het, berus op sy eie, onafhanklike navorsing. Sy Augustinus-insigte het hy dus nie van een van sy dosente oorgeneem nie. Vir Luther staan Augustinus, saam met Paulus, teenoor Aristoteles en die skolastiek (Lohse 1995:36). Op 18 Mei 1517 skryf hy met groot genoegdoening aan sy vriend Johannes Lang en lig hom in oor die vordering wat in Wittenberg gemaak word met Augustinus se teologie. Hy (Luther [1501–1520] 1931a) beweer:

Ons teologie en dié van Augustinus bloei en heers onder God se bystand aan ons universiteit. Aristoteles kom al meer en meer tot ’n val en is naby aan ’n ewige ondergang. Die voorlesings oor die stellings [van die kerkvaders by Lombardus] word verbasend genoeg vermy, sodat geen dosent meer toehoorders kan verwag wat nie oor hierdie teologie – dit is oor die Bybel en Augustinus, óf ’n ander leermeester van kerklike outoriteit klasgee nie. Laat dit met jou goedgaan en bid vir my! (bl. 99)

Die inhoud van hierdie brief word deur die volgende inligting ondersteun: Karlstadt het byvoorbeeld in 1517 lesings aangebied oor Augustinus se anti-Pelegiaanse geskrif Gees en Letter (De spiritu et litera), Petrus Lupinus het oor Ambrosius lesings gehou en Johannes Rhagius Aesticampianus oor Hieronymus – met talle verwysings na en kommentaar van Augustinus. Die implikasie was dat studies oor die oudkerklike teologie, met Augustinus in die middelpunt, die Middeleeuse skolastiek in Wittenberg verdring het (Köpf 2015:47). ’n Boek oor Augustinus in Afrikaans is dus ’n welkome toevoeging tot ons boekrakke en biblioteke.

Hoofstuk 2 staan onder die opskrif ‘Oriëntering’ en is ’n kort lewenskets van die kerkvader. Konsentrasie val op sy liefdeslewe, sy onderrig, navorsing, doseerverpligtinge en uiteindelik sy bydrae as biskop en teoloog.

Van Wyk (2018:17–49) gee spesiale aandag aan Augustinus as prediker, kategeet, pastor, briefskrywer, konsilieganger, vrederegter en apologeet wat stryd gevoer het teen die Arianisme, Manicheïsme, Donatisme en Pelagianisme. Augustinus se geskrifte oor bepaalde temas word kortliks bekendgestel. In die bronnelys word die meeste van Augustinus se geskrifte aangegee, telkens met ’n Afrikaanse vertaling van die titel. Toekomstige Augustinus-navorsers sal dit baie handig vind.

Hoofstuk 3 het die opskrif ‘Fundering’. In hierdie hoofstuk handel dit hoofsaaklik oor die fundering van die Christelike etiek. Volgens Van Wyk (2018:51–52) is daar ’n onlosmaaklike samehang tussen geloof en werke, dogmatiek en etiek by Augustinus waar te neem. Met ‘dogmatiek’ word ten diepste die geloof in God bedoel. God is vir Augustinus die ‘bron en doel’ van die lewe, en só van die etiek. Van Wyk (2018:53–62) bied daarom ’n uitgebreide uiteensetting van Augustinus se Godsbegrip aan, en hy doen dit onder die volgende opskrifte: God as misterie; God is Gees; God as die Vader van Jesus Christus en God as die Drie-enige God. Ons kry gevolglik in ’n neutedop, in ’n boek oor die etiek, ’n oorsig oor Augustinus se Godsleer. Ons het dus in die eerste gedeelte van die boek, naas ’n inleiding oor sy lewe en geskrifte, ’n beknopte Augustynse dogmatiek. Aangesien ons God, die Vader van Jesus Christus, uit die Woord leer ken, volg daar ’n lang gedeelte (Van Wyk 2018:63–77) oor Augustinus se Skrifverstaan. Hy gee aandag aan: Die Skrif as norm – waar Augustinus se eksegetiese metodes en hermeneutiek verduidelik word; die kerk as moeder – waar die rol van die kerk in die verstaan van die Skrif verduidelik word. Dít word gedoen onder die hofies van die sakramente, kategese, prediking en liturgie. Ons kry dus met ander woorde ook ’n beknopte ekklesiologie van Augustinus in die proses. Ná hierdie lang ekskursies oor God, sy Woord en sy kerk, kom Van Wyk (2018:78) uit by die mens as morele agent. Ook in hierdie gedeelte ontvang ons ’n beknopte antropologie.

Dit is veral Augustinus se verstaan van die ‘siel’ en die gedagte van ‘liefde’ wat aandag geniet. Die hoofstuk word afgesluit met die tema van ‘die koninkryk as bestemming’, waarna Van Wyk meermale terugkeer.

Hoofstuk 4 staan onder die opskrif ‘Tipering’ en wil aandui wat die aard en karakter van Augustinus se etiek is. Van Wyk (2018:90–153) tipeer Augustinus se etiek as: Etiek van geloof; etiek van hoop; etiek van liefde; etiek van genade; etiek van geluk; etiek van nederigheid; etiek van waarheid – met uitgebreide paragrawe oor die waarheidsvraag en die problematiek van die leuen; etiek van genot – met ’n lang diskussie oor die begrippe ‘uti’ en ‘fruti’ by Augustinus; hy sluit af met die vraag of ons by Augustinus te make het met ’n etiek van askese? In hierdie hoofstuk tree die outeur in kritiese gesprek met sekere menings van Augustinus.

Hy wys op die agterhaalheid van bepaalde standpunte en die leemtes in Augustinus se argumentvoering. In den brede het ons egter met ’n waarderende daarstelling te make, aangesien Van Wyk in Augustinus ’n betroubare ‘Bybelse etikus’ sien en ’n voorloper van die Gereformeerde etiek.

Hoofstuk 5 het te make met die ‘tematisering’ van sekere aspekte van Augustinus se etiek. Van Wyk (2018:156–197) het die volgende temas gekies vir daarstelling en bespreking: Huweliks- en seksuele etiek; politieke etiek en diere etiek. Ten spyte van die feit dat Augustinus se huweliks- en seksuele etiek as die swakste gedeelte van sy etiek beskou word, en sedert die Verligting aan hewige kritiek onderwerp word, het die outeur (Van Wyk 2018:155–174) nogtans die moed gehad om uitvoerig en aandag aan hierdie gedeelte te gee. Wat waardevol is in Van Wyk se aanbieding, is die kontekstualisering van Augustinus se uitsprake. Om reg te laat geskied aan sy uitsprake, is dit belangrik om te weet op watter stadium van sy lewe hy bepaalde uitsprake gemaak het, binne watter polemiese situasie hy dit gemaak het, wat die tendense binne die sekulêre moraal op daardie tydstip was en wat die groter teologiese vraagstuk was waarbinne hy die uitsprake gemaak het? Om lukraak sekere uitsprake te gryp en dit belaglik te maak, dien nie ernstige wetenskaplike navorsing nie. Ten spyte van al die beskerming wat aan Augustinus gegee word, sal erken moet word dat hierdie aspek van sy etiek slegs relatiewe waarde vir die huidige diskoerse het. Die gedeelte oor Augustinus se politieke etiek volg ook die benadering om sy uitsprake binne verskillende kontekste, tydperke in sy lewe en historiese gebeure te plaas. Dit alles help om ’n billike oordeel te vel. Van Wyk (2018:177–190) gee ’n goeie daarstelling van Augustinus se ‘twee-stedeteorie’. Hy konsentreer veral op Augustinus se staatsbegrip.

Hy doen dit onder die volgende opskrifte: Die staat as ryk van die duiwel?; die staat as ‘sonde-ordening’; die staat as regsordening; die staat as vredesordening; die staat as vryheidsordening en die staat as voorlopige ordening. Hy sluit die hoofstuk af met waarderende en kritiese opmerkings – veral vanuit ’n Suid-Afrikaanse perspektief. Die kontekstualisering bring mee dat hierdie boek nie net van kerkhistoriese belang is nie, maar ook waardevol is vir eietydse refleksie in hierdie land. Die gedeelte oor die diere-etiek (Van Wyk 2018:195–197) is ongelukkig baie kort. In die lig van ons stryd teen dinge soos renosterstropery, sou ’n langer besinning vir baie Suid-Afrikaners baie waardevol gewees het.

Van Wyk (2018:199–203) eindig sy boek onder die opskrif ‘Uitleiding’. Hy kom tot ’n oorsigtelike kritiese waardering van Augustinus se etiek. Hy gee ’n puntsgewyse aanduiding van die leersaamheid en bruikbaarheid van Augustinus se etiek, maar wys ook op die leemtes en tekortkominge. Hierdie slothoofstuk maak dit duidelik dat die outeur ’n lewe lank met Augustinus geworstel het. Hierdie werk van ’n tagtig-jarige verryk die Afrikaanse literatuurskat geweldig baie. Ek hoop dat daar belangstelling sal wees om hierdie werk in Engels te vertaal. Dit sal vir die Afrikaanssprekende gemeenskap tot trots wees.

Vanselfsprekend het Augustinus nie die laaste woord oor etiese sake nie en is alles wat hy geleer het nie noodwendig (tans) van waarde nie. Ander stemme moet naas dié van Augustinus opklink, terwyl sy eie teologiese gedagtegange aan kritiese debat onderwerp moet word. Op grond van my onlangse belangstelling, bring ek Martin Luther in die gesprek in.

Niemand betwyfel dat geloof en werke, dogmatiek en etiek onlosmaaklik verbonde is nie. Die vraag is egter of etiek die keerkant van dogmatiek is? Lê Christelike moraal en Christelike geloof werklik op één lyn? Een uitspraak in Van Wyk se boek wek by my kommer. Hy (2018:51) stel: ‘Christene gló die regte dinge ten einde die regte dinge reg te dóén.’ My vermoede is dat ons hier met ’n Gereformeerde uitleg van Augustinus te make het – maar juis daarom is dit belangrik om die Lutherse weergawe van die verhouding tussen geloof en liefde ook in herinnering te roep. Daar is ’n belangrike verskil tussen die twee weergawes.

Dat die geloof alleen regverdig, sonder die werke van die wet, staan by Luther vas. Daar is by hom geen sprake van ’n afkeer in goeie werke nie. Hy (Luther [1520] 2006a:98) stel dit baie duidelik wanneer hy beweer: ‘Dit is nie moontlik dat die geloof sonder aanhoudende, baie en groot werke kan wees nie.’ In ’n disputasie oor Romeine 3:28 (Luther [1535–1537] 2006b) stel hy dit nóg skerper:

Wanneer daar geen werke [op die geloof] volg nie, dan is dit seker dat dit nie die [regverdigmakende] geloof in Christus is wat in ons harte woon nie, maar die dooie geloof, wat as die verwerfde geloof beskryf word. (bl. 406)

Om dit nogeens, bo alle twyfel duidelik te maak wat Luther se mening oor die werke is, die volgende woorde uit die Voorwoord tot Paulus se brief aan die Romeine ([1522–1546] 1931b):

[Die geloof is ’n] lewendige, skeppende, handelend-magtige ding, [vir wie dit] onmoontlik is om sonder nalating, die goeie te bewerk nie. [Die geloof] vra ook nie of goeie werke gedoen moet word nie, aangesien dit reeds gedoen is voordat die mens die vraag daarna vra, [daarom is dit] nie moontlik nie om werke van geloof te skei nie. (bl. 9–10)

Dit gaan vir Luther nie daaroor dat gelowiges nie werke moet doen nie, maar dat werke nie geloof skep nie.

Hy sê ([1520] 2006a:98): ‘Geloof en geregtigheid spruit nie voort uit die werke nie, maar die werke spruit voort uit geloof en geregtigheid.’

In sy geskrif oor die Christelike vryheid vind ons ’n verdere besinning oor die verhouding tussen geloof en werke. Dit is vir Luther vanselfsprekend dat die Christenmens tot diensbaarheid jeens sy naaste geroep is. Hy ([1520] 2012b) voer die volgende argument:

’n Christenmens is ’n diensbare kneg en elke [ander] mens se onderdaan, en dit beteken: In soverre hy vry is, het hy nie nodig om iets te doen nie. In soverre hy kneg is, moet hy allerhande dinge doen. (bl. 298, reël 33–36)

Luther ([1520] 2012b:302, reël 13–21) argumenteer dat die ‘goeie werke’ wat ’n Christen móét doen, nie gedoen word om ‘geregtigheid te ontvang nie, maar om God te behaag.’ Die rede hoekom die werke niks moet verwag nie, is omdat die geloof alles ontvang waarop gehoop kan word – en dít is die ‘ontvangs van die paradys.’ Die gelowige is dus vrygeskeld van die dwang tot goeie werke. Nogtans moet die Christen volgens die verwagtinge van God se gebooie lewe. Hy móét goeie werke doen, uit vrye liefde, sonder die verwagting om daardeur geregverdig te word. Dit bring Luther ([1520] 2012b) uit by een van sy bekendste uitsprake oor goeie werke en menswees:

Goeie, vroom werke maak nooit van iemand ’n goeie, vroom mens nie, maar ’n goeie, vroom mens doen goeie, vroom werke. Slegte [bose] werke maak nie van iemand ’n slegte mens nie, maar ’n slegte mens doen slegte dinge. Daarom moet die persoon uit die staanspoor goed en vroom wees voordat daar aan werke gedink kan word, met die gevolg dat goeie en vroom werke [outomaties] uit die goeie persoon na vore sal kom. (bl. 302, reël 32–37)

Luther baseer sy stellings op Jesus se uitspraak in Matteus 7:17–18 oor die boom en die vrugte. Sy punt is: Om standhoudend goeie werke te doen, moet die persoon nuut en reg, met ander woorde vry gemaak word.

Dít gebeur deur die geloof. Die gelowige, of die persoon wat met vryheid beklee is, is veronderstel om goeie vrugte te lewer. Wanneer daar geen kommer oor jou posisie voor God is nie, is jy vry om diensbaar te wees aan jou naaste. Diensbaarheid is niks anders as die uitleef van die liefdesgebod nie (Luther [1520] 2012b:302, reël 38–304, 25). Liefde is vir Luther vrolike, gratis diens aan die naaste ([1520] 2012b:310, 25–35). Hierdie diens kan volgens Luther liefde genoem word wanneer dit tot die verbetering van ander se menswees lei ([1520] 2012b:312, reël 15–20). Wat is nou die punt? Die punt is dat geloof en moraliteit nie op een lyn geplaas kan word nie (ten spyte van die feit dat hulle ewe belangrik is). Iemand wat glo doen goeie werke. Daar word nie geglo sodat die regte goeie werke gedoen kan word nie. Om te beweer dat omdat jy ’n gelowige is, jy noodwendig korrekte morele oordele sal vel, is nie korrek nie. Alle moraliteit en etiek is en bly tweeduidig. Dít dra niks by tot ons regverdiging voor God nie. Die eenduidigheid van die geloof hef nie die tweeduidigheid van die moraal op nie.

Ek (Van Wyk 1996) het in die verlede oor Luther en Calvyn se modifikasies van Augustinus se ‘twee-stedeteorie’ geskryf en daarop gewys dat albei reformatore, in voortbouing op die kerkvader, kerk en wêreld asook godsdiens en politiek onderskei het. Beide, maar veral Luther, was skepties oor die politieke rol wat die kerk kon speel. Hierdie skeptisisme heers ook tans in ons land. In die algemene verkiesing van 2019 het politieke partye wat hulle as ‘Christelike partye’ voorgedoen het, minimale steun ontvang. Ten spyte van al die publisiteit oor die ‘publieke teologie’ wat aan sekere universiteite beoefen word, blyk die sekulêre belangstelling in hierdie projekte minimaal te wees. Die vraag is of kerke en teoloë nie maar eerder by Luther se verstaan van kerk en staat moet berus nie? Moet daar nie maar eerder slegs in nederigheid teenoor die regering getuig word nie, in plaas daarvan om self politiek te wil beoefen nie? Hiervoor is daar ’n klassieke voorbeeld onder Luther se geskrifte, naamlik sy vertaling en uitleg van Maria se loflied (magnificat) in Lukas 1:46–55. In hierdie geskrif gee Luther advies aan die 17-jarige Johann Friedrich (die toekomstige keurvors van Sakse, aan wie hierdie traktaat opgedra is) oor hoe ’n Christenvors veronderstel is om te regeer. Ons politici sal ook goed doen om aan die inhoud van hierdie teks aandag te gee in die lig van die grootskaalse korrupsie en belangeloosheid jeens die basiese behoeftes van die arm mense in die land.

Luther ([1521] 2012a:432–434) herinner aan Jeremia 9 wat stel dat mense nie op hulle wysheid, mag en rykdom moet roem nie, aangesien die Here eerder wil sien dat barmhartigheid, regverdigheid in regspraak en geregtigheid in die lewe sal seëvier. Hierdie eienskappe van God kan en moet in waardes vir die magspolitiek omskep word. Hierdie waardes moet die riglyne wees waarvolgens die toekomstige keurvors gaan regeer. ’n Goeie verstand en skerpsinnige nadenke is vanselfsprekend ook belangrik, maar nie die belangrikste aspekte van die regeeramp nie. Luther ([1521] 2012a:434–446) brei breedvoerig uit oor barmhartigheid. God wat barmhartig is wil hê dat sy owerhede ook barmhartig sal wees. ’n Regent kan nie goed regeer met dreigemente van straf en veroordeling nie. Barmhartigheid teenoor onderdane skep welwillendheid en vrede. ’n Belangrike element van barmhartigheid, is reg. Waar daar onreg is, kan daar nie sprake wees van barmhartigheid nie. Om met die swaard onreg te verdedig, lewer geen bydrae tot vrede nie en verhoog slegs die spanning in die samelewing. Volgens Luther is barmhartigheid ‘God se edelste werk’, en dít moet aan owerhede en onderdane voorgehou word as ideaal wat nagestreef moet word binne die gebroke werklikheid. Luther ([1521] 2012a:446–454) gee ook uitvoerige aandag aan Maria se uitspraak dat ‘die Here met sy arm die geestelik, hoogmoedige verstrooi.’ Diegene wat God nie wil eer nie en nie volgens sy wet wil lewe en regeer nie, bly nie staande nie aangesien hulle die mense is wat die armes en swakkes vertrap. Op ’n verborge manier, ruk die Here sulke mense met sy arm om en help die swakke op. Slegs die geloofsoog sien dit raak aangesien die Here se arm nie sensasioneel werk nie. Johann Friedrich (en die ander maghebbers) moet dít in gedagte hou indien hy soos ’n Christen wil regeer. En weereens stel Luther – alles kom neer op die doen van barmhartigheid in nederigheid voor God. In aansluiting hierby herinner Luther ([1521] 2012a:454–458) aan die uitspraak van Maria dat ‘die Here die magtige geweldenaars van die troon ruk en die nederiges verhoog.’ Owerhede wat skade, pyn en dood veroorsaak regeer net vir kort periodes; voordat hulle van hulle trone afgestamp word. Magmisbruikers, geweldenaars en uitbuiters word nie lank deur God geduld nie; hulle word van hulle mag ontneem en hulle slagoffers word weer opgehelp.

Luther ([1521] 2012a:476–482) sluit sy traktaat af met ’n nawoord wat aan die jeugdige Johann Friedrich gerig word. Hy waarsku hom teen hoogmoed, die neiging om God te vergeet, onbedagsaamheid, onreg en ’n gebrek aan barmhartigheid. Hy wys hom daarop dat daar talle Bybelse voorbeelde is van konings wat van hulle trone afgeruk is, en versoek hom om op die wil van God ag te slaan. Hy moet gereeld sy ‘eie hart ondersoek’ en in gebed verkeer. Hy moet nie sy eie rede volg nie, maar bid dat God sy rede sal stuur en lei. Sy voorbeeld moet ’n heenwysing wees na God se genade, barmhartigheid en geregtigheid en daarom moet Hy voor die Woord buig.

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Outeursbydrae

I.W.C.vW. was die enigeste outeur betrokke by die skryf van die artikel.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel volg alle etiese standaarde vir navorsing sonder direkte kontak met mens of dier.

Befondsing

Hierdie navorsing het geen spesifieke toekenning ontvang van enige befondsingsagentskap in die openbare, kommersiële of nie-winsgewende sektore.

Data beskikbaarheidsverklaring

Data-deling is nie van toepassing op hierdie artikel nie, aangesien geen nuwe data in hierdie studie geskep of ontleed is nie.

Vrywaring

Die sienings en menings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die outeur (s) en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde agentskap van die outeurs nie.

Literatuurverwysings

Köpf, U., 2015, Martin Luther: Der Reformator und sein Werk, Reclam Verlag, Stuttgart.

Lohse, B., 1995, Luthers Theologie in ihrer historischen Entwicklung und in ihrem systematischen Zusammenhang, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.

Luther, M., [1501–1520] 1931a, ‘Brief an Johannes Lang am 18. Mai 1517, Nr. 41’, in J.K.F. Knaake et al. (Hrsg.), D. Martin Luthers Werke, Kritische Gesamtausgabe, 1. Bd., Briefwechsel, p. 99, Hermann Böhlaus Nachfolger, Weimar.

Luther, M., [1522–1546] 1931b, ‘Vorrede aus die Epistel S. Pauli an die Römer’, in J.K.F. Knaake et al. (Hrsg.), D. Martin Luthers Werke, Kritische Gesamtausgabe, 7. Bd., Die Deutsche Bibel, pp. 3–27, Hermann Böhlaus Nachfolger, Weimar.

Luther, M., [1520] 2006a, ‘Quaestrio, utrum opera faciant ad iustificationem’, in J. Schilling (Hrsg.), Martin Luther: Lateinisch-Deutsche Studienausgabe, 2. Bd., Christusglaube und Rechtfertigung, pp. 97–99, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.

Luther, M., [1535–1537] 2006b, ‘Thesen für fünf Disputationen über Römer 3,28’, in J. Schilling (Hrsg.), Martin Luther: Lateinisch-Deutsche Studienausgabe, 2. Bd., Christusglaube und Rechtfertigung, pp. 401–441, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.

Luther, M., [1521] 2012a, ‘Das Magnificat’, in D. Korsch (Hrsg.), Martin Luther: Deutsch-Deutsche Studienausgabe, 1. Bd., Glaube und Leben, pp. 363–483, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.

Luther, M., [1520] 2012b, ‘Von der Freiheit eines Christenmenschen’, in D. Korsch (Hrsg.), Martin Luther: Deutsch-Deutsche Studienausgabe, 1. Bd., Glaube und Leben, pp. 277–315, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.

Van Wyk, I.W.C., 1996, ‘Het die kerk ’n politieke verantwoordelikheid: oor die noodwendigheid en grense van die “twee-ryke-leer”’, HTS 52(4), 765–799. https://doi.org/10.4102/hts.v52i4.1563

Van Wyk, J.H. (Amie), 2018, Augustinus: ’n Studie oor die etiek van ’n kerkvader uit Afrika, Sun Press, Bloemfontein.



Crossref Citations

No related citations found.