About the Author(s)


Piet J. Strauss Email symbol
Department of Church History and Polity, Faculty of Theology, University of the Free State, South Africa

Citation


Strauss, P.J., 2018, ‘Generaal C.R. de Wet: Die invloed van sy Christelike oortuigings op sy optrede as ’n veldheer of krygsman 1899–1902’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 74(4), a4982. https://doi.org/10.4102/hts.v74i4.4982

Original Research

Generaal C.R. de Wet: Die invloed van sy Christelike oortuigings op sy optrede as ’n veldheer of krygsman 1899–1902

Piet J. Strauss

Received: 23 Mar. 2018; Accepted: 04 June 2018; Published: 31 Oct. 2018

Copyright: © 2018. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstract

For, General C.R. de Wet, the well-known military leader of the Republic of the Orange Free State in the Anglo-Boer War of 1899–1902, this was a war undertaken in faith. As far as De Wet was concerned, his Christian faith had to determine his way of life: every decision and every action. Therefore it was also visible in his reasons for fighting and other actions in the war. De Wet cared for practical worship around the Bible and prayer with his men on commando. His Christian convictions, however, also showed in his common sense and decision-making skills on the battle field, his respect for friend and foe when in contact, and his humanity in treating soldiers. From this point of departure, De Wet undertook, from his side, a gentleman’s war. De Wet was a man of action and of deeds, and not of hesitance, which sometimes led to mistakes and tactical blunders on his side.

Inleiding en probleemstelling

In sy goed beredeneerde én gedokumenteerde doktorale studie in die 1970’s oor Generaal Christiaan de Wet as veldheer, sluit W.L. van R. (Leopoldt) Scholtz (1977) af met die volgende paragraaf:

Dit sou nie korrek wees om De Wet se optrede in die Tweede Vryheidsoorlog1 ten koste van die ander Boeregeneraals te beklemtoon nie. Genls. Louis Botha, Koos de la Rey, Jan Smuts en andere het ook hulle deel bygedra en dit ongetwyfeld baie knap gedoen. Maar De Wet het die stryd oor die hele oorlogsterrein en in besonder in die Vrystaat in so ’n mate gedomineer, dat hy nog groter roem as die ander behaal het en in ’n nog groter mate met die driejarige vryheidstryd van die Afrikaners geïdentifiseer word. Christiaan de Wet het beslis ’n groot bydrae gelewer tot ’n roemryke militêre tradisie, wat die moeite werd is om sorgvuldig te bestudeer. (bl. 519)

Sonder om kritiese kommentaar op sake soos roemryke militêre tradisie, Tweede Vryheidsoorlog en sorgvuldige studie te lewer, kan Scholtz gelyk gegee word dat die Anglo-Boereoorlog (die ABO van 1899–1902) as ’n driejarige vryheidstryd van die Afrikaner tot ’n groot mate met Christiaan de Wet geïdentifiseer word (Scholtz 2008:229).2 Daarvoor sou kennis in Suider-Afrika en Europa van sy militêre suksesse teen die Britse oormag, asook die publikasie van sy oorlogsherinneringe in Oktober 1902 (kort na die beëindiging van die ABO wat vanaf 11 Oktober 1899 tot 31 Mei 1902 sou loop) sorg. Die aanvraag vir laasgenoemde, wat onder die naam De strijd tusschen Boer en Brit uitgegee is, was so hoog dat los seksies van die werk in papieromslaggies reeds voor publikasie aan die publiek verkoop is, en die boek daarna in ses Europese tale vertaal is (Van Schoor 1976:247; 1992:139–140).3

Die ABO kan breedweg in twee fases verdeel word. Aanvanklik was dit die konvensionele fase, wat vanaf Boere-oorwinnings by plekke soos Magersfontein, Stormberg en Spioenkop sou oorloop na die Britse inname (oorname) van die hoofstede van die Republieke, naamlik Bloemfontein op 13 Maart 1900 en Pretoria op 06 Junie 1900. Daarna is die beduidend kleiner getal Boere of burgers vir ’n guerilla-oorlog geherorganiseer, wat die Britse oorlogsmasjien deur ’n tref-en-traptaktiek moes uitmergel (De Wet 1959:44–49; Scholtz 2008:45–46). Volgens Alfred Milner, die Britse Hoë kommissaris in Suid-Afrika vanaf Mei 1897, ’n ideologies-gedrewe Britse imperialis en ’n sleutelaanhitser van die ABO,4 sou die oorlog ná drie maande oor wees. Die Boere-bittereinders – met generaal De Wet – sou die ABO egter rek na 2 jaar en byna 8 maande (Schoeman 1983:38).

Hoewel die ultimatum van die Zuid-Afrikaanse Republiek (ZAR), soos ondersteun deur die Republiek van die Oranje-Vrystaat (Rep van OVS), aan Brittanje op 09 Oktober 1899 deur laasgenoemde as die casus belli [rede vir oorlog] vir die ABO aangegryp is, was die twee presidente van die Boere-republieke, Kruger en Steyn, lankal daarvan oortuig dat Brittanje die onafhanklikheid van die Republieke, sowel as die Afrikaner met sy sin vir staatkundige vryheid, wil vernietig. Die saamtrek van Britse troepe op die grense van die ZAR wat tot die ultimatum wat dit wou omkeer, gelei het, was die finale spyker in die kis. Onafhanklike Boere-republieke sou immers in die pad staan van ’n Britse paramount power of oppergesag in Suidelike Afrika met alles wat dit meebring. Voeg daarby Milner se ruiterlike erkenning aan Roberts op 06 Junie 1900 dat hy die ABO bespoedig het (Strauss 2000:98–103). De Wet self noem die aantyging dat die Republieke verantwoordelik was vir die ABO ‘niks anders as ’n skewe voorstelling van die waarheid nie’ (De Wet 1959:43).

Aan die begin van die ABO was die getal burgers wat die Republieke in die veld kon stoot ongeveer 55 000. Deur die loop van die oorlog is hierdie getal aangevul deur 2120 Wes- en Oos-Europeërs, en rofweg 13 300 Kaapse en Natalse rebelle of koloniale Afrikaners. Omdat die ABO deur die Republieke as ’n oorlog van witmense beskou is, is swart mense slegs as agterryers en vir ander hulp in diens geneem; nie as vegters nie. Deur die loop van die ABO is die getal burgers uitgedun met ongeveer 20 000 krygsgevangenes, 5464 Joiners wat aktief aan die Britse kant opgetree het, en ’n onbekende aantal Hensoppers wat uit eie oorweging eenvoudig net die wapen neergelê het. Aan die Boerekant het 3990 burgers gesneuwel en 924 weens siekte op kommando gesterf. Ongeveer 20 779 bittereinders sou die Republieke aan die einde van die oorlog in Mei 1902 ‘te velde’ verteenwoordig.

Die totale aantal troepe wat Brittanje in Suid-Afrika vir die ABO sou monster, was ongeveer 450 000. Op geen stadium was daar egter meer as 250 000 tegelykertyd in Suider-Afrika nie. Hierdie getal was ook teen die einde van die oorlog in die streek teenwoordig. Saam met Britse soldate (365 693) was daar ’n groot aantal troepe uit die res van die Britse Ryk (82 742), terwyl daar ook plaaslike swart mense (ongeveer 30 000) vir – onder meer – vegdoeleindes deur die Britte in diens geneem is. Meer as 22 000 Engelse soldate of Kakies sou weens oorlogsverwante voorvalle in die ABO omkom. Die ABO sou die Britse belastingbetaler boonop ongeveer 2 000 000 pond sterling teen destydse waarde uit die sak jaag. Die steun vir die Britse ABO-poging onder die publiek in Brittanje is benadeel deur die koste van die ABO, openbare protes in Brittanje teen die Britse verskroeide aardebeleid – wat onder andere die afbrand van 30 000 of 80% van die Boereplase om voorrade aan kommando’s af te sny en die dood van meer as 26 000 vroue en kinders in, aanvanklik, swak ingerigte konsentrasiekampe (Pakenham 1979:327vv) behels het – asook die lengte van die oorlog (Pakenham 1979:584–592; Pretorius 2001:21; Scholtz 1998:15–17). Resente navorsing toon boonop dat die sterftes van Boervroue en -kinders in die konsentrasiekampe eerder 34 051 (Raath 2012:13; Reynolds 2013:122)5 en in kampe vir swartmense (vir veral voormalige werkers op Boereplase) 20 000 beloop het (Pretorius 2001:43). Ná die ABO was soveel as 20 000 Boerewesies sonder ’n heenkome (Strauss 2015:43).

Teen hierdie agtergrond kan daar nou na generaal C.R. de Wet (1854–1922) – ten minste – as ’n beroemde veldheer (woord van Scholtz 1977) onder Afrikaners verwys word. In die Rep van OVS is De Wet beskou as ’n lid van die Vrystaatse Driemanskap in die ABO: President M.T. Steyn as die staatsman, ds J.D. Kestell as die geestelike of godsman, en generaal C.R. de Wet as die krygsman. Saam word hulle in die binnehof van die Vrouemonument in Bloemfontein begrawe as ’n teken van die hoë agting wat hulle onder Afrikaners geniet (Van Schoor 1993:4). Drie grafte wat saam ‘simbolies’ onder die tema Uw wil geschiede op die voetstuk van die vrouebeelde voor die naald van die Monument lê. ’n Driemanskap wat met die Christelike-godsdienstige inslag van die Monument geïdentifiseer het, en dit as ’n rigtinggewende grondslag beskou het vir hulle totale doen en late – ook hulle betrokkenheid by die sake van die Rep van OVS en die ABO (Strauss sa:11).

Die bekendheid van De Wet se sonderlinge militêre vermoëns in die ABO-konteks én die pasgenoemde openbare verbintenis (via die Nasionale Vrouemonument) met ’n Christelike lewensuitkyk, lei tot die navorsingsvraag wat hier gevra word: wat was die invloed van sy Christelike oortuigings op C.R. de Wet se optrede as krygsman in die ABO van 1899–1902? Of, om aan te sluit by Scholtz: wat was die invloed van sy Christelike lewensuitkyk op C.R. de Wet as veldheer in die ABO?

Gekoppel aan ’n allesomvattende Christelike uitkyk op die lewe, gaan dit nie hier net om De Wet se benadering van godsdiensoefeninge op kommando nie, maar om die invloed van sy Christelike oortuigings op ál sy ABO-verwante aktiwiteite; om die invloed van sy Christelike lewensoortuigings op godsdienstige én nie-godsdienstige sake ‘te velde’. Vanweë die omvang daarvan word die studie tot hoofsake beperk.

’n Vraag wat ook agtergrond vir De Wet se optrede op kommando vorm, is die vraag na sy geaardheid, geloof en lewensuitkyk. Die hantering hiervan word gevolg met Christelik-georiënteerde voorbeelde van sy optrede in die oorlog; voorbeelde wat sy uitlewing van ’n Christelike lewenstyl op hierdie terrein blootlê – hoe ironies en onvanpas dit ookal vir pasifiste mag klink.

De Wet: Geloof en karakter

’n Biograaf, J.D. Kestell, sluit sy werk oor Christiaan de Wet (1920) af met ’n tipering van De Wet as persoon. Wat Kestell se waarnemings belangrik maak, is die feit dat die Vrystaatse Driemanskap mekaar goed geken het, en in die oorlog van 1899–1902 van naby beleef het. ’n Belewenis waaruit hulle met respek en deernis vir mekaar en ’n erkenning van die Godgegewe lewenstaak van die ander twee gekom het (vir hulle was die vervulling van die ampte van president, hoofkommandant en predikant Godgegewe take, en die driemanskap was, elk op sy terrein, ’n leier in die Vrystaat). Boonop het hulle mekaar se diepste lewensoortuigings én sielsgebondenheid aan die Vrystaat gedeel (De Wet 1959 uit 1902; Kestell 1902; Oberholzer en Van Schoor sa.; Van Schoor 1992:114).

Kestell was sensitief vir die uitgesproke aversie by De Wet vir komplimente of vleitaal (Kestell 1920:170; Van Schoor 1992:95, 139). Hoewel sy waardering vir De Wet as volks- en krygsman deurgaans onverbloemd aanwesig was,6 wou Kestell nooit die waarheid oor De Wet – soos hyself dit vertolk het – aantas of oordryf nie. Volgens Kestell het die verbintenis van die Driemanskap op 24 Oktober 1901 ontstaan toe Steyn Kestell versoek het om hom en De Wet voortaan permanent ‘te velde’ te vergesel. Vir Kestell as ’n patriotiese Vrystater wat verknog was aan sy president, was dit ’n keerpunt in sy deelname aan die ABO: hy kon ‘nouliks’ sy trane bedwing (Van Schoor 1992:114).

Kestell (1920:255) skryf: ‘Die godsdiens het in sy [De Wet se] hart die snare die diepste en die langste laat tril … Sy volk [was] nog altyd ’n godsdienstige nasie’; een wat hy hom nie kon voorstel sonder godsdiens’ nie. Kestell beskou De Wet as:

… een van die stoere geslag wat aan die verbygaan is; maar tog is hy ’n kind van ons tyd. Dat hy in die teenwoordige kan leef, daarvan het hy sy hele lewe bewys gegee. (Kestell 1920:255)

Vir die boekgeleerde, herderlike Kestell was De Wet die ongekunstelde man van die vlaktes wat die godsdiens, sedes en aspirasies van die Voortrekkers uitleef. Sy ‘nasionale bewustheid’ was gewortel in dieselfde dieptes as dié van President M.T. Steyn, met wie De Wet ’n ‘innige band’ van vriendskap en ’n diepe verstandhouding gehad het (Kestell 1920:245). Volgens eie bekentenis het Kestell die president liefgehad, maar die generaal gevrees. De Wet het hom gehipnotiseer. Hy vervolg:

Ik vroeg mijzelven af, aan zijn zijde rijdende, wat het geheim van zijn kracht was en het scheen mij dat het daarin lag dat, terwijl hij met een ieder vriendelijk was, was hij met niemand intiem. Dan, zooals alle groote leiders, is hij zoo geheimzinnig als de Sfinx. (Kestell 1902:99–100; Van Schoor 1992:97).

In ’n lewenskets van De Wet praat Van Schoor van ’n ‘diepe vroomheid en ’n oorheersende toon van gematigdheid’ wat De Wet se laaste jare sou kenmerk. Sy burgers in die ABO het hom gerespekteer en dikwels blindelings gevolg. Voorbeelde van De Wet se godsdiensbeoefening tydens die ABO is die aanroeping van die Here voor sy aanvaarding van die rang van veggeneraal op 09 Desember 1899 in Natal, sy gereelde voorvat by Boekevat op kommando,7 en sy voorbidding vir sy ryperd, Fleur. Volgens sy adjudant, Lukas Coetzer, het hy nooit ’n lelike of vloekwoord uit die mond van generaal De Wet gehoor nie (Kestell 1920:53; Van Schoor 1954:7; Van Schoor et al. 1954:88). De Wet kon agterna ook ‘sy’ besondere teks by sy ‘voorstelling’ (as lidmaat?) onthou. Die teks wat ds Kestell hom gegee het: Zalig zijn de dienstknechten, welke de Here, als hy komt, zal wakende vinden (Kestell 1920:10). Belangrike geloofsdetail het hom bygebly. Daarby bid De Wet ook dat die Here, in plaas van om soos in die tyd van Josua van ouds die dag te verleng, die dag moet verkort toe sy burgers met ’n inval in die Kaapkolonie op 20 Februarie 1901 teen die Oranjerivier vasgedruk word (Kestell 1920:115).

De Wet se burgers het egter ook sy toorn gevrees wat so maklik deur ’n bewuste of onbewuste ontrou of ongehoorsaamheid kon ontvlam. Sy afdwing van ’n harde, ongenadigde dissipline het hom nie ‘altyd’ ’n maklike mens gemaak nie. De Wet het ’n innerlike onversteurbaarheid gepaar met ’n rusteloosheid vir aksie – vir die daad. Hy was eerder ’n man van die daad as van die woord. Een van De Wet se verkenners, Barry du Plesssis, stel dit so: ‘By die Vrystaters was dit altyd: “Wat sal President [Steyn] sê?” En “Wat sal Generaal [De Wet] maak?” Laasgenoemde was ’n man van die daad’ (Van Schoor et al. 1954:62).

De Wet kon egter sy beginsels en oortuigings helder, skerpsinnig, kernagtig en uit sy hart stel sodat dit sy hoorders geboei het, al het hy met sy tong gesleep (Scholtz 1977:496; Van Schoor 1976:244–249). Met verwysing na De Wet as ’n veldheer in ’n guerilla-opset, noem Scholtz hom ’n dinamiese en kragtige leier, ’n skerpsinnige taktikus met goeie strategiese insigte én ’n skitterende vermoë om die vyand te mislei, maar dikwels onaf en haastig in sy reaksies en praktiese uitvoering van strategie. Teen die agtergrond van sy gebrek aan formele militêre opleiding, was hy egter ’n merkwaardige veldheer, gemeet aan die vereistes vir ’n guerilla-aanvoerder (Kestell 1920:185; Scholtz 1977:500, 503, 515).8 Hy kon met min slaap klaarkom, en het as ’n leier wat te perd en te voet tref en trap, besondere uithouvermoë getoon (Kestell 1920:13). Wat dit moeilik maak om De Wet as veldheer te evalueer, is die feit dat hy min op papier gesit of opgeskryf het (Scholtz 1977:501).

Die Duitser, Oskar Hintrager, wat saam met De Wet geveg het, gee sy indrukke van die Boeregeneraal. Volgens hom kon De Wet moeilike maar belangrike begrippe geduldig – tot vier of vyf maal – vir sy burgers verduidelik én hulle aanspoor tot die daad. Daarby het hy die kuns verstaan om hulle met ’n klein bietjie lis te brengen waar hij ze hebben wil. Hy kon Hensoppers oorhaal om weer te veg en hulle saam met hom neem. Vir Hintrager is hy die Washington van Suid-Afrika (skrywe woordeliks in Van Schoor et al. 1954:51).

’n Teenstander, A.M.S. Methuen, noem De Wet ’n dapper soldaat én ’n menslike en waardige heer. Die Kakies het tevergeefs probeer om De Wet uit die pad te kry, en het selfrespek verloor deur hom te belaster (opmerkings woordeliks in Van Schoor et al. 1954:50).

Om op te som: as veldheer was C.R. de Wet diep godsdienstig met ’n Bybelsomvattende lewensuitkyk. Hy was ’n geestelike erfgenaam van die Voortrekkers van 1835–1840, en dus die godsdienstige tradisie van die oude schrijvers van die Nadere Reformasie wie boeke saam met die Nederlandse Statebybel van 1637 in die wakis meegeneem is (Strauss sa:15–16, 1994:38–45). Tydens die Boereleiers se bespreking van ’n moontlike vrede in die ABO, sê De Wet op 16 Mei 1902 te Vereeniging:

De oorlog is eene geloofzaak. Als ik dit niet in het geloof had kunnen doen, zou ik nooit de wapens hebben opgenomen. Laten wij weer ons verbond met God vast maken … De geheele oorlog is een mirakel geweest en zonder geloof zou het kinderspel geweest zijn, den oorlog te beginnen. (rede woordeliks in Van Schoor et al. 1954:75; vgl. Kestell 1920:120)

De Wet het die ABO vanuit sy lewensgerigte geloofsuitkyk en God se begeleidende genadeverbond met die gelowiges benader en kon aan die einde daarvan ook bely: Uw wil geschiede. Daarom onderwerp hy hom aan die meerderheid by Vereeniging wat teen 31 Mei 1902 tot die slotsom kom dat dit nou die ‘bittereinde’ of afsluiting van die ABO vir die Republieke is. Kestell, wat as ’n notulehouer van die vredesamesprekings opgetree het, beskryf dit só:

Ek sien hom nog, die onbuigbare man, met sy deurdringende oë, sy sterke mond en ken – ek sien hom nog daar, soos ’n leeu in ’n hinderlaag vasgekeer. Hy wil nie, hy kan nie, maar hy moet die stryd opgee. (Kestell 1920:143)

De Wet self skryf dat die eerste kommando wat hy die wapen sien neerlê het, dit naby Vredefort gedoen het. Vir hom en elke burger was dit onbeskryflik om ‘ons onskatbare onafhanklikheid’ te moet prysgee. Wat hy by die sterfbed van familielede ervaar het, ‘was nie vergelykbaar met my ervarings waar ek die begrafnis van my volk moes aanskou nie’ (De Wet 1959:229; vgl. Van Schoor sa:23).

Die vraag is: hoe het De Wet sy Christelike lewensuitkyk op kommando of ‘te velde’ toegepas? Hoe het sy Christelike oortuigings sy optrede as veldheer of krygsman beïnvloed?

De Wet regverdig die Republikeinse oorlogspoging

Daar is reeds op De Wet se belydenis van geloof in die God van die Bybel gewys; ’n vertrekpunt vir die lewe wat, wat De Wet betref, elke saak onder die son moes bepaal. By die begrafnis van President S.J.P. Kruger op 16 Desember 1904 in Pretoria, ontval die volgende woorde die Vrystaatse krygsman oor die laaste president van die ZAR: ‘Trap in die voetstappe van die man wat ons vandag gaan begraaf … Ons moet op God vertrou … Hy [Kruger] het die baan gebreek vir die Afrikaanse volk’ (woorde by Van Schoor, Malan & Oberholzer 1954:116). Kruger was ’n erkende gereformeerde, Doppervoorman en Boere-Calvinis (Du Plessis 1952:22, 36, 125; Strauss 2008:159).

Reeds in die voorwoord van sy De strijd tuschen Boer en Brit, praat De Wet van die geskiedenis van die ABO ‘waarin een klein Volk voor vrijheid en recht streed’ (De Wet 1959:voorwoord). Hiermee sluit hy aan by, soos hy hom noem, sy geestelike vader, M.T. Steyn9 (Van Schoor sa:17; vgl. De Wet by die graf van Steyn in 1916, Van Schoor et al. 1954:144). Steyn het die ABO beskou as ’n oorlog waarin die twee Boere-republieke hulself uit noodweer moes verdedig teenoor die aggressiewe imperialisme van die Britse Ryk.10 ’n Oorlog waarin die Republieke, kragtens die volkereg, voor God ’n regverdige saak het omdat Brittanje, aldus Steyn, hom nie hou by sy verdrae (of sy erewoord) met die ZAR (1852 en 1884) en die Rep van OVS (1854) nie (OVS Volksraadnotule 22:09:1899; 23).11 Vryheid en reg is ook die norm wat De Wet in 1914 tydens die Rebellie teen die Suid-Afrikaanse Regering vir hulle inval in Duitswes-Afrika (tans Namibië) gebruik: ‘Om ons land te verdedig sal ek klaar wees om oorlog te voer; maar om aan te val, dien ek nie. Ek sal alleen my regte verdedig’ (woordeliks by Kestell 1920:187; vgl. Steyn wat dieselfde beginsel in 1896 voor die Vrystaatse Volksraad verdedig, Van Schoor 1997:30).

Op 20 Maart 1900, tydens ’n Vrystaatse krygsraad op Kroonstad ná die Britse inname van Bloemfontein, moedig De Wet sy burgers opnuut aan. Volgens hom het die Vrystaat van die begin af geweet dat die Republieke ’n opdraande stryd teen die magtige Brittanje sal voer. Die gevoel dat ’n man geen man is as hy nie sy goeie reg verdedig nie, het egter oorheers. Hoewel die Afrikaner nie op krygsdissipline ingestel is nie, lê die onafhanklikheidsgedagte diep in hom gewortel. Later wys hy op ’n Engelsman van geboorte, ’n sekere Thring van Kroonstad, wat ook die swaard vir die goeie reg van die Rep van OVS getrek het (De Wet 1959:47, 67).

Wat by De Wet as ’n Afrikaner en republikein voorop staan, is die ‘regvaardigheid- en vryheidsin van die Voortrekkers’ (Van Schoor et al. 1954:19, 65). Die moderator van die Vrystaatse Nederduitsch Gereformeerde Kerk, ds P.S. van Heerden, vat raak as hy by die graf van De Wet in 1922 sê:

Die oortuiging dat sy weg die eervolle weg was en sy saak regverdig, het hom besiel met moed wat geen moeilikheid gesien het en wat oor elke hinderpaal geseëvier het. (Van Schoor et al. 1954:160)

Naas die oortuiging dat hulle die ABO voer vir die vryheid en reg van die Boere-republieke, glo De Wet dat kinders van God met só iets in die voorsienige en beskikkende hand van God is. Daarom ook sy en ander Boereleiers se oortuiging, geïnisieer deur Steyn, op die Vrouemonument: Uw wil geschiede. Steyn praat ook namens De Wet as hy in 1913 by die onthulling van die monument sê: ‘Mag die Afrikaners uit die ABO kom om sonder enige verwyt, wrewel of haat - daar wij de diepe wijsheid van de Almachtige niet kunnen peilen – hulle hoofde nederig buig en ootmoedig te sê: Vader, Uw wil geschiede’ (by die onthulling van die Vrouemonument op 16 Desember 1913, toespraak in Van der Merwe 1921II:173). Waarom die Here sekere dinge beskik, is nie altyd vir die gelowiges duidelik nie. Maar dat God alleen wys en goed is en dat alles volgens sy beskikking gebeur, aanvaar hulle met ’n hartlike, vaste vertroue (vgl. die Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 13 oor die voorsienigheid van God, NGK 1982:16).

Hierdie geloof in die voorsienige God wat beter weet, bly De Wet in die ABO by.

De Wet, oorlog en voorsiening deur God van wat moontlik is

Dat die Here in sy genadige voorsienigheid die gelowige Afrikaner in sy verbond insluit, blyk ook uit sommige opvattinge waarvan die generaal te blyke gee. Sy aanvanklike verblyf in Natal tydens die Boerebeleg van Ladysmith in die eerste maande van die ABO, herinner De Wet aan sy geestelike band met die Voortrekkers wat in dieselfde geweste was in die 1830’s. Hulle wat in Februarie 1838 en later moes ly onder die nagaanvalle van Zoeloes, maar deur volharding baanbrekers was in die vestiging van die ‘Christelike’ beskawing in die binneland van Suid-Afrika. God sou in sy voorsienigheid deur sy verbond van genade hiervoor sorg (De Wet 1959:17).

De Wet sien God se voorsienige wil ook in die oorgawe van generaal Piet Cronje met ’n paar duisend burgers en etlike vrouelaers by Paardeberg op Majubadag, 27 Februarie 1900. Dit was ’n onbegryplike, gevoelige slag vir die Boere omdat De Wet vir Cronje ’n pad oopgeskiet het, maar laasgenoemde wou nie sonder sy laer en die vroue uit die Britse se omsingeling ontkom nie. ’n Gevoelige slag wat Bloemfontein oopgelaat het vir oorname deur die Britte:

Dit kan wees dat dit die doel van God was, wat die lotgevalle van elke volk op aarde beskik, om die bitter kelk te skink wat ons daar moes ledig; maar dit doen nog niks af aan die feit dat genl Cronje se gedrag onverskoonbaar was nie. (De Wet 1959:39)

Wat vir De Wet wel positief uit hierdie gebeure was, was die bewys gelewer dat loopgrawe en skanse met vrouelaers op die agtergrond die kleiner getal Boere se broodnodige behoefte aan beweeglikheid aan bande lê (De Wet 1959:23). Drie weke later, op 17 Maart 1900 op Kroonstad, sou die Rep van OVS deur sy krygsraad op aandrang van De Wet kies vir ’n tref-en-trap- of gureilla-oorlog (Breytenbach 1983:159).12 Nog tydens die gevegte rondom Paardeberg toon De Wet sy geloof in God se voorsienigheid as hy erken dat hy net kan doen wat uit ’n verkenning van die gevegsterrein menslik moontlik is. Hy sal iets probeer – tensy dit ‘vir my heeltemal onmoontlik gemaak word’ (De Wet 1959:29). Die mens wik, maar God voorsien en beskik.

Dieselfde oorweging gee waarskynlik die deurslag as hoofkommandant De Wet, ná die inname van Bloemfontein as die hoofstad van die Rep van OVS op 13 Maart 1900, aan sy gedemoraliseerde burgers tot 25 Maart verlof gee om huis toe te gaan ‘om tot verhaal te kom’. Op 25 Maart moes almal weer by die spoorwegbrug oor die Sandrivier wees. Die kommandant-generaal van die ZAR, die ou Piet Joubert, was hieroor hoogs ontevrede: ‘Moet die Engelse toegelaat word om te doen wat hulle wil?’ De Wet sou egter besluite neem na aanleiding van wat moontlik is: sy burgers was geestelik en fisiek moeg en willoos, én Roberts en die Britse leer sou eers rus in Bloemfontein. Daarby wou De Wet eerder 10 burgers wat wil veg hê as ’n 100 onwilliges. Só sou De Wet, die strateeg, nuwe lewe in die Vrystaatse oorlogspoging blaas deur te doen wat binne sy verwysingsraamwerk moontlik is (De Wet 1959:46–47).

Tog sou De Wet ook ’n bittereinder word in die ABO as ’n oorlog wat hy in die geloof aangepak het. Vanuit die geloof het hy dikwels dít wat onmoontlik lyk, moontlik gemaak: het hy dit wat moontlik is, gerek en verbreed. Vanuit sy bittereinderstandpunt as, ten diepste, ’n saak van geloof, wou hy ook by die Vrede van Vereeniging in Mei 1902 verby die ‘feit’ of realiteit kyk dat die bittere einde vir baie Boere aangebreek het en hulle die stryd nie langer kan voortsit nie. Sy houding hier was: ‘Het was een geloofsoorlog. Hij had met een feit te doen dan alleen, als hij het uit zijn weg moest ruimen’. De Wet wou die ABO voortsit en die Vrystaters by die beraad het hom met ’n meerderheid gesteun. Tog het selfs dit wat rekbaar moontlik is, hom hier ingehaal. President Steyn kon die gesprekke nie voortsit nie omdat sy siekte ’n ernstige wending geneem het en hy die beraad moes verlaat. Gevolglik moes De Wet – met meer verantwoordelikheid – as staatspresident van die Rep van OVS waarneem. De Wet wou nie die eenheid van die Boere-afgevaardigdes namens die meer as 20 000 bittereinders verbreek nie. Dit sou hulle saak ’n nekslag toedien. Daarby het generaal De la Rey uit die ZAR baie koppe geswaai toe hy uitgeroep het:

Vechten tot het bittere einde? Zegt gij dat? Maar is het bittere einde niet nu gekomen? … Gij spreekt van geloof – wat is geloof? Heere Uw wil, niet mijn wil geschiede. Ik vernietig mij onder Gods wil! (Kestell 1902:253)

Volgens Kestell het hierdie woorde gesorg vir ’n wending op die beraad. Die lippe van stoere bittereinders het gebewe. Met trane in sommige oë is daar besluit op vrede met die Britte én op eendrag in die proses (Kestell 1902:253–254, 276–277 – Kestell was ’n notulehouer van die vergadering). Giliomee beweer dat die blote feit van ’n beraad of gesprek oor vrede op hierdie stadium sou verseker dat die Vrede van Vereeniging ’n realiteit word (Giliomee 2003:260).13

Uit ’n Christelike oogpunt word die maatstaf van dit wat moontlik is in oorlogstrategie gekoppel aan ’n gewettigde common sense, ’n norm in die Skotse Presbiterianisme. Selfverdediging deur fisieke wapens as die laaste uitweg uit ’n interstaatlike probleem, as ’n abnormale situasie, moet bly rekening hou met die realisering van aanvaarde Christelike beginsels in gemeenskappe. Normale Christelike gedrag kan hoogstens tydelik vervang word met antinormatiewe optrede en common sense oor dit wat jy moontlik kan wen in ’n abnormale situasie. ’n Abnormale of antinormatiewe situasie wat so gou moontlik (weer die moontlike) weer by die normale Christelike lewe moet uitkom.

Die verlening van twee weke verlof aan sy burgers in Maart 1900 wys ’n kant van De Wet wat nie altyd belig word nie: sy medemenslikheid en begrip vir die werking van die Afrikanergemoed, in sy destydse landelike, indiwidualisties-demokratiese konteks. ’n Christelik-gebalanseerde veldheer het immers te make met die raakvat van die taak, die indiwidue en die burgers as ’n eenheid waaroor hy bevel voer, om suksesvol te wees. Sonder militêre opleiding het De Wet hiervoor ’n natuurlike aanvoeling getoon. In dié verband is daar reeds gewys op Methuen se waarneming dat De Wet ’n menslike, ware heer is.

De Wet en medemenslikheid of respek vir ander tydens oorlog

Sekere konvensies of gedragskodes wat daarvan ’n gentlemans’s war kon maak, is in die ABO as ongeskrewe reëls beproef. Een daarvan was die opsteek van ’n wit vlag tydens ’n skermutseling of geveg, wat beteken het dat die vlagdraer en sy mense oorgee en vuur gestaak word. ’n Oorgawe wat lei tot krygsgevangenes op wie daar nie geskiet word nie. Die voorstel vir só ’n oorgawe kon ook met ’n boodskap (brief) plus ’n wit vlag, van die waarskynlike wenners aan die waarskynlike verloorders, gerig word. Ná die ontvangs van die boodskap, is die boodskapper toegelaat om ongeskonde by sy mense terug te kom. Die kwessie van jy gee jou woord en bly daarby – ’n stille verstandhouding – was die geheim van die sukses van hierdie reëling.

Uit De Wet se persoonlike reaksie op sulke aksies, blyk sy gewilligheid om daaraan gehoor te gee. Die Britte het – tot sy groot argwaan – hierdie reëling egter somtyds misbruik. ’n Wit vlag is opgesteek en dan is daar op niksvermoedende Boere gevuur voordat die oorgawe of doel van die wit vlag in werking getree en eerbiedig is. In skerp taal keur De Wet in sy De strijd twee sulke gevalle in 1900 af (De Wet 1959:58–59).

Nog ’n ongeskrewe reël waaroor De Wet baie sterk gevoel het, was dat Koloniale Afrikaners uit Natal en die Kaapkolonie (koloniale Boere) hulle nie as huursoldate aan die Britte teen die Republieke verhuur nie. Die standaardloon daarvoor was 5 sjielings per dag. Hulle moes en kon - aldus De Wet – liewer neutraal of buite die ABO bly: ‘sulkes was daar ongelukkig sedert die begin toe Kaïn sy broer Abel doodgeslaan het. Kaïn het snel en onverbiddelik sy loon gekry’ (De Wet 1959:61). Met hierdie Ou Testamentiese toepassing op Christen-Afrikaners, het De Wet waarskynlik die gewildheid van die Boerebittereinders na die ABO in die Suid-Afrikaanse politiek gestimuleer. ’n Gewildheid wat gekoppel is aan ’n beleid van Suid-Afrika Eerste met Brittanje na die agtergrond geskuif (vgl. die woorde van bittereinder J.B.M. Hertzog in 1912; Giliomee 2012:281).

De Wet betreur die dood van ‘baie gewonde Engelse’ in ’n verspreidende veldbrand naby Senekal in die winter van 1900. Die Kakies het hulpeloos in hulle stellings gelê. Hulle kon nie gered word nie, sodat die ‘arme’ soldate ’n treurige einde in die vuur gevind het. Hierdie ‘abnormale’ sterftes in ’n oorlogsituasie het De Wet ontstem (De Wet 1959:64). Hy, as ’n egte veldheer, wou die Engelse liewer op ’n normale, ooreengekome manier beveg. Sy menslikheid en redelikheid sorg op 07 Junie 1900 dat die Boere hulle buit ná hulle oorname van ’n swaar gelaaide Engelse trein by Rooiwal met hulle Engelse krygsgevangenes deel. Daar was soveel voorraad dat die Britte hulself ook kon help nadat die Boere die terrein aan hulle oorgegee het. Die Kakies kon hulle persoonlike besittings behou, maar op Engelse leervoorrade – Engelse staatsbesit – kon almal beslag lê. Die ABO was – ook vir De Wet – immers ’n stryd tussen state, en die Britse staat of koninkryk die vyand (De Wet 1959:76–77)!

Ná sy suksesvolle slag by Groenkop (daarna Krismiskop) op 24 Desember 1901, gee De Wet opdrag dat die burgers die gewonde Engelse met die oog op verpleging in tente gaan neerlê. Weer handhaaf hy die reël van ’n veldheer: as die slag gelewer en die wit vlag gehys is, is daar vrede en menslikheid. Wat meer is: as jy ’n Kakie wat reeds oorgegee het, doodskiet, is dit moord (De Wet 1959:200).

Naas sy felle veroordeling van Roberts en Kitchener se verskroeide aardebeleid om die Republieke onherbergsaam vir die kommando’s te maak en die Boervrou en -kind in konsentrasiekampe in te hok, raak De Wet wrewelrig as hy oor Britse pogings om trekkende vrouelaers met kanonne en klein gewere te stop, praat. Vir hom is hierdie verhale van die oorlog teen die vroue ‘skandelike geskiedenis’ (De Wet 1959:139–140). Later sê De Wet (1959):

Oral in die Staat was vroue angstig voortvlugtend voor die Engelse uit, en hul angs is vertiendubbel toe hulle die tyding ontvang van hoe menige vrou en kind ’n vroeë graf in die kampe gevind het. (bl. 199)

Die oorlog teen die vroue het De Wet teen die bors gestuit. Dit was direk in stryd met die waardes van ’n egte veldheer.

Die Britse verbranding van 30 000 Boereplase met feitlik al die besittings van die bewoners en die wegvoer van vrou en kind, vind volgens De Wet ’n teenvoeter in die Boere se ‘uitskut’ van gevange Engelse troepe en die afneem van hulle klere, wapens en ander voorrade (Kestell 1902:119).

By die onthulling van die Vrouemonument in 1913, praat De Wet ook met die vroue en kinders:

’n Volk kan alleen opgebou word word deur die vrou, en kan alleen ’n volk word wanneer die kinders opgebou word volgens die tradisies van die voorgeslag … Het die Afrikaanse volk nie voortgespruit ook uit die vrome Hugenote … nie? (woordeliks opgeneem in Kestell 1920:171)

Slot

Daar is aangetoon dat generaal C.R. De Wet in 1922 as deel van die Vrystaatse Driemanskap in die binnehof van die Vrouemonument begrawe is. By die herdenking van sy geboortedag ’n honderd jaar later, op 07 Oktober 1954, is die brons ruiterstandbeeld van De Wet deur beeldhouer Coert Steynberg voor die vyfde Raadsaal van die Rep van OVS in Bloemfontein onthul (Van Schoor 1976:250). Ruiter en perd is hier – tipies van De Wet – gereed om tot aksie oor te gaan.

Generaal De Wet, soos hy in die volksmond bekend is, was ’n belydende Christengelowige. ’n Geloof wat hy lewensomvattend wou waar maak. Vir hom was die Boere se toetrede tot die ABO ’n saak van geloof: dit was immers twee klein Boere-republiekies teen die grote Brittanje as ’n wêreldmoondheid. Vanuit hierdie geloofshouding, het De Wet die Boere se oorlogspoging geregverdig én sy eie optrede as ’n egte veldheer bepaal. ’n Optrede wat deur ’n vyand beskryf is as dié van ’n dapper soldaat en ’n menslike, waardige heer. De Wet het sy Christelike oortuigings betoon in praktiese godsdiensoefening, en in sy bevele en optrede op kommando. Aan die een kant was hy ’n aksievolle militêre strateeg en vreeslose aanvoerder wat die oorlog, gebaseer op ’n ‘common sense’ suksesvol wou bedryf. ’n Leier wat soms ongenaakbaar streng in sy dissipline in ’n tipiese volksleer was, waarin elke burger daaraan gewoond was om baas op sy eie plaas te wees en self op sy doen en late te besluit. Aan die ander kant was hy medemenslik met respek vir ander – vriend en vyand. Sy selfdissipline en medemenslikheid het op hulle beurt respek by ander afgedwing én daartoe bygedra dat De Wet hom gehou het by die reëls van ’n gentleman’s war. De Wet kon sy normale Christelik-georiënteerde oortuigings waar maak in die abnormale situasie van ’n oorlog.

Sy geloofsgemotiveerde en strategiese optrede het vergoed vir De Wet se gebrek aan amptelike militêre opleiding. Sy aksie-georiënteerde persoonlikheid, haas en gebrek aan opleiding het soms egter veroorsaak dat hy oordeelsfoute of ’n gebrek aan noukeurigheid in die uitvoer van sy opdragte deur burgers, gemis het. As veldheer was De Wet Christelik-georiënteerd en selfstandig in sy doen en late.

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

Literatuurverwysings

Breytenbach, J.H., 1983, Die geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog in Suid-Afrika 1899-1902. Deel V, Staatsdrukker, Pretoria.

De Wet, C.R., 1959, Die stryd tussen Boer en Brit, in Afrikaans vertaal deur J.J. Human, Tafelberg, Kaapstad.

Du Plessis, J.S., 1952, President Kruger aan die woord, Sacum, Bloemfontein.

Giliomee, H., 2003, The Afrikaners, Tafelberg, Kaapstad.

Giliomee, H., 2012, ‘Afrikanernasionalisme 1902–1924’, in F. Pretorius (red.)’, Geskiedenis van Suid-Afrika – Van voortye tot vandag, bl. 275–292, Tafelberg, Kaapstad.

Gronum, M.A., 1972, Die Engelse oorlog 1899–1902, Tafelberg, Kaapstad.

Kestell, J.D., 1902, Met de Boeren-commando’s, Höveker en Wormser, Amsterdam.

Kestell, J.D., 1920, Christiaan de Wet. ’n Lewensbeskrywing, Nasionale Pers, Kaapstad.

Loe, E., 1985, To the bitter end, Butler and Tanner, London.

Oberholzer, J.J. & Van Schoor, M.C.E., sa., President Steyn aan die woord, Sacum, Bloemfontein.

OVS Volksraadsnotules 1899, Vrystaatse Argiefbewaarplek, Bloemfontein.

Pakenham, T., 1979, Die Boere-oorlog, Jonathan Ball, Johannesburg.

Pretorius, F. (red.), 2001, Verskroeide aarde, Human en Rousseau, Kaapstad.

Raath, A.W.G., 2012, Onthou, Kraal, Brandfort.

Reynolds, C., 2013, Konsentrasiekampsterftes gedurende die Anglo-Boereoolog 1899–1902, FAK, Brandfort.

Rosenthal, E., sa. General De Wet, Central News Agency, Sl.

Schoeman, K., 1983, In liefde en trou, Human en Rousseau, Kaapstad.

Scholtz, G.D., 1998, Die Tweede Vryheidsoorlog 1899–1902, Protea, Pretoria.

Scholtz, W.L. von R., 1977, Generaal Christiaan de Wet as veldheer, Sl:sn.

Scholtz, W.L. von R., 2008, ‘De Wet, Christiaan Roedolf’, in F. Gaum (red.), Christelike Kernensiklopedie, pp. 229, Lux Verbi BM, Wellington.

Strauss, P.J., 1994, Geloftedag in die ‘nuwe’ Suid-Afrika, Druforma, Bloemfontein.

Strauss, P.J., 2000, ‘Volksbande of etiese gronde? Kaleidoskoop 2000’, Acta Theologica supplementum 1, 94–116.

Strauss, P.J., 2008, ‘Calvyn, Johannes’, in F. Gaum (red.), Christelike Kernensiklopedie, bl. 157–159, Lux VerbiBM, Wellington.

Strauss, P.J., 2015, Gereformeerdes onder die Suiderkruis 1652–2011, Sunmedia, Bloemfontein.

Strauss, P.J., sa., Uitdrukkings op die Nasionale Vrouemonument geweeg, Druforma, Bloemfontein.

Van der Merwe, N.J., 1921 II., Marthinus Theunis Steyn, Nasionale Pers, Kaapstad.

Van Schoor, M.C.E., 1976, ‘De Wet Christiaan Rudolph’, Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek I, bl. 243–250, Tafelberg, Kaapstad.

Van Schoor, M.C.E., 1992, John Daniel Kestell, Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, Bloemfontein.

Van Schoor, M.C.E., 1993, Die Nasionale Vrouemonument, Oorlogsmuseum van die Boerepublieke, Bloemfontein.

Van Schoor, M.C.E., 1997, ’n Bittereinder aan die woord, Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, Bloemfontein.

Van Schoor, M.C.E., sa. De Wet en sy verkenners, SAUK, Johannesburg.

Van Schoor, M.C.E., Malan, S.I. & Oberholzer, J.J., 1954, Christiaan Rudolph De Wet 1854–1922, Nasionale Vrouemonumentkommissie, Bloemfontein.

Footnotes

1. Hierdie artikel het nie ten doel om ’n bydrae tot die debat oor die naam van die Anglo-Boereoorlog (ABO 1899–1902) te lewer nie. Daarom word Scholtz se keuse vir Tweede Vryheidsoorlog sonder kommentaar weergegee. Genoeg om te sê dat Brittanje aan die een kant, en die Zuid-Afrikaanse Republiek (ZAR) en die Republiek van die Oranje-Vrystaat (Rep van OVS) aan die ander kant hierdie oorlog as state effektief op 11 Oktober 1899 begin en op 31 Mei 1902 beëindig het. Indiwidue anders as burgers van hierdie state wat aan die oorlog deelgeneem het of daarby betrek is, verander nie aan die staatsgeoriënteerde aard of beginsel daarvan nie. Afhangende van die woordvoerder se keuse van die posisie van die partye verantwoordelik, die gevegsterrein en die indiwidue betrokke, word verskillende name vir dié oorlog gebruik: die Boereoorlog (Loe 1985; Pakenham 1979), die Engelse Oorlog (Gronum 1972), die Tweede Vryheidsoorlog (Scholtz 1998), die Anglo-Suid-Afrikaanse Oorlog, en die Suid-Afrikaanse Oorlog (Strauss 2000:95). Anglo-Boereoorlog of ABO getuig meer van die staatsgeoriënteerde aard van hierdie oorlog en is boonop ingeburger – ‘inburger’ wat ook ’n term met ’n staatsagtergrond is. Dit gaan hier immers om die Anglo-Saksiese Brittanje en die Boere-republieke van daardie tyd.

2. By die graf van De Wet in 1922 verwys generaal J.C. Smuts na hom as ’n wêreldfiguur. ’n Figuur wat deur sy optrede in die ABO wêreldwye bekendheid verwerf het (Van Schoor, Malan & Oberholzer 1954:149).

3. De Wet se oorlogsherinneringe beleef ook ’n Afrikaanse vertaling deur J.J. Human wat byna 60 jaar ná die einde van die ABO in 1959 deur Tafelberg in Kaapstad uitgegee word; vgl. De Wet 1959.

4. Op 06 Junie 1900 skryf Milner aan Roberts: ‘I precipitated the crisis, which was inevitable, before it was too late’ (Pakenham 1979:xvii). Daarom dat Pakenham die ABO in die opskrif van sy deel I betitel met Milner se oorlog (Milner’s war) (Pakenham 1979).

5. By die onthulling van die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein op 16 Desember 1913 was die getal bekend as 26 370 (Van Schoor 1993:2).

6. Kestell het met sy Met de Boeren-Commando’s van 1902 teruggestaan vir De Wet se De Strijd tuschen Boer en Brit in dieselfde jaar en boonop die krygsman se boek geredigeer om dit persklaar te kry. Die uitgewer van beide, naamlik Wormser in Amsterdam, wou dat die generaal se herinneringe om verkoopsredes dié van die veldprediker voorgaan (Kestell 1902:voorwoord; Van Schoor 1992:139). Van De Wet as skrywer sê die herder en geestelike voorganger, J.D. Kestell, dat die generaal kort en pittig skrywe soos dit van ’n krygsman verwag kan word. De Wet wissel sy aangebore hoflikheid af met sprankies humor. Die klop van sy ‘groot hart’ word op vele bladsye gehoor as hy skryf van ’n burger wat hom ontval het of sy verontwaardiging lug oor die lyding van vrou en kind in die oorlog. ‘En onder alles lê daar, diep en breed, die sterke fondament van sy vaste geloof in God, van sy kinderlike berusting in sy wil’ (Kestell 1920:150–151).

7. De Wet verklaar op 16 Desember 1913 by die onthulling van die Vrouemonument dat Psalms en Gesange in die Hugenote-tradisie dikwels in die konsentrasiekampe gehoor is (Van Schoor et al. 1954:123).

8. Scholtz toets 24 gevegte van De Wet aan 6 taktiese faktore, nl. verrassing, konsentrasie, kontrole, eenvoud, snelheid en inisiatief. By 5 van hierdie faktore vaar De Wet bogemiddeld (Scholtz 1977:500).

9. Woordeliks uit De Wet se toespraak soos by Steyn se graf op 03 Desember 1916 (Van Schoor et al. 1954:144; Kestell 1920:247).

10. Steyn herhaal die kwessie van selfverdediging in ’n openbare brief te velde by De Wet op 15 Augustus 1901, waarin hy antwoord op ’n proklamasie van Kitchener, die Britse opperbevelhebber, op 07 Augustus dat die Boere moet oorgee. Nadat Steyn die geweldadige imperialisme (‘schandelijk geweld’) van die Britte as oorsaak vir die ABO nogeens met voorbeelde uitgewys het, verklaar hy: Ons het allleen in selfverdediging gehandel - een van die heilige regte van die mens - ten einde ons bestaansreg te handhaaf. Daarom meen ek ook met alle eerbied dat ons reg het om op ’n regverdige God te kan vertrou (De Wet 1959:282). Hiermee sou De Wet hom volkome vereenselwig.

11. In sy oorlogsproklamasie van 11 Oktober 1899, verklaar Steyn dat die Rep van OVS en die ZAR hulle teen onreg en skandelike geweld verset. Onreg gedryf deur ’n niksontsienende vyand ‘wat hom vir etlike jare reeds voorberei en voorwendsels gesoek het vir die gewelddadigheid waaraan hy hom tans skuldig maak’. Geweld met die doel om die Boere-republieke en die Afrikanervolk te vernietig. ‘Ons verlaat [ons] op die Allerhoogste in die vaste vertroue dat Hy dit nimmer sal gedoog dat onreg en onregverdigheid’ seëvier (Van Schoor 1997:168).

12. Rosenthal verwys na De Wet wat van ’n onbekende boer verrys het na ’n ‘position of international fame as probably the greatest guerrilla leader of all time’ (Rosenthal sa:voorwoord).

13. Scholtz wys op bronne wat beweer dat die binnelandse mening in Brittanje in Mei 1902 besig was om ten gunste van die Boere en hulle saak te swaai, en dat nog ’n jaar of twee dalk opnuut op die Britse erkenning van die onafhanklikheid van die twee Republieke kon uitloop (Scholtz 1977:512, 513).



Crossref Citations

No related citations found.